Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5130
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Jul 29, 2020 11:07 am

Hiermee Epreke 26 en 214. Julle het dit reeds in die verlede gekry, maar ek het dit nou aangepas vir die webwerf wat ek besig is om te ontwikkel. Dalk sal dit iets vir julle beteken.

jbiC

Nico

nico@dievanderwalts.co.za

************************************


E26

Handelinge 12:5

GEBED WAT 'N ENGEL GAAN HAAL

Nico van der Walt



Ons lees hier in Hand 12 van 'n engel wat Petrus uit die tronk gaan uithaal. Maar ons lees
ook van 'n gebed wat die engel gaan haal! En dis eintlik hierdie gebed wat alles aan die gang
gesit het. Kom ons kyk dus daarna. En ons sal spoedig sien dit was 'n besondere gebed.
Kyk mens ernstig na die gebedsbeloftes in die Skrif, kom staan die vraag vierkantig
voor jou: Waarom ervaar ons dan so min gebedsverhoring?
Waarskynlik is één antwoord, dis omdat ons selde bid soos ons moet.
Hier in Hand 12:5 vind ons 'n besondere gebed. En dis vol gebedslesse vir ons.
'n Bedenklike situasie
# Petrus moet die volgende oggend verhoor word. Jakobus is pas tereggestel (v.2).
Watter hoop het hý? Hy is met kettings geboei in 'n tronk wat deur soldate bewaak word.
Daarbenewens slaap hy ook nog tussen twee. En dit was die dae voordat wagte skotvry
daarvan afgekom het as 'n gevangene ontsnap terwyl hulle eenkant sit en meul speel! (v.19).
# Al is die situasie menslik gesproke hopeloos, weier die gemeente om handoek in te
gooi. Bestorm hulle die tronk? Stel hulle 'n petisie op? Probeer hulle Herodus omkoop?
Nee, hulle hou 'n biduur!
Stappie vir stappie deur vers 5
# Die gemeente het "vir hom" gebid -— vir Petrus.
Hulle bring hulle gebedslas by die naam voor hul Vader. Tog lyk dit nie of hulle vir die apostel
se vrylating bid nie, want hulle glo dit nie as hy later aan die deur klop nie (v.13-16). Hulle bid
waarskynlik bloot dat die Here hom sal versterk en beskerm en die nodige genade gee, wat
ook al gebeur.
Party mense dink dat mens nie 'n kriesel meer kry as wat jy vra nie — dat ons as 't
ware God aan bande lê met ons kleingelowige en kortsigtige gebede. So 'n beskouing is nóg
Skriftuurlik, nóg stem dit ooreen met ons ervaring. Ja, laat ons versigtig bid en ons woorde tel
— soos ons gewete, die Woord en die Heilige Gees ons toelaat. Daarom is voorbidding
dikwels 'n versigtige en voetjie vir voetjie vorentoe beweeg (vgl. Abraham se voorbidding vir
Sodom in Gen 18). Maar weet dit, soms doen ons Vader méér as wat ons in ons stoutste
verwagtinge kon bedink.
gebede, wat Hy inweef in die uitwerk van sy raadsplan. Máár Hy is geensins afhanklik
van ons geloof en gebedsvrymoedigheid nie.
Maar laat ons in hierdie hoë roeping twee uiterstes vermy: Enersyds die gevaar van
gebedsvoorbarigheid. Andersyds kleingeloof wat God se goedheid en almag onderskat. Hy
doen soms ver meer oorvloedig as wat ons bid of dink (Ef 3:20).
# Die gemeente het tot Gód gebid.
Jy sê, dis mos voor die hand liggend. Almiskie! Vir baie mense is gebed bloot 'n subjektiewe
meditasie. Wie of wat aan die ander kant is, maak nie regtig saak nie. Dit wat hulle God noem,
is bloot 'n fokuspunt vir hulle gedagtes.
Ek het eenmaal 'n oom op een van ons konstruksieterreine geken wat op sy kankerbed
gereeld gebid het — maar sy gebede gerig het op 'n leë bierblik op 'n rak oorkant sy bed!
Nee! Ware gebed is gerig tot die werklike, lewende, persoonlike en bewustelike God.
Hy ken ons persoonlik. En Hy het Homself geopenbaar as die hoorder van gebed. Hy is
almagtig en getrou, en kan en sal alles doen wat Hy beloof.
Daar is egter twee kwalifikasies:
Een, dit geskied op grond van die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus
Christus. Luister na Heb 10:19: "Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye
toegang tot die heiligdom".
Twee, dit geskied deur die werk van die Heilige Gees: "Deur Hom (dit is Christus) het
ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader" (Ef. 2:18).
# Die gemeente het met alle erns gebid.
Die woord wat beide ons Afrikaanse vertalings met "aanhoudend" vertaal (Gr. ektenos), is
baie betekenisvol.
Letterlik beteken dit uitgerek. Dikwels dui dit dan nie op tydsverloop nie, maar op
intensiteit en vurigheid. As 1 Pet 1:22 en 4:8 praat oor die vurige liefde wat gelowiges vir
mekaar moet hê, word hierdie einste woord gebruik.
Wie het ooit meer "uitgerek" gebid as die Here Jesus in Getsemane? "Hy het in
doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword ..."
(Luk 22:44). Dit dui as 't ware op die vervorming van Jesus se hart in die intensiteit van Sy
erns voor Sy Vader.
# Gebedsintensiteit is dikwels baie belangriker as gebedsduur (maar ons
mag die twee dinge nie teenoor mekaar stel nie — beide is belangrik).
Dink aan Jer. 29:13: "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (OAV).
In Rom 15:30, as Paulus sy lesers vra om saam met hom "in die gebede te stry",
gebruik hy nog 'n sprekende woord (Gr. sunagonidzo). Letterlik sou dit in Engels vertaal kon
word: to agonise together. Dit dui op 'n saam stry, 'n saam worstel. Die NIV vertaal: "join me
in my struggle" (vgl. ook Kol. 4:12).
Die Puritein, Thomas Watson, skryf: "How can I know my prayers are prompted by the
Holy Spirit? When they are not only vocal, but mental; when they are not only gifts, but groans."
Onvermydelik ontstaan die vraag hoe ék so vurig kan bid. Opwerk? Aansit? Nee! Nee!
Daar is maar één antwoord: die Gees moet my bekragtig! So skryf Paulus vir die Efesiërs dat
hulle "met alle gebed en smeking by elke geleentheid (moet) bid in die Gees" (Ef. 6:18, OAV).
Dis één rede waarom ons elke dag moet bid om die volheid van die Heilige Gees.
# Dit was die gemeente wat gebid het.
Die gelowige se binnekamer is die hart van sy gebedslewe. Maar eweneens is gesamentlike
gebed wanneer gelowiges één van hart en sin voor hulle Vader se genadetroon verskyn.
Baie mense dink daar is gebedskrag in getalle sonder meer — asof dít God sou
beïndruk. Nee! Hier is twee dinge wat ons altyd voor oë moet hou.
Dit was die Here se gemeente wat gebid het. En hulle is die appel van sy oog, van
voor die skepping af. Hulle is die Seun se bruid. Dis mense wat in Christus is. Hulle is
geliefdes.
Maar dis wesentlik belangrik om te kwalifiseer: 'n Gemeente is nie net 'n klomp mense
wat uit gered en ongered bestaan en bloot deur tradisie of sentiment bymekaar gehou word
nie. Nee, Nuwe Testamenties is 'n gemeente 'n klomp dissipels van Jesus Christus wat intiem
saamgebind is deur hulle gemeenskaplike lojaliteit en verknogtheid aan die Here.
+ Hieroor bied Matt 18:19-20 besondere lig: "Verder verseker Ek julle: As twee
van julle op aarde oor enige saak saamstem (Gr. sumfoneo) en daaroor bid, sal my Vader ...
hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.
Onderlinge eenheid is van kardinale belang. Almal moet daarom dieselfde passie en
versugting hê. Dwarstrekkery en verhoudingsintriges blus onmiddellik die Gees. Die Here
gebruik 'n woord wat letterlik saamklink beteken. Hier lê die etimologiese wortels van ons
woord, simfonie.
Net 'n laaste opmerking. As die Here van "twee" of "drie" gelowiges praat wat so bid,
verbied Hy nie die saambid van groter getalle nie. Getalle is uiteraard goed, maar nie
deurslaggewend nie.
'n Aantal praktiese riglyne
Wesenselemente van ware gebed
# Dit is primêr tot die Vader gerig, geskied in die Naam van Christus, en word gelei deur
die Heilige Gees. Wat ook al die Gees mag bedroef, moet uit die weg geruim wees.
Maar al drie Persone mag en moet aanbid word.
# Dit geskied in harmonie met God se geopenbaarde waarheid, en is in pas met Christus
se voorspraak vir ons, soos in die Woord geopenbaar.
# Dit geskied in vertroue en geloofsverwagting. Sonder geloof in die betroubaarheid van
God en Sy beloftes, kan ons Hom nie behaag nie. Hy beloon diegene wat Hom soek (Heb.
11:6).
# Dit word gekenmerk deur diep eerbied. Laat ons onthou met Wie ons te doen het.
# Dit geskied in vrymoedigheid voor die Vader. Christus is 'n volmaakte Middelaar.
# Ware gebed kom uit 'n brandende hart. Koue gebede vries voordat hulle by die hemel
kom.
# Dikwels is volharding nodig. Dink aan die verontregte weduwee voor die regter (Luk.
18).
Wenke vir ons gesamentlike gebede (meeste hiervan geld ook vir persoonlik
gebed).
# Wees rustig. Vertrou die Gees om te lei.
# Dink oor wat jy bid. Dit sal daartoe lei dat jy versigtig formuleer.
En jou "Amen" is belangrik en betekenisvol! Dis nie net 'n binnemondse sein aan die
ander dat jy uiteindelik klaar is en hulle maar hulle oë kan oopmaak nie. Nee! Nee! Dis jou
geloofsverklaring dat dit wat jy gebid het wáár en séker is. Dis 'n credo, 'n selfstandige en
gewigtige geloofsverklaring!
# Neem jou verantwoordelikheid op om die gebedswa te help trek. Gebed kan harde
werk wees. Saamryers maak dit vervelig vir hulleself en 'n slaapsessie — en harde werk vir
die res.
# Onder geen omstandighede mag my gebede vertonerig wees of ander probeer
beïndruk nie. Luister na die ander as hulle bid, maar as jy bid is jy met God alleen besig.
Vergeet van die ander.
# Bid verbeeldingryk, asook kinderlik eerlik en opreg. Praat gewoonweg sonder om
platvloers en familiêr te wees. Vermy gebede wat bloot 'n aanmekaarryg van 'n klomp
gebedsclichés is — soos krale aan 'n string. Dan word dit 'n ydele herhaling van woorde.
# Vermy die oormatige gebruik van die Here se Naam — asseblief tog! Party doen dit
amper in elke sin — tot uiterste ongemak van die hoorders. Wie praat so in 'n normale
gesprek? Dis 'n aanwendsel, en is bes moontlik 'n oortreding van die derde gebod.
# Wag vir mekaar, sodat elkeen geleentheid kry. Maar vermy daardie ongemaklike
stiltes.
# Gebedseenheid is absoluut noodsaaklik.
+ Dit beteken verhoudingseenheid, hartseenheid! Dis kardinaal belangrik.
+ Ewe belangrik is eenheid van gerigtheid. Gesamentlike gebed moet 'n
"simfonie" voor die genadetroon wees. As elkeen sy eie wysie speel word dit net 'n geraas!
Sluit dus by mekaar aan sodat daar 'n organiese verloop in die onderlinge gebede is. Mens
staan immers gesamentlik voor die genadetroon. Elkeen lê nie maar sy eie eiertjie nie. Luister
na die ander en voer hulle lofprysing of versoeke verder. Daar moet eenheid van vertoog, van
petisie wees! Dít maak saambid sinvol!
Só lei die Gees ons dikwels om oor sake te bid waaraan ons nooit vanself sou gedink
het nie.
# Hoewel elkeen die kans moet kry om te bid, moet niemand huiwer om weer en weer
te bid nie. Natuurlik moet mens nie oorvat nie. Maar dis ook so dat daar soms periodes kom
waar meeste vir die oomblik "leeg" is, en enkeles die gebedswa moet trek.
# Sonder om voorbarig te wees, moet 'n mens so spesifiek moontlik bid. Is jy onseker of
jy 'n bepaalde saak durf aanroer of verder voer, benader dit versigtig met onderskeiding. Vra
jouself af of jy steeds in pas met die Woord is. Partymaal kry jy meer vrymoedigheid, ander
kere verloor jy dit.
Laastens: Iets oor lof en aanbidding.
Altyd, altyd, altyd, moet dit ons gebede deursuur (persoonlik en gesamentlik).
Dink aan wie God is. Dink aan Sy name. Dink aan Sy attribute: Sy ewigheid, heiligheid,
soewereiniteit, almag, onveranderlikheid, alwetenheid, alomteenwoordigheid, genade, liefde,
getrouheid, geduld, geregtigheid, toorn, ens. Dink aan Sy groot dade in die geskiedenis: dié
van die Bybel; dié van die kerkgeskiedenis. Eer en dank Hom daarvoor en vir die implikasies
daarvan.
Moet egter nie slegs by 'n abstrakte benadering vassteek nie. In Ps. 139 besin Dawid
oor God se karakter. Maar hy bid nie bloot intellektueel daaroor nie. Hy bepeins die praktiese
uitwerking daarvan in sy lewe — en loof en dank die Here dan daarvoor.


-o0o-


+ Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689
Baptistebelydenis (soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola
5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gemeentes in ongeveer 'n halfdosyn lande in
Afrika suid van die ewenaar.
+ Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en
meermale in Engels per epos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het (dit sal DV ook
binnekort op 'n webwerf beskikbaar wees).
+ Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie:
Postnet Suite No. 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika
E: nico.vanderwalt@reformed.org.za
Tel. 082 848 939
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5130
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Do Jul 30, 2020 11:21 am

Hiermee Epreke 26 en 214. Julle het dit reeds in die verlede gekry, maar ek het dit nou aangepas vir die webwerf wat ek besig is om te ontwikkel. Dalk sal dit iets vir julle beteken.

jbiC

Nico
nico.vanderwalt@reformed.org.za


*****************************************


E214

EF 1:15 - 2:10 : DUISELINGWEKKEND IS 'N WARE CHRISTEN

SE ERFENIS

Nico van der Walt


In die voorafgaande Ef 1:3-14 skryf Paulus oor verstommende waarhede: God se ewige plan,
vasgemaak voor die skepping van die aarde, om in Christus sondegevalle mense vir Homself as
kinders uit te kies en aan te neem, en om hulle uiteindelik saam met die res van die skepping onder
die hoofskap van Sy Seun te verenig — alles ten einde Homself te verheerlik (Ef 1:6,12,14, OAV).
Dan, in die daaropvolgende verse, Ef 1:15-2:10, skryf die apostel dat en wat hy na aanleiding
daarvan vir die gemeente in Efese bid, aanhou bid — en wat die implikasies is wat daaruit voortvloei.
Dis 'n wonderlik gestruktureerde stuk Skrifopenbaring en dis meer as die moeite werd om in diepte
daarna te kyk.
Oor die eenheid van Ef 1:15-23 en Ef 2:1-10
# Die OAV, NAV en DAV (ook standaard Engelse vertalings) skei hierdie twee
gedeeltes, waarskynlik ter wille van verstaanbaarheid.
1 Dit aanvaar dus dat die gebed
afgesluit word met v.15.
Allermins wil ek arrogant hiermee swaarde kruis. En dalk dink die leser nie nou dis
van wesentlike belang nie. Maar ek meen tog dat die twee gedeeltes grammatikaal eintlik 'n
eenheid is.
2 Dit sou dan suggereer dat ons 1:15-23 en 2:1-10 as een lang gebed moet lees.
Trouens, ek is oortuig dis noodsaaklik as mens die negentien verse behoorlik wil verstaan —
soos hopelik hieronder sal blyk.
Dit sal my benadering wees in wat volg.
Paulus se gebed en wat daaruit voortvloei
# Kyk mens deeglik na die gebed, sien jy dat Paulus ten diepste eintlik net één ding van die
Vader vra — dat Hy aan die Efesiërs "die Gees van wysheid en openbaring" sal gee (1:17).
Waarom is dít sy versoek? Sodat hulle, in die eerste instansie, die Vader beter mag ken!
(v.17). Dis immers die wese van die ewige lewe (Joh 17:3).
Maar ook, in die tweede instansie, dat die "oë van hulle harte" verlig mag word. Waarom?
Sodat hulle sal "wéét". Wat moet hulle weet? Hulle moet hulle erfenis in Christus verstaan! (v.18, 19).
+ Dit is interessant en betekenisvol dat Paulus, elke keer as hy vir die gemeentes bid,
vir hulle pleit om begrip, kennis, insig, wysheid! (vgl. 3:18; Fl 1:9- 11; Kol 1:9-10a). Maar hy vra nie sommer maar enige begrip en wysheid nie. Waarvoor hy bid, is dat hulle 'n baie spesifieke soort
kennis sal hê — dat hulle die Drie-enige God sal ken; sal begryp wat hulle erfenis in Christus is; en
sal verstaan hoe hulle voor Sy aangesig moet leef.
# Nou brei die apostel uit op dit waarvoor hy vir die Efesiërs bid. Hieroor moet hulle 3 dinge
weet.
+ Eerstens, die hoop waartoe Hy hulle geroep het (1:18).
+ Tweedens, die rykdom van hierdie heerlike erfenis (1:18).
+ Derdens, die grootheid van Sy krag wat nou reeds in hulle aan't werk is, en wat meteen
die vervulling van die hoop en die finale inbesitname van die rykdomme waarborg (1:19). Só
opgewonde is hy oor hierdie krag (dunamis), dat hy nóg 3 amperse sinonieme, gebruik om dit te
beklemtoon: energeia — aktiwiteit, werking; kratos — uitgeoefende krag; ischus -— groot inherente
mag (v.19b).
# Op die derde punt van hulle erfenis, God se krag in en vir hulle, brei hy nou verder uit (1:20vv).
Hierdie krag is presies dieselfde krag wat in Christus tydens en ná die kruisiging gewerk het. Paulus
droom dus nie drome nie; hy praat van iets wat reeds uitgeoefen en gedemonstreer is. Kyk net
waartoe was dit nie in God se Seun in staat nie!
Hy gebruik drie werkwoorde om dit uit te lig (1:20; vgl. NAV).
+ Hy het hierdie krag in Christus "uitgeoefen" (om iets effektief te bewerkstellig) — en
sodoende lewe in Hom geskep.
+ Met hierdie krag het Hy Christus "opgewek".
+ Met hierdie krag het Hy Christus aan Sy regterhand in die hemele "laat sit" — en Hom
in die proses oor alle "owerheid en mag en krag en heerskappy" (v.21, OAV) gestel; trouens, oor elke
"vorm van gesag waarvan daar sprake mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die
bedeling wat kom." (NAV).
# Die apostel kan egter nie van die verhewe Here Jesus Christus praat, sonder om ook meteen
aan Sy gemeente te dink nie. Waarom? Dis omdat daar 'n organiese lewenseenheid tussen die Hoof
en die liggaam bestaan — iets waarvan Paulus intens bewus was (v.22-23)! Vanuit hierdie waarheid
kan dit eenvoudig nie anders nie: Christus se posisie van onaantasbare en universele gesag (v.22)
móét eenvoudig enorme implikasies inhou vir Sy gemeente.
En hieroor skryf die apostel dan in hoofstuk 2 in duiselingwekkende terme!
Wat 'n verlossing!
# Die fokus verskuif nou van wat God vir Jesus Christus gedoen het, na wat Hy vir Sy liggaam,
Sy gemeente doen in hulle verbondenheid met Hom.
Om die heerlikheid van wat God vir mense in Christus doen, des te beter uit te lig, skets die
apostel eers die patetiese ellende waarin hulle vooraf verkeer het (2:1-3).
# Ef 2:1-3 bevat waarhede van die allergrootste teologiese belang. Drie dinge is hiervolgens
waar van die ongeredde mens, die mens in Adam. Presies dít is waarom 'n magtige herskeppingswerk
in hom of haar noodsaaklik is vir redding.
+ Hy is geestelik dood in sy oortredings (die positiewe oorsteek van 'n grens; rebellie)
en sondes (die negatiewe mis van 'n kol; dus mislukking). (v.1)
+ Hy is 'n slaaf van die wêreld, die duiwel en die vlees (v.2-3).
+ Hy is van nature (vanuit geboorte) onder die toorn van God (v.3 letterlik; vgl. OAV).
# Ef 2:4 is dan musiek in verlostes se ore. Dit begin met woorde waarop hulle ewige
lotsbestemming skarnier: "Maar God ... " (vgl. ook Rom 3:21; Kol 1:22; Tit 3:4).
Toe hulle nog magteloos vasgevang was in die lot van Adam se nageslag, het God in
barmhartigheid en liefde drie dinge vir hulle gedoen:
+ Hy het hulle (wat dood was) saam met Christus lewend gemaak (v.5).
+ Hy het hulle (wat onder Sy toorn was) saam met Christus opgewek (6a).
Die verband tussen "toorn" en "opgewek" moet soos volg verstaan word: toe die Vader Sy
Seun opgewek het, het Hy daarmee verklaar dat Hy die Seun se versoeningsoffer aanvaar het en dat
Sy toorn oor die sonde van diegene vir wie Hy gesterf het bevredig is. In Christus se opstanding sit
dus die waarborg dat ons van ons grootste probleem — die toorn van God — bevry is (Rom 1:18).4
+ Hy het hulle saam met Christus in die hemele laat sit (6b).
# Met betrekking tot bg. moet sekere dinge nie misgekyk word nie.
+ Paulus skep drie nuwe Griekse werkwoorde deur die voorsetsel, "saam met", te
kombineer met 'n bestaande werkwoord. Sodoende beklemtoon hy dat hierdie drie dinge wat met
gelowiges gebeur, uit en uit te danke is aan hulle lewenseenheid met Jesus Christus.
Hierdie is een van die mees fundamentele aksente van die NT.
+ Al 3 hierdie werkwoorde is in die verlede tyd. Hulle beskryf eens en vir altyd
afgehandelde feite m.b.t. diegene in Christus. Dit kan net verstaan word i.t.v. die verbondenheid met
Christus — wat histories lewend gemaak is, opgewek is uit die graf en na die hemel opgevaar het.
# Dit alles vloei vanuit God se genade (v.5, 8). Die doel is dat Hý ewig daardeur verheerlik sal
word (v.7).
+ "Genade" dui op die verlossingsguns wat 'n sondaar van God ontvang, ten spyte van
die feit dat God op geen wyse onder verpligting staan om dit aan hom te betoon nie. Hy het gevolglik
geen aanspraak daarop het nie — inteendeel. Daarom kan niemand roem nie (v.9).
+ Die werkwoord, "gered" (v.5,8), is passief. Die sondaar ondergaan dit dus, sonder
enige aandeel van sy kant (v.9a). Dit beteken nie dat hy of sy na redding passief bly nie; inteendeel,
hy is juis herskep met die oog op "goeie werke" (v.10).
+ Dit is voorts in 'n werkwoordstyd wat dui op 'n huidige realiteit op grond van 'n
gebeurtenis in die verlede. Redding is dus blywend.
# Paulus se beredeneringslyn is nou duidelik. Dit sluit die hele gedeelte oop.
Soos Christus lewend gemaak is (1:20),
só is ons saam met Hom lewend gemaak (2:5);
en dit was nodig omdat ons geestelik dood was (2:1).
Soos Christus opgewek is uit die dood (1:20),
só is ons saam met Hom opgewek (2:6a);
en dit was nodig omdat ons onder God se toorn was (2:3).
Soos Christus laat sit is aan die regterhand van die Vader (1:20),
só is ons saam met Hom in die hemele laat sit (2:6);
en dit was nodig omdat ons in slawerny was (2:2-3).
# Uit bostaande is dit nou duidelik hoe Ef 2:5-6 verstaan moet word: toe ons lewend gemaak is
uit ons geestelike dood, is ons wedergebore; toe ons opgewek is onder die toorn van God uit, is ons
geregverdig.
Maar waarop dui dit dat ons in die hemele saam met Christus laat sit is? In 1:21vv beklemtoon
die apostel dat Hy in 'n posisie van gesag oor die bose magte geplaas is. Sonder twyfel wil hy dus sê
dat toe ons saam met Christus in die hemele laat sit is, is ons in 'n posisie van gesag geplaas — oor
die vlees, die wêreld en die duiwel en sy bose magte!
Enkele implikasies
Hierdie komplekse, maar wonderlike stuk Skrifopenbaring laat ons beswaarlik tyd vir uitgebreide
praktiese toepassing. Daar is bloot ruimte vir twee opmerkings.
1. Hoewel dit wat hier oor 'n Christen geopenbaar word nie in die eerste instansie
belewingswaarheid is nie, moet ons dit, soos alle geopenbaarde wesenswaarheid,5 of ons dit beleef
of nie, in die geloof omhels en ons daarin verheug.
2. Indien jy weet dat jy weet dat die ou dinge vir jou verbygegaan het en dat alles nuut geword
het (2Kor 5:17) — dat die Here jou dus in Sy genade geroep en wederbaar het — herinner jouself
weer en weer aan jou verhewe posisie in Christus. Natuurlik is daar geen plek vir arrogansie in 'n
Christen se lewe nie, maar die stryd teen die sonde moet ons op die voorvoet veg, in die wete dat ek
nie nodig het om voor enige versoeking te swig nie. Laat die waarheid, nl. dat jy in 'n posisie van
gesag in Christus leef, deel word van jou nuwe bewussyn, en jy sal verbaas wees oor die praktiese
effekte daarvan.

-o0o



+ Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis
(soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van
Godgesentreerde evangeliese gemeentes in ongeveer 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
+ Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale in
Engels per epos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het (dit sal DV ook binnekort op 'n webwerf
beskikbaar wees).
+ Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie:
Postnet Suite No. 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika
E: nico.vanderwalt@reformed.org.za
Tel. 082 848 9396
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5130
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Do Aug 27, 2020 12:25 pm

Middag vriende,

Jammer ek het so lank gedraai om weer studies uit te stuur. Ek is kliphard besig om my webwerf aan die gang te kry. Dit gaan maar sukkel-sukkel vir 'n dom man. Maar ek is optimisties dat dit binne 'n week of twee redelik "gelaai" sal wees met 'n klompie dokumente. Ek sal julle dan laat weet.
Die paar studies wat ek vir julle stuur is al gereedgemaak vir die webwerf. Dis weliswaar ou studies, maar darem hersien en tot 'n mindere of meerdere mate aangepas. Ek wil wel een of twee goedjies stuur wat ek nie dink julle al gekry het nie.

Hartlike groete,

Nico
(nico.vanderwalt@reformed.org.za)



Mr. Eternity (1884-1967)


Dis 'n koue aand in 1956 as die predikant van Burton Street Baptist Church in Sydney die
skimagtige figuur van 'n knielende man raaksien. Díé is besig om iets op die sypaadjie te skryf.
"Is jý tog nie Mr Eternity nie!", roep die pastor uit. Die kerk se skoonmaker kom regop – hy
was maar 1,6m lank met 'n gewig van 50kg – en antwoord met 'n sagte stem: "Ja, ek is die
skuldige, meneer!"
Na 26 jaar se gissings is die geheim van "Mr. Eternity" uiteindelik opgelos. Deur die
jare heen was die woord ETERNITY gereeld soggens orals op Sydney se sypaadjies geskryf
– 'n stuk of 500 000 keer in netjiese groot bordkryt-letters.
Arthur Stace se verhaal is 'n uitstaande getuienis oor God se genade vir 'n sondaar en
hoe Hy met die kromste stok die reguitste houe kan slaan.
Arthur is in 1884 in Sydney gebore. Hy, sy twee broers en twee susters, moes dikwels
onder sakke buitenshuis slaap om hulle dronk ouers se geweld te ontkom. Die kinders het
oorleef deur afgelewerde melk en brood van stoeptrappies af te steel en deur afvalkos uit
vullisdromme op te diep. Van skoolgaan was daar nie eintlik sprake nie en Arthur is die lewe
ongeletterd binne. Op veertien begin hy in 'n steenkoolmyn werk (sy susters word prostitute)
en kort voor lank is hy 'n volslae alkoholis. Hy steel om vir sy drank te betaal en op vyftien is
hy vir die eerste keer tronk toe. Later sou hy vertel: "Ek was voortdurend dronk, altyd platsak,
deur en deur sleg en totaal sonder uitsig of hoop".
In 1914 sluit hy by die weermag aan en word 'n voetsoldaat aan die Franse front in die
Eerste Wêreldoorlog. Na 1918 se vrede sit hy sy beskonke lewe in Sydney voort. In die
aanloop tot die depressie verloor hy sy werk en al wat oorbly is om bedelaar te word.
Uiteindelik word die ses-en-veertigjarige dronkaard in Augustus 1930 deur God se
genade gearresteer. Saam met nog 'n klompie boemelaars is hy een aand na die St. Barnabas
Kerk waar kos uitgedeel sou word. Hulle moes egter eers na die besoekende prediker luister.
Onder die preek kyk hy na die Christene om hom en 'n diep begeerte om te kry wat hulle het,
pak hom beet. Dan bid hy die eerste keer in sy lewe. Na die diens gaan pleit hy soos die
tollenaar van ouds in 'n nabygeleë park om God se vergiffenis. En soos dit altyd gebeur as 'n
sondaar werklik gebroke en werklik opreg om God se genade bid, word hy deur die Here se
herskeppende krag oorspoel. Hy het koek en tee gaan soek, maar hy het die Verlosser gekry!
Dit was die einde van Arthur Stace se drinkery. Hy het spoedig weer 'n werk gekry. En
sy voete was vasbeslote onderweg na selfrespek, lewenssin, bruikbaarheid en koninkryksnut.
Net meer as twee jaar na sy bekering gaan woon Arthur Stace 'n diens by in die Burton
Street Baptist Church. Die prediker is die vurige evangelis, John Ridley. Tydens sy rede sê
Ridley hy wens hy kon die enkele woord, "Eternity", in Sydney se strate loop en skreeu om
mense te herinner dat daar 'n ewigheid vir elkeen voorlê en dat jou lewe hier en nou bepaal
waar jy dit gaan deurbring – in die ewige saligheid of die ewige verdoemenis. Met díé roep die
prediker toe uit volle bors: "Eternity! Eternity! Eternity!
Meteens het die eenvoudige Arthur geweet wat sy lewensroeping is. En dis iets wat
Ridley nie kon doen nie. Maar dis wat hy wat Arthur is sou doen – so ietwat aangepas. Hoewel
ongeletterd, het Arthur huis toe gegaan en geoefen totdat hy die woord, "ETERNITY", netjies
in groot blokletters kon skryf.
Onder aanmoediging van sy vrou, Pearl, het hy elke oggend vieruur opgestaan, met
'n baadjiesak vol bordkryt Sydney se strate ingevaar, en elke paar honderd meter die woord,
op die sypaadjies geskryf. Hy het die Here biddend vertrou om hom daagliks te lei oor watter
deel van die stad hy moes dek.
Streng gesproke was Arthur se skrywery teen die wet – en talle kere is hy amper
uitgevang – maar wat hom betref het hy toestemming van die hoogste gesag gehad. Die
koerante het begin gis oor die geheimsinnige evangelis. Dag na dag is honderde Jan Allemans
aan ewigheidsrealiteite herinner. En kort voor lank was Mr. Eternity só deel van Sydney soos
die hawebrug en Waltzing Mathilda. Hoewel verskeie mense die polisie en media geskakel
het met aansprake oor die sypaadlieprofeet se identiteit, het niemand buite Arthur se huiskring
regtig geweet wie die skuldige was nie. So het dit vir jare aangehou.
Toe Mr. Eternity uiteindelik ontmasker is, het sy kollegas onthou hoe hy gereeld met
die aanbreek van die middagete die werksplek met 'n tas in die hand verlaat het. Hy het die
uur gebruik om traktate in die stad uit te deel – veral aan die minderbevoorregtes en
boemelaars.
Arthur Stace is in 1967 op drie-en-tagtigjarige leeftyd aan beroerte dood. Hy het sy
liggaam aan die Universiteit van Sydney bemaak en versoek dat die betaling daarvoor aan
liefdadigheid gewy moes word. Toe die oorblyfsels van sy liggaam 'n paar jaar later begrawe
is, het honderde mense hulde kom betoon aan hierdie nederige dienskneg van Christus.
Dit word vertel – hoe betroubaar weet niemand nie – dat die woord Eternity op die klok
in die Algemene Poskantoor se toring geskryf is. Die gebou is in 1965 herstel en die klok is
blykbaar vir 'n enkele nag op grondvlak gehou voordat dit in die toring teruggehys is. Die
volgende oggend egter, so lui die storie, het die voorman ontdek dat iemand tydens die nag
hierdie veelseggende woord daarop gegrafeer het. Wat wél daar is vir almal om te sien, is 'n
gedenkplaat naby die Sydney Operahuis met bloot die woord ETERNITY in koperletters
daarop. So word die stad se inwoners herinner aan die merkwaardige mannetjie wat 'n tyd
lank in hulle midde was – maar veral aan die enkele boodskap wat hy jare lank aan hulle
verkondig het. Hierdie eenvoudige, maar aangrypende verhaal verskaf ook die antwoord op
'n raaisel wat miljoene mense so 'n klompie jare gelede dronkgeslaan het. Net na middernag
op 1 Januarie 2000 het die kleurrykste en duurste vuurwerkvertoning in Sydney se
geskiedenis bokant die hawebrug afgespeel. Omdat hierdie stad een van die eerstes was om
die nuwe millennium binne te gaan, het nie net 'n miljoen Australiërs daarna gekyk nie, maar
ook TV-kykers rondom die aardbol. En reg teen die einde van die vertoning, as hoogtepunt,
word hierdie grootse skouspel toe só afgesluit: agt reuse vuurletters ontbrand voor
dermiljoene oë teen die kant van die hawebrug: E-T-E-R-N-I-T-Y.
Arthur Stace het liefgehad, omdat hy baie vergewe is. Hy het sy beperkte gawes voluit
gebruik. Hy was getrou en volhardend daarin. Hy het die tyd uitgekoop.
En hy het miljoene op sy manier ge-evangeliseer.
Mag ook my lewe – en joune – so 'n rimpeleffek soos syne hê. Mag dit dekades na my
dood steeds Godverheerlikende vrug voortbring en baie, baie meer mense ten goede raak as
wat ek ooit in hierdie lewe kon bereik.
Laat ons die fundamentele waarheid van 2Kor 12:9-10 nooit vergeet nie: "Maar Hy het
vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Daarom
sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat Christus se krag my kan beskut. Ter wille
van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en
benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk" (DAV).


Erkenning en bron: Jim Cromarty, Mr. Eternity, Evangelical Times, March 2000
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5130
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Vr Aug 28, 2020 11:51 am

Ek is jammer, die program beperk my nou tot net een dokument op 'n slag. Ek gaan dus net 3 historiese studies vir julle stuur. Hiermee die tweede een.

Nico
(nico.vanderwalt@reformed.org.za)



" Die verwoesting van Jerusalem in 70nC "


Gessius Florus het geld liefgehad. En hy het Jode gehaat. Alhoewel hy Romeinse
goewerneur oor Judea was, het hy hom min aan die sterk godsdienstige oortuigings van die
Jode gesteur. Na 'n swak belastinginkomste, lê hy eenvoudig in 66 n.C. beslag op die tempel
se silwer. Dit kan die Jode nie duld nie en daar ontstaan 'n opstand. As Forus troepe na
Jerusalem stuur om die opstand te onderdruk, sterf 3600 burgerlikes. Dis 'n vonk in 'n kruitvat.
En skielik is die dreigende Joodse rebellie 'n verskriklike werklikheid.
Masada was 'n feitlik oninneembare bergvesting van die Romeine langs die suidwestelike kus van die Dooie See. Aangevuur deur die veragtelike optrede van Florus, besluit
'n klomp halfmal Selote (Joodse yweraars) om díé bergvesting aan te val. Wonder bo wonder
slaag hulle daarin om dit in te neem. Die Romeinse garnisoen word summier van kant gemaak.
Jerusalem self ontplof en die Romeinse soldate wat nie sneuwel nie moet vlug. Asof oornag
is die hele Judea in opstand en kort daarna Galilea.
Cestius Callus, Romeinse bevelhebber oor die gebied, ruk vanaf Sirië op met
twintigduisend troepe. Hy beleër Jerusalem vir ses maande, maar sonder sukses. Na die dood
van sesduisend manskappe en baie wapenverliese, blaas hy noodgedwonge die aftog. Keiser
Nero stuur dan vir Vespasianus, een van sy senior-generaals om die Joodse rewolusie te
onderdruk. Meedoënloos onderwerp hy gebied na gebied. Dan omsingel hy Jerusalem. As
Nero sterf, raak Vespasianus egter in 'n leierskapstryd gewikkel. Uiteindelik word hy keiser en
stel sy seun, Titus aan om die Joodse oorlog verder te voer.
Op hierdie stadium is Jerusalem reeds afgesny van die res van die nasie en die stad
self word geteister deur faksiegevegte. Soos die beleg voortduur, sterf meer en meer mense
van honger en pes — en, helaas, in hulle onderlinge bakleiery. Ernstige hongersnood heers
binne-in die stad. Die Hoëpriester se vrou, eens gebaai in weelde, moet soos 'n rondloperhond
krummels kos in die strate loop en soek. Die geskiedkundige, Josefus vertel selfs van 'n ryk
vrou wat haar baba geëet het. Mettertyd is dit nie meer moontlik om al die lyke te begrawe
nie. Die enigste oplossing word gevolg — om die dooies oor die stadsmure te gooi. Soveel
liggame lê uiteindelik om die stad — meeste helaas dood aan die hand van mede-Jode — dat
Titus die gode tot getuies roep dat hierdie massamoord nie sy skuld is nie.
Natuurlik het baie uit die stad probeer ontsnap. Die meeste is egter gevang en summier
tereggestel. Sóveel is gekruisig dat daar naderhand nie meer genoeg hout vir nog meer kruise
was nie. Trouens, daar was beswaarlik nog plék vir kruise. Sommige van die vlugtelinge het
probeer wegkom met goud wat hulle ingesluk het. Toe die Romeine dit agterkom, begin hulle
die gevangenes summier oopsny. Een nag, so word gesê, is tweeduisend Jode so dood.
Soos die beleg voortduur, word die stad se mure en skanse stukkie vir stukkie
afgebreek. Bedags baklei die Joodse verdedigers en snags probeer hulle die mure herstel.
Uiteindelik breek die Romeine deur die eerste muur, dan deur die tweede en dan deur die
derde. Maar die verdedigers gee nie bes nie. Al vegtende trek hulle terug in hulle laaste
loopgraaf — die tempel! So breek die einde dan vir die vegtende Jode aan. Ook vir hulle
tempel en vir Ou Testamentiese offerseremonies. Eintlik het die kruisiging van Jesus natuurlik
die prinsipiële einde gebring. Maar nou is dit die praktiese einde van Joodse seremoniële
tempeldiens.
Die antieke historikus, Josefus beweer dat Titus die tempel graag behoue wou laat bly
het, maar dat sy manskappe só woedend was oor hulle opponente se hardnekkige weerstand,
dat hulle dit summier afgebrand en gesloop het. En die Hebreërs wat nie afgemaai is nie, is as slawe verkoop.
Dit word beraam dat meer as 'n miljoen Jode tydens die beleg en verwoesting van
Jerusalem gesterf het. Waarlik is Jesus se woorde vervul: "... in daardie tyd sal daar so 'n
groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer
sal wees nie" (Matt 24:21).
In die bergvesting Masada het die klompie Joodse yweraars vir nog drie jaar uitgehou.
Op die punt van finale swigting het almal egter selfmoord gepleeg, eerder as om deur die
klomp Romeinse heidene verneder te word.
So is die Joodse nasie dan, die van hulle wat oorgebly het, verstrooi. Hulle aanbidding
sou as gevolg daarvan drasties verander. Dit was die einde van eeue se tempel- en offerdiens,
asook van die Sanhedrin. Nuwe rituele is vir die sinagoge en gesin ontwikkel. Na amper twee
millennia is daar eers weer die afgelope 7 dekades sprake van Joodse konsolidasie en 'n
gepaardgaande Joodse staat.
Waar was die Christene met die val van Jerusalem? Uitstedig! Baie is oor die vorige
dekades deur vervolging verdryf. Eusebius skryf dat die oorblywendes met die aanbreek van
die beleg en kort daarna die stad verlaat het. Sommige historici beweer dat van hulle onder
meer na Pella, 'n plek oorkant die Jordaan gevlug. Het hulle Here hulle dan nie meer as dertig
jaar vantevore reeds gewaarsku nie? "Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel
word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet díé wat in Judea is, die berge in
vlug, en díé wat in die stad is, daaruit padgee, en díé wat op die plase is, nie na die stad toe
gaan nie, want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan
bewaarheid" (Luk 21:20-22).
So het die evangeliefokus in die vroeë kerk na die heidene geskuif — in elk geval tot
en met die vervulling van Rom 11:25 (as my verstaan van die "geheimenis" wat die apostel
daar openbaar, inderdaad korrek is). Dán sal die Jode en masse God in gees en waarheid
aanbid (Joh 4:23). Hulle sal verstaan dat die Joodse seremoniële beheptheid waarvan hulle
na Pinkster so moeilik afstand gedoen het, destyds al finaal en volledig in Christus vervul is.
Ook het die Joodse Christene se onbetrokkenheid by die Joodse weerstand teen die
Romeine, 'n wig ingedryf tussen hulle en hulle Joodse volksgenote. Gevolglik het hulle (die
Joodse Christene) al hoe nouer met hulle nie-Joodse geloofsgenote saamgeleef.
So het die nuwe bedeling deur Pinkster ingelui, finaal sy beslag gekry. Die nuwe
Godsvolk sou van toe af wêreldwyd vanuit alle nasies kom. En in die nuwe godsvolk was die
laaste reste van die ou verbond finaal iets van die verlede.


Nico van der Walt
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5130
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Za Aug 29, 2020 11:17 am

This is a text bMy laaste studie van die aand - die tragiese verhaal van Edward Irving.


Nico <nico.vanderwalt@reformed.org.za>


**********


" Die tragiese verhaal van Edward Irving (1792-1834) "


Irving was Presbiteriaanse predikant in London van 1822 tot 1834.
Die eerste ses jaar van sy bediening was 'n tydperk van uitnemende sukses. Met sy koms
na die stad woon net 50 mense die dienste by. Maar binne 8 maande bars die gebou uit sy nate
en talle moet teleurgesteld buite staan in die hoop dat hulle iets sal kan hoor. Kort voor lank is dit
Sondae 'n vertrappery in die strate rondom die gebou. En elke Maandag is die koerante vol oor
gebeure by die kerk die vorige dag.
Talle vooraanstaandes uit regeringskringe het die byeenkomste bygewoon. Onder meer
was Joseph Canning - wat binnekort Brittanje se Eerste Minister sou word - 'n gereelde besoeker.
In die Britse Laerhuis maak hy die stelling dat Irving die grootste redenaar van die dag is. Soms
is selfs mense soos William Wordsworth en Sir Walter Scott in die dienste opgemerk.
Uiteindelik moet 'n ander en baie groter byeenkomsplek gebou word - die National Scotch
Church in Regent Square. Die gebou, wat deur sommige as Brittanje se mooiste beskou is, word
in 1824 betrek.
Irving sou in enige era 'n baie indrukwekkende en populêre figuur gewees het. Hy was
lank - soos Saul bykans 'n kop langer as die gemiddelde mens - en het met 'n gemaklike,
vorstelike elegansie beweeg. Nie alleen was hy geniaal en dinamies nie, hy was ook 'n man van
inbors en integriteit - eerlik, onselfsugtig, vriendelik en opreg. En dan was hy 'n prediker sonder
weerga!
Maar, helaas was daar ook ernstige krake in Irving se persoonlikheid. Hy het 'n neiging
gehad tot die eksentrieke en die ekstreme, met 'n voortdurende sug na opwinding. Die bloot
alledaagse en konvensionele was vir hom onhoudbaar. Daarom was hy onvergenoegd met die
gewone gang van sy bedieningslewe. Dit lei dan daartoe dat hy in 1824 begin preek oor die
Bybelse profesieë. Hy gaan egter onverantwoordelik en sensasioneel om met Bybelboeke soos
Daniël en Openbaring. Oor sake waaroor groot godsmanne en geleerdes na eeue steeds nie
klarigheid het nie, waag hy dit om dogmatistiese en soms dwase standpunte in te neem. Sy
prediking - veral sy aanmatigende voorspellings oor die toekoms - het talle wat self kon dink laat
wegdryf. Maar die naïewes het meer as ooit toegestroom.
Irving het ook begin om afwykende beskouinge oor die menslike natuur van Christus te
verkondig. Daarbenewens het hy begin preek dat die bonatuurlike openbaringsgawes van die
Gees steeds in die kerk moet funksioneer. Eintlik het hy die idee in 1828 of 1829 by sy
selfversekerde jong assistent, 'n sekere A.J. Scott gekry. Hy het Irving daarvan oortuig dat die
kerk se afvalligheid en kragteloosheid grootliks te wyte is aan die verwaarlosing van hierdie
gawes.
Scott het ook invloed gehad in 'n sekere distrik van Skotland. Daar het 'n tienermeisie,
Mary Campbell, sy idees aangeneem - veral met betrekking tot die spreek in tale en genesing.
Mary, ongeskoold maar intelligent, het 'n sterk neiging tot die mistieke gehad. Saam met 'n groep
jongmense het sy aand na aand begin bid vir die gawe van tale. Sy was ook sieklik en het die
Here vertrou vir 'n genesingswonderwerk.
Een rede waarom die groepie jongmense in die gawe van tale belanggestel het, was dat
die meeste van hulle voornemens was om sendelinge te word. Hulle het gehoop dat hulle op die
manier die gebiede waarheen hulle wou gaan se tale sou bemeester. Aangesien hulle geglo het
dat Christus se wederkoms binne vier of vyf jaar sou plaasvind, het hulle gedink dat die Heilige
Gees hulle op hierdie manier in staat sou stel om 'n groot getal heidene in 'n kort tydjie te bereik.
Mary Champbell was die sentrale figuur in die groep. Sy het dikwels in 'n emosionele ekstase
geraak terwyl sy gebid het en 'n oorweldiging van haar denke ondervind wanneer sy in 'n
stortvloed van woorde uitgebreek het oor heilige dinge. Sy en haar vriende het vas geglo dat dit
net 'n kwessie van tyd was voordat sy die gawe van tale sou ontvang.
En toe, een Sondagaand – in Maart 1830 - het Mary onverstaanbare geluide begin maak.
Sy het geglo dat dit 'n taal soortgelyk is aan dié van Pinkster of die Christene in Korinte. 'n Ander
familie het drie weke later in dieselfde deel van Skotland, ook so 'n ervaring gehad. Ook hulle
was sterk onder die invloed van A.J. Scott. Die twee broers, James en John (albei in hulle vroeë
dertigs) het, terwyl hulle besig was om te bid, van Engels oorgeslaan na 'n onverstaanbare vorm
van spraak. James het ook beweer dat sy suster Margaret, wat siek was, deur 'n wonderwerk
genees sou word. Nadat hy haar twee keer beveel het : "Ek sê vir jou, staan op!", het sy
opgestaan. 'n Kort rukkie later het sy ook in 'n onverstaanbare taal gepraat.
In die Garelock gebied van Skotland was die mense reeds baie ernstig oor die dinge van
die Here en die nuus oor die wonderbaarlike gebeure het 'n steeds groter opgewondenheid
veroorsaak. Bowendien was Mary Champbell verseker dat die gawe wat sy ontvang het 'n heilige
voorbereiding was vir die sendingveld. Sy het beweer dat die taal wat sy ontvang het dié van die
Pelew eilandbewoners is. Nuus oor die gebeure in Skotland het Irving en baie ander met groot
vreugde vervul. Hulle het verkondig dat dit die begin van God se finale werk op aarde voor die
koms van Christus is en hulle het ernstig en gelowig gebid dat God ook in London moes werk.
Hulle gebed is spoedig verhoor. Mev Cardale, die vrou van 'n prokureur en lid van die
Irving geselskap, het 'n paar onverstaanbare geluide geuiter. Sy het ook die verklaring gegee:
"Die Here sal met sy kinders praat. Die Here bespoedig Sy koms! Die Here kom!"
Hierdie gebeure het van toe af gereeld soggens in Irving se gebedsessies plaasgevind.
Daar was verskillende soorte uitinge saam met 'n gehuil en geskree en van alles is geglo en
gesê dat die werk van die Heilige Gees is.
Die leierskap in die kerk het nie van hierdie aktiwiteite gedurende die gebedsbyeenkoms
gehou nie, maar het dit tog verduur. Hulle was bang dat dit dalk regtig die werk van die Gees was
en dat hulle Hom sou bedroef of uitblus.
Dit het gou na die kerkdiens uitgebrei. Die eerste keer ('n Sondagoggend) het 'n juffrou
Hall uit haar stoel gespring en probeer om 'n skielike uitbarsting van klanke wat in haar opgewel
het, uit te kry. Sy het na die konsistorie gegaan, maar die gemeente kon die kermende en
onverstaanbare geluide tog hoor. Met die aanddiens dieselfde Sondag was daar 'n geweldige
oproer soos die "tale" en geskree en gehuil opgegaan het. Dis ook aangehits en nagemaak deur
kwaaijongens wat die diens bygewoon het.
Die gebeure van daardie Sondag het die Presbiteriaanse deel van die gemeente erg
aanstoot gegee. Hulle het verwag dat 'n diens waardig moet wees om God te kan aanbid en dat
sodanige gebeure 'n skande is.
Nietemin het sake vererger, eerder as verbeter. Sommige talesprekers het daarop
aanspraak gemaak dat hulle direkte openbarings van Bo ontvang. Baie van hierdie openbarings
is deurgegee as verklarings van die tale. Irving, met sy eerlike, maar naïewe geaardheid het
hierdie idee ten volle aanvaar en dit die gawe van profesie genoem. En dié wat dit beoefen, het
hy profete genoem. Hy het self niks van hierdie spesiale gawes ontvang nie, en het homself
daarom laer gereken as die profete en hom, trouens, ook onderwerp aan hulle gesag.
Die profete was hoofsaaklik vrouens, maar een was 'n man, 'n prokureur genaamd Robert
Baxter. Hy het dikwels die ervaring gehad, wat hy genoem het "om onder die krag te wees". Met
so 'n ervaring het hy - so het hy geglo - direk met God gekommunikeer en sogenaamd
geïnspireerde woorde ontvang. Onder hierdie oortuiging dat hy direk deur God gerig word, het
hy soms baie onverstandige dinge gedoen - bowenal was hy seker dat God aan die einde van
veertig dae belowe het om hom met vuur te doop.
Hy het die bepaalde dag en uur opgewonde ingewag. Maar uiteindelik het daar niks van
gekom nie. Sy vrou het as gevolg daarvan haar geloof in die bonatuurlike gawes verloor. Baxter
het egter nog 'n tyd lank in sy oortuiging volhard, hoofsaaklik omdat hy 'n hoë agting vir Irving
gehad het. Maar toe hy uiteindelik 'n ruk later besef dat sy held voete van klei het en dwaalleer
verkondig - naamlik dat Christus 'n sondige natuur sou gehad het - het hy die charismata waarop
hy aanspraak gemaak het as "verbeelding" afgemaak.
Gedurende April 1832 het die saak op 'n krisis afgestuur. Die Londonse sinode het Irving
beveel om tereg te staan voor die kerklike hof. Eerstens, omdat hy toegelaat het dat sy dienste
onderbreek word deur "tale" en tweedens omdat hierdie sprekers meestal vrouens was. Vir twee
dae lank het Irving sy standpunt verdedig. Hy het nogtans die saak verloor en is nie meer geskik
geag om predikant te wees van sy gemeente nie (Regent Square Church). Toe hy daarna die
oggend-gebedsbyeenkoms wou bywoon, was die kerk gesluit en sy bediening het sonder meer
tot 'n einde gekom.
Agthonderd mense het gevolglik saam met hom die kerk verlaat en 'n saal bekom waar
hulle weer begin dienste hou het. Onder hulle was ook die sogenaamde profete en Irving het
spoedig agtergekom dat hulle hulleself as die alleengesag beskou. Hulle het besluit wanneer en
wat hy moes preek. Soms het hulle selfs sy prediking onderbreek.
Alhoewel hy diep bedroef was oor die ondergeskiktheid wat hom opgelê is, het hy volhard
in sy oortuiging dat God deur hulle spreek. Twee apostels is mettertyd afgesonder - as die eerstes
van twaalf wat die Here kwansuis sou kies om hom te verwelkom met sy wederkoms. Dié apostels
was dan ook ver bo Irving geag in die nuwe hiërargie wat besig was om te vorm.
Irving was dwarsdeur sy lewe 'n baie gesonde en energieke mens. Die voorafgaande ses
jaar het hy verkondig dat siekte 'n direkte aanval van Satan is en deur geloof en gebed alléén
genees moet word. Maar helaas het hy hiérdie opinie meer as een keer sien faal deurdat hy drie
van sy kinders aan die dood moes afstaan en sy vrou meeste van die tyd ongesteld was.
Teen 1832, net nadat hy sy gemeente moes verlaat, het sy gesondheid ook begin om
agteruit te gaan. Ten spyte daarvan dat hy net veertig was, het hy binne vier maande opvallend
verouder. Sekerlik was dit deels te wyte aan nog verdere kerklike probleme wat hom
gekonfronteer het. Omdat hy as predikant gelegitimeer was in Skotland, is hy ook dáár verhoor
oor sy lering in verband met die sondige natuur van Christus. Hy het hom nogeens met groot ywer
verdedig, maar het weer gefaal en is uiteindelik ontneem van sy amp en ontslaan uit die bediening
van die Church of Scotland.
As hy dan terugkeer na London is hy 'n gebroke man - ten spyte van sy herbevestiging
deur die apostels en die seën van die profete.
Teen 1833 het baie van die wat aanvanklik in tale probeer praat het, die praktyk totaal
verwerp. Irving het al hoe meer gebroke geraak oor die mislukking van alles. Sy gesondheid het
ernstig agteruit gegaan. En om die kroon te span, het die profete hom gemarginaliseer in die
gemeente. Hy het toenemend soos 'n kluisenaar geword.
Gedurende die herfs van 1834 het die profete besluit dat hy Glasgow toe moes gaan om
te preek. Hulle het hom verseker dat hy 'n groot werk daar sou doen. Hy was egter nou 'n baie
siek man, maar wou steeds nie erken dat hy tuberkulose in 'n gevorderde stadium het nie. Hy het
by die dag swakker geword, maar voortdurend gebid vir 'n wondergenesing.
Hy en sy vrou het vanaf Liverpool per boot na Skotland gereis. Dit was November en
uiteraard baie koud. Toe hulle Skotland bereik, was hy al so swak dat hy nie kon loop sonder
sterk ondersteuning nie. Binne 'n paar dae was hy bedlêend en het hy uiteindelik gekapituleer en
ingestem tot mediese hulp. Sy toestand was egter te ver gevorderd en hy het uur na uur verswak.
Tog het hy bly hoop. Hy was oortuig dat God kragtig sou ingryp deur 'n wonderwerk en
dat die hele Brittanje daarvan bewus sou wees. Die Here sou hom volkome genees, oprig en al
die charismaties gawes aan hom toebedeel. Verder sou hy in 'n bediening gebruik word wat die
hele land sou skud en dit sou dan op die koms van Christus uitloop.
Die mense rondom hom het egter besef dat sy dood op hande was. En inderdaad het sy
laaste dae aangebreek. Uiteindelik het hy op Sondag 7 Desember 1834, teen middernag,
vreedsaam gesterf met dié woorde, "As ek sterf, sterf ek in die Here".
Edward Irving was deur en deur 'n goeie man - regverdig in sy optrede en ver verhewe bo
sondes soos jaloesie, oneerlikheid en huigelagtigheid. As hy die teologiese koers behou het
waarmee hy begin het, as 'n egte Presbiteriaan, en sy buitengewone gawes gebruik het, sou hy
ongetwyfeld 'n lewenslange en ryk bediening gehad het. Hy sou dalk in die geskiedenis geken
kon word as een van God se grootse manne.
Maar hy het weggedraai om nuwe en ander dinge te soek. Sy aandrang op en beheptheid
met direkte buite-bybelse openbarings sou noodwendig uitloop op gebrokenheid, hartseer en
vernietiging. Waarlik, sy lewe is vol lesse vir dié wat vandag dieselfde weg wil volg. Dis 'n ernstige
waarskuwing teen 'n oorbeheptheid met emosionele belewings en 'n gryp na iets méér as net die
Woord van God, die afgeslote kanon.



Nico van der Walt
nico.vanderwalt@reformed.org.za
www.facebook.com/nico.vanderwalt.73
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5130
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Di Sep 29, 2020 11:53 am

" 'n Waarheid wat skreiend verwaarloos word "


Die Skrif leer ons dat dit moontlik is om 'n opwindende, lewensveranderende, veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê — sonder om werklik saligmakende geloof te hê. Dit is moontlik om so naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring — sonder om 'n deelgenoot van Christus en 'n erfgenaam van die ewige lewe te wees.
'n Leerstuk van geloofsvolharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig 'n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Trouens, dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie.

(Vrye vertaling van 'n paragraaf van die regsinnig-gereformeerde en skitterende Skotse teoloog, John Murray, wat vir dekades aan die Westminster Seminary in die VSA verbonde was: Redemption — accomplished and applied, p.153.



Nico van der Walt
Nico van der Walt [nico.vanderwalt@reformed.org.za]
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19


Terug naar

Wie is er online?

Gebruikers in dit forum: 2 en 0 gasten