Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3628
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Vr Jul 07, 2017 2:37 pm

ONS BARMHARTIGHEIDS- ROEPING

Jesus se antwoord op die vraag : Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?

Nico van der Walt

===========================================================================================

Die storie van die barmhartige Samaritaan (Lk 10:25-37) — dalk met die uitsondering van dié oor die verlore seun — is sekerlik die Here Jesus se bekendste gelykenis. Meeste van ons ken dit van kleins af. Ons is egter so gewoond daaraan dat ons die diepte-boodskap daarvan totaal miskyk. En dit mag eenvoudig nie.
LEWENSBELANGRIKE LERING
‘ 'n Wetgeleerde het eenmaal 'n vraag aan Jesus gestel: "Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?" Hoewel in hierdie geval 'n strikvraag vanuit verkeerde motiewe, kan niemand ooit 'n gewigtiger vraag stel nie. Dit gee dan aanleiding tot 'n eenvoudige, maar aangrypende verhaal wat deur die eeue 'n onuitwisbare indruk op mense se gewetens gemaak het.
‘ Hierdie vraag is by net een ander geleentheid aan die Here Jesus gestel — deur die ryk jongman (Mt 19:16; Mk 10:17; Lk 18:18). Dié kry dan die bevel om sy besittings te verkoop, die opbrengs onder die armes te verdeel en Jesus te volg. Dit is sekerlik van die allergrootste betekenis dat die Here in beide gevalle op presies dieselfde manier reageer. Strydig met ons verwagting, verwys Hy die twee mans elke keer na die tweede gedeelte van die Morele Wet — waarvan naasteliefde die essensie is (Mt 22:34-40). In antwoord op die vraag hoe mens die ewige lewe verkry, roep Jesus beide op tot 'n radikale liefdesaflegging ter wille van mense in nood. Dis moeilik om die konklusie te ontkom dat Jesus wil sê dat die pad na die ewige lewe langs die weg van goeie werke loop! Hy sê dan uitdruklik aan die wetgeleerde dat hy sal lewe indien hy die Samaritaan navolg (Lk 10:28). Maar hoe rym ons dit met die res van die Skrif wat kompromieloos daarop aandring dat redding uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen kom — sonder die werke van die wet? Hier is iets wat ons nie ligtelik moet verbygaan nie!
WIE IS MY NAASTE?
As Jesus vir die wetgeleerde sê hy moet die wet uitleef om gered te word, tref dit op 'n plek wat seermaak. Met vinnige voetwerk probeer die man uit die hoek kom: "Wie is my naaste?"
DIE GELYKENIS
‘ Op die ongerepte woestynpad tussen Jerusalem en Jerigo word 'n reisiger beroof en ernstig beseer. Twee medereisigers — 'n priester en 'n Leviet — maak of hulle niks sien nie en haas hulle verby die ernstig beseerde slagoffer. Beide vergeet gerieflikheidshalwe die Ou Testamentiese beginsel dat die Here eerder gehoorsaamheid wil hê as offers (1Sam 15:22).
‘ Dan is daar 'n skokkende wending. 'n Gehate Samaritaan help die beseerde Jood (Jh 8:48). Hy trotseer die gevare en sien so goed hy kan na die beseerde om. Trouens, hy doen veel meer as wat enige redelike mens sou verwag. As iemand ooit 'n tweede myl gestap het, was dit hierdie Samaritaan! Waarom doen hy dit? Hy het innig jammer vir die slagoffer gevoel!
'N PAAR OPMERKINGS
‘ Die slagoffer ontmoet drie soorte mense op pad. Die rowers sê: joune is myne! Die godsdienstiges sê: joune is joune en myne is myne! Die rabbi's het immers die mens se morele plig só saamgevat: moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Helaas hang die koudste harte soms minder as 'n halfmeter onder die suiwerste ortodoksie! Die Samaritaan sê: myne is joune! Presies dit is wat die Here sê — positief: doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê (Lk 6:31).
‘ Jy vra die verkeerde vraag, sê Jesus dan per implikasie vir die wetgeleerde (36). Jou vraag oor wie jou naaste is, poog om soveel moontlik mense uit te skakel, want jy wil weet wie regtig kwalifiseer. Jy stel eintlik net belang in hoeveel mense jy maar kan verbygaan. Maar die regte vraag is: is ék 'n naaste vir my medemens? Doen ek wat ek kan vir diegene om my — veral vir diegene in nood Selfvoldane godsdienstiges vra: wie moet ek liefhê? Jesus vra: het jy lief — voor die voet?
‘ Goed, sê die Here uiteindelik, jy het My gevra hoe om die ewige lewe te beërf. Jy het laat blyk jy ken die essensie van die Wet. Ek het nou die praktiese implikasies daarvan vir jou uitgespel. Gaan dus heen; leef dit uit! (37). Die wetgeleerde wou Jesus uitvang met 'n strikvraag, maar hy gaan druipstert huis toe.
REGVERDIGING DEUR WERKE ?
‘ Hoe kry ons die kloutjie by die oor? Leer die Here Jesus nou dat mens op eie stoom die saligheid moet verwerf? Besef Hy dan nie dis onmoontlik nie? Moes Paulus Sy misvatting kom regstel met sy klem dat niemand deur wetsonderhouding gered kan word nie, en dat 'n ander pad dus noodsaaklik is? Nee! Hier sit iets baie rykers in!
‘ Die Here Jesus weet die selfvoldane wetsgeleerde — soos die ryk jongman — is nog nie gereed vir die koninkryk van die hemel nie. Daarvoor is geestelike bedelaarskap 'n absolute voorvereiste (Mt 5:3). Want daarsonder gryp jy nie die Plaasvervanger vas nie, die énigste Middelaar tussen God en sondaars (1Tm 2:5). Die Here stuur die man dus terug na die Wet toe — sodat dié hom kan stroop van sy selfversekerdheid. God se standaarde moet hom verinneweer totdat hy wanhopig om die Here se genade roep, soos die tollenaar (Lk 18:13). Eers dan kan daar sprake wees van reddende geloof.
‘ Die feit dat die Here Jesus met sowel die ryk jongman as die wetsgeleerde presies dieselfde strategie volg, moet ons waarsku om die belangrikheid daarvan nie mis te kyk nie. Die koninkryk van die hemele word op net één manier binnegestap — met bedelaarskoene aan! En voordat jy nie moedeloos gespook is met die onbereikbaarheid van God se volmaakte standaarde nie, sal jou trots jou nooit toelaat om hierdie skoene aan te trek nie.
Wat die Here met sowel die wetsgeleerde as die ryk jongman doen, is om hulle met die liefde wat God vereis tot nederigheid in te breek — sodat hulle die liefde wat God gee uiteindelik kan ontvang.
DIS NIE AL NIE
‘ Die belangrikheid van wat ons hierbo bespreek het, kan nie oorbeklemtoon word nie. Maar hier durf ons nie stop nie. Mag die Here ons bewaar van 'n goedkoop evangelie wat nou 'n sug van verligting slaak en agteroor sit! Omdat ons nie deur werke gered word nie, dink te veel mense werke is onbelangrik. Dis 'n noodlottige dwaling! Ja, die essensie van ware geloof is afhanklikheidsvertroue — maar die Bybel is ook boordevol getuienis dat dit 'n spesifieke vrug dra. Trouens, dis al waaraan jy die ware Jakob kan uitken (Jk 2:14-26). En wat is hierdie vrug? Dis 'n hartstog om die werke van die wet te doen (Jer 31:33) — 'n hartstog wat jou lewe onontkombaar en onmiskenbaar vorm vanaf die dag wat jy dit ontvang. En natuurlik, as ons oor die wet praat, praat ons oor die liefdesgebod (Mt 12:33-37).
‘ In die Skrifgedeelte waarna ons kyk, illustreer Jesus die essensie van die wet — besonderlik die tweede tafel daarvan, die gedeelte oor naasteliefde. Hy doen presies dieselfde in Sy gesprek met die ryk jongman. En omdat ware geloof gepaard gaan met 'n hartstog om God se wet te gehoorsaam, beteken dit dat elkeen in wie dit teenwoordig is, iets sal vertoon van wat Jesus die wetsgeleerde en die ryk jongman beveel. Ware gelowiges klim dus van donkies af; hulle help diegene in nood; hulle deel uit en volg Christus in Sy barmhartigheidsbetoning!
‘ Iemand sonder 'n hartstog om God te behaag, en sonder omgee-liefde vir die naaste, is iemand sonder 'n nuwe hart. Hy is daarom sonder ware geloof — en sal dus nie die koninkryk ingaan nie. Dis waarom Jesus sê dis makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryk man om die koninkryk in te gaan (Lk 18:24-25). Meeste rykes vergader immers eerder skatte as om God se wet te gehoorsaam. Om behoeftiges lief te hê en te versorg, is nie vir hulle 'n prioriteit nie. Dis waarvan Jakobus praat as hy die rykes so dringend waarsku (Jk 5:1-6). Die dissipels se vraag is begryplik: wie kan dan gered word? (Lk 18:26). Die antwoord is bemoedigend, maar geheimenisvol: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." Hoe doen Hy dit? Jesus sê nie. Tog ken die dissipels iets van so 'n genadewerk: húlle het van hul besittings afgesien en Jesus gevolg (Lk 18:28). En spoedig sou hulle dit weer dramaties sien gebeur.
‘ In Lk 19:1-10 glip 'n kameel deur 'n naald se oog. 'n Ryk man, Saggeus, word 'n uitbundige uitdeler (8). As Jesus dit sien, weet Hy nóg 'n man het 'n nuwe hart by God gekry (9). En Hy weet dis gewortel in Sý Middelaarswerk! (10).
‘ Sien ons nie in hierdie barmhartige Samaritaan iets van Jesus Christus se totale self-aflegging ter wille van ons nie? In Hom vind ons immers volmaakte liefde vir hulpelose en gestroopte sondaars. Hy verbind ons, dra ons, versorg ons. En Sy volmaakte liefdeswerk ter wille van ons is die grond vir ons onontkombare roeping tot die lewensingesteldheid van die barmhartige Samaritaan.
BARMHARTIGHEID DEUR DIE EEUE
‘ Voor die sondeval was daar geen gebrokenheid en nood nie. Maar die sondeval bring onmiddellik ellendes: siekte, honger, rampe, sosiale ongeregtigheid, vyandskap, dood.
Onmiddellik na die eerste sonde raak die mens en sy vrou bewus van hulle naaktheid (Gn 3:7-10). Dan maak God vir hulle velklere (3:21). Dalk het ons reeds hier 'n sinspeling op die komende offerstelsel en dus die kruis van Christus. Maar dis meteen ook die eerste daad van barmhartigheid in die geskiedenis. God spreek Adam en Eva se verleentheid en skaamte aan. Hy gee hulle 'n sekere waardigheid terug. En Hy doen iets aan hulle uitgelewerdheid aan die elemente.
‘ Selfs voor Sinaï het die mens geweet dat God barmhartigheid wil hê. Die boek Job is vol daarvan (Job 24:112; 29:11-17; 31:16-22).
‘ By Sinaï skep God met talle voorskrifte 'n geloofsgemeenskap waarin sosiale geregtigheid net so belangrik is as persoonlike moraliteit. Die Israeliete word verbied om oestyd hulle lande so kaal te stroop dat daar niks vir die armes oorbly nie. En een van die groot redes vir handhawing van die Sabbat is dat die arbeiders en diere behoorlik kan rus (Eks 23:1011). 'n Verskeidenheid wette word in plek geplaas om diegene te help wat materieel nie kop bo water kan hou nie (Lev 25:25; 35-38; Dt 15:7-11). En vanuit die tiendes moet die priesters gee aan vreemdelinge, weduwees en wese (Dt 14:28-29).
‘ Die Mosaïese wette is grootliks die basis van die latere profete se veroordeling van die Israeliete se liefdeloosheid en ontrouheid aan die Here. En 'n saak wat hulle oor en oor aanspreek, is gevoelloosheid teenoor die armes. Hebsug en ignorering van die behoeftiges se lot is verbondsbreuk — en so afstootlik soos afgodery. Weer en weer roep die profete die Godsvolk op tot barmhartigheid.
‘ Johannes die Doper beveel die volk om hulle te bekeer met die oog op die messiaanse Koning se koms. As hulle hom dan vra wat so 'n bekering behels, spel hy dit uit in terme van barmhartigheid: deel jou kos en klere met die armes; moenie die swakkes uitbuit nie; moenie jou mag misbruik nie (Lk 3:10-14).
‘ Reg aan die begin van Sy openbare bediening gaan die Here Jesus na Sy grootword-dorp. As Hy die Woord in die sinagoge bedien, haal Hy aan uit Jes 61:1-2 as 'n kernagtige opsomming van Sy bediening: "Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig" (Lk 4:1819). Die uitdrukking, "die genadejaar van die Here" in Lk 4:19, is 'n sinspeling op die Ou Testamentiese sabbats- en jubeljare. En die sentrale doel hiervan was destyds die gereelde gelykmaking van die ekonomiese speelveld vir die swakkes wat nie die mas kon opkom in 'n mededingende samelewing nie (Eks 21:1-6; 23:10-11; Lev 25:1-55; Dt 15:1-18).
‘ Hierna is die Here Jesus se lering aan Sy dissipels vol voorskrifte om na die swakkes, die behoeftiges en die ellendiges om te sien.
‘ Die vroeë kerk het die Here se opdragte ernstig opgeneem. Hulle het hul besittings gedeel, sodat Lukas kon skryf dat niemand in die gemeente gebrek gely het nie (Hd 2:44-45; 4:3237). Baie duidelik is die vroeë dissipels gedring deur die liefde wat die Heilige Gees in hulle harte uitgestort het, en hulle het verstaan dat barmhartigheid aan die hart van ware godsdiens lê (Jk 1:27). Hulle het geweet barmhartigheid is 'n merkteken van die egtheid van jou geloof (Jk 2:14-17; 1Jh 3:14-17), en dat dit 'n sentrale rol gaan speel in die finale oordeel (Mt 25:31-46).
‘ Geen Christen durf die roeping tot barmhartigheid geringskat nie. Wie nog hieroor twyfel, moet Jk 5:1-6 lees. Let daarop dat Jakobus die hardvogtige mense verwyt dat hulle skatte bymekaar maak in die laaste dae (3). Die "laaste dae" dui in die Nuwe Testament op die hele bedeling tussen Christus se eerste koms en die wederkoms. Wat Jakobus dus hier sê, is dat, as dit tot op daardie stadium 'n skreiende sonde was om hardvogtig te wees, geld dit des te meer nou ná Christus se koms. Want ons geniet as die Here se kinders nou meer voorregte as almal voor ons, en ons verantwoordelikheid om Sy wil uit te leef, is gevolglik soveel groter. En aan die hart van Sy wil vir ons is ons roeping om barmhartig te wees teenoor almal met nood rondom ons.
MOTIVERING IS BELANGRIK
‘ Soos met alles in die Christelike lewe is die motivering wat ons barmhartigheid dryf van die grootste belang. Slaag skuldgevoelens, pligbesef of vertonerigheid die toets? Duidelik nie. Nee, egte barmhartigheid, en die verband tussen barmhartigheid en ware geloof lê dieper. Dit hou verband met hoe jy die geloof gekry het en met die innerlike herskepping wat dit voorafgaan. 2Kor 8:1-5 is insiggewend. Ten spyte daarvan dat hulle net so arm was as die Christene in Judea, het die gemeentes in Masedonië baie ruim gegee (1-2a). Hulle het egter 'n diep innerlike motivering gehad: oorvloedige blydskap wat opgewel het in uitsonderlike vrygewigheid (2). Wat was die geheim? Dit het verband gehou met hulle verhouding met die Here. Hulle dankbaarheid teenoor en toewyding aan Hom was primêr. Wat hulle gedoen het, het hulle van harte gedoen, soos vir die Here. En só wil die Here dit hê (5). Egte Christelike barmhartigheid is ten diepste nie 'n respons op die nood voorhande nie, maar dit ontspring vanuit 'n ontmoeting met die Here, gepaardgaande innerlike herskepping, en dankbaarheid en toewyding teenoor Hom.
‘ Vanuit bogenoemde kan ons nou 'n aantal dryfvere van egte Christelike barmhartigheid onderskei:
• Iemand wat 'n naaste vir andere is, se barmhartigheid word gedring deur diep dankbaarheid vir God se genade in Christus. Baie mense is begaan dat slegs behoeftiges wat dit verdien, hulp moet kry. Natuurlik moet mens diskresie aan die dag lê. Maar laat ons maar versigtig wees met die woord verdien. Het ek en jy God se barmhartigheid verdien? Nee, iemand wat genade verstaan — en net Christene verstaan dit regtig — dring nie so vinnig aan op verdienste by diegene in nood nie. Ewemin verwyt hulle andere maklik van slegtigheid. Presies dit is wat die gesegde wil sê: There go I, but for the grace of God! (vgl. Lk 6:27-36; Mt 18:21-35, veral v.33, OAV). Die bloot godsdienstige glo dat God 'n mens begunstig oor jou verdienste. Maar die taal van 'n Christen se hart is anders: ek is wat ek is deur God se vrye en onverdiende genade! Daarom is so 'n persoon se barmhartigheid 'n lofoffer. Presies dit is wat Lk 7:36-50 leer. Vers 47 sê, "omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde." (Fl 4:18; Hb 13:1516).
• Iemand wat 'n naaste vir andere is, se barmhartigheid word gedring deur innige bewoënheid en liefde teenoor diegene in nood. Soos dit keer op keer van Jesus gesê word, het ook die Samaritaan die gewonde man "innig jammer gekry". Niks het regtig vereis dat hy stop en help nie. Maar sy hart wou hom nie toelaat om anderkant verby te stap nie. Elke nuwe hart kom immers gelaai met liefde as kragbron. Trouens, dis dwaas om te aanvaar jy is wedergebore as jy nie 'n nuwe hart vol liefde het nie (1Jh 3:14-19; 4:7).
• Iemand wat 'n naaste vir andere is, se barmhartigheid word gedring deur 'n ywer vir God se eer en die koms van die koninkryk. In Mt 5:16 leer die Here Jesus ons om ons lig só te laat skyn dat mense ons goeie werke kan sien en ons hemelse Vader verheerlik. In 2Kor 9:10-15 sê Paulus herhaaldelik dat die Korintiërs se barmhartigheid meegebring het dat God gedank en verheerlik word.
• Iemand wat 'n naaste vir andere is, se barmhartigheid word gedring deur integriteit. Johannes maak hierdie verbysterende stelling: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het." En was Jesus se lewe nie vol barmhartigheid nie (Hd 10:38)? Dit was altyd dieselfde. Hy het gesien, Hy het gevoel en Hy het gedoen. Hoe kan ek dan in integriteit sê ek is 'n Christen as my lewe nie ook deur barmhartigheid oorheers word nie? B.B. Warfield, het een keer dít gesê in 'n preek: "Oh, my dear Christians! If you would be like Christ, give much, give often, give freely, to the vile and poor, the thankless and the undeserving."
• Iemand wat 'n naaste vir andere is, se barmhartigheid word voortgestu deur sy of haar wete dat ons eendag aan die Here verantwoording moet doen. Hier is twee komponente: die vrese van die Here, en my gerigtheid op die loon wat die Here vir getrouheid sal gee. Wek die gelykenis van die skape en die bokke nie die vrese van die Here in 'n mens nie? (Mt 25:31-46). En die Skrif is vol beloftes van loon. Byvoorbeeld: "Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed" (Spr 19:17).
'n Diep bekering en 'n nuwe hart laat die vraag vervaag oor wie my naaste is, en wie kwalifiseer. Maar dit laat meteen die vraag lewensgroot voor my kom staan: is ek 'n naaste vir diegene om my?
HOE VER MOET EK GAAN?
‘ Die Samaritaan belowe hy sal die uitstaande rekening betaal wanneer hy terugkom. Maar sê nou, wanneer hy terugkom, het sy vriend die kroeg omtrent leeggedrink, die herberg se beddegoed verkoop vir rookgoed, en een van die skoonmakers tot in die hospitaal geslaan? Die antwoord is eenvoudig. Dis nie waaroor die gelykenis gaan nie. Jesus wil 'n selfvoldane godsdienstige tot sy sinne ruk. Hy wil nie 'n volledige uiteensetting gee oor 'n barmhartigheidsbediening nie. Daarvoor is dit nodig om ook na die talle ander Skrifuitsprake te kyk. Maar almal wat erns maak met barmhartigheid sal weet dat misbruik van mens se goedheid algemeen is. Meeste van ons het al geworstel met die vraag: hoe ver moet ek gaan? Waar trek ek die streep? Is daar voorwaardes waaraan diegene in nood moet voldoen? Is daar 'n punt waar ek met reg "nee" kan sê. Soos in alles moet God se Woord ons allernorm wees.
BYBELSE GRENSE
‘ Ons het reeds gesien dat die Bybel ons oproep om selfs teenoor ons vyande barmhartig te wees. Ons het voorts gesien dat die maatstaf vir my barmhartigheid die reddende barmhartigheid van my hemelse Vader in my eie lewe is. Hy het my gered toe ek nog Sy vyand was — sonder dat ek iets vooraf vir Hom gedoen het. Tog is daar minstens een belangrike kwalifikasie in die Skrif: "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie" (2Ts 3:10). Die Grieks is duidelik dat Paulus hier praat van 'n voortgaande luiheid. Ons moet dus nie aanhou sorg vir mense wat geen aanstaltes maak om vir hulleself te sorg nie. Helaas is daar baie mense wat op jou sal bly teer solank jy vir hulle sorg. Maar hier moet mens ferm standpunt inneem. Diesulkes moet mettertyd aan hulleself oorgelaat word.
‘ Dit kom dus op 'n aantal beginsels neer:
• Tensy ons duidelik met 'n swendelaar te doen het, moet ons aanvanklike hulp onvoorwaardelik wees. Dikwels is dit wysheid om vir 'n onbekende nie geld te gee nie, maar iets anders wat hy of sy nie verkeerd kan aanwend nie. Maar as so 'n persoon my gawe tóg misbruik, dan is dit vir sy of haar rekening. Ek het gedoen wat in beginsel reg is.
• Veral as dit by finansies kom, het niemand van ons onuitputlike bronne nie. Meeste van ons wens gedurig dat ons meer gehad het om te gee. Maar troosryk — en ewe uitdagend — is die Here se ontmoeting met die arm weduwee (Lk 21:1-4). Teenoor die groot bydraes van die rykes het sy net twee klein muntstukkies ingegooi. Tog sê Jesus dat sy méér ingegooi het as enige van die ander. Hoe werk dit? Hulle het vanuit hulle oorvloed gegee; sy het alles gegee wat sy gehad het. In die koninkryk van God werk dit anders as in hierdie wêreld. In die koninkryk word die grootte van jou gawe bepaal deur wat in jou sak agter bly!
• Hoewel ons hulp aan mense in nood dikwels eenmalig is, kan dit ook soms oor 'n langer termyn strek. Maar dan moet dit op die herstel van sulke mense gerig wees. Ons ken die spreekwoord: moenie iemand net vis gee nie; help hom vis vang. Dis 'n Bybelse beginsel. Volgens Dt 15:1215 moes slawe wat vrygestel is, deur hulle eerstydse base op hul voete gehelp word. Ps 41:2 spreek 'n wonderlike seën uit oor hulle wat "omsien" na die swakkes. Hierdie werkwoord dui in die Hebreeus op noukeurige nadenke en oorweging met die oog op 'n plan. Dit gaan dus oor rehabilitasie (en indien moontlik, bekering tot Christus). In die geval van die ryk man en Lasarus (Lk 16:19vv), het ons nie 'n terloopse bedelaar op 'n straathoek nie. Nee, die ergste van die ryk man se sonde was dat hy Lasarus dag na dag daar sien lê het en niks gedoen het nie. Hy het voortgegaan om gevoelloos in weelde te leef, ten spyte van die nood om hom. As mens oor 'n langer termyn by iemand betrokke is, het jy alle reg om mettertyd op 'n positiewe respons aan te dring. Natuurlik moet jy redelik wees. Nie almal is tot dieselfde respons in staat nie. Maar as daar nie opregte dankbaarheid is nie, as daar nie samewerking en groei in verantwoordelikheidsin is nie, as daar nie 'n inbeweeg in God se ordes is nie, het jy bes moontlik met 'n gewetenlose uitbuiter te doen. En omdat mens uiteraard die evangelie met so 'n langtermyn-geval sal deel, is dit nie onredelik nie om mettertyd aan te dring op opregte bekering. Hoewel ons geduldig met mense moet wees — soos die Here met ons was en steeds is — het mens alle reg om jou met verloop van tyd aan iemand te onttrek as daar geen dankbare en positiewe respons is nie. Dis net soos met die verkondiging van die evangelie: indien daar 'n volgehoue weerstand is, hou mens op om jou pêrels voor die swyne te gooi, en skud jy die stof van jou voete af. Dit lei noodwendig tot die vraag: hoe weet ek wanneer het ek lank genoeg aangehou? Aangesien ons almal geneig is om te gou handdoek in te gooi, moet mens baie eerlik met jouself wees. Selfbejammering, frustrasie en woede mag geen rol speel nie. Die goue reël is dat barmhartigheid deur barmhartigheid beperk moet word. Liefde moet liefde aan bande lê. Wanneer my barmhartigheid meer skade doen as goed, wanneer dit mense in hulle kwaad sterk, moet ek summier daarmee ophou. Kom jy dus agter dat jou hulp bloot bydrae tot iemand se dranksug, of luiheid, of verset teen God, durf jy mos nie medepligtig raak deur aan te hou gee nie. Dit is soms nodig om mense oor te gee aan die gevolge van hulle sonde, sodat hulle kan besef dat hulle besig is om hulleself te vernietig (vgl. 1Kor 5:3-5). Ons leef in 'n gebroke wêreld. En in hierdie wêreld moet ons alle mense om ons liefhê soos ons Hemelse Vader ons in Christus liefhet. Maar laat ons in die proses onthou dat die Here ook verheerlik word in Sy oordele. Daar is iets soos God se goedheid, maar daar is ook iets soos Sy strengheid (Rm 11:22). En Sy eer is uiteindelik veel belangriker as die bloot tydelike welsyn van sondaars.
SLOTWOORD
Uiteindelik is die vraag nie hoe goed ek die kwalifikasies vir my barmhartigheidswerk verstaan en toepas nie. As ek hierop sou konsentreer, sal dit my verlei tot 'n negatiewe soek van verskonings en die uitlewing van my barmhartigheidsroeping totaal ondermyn. Nee, die vraag is, is ek diep bewus van my roeping om Christus se liefde aan die ellendiges om my te betoon? Word my lewe dus positief en voortdurend deur barmhartigheid gekenmerk? Is ek 'n naaste vir diegene met wie ek daagliks te doen kry? Klim ek weer en weer van my donkie af?





• Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Dit staan enigeen gevolglik vry om die inhoud van hierdie studiestuk met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by ander gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie. • Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar. • Subskripsies,adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396. • Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs) • Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3628
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Jul 19, 2017 1:33 pm

'n Kameel kan deur die oog van 'n naald


'n Volgende Antipas Herout - No.40. Ek vertrou dit beteken iets vir jou.

Hartlike groete.

jbiC

Nico van der Walt


==============================================================

'n Kameel kan deur die oog van 'n naald

'n Bespreking van Jesus se ontmoeting met die ryk jongman

Nico van der Walt



Die Here Jesus se ontmoeting met die ryk jongman kom in al drie sinoptiese evangelies voor: Mt 19:16-30; Mk 10:17-31; Lk 18:1830.1
Hy is nederig S hy val op sy knieë. Hy is moedig S hy kom nie in die donker soos Nikodemus nie. Hy is "geestelik" S hy verlang oënskynlik opreg na die ewige lewe. Hy is moreel S hy probeer met toewyding van kleins af die Wet onderhou. Hier het ons dus 'n model van 'n jongman. Voor ons sien ons leierskapmateriaal, 'n trofee vir elke gemeente.
‘ En hy is 'n evangelis se droom. Enige hedendaagse sielewenner sou binne minute van hom 'n Christen kon maak. Hoe lank vat dit immers om 'n kort sondaarsgebed te herhaal? Maar Jesus laat hom tussen Sy vingers deurglip!
‘ Hier is lesse wat ons nie moet miskyk nie. Kom ons kyk vir eers deur Markus se lens.
DIE EVANGELIE BEGIN BY GOD
‘ Die eerste sleutel is in v.18.
Jesus stel die jongman dadelik voor God. Voor mens oor die ewige lewe kan praat, sê Hy effektief vir hom, moet jy eers rekening hou met die algoeie en heilige God en alles wat dit impliseer. Die evangelie begin met God. Dit kan slegs na behore verstaan word as mens die skitterglans van Sy volmaaktheid en die tragedie van menslike verdorwenheid teenoor mekaar stel.
‘ Mense het baie probleme. Maar die oomblik as jy God sien, raak jy in 'n oogwink daarvan ontslae. Dan besef jy hoe gering en tydelik dit alles is. Maar onmiddellik kry jy 'n nuwe las, duisend maal swaarder S die las van die ewigheid en ons aanspreeklikheid voor God. Al wat hierdie las kan verlig, is die evangelie en jou omhelsing van Christus. As jy nie eers die las van God se geregtigheid, enersyds, en jou doemwaardigheid, andersyds, ervaar het nie, bly Christus vir jou bloot van akademiese belang. Reddende geloof is immers wesentlik iets anders as 'n bloot intellektuele opinie oor God. Ja, geloof begin met kennis en oortuiging, maar word afgerond deur 'n desperate en persoonlike vlugtog in Christus in.
‘ Vir te veel goeie kerkmense is
1. In die eerste helfte van hierdie Herout loop ek in pas met Walter Chantry se Today's Gospel. Ek is oortuig dis die enigste manier om hierdie stukkie geskiedenis reg te verstaan.
God beswaarlik meer as 'n welwillende en saghartige oupa. Ja, duisend maal, ja S Hy is 'n barmhartige God van vergiffenis en genade. Maar Hy is ook 'n God van heiligheid en geregtigheid. Onthou, en vergeet dit nooit nie, as jy 'n denkbeeldige God dien, sal jy tevrede moet wees met 'n denkbeeldige redding.
DIE WET S 'N KRAGTIGE STUK GEREEDSKAP IN JESUS SE EVANGELISERING
‘ Die volgende sleutel kry ons in v.19-21. Vir die meeste moderne evangeliste is dit 'n baie vreemde verwikkeling in hierdie verhaal. Mens sou verwag dat Jesus sal begin praat oor regverdiging deur geloof alleen, en dat jy Hom net as persoonlike Saligmaker moet aanneem. Maar Jesus beweeg in presies die teenoorgestelde rigting: van alle dinge praat Hy oor die wet!
‘ Twee maal lees ons in die evangelies dat iemand Jesus kom vra hoe mens die ewige lewe kan beërf. Benewens hier, vra 'n wetgeleerde die vraag S wat dan tot die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lei (Lk 10:25). Nou kan dit nie anders as uiters betekenisvol wees nie: in beide gevalle vat Jesus die vraagsteller na die wet toe. Waarom? Elders in die Nuwe Testament kry ons die antwoord: "Deur die wet leer 'n mens wat sonde is" (Rm 3:20). "Sonde is immers oortreding van die wet van God" (1Jh 3:4). Wat sê dit vir ons? Die konsep van sonde is inhoudloos sonder God se wet. En die man of vrou wat sonde nie kan verstaan nie, kan die kruis nie verstaan nie S en daarom ook nie die evangelie nie, want redding is vir die desperates en slegs vir hulle (Mt 5:3).
‘ Té dikwels is die hedendaagse aanbieding van die evangelie mensgesentreerd. Die verlossingsplan word aangebied as ten diepste ter wille van die mens: "Glimlag, God het jou lief en het 'n wonderlike plan vir jou lewe. Hy wil jou seën en gelukkig en welvarend sien. Soek jy vrede en 'n vriend? Kom na Jesus toe S Hy brand om jou behoeftes te vervul." Natuurlik ervaar ware gelowiges baie van hierdie dinge. Maar in die reddingsplan gaan dit ten diepste oor God en Sy eer. En natuurlik word baie mense op so 'n skewe manier gered. Maar, tensy die Here hulle op gesonder paaie lei, ontgroei hulle nooit hul doeke nie. En meeste verdwaal langs die pad.
‘ In 'n neutedop kan hierdie tweede sleutel só saamgevat word: die wet toon mens jou sonde; en tot die mate wat jy jou sonde sien, tot daardie mate sien jy jouself as van God vervreemd. Dikwels lei dit dan eers tot 'n periode van godsdienstige inspanning en vroomheid. Maar omdat niemand die wet sonder God se genade naastenby kan uitleef nie, lei dit al hoe meer tot wanhoop. Algaande maak dit van jou 'n bedelaar om God se genade. En só kwalifiseer dit jou vir die koninkryk van God. Uiteindelik wys die Heilige Gees jou dan Jesus Christus die Gekruisigde. Die ou Puriteine het dit verstaan: "Die skerp naald van die Wet maak 'n pad vir die rooi garingdraad van die evangelie."
‘ Die ryk jongman het egter 'n baie oppervlakkige siening van die wet: dit alles onderhou ek sedert my jeug! (Mk 10:20). Daarom vind die Here Jesus dit nodig om die wet toe te pas. En in die proses skiet hy op die man se Achilleshiel. Hy pas die hele tweede tafel van die wet toe, en veral die tiende gebod. Want die man is baie materialisties. "Gaan verkoop ... gee vir die armes!" Die ryke is hartseer daar weg, maar helaas nie oor sy sonde nie. Dis omdat hy besef hy moet 'n keuse maak, en hy sien nie kans om van sy besittings afstand te doen nie. Die jongman is nog nie gereed vir die koninkryk nie. Die ploeg van die lewe en van God se standaarde het nog werk om te doen S sy harde pad, sy klipbanke, sy doringvelde moet nog omgedolwe word.
‘ Let wel, die Here Jesus hardloop nie agter die man aan nie. Hy weet sekere dinge in die lewe neem tyd. Miskien sal die ploeg hom gereed maak vir 'n volgende keer. Jesus laat hom met ander woorde rustig oor aan die oortuigingswerk van die Heilige Gees. Hy weet dat hierdie werk van die Gees 'n einde maak aan alle selfvoldaanheid en argumente. As Hý eers in diepte met jou gewerk het S jou oortuig het van sonde, geregtigheid en oordeel (Jh 16:811, OAV) S is selfregverdiging en rasionalisering iets van die verlede.
EVANGELISERING BEHELS 'N OPROEP TOT BEKERING
‘ 'n Volgende sleutel kry ons in v.21. Die Here het die man voorberei deur hom te konfronteer met God se standaarde. Nou praat Hy reguit met hom: "Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!" Wat Jesus dus vir hom sê, is dit: Jy vra My hoe om by die ewige lewe uit te kom? Ek is die enigste pad en die enigste gids. Kom val by My in. Daar is egter nog afgode wat jou vashou. Raak eers daarvan ontslae.
‘ Weer en weer spel die Here Jesus die voorwaardes vir egte dissipelskap uit. Hy doen dit nie in fyndruk nie. Inteendeel, Hy doen dit openlik en reguit: verloën jouself, neem jou kruis op, en volg My. God se genade is gratis; maar dis nooit goedkoop nie. 'n Mens neem Hom tevergeefs aan as jy Hom net as Verlosser wil hê, maar jou nie volkome aan Sy koningskap onderwerp nie. Dit kom dus hierop neer: onderwerp jou aan My voorwaardes, of gaan terug en geniet jou lewe voluit S want daar wag 'n baie lang, lang ewigheid.
‘ Waarom sukkel soveel goeie kerkmense om te verstaan dat diepgaande bekering 'n ononderhandelbare Bybelse noodsaaklikheid is. Bekering red nie, maar sonder bekering is daar geen redding nie. Die koninkryk van die hemele is steeds 'n skat in die saailand waarvoor mens alles moet verkoop om dit in besit te kry.
EVANGELISERING BEHELS 'N OPROEP TOT DIE NAVOLGING VAN JESUS.
‘ Hierna is reeds heelwat verwys, maar dis nodig om dit spesifiek uit
te lig. As 'n negatiewe wegdraai van sonde noodsaaklik is vir egte Christenskap, is 'n positiewe heendraai na en navolging van Christus ewe onmisbaar. Dis twee kante van dieselfde munt. Die een kan nie sonder die ander nie.
‘ Waartoe roep Jesus hierdie man en elkeen van ons? Kom, sê Hy, gee my jou hart, emosies, verstand en liggaam S jou hele lewe. Gee My jou lojaliteite, jou energie, jou toewyding, jou drome, jou ambisies, jou potensiaal. Gee My jou besittings, jou geleerdheid, jou gawes, jou verlede en jou toekoms. Kom dan, dien My onvoorwaardelik. En Ek sal jou verliese honderdvoudig kompenseer. En daarbenewens sal jy die ewige lewe kry (29-31). Wat 'n opwindende uitnodiging! Wat 'n skrikwekkende opdrag!
‘ Elkeen van ons gaan eendag voor die Regterstoel van die Allerhoogste staan. Volgens die Bybel sal die Regter nie bloot konsentreer op my regte verstaan van en geloof in die waarheid nie S noodsaaklik soos dit is. Nee, dit sal gaan oor die uitlewing van Sy opdragte! Onder die loep sal geneem word my gehoorsaamheid terwyl ek in hierdie lewe was. Ons gaan volgens ons werke geoordeel word!2 Maklik en dikwels word so erg oorreageer teen die dodelike dwaling van redding deur werke, dat in die slagyster van die ewe bedenklike kettery van redding sonder werke getrap word!
‘ Besef ons hoe belangrik hierdie saak is? Navolging van Christus is ononderhandelbaar. Luister net wat skryf Johannes: "Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het" (1Jh 2:6). Destyds kon die Here Jesus nie dubbelhartiges verduur nie. Waarom sou dit nou anders wees? Hy spoeg steeds die louwarmes uit. Nie een van ons het die gesag om Sy standaarde te verlaag nie. Tog word dit so dikwels gedoen. Die ryk jongman sou hom gemaklik kon tuismaak in feitlik elke gemeente van ons dag S en spoedig sou hy dalk nog in die kerkraad ook gedien het. Maar Jesus Christus kan ons nie kry nie, as ons nie die wêreld versaak nie.
‘ Iemand het Jesus gevra: "Sal min gered word?" (Lk 13:23vv). Wat antwoord Hy? "Span al jul kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie." Sonder vrees vir teëspraak kan mens sê dat baie min kerkgangers afsydig staan teenoor hul ewige lot. Maar dit beteken nie dat hulle sonder meer gered is nie. Want benewens hulle wat gered is, en hulle wat duidelik ongered is, is daar 'n derde kategorie S 'n baie groot kategorie. Dit is die "baie" wat sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie.
DIE KAMEEL EN DIE NAALD
‘ Tot nou toe het ons gekonsentreer op Jesus se hantering van hierdie jongman, en op die implikasies daarvan vir ons evangelisering. Kom ons kyk nou na wat voortspruit uit hierdie ontmoeting en wat dit prakties vir ons inhou (24vv). Die man is nou weg, en nou is dit 'n gesprek tussen die Here Jesus en Sy dissipels.
‘ Jesus sê weliswaar hier dat dit vir 'n ryk man baie moeilik is om die koninkryk in te gaan. Maar Hy kon net sowel gepraat het van 'n bitter en onvergewensgesinde persoon S of van 'n egbreker en wellusteling, of van 'n ongehoorsame kind, of van 'n oneerlike en 'n leuenaar. Hier gaan dit spesifiek oor hebsug, maar die beginsels geld vir enige sonde.
‘ Nou gaan die Here voort om te beklemtoon hóé moeilik dit vir 'n ryk man is om gered te word. 'n Kameel gaan makliker deur die oog van 'n naald, sê Hy! Deur die eeue was daar meer as een poging om hierdie verskriklike stelling van Jesus af te water, maar nie een daarvan het nog ooit werklik oortuig nie. In elk geval verstaan die dissipels Jesus letterlik. "Wie kan dan gered word?", vra hulle. Dit kan hulle wel vra, want die illustrasie wat die Here gebruik, dui op iets wat algeheel onmoontlik is. Daar is egter een, en net een uitsondering: as die almagtige God dit doen, kan dit wel gebeur!
'N HEERLIKE BELOFTE
‘ Waarskynlik verstaan die dissipels bloedweinig van wat Jesus presies bedoel, maar hulle aanvaar wat Hy sê. En dan dink hulle met groot verligting daaraan dat húlle al hulle besittings agter gelaat het, al was dit nie veel nie. Hoewel Jesus nie direk op hulle aanspraak reageer nie, erken Hy per implikasie dat hulle reg is. Want Hy gee in respons vir hulle een van die wonderlikste en rykste beloftes in die Skrif.
‘ Dis betekenisvol dat Jesus nou
nie meer net van besittings praat nie, maar veral van dierbares wat agter gelaat word. Die implikasie is duidelik: dit gaan oor meer as materiële besittings. Enige opregte opoffering ter wille van die Here, Sy evangelie (Mk 10:29), Sy koninkryk en Sy eer, sal ryklik beloon word.
‘ Daar sit groot troos in hierdie belofte. In hierdie lewe reeds sal dissipels baie keer soveel terug ontvang. Die dividende is uitmuntend! Honderdvoudig S met ander woorde baie, baie meer! (Mt, Mk). En dis nie iets totaal anders as wat hulle opgegee het nie. Volgens Markus is die kompensasie dieselfde soort dinge as dit wat hulle agter gelaat het S en indien nie identies dieselfde nie, ten minste soortgelyk. Om alles te kroon sal die loon tot sy hoogtepunt kom in die ontvangs van die ewige lewe. Kan die prysgee van enigiets hierteen opweeg? Wat kan belangriker wees as die ewige lewe? Wat kan meer waterdigte sin maak as Jesus se oproep om jou hand af te kap of jou oog uit te ruk as dit dreig om jou die ewige lewe te kos? (Mt 18:8-9). Want daar is niks, maar niks hoër en heerliker as dit nie! Hierdie wonderlike belofte hou egter één verrassing in: saam met al die heerlikhede kom ook vervolging! (Mk 10:30). Terwyl die na ons toe sal terugkom, selfs honderdvoudig, is dit nie 'n geval van quid pro quo nie. Dis nie tit for tat nie. Dis nie 'n transaksie nie. Ek het geen aanspraak op die Here se kompensasies nie. Trouens, as dít is waaroor dit vir jou gaan, is jou motiewe nie suiwer genoeg nie. Laat ons nooit vergeet nie: die Here Jesus het nooit iemand probeer omkoop om Hom te volg en dien nie. En so is dit tot vandag toe. Jy val agter Hom in op Sy terme, of jy loop jou eie pad. En soos in die geval van die ryk jongman, sal Hy nie agter jou aan hardloop nie. Hy is oor niemand verleë nie! Nee, Jesus het nie mense omgekoop om Hom te volg nie S Hy het hulle uitgedaag. Ja, ja, het Hy gesê, daar is loon, maar dit gaan jou alles kos om dit in besit te kry. Die koninkryk is nie vir lafharte en opportuniste nie. Nee, "bestormers gryp dit met geweld" (Mt 11:12, OAV); "forceful men lay hold of it" (NIV).
WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS?
1. 'n Hele morsige lewe van sonde is nie nodig om verlore te gaan nie; nee, 'n enkele, net één, boesemsonde waaraan mens vasklou, kan jou en my in die ewige verdoemenis laat beland. Alles dui daarop dat hierdie jongman 'n uitnemende morele lewe gelei het. Dis net dat hy baie
lief was vir sy goed. Só verknog was hy aan sy besittings dat dit vir hom belangriker was as om die Here Jesus as Verlosser te omhels, en gevolglik radikaal, enkelhartig en lewenslank as Koning te dien. Baie, baie mense is werklik opreg en ernstig bereid om alles op te gee vir Jesus, behalwe één boesemsonde, wat dit ook al mag wees. Maar daardie één ding kos hulle dan die ewige lewe. Ons lees dat Herodus 'n ontsag vir Johannes die Doper gehad het, sy woorde en vermaninge ernstig opgeneem het, en gereeld in 'n tweestryd was wanneer hy na die prediker geluister het S maar dat hy nie kans gesien het om afstand te doen van Herodias, sy broer se vrou nie. Saam met hierdie vrou is hy die ewige verdoemenis in (Mk 6:20). Ons is geneig om te dink as ons vroomheid darem net 'n bietjie swaarder weeg as ons verkleefdheid aan die wêreld, sal ons dit maak hemel toe. Maar nee, een lekkasie, net één, is nodig om 'n groot skip te laat sink. Een sonde, net één, waarvan ek my nie wil bekeer nie, kan my my siel kos. Laat ek vlymskerp eerlik met myself wees! Let wel, die Bybel sê nie dat mense wat waarlik gered is, nie 'n stryd teen sonde sal hê nie. Inteendeel, die Skrif leer dat hulle elke dag in 'n intense en meedoënlose oorlog teen die vlees, die wêreld en die duiwel gewikkel sal wees. Die Bybel leer ook nie dat hulle nie meermale in hierdie stryd die onderspit sal delf nie. Maar wat die Bybel wel leer, is dat hulle die sonde met 'n felle haat sal haat, dit nooit sal goedpraat nie, en tog as 'n reël daaroor sal heers.
2. In hierdie verse sien ons die almag van God se genade in Christus. As dit makliker vir 'n kameel is om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die hemel te kom, is dit inderdaad onmoontlik vir 'n ryk man om gered te word. En presies dieselfde geld vir enige mens met 'n boesemsonde waarvan hy of sy weier om afstand te doen. Maar as dit dan vir 'n mens onmoontlik is, is dit wel vir God moontlik om so iemand te red. Dis maklik om te verstaan, sê jy. God is die Regter, en Hy is soewerein. Al wat Hy hoef te doen, is om so iemand kwyt te skeld S om die sonde nie teen hom of haar te hou nie. Wie sal Hom beskuldig as Hy die ewige lewe gee vir wie Hy wil? Iets hiervan is natuurlik waar. Maar heeltemal só eenvoudig is dit nie S verre daarvandaan. God red niemand ten spyte van sy sonde nie. Hy red niemand in sy sonde nie. Nee, as Hy jou red, loop dit altyd uit op 'n felle haat teen sonde
in jou lewe S alle sonde. Sonder uitsondering word dit een van jou grootste begeertes om eens en vir altyd klaar te kry met elke kriesel sonde. Presies dit is waarom jy so 'n voortgaande stryd voer teen die sonde in jou. In die geval van die ryk jongman is sy boesemsonde hebsug. In net die volgende hoofstuk van Lukas lees ons hoe die Here nóg 'n ryk man van hebsug verlos. Ons praat van Saggeus (Lk 19:1-10). Presies hóé dit gebeur het, word nie aan ons geopenbaar nie, maar ons sien hoe hierdie skelm tollenaar totaal strydig met sy persoonlikheid tot nou toe, hom voorneem om restitusie te doen teenoor almal wat hy al in die verlede ingeloop het. Nie alleen wil hy dit veel deegliker doen as wat die Ou Testamentiese wet vereis nie (hy wil vierdubbel teruggee); hy wil die helfte van sy goed vir die armes gee. As die Here Jesus dan sien dat die doodsgreep van hebsug in Saggeus gebreek is, herken Hy die herskeppende werk van die Heilige Gees in hom: redding het gekom; ook hý is 'n kind van Abraham! Siedaar, die kameel is dwarsdeur die naald se oog! Sien jy? Al weet ons dat ons deur God se genade alleen gered word, op grond van Christus se verdienste alleen, deur die geloof alleen, neem die Here se redding altyd 'n bepaalde vorm aan. Dit word sigbaar in bekering en 'n opregte standpunt-inneming teen die sonde wat tot nou toe jou lewe beheers het. Dit beteken egter nie dat hierdie sonde nie meer vir jou gevaar inhou nie. Dis soos 'n slang waarvan jy die rug gebreek het met jou kierie. Bly jy op 'n veilige afstand, is hy magteloos. Maar speel jy met hom, kan hy jou steeds noodlottig pik. Mense wat wedergebore is, ervaar so 'n afsku van sonde dat hulle niks meer te doen wil hê nie met daardie sondes waarmee hulle eens so hand om die lyf geloop het. Dis omdat die wedergeboorte 'n hartsverandering is. En die hart is die sentrum van jou persoonlikheid. Word jy in jou hart S die beheerkamer van jou lewe S verander, moet en sal jou lewensuitinge ook verander. Dis 'n nuwe lewensbeginsel wat in jou geplant word. Alles verander (2Kor 5:17, OAV). Jy het 'n nuwe lewensgerigtheid, nuwe hartstogte, nuwe belangstellings, nuwe voorkeure en afkeure. Sien jy? Redding en wedergeboorte kan nie onder 'n maatemmer weggesteek word nie. Sonder uitsondering word dit sigbaar in bekering en heiligmaking.3
3. Die geskiedenis van die ryk jongman en Saggeus leer ons die wonder van God se genade. Wie kan dan gered word?, vra die dissipels. Vir God is alles moontlik, antwoord Jesus. En inderdaad, selfs die opperste bedrieër, Saggeus, word 'n nuwe skepsel. Onthou, die Woord vertel ons van baie ryk mense wat kinders van God was: Abraham, Job, Dawid en talle meer. Maar hulle het een en almal die Here enkelhartig gedien. In geen geval was hulle geld en besittings hulle baas nie. Dink maar aan hoe die Skrif hulle vir ons skets. Is hulle rykdom ooit voorop in hulle lewens? Nee, veel eerder was hulle mense wat met beide hande uitgedeel het S omdat die Here hulle harte bevry het van die wurggreep van hebsug, en dit vervang het met 'n allesoorheersende liefdesempatie vir diegene wat gebrek ly. En wat hier vir hebsug geld, geld netso vir enige ander sonde waaraan jy in hierdie oomblik mag dink. O, niemand, maar niemand is buite bereik van God se herskeppende genade nie. Geen sonde kan jou vashou as die Here jou eenmaal gegryp het nie. Sit jy dus tans nog met 'n doodsonde wat jou magteloos in sy greep het? Maak nie saak wat dit is nie: hebsug, wellus en onsedelikheid, woede en bitterheid, jaloesie, verslawing, luiheid, trots, ongeloof, liefdeloosheid, of wat ook al S vat dit nou in nederigheid en eerlikheid na die Here toe. Verootmoedig jou in opregte gebrokenheid voor Hom. Draai jou rug met beslistheid op jou sonde S neem standpunt in daarteen. Bely dit sonder om terug te hou. En vra Hom dan om jou te vergewe, en om jou te verlos uit die wurggreep. En Hy sal dit doen, al verg dit ook van jou 'n lang en uitgerekte stryd. Want niks behaag en verheerlik Hom meer as om sondaars te red nie.

===================================================================================================================


• Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder.
Dit staan enigeen gevolglik vry om die inhoud van hierdie studiestuk met of sonder erkenning te gebruik.
Die skrywer het immers self baie hulp by ander gekry.
Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie. •
Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika.

E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396.
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
• Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans (soms in Engels) per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3628
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Vr Aug 04, 2017 1:05 pm

Hiermee n volgende Herout. Vertrou dit beteken iets vir jou.

Hartlike broedergroete,

Nico van der Walt
[nico.vanderwalt@reformed.org.za]

=====================================================
DIE DRIE-EENHEID VAN GOD
'n Fundamentele waarheid van ons geloof

Nico van der Walt


Die openbaring oor God as die Drie-enige is gewis een van die diepste geheimenisse in die Bybel. Wie kan dit begin deurgrond? Uit die aard van die saak kan ons net soveel weet oor die wese van God as wat Hy self aan ons bekend maak. En miskien meer as enigiets anders, is God se drieenigheid 'n openbaringswaarheid wat geheel en al buite die bereik van menslike denke of ervaring lê. Wanneer ons dus met hierdie onderwerp besig is, is daar geen ruimte vir menslike spekulasies of verbeeldingsvlugte nie. Nederig moet ons streng bly by die Bybelse openbaring en nie 'n millimeter daarvan afwyk nie.
‘ In 'n neutedop openbaar God Sy drie-enigheid só aan ons: God is een wese, wat vir ewig bestaan as drie Persone.1 Hierdie drie Persone S die Vader, die Seun en die Heilige Gees S is, enersyds, nie drie afsonderlike gode nie, maar ook, andersyds, nie bloot drie gestaltes of manifestasies van die een God nie. Wesensmatig is God enkelvoudig; persoonsmatig is Hy drievoudig. Die Bybel lei ons om ten minste die volgende drie stellings oor God se drie-enigheid te maak: Eerstens, die enige en lewende God is vir ewig onveranderlik en
onverdeelbaar één. Tweedens, die Vader, die Seun en die Heilige Gees is onderskeie persone. Derdens, die Vader, die Seun en die Heilige Gees is elkeen ten volle en gelykwaardig God.
‘ Aangesien God se drie-enigheid fundamenteel is in al Sy handele, bring dit mee dat hierdie waarheid feitlik alle ander leerstukke van die Christelike geloof beheers: die goddelikheid en persoon van Jesus Christus, die menswording van die Seun, Sy versoeningswerk, ensovoorts. Sonder 'n deeglike verrekening van God se drieenigheid kan hierdie lewensbelangrike waarhede glad nie verstaan word nie.
‘ Dit is nie oordrewe nie om te sê dat die leerstuk van God se drieenigheid een van dié kentrekke van die Christelike geloof is. Daar is sekere monoteïstiese godsdienste, en daar is talle politeïstiese gelowe, maar in nie een van hulle word die konsep van drie-enigheid aangetref nie.
‘ Die openbaring oor God se drieenigheid herinner ons daaraan dat God nie 'n onpersoonlike, emosielose, selfs eensame wese is nie. Dit help ons om te sien dat talle van Sy verhoudingsattribute in elk geval sou kon oopblom, al sou Hy niks of niemand buite homself geskape het nie. Daar is onmiskenbare aanduidings in die Skrif dat daar van ewigheid af tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid onderlinge liefde, gemeenskap, respek, vertroue en vreugde was.
HOE GOD SE DRIE-EENHEID GEOPENBAAR WORD
‘ Die leerstuk oor die drie-eenheid van God is 'n groot struikelblok vir veral die Jode en die Moslems. Hulle beskuldig Christene van 'n radikale afwyking van Ou Testamentiese monoteïsme. Die vraag is dus of die drieeenheid van God inderdaad in die Bybel geopenbaar word, en spesifiek of dit reeds in die Ou Testament na vore kom?
‘ Hoewel die drie-eenheid van God 'n onmiskenbare openbaring dwarsdeur die Bybel is, moet ons verstaan dat dit nie in eksplisiete terme in die Skrif geopenbaar word nie. Dit word nie definisie-matig as 'n stel proposisies vir ons gegee nie. Nee, die openbaring dat die Vader, die Seun en die Gees elkeen ten volle en gelykwaardig God is, is fragmentaries en subtiel as 't ware regdeur die Woord gestrooi. Voorts word dit S soos soveel ander Skrifwaarhede S algaande duideliker soos die Skrifopenbaring vorder. Dit is dus noodsaaklik om hierdie los stukkies openbaring bymekaar te maak en te orden S soos dit baie maal gaan as mens in die natuur en
die Bybel die wondere van God en Sy werke ondersoek en probeer verstaan.
‘ Om dit wat ons vind kernagtig en samevattend te omskryf, is dit nodig om soms woorde te gebruik wat nie in die Bybel voorkom nie. Omdat hierdie geopenbaarde waarheid nie ooreenstem met enigiets wat ons in hierdie lewe ervaar nie, is dit nie net moeilik om te verstaan nie, maar is dit ook 'n worsteling om dit onder woorde te bring. In die proses is selfs woorde geskep wat vir die nuweling vreemd is en beswaarlik sin maak. So het die uitdrukking drie-eenheid byvoorbeeld ontstaan. Dis nie 'n woord wat in die Bybel voorkom nie, maar poog om met een greep vas te vat wat die Skrif oor God se diepste wese openbaar.
DIE OU TESTAMENT
‘ Dis hoogs onwaarskynlik dat iemand wat vandag die Ou Testament sonder enige kennis van die Nuwe Testament sou lees, tot die insig van die drie-enigheid van God sou kom soos ons dit ken. Dit beteken egter nie dat die Ou Testamentiese openbaring nie trinitaries is nie. Dit is inderdaad die geval. Dit beteken ook nie dat die Ou Testamentiese heiliges totaal onkundig daaroor was nie. Maar daar was net nie genoeg openbaring nie, en net te min het nog in die uitwerk van God se raadsplan gebeur, om dit vir hulle moontlik te maak om die waarheid van die drieeenheid naastenby so volledig te sien soos Nuwe Testamentiese gelowiges.
• Die vermaarde teoloog, Benjamin Warfield, illustreer dit só: die Ou Testamentiese openbaring oor God se drie-eenheid is soos 'n skatkamer wat in sterk skemerte gehul is. Sonder goeie lig kan jy nie behoorlik agterkom wat aangaan nie. As iemand egter 'n sterk lig in die vertrek inbring, word die ryke inhoud daarvan eensklaps duidelik. Die lig voeg niks by dit wat nog altyd daar was nie; dit maak dit bloot sigbaar. Met betrekking tot die drieeenheid, was die Nuwe Testamentiese openbaring so 'n lig.
‘ Die Nuwe Testament maak dit duidelik dat ten minste die volgende in die Ou Testament op God se drieenigheid sinspeel S meer of minder eksplisiet.
• Die Godsnaam, Elohim, wat ons reeds in Gen 1:1 aantref, en wat meer as 2500 keer in die Ou Testament voorkom, is 'n meervoudsvorm. Dit word egter altyd saam met werkwoorde in die enkelvoud gebruik. Soms word gesê dis 'n majesteitsmeervoud. Maar dit sinspeel bes moontlik op God se drie-enigheid.
• Gn 1:26-27 is insiggewend. Eers word voornaamwoorde in die
meervoud gebruik: "Toe het God (Hb. Elohim) gesê: kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld ..." Onmiddellik daarna word die enkelvoud dan weer gebruik: "God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Ook in Gn 3:22 kry ons dieselfde: "Toe het die Here God (Hb. Jahweh Elohim) gesê: 'Die mens het nou soos een van ons geword ...'" En as die toring van Babel gebou word, staan daar dat die Here sê: "Kom laat Ons afgaan en verwarring bring ..." (Gn 11:7). Tydens Jesaja se roepingsvisioen sê die Here: "Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?" (Jes 6:8). Sommige stel voor dat ook hierdie majesteitsmeervoude is, maar daar is geen voorbeeld in Bybelse Hebreeus van enige wêreldse koning wat dit gebruik nie. Ander stel voor dat God hier met die engele praat, maar die probleem is dat die mens nie na die beeld van engele geskape is nie.
• In 'n aantal Ou Testamentiese uitsprake word selfstandige naamwoorde in die meervoud gebruik om na God te verwys.2
2. Hierdie mag weliswaar S soos dalk ook in die geval van Elohim S majesteitsmeervoude wees, maar dis onseker, selfs dalk onwaarskynlik.
~ Ps 149:2: "Laat Israel hom verheug in sy Maker (lett. Makers), laat die volk van Sion jubel oor die Here hulle koning."
~ Pred 12:1: Dink aan jou Skepper (lett. Skeppers) in jou jong dae voor die swaar dae kom ..."
~ Jes 54:5: "Want jou Maker (lett. Makers) is jou Man (lett. Mans); HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word" (OAV).
• In die Ou Testament is daar gedeeltes waar een persoon "God" of "Here" genoem word, terwyl Hy onderskei word van 'n ander persoon van wie óók gesê word dat Hy God is.
~ Ps 45:7-8: "U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer. U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugdeolie bo u metgeselle." Hier is dus twee persone wat beide "God" (Hb. Elohim) genoem word, en wat van hulle gesê word kan vir seker nie op 'n mens betrekking hê nie. Dit hoef ons dus glad nie te verbaas dat die Hebreërskrywer hierdie uitspraak op die Seun van toepassing maak nie: "Maar van die Seun sê Hy (dit is God die Vader): 'U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike
septer laat U reg geskied'" (Hb 1:8, OAV).
~ Ps 110:1: "Die HERE (Hb. Jahweh) het tot my Here (Hb. Adonai) gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete" (OAV). Die Here Jesus werk hiermee in Mt 22:41-46 as Hy aan die Fariseërs toon dat Hy die Messias is S en waarlik God. Hy haal Ps 110 aan en wys daarop dat Dawid na twee persone as altwee God verwys. En vir wie sou Jahweh sê, "sit aan My regterhand", anders as vir iemand wat self God is? Net 'n onwillige en halsstarrige sou ontken dat ons hier die Vader het wat die Seun aanspreek S en dat die Here Jesus dit as sodanig vertolk. As verdere bevestiging gaan Dawid in Ps 110:4 voort met wat Jahweh vir Adonai sê: "Die Here het 'n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: 'Jy sal altyd priester wees in die priesterorde van Melgisedek.'" En soos reeds gesien, maak die Hebreërskrywer hierdie belofte verskeie kere op Jesus Christus van toepassing (Hb 5:6, 10; 6:20; 7:17, 21).
~ Dit lei dus geen twyfel nie dat ten minste sommige van die Psalmdigters bewus was dat daar meer as een persoon in die Godheid is.
~ Jes 63:10: "Maar hulle het in opstand gekom en het sy Heilige Gees bedroef, daarom het die Here vir hulle ’n vyand geword en het Hy self teen hulle geveg." Hier word duidelik 'n onderskeid gemaak tussen die Here en Sy Heilige Gees. En voorts word die emosie van hartseer aan die Gees toegeskryf, wat Sy persoonlikheid impliseer.
~ Mal 3:1-2: "Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige. Maar wie kan die koms van dié Engel verdra, wie kan standhou wanneer Hy verskyn? Hy is soos die vuur van die smelters en soos die seep van die wassers." Hier maak die Een wat praat,"die Here (Hb. Jahweh) die almagtige", 'n onderskeid tussen Hom en "die Verbondsengel", "die Here (Hb. Adonai) na wie julle soek ..." En beide dra Godsname.
~ Hos 1:7: "Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die HERE hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie." Hierdie Verlosser word met twee Godsname genoem: Jahweh en Elohim.
~ In Jes 48:16 sê die Kneg
van die Here: "En nou, die Here God het my en sy Gees gestuur." In die lig van die Nuwe Testament is dit duidelik dat die profesie van die Here se Kneg in Christus vervul is. So gesien, besef mens dat hierdie vers duidelike trinitariese ondertone het: al drie Persone van die Drie-eenheid is hier ter sprake.
• Nog 'n duidelike Ou Testamentiese sinspeling op die drie-enigheid van God kom na vore in die geheimenisvolle figuur van die "Engel van die Here" (Hb. Malak Jahweh).3 Op talle plekke in die Ou Testament word Hy onmiskenbaar as God geïdentifiseer, maar tog ook van God onderskei.
~ In Gn 16:7-13 verskyn die Engel van die Here aan Hagar. Die beloftes wat Hy aan haar gee, is onmiskenbaar beloftes wat net deur God gegee kan word: "Verder het die Engel van die Here vir haar gesê: 'Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle te veel sal wees om te tel'" (10). Hagar herken en erken Hom dan ook as sodanig: "Hagar het toe die Naam van die Here (Hb. Jahweh) wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: 'U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het'" (13).
3. Hiermee sê ons nie dat elke verwysing in die Ou Testament na 'n engel, of selfs na die engel van die Here, noodwendig 'n verwysing na die Malak Jahweh as tweede persoon van die Drie-eenheid is nie.
~ In Gen 22 kry Abraham die opdrag om sy seun, Isak, te offer. Maar uiteindelik lees ons: "Maar die Engel van die HERE het na hom van die hemel af geroep en gesê: 'Abraham, Abraham!' En hy antwoord: 'Hier is ek!' En Hy sê: 'Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God (Hb. Elohim) vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie'" (Gn 22:11-12, OAV).
~ In Gn 32:24-30 worstel Jakob by die Jabbok met 'n man wat hom uiteindelik seën en vir hom sê: "'Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God (Hb. Elohim) en met die mense en het oorwin.' Daarop vra Jakob en sê: 'Maak tog u Naam bekend!' En Hy antwoord: 'Waarom vra jy tog na my Naam?' En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; 'want', het hy gesê, 'ek het God (Hb. Elohim) gesien van aangesig tot aangesig ...'" (28-30, OAV). Hier is daar weliswaar nie sprake van die Engel van die Here nie, maar in Hos 12:4-5 word van Jakob gesê: hy het "met God geworstel. Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry ..." (OAV).
~ In Gn 48 seën Jakob vir Josef. In die proses gebruik hy 'n lofgedig waarin die parallelisme (tipies van Hebreeus) onteenseglik
op die gelykheid van die Engel aan God sinspeel: "Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het / die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe / die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het..." (15-16, OAV).
~ Tydens Moses se roeping in Eks 3 verskyn die Malak Jahweh aan Moses in 'n brandende bos (2), maar in die daaropvolgende gesprek met Moses vind ons dat dit God is wat Sy verbondsnaam, Jahweh, aan Moses bekendmaak.
~ Voorbeelde sou verder vermenigvuldig kon word. Vgl. ook: Gn 28:10-17 en 31:11-13; Eks 13:21 en 14:19; 23:20-23 en 33:14; 32:34; Jos 5:13-15; Rig 6:11-24; 13:3-22; 2Sam 24:16; Sag 12:8; Mal 3:1.
• In die Ou Testament is daar etlike uitsprake waarin die Messias as Goddelike gestuurde Homself onderskei van die Here en die Heilige Gees.
~ Jes 48:12-22 is betekenisvol. Onder meer sê Een wat die hemel en die aarde geskep het: "Luister na My, Jakob, luister, Israel, vir wie Ek geroep het: Ek is die Here, Ek is die eerste, en Ek is die laaste. Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê, deur my mag het Ek die hemelkoepel oopgesprei: Ek het hulle te voorskyn geroep en hulle het tot stand gekom (12-13) ... En nou, die Here God het my en sy Gees gestuur (16).
~ Jes 61:1: "Die Gees van die Here my God (Hb. Adonai Jahweh) het oor my gekom; die Here (Hb. Jahweh) het my gesalf om ’n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is ..." In Lk 4:18-19 maak die Here Jesus hierdie woorde op Homself van toepassing.
~ Sag 2:10-11: "Juig, Sion, wees bly! Ek kom, Ek gaan binne-in jou woon, sê die Here (Hb. Jahweh). Daardie dag sal baie nasies hulle aan die Here verbind: hulle sal my volk wees, en Ek sal in jou woon, Sion. Wanneer dit gebeur, sal jy weet dat die Here die Almagtige (Hb. Jahweh Sebaoth) my na jou toe gestuur het."
• Die profeet praat in Jes 63:710 van die Here, van Sy Engel, en van Sy Heilige Gees as drie aparte Persone: "In al hulle benoudheid was Hy (volgens v.7, Jahweh) benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hy hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd. Maar hulle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ’n vyand verander:
Hy self het teen hulle gestry" (OAV; vgl. ook NIV).
DIE NUWE TESTAMENT
‘ Lees mens egter die Nuwe Testament, vind jy die verrassende, amper verstommende feit dat die drie-enigheid van God orals veronderstel word. Daar is geen poging om dit te verduidelik nie; dit word eenvoudig aangeneem, asof niemand ooit daaroor onseker was nie (vgl. Mt 28:19; Mk 1:9-11; Jh 14:16-26; 15:26; 16:5-15; 1Kor 12:36; 2Kor 13:14; Ef 1:3-14; 2:18; 4:4-6; Gl 4:4-6; Rm 8:1-11; 2Ts 2:13-14; Tit 3:4-6; 1Pt 1:2; Jud 20-21; Op 1:4). Hoe moet ons dit verstaan dat die Ou Testament as 't ware geskryf is voordat die drie-enigheid van God geopenbaar is, en die Nuwe Testament oënskynlik daarna?
‘ Die Nuwe Testamentiese openbaring oor God se drie-enigheid word nie soseer in woorde aan ons deurgegee nie, maar in handele. Die drie-eenheid word geopenbaar as God die Seun mens word en onder ons kom woon. Dit word geopenbaar as God die Heilige Gees op die Pinksterdag uitgestort word. Hiervoor is die Ou Testament 'n voorbereiding. En hiervan is die Nuwe Testament die resultaat. Van die begin af het God Homself per slot van rekening tot 'n baie groot mate in dade aan die mens geopenbaar S dus in die vloeibedding van die geskiedenis.
Wat die drie-eenheid van God betref, kom dit eers werklik na vore as die verlossingsplan sy klimaks bereik. Trouens, die kulminering van die verlossingsplan is op sigself die finale openbaring van God se drieeenheid.
‘ Die Nuwe Testamentiese gelowiges het die openbaring oor God se drie-enigheid verstaan, omdat hulle die evangelie verstaan het. Hulle het verstaan dat God die Vader hulle só liefgehad het dat Hy Sy eie Seun gestuur het om hulle te verlos. Hulle het verstaan dat hierdie Seun waarlik God moes wees om hulle verlossing te bewerkstellig. Hulle het verstaan dat die Heilige Gees wat volgens die Here Jesus se beloftes op die Pinksterdag na hulle toe gekom het, deur die Vader en die Seun na hulle toe gestuur is. Hulle het verstaan dat Hy 'n afsonderlike Persoon is, en dat dit wat Hy in hulle tot stand gebring het in geen opsig deur iemand minder as God gedoen kon word nie.4
‘ Die basiese Nuwe Testamentiese openbaring van en bewys vir die drie-enigheid van God
kom dus in die groot verlossingshandele van God S in feite en gebeure, eerder as in woorde. Jesus Christus en die Heilige Gees is die Nuwe Testamentiese bewys van God se drie-eenheid. Ja, daar is baie verwysings na en sinspelings op die drie-eenheid van God, maar die éintlike bewys daarvan lê in die goddelikheid van die Here Jesus Christus en van die Heilige Gees. Só eenvoudig is dit: As die Nuwe Testamentiese Jesus waarlik die Seun van God is, en God die Seun; en as die Heilige Gees waarlik die Gees van God is, en God die Gees S dan is die drie-enigheid van God 'n feit. Indien nie, is daar nie so iets soos 'n drie-enige God nie.
WAT SÊ DIT VIR ONS?
‘ Hoe sal ons op God se drieenigheid reageer? Só verhewe is die lewende God, só ver is wie en wat Hy is buite ons ervaringsveld, dat mens Hom in respons op Sy selfopenbaring as die Drie-enige net kan aanbid. En wat sê jy dan as jy Hom aanbid? Jy kan maar net terug eggo wat Hy reeds vir jou gesê het. As jy meer probeer sê, verval jy bes moontlik in onheilige spekulasie. En daarom sal mens voor Sy drie-enigheid dikwels net swyg, in stille verwondering. Maar presies dit is die eerste praktiese implikasie van hierdie Skrifwaarheid waarna ons kyk. Nooit kan ons met iets méér verhewe besig wees as aanbidding nie. Dis ten diepste waarvoor ons geskape is. Dis ten diepste waarvoor ons gered is. Dis ten diepste waarvoor ons die ewige lewe ontvang het. Peins dikwels oor hierdie dinge. Aanbid dan: una substantia tres personae. En as die woorde in jou keel stol S swyg dan voor Hom, en buig laag. Dikwels is dit die heel hoogste aanbidding.
‘ God is 'n God wat innige vreugde het in gemeenskap. Die onderlinge liefdesgemeenskap tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees, tref ons orals in die Bybel aan. Elke keer as die Vader met die Seun hier op aarde praat, verklaar Hy Sy liefde. Was die ingesteldheid om die Vader te gehoorsaam nie die Seun se sentrale hartstog tydens Sy vernedering nie? En wat wil die Gees anders doen as om die Seun te verheerlik (Jh 16:14-15)? En natuurlik S heerlike, heerlike waarheid! S gemeenskap met die drie-enige God is ons heel hoogste en ewige roeping (Jh 17:3). En hierdie voorreg geniet ons, omdat Hý dit so wil hê.
‘ God is 'n God van samewerking. Het die Vader, die Seun en die Heilige Gees nie voor die grondlegging van die aarde reeds besluit om Hulleself te verheerlik in die redding van uitverkorenes vanuit 'n gevalle menslike ras nie? Het Hulle nie elkeen se rol in die verlossingsverbond onveranderlik en vir ewig vasgelê nie?
En dan, natuurlik, is die Bybel boordevol van hoe God die mens medewerkend betrek by die uitwerk van Sy raadsplan hier op aarde.
‘ Laat ons intens dankbaar wees oor God se drie-enigheid.
• Dit het dit moontlik gemaak dat, terwyl die Vader steeds die soewereine en regerende God in die hemel gebly het, die Seun mens kon word om onder ons te woon. Wat sou van ons geword het as Hy nie as groot Profeet, Priester en Koning na hierdie wêreld toe gekom het nie? As groot Profeet het Hy die essensie van wie en wat God is aan Ons kom openbaar: vol genade en waarheid, vol ontfermingsbarmhartigheid en verbondstrou (Jh 1:14). Nou het ons gemeenskap met die Here God sinvolle en troosryke inhoud. As groot Priester het Hy Sy lewe as strafdraende Plaasvervanger vir ons kom aflê (Rm 3:25), waarsonder ons so hopeloos verlore sou gewees het soos die gevalle engele. En as Priester tree Hy voorts by die Vader in vir die onuitspreeklik begenadigde mense wat aan Hom toevertrou is (Rm 8:34; Hb 7:25; 9:24). As Koning sal Hy tot in ewigheid in geregtigheid oor ons regeer.
• Omdat God drie-enig is, kon die Heilige Gees deur die Vader en die Seun na ons toe gestuur word. En wat sou ons sonder Hóm gewees het S sonder Sy wederbarende, verligtende, versekerende, heiligmakende en toerustende werk? En sonder Hom sou dit geheel en al onmoontlik vir ons gewees het om ons geliefde Verlosser te dien, te behaag en te verheerlik.


• Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Dit staan enigeen gevolglik vry om die inhoud van hierdie studiestuk met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by ander gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie. • Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar. • Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za of E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 848 9396 ; 082 8282 940 • Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs) • Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans (soms in Engels) per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het. • Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
=====================================================
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3628
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Vr Sep 29, 2017 10:47 am

ANTIPAS HEROUT "Antipas, My getroue getuie" (Op 2:13)
No.42

~ ~ ~

DIE LEWENDE GOD IS 'N HOORDER VAN GEBED

Deel 1 : 'n Aantal basiese beginsels


Nico van der Walt


Ps 65:3 : O Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom! (OAV). 1

IN HIERDIE PSALM BESING DAWID DIE LOF VAN SY GOD (1-2). In v.2-5 loof hy God se genade wat mense in 'n verhouding met Hom bring. In v.6-9 besing hy God se wêreldwye grootheid en almag. In v.10-14 besing hy God se goedheid. Dit kom veral tot uitdrukking in die voorsiening van wonderlike voorspoed in Sy algemene genade. Graham Scroggie sê van hierdie laaste paragraaf dat dit die aangrypendste oeslied is wat ooit geskryf is (vgl. veral die NAV).

Terug na die eerste paragraaf, met sy beklemtoning van die voorreg van 'n persoonlike verhouding met die Here. Let op dat Dawid die voorwerp van Sy aanbidding en lof aanspreek as "o God" (2), en dan in die res van die 4 verse 8 keer die voornaamwoord "U" gebruik. Waarlik, Dawid was van harte oortuig dat God nie 'n abstrakte idee is nie, maar 'n persoonlike Wese met wie die mens in 'n persoonlike verhouding kan staan.

$ In hierdie verhouding neem God die inisiatief.

~ Een ding wat egter skeiding tussen ons en Hom bring, is sonde. Maar selfs dít word deur Hom aangespreek. Hy versoen ons sondes (4).

~ God se inisiatief gaan selfs verder terug. Hy kies die welgeluksaliges wat mag nader kom om in Sy tempel te woon S mense wat die goeie dinge in Sy heilige woning mag geniet (5).

Dís die konteks waarbinne Dawid God as die "Hoorder van gebed" aanspreek. Só gesien, lig dit vir ons enkele uiters belangrike perspektiewe op gebed uit:

$ Lofprysing sal altyd aan die hart lê van elke volwaardige gebed (2).

$ In gebed sal dit altyd weer gaan oor ons worstelinge met sonde en ons soeke na God se vergiffenis (3-4). As my gebedslewe arm begin raak hieraan is daar fout. Dan begin ek selfvoldaan en gearriveerd raak. Dan begin ek my verhouding met God as 'n vanselfsprekendheid sien. Dan begin die wondere van Sy genade vir my vervaag. En min dinge tas die Here se eer meer aan as dit.

$ Gebed het egter ook te doen met die verkryging en genieting van God se goeie gawes (5). Nooit moet ons dit onderskat of vergeet nie dat die Here 'n innige behae daarin het as ons onsself weer en weer trommeldik drink uit Sy fonteine van heil. Wanneer Sy kinders elke dag met die grootste vrymoedigheid hulle knieë onder Sy tafel instoot en hulle aantrek uit Sy klerekas, het Hy nie net vreugde daarin nie, maar verheerlik dit Hom by uitnemendheid. Hy wil en sal elke sondaar vergewe wat in opregte nederigheid na Hom toe kom. Hy kan en wil die room van Sy heiligste gawes vir diegene gee wat dit van Hom vra.

$ Ware gebed sal altyd 'n hartstog vir die koms van die koninkryk, asook die bekering van mense en hulle toewyding aan die Here adem (3b).

$ Die Here se huis is egter 'n heilige tempel (5). Niemand moet dus dink dat hy gebed kan misbruik om onheilige dinge van God af te pers nie. Gebed is daar om ons elke dag toe te rus vir 'n heilige lewe tot eer van die Here. Het Jakobus nie gewaarsku nie: "As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig" (Jk 4:3)?

$ In al hierdie dinge het God die inisiatief geneem (5). Hy wil hê ons moet bid. Daarom móét ons vrymoedig bid S openlik, nie bang of inkennig of terughoudend nie, maar in vryheid en met sekerheid. Het ons nie 'n volmaakte Middelaar in Jesus Christus nie? Gebed is nie om God se arm te probeer draai om iets teen Sy sin te doen nie. Hý het hierdie wonderlike voorreg daargestel. Hý dring aan op vrymoedigheid teenoor Hom. En sódanig is Sy behae in ons gemeenskap dat Hy Sy beste gawes net digby Sy troon uitdeel. Daar is nog 'n gebedsuitspraak van Jakobus wat ons nie moet vergeet nie: "... julle het nie, omdat julle nie bid nie" (Jk 4:2, OAV).

Kennelik het Dawid gebedsgemeenskap en -verhoring proefondervindelik geken. Dis waarom hy God so noem: Hoorder van gebed! Vir hom is gebed aan die hart van sy geloofslewe. Niks is vir hom belangriker en kosbaarder nie. Male sonder tal het hy al sy sonde en gebrokenheid voor God uitgekreun S en die onbeskryflike verligting van vergiffenis beleef. Wie sal weet hoeveel maal hy al sy belaste hart in voorbidding voor God se troon uitgestort het? Duisende male het hy homself al in opregtheid en ywer aan God toegewy. Hoeveel ontelbare woorde van lof en aanbidding en dank het nie reeds uit sy mond na die hemel opgestyg nie? Waarlik, as hy aan God dink, dink hy aan Hom as die Een wat sy gebede verhoor.

$ So bewus is hy daarvan dat God 'n vreugde het in die verhoring van Sy kinders se gebede, dat hy wens alle mense wil die wondere van so 'n persoonlike verhouding met God leer ken. Hoe meer mense weer en weer die Hoorder van gebed se genadetroon opsoek, hoe meer sal Hy verheerlik word. Vandaar die digter se uitroep in v.3: "... tot U moet alle vlees kom!" (OAV).

WAT BETEKEN DIT AS DIE WOORD GOD 'N HOORDER VAN GEBED NOEM?

Wat Dawid beleef het, het ontelbaar baie gelowiges deur die eeue en in alle lande beleef. Die hele Woord van God leer immers dat Sy kinders kan verwag om gebedsverhoring as 'n lewenswerklikheid te ervaar.

Dat Hy 'n God is wat gebed verhoor, is deel van die Allerhoogste se karakter S ten spyte daarvan dat Hy oneindig verhewe bo ons as mense is, en in geen opsig van ons afhanklik is nie.

As ons vir 'n oomblik nadink oor God as Hoorder van gebed, begin ons begryp waarom die Bybel Hom so noem, waarom dit as 't ware as een van Sy name aangebied word.

$ Die Here verleen aan ons vrye gebedstoegang tot die heiligdom. Die pad na Hom toe is as 'n nuwe, lewende weg deur die geskeurde voorhangsel heen vir ons gebaan. Dit is een van die uitnemende dinge wat Christus vir ons bewerkstellig het (die Hebreërskrywer noem dit heel eerste as hy in hoofstuk 10:19 en volgende verse die praktiese implikasies van Christus se versoeningswerk begin uitwerk). Markus beklemtoon dat die voorhangsel, wat tydens die Ou Verbond die mense weerhou het om die allerheiligste binne te gaan, van bo na onder geskeur het (15:38). Dit is God self wat dit triomfantelik doen na eeue se wag vir die onbelemmerde gemeenskap wat Nuwe Testamentiese gelowiges sedertdien met Hom geniet. Waarlik, Sy troon is nie meer 'n troon van verskrikking nie, maar 'n troon van genade! En ons kan met die allergrootste vrymoedigheid toetree, so dikwels as ons wil. Let ook daar op dat hierdie nie 'n voorreg is wat tot vroom en ordentlike godsdienstiges beperk is nie. Dit geld vir die vuilste en verwerplikste sondaars as hulle eers gewas is in die bloed van die Lam. Een en elkeen vir wie dit geld kan met al hulle behoeftes na Hom toe kom. "Moet oor niks besorg wees nie," sê die apostel in Fl 4:6, "maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend." En dalk is die wonderlikste van alles dat God ons nie net toelaat nie, maar inderdaad sterk aanmoedig om volhardend te bid. Ons kan maar soos die knaende weduwee in Lk 18 weier om "nee" vir 'n antwoord te vat. In Jes 62 beveel Hy die wagte op die mure van Jerusalem om Hom sonder ophou voortdurend aan Sy beloftes te herinner. Soos 'n Pa met sy klein seuntjie op die mat, laat Hy ons toe om met Hom te worstel in die gebed. Soos Jakob by die Jabbok mag ek weier om Hom te laat gaan voordat ek die seën ontvang het.

$ Die Here beantwoord ons gebede geredelik en maklik. Word ons nie dikwels geantwoord terwyl ons nog vra nie? Presies dit is wat Jes 65:24 belowe: "Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor." Hoewel Daniël in sy gebed geworstel het, verseker die engel hom uiteindelik dat sy gebed reeds verhoor is toe hy begin bid het (Dn 9:23). En selfs die gelykenis oor die knaende weduwee wat so aangehou vra het vir die regter, sluit die Here Jesus só af: "Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!" (Lk 18:7-8).

$ Ons gebede word meermale op 'n oorvloedige wyse beantwoord. Ja, soms gee die Here net wat ons vra. Daarom word ons op verskillende maniere in die Bybel aangemoedig om toe te sien dat ons nie te min vra nie S soos die weduwee wat deur Elisa gewaarsku word om nie te min oliekanne te leen nie (2Kon 4:3); of soos Koning Joas wat met die bondel pyle teen die grond moes slaan, en dit net drie maal gedoen het, in plaas van vyf of ses keer (2Kon 13:14-21). Maar meermale gee die Here ons soveel meer as wat ons verwag of vra. Het ons nie ook soms Salomo se ervaring nie? Aan die begin van sy koningskap vra die Here hom: "Wat wil jy hê moet ek vir jou gee?" (1Kon 3:5). Salomo vra dan gehoorsaamheid en die vermoë om die volk reg te regeer. Hierop reageer die Here toe: "Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand vóór jou gehad het of ná jou sal hê nie ... Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: rykdom en aansien, sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees solank jy leef nie. As jy jou in jou optrede hou aan my voorskrifte ... sal Ek jou ook nog =n lang lewe gee." Hierdie beginsel het Paulus verstaan. In die afsluiting van sy gebed vir die Efesiërs sê hy van die Here dat Hy in staat is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (Ef 3:20).

$ Male sonder tal het die Here al op grootse wyses gewerk in antwoord op gebed. Die Bybel is boordevol voorbeelde. Ook die kerk- en sendinggeskiedenis is vol daarvan. Een van die redes waarom ons die Bybel sowel as die geskiedenis S veral biografieë S moet lees, is juis om versterking van ons geloof daaruit te put. Watter indruk maak die lees van George Müller se lewensverhaal nie op 'n mens nie. Of dink aan William Carey met sy leuse: "Attempt great things for God, expect great things from God." Dink aan wat mense soos Hudson Taylor en C.H. Spurgeon reggekry het S omdat hulle by uitnemendheid die Here as 'n Hoorder van gebed geken het. Moenie dink dit geld net vir die reuse nie. Elkeen wat werklik die Here wil gehoorsaam en Sy beloftes vertrou, se naam kan uiteindelik by die geloofshelde van Hb 11 gevoeg word.

$ Geeneen van hierdie wêreld se gode is hoorders van gebed nie. In die meeste gevalle is dit so voor die hand liggend dat ons nie eers verder daaroor hoef te praat nie. Dis waarlik soos Ps 115 van die valse godsdienste sê: "Wat húlle het, is afgode ... die werk van mensehande. =n Mond het hulle, maar praat kan hulle nie, oë het hulle, maar sien kan hulle nie ... Hulle hande, daarmee kan hulle nie voel nie, hulle voete, daarmee kan hulle nie loop nie ... Julle wat die Here dien, vertrou op die Here! Hy help en beskerm julle. Die Here ... seën dié wat Hom dien, klein en groot" (4-13). Wat van diegene wat tot die duiwel bid, sal iemand vra, ervaar húlle nie gebedsverhoring nie. Almiskie! Eienaardige dinge mag dalk gebeur as Sataniste, en mense wat okkulties aktief is, bid. Maar die doel is slegs om sulke naïewe mense dieper in die Bose se web in te lok S totdat hulle uiteindelik volkome in die mensemoordenaar se mag is. Daarenteen sal die Here ons God slegs ons gebede op so 'n wyse beantwoord dat dit in ons ewige belang is.

$ Miljoene van oor die hele wêreld bid in 'n duisend tale tot Hom, maar Hy is by elkeen betrokke. Hy luister na elkeen. In elke eeu en kultuur is gebedsomgang met God aan die hart van Christenskap. En dit geld vir ryk en arm, vir arbeiders en koninklikes, vir ongeletterdes en geleerdes. Waarlik, Hy is die Hoorder van gebed.

WAAROM HET GOD GEBED INGESTEL AS SO 'N BELANGRIKE DEEL VAN SY VERHOUDING MET SY KINDERS?

Laat ons eerstens sê waaroor gebed nie gaan nie:

$ Sekerlik bid ons nie om God in te lig oor ons nood en behoeftes nie. Hy is alwetend. Hy weet presies wat ons nodig het, veel beter as onsself. En Hy weet dit voordat ons dit uitspreek of besef.

$ Ons bid ook nie om God van opinie te laat verander nie. Dit is wel so dat die Bybel dit soms so aanbied S as dat ons gebede Hom van koers laat verander. Maar God se raadsplan is van die begin af tot in die fynste besonderhede vasgelê. Luister wat sê 1Sam 15:29: "Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie =n mens dat Hy van gedagte sou verander nie." Nee, as dit in die Skrif lyk asof God Hom laat ompraat deur ons gebede, is dit maar 'n menslike manier om oor gebedsverhoring te praat. Die Woord is van hoek tot kant vol sulke antropomorfismes S bloot 'n manier om dit wat ons van God en Sy optrede beleef, te probeer beskryf in taal wat ons verstaan. So praat die Bybel van God se sterk arm om na Sy almag te verwys, of van Sy oë wat alles sien, as Sy alwetendheid. Omdat Hy die geheimenisvolle Een is wat buite ons dimensies en ervaringswêreld leef, en ons Hom nie in menslike kategorieë kan vasvang nie, het ons geen ander keuse as om soms oor Hom te praat asof Hy 'n mens is nie.

Tog het God gebed ingestel as 'n uiters belangrike deel van gelowiges se lewens en ons verhouding met Hom. Só verstaan Christene dit deur die eeue. Die Heidelbergse Kategismus, V & A 116 stel dit so: "Waarom is die gebed vir die Christene nodig? Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons vorder, en omdat God Sy genade en die Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank." Wat is dus die redes waarom God wil hê Sy kinders moet bid voordat Hy hulle seën? Waarom is ons gebede só instrumenteel in Sy handele dat daar oënskynlik niks gebeur voordat ons nie bid nie? Waarom maak die Here ons Sy medewerkers?

Daar is 'n paar basiese redes:

$ Gebed verheerlik God. Wanneer ons Hom nader oor die waarmaak van Sy beloftes S des te meer wanneer ons met Hom worstel daaroor S is dit ons manier om te sê: "Ons twyfel nie aan U integriteit om U te hou aan dit wat U in terme van die genadeverbond onderneem het nie, en ons weet ons kan peil trek op U almag om alles wat U belowe het uit te voer!" As ons voorsiening net elke dag opgedaag het, sou God gewis nie die eer gekry het wat Hom toekom nie. Sonder gebed, sou ons Sy goedheid baie gou as vanselfsprekend, trouens, as ons reg beskou het. Sien ons dit nie by die ongelowiges met betrekking tot God se algemene genade nie? Soos ons deur gebed intiem betrokke is by die wondere van die Here se werke, is ons intens bewus van Sy heerlikheid. As ons bloot op 'n afstand as waarnemers gestaan het, sou ons Sy handele S vir soverre ons daarvan sou kennis geneem het S gou-gou aanvaar het as die werkinge van 'n veraf-God, of selfs as die effekte van allerlei onpersoonlike natuurkragte. Maar nou, omdat ons deur gebed hand aan hand met Hom loop, weet ons sonder twyfel wie die wonderlike dinge doen waarvoor ons bid S en verheerlik ons Hom daarvoor. Gebedsbetrokkenheid by die Here se werk lei selfs ongelowige omstanders om partykeer Sy heerlikheid raak te sien en te erken. Hulle het nie geloofsoë om God te sien nie, maar kan wel óns handele lees. En wanneer ons dan gebedsverhoring ervaar S en hulle besef dat ons dit nooit self kon bewerkstellig nie S begin iets van die werklikheid van 'n lewende, betrokke en liefdevolle God tot hulle deurdring. Dikwels al was dit die begin van grootse bekerings.

$ Gebed leer ons God beter ken. Gebed dwing my om weer en weer na te dink oor wie God werklik is, oor wat Sy wil is, oor hoe Hy werk, en oor waarheen Hy op pad is. Ek leer vanuit Sy goedheid en alwysheid leef. Ek leer om rekening te hou met Sy geregtigheid. Gebed beklemtoon Sy almag teenoor my swakheid, Sy barmhartigheid teenoor my onwaardigheid, Sy algenoegsaamheid teenoor my algehele afhanklikheid.

$ Gebed bewerkstellig gemeenskap tussen die Hemelse Vader en Sy kinders. Hy wil nie bloot 'n veraf God wees nie; daar moet gereelde, daaglikse interaksie wees. Watter ouer verstaan dit nie? Hoewel God ons nie nodig gehad het vir Sy voortgesette bestaan as die Algenoegsame nie, het Hy ons ter wille van Homself geskape. Om God te ken en met Hom te wandel in 'n persoonlike verhouding lê aan die hart van ons skeppings- en herskeppingsdoel. Ons hemelse Vader het vreugde daarin om alles te voorsien wat ons nodig het. Dis soos 'n goeie pa se tevredenheid as hy sy vrou en kinders behoorlik kan versorg. Maar min dinge sou hom meer verneder en ontstel as dat hulle by die bure moet gaan bedel. Die Here wil egter nie sonder meer voorsien nie; dit moet geskied op 'n wyse waarvan Sy kinders deeglik kennis neem. Slegs so sal ons Sy vreugde in voorsiening kan beantwoord met die wedervreugde van ontvangs. In gebed werk ons saam met God S is ons Sy medewerkers. Wat 'n enorme voorreg is dit nie. Laat ons dit nooit geringskat nie! Watter eer is dit nie vir 'n klein seuntjie om saam met sy pa belangrike werk te doen nie! Kan daar iets grootser wees as om deel te hê aan die redding van sondaars uit die kake van die ewige dood! Wat kan belangriker wees as om jou lewe te wy aan die koms van die koninkryk en die eer van die lewende God! Wat kan meer sinvol wees as om jou lewe in te ploeg in dit wat ewigheidsvrug bewerkstellig! Ja, ons is nie net die Here se medewerkers wanneer ons bid nie S allermins S maar min dinge lewer meer dividende vir tyd en ewigheid as juis gebed!

$ Gebed oefen en bevorder my geloof. Gebed vereis nie net geloof nie; dit stimuleer ook geloof. Hoe wesentlik belangrik is geloof nie in ons omgang met die Here nie! Daarsonder kan ons nooit wees wat Hy wil hê nie. Niks behaag en verheerlik ons Hemelse Vader meer as ons algehele vertroue in Hom nie. So stel die Hebreërskrywer dit: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en =n beloner is van die wat Hom soek" (11:6, OAV). Let op dat dit hier oor gebed gaan: "hy wat tot God gaan". Biddeloosheid daarenteen getuig van 'n onverskilligheid ten opsigte van God se verheerliking. Dis ongeërgdheid oor die uitwerk van Sy raadsplan, die koms van Sy koninkryk, die verbreiding van Sy evangelie, die welsyn van Sy gemeente, die redding van mense sonder God en sonder hoop. Biddeloosheid spreek van 'n arrogante selftevredenheid en van 'n onafhanklike staatmaak op eie vermoëns. Biddeloosheid kom neer op 'n mosie van wantroue in ons Skepper en Voorsiener. Biddeloosheid is een van die belangrikste simptome van 'n dodelike siekte: ongeloof! Maar geloof is nie net nodig vir ware gebed nie; gebed staan ook in diens van geloof. Dis soos met fiksheid en spiere S hoe meer ons dit oefen, hoe meer groei dit. Tot die mate wat ons dus geloof tydens ons gebede beoefen, tot daardie mate groei ons geloofspiere. Hier is een van die groot redes waarom gebed so 'n wonderlike genademiddel is. En laat ons onthou dat geloof nie net rus en vertroue is nie. Dis meteen ook 'n moedige uitstap om die dinge aan te pak wat die Here se Woord beveel, terwyl ek weet dat ek dit nooit in eie krag sal kan regkry nie. En ook hier sien ons die intieme wisselwerking tussen gebed en geloof S want tot die mate wat ek strydig met wêreldse sekerhede in die geloof uitstap, tot daardie mate sal dit my na my knieë toe dwing. En tot die mate wat ek bid, tot daardie mate sal dit my versterk en aanspoor tot ondernemingsgeloof. En tot daardie mate sal William Carey se gesegde vir my 'n lewenswerklikheid word: "Attempt great things for God; expect great things from God!" Hier is ons by een van die belangrike redes waarom die Here soms van ons verwag om die riskante in die geloof aan te pak, om iets só onverantwoordelik te doen dat mense ons as ietwat versteurd beskou. Die Here roep ons soms om op die water uit te klim, omdat Hy hierdie opwaartse spiraal wil versnel. Want dis nou eenmaal so: hoe benouder ek is, hoe meer en hoe ernstiger bid ek. Waarlik, 'n lewe wat voluit gaan vir die Here, die belewing van Sy beloftes, en vir die inbesitname van ons erfenis in Christus, is altyd 'n weergalose avontuur! Almal van ons bewonder 'n George Müller se geloof, meeste van ons begeer om die geloofsbelewinge en -avonture van 'n Broer Andrew te beleef S maar ons vergeet maklik dat baie gebed aan die wortel van sulke lewens was en is.

$ Gebed is 'n kragtige instrument in my proses van heiligmaking. Min dinge laat my my afhanklikheid van God so intens beleef as gebed. Nie alleen gebeur dit wanneer ek met al my behoeftes na Hom toe gaan nie. Selfs wanneer ek besig is met lof, lê erkenning van en dankbaarheid vir Sy afbuig na my toe aan die wortel daarvan. In my worstelinge oor wat en hoe om te vra, word ek weer en weer tot oorgawe aan Hom gedwing. En al meer vestig dit hierdie godvrugtige hartsgesteldheid in my. Gebed berei my ook voor om reg te reageer wanneer God wel in antwoord daarop werk. Dit help my om dit raak te sien (want ek is altyd maar weer geneig om die Here se voorsienigheid as vanselfsprekend te beskou). En dit help my om in opregtheid Sy goedheid, nie net te erken nie, maar om in my hart van harte te weet dat dit Hý is wat dit gee.

Laat ons dus verstaan: God het nie net die eindresultate van Sy raadsplan verordineer nie; Hy het ook die middele onderweg daarheen tot in die fynste besonderhede vasgelê. En een van die belangrikste hiervan is Sy kinders se gebede.




Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Hierdie lewensbelangrike waarhede is kernagtig en uitnemend geformuleer in die groot belydenisskrifte wat ontspring het uit die sestiende-eeuse Reformasie en is gebaseer op die fundamentele geloofsvertrekpunte: die Skrif alleen, genade alleen, Christus alleen, geloof alleen, die eer van God alleen.

As u graag die Herout so ongeveer elke 6 weke gratis wil ontvang B per slakkepos of per e-pos B stuur u naam, telefoonnommer en tersaaklike adres aan ons verspreidings- en redaksionele kantoor en meld of u dit per slakkepos of e-pos wil ontvang. Antipas Herout, Posbus 12371, Queenswood, 0121; T & F : (012) 329 3012 nico.vanderwalt@reformed.org.za

Al ons lektuur, asook ander inligting, is beskikbaar op ons webwerf http://www.reformed.org.za

UITGEWERS Antipas Lektuur Posbus 263435, Drie Riviere, 1935 Tel (016) 428 2429 of (016) 423 3391

Nico van der Walt is 'n gemeentepastor en leraar in Pretoria. Hy onderskryf die histories-gerespekteerde en internasionaal-erkende 1689 Baptiste Belydenis B soos meeste reformatoriese (gereformeerde) Baptiste oor die wêreld, asook die Belydenisskrif en Kernwaardes van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.

Dit staan enigeen vry om die inhoud van hierdie Herout met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by andere gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie.

Indien u waardering het vir die Herout, help ons asseblief om sy boodskap wyer uit te dra. Stel dit aan andere bekend, moedig hulle aan om in te teken, of stuur vir ons name en adresse van mense van wie u glo dat hulle die Herout sal waardeer. Ons stuur met graagte 'n eenmalige bekendstelling aan diesulkes, maar plaas hulle name slegs op ons versendinglys indien hulle self daarom vra.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3628
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Vr Sep 29, 2017 2:43 pm

Hiermee AH43. Jammer hy's bietjie laat, maar ek het gesukkel om hom weg te kry. Vertrou dit beteken iets vir jou.

Hartlike groete,

jbiC

Nico v/d Walt

====================================================================================================


DIE LEWENDE GOD IS 'N HOORDER VAN GEBED

Deel 2 : Oor gebedsverhoring al dan nie.

Nico van der Walt


Ps 65:3 : O Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom! (OAV). 1 Natuurlik bestaan ons gebede nie net uit versoeke nie. Maar sekerlik is versoeke deel daarvan. En dan ontstaan die vraag: kan mens God 'n hoorder van gebed noem as baie van my gebede nie verhoor word nie? Want onverhoorde gebede is 'n realiteit S ook gebede wat oënskynlik in absolute opregtheid en Bybelgetrouheid gebid word.
DIKWELS IS ONS KORTSIGTIG EN MIS ONS VERWAGTINGE DIE KOL
‘ Sekerlik het Josef, toe sy broers hom in die put gegooi het, ernstig om verlossing gebid (Gn 37:18-36). Dit het egter nie gebeur nie. Of het dit dalk? In elk geval is hy nie verhoor soos hy op daardie moment begeer en gebid het nie. Maar jare later kon hy vir sy broers sê: "Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het" (Gn 50:20).
‘ Dawid bid ernstig vir sy en Batseba se baba. Maar die kind sterf. Hy aanvaar onmiddellik God se soewereine wil S en tel nie stryd op oor dinge wat hy weet te hoog is vir hom nie (2Sam 12:20-23).
‘ Ook Paulus ken sy God. Hy worstel met 'n "doring in die vlees". Hy vra die Here drie maal tevergeefs om hom te verlos. Dis nodig vir sy heiligmaking en God se eer in sy lewe. En daarmee is die saak afgehandel. Paulus weet gebed is nie gegee om die lewe vir hom so gerieflik moontlik te maak nie. En hy aanvaar die Here se antwoord sonder meer: "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is." Trouens, hy leer sy les en verlustig hom in God se wysheid ((2Kor 12:9-10).
‘ Selfs die Here Jesus beleef dat die Vader nie vir Hom gee wat Hy vra nie. In Getsemane bid Hy: "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!" (Lk 22:42). Ja, Hy vra uitdruklik, maar is algeheel onderdanig aan Sy Vader se wil.
• Is dit nie 'n merkwaardige gebed nie? Hy het immers deurgaans geweet dat Sy sending op aarde op Sy soendood moes uitloop; tewens, reeds vir weke weet Hy met sekerheid dat die tyd daarvoor aangebreek het. Tog bid Hy soos Hy bid. Kom ons wees eerlik, baie van ons vrae oor gebed is bloot akademies van aard. Ons wil alles in ons gemoedere netjies in vakkies en hokkies inpak. Maar só werk dit nie altyd in die lewe nie S allermins in die geloofslewe. En nooit word dit duideliker as wanneer ons in 'n krisis verkeer nie. As 'n kind benoud is, roep hy sonder meer na sy pa, maak nie saak wat die omstandighede is nie.
• Hoeveel heiliges het nie deur die eeue vanuit tronkselle om verlossing gebid nie? Maar, onbewus daarvan dat ook húlle bloed die saad van die kerk gaan wees, moes hulle maar gedwee die pad na die brandstapel stap. En al hoef ek en jy dalk nie 'n marteldood te sterf nie, God se soewereiniteit sal dikwels ons opregste en regsinnigste gebede oorheers en dinge baie anders laat uitwerk as wat ons vra. En vir die gelowige wat geleer het om in God se alwyse regering te rus, bring dit allermins 'n gevoel van onsekerheid, inteendeel. Want weet ons algoeie God nie die beste nie. Geseënd is hy of sy wat geleer het om die hemelse Vader meer as homself te vertrou!
• Beteken dit mens moet dan maar los om te bid? Allermins!
ONS TROOS: GOD REGEER
‘ Altyd sit daar wonderlike troos in die Skrifbeloftes oor God se soewereine liefdesregering in Sy kinders se lewens. Maar veral geld dit in tye van krisis en nood.
• Dink maar aan Rm 8:28-30 S geplaas in die konteks van die Christen se lyding en swaarkry in hierdie lewe S wat ons verseker dat alles in ons lewens heenwerk na die
goeie toe. In die Grieks sit daar beweging in hierdie vers. Waarheen? Die Here is met ons onderweg na gelykvormigheid aan Sy Seun se beeld! (v.29).
• Dink maar aan 1Pt 5:7: "Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Die opdrag om te "werp" wil hê ek moet my kwellinge sak en pak by die Here aflaai. Dis om doelbewus en eens-en-vir-altyd my pad vorentoe aan Hom toe te vertrou. Psalm 37:5 sê iets soortgelyk: "Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg." Letterlik kom die Hebreeus hierop neer: rol die pad wat jy vorentoe sal moet loop vir jou Verbondsgod. En, onthou, 'n mens kan iets nie vir iemand anders rol as jy nog daaraan bly vasklou nie (vgl. ook Ps 55:23).
'N BAIE MOEILIKE, MAAR UITERS NOODSAAKLIKE LES OM TE LEER
‘ Een van die moeilikste, maar belangrikste lesse wat ons op die geloofspad moet leer, is om op die Here te wag.
• Na baie worstelinge in sy nood, roep Dawid uit: "Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!" (Ps 27:14, OAV). En in Ps 38:15-16 skryf hy: "... op U, HERE, wag ek; U sal verhoor ... " (OAV). Of vat Psalm 130:5-8: "Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord. My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre. Wag op die HERE, o Israel! want by die HERE is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing; en Hy self sal Israel verlos ..." (OAV).
• Die Here het Sy tyd. Sy raadsplan het sy verloop. Hoe lank het die Jode nie vir die Messias gewag nie? Hoeveel gebede is nie gebid nie? Hoeveel derduisende het nie gesterf sonder om die antwoord te beleef nie! Beteken dit hulle gebede is nie verhoor nie? Onthou, slegs 'n handjievol was bevoorreg om die vervulling van God se beloftes te beleef. Beteken dit die gebede van God se gunsgenote in die Ou Testament was betekenisloos en tevergeefs? Allermins! Elke enkele gebed wat in die geloof gebid is vir die koms van die Messias was nóg 'n klip wat ingedra is in die fondament van 'n gebou wat mettertyd die ganse wêreld sou beheers. Net so, al sal ek hulle nooit ken nie, bid ek gereeld vir my nageslag S dat hulle die Here sal ken en godvrugtig tot Sy eer sal lewe. God is ewig, Sy raadsplan loop ver en wye paaie wat ek nie in my stoutste verwagtinge kan voorsien nie. Maar my werk is om fondament te pak S en daarmee moet ek getrou in die geloof volhard.
• Selfs in die hemel moet op die Here gewag word. In Op 6:9-11 lees ons dat die wat gered is, hard geroep het: "Hoe lank nog, heilige en getroue
Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?" Daar is vir hulle gesê "om nog ’n klein rukkie te wag, totdat ... hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is."
• Om geduldig vir die Here se antwoord op my gebede te wag, toon my erns, my afwagting en my onderwerping aan Sy raadsplan. Natuurlik vind ons soms dat gebede dadelik beantwoord word. Dis wanneer daar nie eers ander dinge in plek hoef te skuif nie.
• Selfs al loop my gehoorsame en Bybelgetroue gebedsvolharding op niks uit nie, dien dit steeds 'n tweërlei doel: Die gemeenskap wat ek in die proses met die Here beoefen, is kosbaarder as goud. En deur getrou, lojaal en ter wille van Sy eer te volhard, behaag en verheerlik ek Hom. As ek byvoorbeeld in 'n samelewing leef wat deur die Here aan hulle sonde oorgegee is (Rm 1:24-32), moet ek steeds bly bid vir genade, bekering en herlewing. Ek moet dus as 't ware teen God se wil in bid S selfs al sou my gebede nooit verhoor word nie. Want my hartstog vir Sy eer en my liefde vir verlorenes om my, is 'n aangename reukoffer voor Sy troon.
DINK JY REGTIG GOD IS ONTROU AS HY NIE JOU GEBEDE STIPTELIK VERHOOR NIE?
‘ Jy kan God mos nie verwyt as jy nie volgens Sy wil bid nie. Johannes stel dit so: "En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra" (1Jh 5:14-15).
• Hoe weet ons wat God se wil is wanneer ons bid? Allereers moet ek vra wat die Skrif leer. As 'n saak baie duidelik Bybels is, kan ek met groot vrymoedigheid volhard met my versoeke. Dis waarom kennis van die Skrif onmisbaar belangrik is vir 'n sinvolle gebedslewe. En dan praat ons nie net van blote feitekennis nie, maar ook van insae in die Woord se groot openbaringstemas en -lyne. Daar is 'n soort kennis waarmee jy Bybelvasvrae wen, maar dan is daar so iets soos die kennis van die Here, van Sy wil en van Sy weë. Kyk hoe haal die vroeë gemeente die Skrif aan as hulle in Hd 4 bid (v.25-26). En dis nie maar leë retoriek nie; hulle verstaan die openbaringshistoriese betekenis van Ps 2 S hoe dit op Christus en Sy wêreldwye regering betrekking het.
• Daar is egter talle situasies waarin ek nie met sekerheid kan sê wat God se wil is nie. In sulke gevalle bid mens versigtig S voetjie vir voetjie. Jy vra wysheid, jy wag op die Here, en jy
meet biddend elke moontlikheid aan al die Bybelbeginsels wat jy ken. En meer as ooit bid jy in sulke gevalle nederig en in onderdanigheid aan die Here se soewereine wil.
‘ Jy kan God mos nie verwyt as jy wêreldgelykvormig en selfsugtig bid nie. Jakobus 4:3 sê: "Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig." In die konteks het Jakobus dit teen wêreldgelykvormigheid. Dis om dieselfde waardes en prioriteite as die ongelowige wêreld te hê. En natuurlik sal dit in iemand se gebedslewe uitmasel. Kan ons die allerhoogste en soewereine God blameer as Hy weier om na ons pype te dans wanneer ons Hom bloot ter wille van onsself wil misbruik? Niks beledig 'n persoon meer as dit nie.
• Nee, die gebed wat die Here in die uitwerk van Sy raadsplan gebruik, is deur en deur Godgesentreerd. Dink maar aan Elia se gebed op Karmel. Oor en oor gebruik hy die woordjie "U": "Here, ... laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer" (1Kon 18:36-37).
‘ Jy kan God mos nie verwyt as Hy nie jou lamlendige en lou gebede verhoor nie. Gebede wat nie diep uit 'n mens se hart kom nie, is gewoon nie gebed in die ware sin van die woord nie. As ek traak-my-nieagtig is, kan ek mos nie verwag dat die Here my ernstig opneem nie. Laat ons dus onthou, soos die Puriteine gesê het, koue gebede kom nie by die hemel uit nie S hulle vries voor die tyd.
• Die Psalms is deurtrek van die gelowiges se hartstog. Trouens, die hele Ou Testament is vol voorbeelde van intense gebede. Elia bid op Karmel: "Antwoord my, Here, antwoord my tog ..." (1Kon 18:37). Luister net na Daniël as hy in Dn 9 vir sy volk bid. Só beskryf hy dit: "Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi" (3). En só sluit hy af: "Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep" (19). So wou die Here dit nog altyd hê: "Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra" (Jer 29:13).
• Ook die Nuwe Testamentiese gelowiges het vurig gebid. In Hd 12 bid hulle byvoorbeeld vir Petrus in die dodesel. In v.5 staan daar dat hulle "aanhoudend" vir hom gebid het.
Hierdie bywoord beteken letterlik om uit te rek. Dit kan dus op langdurige gebed dui, soos hier vertaal. Maar dit word ook in die Nuwe Testament gebruik om op emosionele intensiteit te wys S op 'n uitrek van jou hart. Petrus gebruik byvoorbeeld die woord as hy sê dat ons mekaar "vurig" moet liefhê (1Pt 1:22). Presies hierdie bywoord word gebruik om die Here Jesus se gebed in Getsemane te beskryf: "Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val" (Lk 22:44). Oor Jesus se gebede in die algemeen, sê Hebreërs: "Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God" (Hb 5:7).
• Opregte intensiteit S want God kyk in ons harte S kan ons nie opwerk nie. Dit moet deur die Heilige Gees gewerk word. Hoe doen Hy dit? Sekerlik is een van Sy belangrikste maniere om ons al hoe meer bewus te maak van die skrikwekkende realiteite van 'n gevalle en verlore wêreld om ons. Leef ons nie in 'n see van nood nie? Skuur ons nie daagliks skouer met dosyne mense wat op die rand van 'n ewige verdoemenis leef nie?
• Thomas Watson, die bekende ou Puritein, het dít oor vurige gebed gesê: "How can I know my prayers are prompted by the Spirit? When they are not only vocal, but mental; when they are not only gifts, but groans."
‘ Jy kan God mos nie verwyt as Hy nie jou trotse en vertonerige gebede verhoor nie. God is jaloers op Sy eie eer; Hy deel Sy roem met niemand nie. As ons gebede verhoor word, moet en sal Hý alle eer daarvoor kry. En dis noodsaaklik dat ek in my diepste wese dit nie net weet nie, maar my ook daarin verheug.
• Jakobus 4:6 sê: "God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade" (sien ook 1Pt 5:5). En in 4:10 roep hy ons op: "Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog." Ware gebed is dus altyd diep bewus van eie onwaardigheid voor God se heilige majesteit. Niks is meer onvanpas voor God se troon as hooghartigheid nie.
• Dis waarom die Here Jesus diegene wat "vir die skyn lang gebede opsê" veroordeel (Lk 20:47; Mt 6:5).
‘ Jy kan God mos nie verwyt as Hy jou nie verhoor as jy in sonde en ongehoorsaamheid leef nie. Gebed voorveronderstel 'n oop en versoene verhouding met Hom. En as daar één ding is wat my verhouding met Hom onmiddellik vertroebel S omdat dit die Heilige Gees bedroef S
dan is dit sonde van watter aard ook al. Jesaja gee vir ons die fundamentele beginsel: "... sy oor is nie te doof om te hoor nie. Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie" (Jes 59:1-2). Dis voor die hand liggend dat mense wat nie in Christus met God versoen is nie, nie op gebedsverhoring kan aanspraak maak nie. Maar selfs in die geval van ware gelowiges staan sonde in die weg daarvan. Ps 66:18: "As daar sonde in my hart was, sou die Here nie geluister het nie." En Spreuke: "Die Here is ver van die goddeloses af, maar Hy hoor die gebed van die regverdiges" (15:29). "As iemand hom doof hou vir die wet van die Here, sal die Here ’n afsku hê van so ’n man se gebed" (28:9). Petrus haal aan uit Ps 34: "Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep ..." (1Pt 3:12). Luister na Johannes: "Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goed vind" (1Jh 3:21-22).
• Veral twee sondes word in hierdie verband deur die Nuwe Testament beklemtoon: onvergewensgesindheid en huwelikspanning.
Die Skrif voorveronderstel dat iemand wat God se vergiffenis ken, nie wrokke sal dra nie S dat vryspraak 'n spontane deel van jou lewe sal wees (Mt 6:12, 14-15; Mk 11:25-26). In die verband is Mt 18:15-35 uiters belangrik. In v.19 is die woord "saamstem"(Gr. sumfoneo) 'n sleutel. Die woord onderstreep die enkelhartige eenheid wat die Here in ons gesamentlike gebede vereis. Duidelik kan mens sien waar die herkoms van ons woord "simfonie" lê, nie waar nie! In Hd 4 lees ons daardie aangrypende gebed van die vroeë gemeente as hulle deur felle vervolging bedreig word. Dit begin só in die OAV: "En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef ..." (24). Die woord "eendragtig" is vol betekenis (Gr. homothumadon). Dis 'n saamgestelde woord wat dui op 'n gesamentlike voortbeur in eenheid S soos, byvoorbeeld, 'n span osse. Wat die huwelik betref, draai 1Pt 3:7 geen doekies om nie. 'n Man wat nie sy vrou eer en koester nie, se gebede word lamgelê. As die NAV sê dat 'n swak verhouding met jou vrou jou in jou gebede "hinder", bring dit nie die erns van hierdie probleem genoegsaam uit nie. In die Grieks beteken die woord letterlik om af te kap of af te sny S soos mens 'n boom sal afkap. En ken die getroude mans onder ons nie die tevergeefsheid van gebed S hoe dit as 't ware afgesny word S as jou verhouding met jou vrou nie is wat dit moet wees nie. En
sekerlik geld dit ook vir vrouens.
‘ Jy kan God mos nie verwyt as Hy nie jou ongelowige gebede verhoor nie. Die Here gee die wonderlikste beloftes vir gelowige gebed. Mt 21:22: "As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra." Só sterk beklemtoon die Nuwe Testament die noodsaak van geloof in ons gebede, dat ons dit as 'n ononderhandelbare voorwaarde vir die verhoring van ons gebede moet aanvaar. Besonder betekenisvol is Mk 11:24: "Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het,2 en dit sal vir julle so wees." Oënskynlik bedoel die Here hier dat ons verseker kan wees van gebedsverhoring as die Heilige Gees uiteindelik tydens gebed die innerlike sekerheid gee dat ons gehoor en verhoor is. Dit is wat bedoel word as ons sê dat 'n saak "deurgebid" is. Hb 11:1 stel dit so: "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." Ware geloof S ook wanneer ons bid S is nie blote wensdenkery nie. Dit is onwankelbare vertroue in 'n Persoon op wie jy weet jy met jou hele lewe kan staat maak. Daarom is dit so belangrik om te weet ek bid in harmonie met God se geopenbaarde Woord.
‘ Jy kan God mos nie verwyt as Hy Sy eie wysheid gebruik met betrekking tot die tyd en wyse van verhoring nie. Ons leef in 'n oorhaastige en ongeduldige kultuur. Maar God het Sy eie tempo en skedule. Meer nog, die uitwerk van Sy raadsplan is oneindig gekompliseerd en geïntegreerd. Daar sit planmatigheid, sisteem en orde in. Sekere dinge moet eers in plek skuif voordat ander dinge aan die beurt kan kom. Laat ons vrede maak daarmee: sekere van ons gebede sal eers na ons dood vervul word. Dit beteken nie dat hulle nie verhoor is nie. Verhoring en vervulling is twee verskillende dinge. In Dn 9 worstel die profeet in gebed. Na verloop van tyd kom die engel Gabriël na hom toe en sê: "Toe jy met jou smeekgebed begin het, is daar ’n antwoord gegee ..." (Dn 9:23). Voorts bid Daniël oor die ballingskapherstel van sy volk. Hoe lank het dit nie nog geduur nie? Nog meer, die engel se boodskap handel ook oor die sewentig sewetalle en die koms van Christus (Dn 9:24-27). En dit sou eeue duur om vervul te word! Laat ons nie selfgesentreerd en eng dink wanneer ons bid nie. Altyd moet ons ewigheidsperspektief hê, maar veral wanneer ons bid.
• Ook wat die wyse van gebedsverhoring betref, moet ek dit vertrouend in die hande van die Here los. Hy handel met ons as ons
algoeie Vader. Nooit sal Hy vir ons gee wat ons sal kwaad doen nie. Tewens, ons kan daarop peil trek dat Hy net "goeie gawes" aan Sy kinders gee (Mt 7:11) S dit wat die Gees van God in harmonie met Sy heiligheid sal aflewer (Lk 11:13). Elkeen van ons het die idee dat ons presies weet wat ons nodig het. Dit is nie waar nie. Dink bietjie aan die hartstogtelike gebede wat jy al gebid het, maar wat nooit waar geword het nie. Vandag, terugskouend, is jy intens dankbaar dat jy nie verhoor is nie. Nee, ons hemelse Vader weet die beste. Dit is goed en reg dat ons spesifiek is in ons gebede. Maar tog, hoe langer mens die gebedspad loop, hoe minder selfversekerd is jy oor jou insig in wat vorentoe in jou lewe moet gebeur. Laat ons God al hoe beter leer ken S want so sal ons Sy oneindige goedheid en onfeilbare wysheid al hoe meer verstaan, waardeer en vertrou. En tot daardie mate sal Sy onbevraagtekenbare soewereiniteit nie vir ons 'n bedreiging inhou nie, maar die wonderlikste vertroosting en sekuriteit. Hoe meer mens hierin gevestig raak, hoe minder het jy stryd as jou gebede nie altyd verhoor word soos en wanneer jy dink dit moet nie. Die gesindheid van Daniël se drie vriende by die vuuroond is vir ons tot beskaming. Hulle sê vir die koning: "Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red ... Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie ..." (Dn 3:16-18).
WAT IS GEBEDSVERHORING?
‘ Gebedsverhoring beteken ten minste twee dinge:
• God neem ons gebede aan. As mense tot Hom bid, behaag dit Hom. Hy aanvaar ons offers van lof. Hy neem die eer aan wat ons vir Hom bring. Hy slaan met liefdesempatie ag op ons afhanklikheid.
• Hy reageer op ons gebede. Eerstens beleef ons baie dikwels gewoon God se aanraking tydens gebed. Ons staan op met 'n nuwe vrede, of 'n nuwe perspektief op Sy waarheid en wie Hy is. Ons is net anders as toe ons begin het. Ons het die Here ontmoet. Elke Christen ken proefondervindelik dit waarvan Paulus in Fl 4:6-7 praat: "Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus." Versoeke vir spesifieke sake of persone is net 'n deel van ons gebede. Dikwels vra ons niks nie. Maar altyd, as ons waarlik bid, beleef ons 'n innerlike aanraking wat ons toerus om die pad vorentoe met meer vrede, geloof, helderheid en daadkrag aan te pak. Waarlik, elke bidder ken gebed proefondervindelik as een van die
belangrikste genademiddele in sy of haar lewe. Nogtans is ons té geneig om hierdie aspek van gebedsverhoring te vergeet. Tweedens vind ons dat God die dinge doen wat ons van Hom vra. Maar Hy is nie ons lakei nie S dit is Sy prerogatief om as die Alwyse en Soewereine te antwoord soos en wanneer Hy wil. Hieroor is hierbo reeds baie gesê.
WAAROM IS GOD BEREID OM ONS GEBEDE TE BEANTWOORD?
‘ Eerstens, is God 'n God van oneindige goedheid en genade. Dit is deel van Sy wese om te gee en te voorsien. Daar is beswaarlik iets waarin Hy meer vreugde het. Soos Jonathan Edwards sê: "Hy is die groot fontein van alles wat goed is. Versorging vloei as 't ware uit Hom uit soos strale vanuit die son."
‘ Tweedens, het ons 'n wonderlike Middelaar. Jesus Christus is as 't ware die brug wat die kloof tussen ons as sondaars en die heilige Vader oorspan. Só stel Hb 10:19-22 dit: "Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water."
‘ Derdens het ons 'n wonderlike Tussenganger. Die Heilige Gees is ons Helper S ook in gebed. Dit is Hy wat in ons roep, "Abba Vader" (Gl 4:6). En as ons nie
weet hoe en wat om te bid nie, pleit Hy self volgens die wil van God vir ons met versugtinge wat nie met menslike woorde gesê kan word nie (Rm 8:26-27). En dit is ook Hy wat al God se goeie gawes in ons lewens kom verwerklik (Lk 11:13; Mt 7:11).





• Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Dit staan enigeen gevolglik vry om die inhoud van hierdie studiestuk met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by ander gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie. • Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar. • Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 848 9396 (Nico) ; 082 8282 940 (Soniah) • Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs) • Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans (soms in Engels) per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het. • Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3628
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Ma Okt 02, 2017 2:26 pm

Ek het vanmore ook AH 44 uitgestuur, maar na die tyd agter gekom hy is nie mooi afgerond en opgedateer nie. Ek hoop hierdie AH 44 is 'n netjieser een. Jammer oor vanmore; ek was oorhaastig.

Groetnis,

Nico
Nico Van Der Walt [nico.vanderwalt@reformed.org.za]

===============================================

DIE HOEKPENNE VAN ONS CHRISTELIKE GELOOF

Nico van der Walt


Van die befaamde 19de-eeuse prediker in Londen, C.H. Spurgeon, se lidmate het op 'n slag na hom toe gekom met 'n kwelvraag: "Hoe kan ons weet die evangelie wat jý preek is die waarheid S as daar so baie ander predikers in hierdie stad is wat 'n ander boodskap verkondig?"1 As dit destyds 'n brandende vraag was, hoeveel te meer nie vandag nie? Ons tyd word gekenmerk deur 'n duisend stemme wat elkeen daarop aanspraak maak dat hý die waarheid beet het. Verwarring en onsekerheid kenmerk die kerk. Sommer nou die dag nog is dinge gepreek wat vandag as kettery beskou word. En ander dinge wat ondenkbaar was, is nou alledaags. Geloofsbakens word soos meubels rondgeskuif, of summier by die agterdeur uitgegooi. Spurgeon se antwoord, in 'n tyd toe ongeloofsteologie net so aan die orde was, getuig van nugtere wysheid: "As ek deur die gange van die tyd terugstap, staan een na die ander man en vrou van God op en skud my hand." Toe noem hy 'n rits name van bekende Christene deur die eeue S vanuit talle denominasies S wie se teologie, reputasie en arbeidsvrug vas bly staan het ten spyte van 'n duisternis aanslae. Spurgeon het hom beroep op die kerk se waarheidskonsensus deur die
eeue. Hy het hom beroep op die historiese Christelike geloof! "Meet my aan die geskiedenis," het hy per implikasie gesê, "en kyk of ek iets nuuts verkondig." Hy het nie voorbarig en ambisieus sy eie teologiese wiel probeer ontwikkel nie. Hy was doodtevrede om presies dieselfde evangelie te verkondig as die Puriteine en die Reformatore, die kerkvaders en die martelare, die Apostels en die Here Jesus Christus. Dis waarom Spurgeon ook 'n ander gesegde gehad het: "If it is true, it is not new; if it is new, it is not true!" Wat hy verstaan het, moet ons almal verstaan: al leef ons in 'n wêreld wat gedurig verander, is daar sekere dinge wat nooit verander nie. Sekere waarhede is vaster as die berge. God verander nooit nie, ook nie Sy waarheid nie. Die mens het sedert die sondeval moreel niks gevorder nie. Die afgelope eeu het die bloedigste oorloë van alle tye opgelewer. Dis omdat ons sonde en verlorenheid nie verander het nie. Les bes het God se verlossingsplan en evangelie nie verander nie. En daarom verander die kerk se roeping en boodskap ten diepste ook nie!
'N PAAR PERSPEKTIEWE
‘ Daar is sekere absolutes in die Bybel wat ononderhandelbaar is. Dis waarhede waarsonder ware geloof, prediking en kerkwees ondenkbaar is. Terwyl daar duisende dinge in hierdie lewe is wat vir die Christen en sy Bybel om 't ewe is, is daar dus sekere waarhede en norme wat ons kompromieloos moet vashou. Só wesentlik is hierdie waarhede dat jy daarsonder nie 'n Christen of waarlik kerk kan wees nie. So, byvoorbeeld, spel die Skrif nie presies uit hoe die kerk georden en geregeer moet word nie. Maar oor God se verlossingsplan en die hóé van ons redding kan en durf daar nie die minste twyfel of willekeur wees nie. Dit gebeur op één manier, en net so. Wyk net effens daarvan af S en jy tuimel die donker dieptes van verlorenheid in! Vir baie eeue reeds is daar 'n wonderlike gesegde in die kerk: In necessariis unitas, in nonnecessariis (of dubiis) libertas, in omnibus caritas. Ons kan die Latyn só vertaal: In die noodsaaklike dinge moet daar eenheid wees; in die nie-noodsaaklike of onsekere dinge, vryheid; en in alles liefde.
‘ Een van die merkwaardigste eienskappe van die evangelie is sy universele aanpasbaarheid en relevansie. Maak nie saak van watter eeu of kultuur jy is nie S die evangelie is vir jou. In die groeibodem van ryk en arm, geleerd en ongeleerd, oud en jonk, ontkiem en groei die kerk ewe goed. Dis omdat die absolutes van die geloof S die necessarii S universeel en tydloos is. Dit spreek die nood en vrae van álle mense aan.
‘ Soos dit met fondamente gaan, lê
ook die geloof se absolutes onder die oppervlak. Dis nie altyd voor die hand liggend nie. Veral onvolwasse Christene sukkel daarmee. Tewens, om dit onder die knie te hê, is een van dié merktekens van geestelike volwassenheid. Christus bou Sy gemeente. En dikwels verheerlik Hy Homself deur 'n uiteenlopende verskeidenheid van mense by mekaar te voeg. Tot die mate wat sulke mense kan onderskei tussen die noodsaaklike en die nienoodsaaklike, tot daardie mate sal hulle harmonie en gemeenskap bly geniet. As hulle egter die sekondêre só begin opblaas dat dit die noodsaaklike verdring, is dit nag vir so 'n gemeente.
‘ Dis nodig dat die hoekpenne van ons geloof presies in plek vasbeton sal wees. Daarsonder weet ons nie hoe om die leringe en praktyke van ons dag te beoordeel nie. Sonder die vaste ankers van universele, absolute en objektiewe waarheid, is ons soos kurkproppe op die see van 'n duisend menslike opinies.
‘ Dekades se ryswater-prediking het groot dele van die kerk in SuidAfrika beswaarlik toegerus om die absolutes van ons geloof te ken en vanuit eerste beginsels te dink en te onderskei. Vaste Bybelse spyse kan selde verteer word. Mense is agterdogtig, selfs vyandiggesind teenoor dogma S omdat hulle onseker is oor wat hulle moet glo en wat nie. In hulle wanhopige soeke lees hulle alles wat voorkom en raak net meer deurmekaar. Helaas is die tipiese Christen vandag allermins voorbereid om die relativisme van hedendaagse postmodernisme die hoof te bied. Dis tragies om te sien hoe gemeentes elke nuwe resep uitprobeer as dalk die allerantwoord op hulle onsekerhede. As jy vir niks staan nie, val jy vir alles.
‘ Uiteraard is daar nog altyd gepoog om die geloofshoekpenne uit te spel. Die necessarii moes van die nonnecessarii onderskei word. Dit was nodig om te weet wat dwaalleer is en wat nie. Die neerslag hiervan vind ons in die talle belydenisskrifte wat deur die eeue ontstaan het. Wie hierdie konfessies aandagtig bestudeer, kom elke keer weer onder die indruk van die insig en versigtigheid waarmee hulle verwoord is. Dit was waarlik die vadere se doel om die essensiële van die nie-essensiële te skei, en om eersgenoemde so akkuraat moontlik te definieer. Natuurlik is die belydenisse menslike geskrifte en as sodanig feilbaar. Die Woord van God bly die enigste norm. Tog is hulle baie nuttig om ons te help om die eerste beginsels onder die knie te kry. Lê die probleem nie juis hier nie? Is hierdie belydenisskrifte nie so uiteenlopend dat hulle meer bydra tot die verwarring en verskeurdheid in die liggaam van Christus as iets anders nie? Hierdie algemene persepsie is
die gevolg van onkunde! Die verskillende protestantse konfessies stem sekerlik 95% ooreen. Dit geld selfs van die wat aan verskillende kante van die spektrum lê S soos die Anglikane se 39 Articles enersyds, en die Baptiste se 1689 Belydenis andersyds. Eintlik loop die paaie net uiteen as dit oor kerkbeskouing en die doop gaan. Wat van die leer oor die laaste dinge? Dis betekenisvol S en onderstreep die vadere se wysheid S dat hulle detail oor die wederkoms as intra-konfessioneel beskou het en dit nie in die belydenisse ingebou het nie. Omdat hulle verstaan het dat Bybelse gegewens oor die laaste tye verskillend vertolk kan word, het hulle gebly by die groot lyne waaroor almal saamstem. Fyner detail is beskou as non-necessarii.
VYF HOEKPENNE WAT AL DIE ANDER BEPAAL
‘ Niks is meer fundamenteel en bepalend as die vyf wekroepe van die sestiende eeuse Reformasie nie. Hierdie vyf solas's is waarlik die benchmarks van die allerheiligste Christelike geloof.
Sola et tota Scriptura (alleen die Skrif, maar die hele Skrif); Sola gratia (alleen genade); Solus Christus (alleen Christus); Sola fide (alleen geloof); Soli Deo gloria (alleen aan God die eer).
Laat mens hierdie uitgangspunte, hierdie aksiomas van die Christelike geloof los, beland jy op 'n glibberige helling sonder vastrapplek. En as jy konsekwent bly dink, sal dit jou uiteindelik afvoer na 'n bodemlose put van religieuse inspanning, selfs ongeloof S uitsigloos en hopeloos.
DIE VYF SOLA'S IN 'N NEUTEDOP
Tota et sola Scriptura In die menswording van Sy Seun het God Homself by uitnemendheid aan ons geopenbaar. Maar sedert Sy hemelvaart en die Heilige Gees se inspirasie van die apostels, het net die Skrif vir ons oorgebly. Daarom glo ons dat die hele Bybel, en net die Bybel, God se besondere en geïnspireerde openbaring aan die mens is. As sodanig is dit algeheel betroubaar en die universeel gesagvolle norm vir leer en lewe.
Sola gratia As 'n sondaar gered word, dan is dit geheel en al te danke aan God se vrye genade, en daaraan alleen.
Solus Christus Hierdie genade wat God aan miljoene sondaars deur die eeue betoon het, was nog altyd volledig gebaseer op die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus Christus, en daarop alleen.
Sola fide God verklaar enige en elke sondaar
regverdig wanneer dié vanuit sy of haar geestelike bankrotskap volledig op die middelaarskap van Christus staatmaak ten einde vir God aanvaarbaar te wees. Daar is geen ander manier om met God versoen te word nie. Geen menslike verdienste, van watter aard ook al, kan Christus se verdienste aanvul nie. Galasiërs waarsku dat enige poging daartoe diskwalifiserend is.
Soli Deo gloria Alles wat God beplan het en in die geskiedenis doen (niks is uitgesluit nie), het een finale doel: om Homself te verheerlik. Die najaag van hierdie doel is dan ook elke mens en die kerk se hoogste en onontkombare roeping. Om vir jouself te leef, lê aan die hart van sonde.
ENKELE SLOTGEDAGTES
‘ Een van die kosbaarste lesse wat Christene kan leer S ook gemeentes S is om hierdie eenvoudige gesegde uit te leef: Major in God's majors, not in His minors! Tot die mate wat ons besig is met sekondêre sake, tot daardie mate is ons geloof minder as wat dit moet wees en verspil ons tyd en energie op dit wat nie regtig sentraal is in God se waarheid en wil vir ons lewens nie. Dit is een van die groot redes waarom Christene se dienswerk dikwels in vlamme opgaan. En meermale is dit die rede waarom selfs ywerige gelowiges met mekaar twis kry.
‘ Veral predikers moet hierdie les ter harte neem. As hulle prediking nie aan hierdie hoekpenne veranker is nie, moet hulle nie verbaas wees as hulle bediening tot niks lei wat werklik standhoudend is nie. Stories mag vermaak, mensgesentreerde sentimentaliteit mag tot trane beweeg, sambokprediking mag mense verskrik S maar niks hiervan bekeer en transformeer regtig nie. Jan Alleman assosieer die woord "om te preek" met moets en moenies ("Moenie vir my préék nie!"). Hulle dink aan prediking in moralistiese terme. Waarom? Dis hoe daar tipies gepreek word! En dit geld nie net predikante nie, maar ook ouers en onderwysers. Dis alles behalwe wat die Nuwe Testament met "prediking" bedoel. Nee! Om te preek, is om die groot dade van God te proklameer S veral Sy grootse verlossingswerk in Christus. Sê die apostel nie in 1Kor 2:2 nie: "Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde"? En die Galasiërs word deur Paulus daaraan herinner dat hy Jesus Christus voor hulle oë afgeskilder het (OAV), sodat hulle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang (Gl 3:1). Charles Haddon Spurgeon se Christusgesentreerdheid blyk uit die eerste woorde wat hy in die pasgeboude Metropolitan Tabernacle gesê het S die gebou wat die skares moes akkommodeer wat na hom kom
luister het: "Mag die tema van die prediking in hierdie gebou altyd die persoon van Jesus Christus wees. Ek is nooit skaam om te sê dat ek 'n Calvinis is nie; ek maak geen geheim daarvan dat ek 'n Baptis is nie; maar as iemand my vra na my diepste geloofsoortuiging, kan ek net één antwoord gee: Jesus Christus, en Hy alleen!"
‘ In sy boek, The Great Evangelical Disaster, vertel Francis Schaeffer van 'n rotsrif bo in die berge naby sy tuiste in Switserland. Weerskante van hierdie rif is daar twee diep valleie. Wanneer dit swaar sneeu, word die rif heeltemal bedek. Die bank sneeu booor is dan ononderbroke en aaneenlopend. Die eenheid daarvan is egter net 'n illusie. Want die skerp rif is 'n waterskeiding. Dit beteken dat een deel van die sneeu, as dit smelt, na die een vallei afloop, en 'n ander deel, in direkte kontak daarmee, na die oorkantse vallei. Dit is egter nie al nie. Die een vallei is deel van die Rynrivier se opvanggebied. Dit beteken dat water wat aan daardie kant afvloei, mettertyd in die Ryn beland, en uiteindelik in die yskoue water van die Noordsee. Sneeu wat 'n halftree daarvandaan smelt, beland egter in die Geneefse meer en Rhonerivier, en uiteindelik in die warm waters van die Middelandse See S 'n duisend myl vanaf die Rynmonding. Dis wat 'n waterskeiding doen S dit sny, dit verdeel, dit lê bestemmings vas. Waterskeidings is lotsbepalend. Schaeffer gaan dan voort om aan te toon dat die kerk se Skrifbeskouing so 'n waterskeiding is. Inderdaad! Wat ons glo oor die Bybel is in elke opsig lotsbepalend. Die effekte daarvan kring baie ver uit S tot geslagte ná ons. Maar presies dit geld ook van die ander sola's. God se waarheid is 'n waarheid in ekwilibrium. Verskuif die hoekpenne net 'n fraks S en kantelinge vind plaas wat die lewens en bestemmings van tallose mense ingrypend raak. Laat ons nooit vergeet nie: die kerk wat ons kinders en kleinkinders op ewigheidspaaie moet lei, word vandag gevorm. 'n Enorme roeping rus op ons!
ENKELE VRAE VIR OORDENKING
1. Vir watter waardes en waarhede is jy bereid om te sterf? Waar trek jy die streep?
2. Die begrip fundamentalisme het sy oorsprong aan die begin van die 20ste eeu, toe evangeliese kerkleiers en teoloë die fundamentele waarhede van die Christelike geloof in 'n reeks boeke uiteengesit het. Die begrip het egter deur die jare 'n betekenisverskuiwing ondergaan. Wat verstaan jy vandag onder die begrip? Is die prediking in jou gemeente fundamentalisties of nie? Wat dink jy daarvan?
3. Met sekere mense wat hulleself
Christene noem, is dit baie moeilik om gemeenskap te ervaar. Waarom? Wat beskou jy as minimum vereistes vir egte hartsgemeenskap?
4. Wat weet jy van die Postmodernisme S die lewens- en wêreldbeskouing wat toenemend ons samelewing beheers?2
5. Wat doen jy om jou kinders toe te rus vir die uitdagings van môre? Hoe leer jy hulle die fundamentele waarhede van die Skrif, en om vanuit eerste beginsels te dink?
6. As ons dan moet oppas dat ons nie deur bloot moralistiese opvoeding van ons kinders klein Fariseërs maak nie, wat moet ons dan wel vir hulle leer?



• Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Dit staan enigeen gevolglik vry om die inhoud van hierdie studiestuk met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by ander gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie. • Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar. • Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za of E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 848 9396 (N) ; 082 8282 940 (S) • Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs) • Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans (soms in Engels) per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het. • Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3628
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Do Okt 05, 2017 1:08 pm

Hiermee 'n volgende stukkie leesstof. Vertrou dis tot seen.

Hartlike groete,

jbiC

Nico van der Walt
nico.vanderwalt@reformed.org.za

++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++


DIE UITVERKIESING Deel 1 :

'n Paar Skrifperspektiewe


Nico van der Walt


Soms, as 'n televisieprogram of fliek begin, word kykers gewaarsku dat dit wat vertoon gaan word tot aanstoot sal wees vir sommige. Net so moet 'n mens diegene wat met erns en eerlikheid na die Bybelse openbaring oor die uitverkiesing wil kyk, daarop bedag maak dat hulle wil inbeweeg in 'n veld waar mensgesentreerde bleeksiele en sentimentele wintermuskiete dit nie maak nie. Male sonder tal hoor mens die beswaar dat die uitverkiesingsleer te moeilik is om te verstaan. Dis nie waar nie. Mense sukkel daarmee, omdat hulle sekere basiese Skrifwaarhede nie onder die knie het nie. Óf hulle verstaan hierdie waarhede nie, óf hulle wíl dit nie verstaan nie. Want om dit te verteer, verg absolute onderwerping aan die Woord van God en aan die God van die Woord. Maar as jy eenmaal jou kop ingelig het, jou nek gebuig het, jou hart oopgestel het, en jou hartstogte gerig het op die eer van God, hou hierdie geopenbaarde geheimenis op om moeilik te wees — trouens, dan word dit een van die kosbaarste waarhede in die ganse Woord. Dis nie 'n waarheid waarmee jy leedvermakerig loop en spog nie. Maar dis 'n waarheid wat jou weer en weer in geborgde verwondering op jou gesig voor die allerhoogste God van hemel en aarde laat lê. Ons aanslag
‘ Die tema wat ons aanpak, is
omvangryk. Daarom is hierdie nie die enigste Herout wat aan hierdie tema gewy sal word nie.
‘ In hiérdie studie gaan ons eers kortliks enkele Skrifbeginsels aansny. Dan gaan ons meer in diepte na twee Skrifgedeeltes kyk (daar is uiteraard baie ander waarna ons ook sou kon kyk). En uiteindelik sal ons volstaan met 'n aantal konkluderende stellings. Bybelse grondwaarhede waarsonder die uitverkiesing nie verstaan kan word nie. ‘ God se Woord alleen moet jou norm wees. Sola Scriptura (die Skrif alleen) moet kompromieloos veranker wees in jou gemoed. Geen vooropgestelde idees, vleeslike logika, emosionele blokkasies, sentimentele vooroordele en allerlei mensgemaakte slimmighede mag jou beoordeling stuur nie. ‘ Jy moet dit vierkantig in die oë kyk dat die Skrif weer en weer van God se uitverkiesende genade praat. Sonder twyfel het ons nie hier te doen met iets wat mense uit die duim suig nie. Ongeag hoe jy dit verstaan, moet jy toegee dat dit iets is waarvan God se Woord baie maak. Verskillende begrippe word weliswaar gebruik, maar die saak kom gereeld aan die orde. Neem byvoorbeeld (om maar by die Nuwe Testament te bly): Jh 6:35-40; Jh 10:27-30; Jh 17:2, 6, 9, 24; Hd 13:48; Rm 8:28-30; 9:6-29; Ef 1:3-6; 1:1114; 1Ts 5:9; 2Ts 2:13-14; 2Tm 1:8-9; 1Pt 1:2; Op 13:8; 17:8. ‘ Solank jy God geringer ag, en die mens meer verhewe, as wat die Skrif doen, sal jy probleme hê met die uitverkiesing. Selfs in talle kerkmense se agterkoppe sit die idee dat God eintlik daar is ter wille van die mens; dat óns belange die primêre is waarmee Hy Homself besig hou. 'n Duisend maal, nee! Presies die teenoorgestelde is waar. Ons is daar ter wille van Hom!
• Eerstens moet jy onthou dat die drie-enige God oneindig groter en heerliker is as die mens. Hy leef in dimensies waarvan ons nie die vaagste benul het nie. In die besonder moet mens vrede maak met God se onbetwisbare en algehele soewereiniteit. Hy is die Pottebakker en ons die klei (Rm 9:21 en konteks) — wat beteken dat Hy algehele vrymag het wat ons lewens en ewige bestemming betref.1 Nee, God doen alles ter wille van Sy eie verheerliking (Ef 1:6, 12, 14 en konteks; OAV).
• Tweedens moet jy onthou dat die Bybel — in geen onduidelike taal nie — leer dat die natuurlike mens
radikaal verdorwe is.2 Vir ons doel het dit minstens twee implikasies. Eerstens is die gevalle mens dood in sy sonde (Ef 2:1). Geloof in Christus vereis gevolglik 'n voorafgaande genadewerk van die Heilige Gees (Jh 1:12-13; 3:3-8). Tweedens verdien geen mens enige genade van God nie; inteendeel. Hieroor draai Rm 1:183:20 geen doekies om nie. ‘ Jy moet rekening hou met die mens se verantwoordelikheid. Die Bybel plaas 'n onmiskenbare aksent op die mens se verantwoordelikheid om die evangelie te glo, hom te bekeer, gehoorsaam aan God te leef, en enduit te volhard. Party mense omhels God se soewereiniteit op so 'n simplistiese en eensydige wyse dat hulle noodwendig verval in 'n Godonterende en sielsvernietigende fatalisme — ook genoem hipercalvinisme.
Terwyl God vrymagtig soewerein is in ons redding en lewens, maak Hy nooit van ons outomate of robots nie. Ons bly bewustelik betrokke en aanspreeklik. Hoe hierdie twee kante van ons verhouding met God logies saamhang, sal ons nooit dié kant van die graf in diepte verstaan nie — maar beide waarhede word deur die Skrif beklemtoon. 'n Beeld wat ek dikwels gebruik om te illustreer hoe God en mens beide eenhonderd persent betrokke is in die reddingsproses — dus nie vyftig-vyftig nie — is die van 'n windpomp.4 Ondergrondse water word opgepomp tot in 'n sementdam. Daarvoor is die windpomp — soos ek — eenhonderd persent verantwoordelik. Elke milliliter vloei deur sy silinder en pype. Maar sonder die wind kan dit ook nie. Trouens, die wind — soos die Heilige Gees — verskaf eenhonderd persent van die energie vir die styging van elke druppel water.5 ‘ Onthou dat God in Sy handele — veral ook in Sy reddende werk — baie dikwels middellik werk. God gebruik instrumente. Romeine sê: "En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand
wat preek?" (10:14). In diegene wie se oomblik van redding gekom het, werk die Here se herskeppende krag deur die evangelie wat op een of ander manier aan hulle verkondig is of word (Jh 17:17, 20; Rm 10:17; 1Kor 1:21; 2Ts 2:14; Jk 1:18; 1Pt 1:23). ‘ Hou steeds in gedagte dat die Skrif die feit van die uitverkiesing deurgaans aanbied as goeie nuus en innige vertroosting vir God se kinders. Die Bybel slinger hierdie waarheid nooit verwytend teen die koppe van ongelowiges nie. Ewemin wil dit ons kniehalter in ons verkondiging van die evangelie. Nee, God se Woord fluister die feit van Sy ewige en uitverkiesende liefde in die ore van húlle wat reeds deur 'n ware geloof met Sy Seun verenig is.
‘ ‘ ‘ Handelinge 13:48
Dis tydens die eerste sendingreis. Paulus preek in Antiogië in Pisidië (Hd 13:14vv). ‘ Inleiding: Ou Testamentiese voorbereiding (Hd 13:16-25). Paulus beklemtoon God se genadeinisiatiewe deur die eeue. Hý is die onderwerp van feitlik al die werkwoorde. Dis Hý wat die Joodse voorvaders uitgekies het (17). Dis Hý wat hulle in die woestyn verdra het (18) en die Beloofde Land vir hulle gegee het (19). Dis Hý wat vir hulle rigters en koning Saul gegee het — en uiteindelik Dawid (20-22). Dan spring Paulus na Christus toe (23). ‘ Preekfokus: Jesus se dood en opstanding (Hd 13:26-37). Nou vertel Paulus die verhaal van die Here Jesus. Die Jode en heidene het Hom tereggestel, soos reeds vantevore oor Hom geskryf is. Maar Hy het as vervulling van die beloftes opgestaan. Só konsentreer die apostel op die twee fokuspunte van Christus se verlossingswerk: kruis en opstanding. ‘ Konklusie: die keuse tussen lewe en dood (Hd 13:38-41). As hy dan getoon het hoe die Ou Testamentiese profesieë in Christus se kruisiging en opstanding vervul is, maak Paulus 'n appél op sy hoorders. Die keuse wat hy voor die Jode stel, is vlymskerp. Aan die een kant is daar die belofte van sondevergiffenis en regverdiging (38-39). Aan die ander kant is daar die verskrikking van God se oordele soos reeds deur die profete beskryf (40-41). ‘ Reaksie (Hd 13:42-52). Die meeste mense reageer verstommend goed op die prediking — prediking wat sowel God se soewereiniteit as die mens se verantwoordelikheid beklemtoon. Dit vervul die Joodse leiers met afguns. Paulus-hulle draai nie doekies om
nie: die Woord móét eers aan die Jode verkondig word. Maar aangesien hulle dit verwerp, sal die apostels van nou af na die heidene gaan met die evangelie (46). Christus het immers gekom as 'n lig vir die nasies (47). As die heidene dit hoor, is hulle verheug. En van hulle word dan gelowig — die wat vir die ewige lewe bestem was, almal wat as sodanig verordineer was (48, OAV en NAV). ‘ Die werkwoord (NAV: bestem; OAV: "verordineer"), is baie betekenisvol. Die woord beteken om iets te orden, te rangskik, in posisie te plaas, aan te wys. 'n Paar voorbeelde sal dit duidelik maak: Mt 28:16: die dissipels moet vir Christus se hemelvaart na die berg toe gaan "waar Jesus hulle bestel het" (OAV). Lk 7:8: die hoofman van Kapernaum is self 'n man wat onder gesag gestel is. Hd 22:10: Paulus moet Damaskus toe te gaan waar vir hom gesê sal word wat God vir hom bepaal het. Duidelik praat die begrip dus van iets wat vooraf gesagvol en soewerein besluit, vasgelê en vasgemaak is. In buite-Bybelse Grieks is daar gevalle waar die woord gebruik word vir die optekening van 'n gewigtige besluit in 'n amptelike boek. Bes moontlik sinspeel Lukas dus op die optekening van sekere mense se name in die boek van die lewe, waarvan ons meermale in die Bybel lees (Eks 32:32-33; Ps 69:29; Jes 4:3; Dn 12:1; Lk 10:20; Fl 4:3; Op 13:8; 20:12-15; 21:27). D i e gerespekteerde teoloog, F.F. Bruce, stel dit só: "many of them believed the gospel — all, in fact, who had been enrolled for eternal life in the records of heaven ..." 6 ‘ Die werkwoord is in 'n baie betekenisvolle vorm gegiet. Die perfektum passief partisipium suggereer minstens twee dinge:
• Die passief sê dat hierdie verordinering nie iets is wat die betrokke mense aan of vir hulleself gedoen het nie. Nee, hulle was passief in die hele proses — uiteraard, want dit gebeur volgens ander Skrifuitsprake voor hulle skepping. Die handeling is dus aan of vir hulle gedoen.
• Die perfektum verwys na 'n handeling in die verlede waarvan die gevolge steeds geld. Die mense is destyds in God se boeke opgeteken vir hierdie besondere voorreg, en steeds staan dit vas. ‘ Die mense is vir 'n wonderlike voorreg bestem: die "ewige lewe". Dit gaan dus om redding in Christus en alles wat daarmee saamhang.
‘ "Almal" wat vir die ewige lewe bestem is, het tot geloof gekom. Duidelik word nie bedoel dat geeneen van die ander later tot bekering sal kan kom nie. Lukas wil sê dat nie een van die wat tot geloof gekom het, iets anders as uitverkies was nie. Daar is 'n onlosmaaklike verband tussen uitverkiesing en geloof. Nét uitverkorenes kom tot ware geloof.
‘ ‘ ‘ Romeine 9:6-29
‘ In Rm 8, veral vanaf v.28, gee die apostel Paulus die versekering dat die volharding en uiteindelike redding van God se uitverkorenes gewaarborg is, omdat dit in God se ewige raadsplan gewortel is. Die vraag kom nou asof vanself — en dis die problematiek wat Paulus in Rm 911 aanspreek: Wat dan van die Jode? Was hulle nie God se uitverkore verbondsvolk nie? Kyk net na die voorregte wat hulle onder die Ou Verbond geniet het. Tog het hulle Christus verwerp en is hulle gevolglik onder God se toorn (v.4-5).
‘ In Rm 9:1-29 toon die apostel dat die verwerping van die Jode nie 'n mislukking van God se verbondstrou is nie. Die beloftes aan Abraham met betrekking tot sy nageslag het nie vir alle biologiese kinders sonder meer gegeld nie; dit het net betrekking gehad op diegene wat uitverkies is in God se genade. Die Here was besig om hierdie uitverkore Jode saam met die uitverkore heidene tot die lewe te roep — net soos Hy belowe en die profete voorspel het.
‘ Kom ons kyk nader na Paulus se argument. Die mislukking van die Jode beteken nie dat God se verlossingsplan verydel is nie. Hoe so? Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie! (v.6). Daar is dus 'n ware en ewige Israel binne die uiterlike en tydelike Israel (nasionale Israel). En die beloftes waarvan Rom 8 praat, is net van toepassing op hierdie ware Israel — op die uitverkorenes binne die Joodse volk. In 9:7-13 word hierdie stelling in v.6 dan verduidelik. Paulus gebruik twee voorbeelde: in v.7-9 die van Ismael en Isak, Abraham se kinders; en in v.10-13 die van Esau en Jakob, Isak en Rebekka se kinders.
• V.7-9: Die Jode het op 'n simplistiese wyse aanvaar hulle nageslag word voor die voet gered. Maar, sê Paulus, daar is so iets soos 'n nageslag én 'n nageslag; kinders én kinders. En daar is die wêreld se verskil tussen die twee. Daar is 'n nageslag in die natuurlike sin; maar dan is daar 'n nageslag deur wie God se verbond voortgedra word. Daar is die kinders van die vlees; en daar is die kinders van die belofte — God se uitverkorenes. So was Isak dan God se uitverkorene, nie Ismael nie.
• V.10-13: Paulus antisipeer 'n
beswaar. Ja, maar Ismael en Isak het twee verskillende ma's gehad. En in Ismael se geval het Abraham in ongeloof opgetree. Goed, sê Paulus, kom ons kyk na Esau en Jakob. Hulle het immers dieselfde pa en ma gehad; trouens, hulle was 'n tweeling. Tog, toe hulle nog in die moederskoot was, het God reeds 'n keuse uitgeoefen! Jakob sou Syne wees, nie Esau nie. V.11-12 is glashelder: Op geen wyse is hier sprake van enige vooruitgesiene verdienste as grond vir verkiesing nie. Dit berus volledig by God en by Hom alleen. V.15-16 sê dieselfde ding nog meer eksplisiet: God is barmhartig oor wie Hy wil en as sodanig hang dit nie van die mens se wil of inspanning af nie.
‘ In 9:14, 19 opper Paulus twee vrae wat al in miljoene harte gespook het. Trouens, as iemand nog nie daarmee gestoei het nie, het hy waarskynlik nog nooit behoorlike oorweging aan God se openbaring oor Sy soewereine genade geskenk nie. En die prediker van God se soewereine uitverkiesing wie se luisteraars nie soms in verontwaardiging beswaar maak nie, preek waarskynlik nie so Bybels soos hy moet nie.
• V.14: Is God nie onregverdig nie? Paulus se reaksie op so 'n suggestie is vurig en verontwaardig. Beslis nie! Hy is God en sal barmhartig wees oor wie Hy barmhartig wil wees. Dít het Hy al vir Moses gesê (Eks 33:19). Dit hang dus nie af van die mens se pogings en inisiatiewe nie, maar van God se genadige ingrype (15-16, 18). Trouens, gaan Paulus verder, God gebruik ook soms Sy soewereine prerogatief om sondaars nog meer te verhard as wat hulle reeds is — soos in die geval van Farao (17-18).
• V.19: Waarom verwyt God sondaars dan? Hoe kan Hy hulle hoegenaamd aanspreeklik hou? Wie kan enigsins teen Sy wil ingaan? Mens is eenvoudig uitgelewer aan Hom. Paulus gee 'n tweeledige antwoord in v.20-23.
~ Dit is totaal onvanpas en lasterlik dat 'n skepsel sy Skepper bevraagteken. Dis omdat mense in hulle arrogansie dink dat God onder verpligting staan om genade aan hulle te betoon. Maar die teendeel is waar. Hy is aan niemand enigiets verskuldig nie. Álmal is sondaars en het álle aanspraak op God se guns totaal verbeur. Gevolglik is dit Sy prerogatief om een persoon te spaar en net die volgende een nie. Hy, as die soewereine Skepper en dus Eienaar, het dieselfde reg as 'n pottebakker om uit een bol klei verskillende voorwerpe te maak — die een goed en die ander sleg, die een mooi en die ander lelik, die een nuttig en die ander onbruikbaar. Nee, God is nie skuldig aan onreg as Hy één sondaar uit vrye genade red, terwyl Hy 'n ánder gewoon in sy sonde los om te kry wat hy nog altyd verdien het nie.
~ As God sommige van Sy sondige skepsele straf en ander vergewe, doen Hy niks onredeliks nie. Waarom nie? In beide gevalle dien dit 'n verhewe doel — om God se heerlikheid te demonstreer. Die straf van sondaars toon Sy heilige en regverdige toorn teen sonde, soveel te meer as dit geskied nadat Hy hulle hóé lank geduldig verdra het (sien ook v.17). En, natuurlik, niks vertoon die rykdomme van Sy heerlikheid en barmhartigheid méér uitnemend as die genadige redding van Sy uitverkorenes nie.
‘ Sommige voer aan dat hierdie hoofstuk niks wil sê oor die verkiesing van individue nie, maar handel oor die lotgevalle van nasies in God se raadsplan — die Israeliete (afstammelinge van Jakob) en die Edomiete (afstammelinge van Esau). In 'n sin is dit natuurlik waar. Maar bestaan volkere nie uit individue nie? Was Jakob en Esau nie enkelinge nie? Trouens, Paulus spreek júis die probleem hier aan dat Israel nie gesamentlik as volk uitverkies is nie. Want sommige glo en ander nie — individue.
‘ ‘ ‘ 'n Aantal opsommende stellings ‘ Dit is God self wat gekies het (Mk 13:20; 1Ts 1:4; 2Ts 2:13). Sy uitverkiesende barmhartigheid lê volledig in Sy eie soewereine wil.
Hoewel my wil en besluitneming volledig betrokke was toe ek 'n Christen geword het, het ek geensins inisiatief daarin geneem nie (Eks 33:19; Dt 7:6-7; Mt 20:15; Rm 9:1024; 11:4-6; 11:33-36; Ef 1:5). ‘ Hierdie keuse is gemaak voordat die aarde geskep is (Ef 1:4; 2Tm 1:9; Op 13:8; 17:8). ‘ God het bepaalde individue tot die ewige saligheid verkies (soos gesien in onder meer die gedeeltes waarna ons gekyk het.) ‘ God se keuse was totaal onafhanklik van en voorafgaande aan enige moontlike geloof, verdienste of goeie werke in diegene wat verkies is (Hd 13:48; 18:27; Rm 9:11-13; 9:16; 10:20; 1Kor 1:27-29; Fl 1:29; 2:12-13; 1Ts 1:4-5; 2Ts 2:13-14; 2Tm 1:9; Jk 2:5). Sy keuse was dus nie gebaseer op enige vooruitgesiene geloof in diegene wat verkies is nie. Nee, Hy het Sy hart op sekere sondaars gesit en hulle vir Homself uitgekies.
• Baie mense het die idee, op grond van Bybelse uitsprake dat God Sy uitverkorenes vooraf geken het7,
dat Hy by wyse van spreke in die gange van die tyd afgekyk het en gesien het wie gaan glo. Diesulkes sou Hy dan uitverkies en hulle name gevolglik in die boek van die lewe opgeskryf het. Besin vir 'n oomblik oor hierdie argument waarmee mense poog om die verlossingsinisiatief uit God se hand te wring. As so 'n persoon gebore word, is sy naam mos reeds in die boek van die lewe, nie waar nie. Hy gáán immers glo. God het dit dan gesien. Maar onmiddellik ontstaan die vraag: het só 'n uitverkorene dan nog die vrye keuse waaroor die aanhangers van hierdie teorie so sterk voel — sy naam is dan klaar opgeskryf? Nee, hierdie is 'n naïewe wolhaarstorie. ‘ Geloof, goeie werke en 'n heilige lewe — waarby ek eenhonderd persent betrokke is — is die uitvloeisel en bewys van uitverkiesing (Ef 1:4, 2:10; 2Pt 1:10-11). Niemand kan uitverkiesing aanvoer as verskoning om geloof, bekering en gehoorsaamheid te verwaarloos nie.
‘ Uitverkiesing is 'n verkiesing tot redding en nooit die oorsaak dat iemand verlore gaan nie. Sonder uitverkiesing sou niemand gered geword het nie.
• God kon besluit het om alle mense te red. Hy het die krag en gesag om dit te doen. Of Hy kon besluit het om niemand te red nie, want Hy is onder geen verpligting om enigeen te red nie. Tog het Hy nie op een van hierdie twee opsies besluit nie. Hy red sommige en los ander in hulle sonde. Onregverdig? Dink só daaraan: Kan jy God verwyt omdat Hy geen demoon red nie? Nee! Net so was Hy onder geen verpligting om enige mens te red nie. En as Hy, die soewereine Skepper en Eienaar, dan wél sommige uit genade red, en die ander laat kry wat hulle verdien? Uitverkiesing verontreg dus niemand nie. Dit werp geen skadukol op God se geregtigheid nie — maar belig sy liefdevolle genade meer as enigiets anders!
• Die gelykenis van die groot maaltyd in Lk 14:15-24 is insiggewend. 'n Groot fees is gereedgemaak en mense is genooi. "Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak" (v.18). Dan word die slaaf na die paaie en lanings uitgestuur om die armes, kreupeles, blindes en verlamdes te dwing (OAV) om in te kom. Sonder Christus was daar nie 'n fees nie; sonder die Heilige Gees was daar nie gaste nie!
• Uitverkiesing gaan nie oor vooruitgesiene geloof nie; dit gaan oor vooruitgesiene ongeloof. As die Here niks gedoen het nie, was ons almal hopeloos verlore — soos die demone. Dit verg nie 'n spesiale besluit van God voordat iemand verlore gaan nie. Daar is nie 'n spesiale uitverkiesing tot die ewige verdoemenis nie. Waarom nie? Omdat alle mense in elk geval van nature verlore is. Só is hulle gebore. Mense word nie neutraal gebore nie, maar verdorwe — en in Adam. God sorteer nie die mensheid arbitrêr uit nie — een dié kant toe, een dáárdie kant toe nie. Nee, nee, nee! ‘ Uitverkiesing staan nooit in die pad van iemand wat opreg begeer om gered te word nie. So 'n begeerte is immers die gevolg van die Gees se oortuigingswerk — en só werk Hy net in die uitverkorenes. ‘ Laat ons nederig en kinderlik-gelowig voor God se selfopenbaring buig. Al verstaan ons nie goed hoe God se soewereine reddingsinisiatiewe en die mens se verantwoordelikheid saamhang nie, moet ons aanvaar dat beide ewe waar is. Vol is die Bybel oor die een; vol is die Bybel oor die ander. Kom, laat God God wees in ons denke en oortuigings. En laat ons nederig voor Hom wees in ons algehele afhanklikheid.
Ten slotte: 'n sprokie
Eendag, lank, lank gelede, ry 'n prins se goue koets die mees afgeleë en agterlike gehuggie van sy pa se koninkryk binne. Hy hou stil en klim uit. 'n Swetterjoel vuil kinders in vodde loer om krot-hoeke. Dan stap hy reguit na een van die meisiekinders toe — vuilste en lelikste van die klomp — vat haar sagkens aan die hand en fluister in haar oor: "Ek het jou as my bruid gekies!" Het die prins immoreel opgetree? Natuurlik nie! En wat het die meisiekind beslis nié gesê nie? "Dis onregverdig! Wat van Truia en Sophie en Nonnie? Hulle is tog baie mooier as ek!"




Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Hierdie lewensbelangrike waarhede is kernagtig en uitnemend geformuleer in die groot belydenisskrifte wat ontspring het uit die sestiende-eeuse Reformasie en is gebaseer op die fundamentele geloofsvertrekpunte: die Skrif alleen, genade alleen, Christus alleen, geloof alleen, die eer van God alleen.
As u op ons poslys wil wees om die Herout en ander lektuur gereeld gratis per e-pos te ontvang, soos dit verskyn, stuur u Naam, - E-posadres - en voorkeurtaal - aan: Antipas Lektuur, Post Net Suite 148, Privaatsak X1 Northcliff, 2115 E-Posadres: nico.vanderwalt@reformed.org.za Tel: 011-476 2907 of 082 848 9396
Nico van der Walt was vir jare gemeentepastor en leraar. Hy onderskryf die historiesgerespekteerde en internasionaal-erkende 1689 Baptiste Belydenis - soos meeste reformatoriese (gereformeerde) Baptiste oor die wêreld, asook die belydenisskrif van
Bladsy 12 van 12
Sola Vyf, 'n assosiasie van Godgesentreerde individue en gemeentes in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar. Q
Dit staan enigeen vry om die inhoud van hierdie Herout met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by andere gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd as moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie.
Q
Indien u waardering het vir die Herout, help ons asseblief om sy boodskap wyer uit te dra. Stel dit aan andere bekend, moedig hulle aan om in te teken, of stuur vir ons name en adresse van mense van wie u glo dat hulle die Herout sal waardeer. Ons stuur met graagte 'n eenmalige bekendstellingskopie aan diesulkes S waarop hulle dan kan reageer. Onthou net dat ons graag u naam as aanbeveler wil noem.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3628
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Za Mrt 03, 2018 11:40 am

Geagte Herout-/E-preekleser,

Julle het sedert Desember nog nie weer van my gehoor nie. Ek is jammer daaroor, maar in 'n sin was dit buite my beheer. Die massa-eposprogram waarmee ek altyd die lektuur uitgestuur het, het Desembermaand net finaal die gees gegee - en ekself is te rekenaar-dom om die ding weer reg te kon kry, terwyl my sak net te plat was om 'n nuwe program te koop.
'n Vriend van my - 'n rekenaarmeester - het my nou gehelp om die program weer reg te kry en ek kan nou weer die lektuur uitstuur. Julle mag wel opmerk dat ek nou 'n nuwe epos-adres gebruik, maar jy hoef jou nie daaraan te steur nie, want die ou adres is steeds funksioneel (behalwe vir die uitstuur). Die adres op die lektuur bly dus onveranderd en jy kan dit steeds gebruik as jy met my in verbinding wil tree. Ek praat van nico.vanderwalt@reformed.org.za .

Hartlike groete,

Nico van der Walt

*****************************************************************************************************************************************************************************************


CHRISTUS SE REGTERSTOEL

Lig uit die Korintiërbriewe

Nico van der Walt


Híéroor is God se Woord baie duidelik: ook diegene wat in Christus sterf, sal die eindoordeel moet deurgaan. En hulle sal aan presies dieselfde norme gemeet word as die ongelowiges. "God trek immers niemand voor nie" (Rm 2:11). Hy het nie witbroodjies nie. Hy meet nie met dubbele standaarde nie. In 'n sin is die Christelike lewe hier en nou niks anders nie as die Here God se gereedmaking van Sy kinders vir daardie dag van afrekening. Hy werk nou heiligmakend só in die uitverkorenes dat nie 'n enkele een van hulle op daardie dag verleë sal staan nie. Selfs diegene wat verwerp word - sélfs die duiwel sal op daardie dag geen fout kan vind met die feit dat miljoene ewige loon ontvang nie. God se vyande sal moet toegee: elkeen - gered en ongered - ontvang presies in ooreenstemming met die lewe wat hy of sy in hierdie lewe geleef het. Laat ons nooit die volle evangelie vergeet nie: Ja, ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, en deur geloof alleen. En oor hierdie mees fundamentele kant van ons verlossing sal ons nooit kan ophou juig nie. Maar ons mag nie hier stop nie. Ons word eweneens gered tót heiligheid, goeie werke en gehoorsaamheid en daarom uiteindelik ook vólgens die lewe van geregtigheid waartoe die Heilige Gees ons in staat gestel
het, nadat Hy ons geroep en wederbaar het vanuit 'n Godvermydende hartsgesteldheid en 'n selfgesentreerde lewe.1
DIE EINDOORDEEL HET TWEE KOMPONENTE
G Eerstens praat die Skrif oor die skeiding van diegene wat gered is en diegene wat nie gered is nie soos byvoorbeeld in Mt 25:31-46, waar die skape en bokke van mekaar afgekeer word. Onmiskenbaar duidelik geskied dit op grond van die lewens wat die mense geleef het (vgl. Rm 2:6-11). Omdat hierdie twee groepe radikaal verskillende bestemmings het, kan hulle nie langer deurmekaar loop nie.
G Tweedens praat die Skrif dan van 'n beoordeling van gelowiges se lewens met die oog op hulle ewige loon (Mt 10:42; Mk 9:41; Lk 14:12-14; 1Kor 3:10-15; Ef 6:8; 2Jh 8). Let op dat dit nie hierdie mense se saligheid is wat hier op die spel is nie. Ons praat immers van diegene wat deur 'n ware geloof vir tyd en ewigheid met Christus verenig is.
Ons sal die res van hierdie studiestuk aan hierdie tweede aspek van die eindoordeel wy. In die proses sal ons konsentreer op uitsprake in die Korintiërbriewe.
2 KOR 5:10 : BASIESE BEGINSELS
G Hierdie vers sny meeste van die beginsels aan wat ter sprake is as ons 'n Bybelse perspektief op die eindoordeel van Christene wil bekom.
• Die vers begin met "want" (OAV) of "immers" (NAV). Dit verduidelik dus die voorafgaande vers 9. Ook v.9 hou verband met die voorafgaande ("Daarom", OAV). Paulus skryf na aanleiding van die komende dood en die implikasies daarvan (1-8).
• As die apostel sê hy het net een wens (9, NAV), naamlik om te lewe soos die Here wil, gebruik hy 'n woord wat beteken om ambisieus te wees. Dit is dus sy brandende hartstog om in alles wat hy doen die Here te behaag.
• Ons "almal" moet voor die regterstoel verskyn - selfs Paulus en die ander apostels. Vir een en elkeen sal daar dus 'n dag van afrekening kom. Ons wat in Christus is, kan en
moet ons verheug in die wonder van onomkeerbare regverdiging en die sekere vooruitsig op ons komende heerlikmaking. Maar dit onthef ons nie van die gewigtige verantwoordelikheid om lewenslank en puntenerig in die lig van Christus se komende regterstoel te leef nie. Sekerlik is dankbaarheid vir die Here se groot verlossingsdade genoegsame rede vir 'n lewe wat dit najaag om Hom te behaag en verheerlik. Maar daar is nóg 'n rede: my lewe hier en nou bepaal my loon, al dan nie, in die hiernamaals!
• As die apostel skryf dat ons voor Christus sal "verskyn", gebruik hy 'n sterk woord: ons sal blootgelê word, gestroop van elke fasade van ordentlikheid - om totaal en volledig geopenbaar te word vir wie en wat ons was. Die beoordeling sal dus baie deeglik wees. Alles sal in ag geneem word.
• "Elkeen sal ontvang" volgens wat hy of sy tydens hierdie aardse lewe gedoen het. Eintlik wil die Grieks sê dat 'n mens dit sal terug ontvang. Dit sinspeel op onpartydige en regverdige beoordeling.
• Voorts bied 'n versigtige lees van die teks nog 'n belangrike perspektief - op twee maniere.
Eerstens, die werkwoord "gedoen" is 'n eenvoudige verlede tyd. Vanaf die regterstoel word dus teruggekyk op iemand se lewe as 'n eenheid, as 'n geheel. Dit gaan oor wat jy tipies gedoen het. Tweedens, Paulus skryf, letterlik, ons sal die dinge (meervoud) terug ontvang wat in die liggaam gedoen is, of dit (enkelvoud) goed was of kwaad. Hierdie oorgang van die meervoud na die enkelvoud is verrassend en sprekend. Wat dit wil tuisbring, is dat, hoewel niks die beoordeling sal ontglip nie (dinge, meervoud), sal ons lewens en dade as 'n geheel beskou word (enkelvoud). Opgesom: geen enkele daad of versuim kan met sekerheid uitwys of iemand genade ontvang het, al dan nie. Nee, al die besonderhede van ons lewens gesamentlik - ons tipiese gedrag - wys uit wie ons werklik in ons diepste wese is. Ons lewe, nadat ons met Christus verenig is, sal dus as 'n geheel beoordeel word - en dit sal nie net uitwys of ek inderdaad deur die Gees van God herskep is nie, maar dit sal ook my loon bepaal.
• Die "kwaad", wat die teendeel van "goed" is, beteken eintlik waardeloos. Dit bevestig die res van die Nuwe Testament se getuienis dat die regterstoel vir die Here se kinders nie 'n strafbank sal wees om 'n vonnis uit te meet nie.
Nee, dis 'n waardebepaling om uitspraak te gee oor die loon wat elke dissipel van Jesus moet kry.
1KORINTIËRS 3:10-15 : MOET TEN ALLE KOSTE NIE VIR EWIG NA ROOK RUIK NIE!
G Elke ware gelowige bou uiteraard op Jesus Christus - die fondament wat reeds gelê is (11). Hier is nogeens 'n herinnering dat ons nie oor ewige redding, al dan nie, praat nie. Maar elkeen "moet mooi kyk hoe hy verder bou" (10b). Ons werk gaan immers "aan die lig kom" (13). Dis dieselfde begrip as wat ons in 2Kor 5:10 raakgeloop het: ons werk sal blootgelê word; dit sal gesien word vir presies wat dit was.
• Ons bouwerk sal deur vuur getoets word - dus deur en deur. Slegs as ons kwaliteitsmateriaal gebruik, sal ons loon kry. Verbrand ons werk egter, sal ons nie beloon word nie - hoewel ons self gered sal word.
G In vers 13 skryf die apostel dat die gehalte van elkeen se werk "getoets" sal word - dit sal op die proef gestel word (OAV).
• Daar is veral twee woorde in Grieks wat dui op die aanlê van 'n toets (Gr. dokimazo en peirazo).
Laasgenoemde woord dui op 'n toets wat óf met geen verwagting oor die uitkoms nie, óf dikwels met die verwagting van 'n negatiewe resultaat, aangelê word. Maar dis eersgenoemde woord wat hier gebruik word. En dikwels dui dit op 'n toets wat optimisties aangelê word - dat die uitkoms positief sal wees.2 In Lk 14:19 en Jh 6:6 word die betekenis van die woorde goed uitgebring. Johannes 6:6 gebruik die negatiewe begrip, peirazo. Dis 'n toets wat die Here Jesus op Filippus aanlê om sy kleingeloof uit te wys. Wat gebeur, is dat daar 'n skare is wat moet kos kry. Dan sê Jesus vir Sy dissipel, "Waar sal ons gaan kos koop?" Al waaraan Filippus kan dink, is dat hulle nie genoeg geld het vir al die kos wat nodig is nie. As hy egter geloof gehad het, sou hy gesê het dat daar vyf broodjies en twee vissies is, en dat die Here dit sekerlik kan vermeerder. Maar Jesus weet hy het nié hierdie geloof nie en wil dit sagkens vir hom aan die verstand bring. Daarenteen vertel Lk 14 van 'n
man wat osse gekoop het en hulle dan wil probeer. Hier word die positiewe begrip, dokimazo gebruik. Die suggestie is dus dat hy nie kan wag om te sien hoe goed sy nuwe aanwas gaan vaar nie. Sy verwagting is positief.
• Die vuurtoets, eendag, sal dus nie daarop ingestel wees om alles wat sleg was in ons lewens uit te wys nie. Inteendeel, dit sal juis die goeie wil uitwys! Dit sal niks wat beloon kan word, wil oorslaan nie. Vir God se kinders, ten spyte van die skrikwekkende gewigtigheid van die geleentheid, sal die eindoordeel tog ook 'n blye oomblik wees. Nee, meer nog, dit sal gepaard gaan met onbeskryflike vreugde oor die wonderlike loon wat toegeken word - 'n welgeluksalige lewe, onbeskryflik in sy heerlikheid, wat tot in alle ewigheid nie sal verbygaan nie.
G Terwyl elkeen wat iets verstaan van die gewigtigheid van daardie ontmoeting met Christus nie anders kan as om dit in die vrese van die Here tegemoet te gaan nie (2Kor 5:11, OAV), is dit dus ook so dat ons met positiewe verwagtinge daarna kan en moet uitsien. Dis soos 'n student wie se maag gespanne ineentrek as hy aan sy naderende finale eksamen dink. Maar dis 'n goeie ding, want dit spoor hom des te meer aan om hard te werk. Tog gaan hy die eksamen ook met opgewonde afwagting tegemoet. Hy het alle rede om te glo dat hy goed sal slaag - en dat dit die behaling van sy graad sal beteken. Gelowiges moet die eindoordeel dus positief en vol verwagting benader, nie negatief nie. Wat hier beskryf word, is die prysuitdeling!
DIE APOSTEL SE GESINDHEID
G Die apostel Paulus het dit waarna ons tot nou toe gekyk het, met alle ywer uitgeleef. Hy wou ten alle koste met goud, silwer en edelstene bou. In 1Kor 9 skryf hy dat hy sy Christelike wedloop voluit hardloop.
• As hy in v.24 sê dat net één die prys kry, bedoel hy nie dat net een persoon eendag beloon sal word nie. Dis sy manier om te sê, aangesien net een in 'n gewone wedloop die wenprys kry, is alle atlete wat ernstig is, ingestel op die eerste plek. En dieselfde gesindheid van toewyding moet ons geestelike wedlope kenmerk. Ons moet dus gaan vir goud!
• Vergelyk mens v.27 in die OAV en die NAV, kom jy 'n verskil agter. Die NAV is 'n beter weergawe van Paulus se
bedoeling. Hy sê nie dat hy bang is om verwerp te word nie. Hy is nie bevrees dat hy verlore sal gaan nie. Daarvoor is hy té gevestig in Christus, té oortuig van die onomkeerbaarheid van sy regverdiging. Wat hy sê, is dat hy alles in die stryd werp sodat hy nie vir die prys gediskwalifiseer sal word nie (NIV). Hy wil nie loon inboet te wyte aan laksheid nie. Ten alle koste wil hy verhoed dat sy lewenswerk - of 'n deel daarvan - in rook opgaan.
• Wat het Paulus se wedloop ingehou? Per slot van rekening het elkeen van ons 'n eie roeping en eie gawes. In Paulus se geval moet hy die evangelie op skrif stel en dit so ver en wyd as moontlik verkondig. Dis in die uitvoering van híérdie taak wat hy al sy kragte inspan (v.23). En hy maak geen geheim daarvan dat sy oë op die loon vasgenael is nie, want hy sê: "sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê" (vgl. ook v.23 in die NIV en ESV).
~ Weer en weer word dit duidelik in die Nuwe Testament hoe ernstig die apostel Paulus oor hierdie saak was - selfs tot in die fynste besonderhede. Hy skryf in 1Kor 4:5 dat die Here die dinge wat in die duisternis verborge is, aan die lig sal bring en die bedoelings van die hart sal blootlê. Hy neem dus die Here Jesus se waarskuwing in Lk 12:1-3 baie ernstig op: daar is niks geheim wat nie bekend sal word nie.
• Woorde soos hierdie wil 'n mens se keel laat toetrek, nie waar nie. Maar kyk hoe sluit die apostel v.5 af. Voorop in sy gedagtes is nie verleentheid en verlies wat sal volg op blootlegging nie, maar lof - lof! Dus, hier kom die positiewe al wéér na vore!
WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS?
1. Sien jy die kontinuïteit, die deurlopendheid tussen hierdie lewe en die lewe hierna? As die graad van jou heerlikheid eendag afhang van jou getrouheid en toewyding hier en nou, moet jý as persoon en individu mos bly voortbestaan. Jy sal dus jou identiteit behou - net soos die Here Jesus nadat Hy opgestaan het. In antwoord op sekere dwaalleraars wat beweer het dat 'n ander liggaam as my huidige eendag sal opstaan, sê die ou kerkvader, Chrisostomus: "Hoe so? Sê my, sal één sondig en 'n ander gestraf word; sal één goed doen en 'n ander gekroon word?"
2. Sien jy die noodsaak van
wedergeboorte? Wedergeboorte is 'n hartsverandering - jou diepste wese word herskep. En dit alleen kan 'n sondegevalle mens se verdorwenheid só verander dat geregtigheid die tipiese van sy lewe word. Nooit mag ons vergeet dat die wedergeboorte 'n absolute voorvereiste is vir 'n outentiek Christelike lewe nie. In 2Kor 5:17 skryf die apostel: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk dit het alles nuut geword" (OAV). Voordat hierdie herskepping nie met 'n sondaarmens gebeur nie, is dit vir hom onmoontlik om 'n lewe te leef wat as geheel eendag die toetse van Christus se regterstoel sal slaag. As Johannes in sy eerste brief die merktekens van die wedergeboorte behandel, is twee daarvan, oorwinning oor sonde en die doen van geregtigheid (1Jh 3:9; 2:29; vgl. OAV). En in beide gevalle gebruik die apostel 'n werkwoordsvorm wat dui op voortgaande en tipiese handeling (vgl. NIV; ESV). Presies dít is wat Christus eendag sal soek as Hy loon uitdeel.
3. Laat ons goed kennis neem van die maatstawwe wat eendag op ons aangelê sal word. Die apostel Paulus het presies geweet waaroor dit gaan en wat sy lewenstaak was. Hy het die reëls van die geloofswedloop geken. Hy het geweet wat beloon gaan word en wat waardeloos is. Sy teiken was vlymskerp voor hom afgeëts (26). En tyd en energie het hy nie op beuselagtighede verspil nie. Nou sal talle sê, dis juis my probleem, ek weet nie wat my roeping is nie. Wat is die Here se wil vir my lewe? Wel, dis 'n baie groot seën as mens jou nis in die koninkryk gevind het - en hoe vroeër hoe beter. Maar gewoonlik kom dit eers met toenemende ervaring en ouderdom. Maar, sal jy dalk sê, wat moet ek intussen doen? Moet ek bloot maar wag? Allermins! As mens die Bybel versigtig lees, sien jy dat die beoordeling op daardie dag veral sekere dinge in ag sal neem. Laat ons daarvolgens leef, en ons kan verseker wees dat die regterstoel van Christus 'n wonderlike prysuitdeling vir ons sal wees. Op grond van die Skrif kan ons met sekerheid sê dat die volgende dinge in ag geneem sal word deur die Groot Beoordelaar.
• Ons getrouheid en gehoorsaamheid. In die gelykenis van die talente sê die eienaar vir die slawe wat hy beloon: "Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy
getrou, oor baie sal ek jou aanstel" (Mt 25:21, 23). Hierdie slawe het hulle baas se opdragte ernstig opgeneem en puntenerig uitgeleef. Sý belange was vir hulle voorop, nie hulle eie gerief of voordeel nie. Dis waarom Jesus in Jh 12:48 sê dat Sy woorde op daardie dag die ongehoorsames sal oordeel. Ons sal volgens die Here se opdragte beoordeel word!
• Ons motiewe en gerigthede. By meer as een geleentheid bring die Here Jesus ons motiewe hier en nou, en ons ewige loon, in direkte verband met mekaar (Mt 6:1; Lk 12:1-3). Gaan dit vir jou vandag oor die goedkeuring en eer van mense, sal jy alle loon eendag verbeur. Speel jy nóú vir die pawiljoene, sal jy dán bedroë daarvan afkom. Hier is die beginsel: ek en jy moet besluit waar en wanneer ons ons loon wil hê: hier of daar, nou of dan. Die wêreld is bereid om dadelik uit te betaal. Maar as jy in die hemel belê, sal jy in geloof moet wag. Maar God se Woord verseker ons dat die dividende meer as die moeite werd sal wees. Vir seker is dit nie sonder betekenis nie dat die Woord van God in hierdie verband 'n besondere klem laat val op die belangrikheid van materiële uitdeling. Dít is een van die uitnemende maniere om skatte in die hemel te vergader (Mt 6:19-20; Lk 12:31-33; Lk 18:22; 1Tm 6:1719). Daar is dus twee beleggingsalternatiewe voor ons. Die een se dividende betaal nog in hierdie lewe uit, maar die sekuriteit is bedenklik. Die ander se sekuriteit is absoluut en die opbrengs duiselingwekkend. 'n Mens moet egter in die geloof daarvoor wag, soms baie lank.
• Ons lig en geleenthede. In die gelykenis van die waaksame slaaf, sê die Here Jesus dat die slaaf wat goed weet wat sy baas wil hê, maar dit nie doen nie, 'n swaar straf sal kry. Daarenteen sal die een wat te wyte aan onkunde nie doen wat die baas wil hê nie, 'n veel ligter straf kry. Híér is dus die beginsel: "Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word" (Lk 12:47-48).
• Ons gesindhede. In 1Kor 9 skryf Paulus oor die feit dat hy die evangelie uit eie keuse verkondig. Daarom doen hy dit kosteloos. Hy weet immers dat die loon wat hy nóú van die hand wys, wel eendag in die hiernamaals aan hom uitbetaal sal word (9:14-18). In 2Kor 9 gaan dit nogeens oor geld en ewige loon. Wie volop saai, sal volop maai. En in die besonder is dit belangrik om blymoedig en vrywillig te saai
want by uitstek is dit súlke uitdelers vir wie God lief is, wat Hy in hierdie lewe sal versorg, en wat eendag volop sal oes (9:6-8).
4. Let op die hartsgesteldheid wat die feit van die komende regterstoel in Paulus verwek. Soos gesien, gaan Paulus in 2Kor 5:11 voort: "Omdat ons dan die vrees van die Here ken" (OAV). Omdat daar 'n onontkombare wetmatigheid is, naamlik dat baie vereis word van diegene wat baie ontvang het - is die vooruitsig op die regterstoel vir 'n Christen enorm gewigtig. Hoeveel het ons nie ontvang nie! Hoeveel ontvang ons nie steeds nie! Laat die volle gewig hiervan lewenslank op jou hart druk: wat ek in hierdie lewe saai, sal ek tot in alle ewigheid maai; die kwaliteit van die saad wat ek nou saai, bepaal vir ewig die kwaliteit van my loon!
5. Van alle mense is ons die allerlaastes wat kan kla dat ons beoordeel gaan word. Is ons nie herskep sodat ons heilig en godvrugtig kan lewe nie? Is God se wette nie op die tafels van ons harte gegrafeer nie? Werk die Gees van die Here nie nou só in ons dat ons eendag vir die loon kan kwalifiseer nie? Waarlik, niks is meer redelik as die oproepe en imperatiewe van die Nuwe Testament nie. "Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is" (Rm 12:1). "Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik" (1Kor 6:19-20).
6. Al is dit ék wat beloon sal word, is dit die Here alleen wat die eer daarvoor moet kry. In Op 4:8-11 lees ons van die vieren-twintig ouderlinge wat hulle krone voor die troon van die Here terugplaas. Dis hulle stefanoi (Gr.), oftewel lourierkranse, simbool van die prys wat oorwinnaars in die Christelike wedloop ontvang. En dan breek hulle in 'n wonderlike lofuiting uit: "U is waardig ..." Waarom gee hulle hul krone terug? Omdat hulle besef dat hulle die prys en loon wat hulle vir hierdie lewe se getroue volharding ontvang het, hoegenaamd nie self verdien het nie. Dit is Gód se werk in hulle wat beloon is. Was elke oorwinnaarstree van hulle wedloop nie 'n genadegawe nie? Laat ons dus altyd onthou: elke stukkie godsvrug in my lewe is ten diepste die werk van Christus in my. Onthou, dis ten diepste nie ék wat gekroon gaan word nie, maar Christus in my. Wat leer dit dan vir jou en vir my? As mens die wenpaal seëvierend wil bereik, moet jy leer
om gelowig in die krag van God se Gees te leef en te werk. God gee die oorvloed van Sy gawes by die wenpaal, omdat ons in die geloof Sy gawes op die baan aangeneem het.
TEN SLOTTE
G As mens na die maatstawwe kyk wat God se Woord stel, is dit duidelik dat baie "Christene" nie die toets sal slaag nie. Hoe is dit dan dat Paulus, as hy oor die eindoordeel praat, soos klokslag die klem laat val op die sekerheid van beloning? Die antwoord is eenvoudig. Sy versekeringe oor ewige loon skryf hy aan wedergebore mense. En hy weet dat die hartsverandering wat die wedergeboorte bewerkstellig, só diepgaande is dat élke wedergeborene, ten spyte van baie oorblywende gebrokenheid, tog tot 'n mindere of meerdere mate aan die maatstawwe vir beloning voldoen.
G 'n Laaste gedagte oor hierdie saak: wat die Here Jesus in ag gaan neem tydens Sy evaluering met die oog op ons ewige loon, is nie net ons dade nie, maar ook ons geleenthede; nie net wat ons was nie, maar ook wat ons kon gewees het; nie net wat ons bereik het nie, maar ook wat ons nagejaag het; nie net wat ons gedoen het nie, maar ook wat ons nagelaat het; nie net die getal van ons goeie werke nie, maar ook die gewig daarvan. UIteindelik sal dít die vraag wees: tot watter mate was ek gelykvormig aan Christus se beeld - in my hartsgesindhede en in my dade?


• Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Dit staan enigeen gevolglik vry om die inhoud van hierdie studiestuk met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by ander gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie.
• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in ongeveer 50 gemeentes in 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnetsuite 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za of E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 848 9396 (N) ; 082 8282 940 (S)
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
• Ongeveer tweeweekliks word honderde preke/studiestukke soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans (soms in Engels) per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3628
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Do Mrt 08, 2018 3:40 pm

DIE AANVANG VAN DIE GENADEVERBOND

Enkele perspektiewe op Genesis 3:14-21

Nico van der Walt



Daar is beswaarlik 'n meer fundamentele paragraaf in die Bybel as Gn 3:14-19. Die sondeval het pas plaasgevind. Nou spel God die gevolge daarvan uit. In die proses praat Hy agtereenvolgens met die slang (14-15), met die vrou (16), en met die man (17-19). In die proses volg Hy die orde waarin hulle gesondig het. 'n Kosmiese drama is besig om hom hier af te speel. Wat God hier afkondig, het geweldige implikasies vir mens en skepping deur die millennia wat sou volg. Maar terselfdertyd hoor ons ook hier die eerste note van die genadeverbond se wonderskone verlossingsmusiek.
GOD SE WOORDE AAN SATAN (GN 3:14-15)
Is dit 'n slang of die duiwel? Vroeër in die hoofstuk praat die slang. En hier word hy aangespreek. Net 'n rasionele wese kan praat; net 'n verantwoordelike wese kan geoordeel word. Dit sê onmiddellik dat ons met meer as 'n slang te doen het. Slange is immers nóg rasioneel, nóg aanspreeklik. Ons kan nie met dogmatiese sekerheid sê of Satan hier deur 'n slang gesimboliseer word, en of hy die slang beset het om deur hom te werk nie. Dit maak waarskynlik nie werklik saak nie. Maar gewis moet ons die duiwel agter die slang sien.
God se vloek (3:14).
Die slang het die vrou verlei (2Kor 11:3; 1Tm 2:14) deur haar te oortuig dat die Skepper se opdragte onbelangrik is en goedskiks geïgnoreer kan word. Daarom word hy vervloek. Hy sal op sy pens op die grond seil en stof vreet. Dis die taal van diep vernedering. Teen God en die Here se kinders sal hy nooit 'n finale oorwinning behaal nie. En vir hom bestaan geen vergiffenis en ontkoming van ewige oordeel nie.
Die protevangelium, oftewel die moederbelofte (3:15) Hier is die eerste stuk evangelieverkondiging in die Bybel uit die mond van God self - gerig tot niemand minder nie as die duiwel. Trouens, embrionaal en in beginsel is die ganse evangelie reeds hier teenwoordig. Beklemtoon in die Hebreeus is die vyandskap en stryd wat voorlê. Die regstel van die sondeval gaan nie maklik en gou-gou wees nie. Dit gaan 'n ontsaglike konflik wees. En ons weet vandag hoe waar dit is en dat dit oor baie eeue sou strek. Laat ons onthou dat die ware geloofslewe nie 'n ruggraatlose liefde vir alles en almal is nie. Dit behels ook intense vyandskap en stryd. Daarom is egte dissipelskap nooit 'n Sondagskoolpiekniek nie. Mense wat so 'n gemaklike Christenskap wil hê, moet noodwendig in iets minder as die waarheid opgaan. Dis dan ook die rede waarom die ware Jakob 'n baie besliste en permanente kwaliteitsbesluit vereis. Daarsonder hou jy nie lank nie. Hierdie konflik, wat die ganse geskiedenis sou beheers, is deur God self daargestel. Dit is Sy inisiatief. Hier is dus nie iets wat op Hom afgedwing word nie. Nee, Hy is en bly soewerein in beheer. Ewemin het ons hier 'n bevel aan die mens. Dis 'n feitestelling. So sal dit wees. Gehoorsaam God, en konflik met die bose is onafwendbaar. Die stryd wat hier voorsien word, vind plaas op drie fronte: daar sal vyandskap wees tussen Satan en die vrou; tussen sy saad en haar saad; en tussen Satan self en 'n geheimenisvolle "Hy" (manlik, enkelvoud; vgl. OAV).
• Eerstens sal daar konflik wees tussen Satan en die vrou. Waarom die vróú, en nie die man nie? Die enigste verklaring wat bevredig, is die feit dat die Christus uit 'n vrou, sonder manlike betrokkenheid, gebore sou word. Sy menslike natuur sou Hy van haar kry - en dis in Sy ménslike hoedanigheid wat Hy die oorwinning sou behaal.
• Tweedens sal daar konflik wees tussen die duiwel se saad of nageslag, en die vrou s'n. Wie of wat is die vrou se saad? Die voor die hand liggende antwoord sou die hele mensheid wees. Maar kennelik is dit nie hoe die Bybel dit beskou nie. Want net in die volgende hoofstuk vermoor Kain sy broer, Abel - en volgens 1Jh 3:12 het Kain aan
die Bose behoort. Beswaarlik kan 'n mens hom dus anders as deel van die Satan se saad beskou. Dit raak duidelik as mens vra wie die Satan se saad is. Sonder twyfel dui die saad van die duiwel hier in Gn 3:15 op al die ongelowiges wat deur die eeue God se genadeverbond sou verwerp. Johannes die Doper verwys na die ongelowiges van sy dag as "slange" (Lk 3:7). En vir die vyandiggesinde Jode sê die Here Jesus dat hulle "kinders van die duiwel" is (Jh 8:44). Daarteenoor moet ons aanvaar dat die saad van die vrou die ware gelowiges deur die eeue is.
• Derdens is die finale konflik tussen die geheimenisvolle individu en die slang self. Deur die eeue word dit deur die bank in regsinnige kringe aanvaar dat dit hier oor die Messias gaan. Psalm 110 besing die komende Messias se triomf oor Sy vyande. In v.6 word gesê dat Hy die "hoof" van Sy vyande sal verbrysel (OAV). Maar selfs vir die Messias sou die oorwinning nie maklik wees nie. Die slang sou sy tande in Sy hakskeen slaan met die doel om Hom te vernietig. Hiervan sou 'n bebloede kruis uiteindelik getuig. Maar God se Gesalfde sou in die proses die slang se kop finaal vermorsel. Ou Testamentiese mense kon hierdie belofte net in die geloof vasgryp. Ons kan egter terugkyk na die historiese vervulling - en die wonderlike gevolge daarvan aan eie lyf ervaar.
'N PAAR LESSE UIT GEN 3:14-15
1. 'n Radikale lewenskeuse en standpuntinname is noodsaaklik. Niemand kan in hierdie oorlog neutraal bly nie. Dis 'n integrale deel van menswees dat jy daarby betrokke is. Dis deel van die skering en inslag van ons bestaan. Want een en elkeen van ons se bloedlyn begin by Adam en Eva. Nog meer, die woorde van die Here Jesus is onontkombaar: "Wie nie vir My is nie, is teen My."
2. Ware Christenskap hou altyd ook geestelike konflik in. As jou Christenskap vol geestelike konflik is, moenie verbaas wees nie. Ons praat nie van konflik wat die gevolg van jou sonde is nie. Ons praat van konflik wat duidelik die gevolg is van jou gehoorsaamheid aan Christus - konflik wat jy dadelik kan vermy deur die pad van dissipelskap te los en ontrou aan Hom te word. Só onontkombaar is hierdie soort stryd vir die ware Christen, dat jou geloof onder verdenking is as jy nie goed verstaan waarvan ons praat nie.
3. Net in Christus is daar oorwinning. Beswaarlik is daar 'n belangriker les om te leer, as om ons oë in geloof op Christus, ons groot Oorwinnaarkoning, vas te nael. Dit geld vir die ewige saligheid, maar vir
seker ook vir oorwinning in die lewensaanslae van elke dag. Dit kan maklik aangetoon word dat elkeen van die ses stukke wapenrusting in Ef 6 op 'n aspek van ons erfenis in Christus dui.
4. Daar is geen twyfel oor die stryd se uiteindelike uitkoms nie. Die Messias het reeds in beginsel die oorwinning oor Satan behaal. En oor die afloop van die stryd is daar geen twyfel nie. 'n Hele aantal uitsprake in die Nuwe Testament beklemtoon dat Christus se oorwinning reeds 2000 jaar gelede die duiwel uit die hemel laat tuimel het. Daarom sê Jesus in Lk 10:17-18 dat Hy die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val het (vgl. ook Jh 12:31; 16:11; Hb 2:14; 1Jh 3:8; Op 12:7-17). Maar nou loop hy soos 'n brullende leeu op die aarde rond (1Pt 5:8) - en vandaar ons stryd.
• 'n Welbekende illustrasie om die huidige situasie te verduidelik, kom uit die Tweede Wêreldoorlog. Duitse magte het die hele Europa beheer. Op D-dag, 6 Junie 1944, het die geallieerdes egter met 'n magtige poging die Normandiese strande van Frankryk aangeval en weer 'n vastrapplek op Europese bodem verkry. Toe dit gebeur, het oorlogstrateë geweet wie die oorlog gaan wen. Duitsland was finaal op die agtervoet, en dit was net 'n kwessie van tyd voordat sy magte die knie sou moes buig. Wat oorgebly het, was vir alle praktiese doeleindes 'n opruimingsproses. Maar tog het dit nog elf maande geduur voordat die oorlog teen middernag, 8 Mei 1945, verby was. Net so met Christus se oorlog teen Satan. "D-dag" was twintig eeue gelede. En daar is geen twyfel wie die oorlog gaan wen nie. Vir ons illustrasie is dit egter van belang dat die bloedigste gevegte van die oorlog destyds tydens daardie laaste elf maande plaasgevind het. Dit was letterlik 'n skoonmaakproses van straatblok tot straatblok, en derduisende het gesneuwel. Maar deurgaans was die geallieerdes op die voorvoet. Al is ons geestelike stryd dus baie dae só fel dat ons moedeloos wil raak, laat ons ons Oorwinnaarkoning vertrou. Oor die finale uitslag is daar nie twyfel nie!
5. Hierdie verse bevat die sleutel tot 'n tergende geheim. Hier vind ons die antwoord op 'n tergende vraag: waarom omhels party mense die evangelie van Christus, terwyl ander dit lewenslank verwerp? Dis immers die mees logiese en sinvolle ding om die Gekruisigde se boodskap te aanvaar en jou heelhartig by die saad van die vrou te skaar. Dink aan die geïntegreerdheid en konsekwentheid van die boodskap wat handel oor die vrou se Saad ten spyte daarvan dat die ses-ensestig boeke waaruit dit bestaan oor 'n millennium en 'n half deur 'n paar dosyn skrywers van uiteenlopende
agtergronde geskryf is. Die onderlinge samehang van Ou en Nuwe Verbond is fassinerend, om die minste daarvan te sê. Dink aan die unieke boodskap waarvoor die vrou se saad staan. Dit druis lynreg in teen alle godsdienste in hierdie wêreld. Al die religieë preek dat ons na God toe moet opklim langs seremoniële en moralistiese lere. Die vrou se Afstammeling leer daarenteen dat God in Sy liefdesgenade reddend na sondaars toe afbuig - mense wat bloot bereid is om hulle nood en afhanklikheid te bely, en hulle volle geloofsvertroue in Hom te stel. Dink daaraan dat die vervulling van hierdie woorde in Gn 3 die antwoorde verskaf op talle van ons diepste intellektuele en filosofiese raaisels. Daar is sekere fundamentele vrae waarmee ongelowige denkers deur die eeue stoei, wat maklik deur die ongeleerdste lede van die vrou se saad ontrafel kan word - mits hulle natuurlik hierdie woorde glo. Maar, natuurlik, vir die trotse mens is hierdie antwoord te eenvoudig. Dink daaraan dat die norme van die vrou se Saad tot 'n lewe van sin en wonderlike welsyn lei, terwyl dit soos klokslag op katastrofe uitloop wanneer mense daarvan afwyk. Die Bybelse ordes lei altyd weer tot voorspoed - geestelik, emosioneel, moreel en selfs materieel. Waar is daarenteen die opheffende boodskap van die saad van die slang? Histories staan dit so vas soos die berge: tot die mate wat 'n samelewing die norme van die vrou se Saad navolg, tot daardie mate veredel dit; tot die mate wat daarvan afgewyk word, tot daardie mate tree verval en verrotting in. En, by verre kosbaarste van alles, die Saad van die vrou bied die allerantwoord op die vraag van alle vrae: hoe kan 'n skepsel regverdig voor sy Maker staan? Waarom, dus, omhels party mense die evangelie van Christus, terwyl ander dit lewenslank verwerp? Die antwoord lê daarin dat die mens se sonde sy nageslag so verdorwe gelaat het, dat hulle algeheel blind is vir die mees voor die hand liggende lewenswaarhede en -antwoorde. Dit is daarom nodig vir 'n soewereine wonderwerk wat blinde oë laat sien en verstorwe insigte laat lewe. Wanneer dit gebeur, skaar sulke begenadigdes hulle sonder meer by die Saad van die vrou, en daarom ook by haar saad. Maar helaas bly die res van die mense eenvoudig in hulle gevalle staat as deel van Satan se saad. Dit het tot gevolg dat hierdie twee groepe mense vir twee uiteenlopende stelle waardes en lojaliteite lewe. Hulle is net eenvoudig nie op dieselfde golflengte nie. Dít is wat die Bybel in die verse waarna ons kyk, "vyandskap" noem.
6. Die geskiedenis bevestig die waarheid van hierdie verse. Hierdie verse spel die ontwikkeling van God se verlossingsplan deur die
eeue merkwaardig akkuraat uit. Duisende jare later is daar inderdaad 'n Man gebore wat tot die dood toe met Satan geveg het. In die proses is Hy in die hakskeen gebyt, maar dit was juis Sy manier om die duiwel se krag te verbreek. Die dermiljoene wat sedertdien wonderlike vrymaking in Hom leer ken het, is 'n onmiskenbare bewys van die realiteit daarvan. En hoe bevestig ontelbare skares dissipels se heroïese toewyding en hartsverknogtheid aan Hom dit nie! GOD SE WOORDE AAN DIE VROU (GN 3:16)
Die smarte van ma-wees. Om kinders in die wêreld te bring, is nie 'n grap nie. Nege maande van naarheid en ongemak word gevolg word deur 'n uiters pynlike bevalling. En deur die geslagte - veral voor vandag se mediese gesofistikeerdheid - het tallose vrouens in die proses gesterf. Maar bes moontlik sinspeel hierdie uitspraak ook op die swaar las van ouer-wees (en as 'n reël ervaar ma's dit pynliker as pa's). Oseane vol trane is al gestort oor kinders wat hulle skeie breek, wat nie die mas opkom nie, wat ná hulle skooldae in die niet verdwyn. Vir wie bid gelowige ouers meer as vir hulle kinders en kleinkinders?
Die magstryd in die huis. As v.16 praat van die vrou wat na haar man sal hunker, word dit dikwels verstaan as seksuele- en koesteringsverlange. Maar dis waarskynlik nie die regte vertolking nie. Immers was hiérdie hunkering sekerlik al teenwoordig voor die sondeval. In net die volgende hoofstuk (4:7) word presies dieselfde Hebreeuse woord gebruik: "begeerte" (OAV). Híér egter is dit 'n hunkering na oorheersing - die van die sonde oor Kain. Dit lyk dus of God in Sy woorde aan die vrou bedoel dat sy oor haar man sal wil baasspeel. In haar sondegevalle staat sal sy nie kan vrede maak met die ondersteuningsrol wat Hy aan haar in die huwelik toeken nie. Sy sal nie rus of duurte hê voordat sy nie die broek in die huis dra nie. Maar die man sal oor haar heers. Die Hebreeuse woord vereis dit nie, maar dit lyk asof hierdie uitspraak wil sê dat die man haar - desnoods met geweld - onder sy duim sal hou. En is harde manlike dominering van die vrou nie nog altyd tipies in 'n gevalle wêreld nie?
GOD SE WOORDE AAN DIE MAN (GN 3:7-19)
Die aarde sal sy kant bring. Daar sal kos wees. En tot vandag toe is dit een van die uitstaande karaktertrekke van God se algemene genade, dat Hy laat reën oor dié wat reg doen, en oor dié wat verkeerd doen (Mt 5:45).
Maar dit sal sweet kos. Die straf lê nie in die feit dat die mens
moet werk nie. Dit was al 'n skeppingsverordening voor die sondeval. Nee, dit lê in die moeite en inspanning waarmee alles gepaard gaan. Vir meeste is dit 'n rugbreekstryd om die wolf van die deur af weg te hou.
Van stof tot stof. Ergste van alles in die mens se bestaan, is die wagtende graf. Die smarte van geliefdes wat heengaan slaan kort-kort op hom toe, en uiteindelik moet ook hy die verskrikking van die fisiese dood aandurf. Afgesien van twee hoogs uitsonderlike wonderwerke, is die mortaliteitskoers van die biljoene mense wat al geleef het eenhonderd persent!
HOEKOM HET SLANGE NIE VOETE NIE?
Ongeloofsteoloë voer dikwels aan dat ons hier in Gn 3 'n volkslegende het. Dit sou vertel word om vir kinders te verduidelik waarom slange seil. Maar die eerste verteller van hierdie storie moes dan meer as 'n genie gewees het. Want, ten spyte van ons gesofistikeerde samelewing vandag, oorheers die realiteite en beginsels wat in hierdie paar verse uitgespel word steeds ons elke dag se lewe. Ons almal stoei tot 'n mindere of meerdere mate met die vraagstukke v a n huwelikspanning, broodvoorsiening, pynverligting, werksinspanning, kinderopvoeding en die dood!
ADAM EN EVA SE GELOOF (Gn 3:20-21; 4:1)
Onmiddellik na God se woorde, reageer Adam in die geloof op Sy belofte van verlossing. Hy noem sy vrou "Eva" (20). Dit beteken "lewegewer". Daarmee bedoel hy dat sy vrou die moeder sou word van die lewendes - dat die Lewegewer uit haar sal voortkom.
~ God aanvaar Adam se geloofshandeling. Dadelik maak Hy vir hulle velklere (21). Daarvoor moes Hy diere slag. Bes moontlik is dit 'n vooruitwysing na die komende offerstelsel, wat weer vooruit gewys het na Christus se groot offer. Die Hebreeuse woord "versoening" beteken immers om te bedek. Hebreërs 9:22: "... sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie."
• Sonder twyfel impliseer die feit dát hulle offer, sowel as die feit dat dit 'n díére-offer moet wees, reeds 'n sekere kennis oor God se manier van versoening. Sekerlik het Adam en Eva hulle kinders hieroor ingelig. Want die seuns offer. Abel offer met bloed. Hy verstaan; hy glo. Maar Kain is beterweterig; hy offer vrugte. Sy ongeloof en eiewilligheid is die rede waarom sy offer nie aanvaar word nie (4:3-5).
• Die velklere waarmee God Adam en Eva aantrek, vervang hulle eie poging met vyeblare.
Daar is net twee godsdienste in hierdie wêreld: vyeblaar-godsdiens wat met goeie werke en seremonies versoening wil doen vir sonde; en velle-godsdiens wat staat maak op God se versoeningswerk in Christus alleen. Die mens wil sy eie vyeblare aan mekaar flans. Maar God dring daarop aan dat ons nakend voor Hom kom staan, sodat Hý ons met Sy eie geregtigheid kan beklee.
~ Dat Adam se benaming van Eva 'n baie besliste geloofsbelydenis is, word duidelik as mens dit teenoor die vorige vers stel. In v.19 sê God dat die mens gaan sterf, dat hy weer stof sal word. Maar Adam se reaksie daarop is nie 'n moedelose aanvaarding nie. Nee, as God sê hy gaan sterf, draai hy as 't ware na Eva toe en sê: "Eva, ons gaan lewe!" Adam het duidelik goed na die moederbelofte geluister (15). En die Here berispe hom nie.
~ Hoewel nêrens uitdruklik gesê nie, lyk dit asof ook Eva God se belofte geglo het. Het Hy nie reeds gesê sy gaan die moeder wees van die saad wat teenoor die saad van Satan sal staan nie? En is dit nie háár Saad wat die kop van die slang gaan vermorsel nie? Genesis 4:1 is interessant. As Eva sê dat sy 'n man in die wêreld gebring het, staan daar letterlik: ek het 'n man gekry van Jahweh! Het sy dalk in opgewonde geloofsverwagting gedink dís die seun wat die slang se kop gaan verbrysel - die Messias?
~ Wat 'n ironie! Die man wat vir die sondeval verantwoordelik was, die man na wie die gevalle mensheid vernoem gaan word (die gevalle mensheid in Adam), is die heel eerste persoon wat met geloof en redding begenadig word. En die vrou wat hom verlei het, stap hand aan hand saam met hom die ewige saligheid binne! Waarlik, as Adam en Eva gered kon word, kan enigeen gered word!
~ Hoeveel troos sit daar nie in die eenvoud van Adam se geloof nie! Dis genoeg vir redding. Terwyl 'n ton vals geloof nie kan red nie, is 'n greintjie ware geloof voldoende. Nie groot geloof is nodig nie, maar egte geloof.
• Ons mag nooit geloof voorhou as ingewikkeld en veeleisend nie. Afgesien daarvan dat dit gewoon nie die waarheid is nie, steek mens dan vir seker ook die grens oor na menslike verdienste. Jy maak van geloof die goeie werk en verdienste wat toelating tot die ewige lewe verleen. En só 'n geloof sal in der ewigheid niemand red nie. Sekerlik moet ons nie 'n goedkoop geloof verkondig nie asof dit maar in orde is as jy in sonde voortleef. Maar ewemin is duur geloof die ware Jakob - asof mens eers gered kan word nadat jy aan 'n klomp voorwaardes voldoen het. Nee, ware geloof is gratis geloof - soos mens dit sien in die tollenaar wat saam met
die Fariseër gebid het (Lk 18:9-14), en die misdadiger wat aan die kruis langs Jesus gered is (Lk 23:40-43). Luther het 'n sprekende beeld gebruik om ware geloof te verduidelik: geloof is die ring wat Christus, die diamant, vasgryp. Hoe belangrik is dit nie dat daardie goue kloutjies sterk en stewig vashou nie! En, let op, as die pas-verloofde meisie by haar vriendinne spog, sê sy nie, "Kyk na my goue band" nie, maar, "Kyk na my diamant!"
• Dit was nodig dat Adam en Eva maar 'n enkele belofte van die Here glo om gered te word. Maar, let op, hulle het álles geglo wat Hy gesê het. Ons het vandag 'n duisend maal meer openbaring van God ontvang, maar dis steeds nodig om álles te glo wat Hy gesê het. Jy hoef nie 'n gesofistikeerde geloof en baie diep insig te hê nie, maar jy moet in waarheid kan sê: "Al verstaan ek baie van wat die Here in Sy Woord sê nog nie, aanvaar ek in beginsel en kinderlik gelowig alles wat Hy belowe het." Mens kan mos nie sê jy glo God, as jy sekere dinge wat Hy sê oorboord gooi nie! Mens hoef nie te sê iemand lieg áltyd, om hom af te maak as 'n leuenaar nie. Jy beledig hom en skaad sy reputasie deur bloot te sê dat mens hom nie altyd kan vertrou nie. Onthou, die vraag is nie of jy genóég waarheid glo om gered te word nie. Die vraag is, glo jy Hóm wat belowe het?
~ Soos Adam en Eva, het ook baie van ons onkruid voor ons bekering gesaai. En dikwels bring dit steeds die bitterste vrug voort, vrug waarvan ons ons vandag nie ver genoeg kan distansieer nie. Maar selde kan ons dit ontkom. Dit geld ook vir Adam en Eva. Hulle eersgeborene vermoor sy jonger broer. Kan daar 'n erger hartseer oor ouers kom? Sekerlik was hulle trane nie net die van verlies nie, maar ook die van selfverwyt. Wat staan mens in so 'n situasie te doen? Mens moet 'n offer bring wat God innig behaag. Dis die offer van gebroke verootmoediging en voortgaande aanvaarding. Mens moet jou verneder onder God se kragtige hand (1Pt 5:6).
• In die saligheid hierna sal ons eerste emosie a anbiddingsverwondering wees. Maar in die tweede plek sal ons diepste belewing waarskynlik liefdesdankbaarheid wees. En niemand sal dit meer intens ervaar as Adam en Eva nie. Want wie se sonde het groter ellende veroorsaak? Sê die Bybel nie dat diegene wat die meeste vergewe is die meeste liefhet nie? ~ Ware geloof word altyd getoets om die egtheid daarvan uit te wys. Adam en Eva se geloof was geen uitsondering nie. Die eerste ouers se opgewondenheid oor hulle eerste seun het spoedig in groot teleurstelling omgesit. Dit het gougou geblyk dat Kain nie die Messias is nie. Wat het van God se belofte
geword? Só ontnugter is hulle dat die tweede seun "Abel" genoem word: leegheid, skyn, verganklikheid. Hulle geloof wankel. Waar is God? Nog erger, spoedig vermoor Kain sy broer. Hy vlug en word 'n swerwer. Skielik het Adam en Eva as 't ware geen kinders nie. Wat het van die belofte geword? Dan raak Eva weer swanger. Hulle noem die seun Set: "herstel". Hulle vertroue vlam weer op. Die geslagte volg nou een na die ander. Adam beleef dit alles. Agthonderd jaar is 'n lang tyd (Gn 5:4-5). En duidelik ontwikkel daar twee lyne: die saad van Kain (Gn 4:17-18) en die saad van Set (Gn 5:6-18). Algaande blyk hierdie twee lyne die saad van die slang en die saad van die vrou te wees. Want die vyfde geslag na Kain is Lameg, die geweldenaar (Gn 4:23-24). En die vyfde geslag na Set is Henog, die man wat met God wandel en uiteindelik deur die Here na die hemel weggevoer word sonder om te sterf (Gn 5:22-24). Meestal kom die bevestiging van ons geloof nie oornag nie. Voorwaar, die geloofsoog moet ver kan kyk!
'N KORT SLOTWOORD
Jesus Christus is die sentrale tema van die ganse Bybel, en die genadeverbond in die besonder. Reeds hier, reg aan die begin, word Hy sentraal geplaas. En so bly dit. Dis 'n ontwikkelende tema wat uiteindelik in die Nuwe Testament tot glasheldere hoogtepunt kom. Die Ou Testament (of Verbond) is 'n antisiperende vooruitskouing; die Nuwe Testament (of Verbond) 'n beskrywende en vertolkende terugskouing. Wie hierdie tema miskyk of misken, mis alles!




• Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Dit staan enigeen gevolglik vry om die inhoud van hierdie studiestuk met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by ander gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie.
• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in ongeveer 50 gemeentes in 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnetsuite 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za of E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 848 9396 (N) ; 082 8282 940 (S)
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
• Ongeveer tweeweekliks word honderde preke/studiestukke soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans (soms in Engels) per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3628
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Mrt 14, 2018 2:53 pm

Hiermee 'n volgende Herout. Vertrou dis tot seen.

Hartlike groete in Christus,

Nico v/d Walt
(nico@dievanderwalts.co.za)

**************************************************************************

DIE EVANGELIETRIOMF IN KOREA

Een van die magtigste wonderwerke van die twintigste eeu

Nico van der Walt



Kenneth Scott Latourette, die bekende kerkhistorikus, praat van die onverklaarbare "Korean Christian phenomenon".1 Dis 'n baie kontemporêre fenomeen en as sodanig baie bemoedigend. Die evangelie het die eeue-oue Korea op 'n laat stadium bereik. Maar dit het in die Koreaanse hart 'n openheid en ontvanklikheid gevind soos selde in die sendinggeskiedenis. Oor die afgelope paar geslagte het die Koreane gevolglik beroemd geword vir gebedsvolharding, trou onder vervolging en verstommende kerkgroei. Tekens van die evangelie se impak is vandag orals in SuidKorea te sien. Die hoofstad, Seoul (12 miljoen) het alleen na skatting meer as 2 000 kerkgeboue. Soggens teen vieruur, vyfuur - winter en somer - begin die klokke in die stede en dorpe beier om die Christene na hulle dagbreekbidstondes te roep. Oor die afgelope dekades het die getal Christene elke tien jaar verdubbel, wat beteken dat die kerk omtrent vyf tot sewe maal vinniger as die bevolking gegroei het. 'n Beduidende deel van alle SuidKoreane beskou hulleself vandag as Christene. En die persentasie is
steeds besig om te groei. Korea is 'n bergagtige skiereiland aan die suidoostelike kant van OosAsië. Dis min of meer gelykop verdeel: die noorde onder 'n kommunistiese regering; en die gebied onder ons vergrootglas, die kapitalistiese Republiek van SuidKorea, in die suide (45 miljoen op 99 000 vk. km - soveel soos ons in Suid-Afrika, maar op 'n twaalfde van die oppervlakte).
'N OORSIG OOR DIE LAND SE GESKIEDENIS
Korea se geskiedenis strek minstens vier millennia terug. Onder die eeueoue Yi-dinastie was die land feitlik geslote vir buitelanders. Teen 1884 is dit egter oopgestel - en kon Westerse sendelinge dit gevolglik binnegaan. Na die Russies-Japannese Oorlog word die land in 1910 deur Japan geannekseer. Die besetting duur tot 1945, as Japan deur die Geallieerdes verslaan word. Rusland maak op 'n deel van die buit aanspraak en kry uiteindelik beheer oor die noorde. Daarenteen word Suid-Korea op 15 Augustus 1948 'n onafhanklike staat. Vrede is egter van korte duur. Die Kommuniste val die suide op 25 Junie 1950 binne en oorlog teister die Koreane vir 'n verdere 3 jaar. As die Verenigde Volke se magte mettertyd die oorhand kry, word die agt-en-dertigste breedtegraad die grens. Sedertdien leef die SuidKoreane onder voortdurende bedreiging uit die noorde en is hulle dag en nag op 'n gereedheidsgrondslag. In Noord-Korea, waar die Christene die getalrykste was, het daar oënskynlik niks van die institusionele kerk oorgebly nie. Derduisende gelowiges is vermoor. En van die oorblywendes het meeste na die suide gevlug. Die tradisionele godsdienste van Korea is Boeddhisme en Confucianisme. Diep in die negentiende eeu, toe die evangelie die land bereik het, was hierdie gelowe se invloed reeds aan die taan. En vandag is min van die nieChristene hoegenaamd godsdienstig. Aangesien die kerk jonk en dinamies is, en nie 'n klomp skandelike bagasie saamdra soos in groot dele van die Weste nie, bring dit mee dat die bevolking relatief ontvanklik is vir die evangelie.
DIE VROEË KERKGESKIEDENIS
'n Jong Koreaan, Lee Seung-run, het in China onder Rooms-Katolieke invloed gekom en in 1784 begin om die evangelie in Korea te verkondig. Gou het 'n gemeente rondom hom ontstaan. Hy is later gevolg deur eers 'n Chinese en toe 'n Franse Rooms-Katoliek, maar beide het 'n marteldood gesterf. As gevolg van
felle vervolgings was daar slegs 'n paar duisend Katolieke in Korea toe die eerste Protestantse sendelinge daar aangekom het. Die eerste Protestant op Koreaanse bodem was Charles Gützlaff, 'n Duitser wat tydens 'n vlugtige besoek in 1832 'n klompie Chinese Bybels aan die ooskus versprei het. In 1866 het die Brit, Robert J. Thomas, nadat hy verneem het dat alle opgevoede Koreane Chinees kon lees, met 'n vrag Bybels vanaf China vertrek. Hy was passasier op die Amerikaanse skip, The General Sherman, wat 'n ontdekkingsvaart na Korea onderneem het. Die skip het in die Tai Tongrivier opgevaar en teenoor die meer as drieduisend jaar oue Pyongyang (die huidige hoofstad van Noord-Korea) op die rotse beland. Die Koreane het die vaartuig aan die brand gesteek en die hele bemanning vermoor. Thomas het met sy arms vol Bybels na die oewer gewaad, en terwyl hy doodgeslaan is, het hy sy kosbare vrag in die hande van sy aanvallers gedruk. Sy bloed was egter die saad van die toekomstige Koreaanse kerk, want die groot herlewing sou veertig jaar later in presies hierdie stad uitbreek! Twee Skotte, John Ross en John McIntyre, het die eerste Koreaanse Protestante in 1876 in Mantsjoerye gedoop. Ook was hulle verantwoordelik vir die eerste Koreaanse Nuwe Testament tussen 1882 en 1887. So Sang-Yun, een van die bekeerlinge en helpers met die vertaling, het in 1883 na Korea teruggekeer en die evangelie begin verkondig. En spoedig het meer as 'n honderd van sy volksgenote tot die geloof gekom.
DIE EERSTE SENDELINGE
In 1884 vestig die Presbiteriaan en mediese dokter, Dr. Horace N. Allen as eerste voltydse protestantse sendeling in Korea. Hy word 'n jaar later gevolg deur nog Amerikaners Horace Underwood, 'n Presbiteriaan, en Henry Appenzeller, 'n Metodis. Die twee kerkgroepe werk van die begin af saam, maar besluit op twee verskillende arbeidsvelde. Hulle benaderings verskil in elk geval: die Presbiteriane laat die klem meer op evangelieverkondiging val; die Metodiste op Christelike skole. Hierdie baanbrekers word binne die volgende twee dekades deur heelwat ander gevolg - nog Presbiteriane en Metodiste, maar ook Baptiste en Anglikane. Vanaf 1895 begin die Protestantse kerke in Korea dramaties groei. Veral word die Presbiteriane se werk in die noordweste van die land geseën, waar Dr. Samuel A. Moffett 'n prominente rol speel. Hoewel statistieke nie altyd 'n betroubare barometer vir ware kerkgroei is nie, is dit tog sprekend dat die getal Koreaanse lidmate en aanhangers
(Christene wat nog nie gedoop is nie) van slegs 802 in 1895 tot 167 352 in 1910 toegeneem het.
DIE NEVIUS-METODE
In 1890 besoek die Amerikaanse sendeling, John L. Nevius, Korea op uitnodiging van sy Presbiteriaanse kollegas. Dit volg op die publikasie van sy epogmakende boek, The Planting and Development of Missionary Churches. Hoewel sy besoek maar twee weke duur, beskryf die sendingwetenskaplike, Peter Beyerhaus, dit as "one of the most momentous events in the whole history of missions". Waarom? Nevius stel na sy besoek 'n verslag op waarin hy sekere aanbevelings doen ten opsigte van 'n sendingstrategie in Korea. Dit word deur die plaaslike sendelinge aanvaar en nougeset oor die daaropvolgende jare toegepas. Daar is min twyfel dat die uitstaande kenmerke van die Koreaanse kerk tot vandag toe soos sendingywer, offervaardigheid en Bybelkennis - grootliks te danke is aan Nevius se sendingbeginsels en die konsekwente toepassing daarvan deur die sendelinge.:
1.Selfvoortplanting. Die uitdra van die evangelie is die verantwoordelikheid van elke gelowige. Elkeen gee leiding aan 'n onlangs-bekeerde. En hy self leer by een wat beter as hy toegerus is.
2.Selfregering. Sendingkerke moet so gou as moontlik selfstandig word en dan as plaaslike kerke selfstandig bly.
3.Selfversorging. Elke inheemse kerk is finansieel verantwoordelik vir hulle eie plek van samekoms, asook die versorging van helpers en pastors uit eie midde. Geen bydraes tot hierdie basiese behoeftes word deur die sendende kerk gemaak nie.
4.Bybelstudie. Elke gelowige doen saam met ander sistematiese Bybelstudie onder leiding van 'n leier. Hierdie leiers leer op hulle beurt by 'n groepleier - wat saam met ander groepleiers weer leiding ontvang van die sendeling.
5.Dissipline. Streng dissipline en Bybelse tug word te alle tye gehandhaaf.
'N DREIGENDE KRISIS
Van die begin af was die sendende kerke daarop gesteld dat die jong kerke so gou moontlik selfstandig moes word. Aangesien die Neviusbeleid die proses baie sou vergemaklik en daar verwag is dat die eerste Koreaanse predikante in 1907 sou afstudeer, was dit die logiese tyd vir die totstandkoming van die Koreaanse Presbiteriaanse
Kerk. Hiertoe het die sendelinge hulle dan ook vooraf verbind. Maar in 1905 breek die RussiesJapannese Oorlog uit. Die magtelose Korea word deur Japan geannekseer en na die oorlog laat blyk die seëvierende Japannese geen voorneme om Korea te verlaat nie. 'n Intense Koreaanse patriotisme ontstaan oornag en dadelik word na die kerk as sterkste en invloedrykste "organisasie" opgesien om leiding in die vryheidstryd te neem. William Blair, 'n ooggetuie-sendeling, beweer dat massas die kerk sou binnegestroom het as enigsins afgewyk is van die streng beleid om nie by politiek betrokke te raak nie. Hy stel dit verder só: "I believe Korea, like the Roman Empire, would have adopted Christianity in a day, and I believe, too, we would have had another Roman church." Dit het moed en wysheid van die sendelinge en Koreaanse kerkleiers geverg om die kerk deur hierdie krisis te stuur - om teen die golf van haat in, liefde en vergewingsgesindheid te verkondig. Wat die sendelinge se taak verder bemoeilik het, was Amerika se apatiese houding jeens Japan se imperialisme. Uiteraard het dit hewige anti-Amerikaanse gevoelens in Korea - en ook binne-in die kerk - ontketen. Die Here slaan egter reguit houe met krom stokke. Hoewel interne spannings kort voor sy selfstandigwording dreig om die Koreaanse kerk uitmekaar te ruk, word dit juis die aanleiding tot Januarie 1907 se herlewing.
DIE HERLEWING VAN 1907
In Augustus 1906 kom die sendelinge van die streek vir 'n week van Bybelstudie en gebed in Pyongyang bymekaar. Diep bewus daarvan dat hulle die hulp, wysheid en leiding van die Here nodiger as ooit het, kom hulle opnuut onder die besef dat daar maar een antwoord is: diep verootmoediging en gebed. Dis dan ook die boodskap wat elkeen na sy eie gemeente terugneem. En inderdaad word daar in die volgende maande intensief vir die situasie gebid. Tydens Januarie 1907 word daar, soos gebruiklik, 'n weeklange Bybelklas in Pyongyang aangebied. Dit word bygewoon deur die sendelinge en ongeveer 1500 Koreaanse gelowiges van die omstreke. Die eerste byeenkomste lewer niks besonders op nie; tewens, 'n nat kombers van doodsheid versmoor omtrent die byeenkoms van Sondagaand, 13 Januarie. Maandag deur die dag bid die sendelinge en van die Koreaanse leiers soos nooit vantevore nie. En toe hulle die aand die saal binnestap, weet almal 'n wonderlike deurbraak het op hulle gedaag. Maandag, 14 Januarie, sal vir altyd met goue
letters in die Koreaanse kerkgeskiedenis geskryf staan. Na die preek neem die Heilige Gees eenvoudig besit van die mense. Heeltemal teen die gebruik in begin hulle gesamentlik hardop bid. Daar is egter geen wanorde nie. Dis asof die honderde gebede saamsmelt tot een magtige roepe na God. Spoedig neem 'n diep sondebesef van die vergadering besit en mense begin hulle skuld hardop en onder trane bely. En die res lê biddend op hulle gesigte. So hou dit aan tot twee-uur die oggend. Hiervan sê Blair, 'n konserwatiewe Presbiteriaan: "We may have our theories of the desirability or undesirability of public confession of sin. I have had mine; but I know now that when the Spirit of God falls upon guilty souls, there will be confession, and no power on earth can stop it." Die volgende aand is die laaste sessie van die konferensie. Weereens val die Heilige Gees op die vergadering van ver meer as 'n duisend. Blair beskryf dit so: "Then began a meeting the like of which I had never seen before, nor wish to see again unless in God's sight it is absolutely necessary. Every sin a human being can commit was publicly confessed that night. Pale and trembling with emotion, in agony of mind and body, guilty souls, standing in the white light of that judgement, saw themselves as God saw them. Their sins rose up in all their vileness, till shame and grief and self-loathing took complete possession; pride was driven out, the face of men forgotten. Looking up to heaven, to Jesus whom they had betrayed, they smote themselves and cried out with bitter wailing: 'Lord, Lord, cast us not away forever!' Everything else was forgotten, nothing else mattered. The scorn of men, the penalty of the law, even death itself seemed of small consequence if only God forgave." Na die Bybelklas keer die Koreane terug na hulle tuisgemeentes en waar hulle ook al verslag doen, vat die herlewing vlam. Orals word restitusie gedoen en verhoudinge tussen mense herstel. En uit dit alles ontstaan 'n brandende sendingywer. Die gevolg is dat die evangelie wyd en syd uitgedra word. Danksy deeglike Bybellering voor die herlewing, was daar min sprake van fanatisisme. Die ontsaglike hoeveelhede geestelike energie is ordelik gelei in regsinnige bane (Clark, A.D., A History of the Church in Korea, 1971, The Christian Literature Society of Korea). Hier lê grootliks die antwoord op die vraag waarom die Koreaanse herlewing so standhoudend is.
SELFSTANDIGWORDING
Die herlewing het soos 'n veldbrand deur Korea versprei. Die kerk wat
een oomblik nog op die punt was om te skeur, is feitlik oornag gesuiwer en gereed gemaak om sy selfstandigwording te aanvaar. Die stigtingsvergadering van die Koreaanse Presbiteriaanse Kerk is op 17 September 1907 in Pyongyang gehou. Daar was 38 sendelinge en 40 Koreaanse ouderlinge teenwoordig. Die eerste 7 predikante, wat pas aan die teologiese skool afgestudeer het, is georden - en een van hulle is dadelik as sendeling na Cheijueiland gestuur, waar hy spoedig in lewensgevaar begin werk het. In 1908 het geen predikante klaar gemaak nie, maar in 1909 was daar 'n verdere 8 gereed - van wie een as sendeling na Vladivostok in Siberië gestuur is. Op Sondag, 1 September 1912, vergader die eerste sinode, bygewoon deur 52 predikante, 125 ouderlinge en 44 sendelinge. Weereens word heelwat aandag aan buitelandse sending gegee en 3 sendelinge word na China gestuur. Die sendingywer van die Koreaanse kerk is dus van die begin af voorop. Is dit 'n wonder dat God se seën tot vandag toe só op hierdie land rus?
DIE BYBEL IN KOREAANS
Wat die Koreaanse Bybel betref, het die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap en die Amerikaanse Bybelgenootskap saam aan 'n amptelike vertaling gewerk. Die Nuwe Testament is in 1901 voltooi en 'n finale hersiening daarvan in 1904. Die Ou Testament kry finaal sy beslag in 1910. Later, in 1925, het ook 'n private vertaling onder leiding van ene Ds. J.S. Gale verskyn. Dit was 'n poging om die Bybel in 'n meer verstaanbare spreektaal aan die massas beskikbaar te stel.
'N SEISOEN VAN VERVOLGING
Tydens die jare 1910-1945 is die kerkgeskiedenis van Korea oorheers deur die kerk se stryd teen die heidense Japannese oorheersers. Dit was gevolglik 'n tyd van rypwording en suiwering vir die kerk. Maar helaas lê die wortels van latere kerkskeurings ook in hierdie periode. Op 22 Augustus 1910, na die Russies-Japannese Oorlog, kom 2000 jaar van onafhanklikheid vir Korea tot 'n einde. Japan annekseer die land formeel as kolonie. Hoewel die kerkleiers steeds poog om die kerk buite die politiek te hou, kan die Japannese vanuit hulle Shintoagtergrond - wat godsdiens en politiek verweef - dit nie begryp nie. Hulle verdink daarom die buitelandse sendelinge van spioenasie en skryf die vinnige groei van die Koreaanse kerk aan ondergrondse politieke aktiwiteite toe. Die eerste openlike vervolging
breek in Oktober 1912 uit. Al die onderwysers en talle leerlinge van 'n Presbiteriaanse hoërskool in Seoul word in hegtenis geneem. Ook in Pyongyang en elders word mense gearresteer - onder meer talle Christene. Na verskriklike martelings word die gevangenes gedwing om "verklarings" te onderteken. Uiteindelik verskyn 125 mense in die hof, 98 van hulle Christene. Hulle word beskuldig van sameswering om die Japannese GoewerneurGeneraal te vermoor. Niks kan teen hulle bewys word nie, maar tog word meer as 'n honderd gevonnis. Na appèl word almal behalwe ses egter ontslaan. Nieteenstaande die ontberinge van die gevangenes, kom die saak tog die Christene ten goede, aangesien dit die Japannese wantroue teenoor die kerk en sendelinge grootliks laat bedaar. In 1919 versprei 33 vooraanstaande Koreaanse leiers egter 'n verklaring oor politieke onafhanklikheid regdeur die land. Van hulle is 15 Christene. Dit lei tot wydverspreide, maar vreedsame betogings. Maar die Japannese onderdruk dit met brute geweld. Talle Koreane word doodgeskiet en met bajonette vermink. En die tronke word oornag gevul. Die volgende klompie jare is gevolglik 'n tyd van agterdog, martelings en hofsake. Hoewel die sendelinge hulle uit die politiek hou, veroorsaak die lidmate se lewendige sosiale belangstelling en die feit dat amper die helfte van genoemde verklaring se ondertekenaars Christene was, dat die Japannese se suiwerings nou weer grootliks teen die kerk gerig word. In een dorp, byvoorbeeld, word 'n hele gemeente saam in hulle kerkgebou verbrand.
KEISERAANBIDDING
Vanaf 1930 begin die militêre party in Japan in krag toeneem. En hulle begin drome droom oor wêreldoorheersing. Die gevolg is wydverspreide magsuitbreiding in die verre Ooste. Dit loop hand aan hand met 'n herlewing van tradisionele Sjintoïsme. Hiervolgens is die Japannese volk heilig. En die keisers word as goddelik beskou. Dit lei tot aanbidding van die keisers en hulle afgestorwe geeste in Sjintotempels. Vanaf 1930 is daar toenemende druk op die Koreaanse volk om ook aan die Sjintoïsme deel te neem. Uiteraard verset die Christene hulle daarteen. Die Japannese teenargument is dat dit nie die kerk se geloof in die gedrang bring nie, maar bloot 'n politieke aangeleentheid is. Maar natuurlik besef die Christene dat daar 'n onmiskenbare en totaal onaanvaarbare geloofsdimensie in Sjinto-verering is. Druk op die kerk neem toe. Dis meedoënloos en verskriklik subtiel.
Japannese propaganda dring dag en nag daarop aan dat dit slegs oor patriotisme gaan. En ál wat hulle vra is 'n eenvoudige kniebuiging ter ere van die keiser (en natuurlik die afgestorwenes se geeste). Wat alles baie kompliseer, is dat ook skoolkinders hieraan moet meedoen - met swaar strawwe vir ongehoorsaamheid. Geleidelik begin van die Christene dan rasionaliseer. Is dit soveel erger as die lê van 'n krans by 'n gedenkmonument in die weste? Is dit anders as saluering van die vlag? Die sendelinge sien deur die misleiding, maar die Koreaanse Christene kry swaar. Hulle begin dan om sendingskole te sluit, eerder as om leerlinge aan Sjinto-verering te laat deelneem. Mettertyd vereis wetgewing dat selfs kerkvergaderings met 'n Sjintoseremonie moet open. Oral is geheime agente en verraaiers. Laakbare metodes word gebruik om oortreders uit te rook. Tronktoestande is haglik. Marteling is aan die orde van die dag. Uiteindelik raak dit onhoudbaar en omtrent al die sendelinge moet Korea verlaat. Veel erger is dat heelwat Christene onder die druk begin swig. 'n Klug-kerkvergadering besluit in 1938 om Sjinto-verering te wettig, wat sake soveel moeiliker maak vir diegene wat bly vasstaan. Uiteindelik moet omtrent 200 kerke sluit. Meer as 3000 Christene dien gevangeneskap uit. Dosyne verhale oor die verskriklikste lyding word opgeteken. Ten minste 50 sterf 'n marteldood.
DIE KOMMUNISTIESE REGIME
Die lyding van die kerk in die verenigde Korea voor die Tweede Wêreldoorlog was erg, maar dit was niks in vergelyking met wat op die kerk in die noorde van die land gewag het nie. Na die oorlog het Rusland op sy deel van die buit aangedring. So word die Koreaanse skiereiland dan in 1948 in twee verdeel: die demokratiese Suid-Korea en die kommunistiese Noord-Korea. Laasgenoemde beslaan ongeveer 55% van die Koreaanse skiereiland. Vir die eerste paar jaar het die uitgeslape Staliniste slegs subtiele druk op die kerk uitgeoefen. Maar hulle intimidasie het geleidelik toegeneem. Mettertyd is kerkdienste ontwrig, Christene is opgekommandeer om op Sondae by volksfeeste betrokke te wees, en kerkleiers is op grond van vals aanklagte in hegtenis geneem. As 2000 kerke wat 300 000 lidmate verteenwoordig dan reageer met 'n beswaarskrif, word nog meer leiers gevang. Ook word die "Christelike Bond", onder leiding van 'n voormalige Presbiteriaanse predikant, in die lewe geroep om as frontorganisasie te dien in 'n poging
om beheer van die kerk te verkry. In 1950 val die Kommuniste die suide binne. Die Koreaanse Oorlog, waarby ook die Suid-Afrikaanse Lugmag as deel van die VV-magte betrokke is, duur tot 1953. Duisende Christene sterf - nie net in die oorlogsgeweld nie, maar ook vanweë doelbewuste moord deur die Kommuniste. In sommige gevalle word hele gemeentes uitgedelg. Derduisende gelowiges slaag egter daarin om tydens die oorlog suidwaarts te vlug. Uiteindelik is daar na die oorlog maar min van die Noord-Koreaanse kerk oor. Dit stel egter nie die Kommuniste tevrede nie. Met net nog meer vasbeslotenheid gaan hulle voort om die gemeente van Christus wortel en tak te probeer uitroei. In die vrye wêreld is dit onbekend hoeveel van die ware evangelie en kerk in Noord-Korea oorgebly het. Die gesaghebbende Operation World skat egter dat daar sedert 1980 tog beduidende groei was, en raam die kerk vandag op ten minste 'n halfmiljoen Christene, oftewel net meer as 2% van die bevolking.
DIE AFGELOPE SESTIG JAAR
Spoedig na die Tweede Wêreldoorlog, na die verdrywing van die Japannese, ontstaan ernstige spanninge in die geledere van die kerk in Suid-Korea. Veral twee sake gee hiertoe aanleiding. Eerstens begin liberale teologie hier en daar kop uitsteek. En soos altyd die geval met dwaalleer, dryf dit mense uitmekaar. Tweedens word dit 'n brandende vraag of lidmate, en veral predikante, wat skuldig was aan Japannese Shinto-verering in die jare voor die oorlog en onder tug geplaas is, weer opgeneem en herstel kon word in die amp. Verskeie skeuringe vind dan ook in die vyftigerjare van die vorige eeu plaas. Die besonderhede daarvan is nie vir ons van belang nie. Ten spyte van bogenoemde intriges, het die kerk fenomenaal gegroei oor die afgelope halfeeu. Hoewel die groeitempo oor die afgelope dekade ietwat afgeplat het, is dit teen effens meer as 4% per jaar steeds ongeveer vyf keer die bevolkingsaanwas van 0,83%. Amper 'n derde van die Koreane gaan deur as Christene. Die eerste Protestantse kerk is in 1884 geplant. 'n Honderd jaar later was daar meer as 30 000 gemeentes. En tans is daar ongeveer 60 000. Omdat die sogenaamde grootste kerk in die wêreld in Korea is, nl. dié van Paul Yongi-Chow, dink baie mense dat die kerkgroei eintlik in Charismatiese en Pinkster kringe plaasvind. Raadpleeg mens egter Patrick Johnstone se Operation World, blyk dit dat dit nie die geval is nie. Volgens hom is daar ongeveer 4 keer meer Evangelicals (die oorgrote
meerderheid Presbiteriane) as Pinkster-Charismatiese Christene. Eersgenoemdes groei teen ongeveer 4% p.j., terwyl laasgenoemde groep tans 'n negatiewe groeikoers het. Die uitstaande kenmerk van die Koreaanse kerk is sy gebedsywer. Meeste gemeentes het elke oggend vroeë gebedsbyeenkomste. Voorts word die meer as 10 000 Koreaanse sendelinge in 156 lande net deur die VSA oortref. En nêrens geniet opleiding van predikante en sendelinge meer aandag nie. Na raming is daar 280 teologiese inrigtings. Die Presbiteriane alleen het meer as 16 000 teologiese studente. Daarbenewens studeer duisende ander in dosyne lande regoor die wêreld. Trouens, daar is beswaarlik 'n teologiese skool of seminarium vandag waar jy nie ten minste 'n Koreaan of meer sal aantref nie. Mag komende hoofstukke in hierdie geskiedenis nóg heerliker wees!


Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Hierdie lewensbelangrike waarhede is kernagtig en uitnemend geformuleer in die groot belydenisskrifte wat ontspring het uit die sestiende-eeuse Reformasie en is gebaseer op die fundamentele geloofsvertrekpunte: die Skrif alleen, genade alleen, Christus alleen, geloof alleen, die eer van God alleen.
As u graag die Herout so ongeveer elke 6 weke gratis wil ontvang - per slakkepos of per e-pos - stuur u naam, telefoonnommer en tersaaklike adres aan ons verspreidingskantoor of aan Nico & Soniah van der Walt direk, en meld of u dit per slakkepos of e-pos wil ontvang. Antipas Herout, Posbus 12371, Queenswood, Pretoria, 0121; T: 012-3334072 nico.vanderwalt@reformed.org.za
Al ons lektuur, asook ander inligting, is beskikbaar op ons webwerf http://www.reformed.org.za
UITGEWERS Antipas Lektuur Posbus 263435, Drie Riviere, 1935 Tel (016) 428 2429 of (016) 423 3391



Nico van der Walt het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna vir amper 'n dekade as Siviele Ingenieur gewerk. Na 'n radikale bekering en daaropvolgende teologiese studie aan die Potchefstroomse Universiteit, was hy vir meer as twintig jaar stigterspredikant van twee gemeentes. Hy het eers sedert 1984 in die Vaaldriehoek gewerk, en daarna vir 10 jaar in Pretoria as voorganger van die Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente. Hy was ook vir meer as 'n dekade 'n vaste dosent aan die Lynnwoodrif Bybelskool. Aan die einde van 2007 handel hy en sy vrou, Soniah hulle werk in Pretoria af, met die voorneme om in die Wes- en Suid-Kaap voort te gaan met skryfwerk, tussen-gemeentelike bediening, en gemeenteplanting. Hulle onderskryf die histories-gerespekteerde en internasionaal-erkende 1689 Baptiste Belydenis - soos meeste reformatoriese Baptiste oor die wêreld, asook die Belydenisskrif en Kernwaardes van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges en gemeentes in Suider-Afrika, waarvan hulle dan ook entoesiastiese en aktiewe lede is.
Dit staan enigeen vry om die inhoud van hierdie Herout met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by andere gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19


Terug naar

Wie is er online?

Gebruikers in dit forum: 1 en 0 gasten