Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5034
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Ma Mei 11, 2020 12:47 pm

Nico Van der Walt :


" 'n Waarheid wat skreiend verwaarloos word "



Die Skrif leer ons dat dit moontlik is om 'n opwindende, lewensveranderende, veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê — sonder om werklik saligmakende geloof te hê. Dit is moontlik om so naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring — sonder om 'n deelgenoot van Christus en 'n erfgenaam van die ewige lewe te wees.
'n Leerstuk van geloofsvolharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig 'n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Trouens, dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie.

(Vrye vertaling van 'n paragraaf van die regsinnig-gereformeerde en skitterende Skotse teoloog, John Murray, wat vir dekades aan die Westminster Seminary in die VSA verbonde was: Redemption — accomplished and applied, p.153.





nico@dievanderwalts.co.za
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5034
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Ma Mei 11, 2020 1:57 pm

Nico Van der Walt :



" DIE DIMENSIES VAN REDDING VOLGENS DIE NUWE TESTAMENT "



'n Sondaar word gered uit genade alleen; op grond van Christus se verdienste alleen; deur geloof alleen; tot goeie werke, oftewel gehoorsaamheid aan Christus; en daarom volgens sulke goeie werke.

A sinner is saved by grace alone; on the basis of Christ's merits alone; through faith alone; for good works, that is obedience to Christ; and therefore according to such good works.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5034
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Vr Mei 15, 2020 11:39 am

Nico Van der Walt :

Dankie vir julle respons op onderstaande twee Facebook-plasings van my 'n paar dae gelede. Veral met hierdie een, en spesifiek met die heel laaste frase, die "volgens"-frase, het mense gestoei. Lees verder ....,



" DIE DIMENSIES VAN REDDING VOLGENS DIE NUWE TESTAMENT "



'n Sondaar word gered uit genade alleen; op grond van Christus se verdienste alleen; deur geloof alleen; tot goeie werke, oftewel gehoorsaamheid aan Christus; en daarom volgens sulke goeie werke.
A sinner is saved by grace alone; on the basis of Christ's merits alone; through faith alone; for good works, that is obedience to Christ; and therefore according to such good works.

Net 'n paar opmerkings van my kant af in antwoord.

# Ek is baie jammer dat van julle n.a.v. my laaste frase dink ek verkondig dat mens op grond van verdienste gered word — dat ek vrye en soewereine genade misken. Nee! Ek is tot in my murg gereformeerd – Godgesentreerd, Christusgefokus, Woordgefundeerd. As julle weer my "formule" lees, sal julle sien dat ek dit reg aan die begin stel: "uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen". Om enigeen van bogenoemde te misken, is ketters!
Maar nét so gevaarlik – nee, noodlottig - is dit om met 'n halwe formule te werk. Vandaar die volle formule soos ek gepoog het om dit te formuleer op Facebook. 'n Halwe evangelie neem epidemiese en sielsvernietigende afmetings aan in die kerk van ons dag, ook hier in ons land. Al blyk dit nie uit wat gesê word nie, word dit onmiskenbaar gesuggereer deur wat verswyg word. En wat die gewone luisteraar na sulke prediking betref, glo hy baie gou dat werke en hoe jy leef nie regtig saak maak nie.
Ons moet eenvoudig die volle godsopenbaring verreken en verkondig. Ons mag nie hiper-calvinisties oor die saak dink nie (deur menslike verantwoordelikheid te verwaarloos); ook mag ons nie in 'n goedkoop genade verval nie (cheap grace). Ons mag nie net die indikatiewe van die Woord vashou nie (die wondere van 'n Christen se erfenis in Christus) en die imperatiewe vergeet nie (ons dankbaarheids-verantwoordelikheid om gehoorsaam en heilig te lewe). Hulle is onlosmaaklik verbonde – en ewe gewigtig deel van die verlossingsproses. Die een is net so lewensbelangrik soos die ander. Beide is deel van 'n outentieke wedergebore lewe. Beide word as onontbeerlik belangrik in die Woord verkondig en is deel van Nuwe Testamentiese geloof. Ek praat nie van die prediking vanaf baie "gereformeerde" kansels nie; ek praat van die groot gereformeerde belydenisskrifte wat in die tyd van die reformasie en kort daarna ontstaan het. Dis daar vir ons almal om te lees.

# Hoekom los ek nie maar die frase wat party mense ongemaklik maak nie: vólgens goeie werke? Presies omdat God se Woord sélf verder gaan as bloot "tót goeie werke", wat sekerlik totaal Bybels is en daarom ook die voorlaaste komponent van my formule is.
Maar Jesus self gaan verder in Matt 25: die laaste oordeel gaan vólgens ons werke geskied! Met die "tot" kan ons nog rustig saamstem en saamleef, maar die appél, die snykant lê in die "volgens". Dit durf nie uitgelaat word nie, want daar is 'n skeidingslyn tussen die voorlaaste frase en die laaste frase.

# Natuurlik is daar ook 'n teenoorgestelde dwaling — prediking wat nét op die imperatiewe fokus; moets en moenies-prediking. Onder hierdie prediking (meermale hoe meer vreesaanjaend, hoe beter) hoor jy selde of ooit van God se genade vir sondaars. Dis nog meer misleidende. Dis ook Godonterend.
Maar dis nie waarop ons nou fokus nie.

# Baie uitdruklik sê Heb 12:14 dat niemand die Here sal sien sonder heiligmaking nie. Werke en gehoorsaamheid is nooit die grond van redding nie; maar dis vir seker die bewys daarvan. Dis die watermerk van egtheid; die vrug; die noodwendige uitvloeisel. Ons praat van heiligmaking, van 'n daaglikse opneem van die kruis, van 'n meedoëlose stryd teen oorblywende sonde. Oorwinning is nie altyd 'n gegewe nie; en selde kom dit maklik. Daar word dikwels 'n val teen ons aangeteken. Máár hulle wat waarlik in Christus is, verloor nooit uiteindelik die stoeigeveg nie. In elke ware Christen is dit die tipiese. Die ESV vertolk die Grieks reg in1Joh 3:9: "No one born of God makes a practise of sinning, for God's seed remains in him, and he cannot keep on sinning because he has been born of God." (vgl. ook NIV)(Jammer die Afrikaanse vertalings lig die tipiese, die normale nie uit nie).
Daar is net een betroubare, onfeilbare bewys van onsigbare geloof – hoe ek en jy leef. Niemand sal daarom die Here se finale oordeel op grond daarvan kan betwis nie. Dis wat ek bedoel as ek sê redding, al dan nie, sal "volgens goeie werke" geskied. Presies dit is wat Jesus in Matt 25 sê – en wat die Skrif op verskillende plekke leer. Soos alle regters, sal ook die groot Regter bewyse wil hê!
Dietrich Bonhoeffer skryf voor die Tweede Wêreldoorlog van die kerk in Duitsland min of meer dit: "Die kerk in hierdie land vreet soos 'n klomp aasvoëls aan die karkas van goedkoop genade." Geld dit nie ook tot 'n skrikwekkende mate van die kerk in óns land nie?

# Die Skrif waarsku ons met absolute dringendheid teen bloot uiterlike Christenskap wat op 'n haar na soos die ware Jakob kan lyk ("goeie werke inkluis, selfs baie). Maar dis nie ég nie. Dit lei níé tot die saligheid nie. Selfs die betrokke persoon self besef dit nie; trouens, hy is dikwels die heel laaste een wat dit agter kom.
'n Vals Christen kan so regsinnig en vroom wees dat jy met hom kan gaan toer. Vergelyk die aanhaling van John Murray wat ek ook 'n paar dae terug geplaas het.
Ekself kon toe ek as sewentienjarige deur 'n kerkraadskommissie onder kruisverhoor geneem is met die oog op "geloofsbelydenis", al 52 Sondae van die Heidelbergse kategismus uit my kop opsê, maar gered was ek allermins. Ek is deur 'n hele paar jaar se studie op Maties sonder om ooit dronk te word — wat 'n nóg groter prestasie was. Ek was só 'n getroue kerkganger dat ek die heel eerste student was wat in die Dopperkerk daar 'n diaken geword het. Maar eers op 28-jarige ouderdom is ek na 'n verskriklike stryd van 18 maande uit die ou Adam gehaal en met die laaste Adam verenig! 'n Laaaang swangerskap en 'n uiters moeilike bevalling was dit voorwaar!
Dikwels kan nét God wat die hart ken, die verskil tussen die ware en die valse sien. En helaas is daar waarskynlik in elke gemeente sulke vroom, getroue en hoogheilige (Eng. Pious) lidmate en kerkraadslede.
Dis waarom die Skrif ons oproep om onsself gereeld en ernstig te ondersoek óf ons inderdaad in die geloof is (2Kor 13:5).
Beide geloofsekerheid en selfondersoek moet daarom in elke gelowige se lewe 'n voortgaande realiteit wees. In 'n gesonde geloofslewe is daar, wat talle sake betref, 'n ekwilibrium of spanning. Dit geld ook die genoemde twee dinge. Ons praat dus nie van óf-óf nie, maar van én-én. Geloof wat nooit twyfel nie, is geloof onder verdenking! Ons kan dus nie alles hang aan die haak van "ek het Hom aangeneem" nie. 'n Duisend ander het Hom ook "aangeneem", maar volhard nie enduit in geloof (om met my volle gewig aan Christus alleen te hang), gehoorsaamheid (lees: "goeie werke") en heiligmaking nie. Dit spreek Jesus onder meer in die gelykenis van die saaier aan — nie al die saad val in goeie grond nie.
Die vraag is, hardloop ek vandag die wedloop voluit, en gaan ek enduit bly hardloop? Wie volhard tot die einde toe, sal gered word. Dien ek God in "gees en in waarheid"? Kom dit regtig uit my hart van harte uit, en geskied dit volgens die Woord. Is dit opreg? Gaan dit gepaard met 'n hartstog om my groot Profeet, Priester en Koning te behaag en te verheerlik? Is die grootste passie van my lewe om Hom te ken? Is dit die mees sentrale en beheersende realiteit van my lewe?
Lees weer Fil 3:1-16. Dis waarvan ek praat in die frase waaroor ons verskil.
Dis één rede (van talle, talle redes) waarom gebed so belangrik is – gebed wat "die eerste reël" van gesonde dissipelskap is.

# As ons oor regverdiging en redding en ware geloof praat, moet ons nie net Paulus lees nie, maar ook Jesus se lering, en in die besonder ook (wat hierdie saak betref) Jakobus. My "daarvolgens" is onder meer daarop gebaseer. Dis uiters belangrik om Skrif met Skrif te vergelyk. Ons vind dikwels nie die volle waarheid in "daar staan geskryf" nie, maar in "daar staan geskryf én daar staan geskryf". Bybelwaarheid is dikwels waarheid in ekwilibrium.
Veral dink ek aan Jakobus se lering in 2:14-26. Mens moet die hele perikoop lees, maar let veral op v.24: "Julle sien dus dat 'n mens op grond van dade regverdig verklaar word en nie deur geloof alleen nie." (die nuwe amptelike Afrikaanse vertaling – "Die Direkte Vertaling". Vgl. ook OAV, ESV, NIV).

# Ek dink ook aan Jesus se antwoord aan die ryk jongman — én sy kommentaar aan die apostels (Luk 18:18-30). Kardinaal belangrik om hiermee saam te lees, is Jesus se ontmoeting in net die volgende hoofstuk met Saggeus (Luk 19:1-10), en veral sy verklaring in v.8-10: "... ek gee die helfte van my besittings aan die armes ... Vandag het daar verlossing ... gekom ... ook hy is 'n seun van Abraham ...".

+ Ek glo ons praat van dankbaarheidsgehoorsaamheid en goeie werke in die algemeen, maar mens kan nie anders nie as om raak te sien hoe dikwels dit oor besittings en materiële hulp gaan.

# En dan natuurlik is Matt 25:31-46 — die gelykenis van die skape en die bokke —onontkombaar duidelik.
Christenskap en ewige redding gaan nie net oor 'n suiwer belydenis en oortuigings nie — lewensbelangrik soos dit is — dit gaan óók oor rubber-wat-die-teer-byt gehoorsaamheid, uitlewing en 'n heilige lewe!


*********


Wouda Coetsee
Baie dankie, Nico. En baie groete vir julle.



Marianne Hugo
Nico jy is een van die beste predikers wat ek ken. Wil jy nie reeks oor Ps 139 weer doen nie,


Nico Van der Walt
Hallo Marianne, Dankie vir jou waarderende woord. Dit bemoedig my, veral komende van jou - maar soos dit seker maar net tipies is, kan ek net my kop in ongeloof skud.


Nico Van der Walt
Wat jou jou versoek oor Ps 139 betref (sjoe, dis jare en jare gelede!). Ek sou graag wou, maar daar is op die oomblik soveel dringende - brandende - onderwerpe op my hart wat moet uit en op skrif kom voordat ek nie meer kan nie. En ek is 'n stadige ywer - nie omdat ek so stadig tik nie, maar omdat ek so stadig dink en oor en oor dink. En jy kan nie glo nie, maar my korttermyn-geheue is in 'n haglike toestand. Ek is bo in my studeerkamer en wil dan iets onder gaan haal. Daar aangekom, dan het ek totaal vergeet wat ek kom doen het - dan klim ek maar weer druipstert die trap op


Nico Van der Walt
Ek probeer 'n derde keer. Ek bly vergeet om nie die "return" te druk as ek met 'n nuwe paragraaf wil begin.


Nico Van der Walt
En toe druk ek hom sowaar weer. Hoe gaan dit met julle? Skryf vir ons 'n lang-lang brief en vertel vir ons al julle geheime! Jy laat ons ver terugdink - aan wonderlike en naïewe dae (in my geval) - dae van meer hitte as lig. Nie dat daar nou nie meer h…Meer bekijken


Petra Deacon
So lekker om weer Nico se boodskappe te lees en sy manier van skryf.Ek hoor in my kop sy stem, van toe ek nog destyds die bandjies geluister het
Ek hoop dit gaan baie goed met julle.

**********
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5034
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Di Jun 16, 2020 12:18 pm

Nico van der Walt [nico.vanderwalt@reformed.org.za]


ANTIPAS HEROUT

NO.63

Antipas, My getroue getuie (Op 2:13)

Matteus 24-25

" DIE HERE JESUS SE PROFETIESE REDE "

Deel 1

Matteus 24:1-44 : Oorsig en Wederkoms

Nico van der Walt


Die Here Jesus lewer die profetiese rede1 op Woensdag, 12 Nisan, twee of drie dae nadat Hy
Jerusalem triomfantelik op 'n donkie binnegery het, en twee dae voordat Hy gekruisig sou word.
Ons vind hierdie stuk lering in die drie sinoptiese evangelies in Matt 24:1-25:46; Mark 13:1-37 en
Luk 21:5-36.
Ons sal primêr na Matteus se weergawe kyk en bloot na Markus en Lukas verwys as dit
meer lig werp op Matteus.
Talle vind hierdie verse baie moeilik om te begryp
# Met min Skrifgedeeltes sukkel gelowiges meer as met hierdie stuk lering van die Here
Jesus in Matt 24.
Talle kan glad nie v.15-35 en v.36-44 met mekaar gerym kry nie. Dis omdat aanvaar word
dat eersgenoemde verse, ten minste gedeeltelik, die tyd direk voor die wederkoms van Christus
beskryf. Maar dan kom die probleem: hoe op aarde kan die dramatiese gebeure van
eersgenoemde gerym word met die laaste klompie verse — verse van vrede en welsyn wat baie
duidelik die einde van die wêreld beskryf? 2
Die sleutel wat die raaisel oopsluit, is vers 34: "Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal
beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie." (DAV).
# Die Here sê uitdruklik dat "ál hierdie dinge" (OAV) — verwysende na die voorafgaande
verse — nog in die leeftyd van "híérdie geslag" sal plaasvind. Hy praat dus van iets wat binnekort
sal gebeur, gebeure wat sy tydgenote nog sal beleef.
Ek meen dis so duidelik soos daglig. "Destyds?", sê jy. Ja, destyds, in die eerste eeu.3
Het Jesus dit mis gehad? Baie kritiese teoloë sê dit sonder huiwering. Hulle voer
byvoorbeeld aan dat Hy gedink het Hy is die Joodse Messias wat binnekort alle heerskappy sou
oorneem. Toe die volk Hom egter verwerp, sê die mense, het Hy in Sy ontnugtering die kruis as
uitkoms omhels.
Nuurlik probeer talle meer regsinnige Skrifuitlêers die dilemma Bybels oplos, maar om
een of ander rede sonder om die nodige erns te maak met v.34. As 'n reël word dan aangevoer
dat 'n ander uitleg as die letterlike vir Matt 24:34-35 die antwoord bied. Gewoonlik word die verse
voor v.34 dan na willekeur in een van twee kassies gegooi: dié wat slaan op die val van
Jerusalem, en dié wat die wederkoms sal voorafgaan. En uiteraard het elke teoloog sy eie opinie
oor die verdeling. Asof die Here onseker en onsamehangend gepraat het!
Kom ons pak die uitdaging aan! Kom ons kyk net na hierdie profesie en probeer agter die
kap van die byl kom.
# In ons ondersoek in volgende Heroute sal ons vind dat die Bybel self keer op keer die
antwoorde bied. Die ou en beproefde hermeneutiese reël, om Skrif met Skrif te vergelyk, sal
soos klokslag tot ons redding kom.
Hiermee samehangend is nog 'n reël belangrik: as 'n bepaalde tema op verskillende
plekke in die Skrif bestudeer word — veral as dit 'n moeilik verstaanbare saak is — is dit kardinaal
belangrik om eers te begin met die duideliker gedeeltes en eers daarna die moeiliker gedeeltes
in die lig daarvan te lees. En nooit is dit belangriker as in die geval van die profesieë oor die
toekoms nie.
Net 'n laaste en voor die hand liggende opmerking. Moenie 'n gedeelte soos hierdie deur
die bril van een of ander bevooroordeelde dogmatiese model lees nie. Moenie 'n Skrifgedeelte
laat buikspreek nie. Laat God se Woord self die praatwerk doen.
# Uiteindelik sal bogenoemde benadering 'n heeltemal bevredigende en betroubare
oplossing vir ons bied. Maar eers moet sekere waarhede in hierdie verse goed verstaan word.

Die dissipels se vraag (Matt 24:3)

# Dis hulle vraag in v.3: "Wanneer sal hierdie dinge plaasvind en wat is die teken van u
koms en van die voleinding van die wêreld?"
Hulle vra dit na aanleiding van die Here Jesus se finale en verdoemende
oordeelsuitspraak oor die Joodse bestel in v.2.
# As die Here Jesus die tempel verlaat (v.1), is dit die laaste keer. So pas het Hy in Matt
23 'n finale oordeel daaroor en oor Jerusalem uitgespreek. Sewe keer hehaal Hy dat ellende op
die Jode en hulle leiers wag (Matt 23:13, 15, 16, 23, 25, 27,29). Sy verdere oordeelsuitsprake is
skrikwekkend (v.15, 23, 27, 33). Die stad gaan 'n puinhoop word!
Laat ons hierdie oordele in gedagte hou wanneer ons nader na Matt 24 kyk, spesifiek
v.15vv.
# Maar tog is daar 'n onmiskenbare genade-ondertoon en -belofte in Matt 23:37-39:
"Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe
dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke
bymekaarmaak, maar julle wou nie. Kyk, julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Want Ek
sê vir julle, van nou af sal julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê, 'Geseënd is Hy wat
kom in die Naam van die Here.'"
# Dis begryplik dat die dissipels hewig ontsteld is oor die Here se oordeelsuitspraak. Hulle
is immers ook Jode. Na aanleiding daarvan is dit asof hulle vir Jesus wil sê, "U is seker nie ernstig
nie!" Hulle vestig dan Sy aandag op die indrukwekkende tempelgeboue. Sekerlik sal Ú tempel
darem bly staan!
Sy antwoord is skokkend en baie uitdruklik: "Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op
die ander bly nie; alles sal afgebreek word" (24:2).
# As hulle by die Olyfberg aankom, vra die dissipels gevolglik vir Jesus 'n vraag - 'n
tweeledige vraag.
+ Eerstens wil hulle weet wanneer die tempel vernietig gaan word. En tweedens wil
hulle weet watter tekens gepaard sal gaan met Sy wederkoms en die einde van die wêreld.
Veral Lukas se weergawe van die vraag maak dit duidelik dat die dissipels gedink het die
twee sake hang ten nouste saam: "Meester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur en wat is die
teken wat sal aandui wanneer dit gaan gebeur?" (Luk 21:7, DAV).

Die dissipels se verwarring

# Ons weet vandag dat die vernietiging van die tempel en die wederkoms twee verskillende
gebeurtenisse is – baie eeue uit mekaar. Maar vir die dissipels was dit nie so voor die hand
liggend nie.
Die Jode het verwag dat die tempel in die tyd van die Messias die permanente sentrum
van aanbidding sou wees vir die hele wêreld. Van aanbidding "in gees en in waarheid" het hulle
bloedweinig verstaan. Dis daarom haas onmoontlik om ons in te dink hóé skokkend, amper lasterlik, Jesus se profesie oor die vernietiging van Jerusalem en sy tempel op die Jode se ore
moes geval het.
Die Here Jesus se uitsprake in 23:39 en 24:2 het die dissipels aan die wonder. Vandaar
hulle vraag in v.3.

Twee afsonderlike antwoorde

# Die Here antwoord die dissipels se dubbelloop-vraag in twee gedeeltes.
Eers gee Hy aandag aan die vernietiging van Jerusalem (24:4-35).
Dan praat Hy oor Sy wederkoms (24:36-25:46).
+ Nie almal aanvaar vandag dat Jesus Sy antwoord se twee dele so uitmekaar hou
nie — dat Hy eers aandag gee aan die een vraag, en daarna aan die ander.
Kyk mens na 24:15vv verstaan jy waarom soveel Christene deur die eeue oortuig was
dat dit reeds hier oor die wederkoms gaan, en nie bloot oor die vernietiging van Jerusalem en sy
tempel nie. Kan sulke dramatiese woorde op iets minder as die einde van alles dui?

Vers 34: "hierdie geslag"

# Een van die argumente wat gebruik word om v.34 se verdeling van die hoofstuk in twee
te ontkom, is om die uitdrukking, "hierdie geslag", anders as letterlik te verstaan. Dan word
aangevoer dat Jesus eintlik daarmee die Joodse "volk" bedoel, en gevolglik sê dat húlle as nasie
tot en met die wederkoms sal bestaan. Die feit as sodanig mag waar wees, maar dis nie wat die
Here Jesus hier wil sê nie.
Die probleem is dat die woord eenvoudig nie "volk" beteken nie. Matteus gebruik die
woord (Gr. genea) 12 keer elders in sy evangelie — vier maal in 1:17; 11:16; 12:39, 41, 42, 45;
16:4; 17:17; 23:36. En deurgaans dui dit op mense wat in dieselfde tyd leef — op tydgenote, 'n
bepaalde geslag.
+ Die gevierde teoloog, D.A. Carson, sê in sy Matteuskommentaar: "This generation
can only with the greatest difficulty be made to mean anything other than the generation living
when Jesus spoke."
4
+ Maar, afgesien van die woord se betekenis, is Jesus nog meer spesifiek: Hy praat
van "hierdie" geslag m.a.w. die mense wat op daardie oomblik lewe.
Voorts is daar ander uitsprake in Matteus wat presies dieselfde sê as hierdie vers
wanneer mens dit op sigwaarde neem (Matt 10:23; 16:28; 23:36).
= Matt 16:28: "Amen, Ek sê vir julle dat sommige van dié wat hier staan, die
dood beslis nie sal smaak voordat hulle die Seun van die Mens in sy koningsheerskappy sien
kom het nie."
= Matt 23:36: "Amen, Ek sê vir julle: Al hierdie dinge sal op hierdie geslag
neerkom." Let ook op die konteks.
# Laat ons ook nie die uitdrukking "al hierdie dinge" miskyk nie (24:33, 34). Twee keer sê
Jesus dus dat al die voorafgaande gebeure gesamentlik as teken sal dien.
# Om alles te kroon, sluit die Here die gedeelte af met 'n gewigtige en onwankelbare
versekering dat alles gewis nét so sal gebeur (24:34-35).

Die duidelike verskille tussen die twee gedeeltes

# As ons die naat tussen die twee gedeeltes dan as tussen v.35 en v.36 aanvaar, word 'n
paar onmiskenbare verskille tussen die twee gedeeltes baie duidelik.
+ Eerstens, teenoor Jesus se beklemtoning dat alles tot en met v.35 in daardie
geslag se leeftyd sal plaasvind, stel Hy dadelik in v.36 die wederkoms aan die orde. Die
uitdrukking "daardie dag en uur" is wederkomstaal in die Nuwe Testament (Matt 7:22; Joh 5:28-
29; 1Tess 5:2; 2Tess 1:10; 2Tim 1:12, 18; 4:8).
+ Tweedens is die eerste gedeelte opvallend spesifiek van aard. Detailbeskrywings
van komende tekens word gegee: vals christusse, oorloë, hongersnode, peste, aardbewings,
vervolgings, vals profete, geloofsafval, verduistering van die son en maan, en vallende sterre.
En dan natuurlik is daar die baie spesifieke gruwel van verwoesting in die heilige plek (Matt
24:15).
5
Daarenteen is die tweede gedeelte deurgaans vaag. Niemand weet wanneer dáárdie dag
en uur kom nie — geen mens of engel, of selfs die Seun nie. Net die Vader weet dit (Matt 24:36).
Daarom waarsku Jesus Sy dissipels — ook ons — oor en oor om steeds waaksaam te wees,
aangesien hulle nie vooraf gaan weet wanneer Hy uiteindelik sal kom nie (Matt 24:42, 44, 50;
25:13).
+ Derdens skets die twee gedeeltes tye wat radikaal verskil. Die eerste deel praat
van die verskriklikste onheil en lyding; die tweede van 'n rustige samelewing, soos in die tyd van
Noag (24:37-39). Mense sal gewoon met alledaagse take voortgaan (24:40-41).
+ Vierdens, teenoor die eerste tyd se gebeure wat op hande is, sal vertragings en
lang tye die tweede tydperk kenmerk (24:48; 25:5, 19).
# Les bes, let op die "maar" waarmee v.36 begin wat 'n teenstelling impliseer — tussen
destyds en die wederkoms.

'n Oorsigtelike kyk na Matt 24:36-44

# Kom ons kyk nou net eers kortliks na Matt 24:36-44 voordat ons teruggaan om in meer
besonderhede na Matt 24:1-35 te kyk.
# Oor die wederkoms sê die Here eintlik baie min (net 9 verse). Hy vertel daarna wel vier
gelykenisse waarmee Hy dit op Sy dissipels se harte druk hoe om op die wederkoms te wag en
hoe om seker te maak dat hulle gereed sal wees daarvoor. Hierdie gelykenisse dra 'n
boodskap wat in die volste sin van die woord lewensbelangrik is. Maar daarna kyk ons
mettertyd.
# 'n Beheersende feit m.b.t. die wederkoms is dat niemand vooraf sal weet wanneer dit
gaan plaasvind nie! Net die Vader sal dit weet; geen mens, nie die engele; selfs nie die Seun
self nie (Mark 13:32). En hierdie feit bepaal alles wat volg.
Daar gaan hoegenaamd nie sulke dramatiese tekens wees soos in die geval van
Jerusalem se val nie. Die mense sal besig wees met hulle alledaagse dinge wanneer dit
gebeur, net soos voor die sondvloed (Matt 24:38-39). Gelowig en ongelowig, gered en
ongered, sal besig wees om rustig saam te werk wanneer die wederkoms op hulle daag
(24:40-41). Tyd vir besinning en bekering sal daar nie wees nie. Een sal geneem, en 'n ander
sal gelos word.
# Dit lei dan tot 'n lewensbelangrike slotsom. Omdat ons nie weet wanneer die Here
terugkom nie, moet ons "waak". Omdat die Seun onverwags gaan kom, moet ons daarmee
erns maak om altyd gereed te wees (Matt 24:42, 44).
+ Dit sal gaan soos met 'n inbraak, sê Jesus. Mens weet nie vooraf wanneer die
dief gaan kom nie. Daarom vang dit jou soos klokslag onverhoeds (Matt 24:43; vgl ook 24:50;
25:13). Dit is betekenisvol hoe dikwels die Nuwe Testament hierdie selfde beeld gebruik om die
onverwagsheid van die wederkoms te beklemtoon (Luk 12:39; 1 Thess 5:2-4; 2 Pet 3:10; Op
3:3; 16:15).
+ Terwyl mense rustig lewe, sal die wederkoms onverwags op hulle daag. Daarom
moet gelowiges getrou volhard en elke dag waak.
# Soos hier in Matt, skets óók 1Tess 5:1-11 'n toestand van "vrede en veiligheid" (v.3). Die
Here sal onverwags kom! Daarom moet gelowiges "waaksaam en sober" wees (v.6, 8).
Laat ons die betekenis hiervan nie miskyk nie. Wanneer die wederkoms uiteindelik
plaasvind, sal daar geen sprake wees van die dramatiese tye wat in Matt 24:15vv beskryf word
nie — en waarop baie mense vertrou om hulle betyds te waarsku.
# Hierdie baie duidelike beskrywings van die tyd voor die wederkoms is vir seker baie
betekenisvol as ons besin oor hoe dit sal wees voor en wanneer dit plaasvind.

Wat sê dit alles vir ons?

Dis nodig om die profesieë reg te verstaan.
Dikwels is die presiese verdeling en struktuur van Bybelgedeeltes nie belangrik nie. Maar ander
kere is dit wel uiters belangrik om dit reg te verstaan. Dit geld by uitstek hier. Want dit gaan oor
die wederkoms van die Here en Hy maak dit baie duidelik dat mens gereed daarvoor moet wees.
Dis dus belangrik om te weet dat daar geen onmiskenbaar duidelike en eksakte vooraftekens sal
wees nie.
6 Dit beteken dat ek en jy voortdurend in 'n staat van gereedheid moet leef.
Wag mens op spesifieke tekens, wat nooit gaan gebeur nie, kan dit jou baie duur te staan
kom. Dit kan baie maklik daartoe lei dat jy hoegenaamd nie gereed is om die Here te ontmoet
wanneer Hy wel kom nie. Dan mag die lot van die vyf dwase meisies jou tref. Jy mag sonder olie
gevang word. Óf jy kan vals en oorverhitte verwagtinge hê, terwyl 'n lang trek in werklikheid nog
voorlê. Dit lei dikwels tot twyfel, ontnugtering en geloofsverlammende terleurstelling.
Hoe bespotlik word die geloof nie gemaak nie deur mense wat só vas glo dat die Here se
wederkoms op hande is (en dan koppel hulle meermale nog dag en datum ook daaraan), dat
hulle dit sonder huiwering uitbasuin! En keer op keer loop dit op niks uit nie. Tragies, eintlik
skandelik, is dit dat mens amper nooit 'n apologie na die tyd hoor nie.
Waarlik, dit maak die geloof bespotlik in die oë van die wêreld en bring oneer oor die
Naam van die Here! En, ewe tragies, meermale word sulke "profete" se eie geloof in die proses
vernietig.
Nee, die Here Jesus se wederkoms kom gewis, maar dit sal onverwags wees.

Laat ons met erns bid dat die Here ons help om Sy Woord reg te verstaan.

Ons kan die Woord van God maklik verkeerd verstaan. Dit geld nie net die dinge rondom die
wederkoms nie, maar die Woord van God in die algemeen. Hoeveel miljoene mense wat hulleself
as ernstige Christene beskou, slaan nie op een of ander punt die bal heeltemal mis nie! Meermale
het dit implikasies vir hulle ewige saligheid! Maar selfs al raak dit nie jou redding nie, raak dit
feitlik sonder uitsondering die eer van God en Sy Christus, asook die welsyn en aantreklikheid
van die kerk en die wêreld se respek vir die evangelie.
Daarom moet ek en jy met al die erns waaroor ons beskik, en met opregte en afhanklike
nederigheid weer en weer bid dat die Gees van God ons in die waarheid sal lei. Daarsonder is
ons gedoem om op allerlei sielsvernietigende dwaalweë te beland. En, skrikwekkend tragies,
dikwels besef mens self dit glad nie.
Nog altyd was dit belangrik om hiermee erns te maak, maar des te meer in hierdie tyd
van geloofsafval en leerstellige uitrafeling.

Dit beklemtoon weereens die belangrikheid van die historiese Christelike geloof.

Dit lê voor die hand dat die Gees van die Here alle ware gelowiges deur die eeue in dieselfde
waarheid sal lei, in elk geval wat die noodsaaklike dinge betref — die dinge wat onontbeerlik is
vir die saligheid. Per slot van rekening het niks verander wat die fundamentele waarhede betref
nie: Wie en wat God is — alleen-skepper, onbetwisbaar soewerein, driemaal heilig, almagtig,
alomteenwoordig. Wie en wat die mens is. Die feit en aard van sonde. Die noodsaak en manier
van redding in Christus. Die lewe wat God behaag en verheerlik. En so meer.
Waarlik, daar sit groot sekuriteit en gemoedsrus in om in pas en in lyn te leef met die
geloof van die godvrugtige kerk deur die eeue.
Baie in vandag se kerk het egter die historiese geloof versaak. Dit het mode geword om
'n god vir ons tyd te soek. Dis natuurlik rasegte postmodernisme.
Of daar 'n objektiewe, transendente, selfstandig-sowereine, onveranderlike God buite my
is, maak hoegenaamd nie meer saak nie. Maar tog soek baie mense 'n god (dalk die meeste) —
maar hul eie een, want dis lekker en cool. Dis soos elke seuntjie wat 'n eie hond móét hê.
Natuurlik, as hy tevrede is met bloot 'n hondjie in sy verbeelding, is dit des te beter. So 'n brakkie
mors ten minste nie op die sitkamermat nie.
Daar is egter net een probleem met so 'n eie god vir ons tyd — Hy is nie werklik nie! Hy
is 'n illusie! As die lewenskrisisse op jou daag — en dit kom vir seker vir elkeen — dan is hy niks
werd nie.
Dan praat mens nie eers van die dood en die ewigheid wat vir elkeen van ons wag nie.

Slot

Laat ons nederig bly as dit gaan oor die verstaan van God se toekoms. Maar hierop kan ons peil
trek: Hy self sal sorg dat Sy uitverkorenes se oë sal sien en onderskei wanneer dit nodig is (wat
nie ons verantwoordelikheid, in die besonder ons gebede en bestudering van Sy Woord ophef
nie!). En op daardie dag, dink ek, sal ons meermale verbaas uitroep: "Is dít toe wat daar en daar
bedoel is! Hoe kan dit wees dat ons dit nie presies só verstaan het nie. Dit lyk dan nou so voor
die hand liggend!"


-o0o-


• Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689
Baptistebelydenis (soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5, 'n
assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges en gemeentes in meer as 'n halfdosyn lande in
Afrika suid van die ewenaar.
• Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale in
Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No. 148,
Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika;
E: nico.vanderwalt@reformed.org.za; Tel. 082 848 9396.
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (plus nog 4 blogs - adresse by genoemde adres)
• Nico het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna vir 'n dekade as Siviele Ingenieur
gewerk (hoofsaaklik as konstruksieingenieur en dosent). Na 'n radikale Christelike bekering en
daaropvolgende teologiese studie aan die Potchefstroomse Universiteit, was hy vir ongeveer drie dekades
veral predikant van twee gemeentes in die Vaaldriehoek en Pretoria. Hy was ook vir 'n stuk of twaalf,
dertien jaar 'n dosent aan die Lynnwoodrif Bybelskool. Die afgelope paar jaar wy hy meeste van sy tyd
aan skryfwerk en prediking waar hy ook al uitgenooi word.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5034
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Jun 17, 2020 11:30 am

ANTIPAS HEROUT

Antipas, My getroue getuie (Op 2:13)

No.64

Matteus 24-25


DIE HERE JESUS SE PROFETIESE REDE

Deel 2


Matteus 24:1-35 : Die smarte in Jerusalem


Nico van der Walt

*********************

In Matt 23 spreek die Here Jesus skrikwekkende oordele oor die Fariseërs en skrifgeleerdes uit.
Per implikasie is dit meteen ook oordele oor die Jode, want wat die leiers was, het sekerlik
deurgesuur na die volk toe. Dis mos maar hoe dit altyd gaan.
Dit lei dan tot Jesus se versugting in 23:37: "Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete
doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is! Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos
'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie."1
En dadelik volg Hy dit op met 'n profesie oor die hart van Jerusalem en die volk se godsdiens
— die tempel: "Kyk julle huis word vir julle verwoes agtergelaat. Want Ek sê vir julle, van nou af sal
julle My beslis nie weer sien nie, totdat julle sal sê, 'Geseënd is hy wat kom in die Naam van die
Here'" (23:38-39).
Kort daarna herhaal die Here sy oordeelsuitspraak oor Jerusalem en die tempel in 24:2: "...
Amen, Ek sê vir julle: hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie — alles sal afgebreek
word."
Vir die dissipels — ook Jode! — moet dit ontstellende, nog meer, verskriklike woorde wees.
Hulle vraag in 24:3 volg noodwendig: "Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge plaasvind en wat is die
teken van U koms en van die voleinding van die wêreld?"
Dis hierdie vraag wat aanleiding gee tot Jesus se profetiese rede.

Die verse wat Jesus se lering oopsluit (Matt 24:34-36)

Deurslaggewend vir die vertolking van hierdie hoofstuk, waaroor daar sóveel verwarring en
uiteenlopende opinies bestaan, is 'n glasheldere en uitdruklike uitspraak van die Here:
"Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur
het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde
kom nie. Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemel nie en
ook nie die Seun nie, net die Vader alleen" (Matt 24:34-36).
Baie mense sukkel met die verstaan van hierdie hoofstuk, ten spyte van bg. verse. Dis omdat talle
van die dinge wat die Here vóór hierdie verse beskryf vir ons gevoel nie anders kan as om saam te
hang met die wederkoms nie. Dit sou beteken dat dit gebeure is wat selfs vir óns nog toekomstig is.
Maar 'n deeglike bestudering van Matt 24:1-35 toon sonder twyfel dat die verse 'n beskrywing
is van die laaste dae van Jerusalem en die tempel. Dis 'n oorsig van dinge wat 'n jaar of vier voor
70 n.C. — toe Jerusalem en sy tempel vernietig is — sou gebeur.
As sodanig is die verse waarna ons kyk 'n antwoord van Jesus op die eerste deel van die
dissipels se vraag in vers 3. Hulle wil weet wanneer die oordele wat die Here in Matt 23 uitspreek
gaan realiseer.
Dis die verse waarna ons in hierdie Herout sal kyk.

Die beheersende gedagte: Moenie mislei word nie!

Dis opvallend dat al drie sinoptiese evangelies begin met 'n dringende waarskuwing teen misleiding:
"Pas op ...!" (Matt 24:4-5; Mark 13:5-6; Luk 21:8). Volgens Lukas is daardie tyd naby, as Jesus praat.
Laat ons nie verbaas wees dat die Here sy dissipels so dringend teen misleiding waarsku
nie. Hulle móés eenvoudig in die lewe bly.
Daar wag in die komende jare 'n paar uiters belangrike en strategiese take op hulle. En
sekerlik is die heel belangrikste die ontvang en op-skrif-stelling van die Nuwe Testament, asook die
vestiging van die jong kerk daarin. Onuitspreeklik katastrofies sou dit wees indien hulle prooi sou
word van misleiding. Dit sou alles vernietig waarvoor die Here gekom het. 'n Kerk sonder 'n volledige
en betroubare Bybel is so verdwaald soos 'n blinde tydens 'n stikdonker nag iewers in die wildernis.

Matt 24:4-14: Waarskuwings en 'n belofte

Rampe en vervolging (24:4-12)
# Die dekades wat voorlê gaan uiters moeilik vir die dissipels wees. Ek meen dat die Here in
hierdie eerste klompie verse meer in die algemeen praat oor die volgende 4 dekades tot en met 70
n.c. — wat sekerlik tot 'n klimaks sal kom in die jare 66-70 tydens die beleg van Jerusalem.
# Dit sal 'n tyd van baie natuurlike katastrofes wees (24:7; Mark 13:8; Luk 21:1011).
Voorts sal vals profete baie bedrywig wees. Hulle sal baie mense mislei (24:5; Mark 13:5).
Só oortuigend sal baie van hulle woorde en dade wees, dat selfs die apostels op hulle hoede moet
wees om nie agter hulle aan te loop nie.
Sonde sal toeneem, en die liefde van baie sal verkoel (24:12).
Om alles te kroon, sal die dissipels deur almal gehaat word (Mark 13:13; Luk 21:17). Hulle
sal vervolg word (Matt 24:9; Mark 13:9,12; Luk 21:12) — helaas ook deur hulle eie dierbares (Mark
13:12; Luk 21:16).
In die hele wêreld aan al die nasies (24:13-14)
# Bogenoemde omstandighede gaan groot volharding van die Christene vereis.
Maar Jesus het ook 'n bemoedigende woord vir hulle (Matt 24:13; Mark 13:13; Luk 21:19).
"Die einde" waarvan Hy praat, is nie die einde van die beleg en vernietiging van Jerusalem
nie. Meeste van die dissipels wat hier na Jesus luister, sou immers voor die beleg en vernietiging
van Jerusalem sterf.
Hy praat ook nie oor die einde van die wêreld nie — soos die dissipels veronderstel het toe
hulle die vraag in v.3 gestel het.
Dit dui op die einde van elke Christen se lewe, elkeen wat getrou bly aan Hom — spesifiek
destyds, maar steeds tot vandag toe.
Let op die passief van die Here se stelling in v.13: Hyself sal die Redder wees.2
# Anders as wat die dissipels aangeneem het, sal die smarte wat Jesus in die voorafgaande
verse beskryf, nie "die voleinding van die wêreld" wees nie (24:3). Dan maak die Hy die duidelikste
stelling in die vier evangelies oor die voleinding waaroor die dissipels wonder (v.14): die evangelie
van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word tot 'n getuienis vir al die nasies. En dan —
eers dán, maar vir seker dan — sal die einde (van die wêreld) kom.
+ Hier haal die Here die twee dele van die dissipels se vraag in v.3 duidelik uitmekaar.
En vandag verstaan ons hóé ver hierdie twee gebeure uit mekaar lê. Ons begryp dit nie net omdat
2000 jaar reeds verloop het nie, maar omdat ons die omvang, die enormiteit, van die groot opdrag
en uitvoering daarvan soveel beter as daardie dissipels begryp

Matt 24:15-28: Die gruwel, 'n dringende opdrag, verskriklike
ontbering, en weer 'n waarskuwing

Nou fokus die Here meer spesifiek op die val van Jerusalem. Hierdie paragraaf het vier fokuspunte,
soos in die opskrif aangedui.
Die gruwel van verwoesting (Matt 24:15)
# Die dissipels moet vlug as hulle "ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding
wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan." Dis
lewensbelangrik as hulle betyds wil wegkom: "wie dit lees, moet dit goed begryp" (Matt 24:15; NAV).
# Baie is al oor dié uitdrukking, "die gruwel van die verwoesting" gespekuleer (24:15). Talle glo
die profesie is nog nie vervul nie. En fantasties is die verbeeldingsvlugte waartoe dit soms lei.
+ Sowel Markus as Matteus beklemtoon die belangrikheid van hierdie teken, en
gevolglik moet ons ons bes probeer om dit reg te verstaan.
+ Uitdruklik verwys Jesus na die boek Daniël. Verantwoordelike eksegese sal dus dáár
begin.
Daniël praat ten minste 4 keer oor hierdie gruwel (8:13; 9:27 11:31; 12:11). Die eerste en
derde profesieë dui op die ontering van die tempel in Jerusalem deur Antiogus Epifanes in 168 v.C.
— toe hy aanbidding van Zeus en die offer van varke daar laat plaasvind het.
Dit lyk of Dan 9:24-27 die verse is waarna ons moet kyk.
Om die verse te ontrafel, verg in-diepte eksegese. Ons kan sekerlik nie nou uitvoerig daaraan
aandag gee nie. Maar die profesie is deur en deur Messiaans. En dit kan aangetoon word dat dit
volledig vervul is in die eerste eeu. Trouens, as mens goed na die Here se profetiese rede kyk, word
dit baie duidelik dat dit inderdaad die geval is.
# Letterlik praat die teks van die gruwel gekenmerk deur verwoesting, of wat verwoesting
veroorsaak.
Wanneer dit in of op die "heilige plek" (Matt 24:15) staan, "waar hy nie moet wees nie" (Mark
13:14), is dit die finale teken vir die Christene om na die berge toe te vlug — die heel laaste
geleentheid. "Heilige plek" dui tipies op die tempel, maar is ook soms vir die stad Jerusalem self
gebruik. Ek meen hier word van die stad gepraat en nie van die tempel nie.
+ Net 'n terloopse opmerking. As die teks sê dat die gruwel "in" of "op" (DAV) die heilige
plek sal staan, kan die bepaalde Griekse woord (Gr. en) ook vertaal word met "by" of "langsaan". Dit
word byvoorbeeld so vertaal in Ef 1:20, waar gesê word dat Christus "aan" (Gr. en) die regterhand
van die Vader sit — dus langs Hom. Ek is nie bewus van 'n vertaling wat v.15 só vertaal nie. Dus is
my opmerking net terloops. Maar, in die lig van die konteks, maak so 'n vertaling baie sin. Die
Christene kon immers, toe die woorde vervul is, veilig wegkom, sonder dat die Romeine hulle
onderskep. Dit sou nie kon gebeur het as die vyand al in die stad was of dit volledig omsingel het
nie — om nie van 'n beleg van die tempel self te praat nie.
# Waarna verwys Jesus met hierdie uitdrukking? Lukas stel dit uitdruklik. Die dissipels moet
vlug as hulle sien dat leërs besig is om Jerusalem te omsingel (Luk 21:20).3
Die gruwel is dus die Romeine wat Jerusalem beleër het.
Daar is redelik betroubare oorlewerings dat die laaste Christene Jerusalem teen 68 n.C.
verlaat het, so ongeveer teen die helfte van die beleg.
Die dringende opdrag aan die Christene (v.16-22)
# As hulle die eerste tekens van die "gruwel van verwoesting" sien — as die Romeine die stad
begin beleër — moet die dissipels onverwyld vlug (v.16-18).
# Waarom moet die Christene so haastig vlug; waarom nie eers 'n paar kosbaarhede inpak
nie? Die antwoord is voor die hand liggend: sodra die beleëring hoegenaamd in posisie is, sal dit
onmoontlik wees om uit die stad weg te kom.
+ Maar sal dit só belangrik wees om te vlug? Om te vlug is immers geen ligtelike saak
nie. Dink jou in: Hulle moes huis en besittings en familie en vriende agterlaat — finaal en vir altyd!
Hulle moet vlug, aangesien onuitspreeklike ontbering en smarte op die stad wag. Die
inwoners sal amper heeltemal uitgeroei word.
Voorts wag daar 'n kardinaal belangrike roeping op hulle — om die evangelie in die laaste
jare van die eerste eeu steeds verder uit te dra.
# Jesus is nie spesifiek in Sy voorskrif oor waarheen hulle moet vlug nie. Met "berge" bedoel
Hy waarskynlik gewoon die bergagtige wildernis wat groot dele van Palestina beslaan. Dit gaan dus
daaroor dat hulle moet wegkom van die hoofroetes en Jerusalem af, want dis waar die Romeinse
leer hom sou toespits. Beswaarlik sou hulle moeite doen om 'n klomp vlugtelinge in die bergagtige
woestynstreke met hul baie klowe en spelonke te probeer uitsnuffel.
# Die ontberinge en lyding tydens die vlugtog sal egter ook verskriklik wees (v.19-22).
+ Daarom moet hulle bid dat dit nie in die winter sal geskied nie. En met vrouens wat
swanger is en die wat babas het, sal dit bitter swaar gaan (v.19-20).
+ Sal dit regtig so erg wees dat hulle moet bid dat die swaarkry hulle gespaar bly?
Inderdaad! "Want" (v.21) die swaarkry sal erger wees as enigiets in die geskiedenis — verlede én
toekoms (v.22). Trouens, só erg sal dit wees dat as daardie tyd nie ingekort sou word nie, sou geen
mens dit oorleef het nie. Maar ter wille van sy uitverkorenes sál die Vader hulle gebede verhoor.
Waarskuwing teen misleiding (v.23-26)
# In Matt 24:23-26 waarsku die Here Jesus weereens Sy dissipels teen vals messiaanse
aansprake. Let op die tydsaanduiding in v. 23 ("dan", OAV, DAV; "daardie tyd", NAV). As daar
vantevore sulke aansprake was, is dit maklik om te begryp dat dit tydens hierdie verskriklike tye
toegeneem het.
Josefus Flavius, die Joods-Romeinse historikus (37 n.C.-100 n.C. of later), skryf dat daar
talle sulke gevalle was. Blykbaar was die motief om die Jode tydens die beleg hoop te gee sodat
hulle sou volhard. Een geval is 'n goeie voorbeeld. Iemand het daarop aanspraak gemaak dat God
hom beveel het dat die mense by die tempel moes vergader, vanwaar hulle dan verlos sou word.
Dit gebeur egter nie, en dra by tot die mense se ontnugtering en lyding.
Josefus beskryf ook merkwaardige tekens wat in daardie tyd sou plaasgevind het. Hy beskryf
onder meer 'n swaardvormige ster wat vir 'n tyd lank oor die stad gehang het. By 'n ander geleentheid
het 'n helder lig vir 'n halfuur oor die tempel geskyn. Is dit wáár? Wie sal weet?
Nogeens — in reaksie op die dissipels se vraag in v.3 — sê die Here uitdruklik dat Hy nié
dan sal terugkeer nie (v.23, 25, 26). Nee, sê Hy, wanneer Hy uiteindelik wel sal kom, sal niemand
daaroor twyfel nie. Dit sal wees soos weerlig wat die hele hemelruim verlig - universeel en kosmies
(Matt 24:27).
Julle moet onthou wat Ek vir julle sê, nou reeds voor die tyd. Moenie mislei word nie! Moenie
glo wat elke slimjan vir julle vertel nie (v.25-26). Dis nie nou al die wederkoms nie!
Oor die wederkoms (Matt 24:27-28)
# Let op hoe begin v.27: "Want ...". Hulle hoef nie onseker oor die terugkeer van die Here
Jesus te wees nie. Die wederkoms sal onmiskenbaar ánders wees as dit wat daar in die eerste
eeu sou gebeur. Verskriklik soos Jerusalem se vernietiging is, dit vind net daar baie lokaal plaas.
Maar die wederkoms sal universeel wees. Almal sal dit sien — en hulle sal wéét!
# Vers 28 is vir talle Bybellesers 'n probleem.
Dis nog 'n verskil tussen Jerusalem se val en die wederkoms.
+ Eerstens is die NAV se woord, "aas", die vertaling van 'n Griekse woord wat ook dooie
liggaam of karkas beteken (DAV). Duidelik sinspeel Jesus óf op die liggame van dooie Jode, óf op
die dooie karkas van die Joodse nasie en godsdiens as geheel.
+ Tweedens dui die woord wat ons Bybels met "aasvoëls" vertaal, op roofvoëls in die
algemeen. Dit kan daarom ook met arend vertaal word (KJV, RSV, Amp).
Die Ou Testament gebruik soms die beeld van 'n arend om te praat van heidennasies wat
die Here sal gebruik om Sy ontroue volk te straf (Deutr 28:49; Hos 8:1; Hab 1:8).
Hier verteenwoordig die arend natuurlik die Romeine.
+ Wat Jesus dus nogeens hier sê, is dat die verskrikkinge van daardie tyd nie tekens
sal wees van Sy wederkoms nie, maar van Sy verskriklike oordele oor die Jode.
Daarenteen sal die tyd van die wederkoms 'n doodnormale tyd van vrede wees (24:37-39).

Matt 24:29-30: Die uitgieting van God se toorn

# Dit word baie algemeen aanvaar dat Matt 24:29-31 die wederkoms van Christus beskryf (vgl.
die opskrifte in beide die OAV en NAV). En as mens nie op hoogte is met Ou Testamentiese
simboliese, oftewel apokaliptiese taal nie, kan jy dit beswaarlik ánders verstaan. Maar die feit dat
Jesus sê dat hierdie dinge "dadelik" (OAV) na v.15-28 sal plaasvind, behoort ons op ons hoede te
plaas — soveel te meer omdat alles waarna ons reeds gekyk het daarop dui dat dit die beleg en
vernietiging van Jerusalem beskryf.
# Hierdie verse moet nie letterlik verstaan word nie. Die Here gebruik hier beeldspraak wat
reeds op talle plekke in die Ou Testament voorkom en verduidelik word.
Dit is so dat hierdie beelde dui op iets geweldig wat sal plaasvind. En vir seker was die
vernietiging van Jerusalem 'n dramatiese wending in God se handele met Sy volk; trouens, 'n totale
kanteling in die wêreldgeskiedenis. Hou in gedagte dat die Here nie bloot hier praat van die
vernietiging van enige stad nie. Nee, Hy praat van die Sionstad. Nog meer: Hy praat van God se
oordele oor Sy verbondsvolk; Hy praat van die beëindiging van meer as 'n duisend jaar se Ou
Testamentiese godsdienstige seremonies. Hy skets die vernietiging van dinge wat eeue lank aan
die hart van God se optrede in hierdie wêreld gelê het.
Nog meer, dit het groot implikasies ingehou vir die voortgang van die evangelie — trouens,
dit was die laaste spyker in die doodskis van die ou bedeling en die begin van God se wêreldwye
koninkryk onder al die nasies op aarde. Daarom skryf die apostel in Rom 11:11-12 dat die Jode se
val 'n verryking vir die wêreld sou beteken.
Nou kon die koms van die koninkryk van God tot sy volle reg kom!
Die son en maan word donker, sterre val, en die hemele word geskud (Matt 24:29)
# Op verskeie plekke in die Ou Testament word soortgelyke beeldspraak gebruik om God se
vernietiging van groot heidense ryke te beskryf. En as sulke dramatiese taal daarvoor gebruik word,
hoeveel te meer is dit nie geregverdig in die geval van die Here se verbondsvolk nie?
+ Jesaja 13:10: "Die sterre en die sterrebeelde sal nie meer lig gee nie, die son sal al
donker wees wanneer hy opkom, die maan sal ophou lig gee."
Hierdie hoofstuk begin: "Uitspraak teen Babel ...", en gaan dan verder om God se vernietiging
van hierdie magtige stad te beskryf. Daar was 'n tyd toe Babel se heerlikheid geskitter het soos die
son en die maan. Maar dis 'n glans wat minder as 'n eeu geduur het en toe onder God se oordele
verdwyn het.
+ Jesaja 34:4-5: "Al die hemelliggame sal wegsmelt; die hemel sal soos 'n boekrol
toegerol word en al die sterre sal hulle glans verloor soos die blare van 'n ... vyeboom wat verdroog
... my swaard ... sal ... afkom op Edom, op die volk wat Ek heeltemal wil uitroei ..."
Inderdaad is Edom vernietig, maar wie sou wou beweer dat hierdie verse letterlik vervul is?
+ Esegiël 32:7-8: "Wanneer Ek jou tot niet maak, maak Ek die hemel toe en laat Ek die
sterre se lig nie deurkom nie, Ek maak die son toe met 'n wolk, en die maan sal nie skyn nie. Ek laat
al die hemelliggame treur oor jou en maak dit donker op die aarde, sê die Here my God."
Hierdie hoofstuk beskryf God se oordele oor Egipte. Esegiël profeteer dat die koning van
Babilon hierdie groot land gaan vernietig en sy heerlikheid gaan verduister.
# Vir ons doel is Joël 2 van groot belang. Dit maak gebruik van dieselfe soort beeldspraak as
wat mens in Matt 24 kry. En nogeens het dit níé te doen met Christus se wederkoms nie. Dit handel
onmiskenbaar duidelik oor die koms van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees.
Twee dinge word in Joël 2 geprofeteer: enersyds God se oordele en vernietiging; andersyds
Messiaanse seën.
+ Verse 1-11 beskryf komende oordeel: die dag van die Here.
Let op die apokaliptiese taal in v.10-11: "Die aarde skrik vir hulle, die hemel bewe; die son
en die maan word donker, die sterre verloor hulle glans ... Die dag van die Here is ... 'n verskriklike
dag; wie is daarteen bestand?"
+ Verse 12-17 is dan 'n oproep tot bekering.
+ Verse 18-27 beskryf weer die Here se beloftes van wonderlike seën oor Sy volk .
= Nog iets moet ons hier raaksien. In die middel van die gedeelte wat handel
oor God se seën, belowe v.23 volgens die OAV "die leraar tot geregtigheid" (sien NIV voetnota) wat,
indien 'n korrekte weergawe van die Hebreeus, beslis op die komende Christus moet dui.
Daar is wel vertalings wat die Hebreeus met "vroeë reën" vertaal (wat sekerlik 'n moontlikheid
is), maar daar kan 'n sterk saak uitgemaak word vir die vertaling van die OAV en ander vertalings
(vgl. 2Kon 17:28; Job 36:22; Spr 5:13; Jes 9:15: 30:20; Hab 2:18).
+ Verse 28-32 som dan Joël se boodskap in hierdie hoofstuk op.
= Verse 28-29 beskryf die seën wat saamhang met die uitstorting van die
Heilige Gees.
= Verse 30-31 beskryf God se oordele. Let weer op die apokaliptiese taal: "Die
son sal donker word, die maan bloedrooi en dan sal die groot, die vreeslike dag van die Here kom."
= Uiteindelik word die hoofstuk afgesluit met 'n wondelike belofte in v.32.
= Dis baie betekenisvol dat Petrus Joël 2:28-32 aanhaal op die Pinksterdag. Die
uitstorting van die Heilige Gees — so kort na die kruisiging, opstanding en verheerliking van die
Here Jesus — is dus die dramatiese aanvang van die vervulling van Joël se profesie.
Hoewel die apostel net die laaste verse van Joël 2 aanhaal, is hierdie verse 'n opsomming
van die hele hoofstuk — wat die oordele insluit. Hierdie aanname word ondersteun deur die feit dat
Petrus die belofte van Joël 2:28vv volledig kwoteer — ook die oordeelsverse van Joël 2:30-31.
Die implikasie is onontkombaar: die Heilige Gees het nie net gekom om te seën nie, maar
ook om te oordeel.
= As mens voorts in gedagte hou hoe strategies belangrik die vernietiging van
Jerusalem en sy godsdienstige seremonies vir die voortgang van die evangelie en die oorgang na
die Nuwe Verbond was, kan jy beswaarlik die gevolgtrekking ontkom dat Joël 2:30-31 in 'n
besondere sin dui op die uitgieting van God se oordele oor Jerusalem. En moenie dit miskyk dat
hierdie oordeelsverse en Matt 24:29 dieselfde beeldspraak gebruik nie!
Die teken van die Seun van die mens (Matt 24:30)
# Wat van Matt 24:30? Kan dit op enigiets anders as die wederkoms dui?
+ Allereers moet ons na v.30 se vertaling kyk.
Die meeste vertalings vertolk die Grieks as dat daar 'n teken in die hemelruim sal verskyn —
die teken van die Seun van die mens (vgl. NAV).
Maar die Grieks kan ook anders verstaan word, naamlik dat daar 'n teken sal verskyn — dat
die Seun van die mens in die hemel is (vgl. die 1901 American Standard Version). In hierdie tweede
geval beskryf die frase "in die hemel" die lokaliteit van die Seun van die mens, en nie waar die teken
sal verskyn nie.
Hierdie uitspraak wil dus nie sê dat die teken in die hemel sal verskyn nie, maar dat die
vernietiging van Jerusalem sal toon dat die Seun van die mens op sy troon in die hemel is — en dis
ook 'n troon van oordeel.
So verstaan, word hier dus gepraat van die regering van die Seun van die mens.
+ Let voorts op dat hier net gepraat word van 'n "teken", en nie van die persoonlike
verskyning van die Seun van die mens self nie. As Christus van Sy persoonlike koms gepraat het,
sou Hy na alle waarskynlikheid gewoon gepraat het van die verskyning van die Seun van die mens
in die hemel
# Soos voorheen gee die Ou Testament nogeens verdere lig. Benewens die reeds genoemde
voorbeelde, is daar nóg Ou Testamentiese gebruike van sulke apokaliptiese uitdrukkings.
+ Jesaja 19:1: 'n Uitspraak van die Here teen Egipte — wat niks te doen het met die
wederkoms nie. Dit praat van oordeel: "Die Here ry op 'n vinnige wolk, Hy gaan na Egipte toe. Egipte
se gode is bang vir Hom, die Egiptenaars se harte verstyf van angs."
+ In Psalm 104:2-4 beskryf die digter die Here se heerlikheid en almag — weereens
met beeldspraak: "U is met 'n kleed van lig omhul. Dit is U ... wat op die wolke ry, op die vleuels van
die wind, U wat die winde U boodskappers maak, die weerligte U dienaars".
+ Twee van van Jesus se eie uitsprake in Matteus maak die punt bo alle twyfel vas.
= In Matt 16:24-28 roep die Here mense op tot radikale gehoorsaamheid en
dissipelskap. Waarom is dit so dringend? "Want die Seun van die mens staan gereed om met sy
engele (vgl. Matt 24:31) in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens
sy dade. Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie
sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in Sy koninkryk sien kom het nie." (v.27-28, OAV).
Dis m.a.w. destyds al vervul.
= Tydens Sy verhoor verklaar Jesus aan die Joodse Raad, as die Hoë Priester
Hom onder eed stel en vra of Hy die Christus, die Seun van God is: "Dit is soos u sê. Daarby sê Ek
vir julle: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom
wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel" (Mt 26:63-64).
Sekerlik praat Jesus nie hier van Sy wederkoms nie. Hy praat van Sy troonsbestyging ná die
hemelvaart, en van die oordele wat Hy vanaf Sy heerserstroon oor die Jode wat Hom verwerp het
sal bring. Sommige van Sy hoorders sal dit immers sélf in 70 n.C. beleef.
Presies dit is wat Daniël geprofeteer het: "Ek het gesien ... met die wolke van die hemel het
Een gekom soos die Seun van 'n mens ... En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap;
en al die volke en nasies en tale het Hom vereer ..." (Dan 7:13-14, OAV).
Toe Christus Sy Messiaanse troon bestyg het, is alle mag en gesag aan Hom gegee. En,
soos die uitstorting van die Heilige Gees, is ook die oordele in 70 n.C. oor diegene wat Hom verwerp
het, 'n uitdrukking van Sy status en mag, asook die deurbrake van die evangelie onder die nasies.
# Alles in ag genome, is ek baie oortuig dat hierdie uitleg geheel-en-al Bybels is.
Daarbenewens bevestig dit ook die vertolking van die profetiese rede tot nou toe.ˆ
Mag ek weer herinner aan Matt 24:34-35:
"Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur
het nie. Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde
kom nie".

Matt 24:31-35: 'n Nuwe bedeling sal vir seker kom

Die beskrywing van die oordele oor die Jode, hulle stad en die ou godsdienstige stelsel word
eensklaps onderbreek deur 'n jubelkreet in v.31-32!
Daar gaan 'n einde kom aan die kniehalter van Joodse wettisisme en eksklusiwisme. Daar
kom 'n wonderlike nuwe bedeling. Die jong gemeente van Christus gaan bevry word en oorspoel na
die nasies toe. Die evangelie gaan vlerke kry. God se uitverkorenes gaan vanuit die uithoeke van
die aarde versamel word. Die kerk onder Jood en heiden gaan saamvloei tot 'n stroom wat die
geskiedenis onherroeplik sal verander!
Hierdie nuwe bedeling is op hande. Die vyeboom is aan't bot. Die somer is naby. Daar gaan
baie vrugte wees. En dit gaan binnekort 'n werklikheid word.
Vandag weet ons, die aanvang van alles sou eers 4 dekades later 'n werklikheid word. Maar
vir Hom vir wie 'n duisend jaar soos een dag is, is dit 'n oogwink.
Die engele
Hoe moet ons die "engele" wat uitgestuur word, verstaan?
Sekerlik is daar talle uitsprake in die Skrif wat vir ons sê dat engele 'n prominente rol gaan
speel tydens die wederkoms (Matt 13:41-42; 2Tes 1:7-10).
Máár die woord, "engel", verwys nie altyd in die Skrif na 'n hemelwese nie. Die Griekse woord
beteken gewoon "boodskapper", en word as sodanig meermale in die Nuwe Testament gebruik
(Matt 11:10; Luk 7:24, 27; 9:52; Mark 1:2; Jak 2:25). Bekendste is seker die sewe briewe van Openb
2-3, waar van die leraars van die gemeentes as "engele", oftewel boodskappers, gepraat word.
Die trompetgeskal
# Die trompetgeskal waarvan die Here in 24:31 praat, is vol betekenis. Dit is meer as die moeite
werd om dit goed te bedink. Dis trouens noodsaaklik as ons die volle rykdom van hierdie beeld wil
waardeer.
+ Ja, daar sal 'n trompet tydens die wederkoms en opstanding blaas (1Kor 15:52; 1Tes
4:16). Maar as ons voorafgaande Skrifuitleg korrek is, word híér gesinspeel op die trompetgeskal
wat in Ou Testamentiese tye die Jubeljaar aangekondig het, asook die groot bevryding en heil wat
dit gebring het. Die Hebreeuse woord wat gebruik is om van die Jubeljaar te praat, beteken trouens
"die geskal van 'n trompet".
+ Die Here God het omvattende voorkrifte vir die verbondsvolk se kalender gegee —
in die besonder vir die sabbatsjaar en jubeljaar:
Ses dae se werk moes deur 'n sewende dag van rus gevolg word — die sabbat.
Maar benewens die week van dae, is 'n week van jare voorgeskryf. Na ses jaar se werk, was
daar 'n sewende jaar van rus — die sabbatsjaar.
Selfs dit was nie al nie. Na sewe sabbatsjaarsiklusse, en dus die nege-en-veertigste jaar se
sabbat, moes ook die vyftigste jaar 'n tyd van rus wees — die jubeljaar (Eks 21:1-6; 23:10-11; Lev
25:1-55; Deutr 15).
+ Die instelling van die sabbats- en jubeljaar het veral vier fokuspunte gehad:
= Die landerye moes onbewerk gelaat word. Die natuurlike opslag was vir die
armes en die diere. God het ook belowe om die oes van die sesde jaar só te seën dat daar genoeg
kos vir twee jaar sou wees — of selfs vir drie jaar in die geval van die sabbatsjaar.
= Alle skuld wat in die voorafgaande jare gemaak is en nog nie afbetaal was
nie, moes kwytgeskeld word. Dit het selfs gegeld vir skuld wat in die sesde jaar gemaak is.
= Die slawe — diegene wat tydens die voorafgaande jare deur skuld die
eiendom van hulle skuldeisers geword het — moes vrygelaat word. Nog meer, hulle base moes hulle
materiëel weer op hulle voete help (Deutr 15:13-14).
= Alle grond wat vervreem is, omdat mense nie hulle skuld kon betaal nie, moes
in die jubeljaar aan die oorspronklike eienaars teruggegee word. Sodoende het geen permanente
verryking of verarming van families plaasgevind nie. Een maal elke geslag of twee moes
gelykmaking en restorasie dus plaasvind.
+ Die sabbats- en jubeljare was dus tekens van herstel, vrymaking, welsyn en oorvloed.
+ Reeds in die Ou Testament word hierdie beginsels nie net letterlik verstaan nie. Dit
blyk uit 'n heerlike belofte in Jes 61:1-3, wat — so word dit algemeen aanvaar — 'n dieper betekenis
aan die jubeljaar verleen: "Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om
'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes
van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep ... om uit te roep 'n jaar van die welbehae van
die Here ..." (OAV).
Laasgenoemde frase sinspeel op die vyftigste jaar.
# Gewis is dit hoogs betekenisvol dat die Here Jesus hierdie belofte in Jesaja — die belofte
dat sy regering uitdrukking sal gee aan die jubelbeginsels — reg aan die begin van Sy publieke
bediening aanhaal en nie net op Homself van toepassing maak nie, maar ook uitdruklik sê: "Vandag
is hierdie Skrifwoord ... vervul" (Luk 4:18-21).
Hier in Nasaret vat die Here dus 'n hartselement van Sy sending na hierdie wêreld toe in 'n
neutedop saam. Die Vader het Hom gestuur, en die Heilige Gees rus Hom toe, om dít waarvoor die
sabbats- en jubeljare gestaan het hier op aarde 'n werklikheid te kom maak (let op die teenwoordige
tyd van v.21). Dis waarom Hy "die genadejaar van die Here" (NAV) aankondig.
Sy missie is dus die vestiging van 'n nuwe bestel: vrymaking, welsyn en volheid in die lewens
van mense wat swaar ly onder die gebrokenhede van 'n sondegevalle en wettisistiese wêreld.
# Wat Matt 24:31 daarom sê, is dat die Here in hierdie grootse en wêreldwye projek om die
beginsels van die jubeljaar in Sy uitverkorenes se lewens te vestig, nie alleen en direk gaan werk
nie. Nee, Hy gaan middellik werk. Hy gaan Sy "engele", Sy predikers, Sy kinders as gesante en
instrumente daarvoor gebruik. En is die verkondiging van die evangelie nie inderdaad God se manier
om sondaars te red, te heilig en op te bou nie — en om só die jubeljaar van sy regering te vestig
(Rom 10:14-17; Jak 1:18; 1Pet 1:23)?
Presies só hét dit gebeur.
# Verse 34-35 handel die profetiese gedeelte oor die vernietiging van Jerusalem af.
+ Let op hoe sterk die Here Jesus beklemtoon dat alles wat Hy vir hulle gesê het sonder
enige twyfel net so sal plaasvind.
Hy begin sy uitspraak met die woord "amen". Daarmee beklemtoon Hy dat wat Hy vir hulle
sê, absoluut betroubaar is. Selfs die hemel en die aarde sal vergaan, maar sy woorde staan vir ewig
vas.
+ Nog meer, vervulling van hierdie profesie is op hande. Dit sal nog in die tyd van
daardie geslag gebeur.
En vandag weet ons dat dit inderdaad in die jare 66-70 n.C. net so gebeur het!

Wat sê dit onder meer vir ons?

Hou dit vas dat ons in die jubeljaar van God se heil leef — al sedert die Pinksterdag.
# Soos mense maar geneig is, is ook ons Christene baie maklik pypiekykers. Té veel gelowiges
raak neerslagtig oor die verval van die kerk en die wêreld om ons. Té dikwels raak mense benoud
oor die veld wat Islam wen. Té maklik wonder ons in ons agterkoppe of die Here ooit daarin gaan
slaag om te doen wat Hy in ons teks beloof. Het 2000 jaar nie al verloop nie?
Maar laat ons in die geloof vashou aan wat hier belowe word. Laat ons onthou dat 'n duisend
jaar by die Here soos een dag is. Petrus maak hierdie stelling juis as hy voorsien dat mense die
Here Jesus se wederkoms in ongeloof gaan afmaak (2Pet 3:8).
En laat ons met 'n wye visie na die wêreldwye feite kyk. Geen vorige eeu het die sendingen bekeringsoes van die afgelope eeu opgelewer nie. Nog nooit was die kerk so getalryk soos
vandag nie. Vergelyk maar die situasie in Afrika en Suid-Amerika en Asië 'n honderd jaar gelede
met vandag. Tóé was die Christene op hierdie drie kontinente 'n druppel in die emmer; vandag woon
tweederdes van alle Christene daar.
# Maar wat ek hierbo skryf moet helaas gekwalifiseer word. Dit word gesê dat daar 2,4 biljoen
Christene op aarde is. Maar dis hoeveel mense op sensusvorms die blokkie by "Christen" merk. Het
jy egter hoegenaamd Bybelse onderskeiding, weet jy dat 'n baie groot persentasie van hierdie
"Christene" geen snars begryp van Bybelwaarheid nie. En nog minder leef hulle dit uit. En allermins
is hulle met Christus verenig.
En laat dit ons harte breek: Is dit nie ook waar van die oorgrote meerderheid van die 75%
Suid-Afrikaanse landsburgers wat sê dat hulle Christene is nie?
En wat hier geld, is sekerlik wáár in baie ander lande in die wêreld.
# Maar al sou bg. waar wees, bly daar steeds 'n enorme getal mense as ware Christene oor.
En in elk geval het die Here meer as een keer gesê dat die wat gered sal word maar min is.
Gee jouself met alles wat jy is en het vir die uitdra en verbreiding van die Here se
jubeljaar.
# Ons moet die oorvloed van ons verlossing jubelend aangee na diegene wat dit nog nie ken
nie. Laat ons mense wees wat met dankbare blymoedigheid vrymaak en kwytskeld en uitdeel en
seën. Lees maar die Nuwe Testament: Uitlewing van die jubelvoorskrifte lê aan die hart van die
lewensvoorskrifte wat aan die burgers van die koninkryk gegee word.
# En vergeet dit nooit nie: ek en jy word geroep om "engele" te wees wat die jubelbeginsels
verkondig en ons volle gewig ingooi om die Here se uitverkorenes dwarsoor die aarde in te samel.
Laat díé wat jonk is, hulle lewens offer vir hierdie edelste van alle take. Laat hulle wat in die volle
branding van die lewe staan, weier om 'n sent van die Here se geld op die bevrediging van hulle
vlees uit te mors (Jak 5:1-3). Laat díé wat aftree-ouderdom bereik het, hulle ervaring, rypheid en
laaste jare op welke wyse ook al gee vir die vye-oes van God se somer. En laat díé wat oud en
afgeleef is, hulleself wy aan die die gebed, "Laat U koninkryk kom!"
Onthou die jubelbeginsels! Vergeet dit nooit nie!
# In ons selfbeoordeling wat hierdie saak betref, moet ons 'n Nuwe Testamentiese beginsel
nooit vergeet nie: Hierdie beginsels kan op 'n honderd verskillende maniere uitgeleef word. Daar is
'n verskeidenheid genadegawes, 'n verskeidenheid dienste, 'n verskeidenheid aktiwiteite (1Kor 12:4-
6; DAV). En mag ek byvoeg, 'n verskeidenheid van omstandighede, geleenthede en roepinge.
Mag die Here ons getrou bevind op daardie dag as ons voor Hom gaan verantwoording doen!
Voordat die kerk destyds die jubelbeginsels behoorlik kon beleef en uitdra, moes
hulle nie net van Joodse wettisisme en seremonies bevry word nie, hulle moes ook
'n duur prys vir die voorreg betaal.
# Die voorregte van Christelike volheid en wasdom is gratis, maar dis baie selde, indien ooit,
goedkoop.
Dink vir 'n oomblik oor die prys wat Jerusalem se Christene moes betaal voordat die jong
kerk gereed was om hulle heerlike erfenis te beleef en uit te dra. Lees weer Matt 25:16-20. Hulle
moes alle besittings, behalwe dit wat hulle kon saamdra, in die stad los. Die vlugtog na vryheid en
veiligheid was een van onbeskryflike ontbering. En vorentoe sou hulle leef as ontworteldes — in 'n
vreemde plek en kultuur. Al die kulturele tradisies waaraan hulle so verknog was, is van hulle
gestroop.
# Vandag se kniehalters — dit wat ons weerhou om die voorregte van jubelchristene te smaak
— mag totaal anders wees as destyds. Maar die beginsel het nie verander nie. Diep en radikale
bekerings bring altyd hulle ingrypende lewensverstellings.
Dit lyk vir my die die pad na en van jubelvolheid is selde 'n vlakteroeping. Die hoogste
hoogtes en vergesigte word langs smal en steil voetpaaie bereik; selde anders. Hoe kan ons die
Here Jesus se oproepe om die kruis op te neem anders verstaan?
Waarlik, Dietrich Bonhoeffer se boek, The Cost of Discipleship, wat 83 jaar gelede verskyn
het (ek skryf hier in 2020), is vandag nog net so aktueel soos destyds.
Christene is nie smartvrate nie, maar die navolging van Jesus behels kruisdra, selfneerlegging, en baie dikwels ontbering enlyding. Daar is 'n prys aan outentieke disselskap
verbonde.
Bevoorregtes wat hulle rug op Christus se roeping draai, se oordeel sal erger wees
as die van mense wat nog nooit sy roeping gehoor het nie.
Die lewende God heers algeheel soewerein oor die geskiedenis en lotgevalle van nasies. En so
kosbaar soos Sy genade is, so verskriklik is Sy toorn. En nooit is Sy oordele erger as wanneer dit
as vloek van die verbond tot uitdrukking kom nie — soos in die geval van die Joodse volk destyds
(Deut 27-28).
Laat ons dit onthou as ons die wêreld en geskiedenis om ons probeer beoordeel. En onthou,
die Here se heerskappy en oordele beheers nie net die makro-gebeure nie, maar ook die
besonderhede van elke individuele lewe. Die beginsels wat in die Joodse situasie destyds gegeld
het, geld ook in elke persoonlike lewe.
Nooit sal die vloek van die verbond erger wees nie as in die geval van diegene wat die
evangelie ken, maar tog hulle rug daarop draai.

Aanhangsel: Die verwoesting van Jerusalem in 70n.C.

Gessius Florus het geld liefgehad. En hy het Jode gehaat. Alhoewel hy Romeinse goewerneur oor
Judea was, het hy hom min aan die sterk godsdienstige oortuigings van die Jode gesteur. Na 'n
swak belastinginkomste, lê hy eenvoudig in 66 n.C. beslag op die tempel se silwer. Dit kan die Jode
nie duld nie, en as Florus troepe na Jerusalem stuur om die opstand te onderdruk, sterf 3600
burgerlikes. Dis 'n vonk in 'n kruitvat. En skielik is die dreigende Joodse rebellie 'n verskriklike
werklikheid.
Masada was 'n feitlik oninneembare bergvesting van die Romeine langs die suid-westelike
kus van die Dooie See. Aangevuur deur die veragtelike optrede van Florus, besluit 'n klomp halfmal
Selote (oftewel Joodse Yweraars) om dié vesting aan te val. Wonder bo wonder slaag hulle om dit
in te neem. Die Romeinse garnisoen word summier van kant gemaak. Jerusalem self ontplof en die
Romeinse soldate wat nie sneuwel nie, moet vlug. Asof oornag is die hele Judea in opstand, en kort
op hulle hakke Galilea.
Cestius Callus, Romeinse bevelvoerder oor die gebied, ruk vanaf Sirië op met 20 000 troepe.
Hy beleër Jerusalem vir 6 maande, maar sonder sukses. Na die dood van 6 000 manskappe en baie
wapenverliese, blaas hy noodgedwonge die aftog. Keiser Nero stuur dan vir Vespasianus, een van
sy senior generaals, om die Joodse rewolusie te onderdruk. Meedoënloos onderwerp hy gebied na
gebied — voordat hy Jerusalem omsingel. Maar dan sterf Nero, en Vespasianus raak in 'n
leierskapstryd gewikkel. Uiteindelik word hy keiser in Rome en stel sy seun Titus aan om die Joodse
oorlog verder te voer.
Op hierdie stadium is Jerusalem reeds afgesny van die res van die nasie. En die stad self
word geteister deur interne faksiegevegte. Soos die beleg voortduur, sterf meer en meer mense van
honger en pes - en, helaas, in hulle onderlinge bakleiery. Die Hoëpriester se vrou, eens gebaai in weelde, moet soos 'n rondloperhond krummels kos in die strate soek. Die historikus, Josefus, vertel
selfs van 'n ryk vrou wat haar eie baba geëet het.
Mettertyd is dit nie meer moontlik om al die lyke te begrawe nie. Die enigste oplossing word
gevolg — om hulle oor die stadsmure te gooi. Soveel liggame lê uiteindelik om die stad, meeste
van hulle dood aan die hand van mede-Jode, dat Titus die gode tot getuies roep dat hierdie
massamoord nie sy skuld is nie.
Natuurlik het baie uit die stad probeer ontsnap. Die meeste is egter gevang en summier
tereggestel. Sóveel is gekruisig dat daar nie genoeg kruise was nie; trouens, nie genoeg plek vir al
die kruise nie. Sommige van hierdie vlugteling het probeer wegkom met goud wat hulle ingesluk het.
Die Romeine het dit egter agtergekom en hulle gevangenes voor die voet begin oopsny. Een
bepaalde nag, so word gesê, is 2000 Jode so dood.
Soos die beleg voortduur, word die stad se mure en skanse stukkie vir stukkie afgebreek.
Bedags baklei die Joodse verdedigers en snags probeer hulle die mure herstel. Uiteindelik breek
die Romeine deur die eerste muur, dan deur die tweede, dan deur die derde. Maar die verdedigers
gee nie bes nie. Al vegtende trek hulle terug in hulle laaste loopgraaf -— die tempel. Hier sal Jahweh
vir seker tot hulle redding kom! Nooit sal Hy toelaat dat Sy woonplek op aarde vernietig word nie!
Min besef hulle egter dat dit ten diepste hul eie Verbondsgod is wat hulle agressor is!
Die antieke historikus, Josefus, beweer dat Titus die tempel graag behoue wou laat bly, maar
dat sy manskappe so woedend was oor hulle opponente se hardnekkige weerstand, dat hulle dit
summier afgebrand en vernietig het. En die Hebreërs wat nie afgemaai is nie, is soos diere
vasgeketting en mettertyd as slawe verkoop.
So breek die einde dan vir die Jode aan, en vir hulle tempel - en vir Ou Testamentiese
offerseremonies. So is dit in God se raadsplan vasgelê. Die groot en finale Lam van God is immers
reeds geslag. Enige verdere offer sal God ernstig aanstoot gee; Sy Seun, wat Homself ten duurste
opgeoffer het, skreiend beledig; en die Heilige Gees, wat nou 'n oop deur het om miljoene der
miljoene vanuit alle nasies die ewige saligheid in te veeg, vertoorn soos niks anders nie.
Dit word beraam dat meer as 'n miljoen Jode tydens die beleg en verwoesting van Jerusalem
gesterf het. Waarlik is Jesus se woorde vervul: "... in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking
wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie." (Matt
24:21).
In die bergvesting, Masada, het die klompie Joodse Yweraars vir nog drie jaar uitgehou. Op
die punt van finale swigting het almal egter selfmoord gepleeg — eerder as om deur die klomp
Romeinse heidene verneder te word.
So is die Joodse nasie dan, die van hulle wat oorgebly het, verstrooi. Hulle aanbidding sou
as gevolg daarvan drasties verander. Dit was die einde van eeue se tempel- en offerdiens, asook
van die Sanhedrin. Nuwe rituele is vir sinagoge en gesin ontwikkel.
Na amper twee millennia is daar eers weer die afgelope 70 jaar sprake van Joodse
konsolidasie en 'n Joodse staat. Oor die eskatologiese betekenis hiervan is daar verskil van opinie
in Christengeledere, en slegs die toekoms kan finaal hieroor uitspraak lewer.
Waar was die Christene met die val van Jerusalem? Uitstedig! Baie is oor die vorige dekades
deur vervolging verdryf. Eusebius skryf dat die oorblywendes met die aanbreek van die beleg en
kort daarna die stad verlaat en gevlug het. Het die Here hulle dan nie amper 40 jaar vantevore
gewaarsku nie: "Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy
verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit
padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, want in daardie dae voltrek God sy
straf." (Luk 21:20-22)?
So het die swaartepunt van die vroeë kerk finaal na die heidene geskuif — presies soos God
se raadsplan dit wou hê. Die remmende effek van Joodse seremoniële beheptheid, so akuut deur
Paulus beleef en so uitvoerig deur die Hebreërskrywer verduidelik, het finaal verdwyn.
Ook het die afwesige Joodse Christene se onbetrokkenheid by die rewolusie 'n wig ingedryf
tussen hulle en hulle volksgenote. Gevolglik het hulle steeds nouer met hulle nie-Joodse
geloofsgenote saamgeleef. Die nuwe bedeling, deur Pinkster ingelui, het finaal sy beslag kry. Die
nuwe Godsvolk sou van nou af uit die nasies kom. Oplaas sou God in gees en in waarheid aanbid
word! In elke stam, nasie, volk en taal sou Sy lof voortaan in honderde tale weerklink.


Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis
(soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van
Godgesentreerde evangeliese gelowiges en gemeentes in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die
ewenaar.
• Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale in
Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No. 148,
Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika; E: nico.vanderwalt@reformed.org.za; Tel. 082 848 9396.
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (plus nog 4 blogs - adresse by genoemde adres)
• Nico het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna vir 'n dekade as Siviele Ingenieur
gewerk (hoofsaaklik as konstruksieingenieur en dosent). Na 'n radikale Christelike bekering en
daaropvolgende teologiese studie aan die Potchefstroomse Universiteit, was hy vir ongeveer drie dekades
veral predikant van twee gemeentes in die Vaaldriehoek en Pretoria. Hy was ook vir 'n stuk of twaalf, dertien
jaar 'n dosent aan die Lynnwoodrif Bybelskool. Die afgelope paar jaar wy hy meeste van sy tyd aan skryfwerk
en prediking waar hy ook al uitgenooi word.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5034
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Do Jun 18, 2020 10:30 am

ANTIPAS HEROUT

Antipas, My getroue getuie (Op 2:13)

No.65

Matteus 24-25


DIE HERE JESUS SE PROFETIESE REDE
Deel 3


Matteus 24:45-25:13 : Die wederkomsgelykenisse


Nico van der Walt


************************************************************


ie dissipels wil meer weet oor die wederkoms. Veral wonder hulle oor wanneer dit sal plaasvind (Matt
24:3).
Hierop gee Jesus vir hulle eintlik net één antwoord: net die Vader weet wanneer dit sal wees! Al wat Hy dus
vir hulle kan sê — want Hy weet self ook nie, in elk geval nie op daardie stadium nie (Matt 24:36) — is dat
hulle moet waak en sorg dat hulle elke en enige oomblik gereed is (Matt 24:42).
Belangrik en fundamenteel soos Jesus se antwoord is, skep dit nou 'n volgende vraag: hóé waak 'n
mens; hóé verseker jy dat jy gereed sal wees?

Vier gelykenisse

Op die dissipels se vrae reageer die Here met 4 gelykenisse.
# Die eerste gelykenis waarmee die Hy begin (Matt 24:45-51; Luk 12:42-48) — Die getroue en
verstandige slaaf — is die basis van sy antwoord. Die volgende drie gelykenisse is verdere uitbreidings
daarvan.
# Die tweede gelykenis (Matt 25:1-13) — Die tien meisies — handel dan oor verstandigheid en
dwaasheid.
# Die derde gelykenis (Matt 25:14-30) — Die muntstukke — handel oor die ander begrip, getrouheid,
want dit vertel van muntstukke wat aan mense toevertrou is en hoe hulle dan óf getrou óf ontrou bevind word.
# Die vierde gelykenis (Matt 25:31-46) — Die skape en die bokke — is Jesus se antwoord op nóg 'n
vraag of twee wat noodwendig uit die vorige gelykenisse ontstaan: as verstandigheid dan is om gereed te
wees en gereed te bly, en as getrouheid dan beteken om met dit wat die Here aan jou toevertrou na die
beste van jou vermoë te woeker — hoe kom dit prakties tot uitdrukking? En hoe belangrik is dit régtig? Dit is
wat die Jesus in die laaste gelykenis aanspreek (Matt 25:31-46). As Hy tot nou toe miskien kripties was in
Sy uitsprake, kan niemand enige twyfel hê oor presies wat Hy in hierdie laaste gelykenis bedoel nie.
Verstandig en getrou is hy wat homself in die Naam van Christus gee, en bly gee, vir selfneerleggende
dienswerk en liefdesorg. Só belangrik is dit dat jou ewige lot daarmee saamhang. Of meer korrek gestel: Jou
uitlewing van hierdie gelykenis sal toon dat jy inderdaad die ewige lewe ontvang het.

Matt 24:45-51: Die eerste gelykenis — die getroue en verstandige
slaaf

Inleiding
Hierdie is nie een van die bekendste gelykenisse nie, maar kennelik is dit van die allergrootste belang. Nie
alleen is dit die beheersende gelykenis in die gedeelte waarna ons kyk nie; die Here Jesus het dit oënskynlik
ook meermale vertel. Ons vind 'n variasie daarvan in Luk 12:35-48 — waar dit weliswaar nie deel van Lukas
se weergawe van Jesus se profetiese rede is nie (Luk 21).
Lees mens deur die gelykenis, besef jy dadelik dat Jesus met getrouheid en verstandigheid nie iets
passief bedoel nie — soos 'n man wat deur die nag regop sit om sy huis te bewaak. Nee, die begrippe loop
hand aan hand met aktiwiteit.
Rasegte Christenskap weet goed dat mens nie die ewige saligheid op 'n binneband kan binnedryf
nie. Nee, dit lê stroom-op en daarom moet daar sterk geswem word. Te veel goeie kerkmense dink jou
redding is gewaarborg as jy bloot elke Sondag doodstil in die kerk sit. Nee, slegs 'n lewe van aktiewe,
gehoorsame en doelgerigte dissipelskap — sewe dae 'n week — lei in die regte rigting. Dis omdat ware
redding gepaard gaan met 'n diep hartsverandering. En so 'n nuwe hart het geen rus of duurte as sy
aandrange nie uitgeleef word nie.
Die gelykenis — trouens, die Bybel in die algemeen — is egter duidelik daaroor dat dit nie oor
besigwees sonder meer gaan nie. Dit gaan oor uitlewing van die eienaar se opdragte — gedring deur die
regte hartsmotiewe. Dis vanselfsprekend, nie waar nie. 'n Bediende is tog daar om sy baas se opdragte uit
te voer, en om dit met die regte gesindheid te doen. Net so eis die Here van ons Bybelgetroue
gehoorsaamheid.
Ook is die gelykenis duidelik: dit gaan oor volhardende besig-wees en gehoorsaamheid, end-uit. Só
moet die Eienaar jou aantref as Hy eendag terugkom.
Wonderlik is die loon wat die Here Jesus hier voorhou aan positiewe, getroue, gehoorsame en
volhardende diensknegte. 'n Reuse bevordering is wat Hy hier beloof, as Hy sê dat so 'n persoon oor al die
eienaar se besittings aangestel sal word (Matt 24:47).
Die belofte van loon is prominent in die res van die profetiese rede. Die verstandige meisies gaan
saam met die bruidegom fees vier. Die woekeraars met hulle talente sal groot vreugde put uit die meerdere
verantwoordelikhede wat hulle sal kry. En in die laaste gelykenis gebruik die Here nie meer simboliese taal
nie; Hy sê dit reguit: diegene wat hulle lewens wy aan onselfsugtige liefdesdiens, sal deur die Vader geseën
word en die koninkryk beërf — wat sedert die skepping van die wêreld vir hulle voorberei is.
Oor die ontroue slaaf word heelwat gesê
Hy het vir homself gesê: "my eienaar bly lank weg" (v.48). Hy het dus 'n lewensinstelling wat nie begaan is
oor die komende afrekening nie. Hy neem dit gevolglik nie ernstig op nie. Hy bly uitstel om die verantwoording
wat onontkombaar voorlê in die gesig te staar. Hy lewe nie in die lig daarvan nie.
Voorts lewe hy vir homself, ten koste van ander (v.49). Dis presies die teenoorgestelde van die lewe
wat die Here Jesus in die laaste gelykenis aanprys — die lewe wat hongeriges voed, armes klee,
vreemdelinge huisves en siekes besoek.
Sulke ontroue mense se eindbestemming is die ewige verdoemenis, waar hulle tot in ewigheid sal
huil en op hul tande kners (v.51).
Dis 'n toestand van onbeskryflike en onomkeerbare ellende wat William Hendriksen só in sy
kommentaar beskryf: "Inconsolable, never-ending wretchedness, and utter, everlasting hopelessness. The
accompanying grinding or gnashing of teeth denotes excruciating pain and frenzied anger."

Matt 25:1-13: Die tweede gelykenis — die tien meisies

Hierdie gelykenis handel oor verstandigheid en dwaasheid.
Die beheersende feit oor die wederkoms is die feit dat niemand, behalwe die Vader, weet wanneer
dit gaan plaasvind nie (24:36). Daarom moet Jesus se dissipels waak ten einde seker te wees hulle is gereed
wanneer Hy wel terugkeer (24:42, 44).
Hoe waak mens? Hoe kan jy verseker dat jy gereed sal wees? Jy moet getrou en verstandig lewe
(24:45)! Wat die Here daarmee bedoel, verduidelik Hy in die tweede en derde gelykenisse.
Nou kyk ons na die tweede — dié oor verstandigheid (25:1-13).
Die huweliksgebruike van destyds
Mens moet iets van die huweliksgebruike van destyds weet om te verstaan wat Jesus hier skets.
Eérs het die voornemende huwelikspaar verloof geraak. Dan gaan maak die bruidegom 'n blyplek vir
hom en sy toekomstige vrou reg. En uiteindelik, as die tyd vir die troue aanbreek, gaan hy en 'n klomp vriende
die bruid haal vir die huweliksfees. Sou dit in die aand gebeur, het elke uitbundige jongman 'n fakkel gedra.
Die gelykenis
Hierdie bruid het tien vriendinne gehad om haar te help en te vergesel. Hulle het opgewonde met hulle lampe
buite die huis gaan wag vir die mans om op te daag. Tipies van jongmense, nie waar nie.
Hier in die gelykenis word dit 'n lang gewag, aangesien die manne eers teen middernag opdaag. Die
meisies raak gevolglik aan die slaap. Maar dis nie die groot probleem nie, want as daar geskreeu word dat
die manne aan't kom is, is almal dadelik helder wakker. Die krisis is egter dat die helfte van hulle nie die
moontlikheid van 'n vertraging in ag geneem het nie, en gevolglik nou sonder lampolie sit. Die ander wat wel
ekstra olie saamgebring het, sien geensins kans om dit met hulle te deel nie, want dan sou hulle self gevaar
loop om sonder olie te raak voordat hulle by die fees aankom.
Die nalatige klompie meisies moet dus gaan kyk of hulle iewers olie in die hande kan kry. Dit bring
uiteindelik mee dat, as hulle uiteindelik by die huweliksfees opdaag, die deure reeds gesluit is en hulle nie
kan ingaan nie.
Sonder twyfel sinspeel die tien meisies op die sigbare kerk. Miskien moet ons dink in terme van 'n
gemeente — enige gemeente — want die meisies is kennelik vriendinne.
Let op hoe hulle ooreenstem: Al tien is genooi (sekerlik is nie almal in die dorp genooi nie). Al tien het
die uitnodiging aanvaar (sekerlik nie almal wat genooi is kon of wou die troue bywoon nie). En almal wag
gretig op die bruidegom (baie kerkmense dink egter selde of ooit aan die dood of die wederkoms). Duidelik
was hulle vriendskap met die bruid belangrik vir hulle.
Maar let ook op die lotsbepalende verskille tussen die vyf met genoeg olie en die vyf met te min. As
die bruidegom aankom, het vyf olie, en vyf nie; vyf is gereed, vyf hoegenaamd nie; vyf gaan uiteindelik in na
die fees, vyf moet buite bly. En dis omdat vyf verstandig is, en vyf dwaas.
Na aanleiding daarvan sê Jesus: "Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur
nie." Sorg dat julle altyd genoeg olie het! (v.13).
Wat was die dieper verskil tussen die twee groepe?
Waarin lê vyf se verstandigheid, en die ander vyf se dwaasheid? Die enigste verskil tussen die twee groepe
is op die oog af bloot dat die wyses ekstra en daarom genoeg olie gehad het, terwyl die ander vyf nie só
voorsiening gemaak het vir die bruidegom se vertraging nie.
Die lewensbelangrike vraag is dus nou, wat verteenwoordig die olie? Hierom draai die gelykenis; hier
lê die punt. Hieroor is al baie gespekuleer. Maar om hier met allerlei spekulasies te werk, gaan mens eerder
mislei as help.
Die gelykenis moet homself vertolk. Dan is dit duidelik: om olie te hê, is om gereed te wees wanneer
die Here terugkom, en dis verstandigheid wat dit meebring.
In hierdie gelykenis dui die olie op verstandigheid! (v. 2, 3, 4, 8, 9).
+ Dink só daaroor: die vyf onverstandige meisies het wel geweet hulle moet gereed wees. Maar
hulle was oortuig daarvan dat hy vroeg sou kom, soos dit tipies altyd gebeur het. Die bruidegom was mos 'n
verstandige en stiptelike man. Nooit sal hy eers op 'n onmoontlike tyd opdaag nie! Gevolglik het hulle nie
daarvoor voorsiening gemaak nie. Hulle het verkeerde verwagtinge gehad. Hulle was onverstandig!
Onverstandigheid kan op twee maniere manifesteer.
Dit kan só behep wees met die wederkoms se nabyheid, dat jy gevolglik nie ingestel is op die
langtermyn nie.
Of dit kan die wederkoms só ver die toekoms instoot, dat jy vergeet om rekening te hou met die
onverwagsheid daarvan en mettertyd daarvan vergeet.
+ Daarenteen het die wyse meisies wel daarvoor voorsiening gemaak dat die bruidegom dalk
vertraag kon word. Gevolglik vat hulle ekstra olie saam — net in geval.
Dis soos die Voortrekkertjie wat nie sonder lig wil sit nie, en daarom ekstra flitsbatterye saamvat as
hy gaan kamp. Dis soos die voetslaner wat op die onbekende skof ten alle koste nie wil dors lei nie, en
daarom eerder te veel water saamdra as te min.
Híér is dus die punt: dis wanneer iets absoluut belangrik vir jou is, wanneer dit 'n allerprioriteit is, dat
jy voorsiening maak vir alle gebeurlikhede. Die vyf verstandige meisies wou ten alle koste gereed wees
wanneer die bruidegom kom!
Wat sê die gelykenis van die tien meisies vir ons
Ons moet die les wat die Here hier aan ons voorhou, nie geringskat nie.
As die gelykenis leer dat die vyf onverstandige meisies buite moes bly, beteken dit dat hulle die ewige
saligheid ontsê is. Dis wat die woorde in v.12 impliseer: "Ek ken julle nie!" Die Bruidegom sê sê dus, "Ek het
geen verhouding met julle nie; Ek het niks met julle te doen nie!"
Die uitdrukking was onder meer Rabbynse taal wanneer 'n leermeester 'n slegte leerling geskors het.
Dit het hierop neergekom: "Vat jou goed en loop!"1
Dit laat mens dink aan Luk 13:22-28: "Here, is die wat gered word min? En Hy antwoord hulle: Stry
hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat
wees nie. ... En Hy sal sê: ... Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!"
Jesus se antwoord op die vraag of min mense uiteindelik gered sal word, is dus glashelder en
skrikwekkend. Talle wat altyd geglo het hulle is gered, sal op daardie dag die verwerpingswoord hoor,"Ek
ken julle nie!".
Dit is nie nodig om in kru sonde te leef om verlore te gaan nie. Al wat nodig is, is om die ewigheid
sonder die nodige erns tegemoet te gaan — fluit-fluit in jou wêreldgelykvormigheid.
Die olie van die lewe is nie oordraagbaar nie
Niemand sal op grond van 'n ander se gereedheid gered word nie. In 'n soortgelyke stuk lering oor die
wederkoms sê Jesus dat twee op dieselfde bed sal wees en dat een aangeneem sal word, terwyl die ander
agtergelaat sal word (Luk 17:34). Duidelik word hier van 'n egpaar gepraat.
Mens kan hierdie olie dus nie eers by jou man of vrou kry nie. Ook kan kinders dit nie by hulle ouers
kry nie. Ewemin lidmate by hulle predikant. Nee, net die Here kan gereedheidsolie gee. Met Hom alleen moet
elkeen self dit uitmaak.
Ja, ons moet getuig, maar net die Heilige Gees kan oortuig!
Toe die bruidegom opdaag, was dit te laat om olie te gaan koop — onherroeplik
Die vyf dwase meisies se mislukking was finaal. Die deur was vir ewig gesluit. Die vrolike geluide van
feesvreugde agter die deur was so naby, en tog so onbereikbaar ver!
Sekere dinge in die lewe kan eenvoudig nie op nommer nege-en-negentig gedoen word nie. Mens
kan dalk nog vir 'n geskiedeniseksamen "blok", maar allermins vir 'n wiskunde- of musiekeksamen. Nee,
sekere dinge verg deeglike voorbereiding, oefening en tyd.
Dit verg tyd om in heiligmaking te groei. Dit verg tyd om jou rentmeesterskap uit te leef. En dís dié
dinge — gegee dat jy getrou was — wat die dag van afrekening die wonderlikste dag van jou bestaan sal
maak.
Ja ja, daar is die geval van die misdadiger aan die kruis wat gered is. Maar in die kort tydjie wat aan
hom gegun is, het wonderlike dinge in hom gebeur! Voorwaar dwaas is iemand wat geloof en bekering uitstel,
omdat hy daarop staat maak dat hy finaal op nommer 99 gewaarsku sal word!
Dit laat mens dink aan 2Kor 6:2: "Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding."
Waarom "nóú"? Omdat die Here onverwags kom! Ons sal die oggend opstaan, sonder om te besef dat die
laaste dag van ons lewe aangebreek het.
Só maklik maak 'n ongelowige homself wys dat daar baie tyd oor is om reg te maak met die Here. En
selfs al sou daar nog jare of dekades of baie langer verloop voor die wederkoms, weet niemand van ons
wanneer die oomblik van jou dood gaan aanbreek nie. En selfs al het ek nog lank om hier op aarde te leef,
mag my genadetyd stil-stil verbyglip. Sommige mense kry breinskade, sommige raak seniel. Die oomblik van
God se heil kan op 'n dag kom, sonder om ooit wéér op te daag.
Ons kan hierdie lewe nie beter deurbring, as om dit te gebruik om ons vir die ewigheid voor
te berei nie
Dink dikwels oor jou rentmeesterskap: hoe kan jy jou gawes, geleenthede, kragte, middele en tyd beter tot
eer van die Here en heil van jou naaste aanwend? Bly die lig van "die koninkryk van God en sy geregtigheid"
steeds voor in pad vir jou brand? (Matt 6:33).
As jy eendag op jou sterfbed lê — en terugkyk oor jou lewe — wat sal jy as nikswerd ag, en wat sal
jy as die hoogste goed beskou? Gewis sal jy oor niks méér dankbaar wees nie, as oor die dinge wat jou
voorberei het om vrymoedig, vreugdevol, verwagtend en vol vrede heen te gaan.
'n Uitsondering soos geen ander nie
Ons het gesê dat niemand olie by 'n ander kan kry nie; dat niemand op grond van 'n ander se getrouheid
gered kan word nie. Dis absoluut waar — en tog ook nie heeltemal nie. Daar is één uitsondering. Trouens,
alles, maar alles hang van hierdie uitsondering af.
Niemand word ánders as op grond van Christus se getrouheid gered nie!
By Hom alléén is die olie te kry. Presies net hier lê die antwoord op die groot dilemma wat hierdie
gelykenis vir ons skep. Want wie van ons is altyd "verstandig"? Wie van ons is elke oomblik van elke dag
gereed om die Here te ontmoet? Sê nou net Hy kom my haal terwyl ek in die greep van my sondige vlees
ver van die Here af is. Miskien is ek so woedend vir iemand, miskien so gefrustreerd met 'n gesukkel, dat ek
nie drie woorde in gees en waarheid kan bid nie — wat staan nog die bruidegom ontmoet!
Helaas ervaar ons soms sulke oomblikke, nie waar nie — in elk geval die gewone sterflinge onder
ons. Wat gaan van my word as die Here my in so 'n toestand moet aantref?
Mag so iets nooit met my gebeur nie! Maar, hoe ook al, my heel diepste sekuriteit in hierdie verband
lê nie in my eie selfbeheersing, my eie erns, my eie getrouheid dag en nag nie. Dit lê in die offer en voorspraak
van my hemelse Hoëpriester wat sonder ophou by die Vader vir my intree!
Laat dit dus ons voortdurende erns en gebed wees om voortdurend in Christus te skuil Dan sal my
olievoorraad nooit opdroog nie. Dan sal ek elke dag gestewel en gespoor wees om die bruidegom met 'n
helder-vlammende lamp te ontmoet — want héél ten diepste is die middelaarskap van Jesus Christus en
die inwoning van Sy Heilige Gees die olie!

Matt 25:14-30: Die derde gelykenis — die muntstukke

Die gelykenis in 'n neutedop
Hierdie gelykenis handel oor getrouheid en ongetrouheid.
'n Ryk man gaan op 'n lang reis. Hy vertrou sy besigheid toe aan drie slawe, aan wie hy verskillende
verantwoordelikhede aan die hand van hulle vermoëns gee.
As die eienaar na 'n lang tyd weer tuis kom, moet die slawe verantwoording doen. Dit blyk dan dat
die een wat 5 muntstukke ontvang het, daarmee gewoeker het en nou 10 het. Net so het die een wat 2 munte
gekry het, dit verdubbel. Die een wat net 1 geldstuk gekry het, was egter bang hy verloor dit, en begrawe dit
gevolglik. Uiteindelik is hy net in staat om die één muntstuk wat hy gekry het weer terug te gee.
Die eerste twee slawe ontvang lof van die baas. Maar die derde een — die een wat sy muntstuk
begrawe het — word veroordeel, sy verskonings ten spyt.
Waarop sinspeel die talente, oftewel die muntstukke?
Ongelukkig het die idee in ons taalgebruik posgevat dat talente daardie uiteenlopende bekwaamhede is wat
ons almal het — die een só en die ander weer sús. Met hierdie vermoëns sal flukse en ambisieuse mense
dan woeker. Veral is dit in ons skole aan die orde dat kinders so aangemoedig word. Die een wat vinnig kan
hardloop, moet hard oefen sodat hy provinsiale kleure kan kry. Die slim enetjie moet probeer 6
onderskeidings kry in graad twaalf. En die een wat kan sing, moet presteer by die kunsfees.
Natuurlik moet kinders aangemoedig word om te presteer. Maar dis nie waarvan die Here hiér praat
nie. Dit word duidelik in v.15: elkeen het "vólgens sy bekwaamheid" ontvang. Die "talente" op sigself kan dus
nie bekwaamhede of gawes self wees nie."
Die talente verteenwoordig bepaalde take of verantwoordelikhede of roepinge wat aan elkeen
toevertrou is. 'n Talent is nie jou gawe nie; dis jou roeping. Jy moet daarmee, daarin woeker!
Nog opmerkings oor die gelykenis
Wanneer die baas terugkom, sê hy dat die getroue slawe oor "min" getrou was (v.21, v.23).
Aan die ander kant gebruik die Here egter doelbewus die idee van 'n "talent" (OAV; DAV), vir dit wat
aan die slawe toevertrou is.
'n Talent was in die eerste instansie 'n gewigsmaat — ongeveer 30 kg — goud of silwer of koper.
Die waarde het uiteraard afgehang van die betrokke metaal, maar selfs 'n talent koper was baie werd, om
nie te praat van silwer of goud nie. Mens sou dit rofweg kon kwantifiseer. Destyds het 'n tipiese arbeider 1
denarius per dag ontvang. Dit het 3,64 gram silwer verteenwoordig (die woord wat in v.18 met "geld" vertaal
word, beteken letterlik silwer). Dit beteken dat 'n talent silwer meer as 8000 daglone werd was, oftewel meer
as 20 jaar se salaris. G'n wonder nie dat die Nave's Topical Bible sê: "Five talents would make one a multimillionaire."
Was dit wat aan die slawe toevertrou is dus baie of min? Die antwoord is eenvoudig. In vergelyking
met hierdie wêreld se waardes is enige taak wat die Here aan jou toevertrou, enigiets wat ewigheidswaarde
het — hoe gering ook al — fabelagtig baie werd.
Maar selfs die kosbaarste roeping wat die Here in hierdie lewe op 'n mens kan lê, is soos niks in
vergelyking met die getrouheidsloon wat jy in die hiernamaals daarvoor sal ontvang nie.
"Na 'n lang tyd" het die baas gekom en van die slawe "rekenskap gevra" (v.19). Die Here gebruik 'n
standaard handelsterm hier: om die boeke te laat klop, om uitstaande skuld te betaal of te vorder.
Die eerste twee slawe kry lof en loon. Hulle word goed en getrou genoem. As loon kry hulle groter
verantwoordelikhede. En soos die Here Jesus se loon aan die einde van Sý wedloop "vreugde" was (Heb
12:2), so gaan ook hierdie getroue slawe "vreugde" binne.
Let op dat die idees van meerdere verantwoordelikheid en vreugde in die hiernamaals nie teenstrydig
is nie; inteendeel. Die vreugde sal juis in die meerdere verantwoordelikhede lê. Om nóg meer vir die Here te
kan doen, sal die hoogste vervulling wees.
As die ontroue slaaf egter gekonfronteer word oor sy luiheid, is hy vol verskonings — tipies van alle
lyfwegstekers. Maar sy probleem verskil nie veel van die vyf dwase maagde nie. Waar die meisies nie
ingestel was op God se toekoms nie, was hierdie dienskneg nie ingestel op God se hede nie — maar ook
nie begaan oor Sy toekomstige afrekening nie. Nog meer, hierdie man glo aanval is die beste verdediging,
want hy voer aan dat dit eintlik die baas se persoonlikheid en onredelike verwagtinge is wat hom daarvan
weerhou het om sy roeping uit te leef (v.24).
Hierdie man se ontrou is duidelik net 'n simptoom van 'n dieperliggende probleem. Hy is selfsugtig en
dislojaal. En iemand wat só met sy baas praat, het nie respek vir hom nie. Want hy beskuldig die eienaar dat
hy 'n veeleisende man is, sonder begrip of geduld, en dat hy vat wat hom nie toekom nie.
Ons moet dus nie verbaas wees as diegene wat in die regte lewe soos hierdie ontroue slaaf is, in die
verdoemenis eindig nie. Al is hulle voor die wederkoms in die kerk — selfs in diens van die Eienaar, ken hulle
nie die Here nie. Want wie Hom in Sy heiligheid ken, kan nie só oor Hom dink of só met Hom praat nie.
Ons mag dit nie miskyk dat dit hier oor die ewige saligheid en die ewige verdoemenis gaan nie. Al
vier stories eindig met 'n skrikwekkende waarskuwing, soos hierdie gelykenis dit stel: die nuttelose slaaf is
uitgegooi in "die diepste duisternis daarbuite", waar mense "huil en op hulle tande kners."
Wat sê hierdie gelykenis vir ons?
Hier is troos vir ons met ons gebrekkige gawes
Eerstens vra die Here nie van ons méér as waartoe ons in staat is nie. Ons roeping is immers in direkte
verhouding met ons vermoëns.
Tweedens kry die eerste twee slawe presies dieselfde loon, al het een meer as twee maal meer los
gewoeker as die ander. Jesus gebruik identies dieselfde woorde as Hy hulle loon beskryf (v.21, v.23). Dis
natuurlik presies wat die Here hier wil tuisbring. Dit gaan nie oor prestasie, produktiwiteit en resultate nie;
maar oor getrouheid. Ons kan vir seker aanvaar dat die een-talenter, as hy maar getrou was aan sy relatief
beskeie roeping — bes moontlik as gevolg van beperkte gawes — presies dieselfde woorde van waardering
en loon sou gehoor het.
Diegene met groter vermoëns en meer geleenthede is dus nie in 'n beter posisie nie.
Het jy al gewonder waarom dit kwansuis die eentalenter is wat misluk? Miskien wil die Here dit by
ons inprent dat getrouheid nie net ter sprake is in die sogenaamde belangrike en groot take nie. Trouens, dis
juis die klein dingetjies wat so maklik deur ons nagelaat word.
Laat ons die erns van die roeping wat die Here op ons plaas, nie onderskat nie
Die vyf-talenter het vyf ekstra talente losgewoeker, terwyl die ander man net twee ekstra gemaak het. Sekerlik
het die eerste man 'n klompie dinge in sy guns gehad. Hy het van meet af meer vermoëns gehad, en hy het
meer talente gehad om mee te woeker. Maar daar is nog iets wat ons moet raaksien. Hy het "dadelik" aan
die werk gespring (v.16, NAV). Hy het nie gras onder sy voete laat groei nie; hy het die tyd uitgekoop; hy het
die dringendheid van sy roeping ernstig opgeneem.
Min dinge in ons Christenskap is belangriker as die erns waarmee ons dit bejeen. As ons waarlik glo
wat die Bybel ons leer oor ons toekomstige verantwoording aan die Here — oor ons lewe hier en nou —
móét ons mos ernstig wees oor ons roeping. Só onlosmaaklik is die verband tussen geloof en
gehoorsaamheidserns, dat die Bybel laasgenoemde aan ons voorhou as 'n lakmoestoets vir die egtheid van
ons geloof en redding. Is dit nie presies wat die vorige gelykenis ook op ons hart wil druk nie?
Hierdie gelykenis vernietig die idee van ledige Christenskap en 'n domineeskerk
Soos oor en oor in die Skrif, word hier nogeens beklemtoon dat daar nie iets soos 'n passiewe Christen is
nie. Elkeen van ons het 'n roeping. En daarin moet ons getrou wees as ons die lot van die derde slaaf wil
vermy.
Luister wat sê die Here van blote kerkgangers en selfvoldane banksitters: hulle is sleg en lui en
nutteloos (v.26, v.30).
Kan ons regtig die gelykenis só op passiewe kerkmense toepas? Wel, dink vir 'n oomblik oor slaaf
drie. Hy was nie boos nie; hy het nie sy talent op vrouens, dobbel en drank verkwis nie; trouens, hy het dit
versigtig opgepas om dit ongeskonde aan sy baas terug te besorg. Hy was so vroom soos enige goeie
kerkmens. Nog meer, hy was deel van die eienaar se werksmag.
Mens hoef bloot níks te doen nie, om as sleg, lui en nutteloos deur die Here bevind te word!
Wat as ek moeg word in en vir my roeping?
Die antwoord is eenvoudig: Byt vas! Hou aan! Volhard!
Dit word vertel dat 'n elfde eeuse Duitse koning, Henri III, totaal uitgekuier geraak het vir die eise en
intriges van sy troon. Hy doen toe aansoek by 'n klooster met die oog op 'n lewe van rustige bepeinsing. Die
hoof van die klooster was baie skepties. "U Majesteit, verstaan u dat u 'n eed van gehoorsaamheid sal moet
aflê? Vir u as koning sal dit uiters moeilik wees, indien nie onmoontlik nie".
"Vir die res van my lewe sal ek nooit u gesag bevraagteken nie; ek sal u in alles puntenerig
gehoorsaam", was Henri se reaksie. "Goed", sê die priester toe, "ek sal u sê wat, gaan terug na u troon en
dien getrou waar die Here u geplaas het!
Presies dit het Henri gedoen — hy het mos onderneem om gehoorsaam te wees aan die kloosterhoof
— en op sy grafsteen is uiteindelik geskryf: "Deur gehoorsaamheid en volharding het die koning geleer om
te regeer."
Die pad van getrouheid is 'n pad van groei
Ons het nog nie na v.29 gekyk nie. Hierdie is 'n koninkryksbeginsel wat ook in Matt 13:12 uitgespel word:
Getroue werkers van die Here groei in genade en vrug; maar ontroues verloor ook wat hulle gehad het.
Mens verloor wat jy nie gebruik nie; stilstand is agteruitgang; niksdoen is kwaaddoen. Getroue
volharding lei tot steeds méér vrug!
As ek en jy maar kan beleef wat ons in die Here se lewe sien: meer en meer vrug tot die einde toe!
Dwarsdeur Sy lewe was Hy absoluut getrou aan Sy hemelse Vader. Maar Sy dienswerk het op 'n
verbysterende hoogtepunt geëindig. Nooit was Hy getrouer, en nooit het Hy grootser werk gedoen, as op
Golgota nie. Sonder die kruis sou al Sy wonders en heerlike lering bloedweinig vir ons beteken het. Maar dis
eers toe Hy uitgeroep het, "Dit is volbring!", dat ons verlossing finaal bewerkstellig en verseël is. En 'n
wonderliker klimaks kan mens nie bedink nie.
O Here, help ons om in ons dienswerk van heerlikheid tot heerlikheid te groei!

Matt 25:31-46: Die vierde gelykenis — die skape en die bokke

Hierdie gelykenis onderstreep vir ons nogeens hóé belangrik die verstandigheid en getrouheid is wat in die
vorige gelykenisse beklemtoon is. En veral gaan dit oor hóé dit prakties tot uitdrukking kom.
Waarom is dit so noodsaaklik om te waak en gereed te wees vir die wederkoms? Waarom moet mens
getrou en verstandig leef? Waarom moet ons Christenskap ons allererns wees? Waarom moet ons ons
roeping met alles in ons vermoë uitleef?
Daar kom 'n dag van afrekening!
Hoe leef ons getrou en verstandig? Hoe kan ek weet wat my roeping is; en hoe leef ek dit uit? Dis die
vrae wat die Here Jesus in hierdie laaste gedeelte van Sy profetiese rede aanspreek.
Die struktuur
Die 16 verse val uiteen in 4 gedeeltes:
Matt 25:31-33: Die skeiding van die skape en die bokke.
Matt 25:34-40: Fokus op die skape.
Matt 25: 41-45: Fokus op die bokke.
Matt 25:46: Die ewige straf en die ewige lewe.
25:31-33 : Die skeiding
God se Woord is onontkombaar duidelik dat daar 'n finale oordeel aan die einde van die geskiedenis sal
wees. Jesus Christus sal terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel (2Tim 4:1).
Maak nie saak of jy dit ontken of ignoreer nie — jy sal daar wees. Lag dit af as jy wil -– maar op
daardie dag van hartverskeurende smarte én onuitspreeklike blydskap sal elke mens óf 'n skaap óf 'n bok
blyk te wees. "Al die nasies" — álmal — sal daar wees.
Ons hoef nie bang te wees dat die Here 'n fout sal maak nie. En Hy sal geeneen wat aan Hom behoort,
vergeet nie. Hy sê mos in Joh 10:14: "Ek ken my skape."
25:34-40: Die fokus op die skape
Let op die uitnodiging: "Kom, julle wat deur my Vader geseën is!"
Die bevelsvorm in die Grieks beklemtoon dat dit dadelik moet gebeur: Kom onverwyld hier! Kom vat
dit! Dit waarvoor jy so lank gewag het, is nou joune!
Voorts keer die Here nie Sy skape op die ingewing van die oomblik uit nie. Die koninkryk wat hulle
gaan kry, is "van die skepping van die wêreld af" vir hulle voorberei. Petrus sê dat ons nou reeds 'n lewende
hoop het op 'n "onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring
gehou word" (1Pet 1:34).
Die koninkryk wat ons op daardie dag as erfenis in besit sal neem, bestaan reeds. Dis soos 'n huis
wat klaar gebou is. Net die afrondingswerk moet nog gedoen word. Het die Here nie gesê dis een van Sy
groot take om in hierdie tyd ná Sy hemelvaart en voor Sy wederkoms vir ons plek gerééd te maak nie? (Joh
14:2). Al wat vir die getroue dissipel van Christus oorbly eendag, is om in te trek.
Wat is die maatstaf wat die Here aanlê?
Die Here Jesus gee nie 'n ingewikkelde en tegniese uiteensetting nie. Sy oordeel is gebaseer op wat mense
gedoen het, en klaar. Hulle lewens en dade is die norm. Dis omdat redding wýs! Nie ons woorde nie, maar
ons werke wys wie ons werklik is.
J.C. Ryle: "Evidence, evidence, evidence will be the one thing wanted when the great white throne is
set ... I can find no evidence that will be admitted in that day, except sanctification." En met laasgenoemde
woord dink hy vir seker ook aan verstandige getrouheid lewenslank.
Die aard van die werke
Die werke het direk met Jesus Christus te doen!
Deurgaans word alles ten diepste vir die Here gedoen (v.35-36). Dis gedring deur liefde vir Hom.
Jesus noem hierdie mense "regverdiges" (v.37, OAV). Waarskynlik is die NAV reg as dit parafraseer met
"dié wat die wil van God gedoen het." Hierdie is dus nie mense wat hulle eie koppe volg nie. Hulle maak erns
met die Hére se opdragte. Sy Woord is hulle rigsnoer.
Dis liefdeswerke, barmhartigheidswerke. Dis bewoënheid oor diegene in nood — van watter aard ook
al. Wat Jesus hier noem, is net voorbeelde van enigiets wat jy in belang van ander doen. Dis om mense op
die punt van hulle nood te ontmoet. Dis géé-liefde — maar in gehoorsaamheid aan die Here, ter wille van
Hom, in sy Naam, om Hom te verheerlik.
Dit is werke wat amper onbewustelik tot uitdrukking kom. Só spontaan is dit dat die mense stom
verbaas is: Here, wanneer het ons dit gedoen? (V.37, 39). Dis opregtheid wat hier beskryf word. Dis spontane
liefdesuiting van die Here se wette wat Hy op hulle harte geskryf het. Hierdie is wedergebore mense! Hulle
goeie werke kom amper vanself — wat nie beteken dat hulle wil nie betrokke is nie.
Dis dikwels klein dingetjies, hierdie goeie werke. Kennelik is dit die uitinge van 'n lewenswyse. Per
slot van rekening, wat jy in jou hart is, dit ís jy — amper spontaan, heeldag, aldag, lewenslank. Dit kom uit
jou hart en daarom amper vanself.
Mens hoef nie 'n multimiljoener te wees vir hierdie liefdeswerke nie. Ook nie superbegaafd nie. Dit
gaan oor wat jy beskikbaar het. Dis tog wat Jesus in die gelykenis van die talente leer. Mens se roeping is in
ooreenstemming met jou vermoëns.
Dis liefde wat veral betoon word aan Sy "broers", sê die Here (v.40). Waarskynlik is dit wat Paulus in
Gal 6:10 in gedagte het: "Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons
medegelowiges." Sekerlik moet broers en susters eerstens in ons visier wees, maar sekerlik het ons nie die
reg om ongelowiges wat nood het te ignoreer nie. Jesus het nie enige nooddruftige verbygegaan, omdat hy
nog nie geglo het nie; trouens, talle het juis te danke aan sy liefdesguns in Hom geglo.
25:41-45: Die fokus op die bokke
Die feit dat hierdie verse die spieëlbeeld is van die fokus op die skape, moet ons waarsku om nie vas te steek
by 'n bloot enkelvoudige vertolking van hierdie verse nie. Hierdie is voorbeelde wat die Here gebruik om 'n
beginsel by ons tuis te bring. Dit gaan oor 'n helpende hand na diegene met nood om ons — enigeen — wat
ook al daardie nood mag wees.
Maar híérdie mense oor wie Hy dit nóú het, leef vir hulleself. En Hy sê veral 3 dinge vir hulle.
Een: Hy beveel hulle: "Gaan weg van My af ..." (V.41). Hulle het gekies vir 'n lewe sonder Christus
en ver van Sy mense af. Hulle wou hê die Here moet hulle uitlos. Nou kry hulle wat hulle gekies het.
Twee: Jesus noem hulle "vervloektes" (v.41). Hulle is finaal deur God verwerp. Geleentheid vir
omdraai is verby. Genade is daar nie meer vir hulle nie.
Drie: Hulle bestemming is die ewige vuur wat vir die duiwel en sy demone voorberei is (v.41).
Hierdie is 'n verskriklike vonnis! Net so min as wat ons die heerlikheid van die hemel onder woorde
kan bring, kan ons die angs en smart en lyding van die hel beskryf. En ergste van alles, dis 'n onomkeerbare
en ewige lot.
Die rede vir hierdie mense se lot (v.42-45)
Betekenisvol is wat die Here Jesus nié sê nie. Sekerlik sou Hy alle soorte sondes kon noem.
Hy sou allerlei teologiese dwalinge en kettery kon noem. Hy sou kon sê dat hulle nooit uitverkies was
nie — en dit sou sekerlik waar wees. Hy sou hulle kon verwyt oor hulle ongeloof en dat hulle Hom verwerp
het. Noem maar enige sonde op wat in ons kaste mag hang.
Maar ál wat Jesus noem, is sondes van nalating. Hulle word verdoem (net soos die ontroue dienskneg
in die vorige gelykenis), omdat hulle gewoon niks gedoen het nie!
Waarom doen die Here dit so? Om die regverdigheid van die oordeel te onderstreep. Hulle word nie
veroordeel omdat hulle die menslik-onmoontlike nie kon regkry nie. Nee, wat hulle moes doen, was basiese
medemenslikheid en naasteliefde. Wat kan eenvoudiger en makliker wees — en meer voor die hand liggend
— as 'n beker water, of 'n sny brood, of een van jou dosyn truie?
Al sonde van hierdie mense was dat hulle niks gedoen het nie. Hulle het net vir hulleself geleef!
Soos die een-talenter is ook húlle vol verskonings. Kamtig bang vir die baas! Kwansuis nie geweet
nie! Regtig? Enigeen van ons kan met 'n stok aanvoel dit gaan nie op nie.
Wat is meer vanselfsprekend, voor die hand liggend, vir enigeen met net 'n greintjie gevoel vir sy
medemens, as die voorbeelde wat Jesus noem? Wat is meer eenvoudig as die geringe medemenslikheid en
liefdesdade wat Jesus hier noem.
Dit gaan hier oor uitlewing van die liefdesgebod — op welke wyse ook al.
Is daar enigeen van ons wat hierdie gelykenis kan lees sonder om in diepe ootmoed voor die Here te
kom? Ja, daar is vergiffenis. Maar laat ons onthou: Jesus vertel dit sodat ons dit sal uitleef.
Indien wel, laat dit ons dring om ons sondes van nalating reg te stel!
Indien jy skoueroptrekkend kan omdraai en fluit-fluit wegstap, weet dat Jesus jou in die gelykenis
beskryf het — en ook jou lot.



-o0o-


• Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis (soos
meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde
evangeliese gelowiges en gemeentes in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale in Engels per
e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No. 148, Privaatsak X1,
Northcliff, 2115, Suid-Afrika; E: nico.vanderwalt@reformed.org.za; Tel. 082 848 9396.
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (plus nog 4 blogs - adresse by genoemde adres)
• Nico het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna vir 'n dekade as Siviele Ingenieur gewerk
(hoofsaaklik as konstruksieingenieur en universiteitsdosent). Na 'n radikale Christelike bekering en daaropvolgende
teologiese studie aan die Potchefstroomse Universiteit, was hy vir ongeveer drie dekades veral stigterspredikant van
twee gemeentes in die Vaaldriehoek en Pretoria. Hy was ook vir 'n stuk of twaalf, dertien jaar 'n dosent aan die
Lynnwoodrif Bybel
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5034
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Do Jul 02, 2020 10:37 am

Nico van der Walt <nico.vanderwalt@reformed.org.za>


Hiermee Antipas Herout 3. Ek het al 'n AH3 lank terug vir julle gestuur. Maar ek het hom nou amper heeltemal oorgeskryf. Dit spreek 'n uiters belangrike tema aan - lewensbelangrik (ek bedoel dit). Dit het my ook nou weer baie diep aangespreek. Lees dit asseblief - dan vertrou ek sal jy besef waarom ek sê dis so belangrik.
Hartlike groete,
jbiC
Nico


*******************************************


ANTIPAS HEROUT

Antipas, My getroue getuie (Op 2:13)

No.3

Efesiërs 2:10

GOEIE WERKE DEUR GOD VOORBEREI

Nico van der Walt



n Efesiërs vind ons 'n fassinerende vers.
"Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het,
sodat ons daarin kan wandel." (Ef 2:10. Die OAV is meer letterlik vertaal)
Die konteks
# In die voorafgaande verse, van die begin van die brief af, kry ons van die mees
verbysterende openbaring in die ganse Bybel. Paulus skryf, soos dalk beswaarlik elders, oor
God se alleen-inisiatief in 'n Christen se redding, en oor diegene in Christus se
duiselingwekkende erfenis.
In Ef 2:8-10 kom die Apostel tot 'n slotsom. Die punt wat hy wil tuisbring, is dat alles
die genadegawe van God is. Dit volg dus noodwendig dat geen Christen enigiets het om in te
roem nie. Die drie-enige God alleen moet alle eer kry vir die redding van een en elke Christen.
Dis natuurlik die eenstemmige getuienis van die hele Nuwe Testament (vgl. bv. 2Tim 1:9).
Wie dit loën, loën 'n wesenselement van die waarheid.
# Dan antisipeer Paulus oënskynlik 'n moontlike vraag in die gemoedere van sy lesers:
"Goed, ons aanvaar dit. Maar sedert ons wedergebore, herskep is deur die Heilige Gees, is
die bal sekerlik in ons baan. Nou is dit vir óns om gehoorsaam te lewe en goeie werke te
doen. Sou mens nie kon sê dat dit óns bydrae tot ons redding is nie?"
Vers 10 is dan die apostel se antwoord. Volstrek nie, sê hy. Selfs ons goeie werke is
genadegawes van die Here! So draai hy dan enige verwarring oor hierdie saak eens en vir
altyd nek-om. As die Drie-enige God 'n geestelik-dooie sondaar (2:1-3) red, is daar selfs van
so 'n mespunt aandeel in sy eie redding en uiteindelike loon, nie die minste sprake nie!
'n Nadere kyk na Ef 2:10
# Letterlik staan daar: "Van Hom is ons 'n maaksel". Twee dinge staan dadelik uit.
+ Eerstens, "Van Hom" word beklemtoon, aangesien dit heel voor in die sin
geplaas word — een van Grieks se maniere om iets te onderstreep. Niemand se Christenskap
is 'n saak van eie inisiatief nie. Alles begin by die soewereine en drie-enige God.
+ Tweedens, die Griekse woord wat die OAV en DAV met "maaksel" vertaal, dui
gewoon op iets wat gemaak of vervaardig, of voortgebring is — op 'n produk. Hoewel die
ooreenstemmende werkwoord baie dikwels in die Nuwe Testament voorkom, kry ons hierdie
selfstandige naamwoord net 2 keer (hier en Rom 1:20). Meeste Engelse vertalings vertaal
met "workmanship".
Daar word dikwels verkeerdelik te veel gemaak van die Griekse woord (poiēma), dat
dit naamlik op 'n kunswerk dui, omdat die uitspraak daarvan vir ons na die Engelse woord,
"poem", klink. Nee, dit praat nie noodwendig van 'n kunswerk nie. Wat wel waar is, is dat die
Engelse woord "poem" etimologies vanuit hierdie Griekse woord gegroei het (dit geld ook
ander Europese tale). 'n Gedig is immers ook 'n "maaksel". Maar dit net terloops.
Die belangrike punt is dít: net so min as wat 'n geskapene, of as jy dan wil 'n kunswerk,
enige eer met sy maker kan deel, net so min het 'n Christen iets om oor te spog.
+ Verse 1-6 beskryf 'n sondaar se redding as opstanding uit die dood, as
bevryding uit slawerny, en as verlossing vanuit oordeel. Hier word dit beskryf as 'n skepping
vanuit niks (vgl. ook 2 Kor 4:6, waar wedergeboorte direk met Gen 1 verbind word).
# Dis 'n skepping "tot goeie werke". Die Griekse konstruksie is kategories: dis 'n
skepping met die oog op goeie werke, met die doel dat goeie werke sal volg. Soos 'n
wingerdstok geskape is om druiwe te dra, en 'n voël om te vlieg, so het God die Christen
herskep om goeie werke te doen! Dis sy skeppingsdoel; dis 'n noodwendigheid.
# Dis nie net bepaal dát die gelowige goeie werke sal doen nie, maar (verstommend!),
dit is "voorberei". Die werke self is vooraf gereed gemaak. Dis verordineer presies hoe dit tot
uitdrukking sou kom. Die aard en karakter van hierdie goeie werke is vooraf vasgelê — die
wanneer en hoe en wat daarvan.
+ Maar, en dis belangrik, dit is ook verordineer presies hoe dit in elke individu se
lewe tot uitdrukking sou kom. Dis nodig om hierdie saak ook te verindividualiseer — anders
hou Paulus se argument nie water nie.
Sou dit hier bloot gaan om die algemene bepaling van wat goeie werke is, berus daar
nog 'n wêreld se keuses en inisiatiewe by die individu, en sou Paulus se lesers goeie grond
hê om ontkenning van enige eer vir die Christen te bevraagteken.
# Dit is gedoen "sodat ons daarin kan wandel".
+ Paulus wil seker maak sy lesers verval nie, in die lig van God se soewereine
inisiatiefneming, in die dwaasheid van passiwiteit en verantwoordelikheidsontduiking nie.
Gelowiges is geskape "sodat" hulle in hierdie goeie werke sal "wandel" (OAV).
Laasgenoemde woord beteken gewoon om te stap, te loop, en word in die Nuwe
Testament gebruik om op 'n lewenswyse te dui (vgl. 4:17; 5:2, 8, 15).
Dit het ten minste drie uiters belangrike implikasies:
+ Gelowiges is wonderlik bevoorreg om medewerkers van God te wees in die
uitwerk van Sy raadsplan.
+ Om te "wandel" of te loop is iets dinamies. In elke individu se uitleef van hierdie
goeie werke, is daar dinamika, opeenvolging, voortgang. Dis mos presies soos ons dit beleef:
een ding lei tot 'n ander. Daar is 'n begin en dan 'n ontwikkelingsgang.
En elke mens het uiteraard sy eie pad.
+ Hier kom nog 'n lewensbelangrike waarheid na vore wat ons baie goed onder
die knie moet hê: Die gelowige is verantwoordelik om hierdie goeie werke uit te leef,
bewustelik en aktief — hy of sy moet "daarin ... wandel".
Dit word onontkenbaar duidelik in die tallose imperatiewe (bevele) wat in die Skrif volg
ná die indikatiewe (die heilsfeite).
Die mens is meer, baie meer as 'n wingerstok en 'n voël. Hy is beelddraer van God —
spesifiek as herskepte in Christus. Die werke kom dus nie maar vanself, outomaties,
meganies nie. Nee! Jou hele mens is daarby betrokke: wil, emosies, denke, vermoëns,
ervaring, opleiding, gebrokenheid, kleivoete. Dis bewustelik, besluitnemend, inspannend,
verantwoordelik, aanspreekbaar.
God beledig nie die kroon van Sy skepping deur hom soos 'n masjien te behandel nie
— Hy gee hom verantwoordelikheid!
'n Onfeilbare lakmoestoets
# Die logika van Paulus se argument is onontkombaar en dra 'n baie belangrike
implikasie: God se skepping bring 'n maaksel voort; en hierdie maaksel bring goeie werke
voort.
Ware redding word altyd sigbaar in goeie werke — dit wat die tipiese van 'n lewe is!
As dit afwesig is, is daar geen herskepping nie, geen wedergeboorte nie.
Goeie werke red nie, maar daarsonder is daar geen outentieke christenskap en dus
geen redding nie!

+ Hier het ons 'n Nuwe Testamentiese hoekpen. Presies dit is wat Jakobus in sy
tweede hoofstuk sê: daar is baie soorte geloof, maar net één wat redding bring — die soort
wat uitmond in goeie werke.
+ Joh 3:36 is veelseggend. Dit word eers positief gestel: Geloof in die Seun bring
die ewige lewe. Dan verras die negatiewe teenstelling: nie ongeloof soos mens sou verwag
nie, maar "ongehoorsaamheid" lei tot die ewige oordeel.
+ Oor en oor beklemtoon die Woord van God: Nét diegene wie se lewens
gekenmerk en beheers word deur gehoorsaamheid aan Christus, sal die Koninkryk beërf. En
die omgekeerde staan net so vas: hulle wie se lewens gekenmerk word deur
ongehoorsaamheid en sonde sal die ewige lewe nooit smaak nie.
Vergelyk byvoorbeeld Matt 5:20; 25:31-46; Mark 10:23-31; Luk 6:46-49; 9:23-26;
13:23-28; 1Kor 6:9-10; Gal 5:19-21; Heb 12:14; Op 21:7-8.
+ In hierdie verband is Johannes se uiteensetting in sy eerste brief van die
wedergeboorte se merktekens, van die allergrootste belang (1Joh 2:29; 3:9; 3:14-18; 4:7vv;
5:1; 5:4; 5:18).
Presies met hierdie kenmerke werk die Nederlandse Geloofsbelydenis in die tweede
helfte van Artikel 29, as dit die lidmate van die ware kerk beskryf.
= 'n Belangrike opmerking is hier nodig. Ongelukkig, na my mening, slaan
sowel die OAV as die NAV die bal mis in 1Joh 3:9 en 5:18. Hierdie verse leer nie dat 'n
wedergeborene gladnie meer sondig nie, maar dat hy of sy nie aanhou sondig nie. Die ESV
vertaal korrek: "No one born of God makes a practise of sinning ... he cannot keep on sinning
because he has been born of God." en "We know that everyone who has been born of God
does not keep on sinning ..." (vgl. ook NIV).
Alle eerlike Christene deur die eeue ken die meedoënlose stryd teen oorblywende
sonde — en dat hulle meermale nie aan die wenkant is nie. Ewe waar is dit egter dat hulle —
as hulle hoegenaamd ware Christen is — volkome staat maak op Christus se verdienste vir
redding (5:1); dat hulle lewens as 'n reël gekenmerk word deur geregtigheid (2:29); dat hulle
ware liefde beoefen (3:14vv; 4:7vv); en dat hulle lewens getuig van oorwinning oor die aanslae
en verleidinge van die godvyandiggesinde wêreld (5:4).
# Onderstaande twee aanhalings slaan die spyker op di
Charles Hodge: "Die enigste bewys van ewige uitverkiesing is 'n heilige en
gehoorsame lewe'
Een van die Reformatore se wekroepe: Sola fides justificat, sed non fides sola est!
(Alleen geloof regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie).
Oordryf ons nie dalk die belangrikheid van goeie werke nie?
# Die teendeel is waar! Niks onderstreep die gewigtige belangrikheid en prominensie
van gehoorsaamheid aan Christus, van heiligmaking, van goeie werke in God se raadsplan
beter nie, as die feit dat dit eendag voor die regterstoel 'n deurslaggewende rol gaan speel.
Dit gaan die maatstaf wees in die tweedeling van die mensheid in "skape" en "bokke" — in
gered en ongered (Matt 25:31-46. Vgl. ook die ander gelykenisse in die profetiese rede in Matt 24:45-30, asook Joh 5:28-29; Rom 2:6-11; 2Kor 5:10; 1Pet 1:17; Op 19:7-8; 20:12-13;
22:12-15).
# Die wêreldwyd-geagte skrywer van die negentiende eeu, J.C. Ryle, het dit só gestel:
"Evidence, evidence, evidence, will be the one thing wanted when the great white throne is
set ... I can find no evidence that will be admitted in that day, except sanctification." (Holiness,
p.23)

# Kom ons som bogenoemde op en stel dit volledig en kernagtig só:

'n Sondaar word gered
uit genade alleen;
op grond van Christus se verdienste alleen;
deur geloof alleen;
tot goeie werke;
en daarom uiteindelik volgens goeie werke


# Ek meen dat geen regsinnige Christen bogenoemde drie "alleens" of die "tot" sal
misken nie, aangesien dit aan die hart lê van die evangelie. Maar baie gelowiges sal verbaas
wees oor die laasgenoemde stelling (die "volgens"), selfs daarteen beswaar maak.
Maar dis presies wat die Bybel herhaaldelik sê! Luister na die Nuwe Testament.
Afgesien van die duidelike boodskap van die gelykenis van die skape en die bokke
(Matt 25:31-46), is daar nóg Nuwe Testamentiese uitsprake wat dit onderstreep.
+ Matt 16:27: "Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom ... en sal
elkeen volgens sy dade vergeld" (NAV).
+ Rom 2:6-11: "Hy sal ekeen vergeld volgens sy dade: aan die wat goed doen ...
elke mens wat kwaad doen ..." (NAV).
+ 2Kor 5:10: "Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn,
sodat elkeen kan ontvang wat deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit
goed is of kwaad" (OAV).
+ 1Pet 1:17: "Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens
onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle
vreemdelingskap in die wêreld" (NAV).
+ Op 20:12: "Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die
boeke is oopgemaak. Daar is ook 'n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die
dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan" (NAV).
# Kan jy sien? Dis tog so duidelik soos daglig. Heiligmaking, gehoorsaamheid, goeie
werke, naasteliefde sal op daardie dag die suurtoets wees wat sal uitwys of ek en jy inderdaad
ware geloof gehad het — of ons hoegenaamd met Christus verenig is. Ons gaan dus volgens die gevolge, die effekte, die vrug (al dan nie) van ons christenskap of "christenskap" beoordeel
word — want niks wys méér betroubaar uit of 'n mens verenig is met die Verlosser wat jy bely.
# Enige evangelie wat minder preek as bogenoemde , is minder as die volle en dus ware
evangelie. Verwaarloos hierdie omvangryke en volle raad van God, en die kerk vermank en
verword spoedig liederlik. En neem dit nie epidemiese — nee, pandemiese — afmetings aan
dwarsdeuur die eeue en veral vandag nie!
'n Skrikwekkende verantwoordelikheid rus op elke ouderling en prediker om die volle
raad van God te verkondig. Die Opperherder van die kudde sal van elkeen verantwoording
eis (Hand 20:25-28; 1Kor 3:9-15; Heb 13:17; Jak 3:1; 1Pet 5:1-4). Aan die hart van hulle taak
(en deel van húlle "goeie werke") lê die opdrag om "... die heilsplan van God in sy volle
omvang ... te verkondig ..." (Hand 20:27).
Twee dwalinge van ons dag
Twee noodlottige "ander evangelies", kan nou maklik ontmasker word.
# Enersyds: "Easy-believism", oftewel "goedkoop genade", teister die kerk wêreldwyd.
Andersyds: Die oorreaksie daarop is radikalistiese (noem dit maar) "dífficultbelievism", oftewel "duur genade".
Nie een hiervan is Bybels nie; nie naastenby nie. Die eerste een is wetteloosheid, wat
leer dat selfs geloof sonder werke kan red.
Die ander is wettisisme, wat aandring op allerlei verpligtinge — van watter aard ook al
— saam met Christus se volmaakte werk.
# Die ware evangelie is "impossible-believism".
God se Woord duld geen goedkoop of duur genade nie; dit dra net een boodskap:
"gratis genade"!
Máár, dis 'n genade wat, as dit op 'n lewe beslag lê, onmiskenbare, diep-ingrypende
en lewenslange Godvererende gevolge het!
Wat is die aard van die goeie werke wat die Groot Regter se toets sal
slaag?
# In enige verantwoordelike Bybelleser wat hoegenaamd erns maak met sy
Christenskap, sal nou 'n vraag brand: Wat presies dan is 'n goeie werk?
Die Reformatoriese vaders het goed begryp hoe lewensbelangrik die vraag is.
Vandaar die feit dat al die groot belydenisskrifte behoorlike, eenstemmige en Bybels-korrekte
aandag daaraan gee (1689 Baptistebelydenis 16; Westminster 16; NGB 24; HK 91).
Maar dis nie nodig om menslike geskrifte te raadpleeg om die antwoord te kry nie; die
Woord van God, trouens ons vers, is duidelik daaroor.
# Ef 2:10 sê ten minste twee dinge om ons te antwoord:
+ Eerstens, God self het die werke voorberei. Dit was dus Sy inisiatief, en Hý het
die aard daarvan bepaal.
Omdat óns dit moet doen (as mense, nie as masjiene nie), moes Hy dit aan ons
openbaar — wat Hy inderdaad in Sy Woord gedoen het. Die Bybel is vol daarvan.
+ Tweedens, dis nodig dat 'n mens herskep word voordat hy so 'n werk kan doen
— hy of sy moet 'n nuwe "maaksel" word.
En wat onderskei 'n wedergeborene van iemand wat nog geestelik dood is?
= Eerstens het hy 'n nuwe, herskepte hart (Jer 24:7; 31:33; Eseg 11:19-
20; 36: 26-27; 2Kor 3:3; 4:6; Heb 8:9-13; 10:16). Uit hierdie hart, hierdie sentrum van sy hele
persoonlikheid, bring hy nou vrug voort. En dis noodwendig góéie werke, want God se wette
is op die tafels van die nuwe hart gegrafeer.
Hierdie werke het dus 'n bepaalde bron. Dit kom uit 'n nuwe hart vol dankbaarheid vir
die Here se reddingsgenade, 'n hart vol vertroue dat Hy dit sal aanvaar en beloon.
= Tweedens het hy 'n nuwe lewensdoel. Hy leef nie meer vir homself nie,
maar God se behae en eer is die gerigtheid van sy bestaan. Dit sal noodwendig die karakter
van sy werke bepaal.
# Bogenoemde uiteensetting is in harmonie met wat Jesus in Joh 4:19-24 vir die
Samaritaanse vrou sê.
Die Vader soek aanbidders wat Hom aanbid "in gees" (vanuit hulle harte) en "in
waarheid" (volgens Sy Woord).
1
+ Goeie werke, wat eendag sal dien as watermerk van egtheid, is baie spesifiek
gekwalifiseerd.
Eerstens: Om God se toets te slaag, moet 'n goeie werk "in waarheid" geskied. Dit
moet wees wát Hy beveel, en gedoen word sóós Hy beveel.
Tweedens: Om God se toets te slaag, moet 'n goeie werk "in gees" geskied. Dit moet
uit 'n mens se hart kom, 'n herskepte hart. Dit sal vanuit innerlike waarheidsgeloof en
verlossingsdankbaarheid ontspring.
# Ongelowiges kan baie goeie dinge doen. Hulle kan merkwaardige vroom en
onselfsugtige lewens lei. En laat ons hulle daarvoor respekteer en die Here daarvoor dank,
want dit geskied in Sy algemene genade.
Maar 'n goeie werk, soos hierbo gekwalifiseer, kan hulle nie doen nie, per definisie nie.
# Veel belangriker vir ons egter is die feit dat mens oor 'n lang tydperk baie aktief kan
wees — volgens jou opinie in die naam van Christus — sonder om iets te doen wat in terme
van Bybelse standaarde voor die regterstoel sal kwalifiseer (bv. Matt 7:21-23).
Hoeveel "vreemde vuur" het die kerk nie deur die eeue aan die Here gebring nie!
Hoeveel offers "wat Hy nooit beveel het nie" word nie vandag gebring nie! (Lev 10:1-6, OAV).
Hoe gereeld word die ark nie op 'n "nuwe wa" gelaai nie (soos die Filistyne), in plaas daarvan
dat "die Leviete dit met draaghoute dra"! (2Sam 6:1-23; 1Kron 13:1-14; 15:1-16).
# Dis nodig, baie nodig, om gereeld voorraad op te neem!
+ Dis moontlik om jou vir jare besig te hou met dinge wat "in die gees" is (in
opregtheid), maar wat nie "in waarheid" (volgens die Woord) geskied nie. Ywer en opregtheid
is nie sondermeer genoeg nie. Die vraag bly altyd, beveel die Woord van God dit?
+ Dis ewe moontlik om baie besig te wees met dit wat "in waarheid" is (Bybels),
sonder dat dit uit die hart kom. Dooie ortodoksie as sodanig weeg niks voor die Here nie,
inteendeel. Die wat baie lig ontvang het, sal immers strenger geoordeel word.
+ Óf natuurlik, en nog meer tragies, is dat onsself afsloof met dit waarin nóg ons
harte is, nóg deur die Here beveel word.
# Dis waarom die die Regulatiewe Beginsel so belangrik is. Die kerk maak al vir eeue
daarmee erns as norm vir die reëling van veral sy gesamentlike aanbidding.
Eenvoudig gestel, sê hierdie beginsel dat slegs dít in die erediens aanvaarbaar is wat
God uitdruklik beveel het. Ons moet God immers volgens sy voorskrifte aanbid.
Daarenteen is die benadering vandag dikwels eerder dat enigiets aanvaarbaar is wat
God nie uitdruklik verbied het nie.
'n Oomblik se nadenke sal enigeen oortuig dat dit 'n reuse verskil maak!
Laasgenoemde argument maak waenhuisdeure oop vir allerlei godonterende praktyke.
# Hoe kan ek ooit sê my werke sal vir God aanvaarbaar wees? Ja, die werke is na die
beste van my vermoë wat die Bybel beveel. Ja, dit kom uit my hart, dis opreg. Maar dis so
verskriklik onvolmaak!
+ Ef 2:10 bevat nog 'n kwalifikasie: "... in Christus Jesus ...". Die Vader begenadig
ons "... in die Geliefde ..." (Ef 1:6, OAV).
Gegee hartsopregtheid wat poog om Hom volgens sy Woord te dien, aanvaar Hy
elkeen wat waarlik in Christus is se pogings om Hom te behaag en te verheerlik — ten spyte
van baie oorblywende gebrokenheid!
+ Sien dit só: Jy het 'n baba van 'n jaar oud. Hy is gereed om te begin stap. Jy
sit twee of drie treë weg van hom. En dan begin hy stap tot in jou arms. Hy het presies
reggekry wat jy vir hom gesê het. Hy het dit gedoen met alles waaroor hy beskik — weliswaar
strompelend en waggelend. Tóg aanvaar jy dit van harte. Trouens, daar is min dinge so lekker
en opwindend vir 'n ouer, nie waar nie.
Ons Vader ken ons swakheid en onvermoë. Maar as ons opreg doen nét soos Hy sê,
aanvaar Hy dit en het Hy vreugde daarin.
Omdat gehoorsaamheid en goeie werke nie die basis van regverdigmaking is nie,
maar in die konteks van (onvolmaakte) heiligmaking geskied, hoef dit nie perfek te wees
voordat ons Vader dit aanvaar nie. Solank dit genoemde merktekens van egtheid dra, ongeag
hoe onvolmaak ook al in baie opsigte, behaag dit Hom tóg.

Hoe wándel mens in goeie werke?
# Die vraag kan meer of minder ruim vertolk word:
+ Wat is Christene in die algemeen se verantwoordelikheid om te verseker dat
hulle lewe soos God wil? Hoe moet ek leef?
+ Wat is my verantwoordelikheid om te verseker dat ék in die goeie werke wat
vir my persoonlik voorberei is, sal wandel?
Veral hierdie laasgenoemde is 'n worstelvraag vir baie — die hele kwessie van
persoonlike leiding ("guidance").
Laat ons die vraag eers algemeen en in die breë benader
# Ons sny net enkele riglyne aan (die mees basiese, vertrou ek). Daar is uiteraard talle
maniere om dit te benader, maar ons hoef nie verder as ons onmiddellike konteks, die brief
aan die Efesiërs, te gaan nie.
+ Die Bybelskrywers, veral Paulus, het meermale hulle briewe op 'n bepaalde
manier geskryf. Agter dit sit 'n wesensbelangrike beginsel.
= Nadat hulle gegroet het, het hulle tipies begin met die Drie-enige God
en Sy groot verlossingsdade in Christus. Hierdie gedeeltes stel dus die heilsfeite en is
leerstellig van aard. Die teologie praat daarvan as die "indikatiewe" gedeeltes.
= Daarmee klaar, het hulle dan voortgegaan met praktiese oproepe of
bevele. Op grond van God se inisiatiefnemende en genadige ingrype in hulle lewens, rus daar
immers 'n groot verantwoordelikheid op gelowiges om in heilige toewyding diensbaar aan die
Here te leef. Hoe om dit te doen, is waaroor die tweede helfte van die briewe dan gaan. Hierdie
is die "imperatiewe" gedeeltes — die bevelsgedeeltes.
# Die imperatiewe gedeelte van Efesiërs bied insiggewende riglyne, wat die ruimer
vraag betref — om maar by Efesiërs te bly.
Na sy wonderlike indikatiewe, beoog Paulus om met die imperatiewe gedeelte in 3:1
te begin (sien veral die NIV), maar dwaal dan af in nog 'n stuk indikatiewe lering oor die nieJode.
Hy probeer wéér in 4:1-3, maar dwaal nogeens af — oor eenheid in die kerk.
Uiteindelik begin die volwaardige imperatiewe gedeelte, die praktiese bevele, dan
vanaf 4:17. Nou gaan dit oor hóé Christene moet leef.
+ Dat Nuwe Testamentiese imperatiewe bloot ontvouings van die Tien Gebooie
is, is duidelik in Ef 4:25-6:9.
Let op hoe Paulus die gebooie een na die ander aansny: die vierde gebod (6:5-9); die
vyfde (6:1-4); die sesde (4:26-27; 29-32); die sewende (5:3,5,22-33); die agste (4:28); die
negende (4:25); en die tiende (5:3).

+ Die gedeelte Ef 4:17-5:14 word gekonkludeer met 5:15-17, veral v.17b: "...
verstaan wat die wil van die Here is." (OAV; DAV).
(Ek werk hieronder met die OAV, aangesien dit die Grieks so letterlik moontlik vertaal).
= V.18 gee dan die sleutel tot 'n lewe volgens die wil van die Here: die
volheid van die Heilige Gees — sy heerskappy en bekragtiging.
Die volgende verse beskryf dan hóé 'n lewe vol van die Gees lyk.
= V.18-21 is één lang sin wat begin met 2 bevelswerkwoorde in v.18 —
een negatief, (moenie dronk word nie); een positief (word vervul).
= Dan volg 5 teenwoordige deelwoorde in v.19-21 (Grieks letterlik:
sprekende, singende, psalmsingende, dankende, wesende onderdanig). Hierdie verse
beskryf m.a.w. hoe 'n Geesvervulde lewe tipies tot uitdrukking kom.
= Dit is verder betekenisvol dat v.22 nie in die Grieks 'n werkwoord het
nie, maar v.21 s'n veronderstel (letterlik dus: " ... wesende onderdanig — vrouens, aan julle
eie mans ..." — ensovoorts.
Die gedeelte 5:22-6:9 illustreer dus hóé wedersydse onderdanigheid en diensbaarheid
(v.21) — wat die gevolg is van die volheid van die Heilige Gees — in die praktyk lyk. Dis 'n
lewe in belang van ander in die huis en werksplek. In die proses word nie net vrouens
aangespreek nie, maar ook die mans, die kinders, die pa's, die slawe, die base.
+ Die antwoord op die ruimer vraag is dus voor die hand liggend: Wie volgens
die wil van die Here wil leef, moet in die volheid van die Gees gehoorsaam wees aan die
morele wet van God — soos dit in die Tien Gebooie in ekstrakvorm beskryf is, en elders in
die Skrif, veral in die Nuwe Testament, oopgevou en ontwikkel word. En dit kom onder meer,
maar tog ook in 'n besondere sin, tot uitdrukking soos beskryf word in 5:19-6:9.
Nou die meer persoonlike vraag
# Wat is my verantwoordelikheid om seker te maak ék wandel in die goeie werke wat
God spesifiek vir mý voorberei het?
# Psalm 1 skets twee paaie:
Enersyds, die goddelose pad, oftewel lewenswyse, volgens die waardes van die Godvyandiggesinde wêreld.
Andersyds, die pad volgens die Wet van die Here.
Laasgenoemde pad is kennelik die pad wat die Here behaag, want Sy seën rus daarop
(die antwoord op die ruimer vraag hierbo).
# Maar die NAV se v.6 gaan 'n stap verder en werp belangrike lig op ons tweede vraag:
die regverdiges (m.a.w. diegene wat die pad van God se Wet bewandel) wórd dan gelei —
sodat hulle húl spesifieke pad kan vind.
Mens sien hierdie waarheid ook in Ps 25:9.
En let in Jes 58:8-14 op hoe "as jy" keer op keer gevolg word deur "dan sal".
# Handelinge is vol gebeure wat hierdie beginsel demonstreer.
+ Kyk byvoorbeeld na die tweede sendingreis. In Hand 15:36 doen Paulus wat
voor die hand liggend is in terme van die Here Jesus se opdragte: hy stel voor dat hulle weer
die gemeentes gaan besoek wat tydens die eerste sendingreis ontstaan het.
Volgens 16:6-10 gryp die Here egter in (let op, Hý inisieer en doen dit). Die sendelinge
word dramaties op 'n pad gelei wat hulle allermins voorsien het. En die gang van die
geskiedenis skarnier! 3
+ Die Apostels het hulle lewens volgens die Here se opdragte ingerig — sy
algemene opdragte aan almal. Hulle het gedoen wat hulle moes en wat voor die hand liggend
en verantwoordelik was. Hulle het in rustige Godsvertroue geweet, en dit ook so ervaar, dat
Hy sou ingryp wanneer en soos Hy wil (selfs deur hulle eie mislukkings, dwaashede en
sonde), ten einde hulle op die pad te lei wat Sy voorsienigheid vir húlle persoonlik uitgemeet
het.
Hierdie ingrypings, op watter wyse ook al, het hulle nooit strydig met Jesus se opdragte
gelei nie. Dit het gegaan oor die persoonlike, detail-toepassing daarvan in hulle lewens —
binne die grense van die Here se algemene wil.
+ Hier is die tweede vraag se antwoord: God se leiding neem gestalte aan in my
lewe soos ek lewenslank, biddend Sy Woord bestudeer; deur die implikasies daarvan dink;
dit my eie maak; en met beslistheid en volharding my lewe daarvolgens inrig. Dit gaan om
beginselvaste gehoorsaamheid; 'n lewe volgens waarheidsoortuigings. Ek ontdek God se wil
vir mý lewe deur gehoorsaamheid aan Sy wil vir álle gelowiges!
Moenie in die eerste instansie vra nie: "Wat is God se wil vir mý lewe?" Vra: "Wat is
God se wil — vir al sy kinders?" En leef dan daarvolgens.
Wie dit as lewenswyse doen, sal as 't ware binne-in die goeie werke wat God vir hom
of haar spesifiek voorberei het, inloop!
+ Hierdie beginsel is sekerlik nie al wat oor leiding te sê is nie. Maar dis basies
en die belangrikheid daarvan kan nie oorbeklemtoon word nie. Wie dit uitleef, sal 'n duisend
slaggate vermy. En dit sal hom of haar neem op 'n waardige pad van beginselvastheid. 'n
Innerlike vrede sal in diesulkes vestig. Hulle sal koersvas volhard en God in die proses
verheerlik — deur te wandel in die goeie werke wat ook vir hulle voorberei is!
+ Die beheptheid om "God se stem te hoor" en om "Sy wil vir my lewe" buite die
geopenbaarde Skrifwaarheid te soek, neem vandag epidemiese afmetings aan. Dit gee
aanleiding tot sieklike subjektivisme, patetiese naïwiteit, pastorale ellendes en Godonterende
skandes sonder tal — en dit lei die kerk weg van die Woord en die historiese geloof. Dit doen
baie skade. Dit veroorsaak baie ontnugteringe in naïewe Christene.

Slotwoord

Die Woord! Wy jou lewe daaraan om dit in die voetspore van Jesus uit te leef — biddend,
nugter, toegewyd, opreg, volhardend — en kyk wat gebeur!
+ "Vertrou op die Here, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen
getrouheid, en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Laat
jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom; en Hý sal dit uitvoer. Hy sal jou geregtigheid
laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. Swyg voor die Here en verwag Hom
..." (Ps 37:3-7, OAV).
+ Oor hierdie belofte net 'n opmerking: Die Hebreeuse werkwoord wat vertaal
word, "laat oor aan", beteken basies om te rol (vgl. bv. Gen 29:3, 8, 10, waar presies dieselfde
Hebreeuse werkwoord gebruik word).
Psalm 37:5 verseker ons dus: Rol jou lewenspad vir die Here, en Hy sal alles laat
uitwerk soos Hy wil." Onthou net, mens kan nie iets rol as jy dit bly vashou nie.
En dan impliseer die Psalm vir ons die versekering (ek sê dit in respek): Die Here sal
gewis nie misvang nie!
-oOo-



+ Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689
Baptistebelydenis (soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5,
'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gemeentes in ongeveer 'n halfdosyn lande in Afrika
suid van die ewenaar.
+ Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale
in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
+ Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie:
Postnet Suite No. 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika;
E: nico.vanderwalt@reformed.org.za;
Tel. 082 848 9396.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5034
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Vr Jul 03, 2020 10:21 pm

Ek is jammer oor gister se floppie. Ek het 'n nuwe massapos-program en is nog besig om dit onder die knie te kry. Ek probeer egter weer. Ek stuur maar hierdie Herout kort op die hakke van die vorige een, aangesien dit redelik nou daarby aansluit. Ook hierdie een het ek al vantevore gestuur, maar tog nou taamlik aangepas.
Vertrou dis sinvol.

Hartlike groete,

Nico
nico.vanderwalt@reformed.org.za


********************************************


ANTIPAS HEROUT

Antipas, My getroue getuie (Op 2:13)

No.56

Johannes 13:1-17


DIE HART VAN NAASTELIEFDE


Nico van der Walt



Verreweg die sterkste beklemtoning van die sesdae skeppingsbeskrywing in Gen 1, is die
skepping van die mens in v.26vv. Die mededeling dat die mens na die beeld van God, na sy
gelykenis geskep is, word ter wille van beklemtoning driemaal na mekaar herhaal. Sonder
twyfel is dit die kulminering van die skepping.
Die unieke andersoortigheid van die mens, sy verskil van die res van die skepping, lê
in die feit dat hy na God se beeld geskep is.
Die beeld van God in die mens
# Wat het hierdie beeld behels? Die uiteindelike antwoord op hierdie vraag kry ons eers
in die Nuwe Testament.
+ 2Kor 3:18 (DAV): "En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die
heerlikheid van die Here aanskou soos in 'n spieël, word na dieselfde beeld verander, van
heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees."
+ Ef 4:24 (DAV): "Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware
heiligheid na God se beeld geskep is."
+ Kol 3:9-10 (DAV): "Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en
sy gewoontes uitgetrek het en die nuwe mens wat tot volle kennis en na die beeld van sy
Skepper vernuwe word, aangetrek het."
# Wat sien ons in bogenoemde verse? Die beeld van God kom op 3 intiem verweefde
maniere tot uitdrukking.
+ Eerstens praat dit van ware geregtigheid (Ef 4:24; Gr. dikaiosunē).
Hierdie woord kom baie algemeen in die Nuwe Testament voor (92x). Dit verwys na
een van God se attribute. Máár hier dui dit kennelik op 'n lewenswyse wat God behaag en
verheerlik — spesiek naasteliefde en -diens.
Die Here Jesus gebruik die woord in laasgenoemde sin baie dikwels: as dít wat
volgens God se wil is (Matt 5: 5, 6, 10, 20; Joh 16:8, 10); dit wat Hy voorgeskryf het en dus
deur die mens gehoorsaam moet word (Mat 3:15; 21:32); die somtotaal van van God se
opdragte (Mat 6:33); godsdienstige pligte (Mat 6:1 ens.). Ook die apostels gebruik die woord
so. Hier in Ef 4:24 word geregtigheid in 'n etiese sin gebruik.
'n Baie gerespekteerde Amerikaanse teoloog stel dit só: "moral rectitude toward one's
neighbour."1
Kortom, die hart van hierdie geregtigheid is naasteliefde en alles wat dit volgens die
Skrif inhou.
+ Tweedens praat dit van heiligheid (Ef 4:24; Gr. hosiotēs).
Hierdie spesifieke Griekse woord kom slegs tweemaal in die Nuwe Testament voor.
Dit is dus nie die gewone woord wat gebruik word vir heiligheid nie. Die ander voorkoms
daarvan is in Lukas 1:75, waar dit vir ons 'n aanduiding gee hoe ons dit moet verstaan.
Dit praat van spesifiek heiligheid "voor die Here". Die DAV praat van "toewyding"; die
NAV vertaal met "vroomheid".
Ek meen dis in orde om te dink in terme van heiligmaking.
+ Derdens dui dit op kennis (Kol 3:9-10; Gr. epignosin).
Vir seker lê dit nie in kennis sonder meer nie. Daaraan het die gevalle en ongelowige wêreld
geen gebrek nie. Neem ons die Skrifopenbaring in sy geheel in ag, kan jy tot geen ander
gevolgtrekking kom nie as dat dit van Godskennis praat.
Meer as enigiets anders is dit waarvoor die apostel Paulus hom in die gemeentes
beywer het (vgl. Kol 2:1-3).
Die sentraliteit hiervan word ook onderstreep in Joh 17:3 as die Here Jesus in sy
hoëpriesterlike gebed sê: "En dit is die ewige lewe dat hulle U ken, die enigste ware God, en
ook Hom wat U gestuur het — Jesus Christus."
Dit gaan oor gemeenskap met God, oor 'n liefdesverhouding met Hom.
# Let op dat kennis van God, oftewel gemeenskap met Hom, en liefde vir Hom baie na
aan mekaar lê. Tot die mate wat ek Hom ken, tot daardie mate sal ek Hom liefhê. Tot die mate
wat ek Hom liefhet, tot daardie mate sal ek gemeenskap met Hom hê. Die twee loop handom-die-lyf.
En nou kan ons duidelik sien: Tot die mate mate wat ek groei in geregtigheid en kennis
(naamlik liefde vir my naaste, en gemeenskap met en liefde vir God), tot daardie mate kom
Jesus se opsomming van die wet in my tot uitdrukking (Matt 22:37-40) — en tot daardie mate
sal ek heilig voor die Here leef.
En tot daardie mate sal die beeld van God in my tot uitdrukking kom!
# In hierdie studie gaan ons nader kyk na die eerste uitdrukking van die beeld van God
hierbo, naamlik ware geregtigheid, oftewel naasteliefde en naastediens (soos reeds
uitgewys).
Die Bybelse oproep tot naasteliefde
# Om my naaste lief te hê volgens die opdragte van die Here Jesus, is gewis 'n saak
van die allergrootste belang vir elkeen in Christus.
Dis verstommend watter prominensie hierdie saak in die Skrif geniet. Weer en weer
roep God se Woord ons daartoe op — dan op hierdie manier, dan op daardie manier.
Dis iets waaroor ons baie gereeld en met groot erns moet bid. Dit moet 'n vooropprioriteit in ons lewens wees. Ons moet ons daarin oefen. Dit moet 'n spontane lewensuiting
vir ons word (ek vertrou die leser het dit beter onder die knie as ek).
# Wat is die sentrale beginsel wat dit moet beheers? Wat is ware liefde vir jou medemens
ten diepste — in die besonder jou broers en suster in die geloof?
Is dit 'n gevoel? 'n Emosie? Om van iemand te hou? Vriendskap? Commitment?
Wat is dit eintlik? Hoe kom dit prakties tot uitdrukking? Hierdie vrae kan uiteraard
vermenigvuldig word.
Sekerlik is dit vir elke dissipel van die Here van groot belang om die antwoord op
hierdie vraag baie goed te verstaan ten einde dit uit te leef.
Seker een van die bekendste gedeeltes in die Bybel is 1Kor 13. Dis immers die teks
vir elke tweede of derde huwelikspreek. Maar volgens God se Woord is dit meer as bloot 'n
paar sentimentele en morele gedagtes wat tannies hulle sakdoekies onder horlosiestreppies
laat uittrek.
Ja, geloof en hoop is onmisbaar, maar nóg groter is die liefde. Gewis lê dit aan die
hart van Christelike godsvrug.
# In die Skrif is dit meer as net 'n opdrag; dis inderdaad 'n innerlike aandrang van 'n
wedergebore hart. Johannes se eerste brief sê vir ons dat naasteliefde, een van díé
merktekens van wedergeboorte en dus van redding is. Dis dus 'n hartsgeneigdheid (1 Joh
3:14-18; 4:7-21). Maar 'n opdrag en 'n aandrang is één saak; hoe om dit uit te leef is iets
anders.
# As mens nou die vraag vra hoe die naasteliefde prakties tot uitdrukking kom, is die
antwoord skielik nie nie meer so voor die hand liggend nie. Selfs Jesus se dissipels het
behoorlik gesukkel om Sy opdrag hieroor onder die knie te kry.
Kom ons besin hieroor.
# Let op my aanslag in wat volg. Ek gaan nie bloot die dosyne Skrifgedeeltes wat van
naasteliefde praat, soos krale aan 'n stringetjie probeer ryg nie. Dit sou seker nie verkeerd
wees nie. Maar ek wil by die essensie van die saak uit te kom.
En inderdaad vind ons dit in die lering wat die Here Jesus vir sy dissipels gee en
demonstreer. Lees ons deur die vier evangelies, word die hart, die beheersende beginsel van
praktiese naasteliefde duidelik vir ons blootgelê.
# Laastens, voordat ons na die Skrif kyk, moet die leser daarop let hoe absoluut
belangrik die Here die saak ag. Dis een van die dinge wat Hy die aand voor sy kruisiging —
net ure voor die tyd — op 'n onvergeetlike wyse vir sy dissipels op die hart druk. Hy sou soveel
ander uiters belangrike lesse vir hulle kon leer. Maar hierdie saak — híérdie saak – mag sy
volgelinge nooit nalaat nie.
Die manier waarop Hy dit doen, verseker dan ook dat geeneen van daardie klomp
harde manne dit sou kon vergeet nie.
Ook op óns hartstafels moet dit onuitwisbaar ingegrafeer wees!
Matt 16:15-16
As die Here Jesus Sy dissipels vra of hulle weet wie Hy is, antwoord Petrus namens hulle: "U
is die Christus, die Seun van die lewende God."
Hulle weet dus dat Jesus die Messias is — die Here, die Koning, die Seun van God.
Sekerlik sou hulle baie hieroor gewonder het. En hulle sou verder gedink het: 'n koning
het nie net onderdane nie, maar hy het ook helpers, adjudante, 'n kabinet, ministers. Sonder
twyfel was dit nie vir spek en boontjies dat Hy húlle twaalf uitgekies het om orals saam met
Hom te wees nie. Nou al vir 'n jaar of twee, drie. Dis so duidelik soos daglig. Vir seker gaan
húlle Sy kabinet word as Hy eers die regering oorneem.
Daar het egter één tergende raaisel oorgebly. In 'n kabinet is daar altyd 'n leierminister! En wie gaan Jesus vir hierdie hoë amp aanwys? Hierdie vraag het gewis die ambisie
hoog in hulle laat opvlam. Wie gaan die Eerste Minister wees?
Matt 18:1-4
In die komende dae en weke sou hulle baie oor die kwessie getob het. Sonder twyfel sou hy
uit hulle geledere kom! Maar wie gaan dit wees?
Uiteindelik besluit hulle om die Here reguit te vra: "Wie is die belangrikste in die
koninkryk van die hemele?"
Jesus roep dan 'n klein kindjie om by hulle te kom staan. "Wie homself gering ag soos
hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel." Trouens, sê Hy, as julle
nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle nie eers in die koninkryk kom nie — wat
staan nog die grootste daarin wees.
Duidelik weet die Here wat in die dissipels se agterkoppe sit. Vandaar hierdie
antwoord. Vergeet van die premierskap, sê Hy. Maak allereers seker dat julle wel die saligheid
beërf. Dis tog sekerlik die belangrikste!
Waarlik, hierdie is 'n uitspraak van die Here Jesus wat ons nie ligtelik durf opneem nie!
Maar hiervan verstaan die klompie dissipels op hierdie stadium nog bloedweinig.
Mark 9:33-37
Dis 'n ruk later. Hulle is op pad. Dan kry die dissipels stry oor wie van hulle die belangrikste
is.
In Kapernaum begin die Here hulle dan met groot geduld leer: As iemand die eerste
wil wees in die koninkryk van die hemel, moet hy nie omgee om laaste te wees nie. En hy
moet bereid wees om almal se dienaar te wees.
Hier wil Jesus dus beklemtoon dat daar in Sy koninkryk 'n baie hoë premie op
diensbaarheid gestel word.
Hy laat dan weereens 'n kindjie tussen hulle staan en sê: "Elkeen wat so 'n kindjie in
my Naam ontvang, ontvang My ... ook vir Hom wat My gestuur het."
Hierdie is 'n sprekende voorbeeld. Kindertjies gee nie om as grootmense hulle
rondstuur nie. Trouens, hulle is baie trots daarop as 'n oom of tannie hulle só vertrou. Selfs
meer as vandag het kinders in die wêreld van destyds geen status gehad nie. En allermins
het hulle opdragte gegee. Nee, hulle het opdragte ontvang. Dit was vir hulle 'n eer om die
grootmense se stuurjongens te wees.
Maar oënskynlik het die dissipels steeds nie verstaan nie, want onmiddellik hierna lees
ons van nog 'n voorval.
Matt 19:13-15; Mark 10:13-16; Luk 18:15-17
As die mense hulle kindertjies na Jesus toe bring sodat Hy aan hulle kan raak, neem die
dissipels aanstoot. Maar Hy sê, nee, Hy wil juis hê hulle moet na Hom toe kom, want die
koninkryk van God is vir mense soos díé. Trouens, dis 'n absolute voorwaarde vir ingang in
die koninkryk. Mens wil amper wonder of Jesus homself nie verspreek nie. Maar nee, Hy
gebruik die voorbeeld weer en weer.
Sonder twyfel stel die Here 'n hoë premie op die voorbeeld van hierdie geen-statusmensies. Hoe moet mens dit vertolk.?
Die antwoord lê daarin dat Christus se koninkryk 'n andersom koninkryk is. En tipies
van hierdie koninkryk is opregtheid en diensbaarheid, asook ongeërgdheid oor kleur en titels
en aansien en rykdom. Dis hoe kinders is. Presies só moet ons ook wees. Trouens, ons moet
al hoe meer so word. Waarlik, niks is meer strydig met die koninkryk van die hemele as
snobisme, ambisie, hooghartigheid, naywer nie.
Maar steeds het die dissipels nie verstaan nie. En kennelik het hulle bly wonder wie
van hulle nommer één gaan word in die komende koninkryk. Wie gaan as eerste minister
aangestel word?
Matt 20:20-28
Dis omtrent ses maande na die vorige insident. Jesus en Sy manne is op pad na Jerusalem
(Matt 20:17-19). Die dissipels is opgewonde: nou gaan die dinge begin gebeur. In die hoofstad
gaan die poppe dans!
Jakobus en Johannes se ma is ook saam met hulle. Sy besef die tyd raak min en sy
sal vinnig moet spring. Met ambisie wat in haar brand, gaan sy na Jesus toe. Reguit vra sy vir
Hom of haar seuns nommer een en twee in Sy koninkryk kan wees. Of nóg beter, nommer
een-a en nommer een-b. Jesus moet darem in gedagte hou dat hulle 'n ryk pa het (Mark 1:20).
Nog meer, hulle beweeg lankal reeds saam met Petrus in Jesus se binnekring. En as daar
een man is wat sy wil voorspring, dan is dit die voortvarende Petrus.
In v.22-23 lees ons hoe Jesus haar antwoord — en vir die twee seuns, wat duidelik
geweet het wat hulle ma vir die Here gaan vra. Hulle was bes moontlik net 'n halftree agter
haar. Nee, sê die Here, dis sy Vader se prerogatief om te besluit oor mense se posisie en
status in die koninkryk van die hemel.
Duidelik verstaan die dissipels steeds nie dat prominensie in die koninkryk van
Christus uitgemeet word met die maatstok van nederigheid en diensbaarheid nie. As Hy dus
voortgaan om met eindelose geduld hierdie beginsel weer op hulle harte te druk (teen hierdie
tyd luister ál die dissipels), praat Hy in meer uitdruklike terme as ooit vantevore.
Elkeen wat in Sy koninkryk groot wil wees, moet allermins baasspelerig en
grootmeneer wees, maar veeleerder diensbaar by uitnemendheid. Nou draai Jesus nie meer
doekies om nie: mens moet 'n "dienaar" word (Gr. diakonos, 'n bediende) (v.26). En as jy die
eerste wil wees, moet jy almal se "slaaf" wees (Gr. doulos, 'n slaaf) (v.27).
Onthou, in die antieke wêreld het 'n slaaf geen regte gehad nie; uiters dalk 'n paar
voorregte (Luk 17:7-10). Iets soos werksure, jaarlikse verlof, byvoordele, vakbonde en
waardering het, indien wel, beswaarlik bestaan.
Die les van hierdie stukkie interaksie tussen die Here en Sy dissipels kan dus só
saamgevat word:
Grootheid in die koninkryk word gemeet met die maatstok van diensbaarheid.
Luk 22:24-27
Dis 'n dag voor die kruisiging. Die dissipels is vol afwagting. Hulle ambisie bereik breekpunt.
In Jerusalem is spanning en druk besig om rondom Jesus op te bou. Iets móét nou begin
gebeur!
Dan ontstaan daar weer 'n gestry tussen die dissipels oor wie van hulle die
belangrikste is.
Baie geduldig leer die Here Jesus weer vir hulle dieselfde les as die vorige kere. Mens
kan jou indink hoe elkeen van hulle baie verleë en kop onderstebo na Hom luister: "die
belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is soos die
een wat dien ... Ek is in julle kring soos die een wat dien."
Joh 13:1-17
Daardie selfde aand — die aand voordat Jesus enkele ure later gekruisig gaan word — is Hy
en Sy dissipels in 'n bovertrek saam om die paasmaaltyd te vier. Judas is ook daar, hoewel
hy reeds besluit het om Jesus te verraai .
# Eensklaps staan Jesus op, trek Sy bokleed uit en bind 'n handoek om sy lyf. Dan gooi
Hy water in 'n wasskottel. Die dissipels se oë is vasgenael op Hom en die atmosfeer kan met
'n mes gesny word.
# Hulle verstaan maar te goed wat aan die gang is.
+ Mense het destyds sandale gedra. En in daardie dorre wêreld, met sy
snuifgetrapte stofpaaie, was jou voete behoorlik vuil as jy by jou bestemming aankom. Dit was
dus die gebruik dat gaste hulle skoeisel by die voordeur los, om dit eers weer aan te trek as
hulle vertrek.
Aangesien mens toe nie aan 'n tafel gesit het vir ete nie, maar op jou sy en elmboog
gelê en eet het, het dit beteken dat jou voete nie ver van jou buurman se gesig af was nie.
Daarom was dit gebruik om gaste se voete te was voordat hulle plek inneem by die lae "tafel".
+ In die geval van 'n vermoënde man, sou een van sy slawe die gaste se voete
gewas het. Dit was gewoonlik die mees junior slaaf, aangesien dit as 'n baie nederige werk
geag is.
# Die Here Jesus Christus stap dan na die naaste dissipel toe, kniel by hom, was sy
voete, en droog dit rustig af met 'n handoek. Dan tel Hy die skottel op en beweeg na die
volgende man toe en begin om díé se voete te was. En so hou Hy aan.
As Hy egter by Petrus kom, reageer die impulsiewe karakter op 'n tipiese manier:
"Here, gaan U mý voete was?" Die implikasie is, ek kan dit nooit toelaat nie! "As Ek jou nie
was nie, het jy nie deel aan My nie", is Jesus se respons. Petrus verstaan kennelik iets
waarvan die Here praat, en roep daarom uit: "Here, dan nie net my voete nie, maar ook my
hande en my gesig!" (v. 6-10).
Uiteindelik voltooi die Here Jesus die sirkel en die dissipels kan met skoon voete eet.
Nie dat dít op sigself is waaroor dit vir Hom gegaan het nie. Want dit lyk immers asof Hy self
die ete met stofbesmeerde voete genuttig het, want daar word nie gemeld dat iemand Sý
voete gewas het nie.
# As Jesus Sy bokleed aantrek en weer Sy plek inneem, hou twaalf paar oë Sy elke
beweging in doodse stilte dop. "Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?" (v.12).
In v.13 bevestig Jesus eers Sy gesag om lewensbepalende lering vir hulle te gee. En
inderdaad is die opdrag wat Hy nou vir Sy dissipels gee rigtinggewend vir elkeen wat
gehoorsaamheid aan Hom ernstig opneem en erns daarmee maak om daarvolgens te leef.
Trouens, dit is van súlke fundamentele belang vir elkeen wat bely dat hy of sy 'n navolger van
die Here is, dat dit nie oorskat kan word nie.
# Dan kom die Here Jesus met 'n opdrag in v.14 wat ons nie moet onderskat nie en nooit
mag vergeet nie: "As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het,
behoort julle ook mekaar se voete te was."
Die Griekse opdrag beklemtoon dat dit nie 'n eenmalige aksie moet wees nie, maar 'n
gereelde handeling, weer en weer — 'n lewensgewoonte.
Hulle was waarskynlik verras. Miskien het hulle verwag dat Hy sou sê: As Ek, julle
Here, dan julle voete gewas het, behoort julle nou ook Mý voete te was.
Maar wat hulle nog moet leer, is dat 'n mens Hóm dien — sy "voete was" — as jy Sy
broers en susters dien.
# In v.15-17 gee die Here die bevel uitdruklik, onontkombaar en in soveel woorde. Hierin
moet Sy dissipels Hom gewis navolg. "Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle
gedoen het, moet julle ook doen. Dit verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar
nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie."
Daar kan dus geen misverstand wees nie. En dis 'n sleutel tot 'n lewe van saligheid.
Let op hoe Jesus afsluit: "As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen" (OAV).
Wat sê dit alles vir ons?
1. Hier sien ons die essensie, die fundamentele beginsel van die tweede van die twee
groot gebooie. Dis die hart van naasteliefde. Dis hoe dit tot uitdrukking kom.
Dis 'n uitdrukking van die beeld van God!
Te sterk gestel?
2. Laat niemand in diensbaarheid en gehoorsaamheid aan die wet se tweede tafel enige
begronding van redding sien nie! Daardie begronding is volmaak in posisie geplaas toe die
Here Jesus diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het "se voete gewas het" op Golgota.
Nee, ons praat hier van 'n vrug van redding — 'n noodwendige uitvloeisel. Dis die
watermerk daarvan. Daarom kan Hebreërs dit baie reguit sê, sonder heiligmaking is daar net
één afleiding — so 'n persoon het nie reddende geloof nie, is dus nie geregverdig nie, en sal
dus nie die Here sien nie! (12:14).
3. Mag ek die leser nogeens herinner aan die absoluut strategiese moment waarop Jesus
die les waarna ons kyk onvergeetlik in sy dissipels se gemoedere vaslê.
Dis die laaste aand voor die kruisiging (v.1). Die voetwassing is soos sterfbedwoorde.
Dis gewigtig en belangrik, baie baie belangrik!
Soek jy na 'n — dalk kan ons selfs praat van díé — merkteken van Christelike egtheid?
Hier het jy dit.
En wil jy weet hoe lyk 'n geloofshuigelaar? Dis 'n "Christen" wie se knieë te styf is om
voor 'n medemens se voete te buig.
Leser, mag hierdie saak steeds dieper en dieper op ons hartstafels ingegrafeer word.
4. Het jy kennis geneem hoe gereeld die Here Jesus die opdrag herhaal dat mens
nederig moet wees en jou naaste moet dien — oor en oor, van vroeg af reeds? Vir seker wou
Hy 'n punt tuisbring.
5. Die feit dat die Jesus spesifiek voete gewas het, is betekenisvol. Soos reeds gemeld,
was dit een van die nederigste take wat 'n slaaf opgelê kon word.
Ware dissipels is nie neus-optrekkerig of uitsoekerig of snobisties oor wat hulle doen
of nie doen nie. As die Here Jesus kon kniel, wie is ek en jy om enige dienswerk as benede
ons te beskou? My status, geleerdheid, welvaart, voorkeure, emosies of gevoelens, durf geen
rol speel as dit kom by die roeping om diensbaar te wees nie.
Waarlik, hooghartigheid het geen plek in die liggaam van Christus nie. Dit gaan oor
selfneerlegging en slaaf-wees ter wille van ander, ongeag wie of wat ék is.
Antipas Herout 56: Die hart van naasteliefde 9
6. Ons kan aanvaar dat die voetewasbeginsel lewensveranderend en permanent in die
apostels se harte vasgelê is. Na die aand in die bovertrek was hulle lewens nooit weer
dieselfde nie. Die knielende Jesus het hulle nooit vergeet nie!
Só radikaal gehoorsaam het hulle hierdie roeping tot diensbaarheid, dat die lewens
wat hulle gelei het die wêreldgeskiedenis verander het. En tot vandag toe, tweeduisend jaar
later, is hulle name steeds aan miljoene mense bekend.
7. Die wêreldse status van die een wie se voete gewas moet word speel geen rol nie.
Alle gaste se voete, deur die bank, is destyds gewas. Want almal se voete was vuil.
Dis dalk maklik om belangrike mense te dien. Maar wat van die eenvoudiges en die
geringes? Ons mag hulle eenvoudig nie verbygaan nie. Status in die liggaam van Christus is
totaal irrelevant en onvanpas.
As Jesus selfs Judas Iskariot se voete gewas het — want díé het eers na die
voetwassing geloop (Joh 13:18-30) — wie is ek en jy om neusoptrekkerig te wees oor wie ons
dien?
8. Die voetewasopdrag gaan sekerlik in die eerste plek oor ons huisgenote en medegelowiges. Maar dit het vir seker ook betrekking op alle mense met wie ons te doen kry.
Om broers en susters te dien is dalk nie té moeilik nie. En dit ís so dat Jesus daardie
aand spesifiek Sy dissipels se voete gewas het. Maar ons kry ook heeldag met wêreldlinge
en ongelowiges te doen — by ons werk of waar ook al. En ook hulle voete moet ons was as
die geleentheid daarvoor opduik en 'n situasie dit vereis. Is dit nie een van die waarhede wat
die Here Jesus se gelykenis oor die barmhartige Samaritaan vir ons wil leer nie?
Só dra ons ons getuienis uit; só versier ons die evangelie; só skep ons geleenthede
om die evangelie in die wêreld te verkondig.
Miskien is daar nou iemand wat vir hom- of haarself sê, as ek dit by die kantoor doen
gaan hulle my as kruiperig beskou. Natuurlik is dit 'n gevaar. Mens moet daarteen waak. Maar
as jy dit op die regte manier, met die regte gesindheid en in opregtheid doen, sal mense jou
integriteit aanvoel.
'n Sleutel is om dit nie net sporadies te doen nie — vandag stroperig en môre knorrig.
Dit moet 'n konsekwente lewenstyl wees. Dit moet ingebed wees in die liefde wat 1Kor 13
beskryf. En bowenal moet dit opreg wees — van harte soos vir die Here (Kol 3:23). Wees 'n
konsekwente demonstrasie van Rom12:9-21.
Laat ons gou wees om te doen, en stadig om te praat. Onthou, in 'n werksomgewing
(of waar ook al) moet ons met 'n godvrugtige lewe die voorreg verdien om te getuig. Gróót
skade word gedoen deur Christene wat "preek" sonder om te "leef". Die regte orde is, eers
jou voorbeeld, dan jou preek, en ook nie te gou nie.
Opregte, konsekwente en swygsame voetwassers ervaar dikwels dat hulle nie hoef uit
te gaan om op die straathoeke te preek nie, maar dat "Nikodemusse in die nag" na húlle toe
kom met die regte soort vrae.
9. Voetewas kom op 'n duisend maniere tot uitdrukking in ons lewens.
Elke apostel se lewenspad het destyds 'n eie koers ingeslaan. Elkeen se dienswerk
het anders uitgemond. Elkeen het voete gewas op 'n ander manier.
10. Ook moet ons onthou dat diensbaarheid nie ons enigste roeping as Christene is nie.
Natuurlik nie. Maar diensbaarheid is 'n baie belangrike manier waarop die egtheid van ons
geloof sigbaar word — en hoe die pad geplavei word vir ons verkondiging.
11. Inderdaad bring dit meermale tot 'n mindere of meerdere mate lewensontbering,
swaarkry en selfs armoede mee. En soms, net soms, uiteindelike martelaarskap. Is dit sonder
betekenis dat elf van die twaalf apostels volgens oorlewering as 'n martelaar gesterf het? Net
Johannes is in sy ouderdom dood (hy het wel sy ballingskap gehad).
Ja, natuurlik ken elke Christen ook blydskap, vrede, vergenoegdheid en lewensgeluk.
En daar is soiets soos gemeenskap met die Here en mede-gelowiges. Daar is soiets soos
vreugde in die Here en die volheid van die Heilige Gees. En, in elk geval gee min dinge 'n
Christen meer vervulling as dienswerk — as voetewas. Ons is nie smartvrate nie.
12. En onthou eweneens — om gedien te wórd is óók deel van Christenskap. Moenie
mede-gelowiges die voorreg ontsê nie.
Niemand hoef dus te wonder of hy of sy saligmakende geloof het nie — jou lewe wys
dit glashelder duidelik uit!
13. Hier het ek en jy 'n lakmoestoets vir die egtheid van ons geloof.
Wonder jy soms of jy gered is? Jy kan wéét.
Vra jouself eenvoudig af of jou knieë maklik en gereeld langs 'n waskom buig!
Beswaarlik is daar 'n meer betroubare toets.
Slot
# Ure ná die aand in die bovertrek het die Here Jesus op 'n mees radikale wyse óns
voete gewas — ongeëwenaard tot vandag toe — en tot in ewigheid sal dit nie herhaal hoef te
word of oortref kan word nie.
Ons praat natuurlik van Sy kruiswerk toe hy Homself oorgegee het om die
verdoemenis wat dermiljoene sondaars toegekom het, aan die kruis te dra.
Kan jy sien, Hy verwag niks van ons wat Hy nie tot 'n onbeskryflik grootser en dieper
mate self gedoen het nie.
Wie is die dienskneg, die slaaf, die voetwasser by uitnemendheid? Kan daar enige
twyfel wees? God die Seun! Die Here Jesus Christus! Die ewige tweede Persoon van die
Goddelike Drie-eenheid! Die
Skepper van die ganse kosmos (Joh 1:3; Kol 1:16-17; Heb 1:2;
Op 3:14)! Hy, ja niemand minder as Hý nie. Hy het Homself verneder deur 'n mens te word.
Deur die grootste deel van sy lewe het Hy as 'n nederige skrynwerker gewerk. En uiteindelik
het Hy sy lewe op die pynliks denkbare wyse afgelê — sodat dermiljoene die ewige saligheid
kan beërf.
Waarlik, Jesus Christus was die Voetwasser by uitnemendheid! En Hy was steeds ons
voete deur onvermoeid as Hoë Priester vir ons in te tree.
# Kan jy sien, ook as ek jóú voete was, en jy mýne, verkondig ons die Here Jesus
Christus — die gekruisigde!



+ Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689
Baptistebelydenis (soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5,
'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gemeentes in ongeveer 'n halfdosyn lande in Afrika
suid van die ewenaar.
+ Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale
in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
+ Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No. 148,
Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika; E: nico.vanderwalt@reformed.org.za; Tel. 082 848 9396.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5034
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Ma Jul 27, 2020 5:34 pm

Goeie middag,

Hiermee Antipas Herout 68, 'n verdere studie oor Gen 1-2. Sommige van julle het dit alreeds gekry. Jammer vir die duplisering. Ek stuur egter hierna nog 3 ander studies uit.

Groetnis, Nico


******************


ANTIPAS HEROUT

Antipas, My getroue getuie (Op 2:13)

No.68

'N STUDIE VAN GENESIS 1-2 (2)

Genesis 1:3-2:3 & 2:4-25

Die sewe dae en 'n nadere kyk na dag 6


Nico van der Walt



Eerstens, die historiese konteks en geadresseerdes
# Hieraan het ons reeds aandag gegee toe ons na Gen 1:1-2 gekyk het.
Tweedens, die struktuur van Gen 1:1-2:3
Die afgrensing van die gedeelte waarna ons kyk
# Dis reeds in die vorige Herout getoon dat daar 'n onmiskenbare grens tussen 1:2 en 1:3 is. Sonder
twyfel begin ons Skrifgedeelte dus met 1:3. Maar waar eindig ons gedeelte?
# Dis redelik algemeen in Skrifkritiese kringe om Gen 1 en 2 as twee verskillende en weersprekende
skeppingsbeskrywings te beskou — elkeen, sogenaamd, vanuit 'n ander tradisie. Maar so 'n beskouing het
geen Bybelse mandaat nie.
Lees mens gelowig en baie aandagtig deur die twee hoofstukke, blyk dit duidelik dat presies dieselfde
skeppingsgeskiedenis beskryf word — vanuit twee gesigshoeke beskou.
Eers gee Genesis 1:1-2:3 (soos getoon sal word) die oorsigtelike groot prentjie. Dan konsentreer
Gen 2:4-25 op die sesde dag, en in die besonder op die mens as man en vrou, hulle woonplek, hulle
verantwoordelikhede in die tuin en hulle waarskuwing teen die eet van die boom van die kennis van goed
en kwaad.
Die twee gedeeltes is dus onlosmaaklik verbonde. Die eerste trek groot buitelyne. Die tweede fokus
op meer detail en veral op die kroon van die skepping, die mens .
# Daar is egter verskil van opinie — ook in Bybelgelowige kringe — oor waar presies die naat tussen
bogenoemde twee gedeeltes is: tussen Gen 2:3 en Gen 2:4 (OAV; ESV; NASB; KJV) of tussen Gen 2:4a
en Gen 2:4b (NAV). Daar is ook ander voorstelle, waarna ons nie hoef te kyk nie.
# Noukeurige bestudering van die teks maak dit duidelik waarom die beste vertalings, heeltemal korrek,
die lyn tussen verse 3 en 4 trek. Daar is meer as een argument.
+ Die Hebreeuse frase in Gen 2:4, "die geskiedenis" (OAV; NAV) of "the generations" (ESV),
word nóg tien keer in Genesis gebruik (5:1; 6:9; 10:1; 11:10, 27; 25:12, 19; 36:1, 9; 37:2). Elke keer dien dit
as iets van 'n struktuurmerker deur 'n nuwe paragraaf in te lei.
1 Dit is daarom net redelik om te aanvaar dat
dit ook hier in Gen 2 die geval is — wat sou beteken dat die breuklyn tussen v.3 en 4 is.
+ Die uitdrukkings in Gen 2:4 "die hemel en die aarde toe hulle geskape is" en "die dag toe die
Here die hemel en die aarde gemaak het" vorm 'n a-b-c spieëlpatroon ('n chiasme) in die Hebreeuse teks.
Ons praat dus van 'n stilistiese eenheid. Ongelukkig vertoon ons Afrikaanse vertalings dit nie so goed soos
die ESV en die NASB nie:
" ... of the heaven and the earth when they were created ..."
.. a b c
" the Lord God made the earth and the heavens ..."
c' b' a'
Kan jy die omgekeerde spieëlbeeld sien? Dis 'n tipiese manier van skryf in Hebreeus. Die twee frases
van die chiasme moet as 'n eenheid gesien word en wil iets onderstreep of beklemtoon. Dit geld soveel te
meer as daar drie elemente (en nie net twee nie) in chiasme soos hierbo is. Dis die skrywer se manier om
te sê: Het jy kennis geneem, baie goed kennis geneem? Dis belangrik!
Om die chiasme in twee te deel (soos byvoorbeeld die NAV en die NIV) is duidelik eksegeties nie
toelaatbaar nie..
+ Daar is nog 'n aanduiding dat die breuklyn tussen v.3 en v.4 is. Genesis 1:1-2:3 gebruik
konsekwent net "God" (die Maker en Regeerder oor die ganse skepping) as dit na die Skepper verwys.
Maar dan kom 2:4-25 en praat konsekwent van "Here God". "Here" is God se verbondsnaam (Jahweh), Sy
persoonlike naam.
Dit wil hier in hoofstuk 2 onderstreep dat Hy in verhouding met die mens — oor wie dit grootliks in
hierdie gedeelte gaan — wil leef (Eks 3:13-17).
Derdens, die literatuursoort van Gen 1:3-2:3
# Soos in die vorige Herout gesien, is Gen 1:1-2 gewone geskiedskrywing. Ook Gen 1:3-2:3 is
geskiedskrywing, in die sin dat dit werklik gebeur het.
# Maar Gen 1:3-2:3, hoewel geskiedenis, is nie gewone prosa nie, ewemin is dit kronologies geskryf —
dit is baie duidelik, en onmiskenbaar in poëtiese styl geskryf. Dit is uiteraard bepalend vir hoe die 32 verse
verstaan moet word.
Ek sal hieronder poog om dit oortuigend aan te toon.
# Dus, terwyl die historiese feitelikheid geensins verwaarloos mag word, moet ons nie noodwendig 'n
chronologiese uiteensetting verwag nie — van een na twee, en van twee na drie, van drie na vier,
ensovoorts.
# Vir 'n verantwoordelike vertolking van die gedeelte is die dubbele karakter, die van geskiedskrywing
én poësie, van die allergrootste belang.
+ Aan die een kant bewaar die historiese van 'n miskenning dat God self, persoonlik en
bonatuurlik — en régtig — in die geskiedenis geskep het (Eng. hands-on). Dit bewaar ons van 'n algehele
versimbolisering wat die historiese, asook God se persoonlike en praktiese betrokkenheid grootliks uit die
prentjie haal.
'n Ontkenning van die historiese is 'n halftree weg van die aanvaarding dat Gen 1-2 net 'n fabel is.
Dan kan mens wel wonder of God hoegenaamd geskep het — of Hy hoegenaamd betrokke was — en of
Darwiniese ewolusionisme nie tog in die kol is nie. In elk geval voer dit jou tot op die rand deïsme of
agnostisisme.
+ Aan die ander kant bewaar die poëtiese en beeldspraak van 'n enkelvoudige, simplistiese en
letterlike vertolking van die skeppingsgebeure wat die lesers laat vasloop teen teenstrydighede (soos
byvoorbeeld die skepping van lig op die eerste dag, en die skepping van die son, die maan en die sterre op
die vierde dag).
'n Letterlike 24-uur vertolking hou ook nie rekening met al die gebeure nie. Dit word op sy duidelikste
gesien as mens na die sesde dag kyk (hieroor meer in die volgende Herout).
En les bes wil so 'n letterlike vertolking eenvoudig nie rym met die getuienis van die algemene
openbaring nie (ook hieroor meer in die volgende Herout).
Daarenteen bewaar 'n aanvaarding van die poëtiese in Gen 1 die skeppingsbeskrywing gemaklik van
'n botsing met die algemeen aanvaarde getuienis van die natuurwetenskappe. Skriftuur en natuur is dan nie
meer in botsing nie. Die probleme wat soveel fundamentalistiese bybelgelowiges met die oor en oor
getoetse bevindings en oortuigings van die wetenskap het, verdwyn dan grootliks, selfs geheel-en-al.
# Die Ou Testament is boordevol van die simboliese en die poëtiese. Dit hoef geen verassing te wees
nie. Die Hebreeuse taal — enige taal tot vandag toe — is ryk in beeldspraak en keer op keer word simbole
en metafore gebruik om 'n boodskap oor te dra. Dit geld ook vir die poëtiese.
Laat ons nie in die slaggat trap om te dink dat prosa feite oordra, terwyl poësie en
beeldspraak fiksie is nie.
+ Wat die mense van die Ou Testament betref, sien mens nêrens die belangrikheid van
simboliek beter as in die verboldsvolk se voorgeskrewe godsdiensvoorskrifte nie. Die offerdiens was baie
letterlik voorgeskryf, maar dit was van hoek tot kant vol simboliek. Om 'n lam te verbrand kon tog nooit op
sigself versoening vir 'n individu of vir die volk bewerkstellig nie. Die seremoniële voorskrifte was deur en
deur Christusverkondiging. Ook die Ou Testamentiese gelowiges is immers gered deur met geloofsoë
vooruit te kyk en hulle vertroue in die komende Lam van God te stel.
Ek weet ek praat nou van simboliek en in Gen 1 van poësie. Maar dis tog twee begrippe wat hand
aan hand loop. Poësie is deurtrek van simboliek.
Beide staan vir letterlike waarheid, sonder dat dit letterlik vertolk moet word.
# Hoewel dit steeds algemeen in die letterkunde van ons dag is dat 'n storie nie altyd letterlik en
kronologiese vertel word nie, het ons baie gewoond geraak aan 'n formele manier van skryf in wetenskaplike
artikels, juridiese verklarings, historiese beskrywings en ander formele dokumente. Ons is gewoond daaraan
om 'n storie kronologies-opeenvolgend oor te dra — gewoonlik met 'n logiese ontwikkelingsgang.
Maar die Bybel is in 'n ander wêreld geskryf. Logika en kronologie was dikwels nie só belangrik nie.
Ons sien dit selfs in die Nuwe Testament. In die Evangelie van Johannes bepaal afwisselende wondertekens
en stukke lering byvoorbeeld die struktuur. Kronologie is nie voorop nie.
Die evangelie van Johannes is nie kronologies geskryf nie. Daar is egter 'n fyn letterkundige struktuur
en die historiese akkuraatheid daarvan is nie te betwyfel nie.
Om bykans alles in die Bybel letterlik te wil lees, is om die bal meermale mis te slaan!
'n Nadere kyk na die poëtiese in Gen 1:3-2:3
# Moses se merkwaardige en duidelik doelbewuste poëtiese struktuur in die beskrywing van die "sewe
dae", spreek van intelligensie, volwasse nadenke en letterkundige vaardigheid. Duidelik het hy nie net
noukeurig aandag gegee aan die inhoud van wat hy geskryf het nie, maar vir seker ook aan die vorm of
struktuur daarvan. Gewis het sy Maker hom toegerus met besondere intellek met die oog op sy grootse
roeping. Hy het voorwaar geïnspireerd geskryf.
# Die simboliese syfers, 3 en 10 is prominent. Daar is 3 "probleme" op die aarde van Gen 1:1-2 wat
aangespreek moet word ('n aarde wat woes en leeg is; duisternis; diep waters). Dit word reggestel tydens
twee stelle van 3 dae elk (sien hieronder).
Die uitdrukking, "volgens hulle soorte", word 10 keer gebruik (v. 11, 12, 12, 21, 21, 24, 24, 25, 25,
25).
Die werkwoord "om te skep" word op 3 plekke gebruik en die derde keer 3 maal (v.1, 21, 27, 27, 27).
# Daar is duidelik beeldspraak en simboliek.
Daar is alliterasie en 'n patroonmatige manier om die gebeure te beskryf. Neem as voorbeeld die ooren-oor refreine: "en dit was so"; en "toe sien God dat dit goed was"; "Laat daar ...". Ensovoorts.
Voorts vind mens antropomorfismes (segwyses wat God voorstel asof Hy 'n mens is). God praat,
sien, werk, rus.
Enigeen van bogenoemde, of selfs tesame, sê nog nie op sigself dis poësie nie. Maar saam met
onderstaande is dit tog wel 'n verdere bevestiging daarvan.
# Daar is kort stukkies poësie in hierdie verse.
+ Gen 1:27 het 'n ab — ba — ba uitleg. Die ESV dui duidelik daarop.
"So God created man in his own image,
a b
in the image of God He created him;
b' a'
male and female He created them"
b'' a''
+ Dis wel buite ons afgrensing, maar die stukkie digterlike ekstase in 2:23 (ESV) — as Adam sy
nuwe vrou sien — laat my glimlag (want verstaan ons mans dit nie!):
"This at last is bone of my bones
and flesh of my flesh;
she shall be called Woman,
because she was taken out of man."
+ 'n Sekere simmetrie is bespeurbaar as mens aandagtig na die ses skeppingsdae kyk. Die
herhaling van die lig-tema op dae 1 en 4 suggereer dit reeds.
Vroeg in die kerkgeskiedenis het Augustinus al hierdie raamwerk raakgesien (dae 1-3 en dae 4-6).
Hierdie simmetrie word baie algemeen aanvaar, hoewel verskillende kommentatore dit op
verskillende maniere bewoord — maar elke keer kom dit op dieselde neer.
+ + + +
Tabel 1: Die struktuur van Gen 1:3-23 : Die woonplek en die bewoners
Die woonplek Die bewoners
Dag Geskep Wat geskep Dag Geskep Wat geskep
1 Lig en Donker 4 Ligdraers
2 See en Lug 5 Seediere, Voëls
3 Land, See, Plante 6 Diere, Mense
Dag 7: God se voortgaande rus van sy skeppingswerk
= Miskien mag 'n leser voel dat die ligdraers van Dag 4 nie bewoners as sodanig is nie.
Ek verstaan die beswaar. Maar miskien lê die oplossing daarin dat die steeds bewegende ligdraers deur
daardie eenvoudige woestynreisigers gepersonifiseer is. Dit was algemeen in die antieke wêreld. Onthou,
ons kyk na 'n gedig.
= Die verdeling hierbo word waarskynlik bevestig deur Gen 2:1 —: "So is dan voltooi die
hemel en die aarde (die woonplek) met hulle ganse leërmag (die bewoners)".
# In Gen 1 word agt keer beklemtoon dat God met sy woord tot stand gebring het. Elke keer is dit die
inleiding tot 'n sukkie vier- of driereël poësie — gesamentlik die skeppingsgedig — soos hieronder getoon.
Sonder twyfel is die "skeppingsverhaal" doelbewus so geskryf.
+ + + +
Tabel 2: Die Skeppingsgedig
Gedig Dag Gedig Vers Aantal Reëls Oop
1 1 (a) God het gesê: laat ... 3
(b) en daar was / en dit was so 3 4 —
(c) toe sien God dit is goed 4
(d) dit was aand en môre, die eerste dag 5
2 2 (a) God het gesê: laat ... 6
(b) en daar was / en dit was so 7 3 c
(c)
(d) dit was aand en môre, die tweede dag 8
3 3a (a) God het gesê: laat ... 9
(b) en daar was / en dit was so 9 3 d
(c) toe sien God dit is goed 10
(d)
4 3b (a) God het gesê: laat ... 11
(b) en daar was / en dit was so 11 4 —
(c) toe sien God dit is goed 12
(d) dit was aand en môre, die derde dag 13
5 4 (a) God het gesê: laat ... 14
(b) en daar was / en dit was so 15 4 —
(c) toe sien God dit is goed 18
(d) dit was aand en môre, die vierde dag 19
6 5 (a) God het gesê: laat ... 20
(b) 3 b
(c) toe sien God dit is goed 21
(d) dit was aand en môre, die vyfde dag 23
7 6a (a) God het gesê: laat ... 24
(b) en daar was / en dit was so 24 3 d
(c) toe sien God dit is goed 25
(d)
8 6b (a) God het gesê: laat ... 26
(b) en daar was / en dit was so 26 4 —
(c) toe sien God dit is goed 31
(d) dit was aand en môre, die sesde dag 31
Dae 1 2 3a 3b 4 5 6a 6b
Aantal reëls 4 3 3 4 4 3 3 4
Oop reël — c d — — b d —
+ + + +
'n Nadere kyk na die teks self (Gen 1:3-2:3)
Die eerste dag (Gen 1:3-5)
# "En God het gesê ...". Hier, onmiddellik, is die Bybel in onversoenlike konflik met Darwinistiese
evolusionisme.2 God, en Hy alléén, is die Skepper!
Dis net Hy wat dit doen. En Hy skep deur slegs 'n bevel te gee. So is dit deurgaans (v.6, 9, 11,14, 20,
22, 24, 26). Die Hebreeuse woord (amar) het meer as een betekenis, maar hier dui dit op God se skeppende
bevel. Hy praat en dit gebeur!
Só stel Ps 33:9 (NAV) dit: " ... Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar." Psalm
148:5: "Hy het bevel gegee — en hulle is geskape." Ook Heb 11:3 sê, die wêreld is deur die woord van God
geskep.
Laat ons daarteen waak om ons besinning oor die skeppingsbeskrywings vorentoe anders as
Godgesentreerd te lees. Dis Hy en nét Hy wat skep. En Hy doen dit ter wille van Homself en Sy verheerliking.
# In teenstelling met die duisternis en onheil van v.2, skep God nou lig.
Lig is meermale in die heidendom van destyds as ewig en goddelik beskou. Maar hierdie
natuurwonder toon dit as net nóg 'n geskapene. Ten diepste wys v.3-5 heen na die almagtige en soewereine
Skepper — Hy en Hy alleen is die Lig.
# "Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis."
Dis oorwinningskrete. God het mag oor die duisternis — oor tohu wabohu, oor onheilspellende leegheid,
sinloosheid, onbeduidendheid, onherbergsaamheid.
Daar is waarskynlik 'n rede waarom lig eerste aan die orde is. Ten diepste wil hierdie verse oor méér
praat as energiegolwe of fotone wat teen 300 000 km/sek beweeg. Ja, natuurlik. Maar dit wil ons ten diepste
herinner aan die Skepper, die almagtige Skepper van lig — meteen ook die Oorwinnaar oor duistere
boosheid.
Só stel Joh 1:5 dit: "Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie." En Joh 8:12
dit: Jesus het vir die mense gesê: "Ek is die lig vir die wêreld. Wie my volg, sal nooit in die duisternis leef
nie, maar sal die lig hê wat lewe gee." En 2Kor 4:6 dit: God wat gesê het: "Laat daar lig skyn uit die duisternis,
het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van
Jesus Christus uitstraal."
Die drie uur pikdonkerte op Golgota spreek van die helse smarte, leiding en onheil wat Christus moes
verduur om diegene wat in die mag van die duisternis is te verlos. Hy het verduur wat hulle toegekom het,
sodat hulle die ewige lig en lewe kon kry!
Die tweede dag (Gen 1:6-8)
# Weer vind hier skeiding plaas — tussen waters bo en waters onder — met die uitspansel as skeiding
tussenin. Weer moet ons dit lees in die lig van v.2, die "wêreldvloed". Dit wat onheilspellend was se mag
word gebreek. Daar kom orde en skoonheid.
# Die woord, "uitspansel" (OAV), of "gewelf" (NAV) (ESV: "expanse" en in die voetnota, "canopy" of
"sky") is verwant aan die Hebreeuse werkwoord "om uit te sprei". Dis 'n beskrywing van die semi-sferiese
atmosfeer wat ons vanaf die aarde van horison tot horison sien. Hier in Gen 1 kom dit meermale voor, sewe
keer (v. 6; 7; 8; 14; 15; 17; 20).
Die derde dag (Gen 1:9-13)
# Nógeens is daar skeiding: God skep 'n woonplek vir die mens en landdiere op droeë grond deur die
waters eenkant te versamel. Hierin sit 'n voorlopigheid, 'n voorwaardelike, maar ná die vloed word die
skeiding permanent (Gen 9:11vv). Die belofte word elders in die Skrif herbevestig (Job 26:12; Ps 89:10; Ps
104:7-9; Jer 5:22).
Het jy opgelet? Elke keer as God in hierdie eerste drie dae skeiding bring, bewerkstellig Hy meerdere
orde. Dis elke keer 'n verdere regstelling van v.2 se wanorde.
# Daar gebeur egter méér op die derde dag. Plante word op die land geskep — elkeen na sy eie aard
Dit word drie maal herhaal. Let op die groot verskeidenheid.
Die vierde dag (Gen 1:14-19)
# Die aarde is reeds versier; nou volg die atmosfeer. Die hemelliggame word geskep, maar hulle sal
gewoon tekens en diensknegte wees — net "ligdraers". Die son en die maan sal prominent wees, elkeen
op sy manier. Binne die grense van sy skeppingsrol sal elkeen wel 'n heersersfunksie hê. Maar dit sal
dienende heerskappy wees (v.14-15).
Betekenisvol is dat die son en die maan bloot die "groot lig" en die "klein lig" genoem word.
Waarskynlik is dit om Israel se godsdiens duidelik te onderskei van die talle heidense godsdienste wat veral
die son en die maan vergoddelik het (Deut 4:19; Job 31:26-28).
Die vyfde dag (Gen 1:20-23)
# Nou breek die skepping van allerlei diere aan — waterdiere en lugdiere. Die aarde is besig om bevolk
te raak met lewende wesens.
# Opvallend is dit dat spesifiek van die "groot seediere" gepraat word. Die vertaling "seemonsters" sou
ook in orde wees. Die bepaalde Hebreeuse woord dui elders op bose en onheilspellende magte in die
waters. Weereens is hierdie wesens deur party heidenvolkere aanbid, maar hier word uitdruklik gesê dat
ook húlle bloot skeppinge van die ware God is.
'n Verder bevestiging van bogemelde is die feit dat nou eers weer vir die eerste keer ná v.1 die die
woord, "om te skep" (Heb. bara), gebruik word. Dalk is dit nog 'n beklemtoning dat selfs reuse van die see
niks anders as skepsele van die lewende God is nie. Dit herinner aan Ps 148:7: "Loof die Here ... groot
seediere en alle dieptes."
# Nog iets wat waarskynlik betekenisvol is, is dat God hier vir die eerste keer sy seën uitspreek oor een
van sy skeppingsdade. En let op, die seën hou verband met die seediere en voëls se voortplanting. En
inderdaad is verwekking en geboorte een van die wonderlikste verskynsels in die skepping. Sekerlik kan
ons ook hierin God se waarborg sien dat lewe op hierdie aarde sal bly voortbestaan.
Die sesde dag (Gen 1:24-31; vgl. ook Gen 2:7, 21)
# Nou bereik ons die hoogtepunt van God se skeppingswerk.
Die sesde dag, soos die derde, word in twee verdeel. Eers word die skepping van die landdiere
beskryf (v.24-25). Dan word die skepping van die mens beskryf (v.v.26-31). Let daarop hoe duidelik, met 'n
aparte, "En God het gesê" in v.27, die mens se skepping onderskei word van díé van die diere.
# In die hele skepping is die diere naaste aan die mens; anatomies verreweg nader as enige ander
skepsel. Tot so 'n mate gee God se Woord erkenning daaraan dat selfs die verbond met Noag ook met die
diere gesluit word (Gen 9:9-10).
Maar tog verskil mens en dier wesentlik.
3 Die dier is geheel-en-al die mens se mindere. Adam kan
daarom ook nie 'n metgesel onder hulle vind nie (Gen 2:20).
# Vir die eerste keer word daar klem geplaas op die drie Persone van die Drie-eenheid wat saamwerk:
"Laat ons mense maak ..." (v.26).
Van al die skeppingsdae is hierdie die gewigtigste — en die klimaks kom nog.
# As dit oor die mens gaan, word die woord, om te skep, beklemtoon. In teenstelling met die amper
huiwerige gebruik van die werkwoord tydens die voorafgaande dae (slegs v.21), word dit nou drie maal in
'n enkele vers herhaal en dus sterk beklemtoon — amper uitbundig (v.27): God het die méns geskep! (v.27).
Hier is ons by die kroon van die skepping!
Hier is die klimaks van die totale skeppingsgebeure. Die mens word radikaal van al die ander skepsele
onderskei — hy word na die beeld van God geskep!
Hierdie kwalifikasie is kardinaal belangrik vir die regte verstaan van ons onderwerp. Die driedubbele
herhaling beklemtoon dit onmiskenbaar (v.26-27).4 Die mens is die kroon, die piek, die kulminering van God
se skeppingswerk — om oor die aarde te heers. (v.26).
Tog, hoewel kroon en eintlik waaroor die hele skepping gaan, bly die mens niks meer as net 'n skepsel
nie.
# Betekenisvol is dit dat hier, reeds voor hoofstuk 2 se meer uitgebreide aandag daaraan, baie uitdruklik
vermeld word dat die mens as man en vrou geskep is (v.27).
Maar man en vrou verskil — hulle is nie net mense nie; hulle is man en vrou. Saam moet hulle oor
die aarde regeer (v.26). Elkeen het 'n eie rol.
Die sewende dag (Gen 2:1-3)
# Daar is 'n baie groot verskil tussen die eerste ses dae en die sewende dag. Die twee periodes word
onmiskenbaar onderskei.
Die skeppingswerk van dae 1-6 word baie uitdruklik en formeel in 2:1 afgesluit voordat oorgegaan
word tot mededelings oor die sewende dag: "So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse
leërmag."
Die fokus skuif nou weg van die geskapene na die Skepper self. Die debat oor hoe Gen 1-2 verstaan
moet word is dikwels té skeppingsgesentreerd — i.p.v. Godgesentreerd.
Ten diepste en in die finale analise gaan alles oor Hom, sy soewereine almag, sy eer! Dis sekerlik
betekenisvol dat in Gen 1 die Godsnaam 32 keer voorkom en 14 keer in Gen 2. Opvallend is die feit dat
daar nou geen mededeling is dat die sewende dag afgesluit is nie. Daar is geen aand nie. Meeste
kommentatore vertolk dit as 'n aanduiding dat God se skeppingswerk inderdaad afgehandel is en dat sy rus
steeds voortduur.
Natuurlik moet ons nie onaktiwiteit hierin lees nie. God se aktiewe instandhouding van die skepping
en sy regering daaroor gaan voort. Maar die verhoog vir die afspeel van die Godverheerlikende drama wat
volg, is in posisie geplaas. Alles is nou gereed om te begin.
# Uitdruklik word beklemtoon dat hierdie sewende dag deur God geseën en geheilig word (2:3). Nie
alleen die skeppingswerk self nie, maar ook die verdere verloop van die geskiedenis (insluitende Gen 3) sal
die eer en verheerliking van die Drie-enige Skepper dien!
# Hier lê die wortels van die Sabbatsgebod. Dis is 'n skeppingsverordening. Dis nie vir die eerste keer
in die Tien Gebooie nie. Dis nie net 'n tydsgebonde saak nie (Gal 3:28).
Die betekenis van "dag" (Heb: yôm)
# Daar is reeds vroeër beklemtoon (en hopelik oortuigend uitgewys) dat Gen 1 'n onmiskenbare
poëtiese karakter het (sonder dat die historiese uitgesluit is). Ons sou dit Die Skeppingslied kom noem. En
'n tipiese karaktertrek van poësie is dat gewone alledaagse begrippe simbolies gebruik word om 'n 'n dieper
betekenis te dra.
Dit behoort ons te waarsku dat die lengteduur van die skeppingsdae glad nie voorop is in Gen 1 nie.
Of die skeppingsdae 24-uur lank was of nie — hoe lank die "dae" dus geduur het — is glad nie wat God se
Woord hier wil beklemtoon nie. Dit sou goedskiks lang tydperke kon wees — selfs baie, baie lang bedelings.
Mens mag jou opinie hieroor hê, maar op Gen 1 kan jy dit nie begrond nie.
Wat myself betref, handel dit eintlik die dag-kwessie af.
# Maar dalk is daar lesers wat steeds nie oortuig is van die poëtiese aard van Gen 1 nie, en gevolglik
daarop aandring dat ons in terme van gewone en letterlike 24-uur dae moet dink.
Baie mense redeneer só: "Die Bybel praat van ses dae, en vir my is dit genoeg! So, en nét so vat ek
dit! Dit staan geskrywe en daarvan kan niemand verskil nie. 'n Dag is 'n dag!"
Maar so eenvoudig is dit nie!
Kom ons praat dus kortliks oor die begrip "dag" in die Ou Testament.
+ In enige taal word letterlike uitdrukkings gebruik as beeldspraak. En almal verstaan dit. Ek sou
kon sê: Op sy dag was hy 'n haan onder die henne! Ek gebruik gewone woorde met letterlike betekenisse.
Maar niemand dink ek praat van regte hoenders nie.
Net so kan "aand" en "môre" dui op die aanvang en einde van 'n korter of langer periode: Oom Klaas
het nou die aand van sy lewe bereik; hy durf nie langer sy kar self bestuur nie. Dis beeldspraak wat almal
verstaan. Almal begryp dat dit nie letterlik bedoel word nie.
Die Bybel — waarskynlik alle tale — is van hoek tot kant vol beeldspraak. Woorde met 'n letterlike
betekenis word gebruik om allerlei idees te kommunikeer.
Dit geld ook vir die begrip yom in die Ou Testament, waar dit dosyne kere voorkom en talle inhoude
het. Reeds in Gen 1-2 kan ons drie verskillende betekenisse onderskei.
= Een rotasie van die aarde om sy eie as — dus 24 uur. Ons praat van die refrein, "dit
het aand geword en dit het môre geword. Dit was die soveelste dag." Hier word gepraat van 'n dag van
24uur (Gen 1:5b; 8; 13; 19; 23).
= Die tyd van daglig teenoor die tyd van donkerte: "God het die lig toe dag genoem, en
die donker het Hy nag genoem" (Gen 1:5; 14; 16; 18). Dis daardie tyd van die dag as die son skyn.
= Enige tydperk waar horlosietyd nie ter sprake is nie — gewoonlik langer as 24 uur
(benewens Gen 2:2, 2; 2:3, ook Gen 2:4; 2:17). Dis gewoon 'n tydperk, ongeag hoe lank. Tydsverloop is
glad nie ter sprake nie.
+ Hoe lank was die skeppingsdae? Die antwoord is eenvoudig: Ons weet nie! Suiwer volgens
die betekenis van die woord kan mens nie uitsluitsel kry nie.
En let op, as ons in terme van tydperke dink, hoef die "dae" nie ewe lank te wees nie. Of dit 24 uur
is, of dermiljoene jare, maak dan nie meer saak nie; dit was skeppingsbedelinge.
Nog 'n keer: die sesde dag
# Oor die dúúr van die skeppingsdae, is die sesde dag baie insiggewend (Gen 1:24-31; 2:7-25).
# Op die sesde dag het ontsaglik baie gebeur. Wat beskryf word het onmiskenbaar meer as 24 uur
geduur. Ons praat van jare, dalk dekades, selfs dalk baie langer.
+ God skep "uit die grond" (NAV) drie soorte diere — mak diere, kruipende diere en wilde diere
— al die verskillende soorte (Gen 1:24-25; 2:19-20; NAV).
Hy bring dan ál die wildediere en voëls na Adam toe (2:19-20). Die indruk word geskep dat ons nie
net aan 'n paar soorte moet dink nie, maar bes moontlik aan 'n groot getal spesies.
Adam gee dan name vir die diere en voëls, volgens hulle aard. Die NAV vertaal: hy moes vasstel hoe
hy elkeen sou noem (Heb. "om te sien" hoe hy hulle sou noem. Vgl. ESV, NASV, NIV: "to see"). Hy moes
hulle dophou en bestudeer en volgens hulle karaktertrekke benaam. Dit moes baie tyd geneem het, bes
moontlik jare, selfs langer.
Dit lyk verder of Adam terwyl hy hiermee besig was, na 'n vrou verlang het — n.a.v. wat hy in die
dierewêreld gesien het. Maar onder die diere kon hy nie een vind nie (2:20).
+ Eers het God Adam geskep; nog nie vir Eva nie (2:7). Ons kan dit nie met sekerheid sê nie,
maar dit lyk of Adam dan 'n tuin plant wat hy moes bewerk en bewaak (2:15).
Let daarop dat verse 15-16 van Adam in die enkelvoud praat (vgl. ESV). Dit lyk verder of die bome
groot geword en begin vrugte dra het, wat Adam kon geniet (2:8-9; 16-17).
+ Eers dán, na die naam-gee van die diere, word Eva geskep (1:26-29; 2:7; 2:15-18; 2:21-25).
In hoofstuk 1 word die skepping van Adam en Eva in dieselfde asem genoem (1:26-29). Maar hier lyk dit
asof 'n lang tyd verloop het tussen die twee se skepping.
+ In v.23 is daar 'n mededeling wat mens maklik miskyk. As God in v.22 vir Eva na die mens
toe bring, roep hy uit, "eindelik"! Die Hebreeus sê letterlik, "nou uiteindelik!". Die ESV vertaal, "This at last
is bone of my bones ...". Dis 'n opgewonde uitroep na 'n lang wag!
# Duidelik het ten minste die sesde dag nie net 'n dag geduur nie, maar baie langer. Ons mag dalk van
dekades praat, of nog langer, selfs dalk baie, baie langer. Daar was genoeg tyd voor, want Adam het
horingoud geword — 930 jr (Gen 5:5).
En as dit dan van die sesde dag geld, waarom nie ook van die voorafgaande dae nie?
'n Paar gevolgtrekkings
# In hierdie en die vorige Herout het ons redelik deeglik na Gen 1-2 gekyk. Dit stel ons in staat om 'n
paar ankerpenne in te slaan.
+ Een, hieroor kan mens jou kop op 'n blok sit: God se besondere openbaring in die Heilige Skrif
en Sy algemene openbaring in die mikro- en makroskepping, weerspreek mekaar nie. As skriftuur en natuur
nog uit pas is in ons verstaan daarvan, is dit omdat ons óf die een, óf die ander, óf beide nog nie reg begryp
nie. Dit staan aksiomaties vas! Waarom? Die antwoord is voor die hand liggend en onontkombaar: Die
enige, ware, lewende en almagtige Skeppergod is die Maker en Gewer van beide!
Ek stel die eerste sin hierbo doelbewus negatief. Want die twee openbarings se aard is verskillend
en hulle het grootliks uiteenlopende gerigthede. Hulle praat grootliks oor verskillende sake. Daar is nie baie
oorvleueling nie. En tóg is daar wel baie belangrike raakpunte — soos hier in Gen 1-2.
Die Bybelgelowige en regsinnige Charles Hodge skryf iewers: "It is of course admitted that, taking
[the Genesis creation] account by itself, it would be most natural to understand the word ["day"] in its ordinary
sense; but if that sense brings the Mosaic account into conflict with facts, and another sense avoids such
conflict, then it is obligatory on us to adopt that other .... The Church has been forced more than once to
alter her interpretation of the Bible to accommodate the discoveries of science. But this has been done
without doing any violence to the Scriptures or in any degree impairing their authority."5
Let op, wat Hodge hier sê, is dat ons nie maar sommer wetenskaplike bevindings moet geringskat en
afskryf nie. Sy implikasie is duidelik: Laat ons as Bybelgelowiges maar nederig wees as ons verstaan van
die Skrif en die bevindings van die wetenskap mekaar weerspreek. Laat ons onsself dan in eerlikheid afvra
of ons wel die Skrif reg verstaan.
Laat ons dus maar weer en weer teruggaan na die Bybel toe. Semper Reformanda!
+ Twee, Gen 1:1-2 leer onmiskenbaar dat "die hemel en die aarde" bestaan het vóórdat die ses
dae wat vanaf v.3 beskryf word, gebeur het. Hoe lank terug dit wat hierdie verse beskryf gebeur het en hoe
lank dit geduur het, word gladnie vermeld nie.
Dit is 'n baie algemene konsensus in die natuurwetenskappe dat die kosmos 13,7 biljoen jaar gelede
ontstaan het, en die aarde 4,5 biljoen jaar. Natuurlik kan hierdie syfers nog weer verstel word.
Sekerlik skep Gen 1:1 die indruk dat die hemel en die aarde sáám geskep is. Maar as mens alles in
ag neem wat ons in ons eksegetiese studie gesien het, meen ek tog nie dit hoef 'n té groot probleem te
wees nie. Onthou vir wie die hierdie hoofstukke geskryf is en dat ons hoofstukke nie 'n wetenskaplike
dokument is nie.
+ Drie, wat die duur van die skeppingsdae betref, waarsku die duidelik poëtiese aard van die
beskrywing ons om nie halstarrig aan te dring op 24-uur dae nie. Dit sou Bybels goedskiks kon dui op lang
tydperke — selfs baie, baie lang bedelings. En as ons die getuienis van die wetenskappe in ag neem, dui
alles daarop dat dit inderdaad die geval was.
Hierdie "dae" was ook nie noodwendig ewe lank nie.
+ Vier, mens durf nie té veel maak nie van die skeppingsvolgorde soos in die ses dae uitgespel.
Daarvoor is daar 'n té onmiskenbare oorvleueling tussen dag 1 en dag 4. Ook moet die digterlike aard van
die beskrywing ons op ons hoede stel.
+ Vyf, tog kan die historiese dimensie van die skeppingsbeskrywing nie oorboord gegooi word
nie. Dit mag dalk nie chronologies uiteengesit wees nie, maar dit hét gebeur. En die ewige ongeskape
Skepper het dit soewerein en baie doelbewus tot stand gebring — in sy almag, ordelik, en baie doelgerig.
+ Ses, ek is bewus daarvan dat hierdie twee Heroute nie alle vrae wat ons mag hê, beantwoord
nie. Sekerlik is daar nog onsekerhede. Op sommige sal die wetenskap meer lig werp soos dit verder
ontwikkel, maar wat baie ander onsekerhede betref, sal ons eers in die hiernamaals kloutjie by die oor kry.
+ Sewe, persoonlik is ek daarvan oortuig dat niks in Gen 1-2 Bybelgelowiges in 'n
onversoenbare botsing bring met die wetenskap van ons dag nie. Trouens, die snel-ontwikkelende
natuurwetenskappe bevestig die waarheid van Gen 1-2 (uiteraard reg verstaan) al hoe meer.



• Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis (soos
meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde
evangeliese gelowiges en gemeentes in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale in Engels per
e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnetsuite No. 148, Privaatsak X1,
Northcliff, 2115, Suid-Afrika; E: nico.vanderwalt@reformed.org.za; T: 082 848 9396.
• Webwerf: www.imagodei.org.za
• Nico het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna vir 'n dekade as Siviele Ingenieur gewerk (as
konstruksieingenieur en dosent). Na 'n radikale Christelike bekering en daaropvolgende teologiese studie aan die
Potchefstroomse Universiteit, was hy vir ongeveer dertig jaar veral pastor van twee gemeentes in die Vaaldriehoek en
Pretoria. Hy was ook vir meer as 'n dekade dosent aan die Lynnwoodrif Bybelskool. Die afgelope paar jaar wy hy meeste
van sy tyd aan skryfwerk en prediking waar hy ook al uitgenooi word.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 5034
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Ma Jul 27, 2020 5:41 pm

Hiermee Herout 69.
Meeste van julle kry dit nou vir die eerste keer. Dit handel oor God se skepping na die beeld van God. As jy dit nog nie gelees het nie, lees dit nou asseblief en maak dit 'n integrale deel van jou geloofslewe. Waarom? Dit gaan oor een van die belangrikste temas in die Bybel en is van baie groot praktiese belang. Dit loop soos 'n goue draad regdeur die Skrif en koppel die heel eerste hoofstuk daarvan en die heel laaste hoofstuk wonderlik aan mekaar vas. Die studie het enorm baie vir myself beteken. Dis in die volste sin van die woord fundamenteel.

jbiC

Nico


*********


ANTIPAS HEROUT

Antipas, My getroue getuie (Op 2:13)

No.69

'N STUDIE VAN GENESIS 1-2 (3)

Genesis 1:26-27

God se beeld in die mens


Nico van der Walt




"So God created man in his own image,
in the image of God He created him;
male and female He created them"
Genesis 1:27 (ESV)
Enkele inleidende opmerkings
#1 Ons wil nou kyk na een van die belangrikste en mees fundamentele temas in die Woord van
die Here. Mens sal dalk 'n saak daarvoor kan uitmaak dat dit in 'n sin die hartstema van God se
Woord is — in elk geval één van die hartstemas.
God het nog nooit afgesien van sy oorspronklike skeppingsdoel nie. Daar was 'n uiters belangrike
rede waarom Hy as die soewereine Skepper en Eienaar van die ganse kosmos die sondeval
toegelaat het, maar dis nie nou ons tema nie. Nou wil ons fokus spesifiek op die beeld van God en
die herstel daarvan in die mens nadat dit ernstig gebreek het te wyte aan die sondeval.
Verwaarlosing van hierdie saak — 'n Bybelse summum bonum — het dwarsdeur die geskiedenis
tot ernstige prioriteitskeeftrekkings in teologie, kerk en sending gelei. En dis steeds dwarsoor die
wêreldwye kerkspektrum aan die orde van die dag. Dit gee helaas aanleiding tot baie veragting vir
die evangelie en die institusionele kerk — en natuurlik bring dit mee dat miljoene die rug draai op
die evangelie van Christus en die Christus van die Evangelie.
Waarvan praat ek?
# Sonder enige twyfel is die skepping van die mens die hoogtepunt van die sesdae skepping
in Gen 1:3-2:1. Verreweg die meeste aandag word daaraan gegee in Gen 1 en veral in Gen 2. En aan die hart van die mens se skepping is die feit dat hy na die beeld van God geskep is. Niks
belangriker word van die mens gesê nie. In Gen 1:26-27 lei die Heilige Gees Moses om dit 3 maal
direk na mekaar te herhaal!
Dit wil vir ons sê dat ons baie, baie goed daarvan moet kennis neem.
# As ons besin oor presies wat die mens is, is die feit dat hy na God se beeld en gelykenis
geskape is sekerlik aan die hart van die antwoord. Dít is wat hom totaal onderskei van en uitlig bo
die res van die skepping. Dit maak die mens uniek, uniek, uniek in God se skepping.
Dit sit in die spesifieke woorde wat gebruik word, die beeld en gelykenis van God. Waarom
hierdie spesifieke woorde? Waarom word nie ander begrippe gebruik nie? Dis omdat daar iets waar
is van die mens, wat ook waar is van God. Ek is 'n afskynsel van God! Nog meer, hoewel ek dit met
huiwering en daarom baie gekwalifiseerd sê: in die mens sit 'n vonk van goddelikheid!
+ Presies hier, meen ek, het ons die verskil tussen Adam en Eva en hulle nageslag,
enersyds, en die oermense wat volgens die paleontologie so lank terug soos 2,8 miljoen jaar gelede
reeds geleef het, andersyds (reg of verkeerd). Adam en Eva is na die beeld van God geskep. Van
laasgenoemdes glo ek nie was dit waar nie. Ja, ja, hulle het in sekere opsigte toenemend tipies soos
mense geraak, maar niks daarvan dui op die beeld van God soos ons dit algaande sal verstaan nie.
Daar mag nou lesers wees wat glo dat daar nie soiets soos oermense was nie. Ek meen
egter dat daar in Genesis wel sprake is van sulke wesens. Daar word bloedweinig oor hulle gesê.
Mens kan dus nie seker wees van my versigtige stelling so pas nie. Maar lees mens Genesis kry jy
wel die indruk dat hulle bes moontlik nie van Adam en Eva se nageslag was nie.
Neem byvoorbeeld Gen 6:1-4 wat praat van die "Nephilim" (ESV), oftewel "reuse" — die
"geweldiges uit die ou tyd" — wat in daardie dae op die aarde was. Dis Kain, die éérste seun van
Adam en Eva, wat teen hulle gewaarsku word.2 Wie was hulle, waar het hulle vandaan gekom?
# Maar terug na Adam en sy nageslag wat na God se beeld geskape is. Mens dink
onwillekeurig aan Ps 8:6: "U het hom 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met
eer en heerlikheid gekroon" (OAV). So stel die DAV dit: "U het hom net minder as 'n god gemaak; U
het hom met majesteit en glansrykheid gekroon."
'n Nadere kyk na Gen 1:26-27
# Die English Standard Version lig die gereelde poëtiese elemente in die Bybel uit — spesifiek
hier in Gen 1-2 — deur dit in versvorm te druk. Dit geld ook Gen 1:27.
"So God created man in his own image
a b
in the image of God he created him
b' a'
male and female he created them."
b" a"
# Sowel man as vrou is na God se beeld geskep (Gen 1:27; Gen 5:1-2).

# Genesis 1:26 gebruik 2 woorde om oor hierdie saak te praat: "beeld" en "gelykenis" (ESV:
"image"; "likeness").
+ Die woord "beeld" (Hb. tselem) dra die idee van verteenwoordiging.
In die antieke wêreld was dit tipies dat 'n koning of vors 'n beeld of afgod van homself iewers geplaas
het om sy soewereiniteit in daardie gebied te simboliseer. Hierdie woord wil dus sê dat God die mens
op die aarde geplaas het om Hom te verteenwoordig.
En aangesien die woord kóningskap impliseer, wil hierdie tipering van die mens sê dat God die
mens in die skepping geplaas het om namens Hom te regeer.
+ Die woord "gelykenis" (Hb. demuth) praat van 'n patroon of 'n vorm — 'n afbeelding
van iets oorspronklik. Hier in Genesis wil dit vir ons sê dat die mens volgens die patroon van God
geskape is. Mens hoor soms dat mense van 'n seun sê dat hy op 'n haar na sy pa trek — wat
persoonlikheid en gedragspatrone betref. Dit word byvoorbeeld in Gen 5:3 van Set gesê dat hy 'n
"gelykenis" en "ewebeeld" van sy pa, Adam was.
So was die ongevalle mens 'n gelykenis van God.
+ Calvyn is waarskynlik reg as hy geen teologiese verskil tussen beeld en gelykenis
sien nie. Hulle word as sinonieme ter wille van beklemtoning gebruik.3
Wat presies is die beeld van God in die mens?
# Hierdie is geen maklike vraag om te antwoord nie. Baie is deur die eeue al daaroor
gespekuleer en geskryf. En uiteenlopende opinies daaroor is aan die orde van die dag.
Wat onderskei die mens van die dier? Daar is sóveel ooreenkomste, veral met sekere diere. Maar
die beeld van God lê nie in voorkoms nie; ewe min is dit anatomies of fisiologies. Dit gaan oor iets
veel dieper.
# Baie Skrifuitlêers poog om 'n antwoord op die vraag in die onmiddellike konteks te vind. Dis
'n baie gesonde beginsel van Skrifuitleg, maar in hierdie geval help dit ons nie baie nie. Ons sal wel
weer terugkeer na Gen 1-3 toe. Maar eers sal ons wyer in die Skrif moet kyk om 'n waterdigte
antwoord te kry op die vraag: presies wat is die beeld van God?
Ou Testamentiese openbaring
# Kyk ons na die res van die Ou Testament kry ons nog nie die antwoord waarna ons soek nie.
Mens kan dit beswaarlik glo, maar die ganse Ou Testament verwys net nog twee keer in soveel
woorde uitdruklik na God se beeld (Gen 5:1-3; 9:6).
Net een nuwe, maar belangrike waarheid kom hier na vore.
+ Die beeld van God het na die sondeval steeds essensiëel behoue gebly in alle mense.
Die sondeval het dit wel ernstig beskadig, maar dis nie heeltemal uitgewis nie. Dis soos 'n spieël wat
geval het en van hoek tot kant gekraak is, maar mens kan jou beeld nog steeds daarin uitmaak,
weliswaar nie naastenby akkuraat en in besonderhede nie. (Gen 5:3; 9:6; vgl. ook Jak 3:9).
+ Duidelik is die beeld nie in alle mense ewe veel gekraak nie.
Onder gevalle mense is daar talle wat besonder ordentlik en moreel is. En baie dikwels is dit te
danke aan die feit dat die mens ongeneeslik godsdienstig en as 'n reël baie moreel is — helaas
sonder dat hulle met Christus verenig en gered is. Hoeveel is daar nie in ons land nie!; trouens,
kerkbanke kreun Sondag na Sondag onder diesulkes. Cornelius in Handelinge is 'n uitnemende
voorbeeld (Hand 10:2; 11:14).
Dan is daar díé aan die ander kant, hulle in wie amper niks van die beeld tot uitdrukking kom
nie. Is die Bybel en geskiedenis en koerante nie van hoek tot kant vol oor diesulkes nie?
# Laat die feit dat ons uitdrukking, benewens die 3 keer in die verse waarna ons tans kyk, slegs
nog 2 keer in die Ou Testament voorkom – en hier baie vroeg in Genesis (Gen 5:1; 9:6) — ons
waarsku om nie bloot die belangrikheid van 'n Bybelse begrip te meet aan hoe dikwels die Skrif
daaroor praat nie.
# Vir eers net nog een opmerking voordat ons later terugkeer na Genesis. Die feit dat die
uitdrukking, die beeld van God, so skraps voorkom in die Ou Testament, moet ons nie verlei om te
dink dat die res van die Ou Testament die feit verwaarloos of ignoreer nie. Die teendeel is waar!
Die Nuwe Testamentiese openbaring
# As ons nie ons antwoord in die Ou Testament kry nie, is daar wel 'n paar Nuwe
Testamentiese uitsprake wat ons help. Dáár vind ons die antwoord glashelder duidelik.
# Die beeld van God word gesien in die herskepping van die gevalle mens na die beeld van
God. Dit gebeur natuurlik in Christus en slegs so. Dis iets wat elke wedergeborene
proefondervindelik ken, want in sulke begenadigde mense het die Here God sy geruïneerde beeld
herskep en is Hy besig om dit te herstel.
+ 2Kor 3:18 (DAV): "En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van
die Here aanskou soos in 'n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid,
soos afkomstig van die Here, die Gees."
+ Ef 4:24 (DAV): "Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na
God se beeld geskep is."
+ Kol 3:9-10 (DAV): "Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy
gewoontes uitgetrek het en die nuwe mens wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper
vernuwe word, aangetrek het."
# Wat sien ons in bogenoemde verse? Die beeld van God kom op 3 intiem verweefde maniere
tot uitdrukking.
+ Eerstens dui dit op kennis (Kol 3:10; Gr. epignosin).
Vir seker lê dit nie in kennis sonder meer nie. Daaraan het die gevalle en ongelowige wêreld
geen gebrek nie.
Neem ons die Skrifopenbaring in sy geheel in ag, kan jy tot geen ander gevolgtrekking kom
nie as dat dit van Godskennis praat. Meer as enigiets anders is dit waarvoor die apostel Paulus hom
in die gemeentes beywer het (vgl. Kol 2:1-3).
Die sentraliteit hiervan word ook onderstreep in Joh 17:3 waarna ons reeds verwys het.
+ Tweedens praat dit van ware geregtigheid (Gr. dikaiosunē).
Hierdie woord kom baie algemeen in die Nuwe Testament voor (92x). Dit verwys na een van God
se attribute. Maar hier dui dit kennelik op 'n lewenswyse wat God behaag en verheerlik — spesiek
naasteliefde en -diens.
Die Here Jesus gebruik die woord in laasgenoemde sin baie dikwels: dit wat volgens God se wil is
(Matt 5: 5, 6, 10, 20; Joh 16:8, 10); dit wat Hy voorgeskryf het en dus deur die mens gehoorsaam
moet word (Mat 3:15; 21:32; die somtotaal van van God se opdragte (Mat 6:33); godsdienstige pligte
(Mat 6:1 ens.). Ook die apostels gebruik die woord so.
Hier in Ef 4:24 word geregtigheid in 'n etiese sin gebruik. 'n Baie gerespekteerde
Amerikaanse teoloog stel dit só: "moral rectitude toward one's neighbour." 4
+ Derdens praat dit van heiligheid (Gr. hosiotēs).
Hierdie spesifieke Griekse woord kom slegs tweemaal in die Nuwe Testament voor. Dit is dus nie
die gewone woord wat gebruik word vir heiligheid nie.
Die ander voorkoms daarvan is in Lukas 1:75, waar dit vir ons 'n aanduiding gee hoe ons dit moet
verstaan. Dit praat van heiligheid "voor die Here".
Die DAV vertolk dit as hóé 'n mens moet leef. Die NAV vertaal dit met "vroomheid".
# Die bekendste belydenisskrifte verwoord dit presies soos ons dit hierbo verstaan.
+ So stel die Heidelbergse Kategismus dit: Vraag 6: Het God die mens dan so sondig
en verkeerd geskep? Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep (b). Dit
beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte
kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys (c).
+ Die 1689 Baptistebelydenis (4.2) en Westminster Confession (4.2) is soortgelyk.
Die beeld van God in die mens, Christus Jesus

# God begin met 'n nuwe skepping as die tweede persoon van die Drie-eenheid volkome mens
word. Ook hierdie nuwe skepping het 'n hoof: Jesus van Nasaret -- "die tweede mens"; "die laaste
Adam" (1Kor 15:45-47).
Wanneer het die nuwe skepping dus 'n aanvang geneem? Veertig weke voordat Maria in Bethlehem
gekraam het! As jy wil, 9 maande voor wat ons nou kersdag noem. Uiteindelik is daar weer 'n
volmaakte beelddraer van God!

+ Daar is 'n rede waarom Hy nie die tweede Adam genoem word nie. Sy menswording
was nie 'n weer-probeer, in die hóóp dat Hy suksesvol sou wees nie. Nee, nee! Hy was die
allerantwoord om 'n gevalle skepping te red. As Hy nie sou slaag nie — ondenkbaar! — sou niemand anders dit kon doen nie. Hy was en is die "lááste Adam" wat sonder enige twyfel sou slaag. God kan
nie in die uitwerk van sy raadsplan misluk nie!

# Dit beteken nie dat Jesus nie versoek is om sy sending die rug te keer nie. Hy is 'n duisend
maal meer intens as die eerste Adam getoets. Dwarsdeur sy lewe moet Hy volkome heilig en
gehoorsaam aan sy Vader leef, ten spyte van die ergste weerstand. Sy versoeking in die woestyn
is 'n openlike en meedoënlose aanslag van die duiwel — ses weke lank (Mat 4:1-11; Mark 1:1213;
Luk 4:1-13). En uiteindelik kom alles tot 'n verskriklike klimaks as Hy Homself moet oorgee om
gekruisig te word.
Waarlik sy "proefgebod" was 'n duisend maal erger en werkliker as die van die eerste Adam.
Laat ons nie die intensiteit daarvan onderskat nie. In Getsemane het Hy bloed gesweet!

# Maar, die laaste Adam het nie misluk nie! Hy het sy toets geslaag! Versterk deur die Heilige
Gees, het Hy volmaak gehoorsaam aan die Vader gebly!
Nooit kan ons dankbaar genoeg wees vir Jesus se getrouheid aan sy roeping om die Hoof
van God se nuwe skepping en Verlosser van die uitverkorenes te wees nie! In Hom het die nuwe
skepping 'n ewig onwankelbare werklikheid geword.

# As ons dus wil weet hoe die beeld van God in ongebrokenheid en volmaaktheid in 'n mens
hier op aarde lyk, moet ons na Jesus kyk.

+ Joh 14:9: Jesus sê: "Wie My gesien het, het die Vader gesien."

+ Kol 1:15 : "Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die Eersgeborene oor die
hele skepping." Die Grieks vertaal met "beeld" hierbo, is eikon. Die ooreenstemmende Hebreeuse
begrip in die Ou Testamentiese is tselem. Die woord dra die idee van verteenwoordiging en
manifestasie. God is gees en is as sodanig onsigbaar vir die menslike oog, maar Jesus was God
wat mens geword het. Hy het God aan ons kom openbaar.

+ Heb 1:3: "Hy is die uitstraling van God se heerlikheid en die ewebeeld van sy wese."
Die Griekse woord vir "ewebeeld" is charakter. Dit dui, baie betekenisvol, op die afdruksel
van 'n vorm in klei of op 'n muntstuk. Jesus het baie presies en betroubaar vir ons kom wys wat die
onsigbare God wil hê ons oor Hom moet weet — sodat ons dit kan verstaan en Hom mag ken.

# In die lewe van die Here Jesus hier op aarde sien ons by uitnemendheid die beeld van God
gedemonstreer. In Hom sien ons hóé die beeld van God volmaak in 'n mens in hierdie lewe tot
uitdrukking kom. Hy het dit uitgeleef en vertoon.

+ Dis waarheen ons in wie God se beeld aan 't vorm is op pad is! Dis waaroor ons
heiligmaking gaan. Dis 'n belangrike deel van ons hemelse Hoëpriester se voorspraak vir elkeen wat
aan Hom behoort. Dis die fokus van die Heilige Gees se heiligmakende werk. Dis wat ons moet
najaag — om meer en meer soos Jesus te word. Hierop moet ons heiligmakingsvisier deurgaans
korrel. Dis by uitnemendheid die Here se wil vir sy kinders. Wie dit mis, mis iets wat aan die hart van
die ware Christelike lewe lê.
+ "En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou
soos in 'n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig
van die Here, die Gees" (2Kor 3:18).

+ "Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek
het en die nuwe mens wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word, aangetrek
het" (Kol 3:9-10).

+ Kan jy sien, dis waarom die Skrif ons oproep om in Jesus se voetspore te volg, want
Hy was die uitnemende en volmaakte voorbeeld en demonstrasie van God se beeld in 'n mens. Hy
is ons standaard, ons voorbeeld, ons mikpunt en strewe om dit meer en meer te beleef en te vertoon.
En mag ek weer herinner: dit gaan oor liefde vir en gemeenskap met God Drie-enig; oor 'n
heilige lewe; oor naasteliefde en diensbaarheid.
# Ja, ja, laat ek ook dit nogeens sê — anders as in sy geval, is God se beeld in óns nog
onvolmaak. Ons is nog in 'n hewige stryd met die vlees gewikkel. Oorblywende sonde is nog 'n
tragiese werklikheid in ons lewens.
Ons is nog onderweg. Elke ware Christen weet dit baie goed.

# Maar dit staan vas, 'n sekere en inderdaad toenemende gelykvormigheid aan die beeld van
Christus is 'n werklikheid in elke wedergebore mens. Volgens 1Joh 3:9 is oorwinning oor sonde nou
reeds die tipiese van egte Christenskap (die ESV en NIV vertolk die Grieks reg: "No one born of God
makes a practise of sinning ... he cannot keep on sinning ...").
Daar is dus vordering. Steeds. Dag na dag; jaar na jaar. Moeisaam inderdaad. Stampe en
stote en mislukkings en terleurstellings en trane — helaas dikwels. Die pad is steil. Maar dis opwaars
— hoër en hoër en hoër. Elke dag is die oorblywende pad na die wenpaal toe korter. Die voltooide
en volmaakte beeld van Christus kom al hoe nader!
Gemeenskap met God! Heiligheid voor Hom! Die liefde van Hom!
Na bo. Na binne. Na buite!

Terug na Genesis vir 'n aantal laaste perspektiewe

# Eerstens. Voor die sondeval was Adam en Eva se gemeenskap met hulle Skepper sekerlik
die hoogtepunt van hulle bestaan.
Volgens v.8-10 wandel God nogeens vroegaand in die tuin. Hy mis dan die mens en roep
hulle. Hulle kruip gevolglik uit hulle skuiling uit en bieg dat hulle ongehoorsaam was en gevolglik
bang en skaam en sku is vir Hom.
Die mens se liefde vir en gemeenskap met God het helaas tot 'n einde gekom. Sy beeld in
hulle het gebreek! Hulle gemeenskap met en liefde vir Hom is ernstig geskaad.

+ Maar let op, hulle kon steeds op 'n manier met Hom kommunikeer. Sy beeld in hulle
is nie heeltemal vernietig nie (Gen 3:9vv). Onwedergebore mense kan sekerlik op 'n manier in gees
(in opregtheid) en waarheid (volgens die Woord) bid (Joh 4:20-24). Wanneer dit egter gebeur, is
dit bes moontlik alreeds 'n voorbereidende en oortuigende werk van die Heilige Gees.
+ Is dit 'n oorspanning van hierdie verse as mens aflei dat die aandwandeling 'n
gebruiklike tyd van saamstap was vir die Here en die die kroon van sy skepping — 'n tyd van innige
liefdesgemeenskap? Is dit dalk die rede waarom God na hulle geroep het? Ek meen so. Dit maak
alle sin om dit so tussen die reëls te lees — veral as ons dit lees in die lig van dit wat ons reeds tot
nou toe gesien het.

# Tweedens. Soos gesien is naasteliefde deel van God se beeld in die mens.

+ Gewis kom die hoogste en intiemste uitdrukking van naasteliefde in hierdie lewe tot
uitdrukking in díé huweliksverhouding tussen man en vrou (mits dit is wat dit moet wees; sekerlik so
in die mens se lewe voor die sondeval). Dit kom na vore onmiddellik nadat gesê is dat God die mens
na sy beeld geskep het.

+ Die liefdeseenheid in die huwelik kom in 'n besondere sin tot uitdrukking in Adam en
Eva se seksuele eenwording. Ons lees in 2:24: "Daarom sal 'n man sy pa en ma verlaat en saam
met sy vrou lewe, en hulle sal een word."
Hier kom die gewigtigheid van die sewende gebod en die huwelik ook na vore. As mens
bogenoemde verstaan, maak dit soveel meer sin van God se ernstige veroordeling deurgaans in die
Skrif van sondes soos egbreek, egskeiding, homoseksualisme, hoerery en perversiteit. Selfs in die
gevalle mens doen dit geweld aan dit wat van die beeld van God in hom oorgebly het.

+ Net 'n laaste opmerking oor die man en die vrou. Hulle gelykwaardigheid blyk onder
meer in die wyse waarop die vrou geskep word — uit die man se ribbebeen, uit sy eie liggaam. Hulle
is van dieselfde soort. Beide is na God se beeld geskep. Tog verskil hulle. Hoewel Adam geweet het
die vrou het uit sy liggaam voortgekom, kon hy sien dat sy van hom verskil. As hy haar sien, bars hy
uit in die heel eerste liefdeslied in die geskiedenis. Die ESV onderstreep die poëtiese in Gen 2:23:

"This at last is bone of my bones and flesh
of my flesh; she shall be called Woman,
because she was taken out of man."

Benewens die versvorm blyk die poëtiese voorts in die oorspronklike woorde vir die vrou
(ishshah) en die man (ish).
Hoeveel gedigte is daar nie sedertdien oor die liefde tussen man en vrou geskryf nie!

# Derdens. Ons vertoon God se beeld as ons met die regte gesindheid werk, van harte soos
vir Hom.

+ Skaars het God besluit om mense na sy beeld te skep, dan gee Hy vir hulle werk.
Hulle moet heers oor die diereryk (Gen 1:26). Ek meen nie ons sal mistrap as ons die reikwydte
daarvan uitbrei na die hele natuur toe nie. Die mens is rentmeester van die aarde en alles wat daarby
inbegrepe is.
Laat ons dus voor God se aangesig werk, ten diepste tot sy eer. Miskien haal ek Kol 3:17
ietwat buite konteks aan, maar ek meen die beginsel is ook van toepassing op ons elke dag se arbeid: "En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus,
terwyl julle God die Vader deur Hom dank."

+ Ook God werk. Die beeldspraak wat gebruik word is insiggewend. Hy word voorgestel
as 'n pottebakker wat die mens uit klei maak (Gen 2:7), as 'n boer wat 'n tuin plant (2:8). Maar as die
sewende dag aanbreek, is sy werk voltooi (Gen 2:2).

+ Daar sit waardigheid in werk. Dis nie straf ná die sondeval nie. Ons is geskep om
produktief te wees. Die mens moet die aarde vul, en onderwerp, en daaroor heers (1:28). Ons
verteenwoordig God as 't ware hier op aarde. Dis soos 'n plaasbestuurder wat namens die eienaar
boer. Adam begin hierdie mandaad uitoefen as hy die diere name gee (2:19-20).
Dit impliseer sy gesag en uitvoeringsvolmag.
Om te werk is 'n seën en 'n roeping; nie 'n vloek nie! Ja, ja, te wyte aan die sondeval het
arbeid dikwels swaar en veeleisend geword (Gen 3:17-19). Maar op die nuwe aarde gaan ons
volkome vervulling uit ons arbeid put.
Dit sal één manier wees waarop die beeld van God tot uitdrukking kom!

# Vierdens. Op die sewende dag het God gerus (Gen 2:2-3).
Ook óns moet nie net werk nie. As ons rus soos Hy voorskryf — met ander woorde ter wille van
meerdere Godskennis en toegespitse liefdesgemeenskap met en verheerliking van Hom, ter wille
van verdere toerusting tot 'n heilige lewe, en ter wille van diensbare naasteliede en die gemeenskap
van die heiliges — vertoon ons God se beeld.

God se beeld in die hiernamaals

# Destyds moes Adam en Eva, deur volgehoue gehoorsaamheid aan die proefgebod, nog die
móóntlikheid van mislukking oorkom. Hulle het nog nie God se einddoel met hulle bereik nie.
Volmaaktheid as loon was nog net potensiëel.
Volgehoue gehoorsaamheid aan die proefgebod tydens 'n proeftydperk sóú die mens by
hierdie einddoel uitgebring het. Wat dit sou behels het, word egter nie in Genesis vir ons gesê nie.
Tog word dit gesuggereer as Gen 3:22-24 van die "boom van die lewe" praat — waarna ons
spoedig weer verwys.

# Vir sy gehoorsaamheid is Jesus wonderlik deur die Vader beloon. Hy het ontvang wat die
eerste Adam sóú ontvang het indien Hy die proefgebod enduit gehoorsaam het.
Drie dae na sy dood het die tweede mens, die laaste Adam reeds die eerste paaiement gekry
— die opgestanding uit die dood, met 'n verheerlikte liggaam. En hierdie liggaam kan tot in ewigheid
nie meer sterf nie.

# Wat sê dit vir die van ons wat deur die geloof met Jesus Christus verenig is? As die eerste
Adam sy toets geslaag het, sou ook sy nageslag presies geërf het wat hy sou geërf het. Hy was
immers hulle verbondshoof wat sy nageslag verteenwoordig het. Dis waarom die erfsonde as die
resultaat van die sondeval tot vandag toe 'n aangebore realiteit in die lewens van alle mense is.
Baie dikwels verteenwoordig een persoon, of 'n klein groepie mense, 'n hele volk. Dis 'n verskynsel
wat ons goed ken. Net so was en is die laaste Adam die Verbondshoof van sy ligaam. Ek is deur die
wedergeboorte en geloof met Hom verenig en deel dus in sy loon

# Op die laaste dag sal ook sy ander liggaam — sy gemeente — dus opstaan in heerlikheid.
Daaroor is die Woord glashelder duidelik. En elkeen van hierdie begenadigdes sal na sy opstanding
soos die opgestane Here Jesus wees.

+ Rom 8:29 (NAV): "Die wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om
gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die
eerste is".

+ Fil 3:21: "Hy sal ons nederige liggaam verander om gelykvormig te word aan sy
verheerlikte liggaam, deur die krag wat Hom in staat stel om alles aan Hom te onderwerp."

+ 1Joh 3:2: "Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat
ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom
sal sien soos Hy is."
+ Terwyl ons bogenoede gelykheid aan Hom nie moet onderspeel nie, moet ons
eweneens dit nie oorspan nie. Hy is en bly ook vir ewig volkome God. Hy sal steeds die Hoof bly;
óns sy liggaam. Vir die oomblik geld 1Joh 3:2 hierbo nog: "... dit is nog nie (presies) geopenbaar wat
ons sal wees nie ...". Ontelbaar baie verrassings wag tot in ewigheid vir elkeen wat nou reeds deel
het aan die nuwe skepping.

# Een van die troosrykste beloftes in die Woord, is die van die "boom van die lewe" wat op die
nuwe aarde elke maand sal vrug dra tot genesing vir die nasies (Op 2:7; 22:2). Dit beteken nie in
die eerste instansie dat daar geen siekte sal wees nie, maar beklemtoon die ewige en volkome
gesondheid (met alles wat dit impliseer) wat die saliges sal geniet.
En daar sal nie meer 'n proefgebod wees nie! Want díé toets is alreeds 2000 jaar gelede volkome,
finaal en afgehandel geslaag!
Non posse pecare!
Eeue gelede reeds is die waarhede waarvan hierdie studie praat, reeds verstaan. Dis so lank terug
dat dit vir die eerste keer in Latyn gesê is — op die man af, tipies van Latyn!
Vir Adam het voor die sondeval gegeld: posse pecare; posse non pecare — die vermoë om
te sondig; die vermoë om nie te sondig nie.
Vir die gevalle mens, die een wat nog in die eerste Adam is, geld: posse pecare; non posse
non pecare — die vermoë om te sondig; nie die vermoë om níé te sondig nie.
Vir die wedergebore mens, die een wat met die laaste Adam verenig is, geld: posse pecare;
posse non pecare; die vermoë om te sondig; die vermoë om nie te sondig nie. Vir die verheerlikte
mens geld: posse non pecare; non posse pecare — die vermoë om nie te sondig nie; nie die
vermoë om te sondig nie.
Enkele opsommende opmerkings en persoonlike implikasies
# Ons het na die hart van Christenskap gekyk. Enige ander beklemtoning mis dit; dis nie die
ware Jakop nie. Waarvan ons gepraat het is Christelike outentisiteit.
So lyk dit as Christus hoëpriesterlik vir jou versoening gedoen het en steeds vir jou by die Vader
intree. So lyk dit as die Heilige Gees in jou werk — wederbarend, heiligmakend, toerustend.
Ja, ja, hierdie dinge hang saam met wilsbesluite, selfdissipline, inspanning, maar dis ten
diepste uitvloeisels vanuit 'n herskepte hart waarop die wet van God geskryf is. Dis God wat in ons
werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (2Kor:17). Éérs die hartsverandering, dan die
lewe!
+ Ons praat dus van iets radikaal anders as 'n opstapeling van goeie werke om God se
guns te probeer wen. Dit lei nie tot redding nie. En dit getuig ook nie daarvan nie. Inteendeel!
+ Natuurlik is daar nog baie gebrokenheid, baie mislukkings. Natuurlik is my hart nie
elke dag ewe brandend nie. Maar as jy getrou is in beoefening van die genademiddele en die beeld
van God in jou aan 't vorm aanneem is, sal jy dit weet. En as jy soms daaroor twyfel, sal die mense
om jou dit weet. Hoe kan 'n nuwe hart anders as om te wys? Jy het mos omgedraai. Jy volg en
gehoorsaam Jesus immers.
Ja, ons verloor soms 'n rondte, ons oogbanke mag oopgeslaan word — maar ons lê nooit die volle
telling nie. As die Godsbeeld aan 't groei is in jou, verloor jy uiteindelik nooit die geveg nie!
+ Ware Christene is anders as die mense van hierdie wêreld, baie anders. En daarom
is die ware gemeente anders. Dooie en wêreldgelykvormige "kerke" is vals — en daarom
Godonterend en onder sy oordeel. As die kandelaar verwyder is, het jy nie meer 'n kerk nie. Nee,
dan het jy 'n lykshuis. En lykshuise word mettertyd rowerspelonke. Oor en oor sien mens dit in die
kerkgeskiedenis. Jy sien dit vandag oraloor op aarde; helaas ook hier in ons land.
+ Daar mag dalk lesers wees wat dink ek maak die pap bietjie dik aan. My enigste
antwoord daarop is — die allerantwoord: Gaan lees die Nuwe Testament. Luister na Jesus se
oproepe tot dissipelskap. Kyk deur vars-gepoleerde lense na die opdragte van die sendbriewe. Werk
versigtig deur die eerste brief van Johannes en onderstreep die merktekens van wedergeboorte,
van wat die geboorte uit God in 'n mens meebring. Dis waarvan ek praat. Onontkombaar duidelik!
# Net 'n laaste opmerking. Sien jy die wonderlike logika, volmaakte geïntegreerdheid en eeueoorspannende raadsplan van God raak? Alles pas soos 'n legkaart ineen — met wiskundige
eksaktheid en logika!
Hoe totáál anders is dít as die naïewe godsdienste van die gevalle mens wat probeer om met
patetiese en mensgesentreerde rituele God te beïndruk!
Hoe radikaal anders is dit as die mensgesentreerde, formalistiese, liturgiese en wettiese
uitdrukkings van "Christenskap" wat in so 'n groot deel van die Christendom deur die eeue en
dwarsoor die wêreld beoefen (gepleeg?) word!
Hoe onmiskenbaar verskil dit nie van Bybelse aanbidding in gees en waarheid nie! Daar is geen,
maar géén vergelyking nie!
# Herken jy jouself hierbo? Waarskynlik wens jy dit was duideliker. Dis in orde so. Trouens, dis
dalk juis 'n aanduiding van die ware Jakob. Waarom? Deel van toenemende heiligmaking is
toenemende sondebesef. Die twee loop hand aan hand.
Dit het die wonderlike effek dat jy al hoe dieper in Christus skuil.
Moenie laat die bewussyn van oorblywende sonde jou laat twyfel aan jou redding nie. Die begeerte
om al hoe meer klaar te kry met mislukkings in en oortredings van God se wil, is 'n teken dat jou
Hoëpriester vir jou voorspraak doen en die Heilige Gees in jou aan 't werk is.
As 'n wedergebore mens eerlik na homself kyk, verstaan hy John Newton se gevleuelde
woorde: "I am not what I ought to be, I am not what I want to be, I am not what I hope to be in another
world; but still I am not what I once used to be, and by the grace of God I am what I am".
# En as jy in alle eerlikheid moet erken dat jy 'n vreemdeling is vir wat hierdie stuk Bybellering
beskryf? Dalk is jy nóú gereed om die wondelikste uitnodiging op aarde te hoor en te gehoorsaam:
En die Gees en die bruid sê: "Kom!"
En laat elkeen wat luister sê: "Kom!"
En laat elkeen wat dors het, kom.
En laat elkeen wat dit begeer, die water van die lewe kom kry, verniet!
Op 22:17 (DAV)



• Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis
(soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van
Godgesentreerde evangeliese gelowiges en gemeentes in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid
van die ewenaar.
• Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale in
Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No. 148,
Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika; E: nico.vanderwalt@reformed.org.za; Tel. 082 848 9396.
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (plus nog 4 blogs - adresse by genoemde adres)
• Nico het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna vir 'n dekade as Siviele Ingenieur
gewerk (as konstruksieingenieur en universiteitsdosent). Na 'n radikale Christelike bekering en
daaropvolgende teologiese studie aan die Potchefstroomse Universiteit, was hy vir ongeveer drie
dekades predikant van twee gemeentes in die Vaaldriehoek en Pretoria. Hy was ook vir 'n stuk of
twaalf, dertien jaar dosent aan die Lynnwoodrif Bybelskool. Die afgelope paar jaar wy hy meeste van
sy tyd aan skryfwerk en prediking waar hy ook al uitgenooi word.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19


Terug naar

Wie is er online?

Gebruikers in dit forum: 7 en 0 gasten