Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3945
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Do Feb 28, 2019 2:50 pm

Hiermee E32. Vertrou dit beteken iets vir jou.

jbiC

Nico van der Walt
nico@dievanderwalts.co.za
www.facebook.com/nico.vanderwalt.73


*********


EKS 33:7-34:10 : DIE WESE VAN DIE EWIGE LEWE [2]

No. E32


VEERTIEN RIGLYNE OM TE VORDER OP DIE PAD VAN DIE WARE LEWE. 1. Ek moet verstaan dat ek geen hoër roeping het as om die kennis van God na te jaag nie. Miga 6:8: "Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?" (OAV). Fl 3:8-10: "... om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde ... Al wat ek wens, is om Christus te ken ..." Die Westminster Shorter Catechism, v&a 1: "What is the chief end of man? Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever."
2. Laat ek dit met beide arms omhels: God wíl Homself aan my openbaar en met my wandel. Dit lê aan die hart van Sy beloftes vir die Nuwe Verbond (Hos 2:18-19; Jer 31:31-34). Dis waaroor dit gaan: ons 'n volk vir Hom, Hy 'n God vir ons.
3 My gerigtheid moet God persóónlik wees dus die Gewer, en nie bloot Sy gawes nie! Wat kan 'n groter belediging wees as om net in iemand belang te stel ter wille van wat jy uit hom kan kry?
4 God kan slegs in en deur Jesus Christus geken word. Enersyds is die mensgeworde Woord God se hoogste, volmaakte en finale openbaring aan ons (Jh 1:14; 14:8-9). Mens kan God nie na behore ken as jy nie lank en intens en weer en weer na die Here Jesus Christus kyk nie. Hb 1:3 stel dit só: "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God." Christus is die helderste venster waardeur ons sien wie en wat God is! Andersyds is Christus die enigste Middelaar tussen God en mense. Sonder Hom kan daar geen gemeenskap met God wees nie (Jh 14:6; Hd 4:12; 1Tm 2:5).
5 Hierdie openbaring geskied deur Woord en Gees. Natuurlik kan God se ewige krag en goddelikheid in die algemene openbaring - die natuur - gesien word (Rm 1:20). Maar dis nie naastenby genoegsaam om ons tot 'n lewende verhoudingskennis van God te lei nie. Daarvoor is ons gans en al van Sy besondere openbaring in die Woord afhanklik - die Skriftuur wat as sentrale tema God se selfopenbaring in Christus het. Daarin het ons alles wat mag nodig wees om God te ken soos ons moet. Dit beteken nie dat ek nou maar die Bybel soos enige boek kan bestudeer ten einde te begryp wat dit wil kommunikeer nie. God se waarheid - veral die geheimenisse van die Nuwe Verbond - bly geslote vir ons tensy die Heilige Gees ons innerlik verlig. Ja, dis ék wat die kennis van God moet soek, maar dit sal slegs tot iets kom indien dit in biddende afhanklikheid geskied. Ek kan God nét ken in soverre Hy Homself deur Sy Gees aan my openbaar (Mt 11:27; 16:15-17; 1Kor 2:6-16).
6 Sonder gereelde, gedissiplineerde en volhardende gebed vorder ons nie 'n duim op hierdie pad van die hoogste roeping nie. Dis immers tydens gebed dat ons gemeenskap met God op sy innigste beleef. Vraag en antwoord 116 van die Heidelbergse Kategismus: Waarom is gebed vir die Christene nodig? Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons vorder, en omdat God sy genade en die Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.
7. Die kennis van God lewer sonder uitsondering sy kwota emosionele ervarings op. Kan 'n verhouding daarsonder 'n liéfdesverhouding wees? Maar die norm vir alle Christelike belewing geld ook hier: dis nét eg indien dit Bybelse waarheid as groeibodem het.
8. God openbaar Homself nét aan kinderlike en diep afhanklike geloof. Nooit is ons so afhanklik en nooit is geloof meer noodsaaklik, as wanneer ons met hierdie selfopenbaring van Hom besig is nie. Augustinus het gesê: "As jy nie glo nie, sal jy nie verstaan nie." Dis so eenvoudig soos dit. En die ou Puritein, Thomas Watson, het gesê: "Geloof is die hoofslagaar van die siel." Hb 11:6 is in hierdie verband van die allergrootste belang: "En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy ís, en ’n beloner is van die wat Hom soek" (OAV). Die mens kan baie regkry sonder geloof, maar niks wat God behaag nie. Sonder geloof is daar geen sprake van redding nie. Maar meer nog, in ons elke dag se wandel met die Here lê ons geloof aan die hart daarvan. Dis hoe die onsienlike sienlik word, en die onmoontlike waar. Dis die hande waarmee ek Sy geskenke vasgryp.
9. God openbaar Homself net aan nederige mense. Hooghartige beterweterigheid sal niks vorder nie; kieskeurigheid is tot mislukking gedoem. Dis waarom die Here Jesus in Mt 11:25-27 sê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling ... niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak."
10. Die kennis van God is nie vir terloopse en dubbelhartige soekers nie. Dis iets wat mens doelgerig, gedissiplineerd en volhardend moet "najaag" (Hos 6:3, OAV). "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (Jer 29:13, OAV). Alle godsmanne en -vroue deur die eeue, in Bybelse tye en daarna, het die kennis van die Here met 'n opregte erns gesoek - of nog sterker gestel, met 'n heilige honger. Mens vind dit by Moses. Watter aangrypende hoofstukke is Eks 32-34 nie! Reeds in 33:11 lees ons dat die Here direk met Moses gepraat het, soos 'n man met sy vriend. Dan kom Moses diep onder die indruk van sy gewigtige roeping om die volk te lei - wat hom laat bid: "As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend ("U weë" in die OAV), sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk" (13). Hierop antwoord die Here: "Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam" (17). Maar Moses, sekerlik baie dankbaar dat die Here sy versoek toestaan, is egter bang dat hy bloot die vermoë ontvang om God se weë te ken en die volk reg te lei. Wonderlik soos dit alles is, is daar iets wat hy nóg meer begeer, waarsonder hy nie wil lewe nie. En hy is bang die Here stop duskant dit: "Laat ek tog net u magtige verskyning sien!" ("u heerlikheid", OAV) (18). God se reaksie is positief, maar gekwalifiseerd: Goed, Hy sal al Sy majesteit voor Moses laat verbygaan. Maar Moses moet verstaan dat daar perke is. Geen mens kan God in Sy volle glorie sien en bly lewe nie. Daarom sal die Here Sy dienskneg onder Sy hand in 'n rotsskeur wegsteek totdat Hy verby is. Dan sal Hy Sy hand wegneem sodat Moses Hom darem van agter af kan sien (19-23). Die vervulling vind ons in Eks 34:5-7: "Die Here het in ’n wolk afgekom en by Moses kom staan en die Naam "die Here" uitgeroep: "Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag." As Moses daarna by die Here pleit om tog, ten spyte van die volk se verskriklike sonde, hulle God te bly, gaan God voort en hernu weer die verbond met hulle (10). Min dinge in 'n mens behaag God meer as 'n begeerte soos dié van Moses. En as ons daarin volhard, sal Sy Gees ons kapasiteit om Hom te ken steeds verruim, ons verlange na Hom verintensifeer, en, uiteraard, ons begeertes meer en meer vervul.
11. Die kennis van God is vir hulle wat intens begeer om heilig te leef en Hom in toegewyde liefdesgehoorsaamheid te dien. Die mens is na God se beeld geskape. Die sondeval het dit egter ernstig geskaad. Die reddingsproses in Christus is onder meer 'n herstel van God se beeld in die mens. Gelykvormigheid aan Christus - die volmaakte Mens - is waarheen die Here met ons op pad is (Ef 4:23-24; Kol 3:10). Dis waarom ons geroep word om heilig te wees soos God heilig is (1Pt 1:15-16), en om volmaak te wees soos ons Vader in die hemel (Mt 5:48). Sekerlik kan nie ál God se attribute in die mens tot afskynsel kom nie, maar talle wél - besonderlik Sy goedheid, barmhartigheid en liefde. En hierdie karaktertrekke sal in ons ontwikkel tot die mate wat ons hulle in Hóm begryp en bewonder. Dis een van die redes waarom ons moet groei in Godskennis. In hierdie verband is die Here Jesus se uitspraak in Jh 14:21, 23 van die allergrootste belang: "Wie my opdragte het en dit uitvoer - dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar... As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon."
12. Die kennis van God is vir diegene met 'n aanbiddende hartsgesteldheid. God het ons geskep en herskep sodat ons Hom kan verheerlik. En dis onder meer met die oog op aanbidding dat die Heilige Gees ons dieper in Godskennis inlei - want 'n aanbiddende hart is nie net die wortel van meerdere Godskennis nie, dis ook die vrug daarvan. Sonder uitsondering het diegene in die Bybel wat een of ander direkte ontmoeting met God gehad het, God begin aanbid. Weer en weer lees ons dat hulle soos Johannes op Patmos neergeval en soos dooies bly lê het (Op 1:17).
13. Wie God wil leer ken, moet tevrede wees om nie net die aangename uit Sy hand te ontvang nie, maar ook Sy dissipline en tugtiging (Hb 12). Ons leer God veel eerder in die valleie ken, as op die bergpieke. Nie alleen sien ons dit weer en weer in die lewens van die heilges deur die eeue nie - elke ware gelowige ken dit aan eie lyf.
14. Les bes moet die bergpad na die hoogtes van Godskennis sélf geloop word. Weliswaar sal min dinge my méér help as om by broers en susters met dieselfde hartstog in te haak. Ware Christelike belewing is dikwels korporatief van aard - so wil die Here dit. Maar in die finale analise moet elkeen sy eie pak dra. En groot dele van die roete is in elk geval op rotslysies waar net een op 'n slag kan beweeg. En hoe hoër mens vorder, hoe meer is dit die geval.

Nico van der Walt



• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za; T: 082 848 9396 (N) of E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za; T: 082 8282 940 (S)
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
• Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en soms in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3945
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Do Mrt 21, 2019 2:25 pm

Ek stuur hierdie week 3 epreke. Waarom? Ek en Soniah gaan vir amper 'n maand uitstedig wees en ek het hierdie massa-uitstuurprogram net op my tafelrekenaar wat maar tuis moet bly. Julle sal dus vir die volgende tydjie niks van my verneem nie, maar DV stuur ek oor 4 of 5 weke weer 'n leesdingetjie.

Hartlike broedergroete,

jbiC

Nico van der Walt

E: nico.vanderwalt@reformed.org.za

T: 082 848 9396

Postnet Suite 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115

****************************************************************


LK 7:23 : DIE WIP

No. E33


Johannes die Doper is die Messias se wegbereider. Hy is 'n asketiese nasireër (Num 6:1-21; Mt 11:18-19) wat kameelhaarklere dra en springkane en heuning eet. En om alles te kroon is hy 'n vurige prediker: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom!" (Mt 3:2). Dit skep 'n rooiwarm verwagting by die volk: as die Koning eers hier is, gaan die dinge gebeur! Maar dan beland Johannes in die tronk - omdat hy Herodes aanspreek oor sy sonde. Sekerlik worstel Johannes in die tronk met die vraag hoe God kan toelaat dat so 'n ramp hom tref en buite aksie stel. Gaan hy al die opwinding en die grootse Messiaanse triomf mis? Maar ergste van alles vir hierdie kompromielose nasireër is sekerlik die nuus dat Jesus met vrate, wynsuipers, tollenaars en sondaars meng! (34). Mens kan jou sy twyfelvrae indink as hy soos 'n dier heen en weer stap in sy sel: "Wat het ék nie opgeoffer nie! En Hý? Hy geniet die lewe! En tog - ek het self die Duif op Hom sien neerdaal en die stem gehoor: Dit is My geliefde Seun" (Mt 3:16-17). Uiteindelik kan Johannes dit nie meer uithou nie. Hy stuur van sy dissipels na Jesus met die vraag: "Is U die Een ...?" (20). Die Here Jesus se antwoord is eenvoudig, maar onontkombaar: "Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig" (22). Wie sou beter as hy weet dat hierdie vervulling is van die Messiaanse profesieë in Jes 35:5-6 en 61:1? En dan - mens kan jou voorstel - as die mans wegstap, roep Jesus agterna: "... En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie" (23).
TEGNIES
‘ Die Here Jesus se werkwoord, twyfel, is baie betekenisvol in die oorspronklike taal.1 In klassieke Grieks het dit te doen daarmee om in 'n wip of slagyster gevang te word. Die selfstandige naamwoord dui op die stokkie wat 'n dier moet aftrap om 'n wip te sneller.2 In die Nuwe Testament beteken die werkwoord om te laat struikel of om aanstoot te gee (in die aktief); en om te struikel of om aanstoot te neem (in die passief). Die selfstandige naamwoord dui op 'n struikelblok, 'n struikeling of 'n aanstoot.
‘ Ek het geen swaard te kruis met moderne vertalings nie. Maar om Jesus se waarskuwing behoorlik te verstaan en toe te pas, wil ek 'n bietjie verbeelding en eksegetiese vryheid gebruik en 7:23 só parafraseer: Gelukkig is hy wat sorg dat hy nie deur My woorde en optrede onder 'n wip beland nie! Jesus laat weet dus vir Johannes: "Jou klip-sel en ystertralies is 'n verskriklike lot! Maar as jy nie oppas nie, gaan jy in 'n veel erger tronksel beland - een wat emosioneel en geestelik van aard is. En jy sal magteloos vasgevang wees - soos 'n dier in 'n slagyster, of 'n voëltjie in 'n wip!"
DIT HET MET ANDER GEBEUR
‘ Dit waarteen die Here Jesus hier waarsku, het inderdaad met ander mense gebeur: hulle het a.g.v. Sy woorde en optrede onder 'n wip beland. In Nasaret, die dorp waar die Here groot geword het, was die mense later verstom oor Sy wysheid. Maar te wyte aan Sy nederige afkoms wou hulle nie Sy lering aanvaar nie. "En hulle het aanstoot (Gr. skandalidzo) aan Hom geneem" (Mt 13:57, OAV). Dit ontlok Jesus se bekende gesegde:
"'n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring." Behalwe vir Sy broers wat na die opstanding geglo het, het Nasaret nooit onder die wip uitgekom nie! In Mt 15 vermaan Jesus die Jode oor hulle huigelagtigheid. Dit laat hulle aanstoot neem (Gr. skandalidzo; v.12, OAV). Ook die skrifgeleerdes en Fariseërs het nooit onder die wip uitgekom nie! In Jh 6 preek die Here oor God se soewereiniteit in redding, oor Sy komende kruisdood, en oor die noodsaak van geloof in Hom as die gekruisigde. Hieroor het baie aanstoot geneem (Gr. skandalidzo; v.61, OAV), en baie het die rug op Hom gedraai. Na alle waarskynlikheid het baie min van hulle ooit onder die wip uitgekom!
UITKOMS IS WEL MOONTLIK
‘ Kan 'n mens onder die wip uitkom? Net as God jou in Sy genade daar uithaal! Petrus het dit ondervind en geleer. In Mt 26:31 gebruik die Here Jesus dieselfde woord as Hy die dissipels waarsku dat hulle almal daardie nag aanstoot aan Hom sal neem. Petrus reageer verontwaardig: "Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie" (33, OAV). Jesus verseker hom egter dat hy nie net sal aanstoot neem nie, maar ook die bitter vrug daarvan sal ervaar. Voordat die haan die volgende oggend kraai, sal hy die Here drie maal verloën! So gebeur dit dan ook. Petrus voel in die steek gelaat en verneder. Waarom het Jesus nie Sy almag gebruik om Sy opponente te vernietig nie? En waarom moes Hy hom wat Petrus is so verneder toe hy sy swaard uitgepluk het (Jh 18:1011)? In sy aanstoot val Petrus se toewyding aan sy Here tot 'n laagtepunt - en hy verloën Hom. Maar as die haan kraai, begryp hy. En dit knak hom (Mt 26:75).
‘ Ons ken almal die intense emosies van mislukking. Ook Petrus word inmekaargedruk deur skuldgevoelens en selfverwyt. As dissipel het hy klaelik misluk. Al wat oorbly is om weer te gaan
visvang. Dít kan hy ten minste doen! (Jh 21:3). Die ander gaan saam. Hulle vaar uit op die meer in waarskynlik dieselfde skuit wat Petrus destyds gelos het. Maar hulle vang nie 'n enkele vis nie! Die volgende môre staan Jesus op die strand. "Julle het niks gevang nie, né!" (in die Grieks van 21:5 se vraag kan mens as 't ware 'n geamuseerdheid aanvoel). "Gooi uit aan die regterkant!", skree Hy. Hulle doen dit - en vang meer as wat hulle kan hanteer (6). Al die dissipels - maar veral Petrus - moes leer: as die Here jou roep om jou skuit en nette te los, bedoel Hy dit ernstig. As jy dros, en Hy is jou genadig, sal dinge aanhou skeef loop - totdat jy jou bekeer. Gehoorsaam jy egter jou roeping, sal die Here jou seën en in al jou behoeftes voorsien.
‘ Die volgende verse (Jh 21:15-17) beskryf Petrus se hartroerende herstel. Sy roeping is om as herder die Here se kudde te versorg, al is hy hóé 'n groot mislukking. Tewens, sy vernedering is presies die regte medisyne vir dit wat op hom wag. Met arrogantes werk die Here nie. Nee, Sy krag word in swakheid volbring (2Kor 12:9-10). Hy slaan reguit houe met krom stokke! Wat doen die Here Jesus in Jh 21? Hy haal Petrus uit 'n wip uit - die wip van sy aanstoot aan die Here en die gevolge daarvan! En Hy doen dit met wonderlike deernis - soos 'n seuntjie wat 'n tortel se warm lyfie in 'n wip so versigtig hanteer dat hy die hartjie kan voel bons. As Jesus dan sê, "Volg My!" (19), is dit Petrus se finale bevryding. Die Here het hom nie verwerp nie! En ons ken die vrugbare jare wat sou volg. Petrus se wip-ervaring het hom baie goed gedoen!
WAT VAN JOU ?
‘ Almal van ons kry van tyd tot tyd met hierdie wip te doen. Ons word gekonfronteer met iets wat die Here doen of nie doen nie, sê of nie sê nie. Daar loop derduisende ontnugterde Christene rond. Hulle is gevangenes van hulle eie aanstoot aan die Here. Hy het nie aan hulle verwagtinge voldoen nie!
Hulle wou groot dinge vir Hom doen, toe val alles plat. Van hulle dierbares het 'n ontydige of grusame dood gesterf. Hulle is gedianoseer met 'n terminale siekte. Iemand anders is na gebed genees, maar húlle het al hoe sieker geword. Hulle het vriendinne met vier kinders, maar kan self nie swanger raak nie. Hulle het 'n liggaams- of verstandsgebrek, of hulle het sulke kinders. Hulle het vas geglo die Heilige Gees lei hulle, maar dit het op 'n katastrofe uitgeloop. Hulle is die prooi van gewetenlose "profete" se persoonlike profesieë. Hulle het voltyds vir die Here begin werk, maar dis een lang worsteling om te oorleef. Die kerk en sy leiers het hulle wreed ontnugter. Mense onder die wip beskuldig God van dubbele standaarde. Maar hulle vergeet dat Jakobus onthoof is (Hd 12:2), terwyl Petrus bevry is (Hd 12:7-10). Hulle kyk dit mis dat Stefanus gestenig is (Hd 7:59), maar dat Paulus as 't ware opgewek is (Hd 14:19-20).
‘ Hoeveel teruggeglye Christene se afdraende pad het nie onder die wip begin nie? Ja, baie van hulle hou nog 'n vroom front voor. Watter ander opsie is daar? Maar hulle harte is nie meer by die Here nie. Hulle vertrou Hom nie meer regtig nie. Geestelik leef hulle nie meer nie. Al wat oorbly, is om die godsdienstige masjiene af te skakel.
‘ Sit jy magteloos in die wip? Luister na hierdie boodskap! Die Here wil mense soos jy bevry - soos vir Petrus. Kom dus, buig in diep aanbidding en onderwerping voor die soewereine God. Hy is jou Skepper - en daarom jou Eienaar. Wat Hy ook al doen, dit mag Hy! Hy is alwys, en ons kan Hom vertrou. As jy in Christus is, sal Hy ook jou skandes en skades ten goede laat uitwerk (Rm 8:28vv). Onderwerp jou dus in nederigheid onder die kragtige hand van God (1Pt 5:6). Gee oor; buig in aanvaarding; vertrou jou toe aan die liefdevolle Een wat beste weet. Hy is die Pottebakker, jy is die klei. Met Sy gunsgenote gaan dit dikwels soos met die Doper en met Petrus. En of jy 'n Stefanus is, of 'n Paulus - laat die gesindheid van Daniël se vriende ook joune wees: "Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons ... die goue beeld ... nie sal aanbid nie." (Dn 3:17-18). Christus roep ook vir jou: "Volg My!" Vergeet nou wat agter is; strek jou uit na wat voor lê.
‘ Nog één ding is lewensbelangrik. Rm 9:33 noem Christus die rots van struikeling, oftewel die skandalon-rots. Volgens 1Kor 1:23 was Hy veral vir die Jode tot struikeling en aanstoot. Waarom? Omdat Hy die gekruisigde is (1Kor 1:23; Gl 5:11). Wat sê dit vir ons? Niemand stamp hulle méér teen die ware Christus as godsdienstiges nie - diegene wat van hulle goeie werke 'n leer hemel toe probeer maak. Vir diesulkes is die kruis 'n belediging. Want dit sê dat hulle niks het om aan God te bied nie! Die gevolg? Die evangelie van God se vrye genade laat hulle onder 'n wip beland! Vergeet dit nooit nie: God red sondaars - geestelike bedelaars, verlore seuns, tollenaars. Weet jy in jou hart van harte dat jy op eie meriete doemwaardig voor die lewende God staan? Dis die ononderhandelbare voorvereiste vir die ewige lewe. Vir selfvoldane eiegeregtiges het die Bybel geen troos nie. Maar vir sondaars het dit 'n oop uitnodiging: "Kom! ... elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!" (Op 22:17).


Nico van der Walt


* Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
* Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396.
* Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
* Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
* Geen kopiereg. Dupliseer gerus. Of stuur elektronies verder.
* Preekopnames: E: info@nunide.org.za ; T: 012-808 3906
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3945
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Do Mei 16, 2019 1:11 pm

Ek is jammer as jy hierdie epreke 'n tweede keer kry. Ek het 2 adreslyste - waarop ek tans presies dieselfde dokumente uitstuur - en ek het agter gekom dat ek die een adreslys sonder die epreke gestuur het (ek is self ook op beide lyste). Ek dink ek weet watter lys, maar veiligheidshalwe stuur ek maar weer die 2 dokumente vir almal op beide lyste. Jammer, hoor - my verstrooidheid is 'n baie groot beproewing in my lewe!

jbiC

Nico v/d Walt
nico@dievanderwalts.co.za
www.facebook.com/nico.vanderwalt.73

*********

1TM 1:15

" GOD RED NÉT SONDAARS "

No. E37 / W836


Kook mens die evangelie af totdat jy hom nie verder kan afkook nie - dus tot sy mees gekonsentreerde ekstrak - bly daar net drie woorde oor. En só belangrik is elkeen van hierdie woorde, dat, as jy enige een daarvan weggooi, of selfs net effens dokter of verwater, sit jy met iets minder as die evangelie. En enige evangelie wat minder is as die ware Jakob, is 'n sielsvernietigende basterevangelie, 'n "ander evangelie" (Gl 1:6-10). So 'n evangelie kan niemand red nie; trouens, "ander evangelies" is deur die eeue die oorsaak van ontelbaar baie se ewige verdoemenis. Wat is hierdie ondeelbare hart van die evangelie, hierdie drie woorde? God red sondaars! Presies dit is wat ons teks sê: "Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos" (1 Tm 1:15). Rm 5:8 dra dieselfde idee: "Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was." Kom ons kyk nader na hierdie drie woorde.
WIE HET LIEF? GOD DRIE-ENIG!
‘ Omdat die Drie-enige God is wie Hy is, is Sy reddende liefde iets wonderliks. Dis uniek en volmaak.
• Dit is Christosentries. Geen sondaar word ooit ánders gered as op grond van Christus se verdienste nie. Hieroor is die Woord van God vlymskerp duidelik (Jh 14:6; Hd 4:12; 1 Tm 2:5). Ewe belangrik is die Nuwe Testamentiese aandrang dat Christus óf alleen-redder is, óf glad nie. Die inroer van selfs net 'n mespunt vertroue in eie verdienste of seremoniële godsdienstigheid, is diskwalifiserend (vgl. Gl 5:2-4).
• Dit is geestelik. Die Heilige Gees is as 't ware die Koerier wat God se liefde kom aflewer. En Hy hou dit in stand. Sonder Sy oortuigende (Jh 16:711), wederbarende (Jh 3:5-8; Tit 3:5) en verligtende werk (1Kor 2:10-16) kan niemand reddend met Christus verenig word of bly nie.
• Dit is ewig. Dit strek vanuit die ewige verlede, dwarsdeur die tyd, tot in die ewige toekoms in. Voor die skepping al het God Sy geliefdes uitgekies. En Hyself dra hulle deur tot en met die volmaaktheid (Jh 6:35-40; Rm 8:28-30; Ef 1:4; 2Tm 1:9; 1Pt 1:20; Op 13:8; 17:8).
• Dit is soewerein. As Skepper is God die onbetwisbare Eienaar van alles en almal. Wie kan Sy reg bevraagteken om Sy liefde uit te stort soos en op wie Hy wil? (Rm 9:6-29).
• Dit is onvoorwaardelik en onverdiend. Dit word geensins ontlok of bepaal deur enige verdienste in enige persoon wat dit ontvang nie (Hd 13:48; Rm 9:11-13, 16; 10:20; 1Kor 1:27-29; Ef 2:8; Fl 2:12-13; 2Tm 1:9).
• Dit is persoonlik. Dit is op spesifieke mense gerig (Jh 6:39; 10:27-30; 17: 2, 6, 9, 24; Hd 13:48; 18:9-10; Op 13:8; 17:8).
• Dit is korporatief. Die ware kerk is gesamentlik, as 'n organiese geheel, die bruid van Christus (2Kor 11:2; Ef 5:25-27; Op 19:7-9; 21:2).
• Dit is universeel. Die Here se geliefdes kom vanuit elke nasie, stam, volk en taal (Op 5:9; 7:9).
• Dit is histories. Hierdie bemindes kom vanuit al die eeue. Elke geslag sal verteenwoordig wees tydens die bruilofsmaal van die Lam.

VIR WIE HET GOD LIEF? SONDAARS!

‘ As God dan nie alle mense reddend liefhet nie dermiljoene sterf immers in hulle sonde - ontstaan die vraag: wie is die bemindes dan? Op wie lê God se verlossingsliefde beslag? Watter soort mense word deur Hom oorrompel? Die Bybel antwoord klokhelder: God red sóndaars - ás sondaars - ten spyte van wie en wat hulle is, of nie is nie! Hy het lewende dooies lief - mislukkings in terme van Sy volmaakte standaarde, rebelle teen Sy Wet, mense wat magteloos is om hulle ewige lot te verander. Dis 'n moeilike les, maar ons móét dit leer.
‘ Dit beteken dat God se liefde op niemand beslag lê - omdat hy of sy iets is nie. Nooit is redding te danke aan iets in die sondaar self nie. Mense word dus nie gered omdat hulle hul bes probeer nie; of omdat hulle beter vaar as ander nie. Opvoeding, rykdom, geleerdheid, begaafdheid en skoonheid speel geen rol nie. Niemand is 'n voorwerp van God se besondere liefde omdat hy godsdienstig, of 'n kerkganger, of 'n tiendegeeër is nie. Ewemin is sondebelydenis, of vroomheid, of uitkniel, of restitusie 'n kwalifikasie. God red nie mense omdat hulle hul laat doop, of siekes verpleeg, of armes kos gee, of sendingwerk doen nie. Selfs is die aanroep van die Here of die grootste geloof nooit 'n grond vir redding nie.
‘ Andersom gestel: God het sondaars lief ten spyte van wie of wat hulle is. Hy red skuldiges, ellendiges, vuiles, mislukkings, uitvaagsels en patete. Hy red uitsigloses, moedeloses, koersloses, hulpeloses, hopeloses. Christus het gekom vir blindes, lammes, kreupeles, dowes, stommes. God red oortreders van Sy Wet, mislukkings i.t.v. Sy standaarde: godloënaars, afgodsdienaars, lasteraars, sabbatsbrekers, ouer-veragters, moordenaars, onsedelikes en egbrekers, diewe, leuenaars, hebsugtiges. Hy red geestelik-dooies, vleeslikes, wêreldgelykvormiges, satanbeheerdes, mense onder Sy toorn, op pad na die hel.
‘ In hierdie verband moet 'n lewensbelangrike waarheid beklemtoon word - soveel te meer omdat dit so dikwels verwaarloos word: God red nie net sondaars as sondaars nie; Hy red slégs sondaars wat weet dat hulle sondaars is en dit bely sonder om doekies om te draai. Dit is wat die Here bedoel as Hy sê dat Hy net vir sondaars gekom het (Lk 18:9-14; 19:10; Mk 2:17, OAV). Een van die Jode se grootste probleme was hulle godsdienstige selfvoldaanheid. Dit het hulle doof gemaak vir die evangelie. Waarom is dit so? Sonder ware sondebesef is Christus se versoeningswerk net van akademiese belang. Uiters kan dit tot 'n kunsmatige geloof lei. Nog belangriker: God red sondaars ten einde Homself te verheerlik. En dis tog duidelik dat Sy eer gedien word as ek werklik verstaan hoe afhanklik ek van Sy genade is - iets wat sonder sondebesef net nie moontlik is nie.

HOE KOM GOD SE LIEFDE TOT UITDRUKKING? IN REDDING!

‘ Wat gebeur met 'n sondaar as God se besondere liefde op hom of haar beslag lê? Hy (of sy) begin iets van God se heilige geregtigheid sien. Dan sien hy homself as 'n verwerplike sondaar. En uiteindelik sien hy dan vir Christus as enigste oplossing vir sy verskriklike dilemma. Dit lei dan noodwendig daartoe dat hy vanuit sy geestelike bankrotskap die Here Jesus as Verlosser en Koning omhels. Soos 'n drenkeling bly hy dan aan Hom hang vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. En met ferm tred neem hy dag na dag die kruis van gehoorsaamheid op. Hy begin sy sonde haat en vlug gevolglik daarvoor. Om meer en meer soos Jesus te word, raak sy hoogste ambisie. Geleidelik neem die patrone van godsvrug gestalte in sy lewe aan. Sy broers en susters begin uitstaan asof hulle neonkleurig geverf is. Nêrens is hy méér tuis as tussen medegeliefdes van die Here nie. Les bes volhard hy jaar in en jaar uit teen die begeertes van sy vlees, die suigkragte van die wêreld en die aanslae van die Duiwel.
En hoe langer die stryd voortduur, hoe meer besef hy sy totale afhanklikheid van 'n Middelaar. Hy skuil dus al hoe dieper in Christus.

IS JY 'N VOORWERP VAN GOD SE BESONDERE LIEFDE?

‘ Eintlik kan jy net een van twee antwoorde op hierdie brandende vraag gee: 'Ja!' of 'Onseker!'.
‘ Sommige sal protesteer:
• Party is uitsigloos: "Ek is in 'n patetiese toestand - gewis sonder God en sonder hoop!" Dit sê niks nie. Ál die geliefdes is nog nie ingebring nie. Wie weet, dalk is jou hartoorplanting net om die draai. In elk geval, is daar nie talle Bybelse uitnodigings aan sondaars om in die Here se liefdevolle arms in te hardloop nie. Waarom huiwer jy? Wie se skuld is dit dat jy nog sonder God is? Al struikelblok is jou eie ongehoorsaamheid, onwilligheid en ongeloof. Jy en jy alleen dra die skuld vir jou toestand, nie waar nie?
• Ander is verhard: "Ek stel nie belang nie!" Wel, as God se liefde kom - kóm dit! Een oomblik is jy 'n halsstarrige rebel, die volgende oomblik lê jy op jou gesig voor die Here - en die volgende oomblik is jy Sy ywerige dissipel. Só het miljoene dit al ervaar. God se liefde slaan baie dikwels onverwags en onweerstaanbaar toe!
‘ Wat sê die Woord vir die onsekeres? Klokhelder duidelik roep dit oor en oor: "Dis onnodig om onseker te bly!" Die uitnodiging van die Bybel se vyfde laaste vers staan steeds so vas soos die berge: "Die Gees en die bruid sê: 'Kom!' En elkeen wat dit hoor, moet sê: 'Kom!' En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!" (Op 22:17). En hierdie is nie net 'n uitnodiging om eenmaal te drink nie; dis 'n bevel om weer en weer te drink. Wees verseker, elkeen wat in opregtheid kom,
kan staat maak op die Here se belofte in Jh 6:37: "Ek sal hom wat na My toe kom, nooit, maar nooit verwerp nie." (Gr. letterlik). Aan die onsekeres sê hierdie uitnodiging en belofte dus: Al het jy hoeveel keer in die verlede gedrink, kom nou weer. Jy bly onseker omdat jy nog altyd halfhartig en kleingelowig was. Kom nou, beslis en gelowig! Hou op om God 'n leuenaar te maak. Sy beloftes is algeheel betroubaar. Kom dus, maak die transaksie vas - eens en vir altyd! Spoedig sal die Gees dan in jou begin roep: 'Vader, my Vader!' (Rm 8:15-16; Gl 4:6). En dan sal jy weet dat jy weet.
‘ Net 'n laaste woord aan diegene wat sonder huiwering "Ja!" sê, diegene wat weet dat God eens en vir altyd op hulle beslag gelê het: maak elke dag jou roeping en verkiesing vas - dan sal jy nie struikel nie. En jy sal uiteindelik 'n vrye en feestelike toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, verkry (2Pt 1:10-11, OAV). Dien die Here dus met 'n onverdeelde hart! En laat die sentrale hartstog van jou lewe steeds wees om Hom te behaag en te verheerlik!

Nico van der Walt


• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082 848 9396.
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
• 'n Preek/studiestuk soos hierdie word op 'n gereelde basis wêreldwyd en gratis in Afrikaans en Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3945
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Do Mei 16, 2019 1:15 pm

Ek is jammer as jy hierdie epreke 'n tweede keer kry. Ek het 2 adreslyste - waarop ek tans presies dieselfde dokumente uitstuur - en ek het agter gekom dat ek die een adreslys sonder die epreke gestuur het (ek is self ook op beide lyste). Ek dink ek weet watter lys, maar veiligheidshalwe stuur ek maar weer die 2 dokumente vir almal op beide lyste. Jammer, hoor - my verstrooidheid is 'n baie groot beproewing in my lewe!

jbiC

Nico v/d Walt
nico@dievanderwalts.co.za
www.facebook.com/nico.vanderwalt.73

*********

1TM 4:16

" 'N PREDIKANT KAN SY KUDDE MAAK OF BREEK "

No. E36


Paulus druk Timoteus ernstig op die hart om nougeset oor sy leer en lewe te waak, omdat dit bepalend kan wees, nie net vir sy eie redding nie, maar ook vir die redding van sy kudde. Besef julle dat dit in beginsel moontlik is dat een of meer van die predikers in hierdie gemeente die ewigheid in die hel kan deurbring - indien hulle, (a) in hulle navolging van Christus nie is wat hulle moet wees nie, of (b) dwaalleer verkondig? Die skokkende is dat dit waarmee die deursnee lidmaat nog sal kan wegkom op daardie verskriklike dag as ons moet verantwoording doen, verdoemend kan wees in die geval van predikante. Leermeesters gaan strenger as ander beoordeel word! (Jk 3:1). Voorts, besef julle dat ons as predikers in hierdie gemeente hopelik 'n groot rol speel in elkeen van julle se redding, maar eweneens die oorsaak kan wees dat van julle vir ewig verlore gaan? Kyk mooi na ons vers: die voorwaarde vir Timoteus en sy kudde se ewige redding is dat hý sal let op sy lewe en sy leer, en daarin sal volhard. Baie predikante dink hulle reddingstaak is afgehandel wanneer iemand tot bekering gekom het en by die gemeente inskakel. Al wat dan oorbly, is om sulke mense op te bou en voort te help in heiligmaking. Slegs verlorenes moet immers gered word, word gedink - nie die gemeente nie. Hulle is mos reeds gered. Maar die Skrif leer dat as mens nie enduit in gehoorsaamheid volhard nie, die gevolg nie net mindere heiligmaking is nie, maar die ewige verdoemenis. Die taak van 'n pastor is dus nie bloot om die heiliges op te bou nie, maar om hulle inderdaad te red!

IS DIT BYBELS?

‘ Eerstens, is dit nie hemelskreiende arrogansie om te sê dat ék mense kan en moet red nie? Dis tog iets wat nét die Here kan doen. Sekerlik! Maar tog sê die Skrif óók meermale dat Sy werkers mense red. Paulus skryf in 1Kor 9:22: "Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red." En Jakobus sê: "... weet dan dat hy wat 'n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red ..." (Jk 5:20) (vgl. ook Hd 26:18; Rm 11:14). Ons moet dit só verstaan: in bykans alles wat die Here hier op aarde doen, werk Hy middellik Hy gebruik instrumente. So maak Hy dan van Sy dissipels gebruik, veral van Sy predikers, om soos stukke gereedskap in Sy hand te wees as Hý mense red. En in hierdie sin red húlle mense.
‘ Tweedens, is dit reg om te sê dat iemand wat reeds gered is, steeds gered moet word? Dit word vertel dat die befaamde 19de eeuse teoloog, Biskop Westcott, teologiese professor in Cambridge, een keer deur 'n voorbarige student voorgekeer is met dié woorde: "Professor, is u gered?" "Goeie vraag", het Westcott geantwoord, "maar dit hang af wat jy bedoel?" Toe slaan die geleerde oor in Grieks en hy gebruik 3 passiewe deelwoorde van die werkwoord "om te red": ek is gered, ek word gered, ek sal gered word. Onnodig om te sê, die student is druipstert daar weg. Redding word op drie maniere in die Skrif aan ons voorgehou. Ons is gered (Rm 8:24; Lk 7:50; Ef 2:5, 8); ons word gered (1Kor 1:18; 2Kor 2:15); ons sal gered word (Rm 5:9-10; 13:11; 1Pt 1:5). Dis omdat ons redding 'n proses is - wat begin het, maar nog nie voltooi is nie. In 'n sin moet ons dus nog gered word. Op talle plekke leer die Bybel dat die Christelike lewe soos 'n maratonwedloop is, en dat slegs hulle wat tot die einde toe volhard, gered sal word.
‘ Hierdie betrokkenheid van herders in die redding van hulle kuddes is nie maar 'n terloopsheid nie; dit verg alles van hulle. Luister maar weer na Paulus: "Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes sodat ook hulle die verlossing ... en die ewige heerlikheid kan ontvang" (2Tm 2:10). In 2Kor 1:6 skryf hy: "As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle gehelp en gered kan word."
‘ In die geval van die Korintiërs het ons 'n voorbeeld van hoe mense só deur die bemoeienis van 'n herder gered word. Hulle het in sonde geval en Paulus het 'n brief aan hulle geskryf wat hulle diep ontstel het (en gewis was hierdie sogenaamde tranebrief ook vir hom uiters pynlik om te skryf). Die brief het egter die gewensde uitwerking gehad en die Korintiërs het hulle bekeer. In 'n volgende brief sê Paulus dan dat hy nie met kwade bedoelings so streng met hulle was nie. Maar dit het vir hom daaroor gegaan dat hulle nie die saligheid mis nie "want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei ..." (2Kor 7:10). Miskien is die Hebreërbrief die uitnemende voorbeeld van sulke pastorale gestrengheid ter wille van gelowiges se redding. Die Hebreërs is op die punt om die geloof te versaak en na die Joodse godsdiens terug te keer. Hiervan wil die skrywer hulle ten alle koste laat afsien. Hy draai geen doekies om nie en bombardeer hulle met die mees skrikwekkende pastorale vermanings en waarskuwings in die ganse Nuwe Testament. Verskriklik, sê hy vir hierdie mense wat jare se dissipelskap agter hulle het, is dit om in die hande van die lewende God te val! (Hb 10:31). Wat die Hebreërskrywer betref, hang die ewige saligheid óf verdoemenis van hierdie mense een honderd persent van sy pastorale effektiwiteit af. Waarlik, dit is die verantwoordelikheid van elke predikant (en elke ouderling) om só te werk dat nie een van sy broers of susters verlore gaan nie. Daarvoor is hy voor die Here verantwoordelik, en as een van hulle dan wel voor die wenpaal opgee, is dit in 'n sin sý skuld. Te sterk gestel? Almiskie. Maar dís die gesindheid waarmee hy sy werk moet doen.
‘ Maar, terwyl die Skrif se aksent op die herder en leraar se verantwoordelikheid val, is dit meteen ook iets wat op elke gelowige rus. Sowel die Romeine as die Korintiërs word deur Paulus gewaarsku om, selfs in so 'n geringe saak soos wat jy eet of drink, nie 'n mede-gelowige in die geloofswedloop te laat struikel nie. Vir die Romeine sê die apostel: "Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie" (Rm 14:15). En vir die Korintiërs sê hy dat mens 'n broer of suster se geloofswedloop deur jou voorbeeld kan laat skipbreuk ly. As jy jou Christelike vryheid só misbruik dat 'n mede-lidmaat jou strydig met sy oortuigings navolg, laat jy hom iets teen sy gewete doen - en dit kan hom sy saligheid kos. "Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit 'n broer vir wie Christus gesterf het" (1Kor 8:11). Hoeveel te meer kan voorgangers van gemeentes, wat uiteraard meer in die oog en invloedryk is, die oorsaak wees dat medegelowiges die pad byster raak?
Op die spel in pastorale bediening en prediking, is nie bloot 'n gemeente se groei in heiligmaking nie, maar ook hulle inbesitname van die ewige saligheid.

ENKELE PUNTE VAN TOEPASSING

1. Niks behoort vir ons belangriker te wees as om heilig in die geloofswedloop te volhard nie. As daar een ding is wat die apostels met geweldige erns bejeen het, dan is dit ons verantwoordelikheid om met alles in ons vermoë die koninkryk binne te beur. Hierin het hulle die Here Jesus nagevolg: die koninkryk van die hemel moet bestorm en met geweld gegryp word (Mt 11:12, OAV). En as jou hand of oog jou in die proses laat struikel, kap dit af of ruk dit uit (Mt 5:29-30). Dis reg dat ons beklemtoon en ons daarin verheug dat die Here reddend in ons lewens ingegryp het. Maar dit mag nie die enigste belewing van ons Christenskap wees nie. As ons nie voortdurend besig is om ons heil met vrees en bewing uit te werk nie, is die kanse goed dat ons nooit die Here sal sien nie. Dis 'n verskriklike gedagte, maar besef julle dat, tensy die Here ons baie, baie genadig is, van die mense in hierdie saal die ewigheid in die verdoemenis gaan deurbring!
Waarlik, niemand, maar niemand sal die koninkryk op 'n traak-my-nie-agtige wyse beërf nie.
2. Ek moet met alles in my daarteen waak om vir my broers en susters tot struikeling te wees in húlle wedloop. Dit waarna ons tans kyk, beteken nie dat diegene wat waarlik gered is, verlore kan gaan nie. Maar dit beklemtoon dat volharding tot die einde toe die uiteindelike merkteken van ware redding is. Vals gelowiges sak uit. Maar let goed op wat die Here in hierdie verband sê: as jý die oorsaak is dat iemand struikel, is dit vir jou beter om eerder met 'n klip om jou nek in die see te verdrink (Mt 18: 6-7).
3. Die antwoord: die vaste spys van die Woord. Mens sou nou maklik kon redeneer dat predikers, in die lig van wat ons gesien het, eerder net appellerende bekeringsboodskappe moet preek. Nee! Dit was juis een van die groot probleme van die Hebreërs: hulle het vasgesteek by die melkkos van die eerste beginsels (Hb 5:11-6:3).
4. Ontelbaar baie gaan die ewige verdoemenis tegemoet, omdat hulle dink dat dit nie regtig saak maak aan watter kerk hulle behoort nie. Solank mens net persoonlik met die Here wandel, dink baie, is alles in orde. Maar wat hulle vergeet, is dat jou wedloop tot 'n groot mate bepaal word deur die prediking waaronder jy Sondae sit, asook deur die standaard van Christenskap óm jou. Die probleem is dat ons vergeet dat dié soort dissipelskap wat op die ewige heerlikheid uitloop, alles van mens verg. En as jy nie gedurig gevoed en versterk word deur jou gemeente nie - om van vergiftiging nie eers te praat nie - is die kanse goed dat jy dit nie gaan maak nie.
5. Een van die belangrikste gebede wat jy weer en weer moet bid, is vir jou predikant(e). In hierdie gemeente is ons uiters huiwerig om te veel te maak van die predikante-amp. Veeleerder beklemtoon ons die feit dat ons almal broers en susters is. Maar dit verander nie die feit dat daar 'n enorme verantwoordelikheid op die predikers (en natuurlik die ouderlinge) in hierdie gemeente rus nie. Bid asseblief gedurig vir ons dat die gewigtigheid van ons roeping steeds dieper in ons harte ingegrafeer sal word. Want een van ons grootste bedreigings is 'n onderskatting van ons aanspreeklikheid voor die Here. Hb 13:17 sê dat ons verantwoording sal moet doen! Bid nie net ter wille van óns nie, maar ook ter wille van julleself. Ek vertrou dat jy my nie verkeerd sal verstaan as ek sê dat niemand - behalwe natuurlik jyself - 'n groter rol in jou geestelike groei en geloofsvolharding speel as die ouderlinge van hierdie gemeente en veral die predikers nie.
6. Dié geheim in die geloofswedloop, is om jou oë op Jesus Christus vas te nael. Kom ek sluit net af met 3 aanhalings uit Hebreërs: "Hy (die Seun) (het) vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword" (5:9). "Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het" (3:14). "laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die begin en Voleinder van die geloof" (12:1-2).

Nico van der Walt



• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 011 476 2907; 082 848 9396.
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs - een Engels)
• 'n Preek/studiestuk soos hierdie word op 'n gereelde basis wêreldwyd en gratis in Afrikaans en soms in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3945
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Vr Mei 31, 2019 11:20 am

Hiermee 'n volgende Antipas Herout. Vertrou julle vind dit betekenisvol.

jbiC

Nico van der Walt
nico@dievanderwalts.co.za
www.facebook.com/nico.vanderwalt.73

**************************************************

ANTIPAS HEROUT Antipas, My getroue getuie

(Op 2:13)

No 59


Romeine 11 : 'N ONMISKENBARE TEKEN VAN DIE TYE GOD SE SKOPPELMAAI

Nico van der Walt


In Rom 1-8 sit die apostel Paulus die evangelie op 'n wonderlike wyse uiteen. Dis dan ook verstaanbaar dat hy afsluit met 'n aangrypende lofuiting (Rom 8:38-39). Maar onmiddellik ontstaan 'n vraag dan: As dit dan God se reddingsplan is en die Jode al vir eeue sy verbondsvolk, waarom het hulle vir Christus verwerp en weier die oorgrote meerderheid van hulle om so 'n wonderlike verlossingsplan te aanvaar? In Rom 9-11 antwoord die apostel hierdie kwelvraag. Hoewel die drie hoofstukke eintlik één stofblok is, gaan ons die aksent hoofsaaklik op Rom 11 laat val. Romeine 9 - 'n kort oorsig God se beloftes dwarsdeur die Ou Testament was amper nooit sonder voorwaardes nie. Die mens is en bly verantwoordelik! Omdat nie almal in die verbondsvolk gelowig en gehoorsaam was nie, het die Ou Verbondsgeskiedenis 'n dubbele karakter. Baie is gered deur geloof wat in gehoorsaamheid aan Jahweh tot uitdrukking gekom het. Maar die meerderheid is deur die Here verwerp oor hulle ongeloof en samehangende sonde. Dit beteken egter nie dat God se verlossingsplan en genadeverbond ná die Jode se verwerping van Christus, verydel is nie. Hoe so?
Rom 9:6 is 'n sleutelvers om God se raadsplan te verstaan: "Immers nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie ..." Daar was dus 'n ware en ewige Israel binne die uiterlike en tydelike Israel (nasionale Israel). En die verbondsbeloftes was net van toepassing op hulle - op diegene wat God se beloftes geglo het en dus toegewyd getrou gebly het aan die verbond. Hulle was die ware Israel en net hulle is gered. In Rom 9:7-13 verduidelik die apostel sy verbasende stelling in v.6 aan die hand van twee voorbeelde: Díé van Ismael en Isak, Abraham se kinders. En díé van Esau en Jakob, Isak en Rebekka se kinders. Isak, die uitverkorene (v.7-9) Abraham, het twee seuns gehad, Ismael en Isak. Maar net in Isak se geval het die verbondsbeloftes in vervulling gegaan. Waarom? Hy was gehoorsaam en het die verbond ernstig opgeneem. En Ismael? Sy sonde het getoon dat hy nooit in geloof deel gehad het aan die genadeverbond nie. Isak het getoon dat hy die uitverkorene was. Nou lyk dit of die apostel 'n beswaar by sy lesers antisipeer. Ja, maar Ismael en Isak het twee verskillende ma's gehad. En in Ismael se geval het Abraham "in die vlees" opgetree. Is dit nie die rede waarom Ismael nie in die verbond ingesluit is nie?

Jakob, die uitverkorene (v.1013) Goed, sê Paulus dan in Rom 9:10-13, kom ons kyk na Esau en Jakob. Hulle het dieselfde pa en ma gehad; trouens, hulle was 'n tweeling. Tóg, toe hulle nog in die moederskoot was, het God al 'n keuse uitgeoefen - die oudste sou die jongste dien. Esau is wel eerste gebore, maar Jakob sou die uitverkorene, die wetlike eersgeborene wees. Dit het dan ook geblyk uit die feit dat hy getrou aan God en die verbond gebly het. Tweedeling in die volk van God Hoewel al voorheen 'n realiteit, het ons hierbo die formele oorsprong van 'n tweedeling in die verbondsvolk van die feit dat daar 'n ware en uitverkore Israel binne nasionale Israel was. Slegs húlle sou erfgename van die verbondsbeloftes w e e s . A a n h u l l e verbondsgehoorsaamheid sou hulle kenbaar wees. Daar sou altyd "seweduisend wees wat die knie voor Baal nie buig nie" - die ware godsvolk midde-in die Joodse volk.1 Dis waarvan Paulus in Rom 9:6 praat. Dis die eerste pen wat hy inslaan. Soos al vir eeue, is daar ook in die Nuwe Testamentiese tye 'n oorblyfsel onder die Jode. Dis húlle wat die Messias herken het en aangeneem het. Die eerste Christene was immers omtrent almal Jode. Rom 10 - 'n kort oorsig In hierdie hoofstuk leer die apostel dat daar in die Ou Testament (soos steeds) net één manier van redding was en is: deur geloof! Elkeen wat waarlik geglo het dat God inderdaad die beloofde Middelaar sou voorsien om in hulle plek die straf op hulle sondeskuld te dra - as vervulling van die seremonies wat hulle gelowig en getrou beoefen het en wie se gehoorsame lewe aan God se wet die egtheid van hierdie geloof bevestig het, is gered. Helaas het die meeste Israeliete egter in hulle ongeloof baie min, indien hoegenaamd, enige begrip gehad - soos hulle voortgaande ontrou aan God duidelik getoon het. Nêrens blyk dit duideliker nie as in die Jode se latere verwerping van Christus, die Middelaar. Daarom spreek Paulus sy hartstog en gebed uit dat sy medeJode tot bekering en geloof in Christus sal kom (Rom 10:1-3). Dan sluit hy die hoofstuk af (is dit 'n versugting?) - dat die Jode jaloers sal raak as die heidene in sulke groot getalle tot geloof kom (10:19 vv). Rom 11: Daar wag nog 'n wonderlike heilstoekoms op die Jode. Hoofstuk 11 toon dat Israel se verwerping nóg totaal, nóg finaal was. Daar het inderdaad nog 'n wonderlike toekoms in Christus op hulle gewag! Nie alleen kán God dit doen nie (11:11-15); nie alleen is dit waarskýnlik dat Hy dit gaan doen nie (11:16-24); Hy gaan dit vir séker doen (11:25-32).2 God kán die Jode restoreer (Rom 11:11-15). Vers 11 sê dat Israel se val nie 'n doel op sigself was nie. Nee, hulle struikeling het as doel gehad dat die 3 nie-Jode - die nasies - na Christus toe sou kom. Dit was in diens van die Here se inbring van die oes vanuit die heidendom - iets wat na 2000 jaar steeds aan die gang is. Inderdaad sê Handelinge dat die Jode se verwerping van die evangelie die apostels na die heidene toe gedwing het. Dit het 'n radikale verskuiwing teweeg gebring in die koms van die koninkryk tydens die eerste eeu. 4 Die Here Jesus sinspeel alreeds daarop in (Matt 8:11-12; 21:43). Ook die vervolging van die vroeë Joodse Christene en hulle meegaande verstrooiing het hiertoe bygedra (Hand 11:19). God gaan die Jode waarskýnlik restoreer (Rom 11:16-24) Paulus ontwikkel sy argument verder. Hy maak van twee illustrasies gebruik wat min of meer dieselfde sê: die van 'n bol deeg (v.16a) en die van 'n olyfboom (v.16b-24). Ons kyk na laasgenoemde meer uitgebreide beeld. Die olyfboom is sonder twyfel 'n beeld van die volk van die Here. Duidelik sinspeel die wortel van die olyfboom op die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob. Die takke, die boom self, praat dan van Israel as geheel - van die Jode as volk. En soos ons weet, is 'n groot deel van die Joodse volk afgesnoei te wyte aan hulle ongeloof. Daarenteen dui die lote van die wilde olyfboom wat ingeënt word sekerlik op die nuwe gelowiges vanuit die nie-Joodse nasies. So word hierdie nuut-ingeënte lote dan deel van die die volk van die Here - van God se olyfboom. Oor hierdie verstaan van die gelykenis is daar min, indien enige verskil van opinie. Daar is dan (v.24) 'n ernstige waarskuwing teen trots in hierdie wilde olyflote. Soos takke van die mak olyfboom afgebreek is - Jode wat vanweë hulle verwerping van Christus hulle deelhê aan die Godsvolk verbeur het - kan die wilde olyftakke soveel makliker afgesny word. Hulle is immers nie oorspronklik en van nature deel van die mak olyfboom nie - van die verbondsvolk nie (v.24). Maar dis nie al nie. Die mak olyfboomtakke wat afgebreek is kan maklik weer ingeënt word. Dis nie net moontlik nie, maar inderdaad baie waarskynlik (v. 24b) . 5 God gaan die Jode vir séker weer inent op die olyfboom (Rom 11:25-32). Nie alleen is dit moontlik, selfs waarskynlik dat die Here God weer genade aan die Jode gaan betoon nie, dit gaan beslis gebeur. Paulus noem die profesie in v.25 'n "geheimenis" ("verborgenheid" in OAV). Die betrokke Griekse woord musterion is 'n tegniese begrip in die Nuwe Testament wat dui op 'n profetiese waarheid wat 'n totale geheim sou wees en bly as God dit nie geopenbaar het nie. Maar nou hét Hy dit wel geopenbaar en dit gaan gewis gebeur (1 Kor 15:51; Ef 3:3). Die hele Israel sal gered word (v.26) • 'n Groot vraag is nou, hoe moet ons die woorde in v.26, "die hele Israel" verstaan?
Ons hoef nie op al die opinies in te gaan nie. Daar is wel grootliks konsensus onder Bybelgeleerdes dat daar nie skielik van die hele liggaam van Christus, Jode en nie-Jode gepraat word nie - nadat al die ander 6 verwysings na Israel in hierdie 3 hoofstukke, trouens die hele Romeine, beslis van die Jode praat. Let op dat daar net in die vorige vers ook van "Israel" gepraat word en dat dit duidelik na die Jode verwys.
• Dis te betwyfel of die apostel, as hy van die "hele Israel" praat, dink aan ál die Jode - kop vir kop. Ewemin moet ons dit verstaan as verwysende na al die uitverkorenes onder die Jode. Dit sou natuurlik wáár wees - en "die uitverkorenes" kan uiteraard 'n kleiner of groter persentasie van 'n volk wees. Maar so was dit nog altyd. Dit sou geen nuwe openbaring wees nie. Waarskynlik beteken dit dat 'n baie groot deel van die Joodse volk verrassend tot Christelike bekering sal kom - waarskynlik die oorgrote meerderheid van hulle (die "hele Israel"). So aanvaar verreweg die meeste betroubare kommentatore dit.
Iain Murray is sekerlik korrek: "This is not to say that every individual Israelite will be converted ... the number to be ingathered will be of an extent which justifies the expression all Israel shall be saved".7 Daar wag dus 'n wonderlike genadewerk van God op die Jode: die "hele Israel" gaan nog gered word! Dit lyk of ons moet dink in teme van 'n magtige volksherlewing soos hierdie wêreld bes moontlik nog nooit beleef het nie. So verstaan amper alle kommentatore dit. Destyds - selfs nog vandag - lyk dit onhaalbaar. Maar vir God is niks onmoontlik nie! Effek op die nasies (v.12 & 15) Daar bly nou nog een kwessie oor. Het die Jode se massa-bekering enige effek op die nasies? Tweekeer suggereer Paulus dat die Jode se massabekering nie die nasies onaangeraak sal laat nie.
• In V.12 is daar 'n baie belangrike en onontkombare suggestie van die apostel: as die Jode se struikeling dan vir die wêreld rykdom beteken, hoeveel te méér sal hulle - die Jode se volheid dit nie eendag tot 'n baie groter mate vir die nasies bewerkstellig nie.8
Dis Paulus se argument: daar was 'n tyd toe die Jode die evangelie verwerp het, en dit het redding vir die nasies meegebring. Daar sal egter 'n tyd kom wanneer die Jode die evangelie sal omhels, en dit sal nóg groter seën vir die nasies bewerkstellig.
• Drie verse verder praat Paulus nog 'n keer oor die Here se genade vir die nasies ná die Jode se massabekering (v.15). As die Jode se verharding en ongeloof geweldige geloofsimplikasies ingehou het vir die wêreld, sal hulle massa-omhelsing van die evangelie eendag 'n veel groter geloofsimpak op die nasies hê. Dit sal wees "soos lewe uit die dood" vir die nasies wees. Dit lyk dus duidelik dat die skoppelmaai wéér vanaf die Jode na die nasies toe gaan swaai. Indien korrek, wag daar op die nasies 'n tweede golf van God se reddende genade - tot so 'n mate dat daarna verwys kan word as "lewe uit die dood" (v.15). En ook die woorde "hoeveel te meer" in v.12 impliseer dit. Om die spyker behoorlik in te slaan, kom ons parafraseer die twee verse:
• Vers 12: As die nasies, as gevolg van die Jode se ongeloof tot vandag toe soveel seën ontvang het, is dit mos onontkombaar duidelik dat die Jode se volheid - hulle volkswye omhelsing van Christus - des te méér seën vir die nasies gaan inhou!
• Vers 15: As die Jode se verwerping van Christus tot nou toe versoening vir die nasies meegebring het, hoeveel te meer sal hulle komende volksomhelsing van Christus vir die nasies nóg groter seën as ooit tevore inhou - dit sal wees soos lewe uit die dood!
• Net 'n laaste opmerking oor hierdie tweede golf van genade vir die nasies. Waarom praat die apostel so amper terloops oor hierdie verdere genadewerk onder die nasies? Dis nie waaroor hy dit primêr in hierdie hoofstuk het nie. Soos reeds aan die begin van hierdie lering uitgewys, wil Paulus in hierdie drie hoofstukke die vraag oor die toekoms van die Jode aanspreek. Dis waar sy fokus en sy hart is. Ou Testamentiese profesieë Hierdie terugswaai van die pendulum na die nasies toe, word bes moontlik reeds in die Psalmboek voorsien. Ps 22:28-32: "Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer Alle volke sal Hom as Koning erken ... Al die rykes van die wêreld sal ook aan die maaltyd deelneem en Hom as koning erken, ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel." Ps 67:8: " ... al die eindes van die aarde sal Hom vrees." Ps 86:9: "Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U, my Heer, in aanbidding buig; hulle sal U Naam eer.
Ps 102:16, 23: "Nasies sal vir die Naam van die Here ontsag hê en al die konings van die aarde vir U majesteit ... wanneer volke en koninkryke bymekaarkom om die Here te dien." Gerespekteerde kommentatore Wat mens se opinie op hierdie stadium ook al is, is daar nog 'n faktor: die opinie van teoloë. Ek verwys na mense vir wie ek groot respek het - en van wie net 'n dwaas maklik verskil. Onderstaande is aanhalings van maar enkele eksegete. Mens sou met gemak meer kon aanhaal.
• John Murray skryf in sy Romeinekommentaar: ".... the fulness 9 of Israel will involve for the Gentiles a much greater enjoyment of gospel blessing than that occasioned by Israel's unbelief. Thus there awaits the Gentiles .... gospel blessing far surpassing anything experienced during the period of Israel's apostacy, and this unprecedented enrichment will be occasioned by the conversion of Israel on a scale commensurate with that of their earlier disobedience."
• Everett Harrison skryf: "In order to retain the balance of the sentence, it seems necessary to understand this expression as pertaining to the world.".
• Griffith Thomas skryf: "If then, the sin of Israel led to the salvation of the Gentiles, much more will their restoration be the means of blessing be to the entire world.Their reception back again is to be of infinitely greater value to the world than their fall." 11 Oor v.15 skryf Thomas dan verder: "And in the future the salvation of the Jews will mean a spiritual revival to the world ... Their rejection brought blessing to the Gentiles, and their restoration will mean blessing to the world.".
• Die klassieke kommentaar van Robert Haldane sê: "... if the casting 12 away of the Jews was such a blessing to the world, their recall will be a blessing unspeakably greater. It will occasion a revival among the gentile churches, from a dead and almost lifeless state, which will resemble a resurrection".
• Die gerespekteerde prediker, D.M. Lloyd-Jones sê in 'n preek: “What he is concerned to show here is the effect, not upon the Jews, but upon the Gentiles. From the beginning of verse 11 he has been showing that the fall of the Jews is for the benefit of the Gentiles. When he asks ‘how much more their fulness?’, how much to whom? To the Gentiles.”13
• Ook John Stott dink in hierdie terme: "Paul forsees that unimaginable blessingis going to enrich the gentiles, a world-wide blessing which will so far surpass anything before experienced that it can only be likened to new life out of death" . .... If God could use the tragedy of Israel's rejection to bring salvation to the Gentiles, with what furher blessing could He not enrich the world through Israel's acceptance and fulness?"14
• Betekenisvol is Iain Murray se kommentaar: "... enough has been given us in Scripture to warrant the expectation that with the calling of the Jews there will come far-reaching blessing for the world." (p.59-60). Murray is reg as hy verder skryf: "This is not to say that every individual Israelite will then be converted .... the number to be ingathered will be of an extent which justifies the expression “all Israel shall be saved". (p.68). Murray gaan verder: "God has further planned the salvation of Israel on a scale which will enrich the Gentiles to a degree hitherto unprecedented." ... “Grace, not judgement, is God’s ultimate purpose." (p.65). "The sense of verses 12 and 15 .... points to a vast addition to the Church by Israel’s conversion with resulting wider blessing for the world. There is a great revival predicted here." (p.66). 15
'n Paar punte van toepassing 1. Ons het nie hier bykans onverstaanbare simboliek nie Hoewel die openbaring van 'n "geheimenis", 'n toekomsprofesie hier, het ons nie apokaliptiese profesie nie. Mens het nie groteske en geheimenisvolle beelde nie. Jy wonder nie gedurig hoe om dit te verstaan nie. Nee, die apostel gee vir ons duidelike lering in gewone taal oor wat vorentoe in die geskiedenis gaan gebeur (of gebeur het). Die enigste simboliek is díé oor die deeg en die olyfboom - wat glashelder duidelik is. Al wat dus nodig is, is om hierdie Skrifgedeelte met 'n oop gemoed en 'n leerbare gesindheid te lees. Om dan te verstaan is nie moeilik nie; inteendeel. 2. Hoe ver is ons van die "volle getal van die heidene" af? • Enersyds was daar oor die afgelope twee eeue 'n sendingontploffing - ongekend vroeër in die geskiedenis. Dit is betekenisvolvir ons onderwerp . Ja, daar is nog baie werk. Maar die oorgrote meerderheid van die nasies is reeds tot 'n mindere of meerdere mate met die evangelie bereik is. Kom ons dink net oor die vertaling van die Bybel in die tale van die wêreld. Die volledige Bybel is reeds in al die groot tale van die wêreld vertaal. Dis nog net 'n klompie van die kleiner taaltjies wat oorbly en hulle is bykans almal reeds geteiken. Binne enkele dekades behoort die taak van Bybelvertaling grootliks voltooi te wees. Dit lyk inderdaad - al is daar nog baie werk oor - of die "volheid van die heidene" nie meer té ver in die toekoms lê nie. Maar uiteraard sal God alleen daaroor besluit. Hieroor is hierdie skrywer amper ambivalent. Daar is nog sóvele vir wie se redding mens nog bid! Sê nou net .... Maar natuurlik, nie 'n enkele uitverkorene sal vergeet word nie. En as die Here 'n gebedslas vir iemand op een van Sy dissipels se hart plaas, het Hy waarskynlik groot planne met daardie persoon se ewige toekoms. 3. Kan ons al iets van 'n komende herlewing onder die Jode sien?
• Die moderne staat Israel is op 14 Mei 1948 tot stand gebring - 71 jaar gelede as hier geskryf word. Oor hoe betekenisvol dit is, is daar verskil van opinie in die kerk van Christus. Wat egter wel gesê kan word, is dat die oorlewing van die Joodse volk - na soveel eeue, en ten spyte van verskriklike vervolging en haat - enig is in die geskiedenis van die wêreld. Voeg daarby dat hulle steeds as 'n duidelik onderskeibare volk voortbestaan. Dis ongeëwenaard in die geskiedenis van die wêreld. Daarom hou ek verwikkelinge in die midde-ooste aandagtig dop. Ons sal finaal moet sien tot watter mate die moderne Israel van eskatologiese betekenis is. Al wat mens nou met sekerheid kan sê, is dat dit bes moontlik inderdaad van groot betekenis is.
• Die afgelope dekade of twee is daar die besondere verskynsel van relatief baie Jode wat Jesus Christus as hulle Messias aanneem. Ons praat van 'n paar honderdduisend tot soveel soos ver oor 'n miljoen.16 In die VSA is reeds minstens 'n paar honderdduisend van hulle, maar sekere statistieke praat van selfs 1,6 miljoen van hulle.17 Dit lyk of daar in Israel self ten minste 20 000 Messiaanse Jode is.
Dit mag na baie klink, maar dit verteenwoordig slegs ongeveer 1% van die bevolking. Met die skrywe hiervan kon ek nog nie betroubare syfers oor die situasie in Suid-Afrika kry nie - hoewel daar reeds in ons groter stede 'n hele aantal Messiaans-Joodse gemeentes bestaan.
• Hoe suiwer Nuwe Testamenties hierdie Messiaanse Jode is, is sekerlik nie 'n uitgemaakte saak nie. Dit wissel ook seker van groepering tot groepering. Die baie beperkte kontak wat ek al met Messiaanse Jode gehad het, het by my die indruk gelaat dat talle van hulle nog nie heeltemal deurgebreek het na suiwer Nuwe Testamentiese Christenskap nie. Dis asof van hulle nog nie heeltemal verstaan dat die seremoniële wet volmaak in Christus vervul is nie - asof hulle nog nie behoorlik die vryheid in Christus begryp nie. Baie van hulle vier nog die Ou Testamentiese seremoniële feeste - wat dalk nie as sodanig diskwalifiserend vir redding is nie (mits jy dit reg verstaan), maar tog moontlik getuig van 'n gebrekkige begrip oor die volkomenheid van Christus se middelaarswerk. Hulle skei hulleself dus ongelukkig nog tot 'n groot mate af van die kerk onder die nie-Jode. Mens het die indruk dat hulle nog nie verstaan dat 'n báie groot deel van dit wat deurgaan as die kerk onsuiwer is, met 'n skrikwekkende persentasie lidmate wat hoegenaamd nie in Christus is nie. Dinge moet dus nog ontwikkel. Want in Ef 2:14-18 (NAV) skryf die apostel: "Christus is ons vrede, Hy wat díé twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos 'n muur skeiding gemaak het. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself díé twee, Jode en nieJode, tot een nuwe mensheid verenig. Deur sy dood aan die kruis het hy 'n einde gemaak aan die vyandskap en die twee met God versoen en tot een liggaam verenig. .... deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader." Op hierdie stadium kan ek net sê dat ek persoonlik van mening is dat die eerste druppels van vervulling bes moontlik begin val het. Teen watter tempo dinge sal ontwikkel, weet mens uiteraard nie. 4. Eskatologies implikasies 'n Denkende Christen sal besef dat Rom 11 en jou vertolking daarvan besondere eskatoliese implikasies het. En inderdaad het elkeen van die groot wederkoms-standpunte sy eie vertolking van Rom 11 - nie almal ewe oortuigend nie. Maar bespreking hiervan sal ons té ver laat wegdwaal van ons onderwerp af. Bepeinsing hieroor met 'n oop gemoed en verdere opleeswerk met onderskeiding (want oor die onderwerp groei spekulasies en bogstories soos hare op 'n hond se rug), sal egter vir die leser besonder verrykend wees. 5. Die Here se onkreukbare en ewige getrouheid aan sy verbondsbeloftes is onmiskenbaar As God belowe het, staan dit vaster as die berge. Hy is in staat om enige bedenklike situasie te omskep tot iets volkome volgens sy wil en tot sy eer. Ek is seker die meeste Christene kan waarskynlik daarvan getuig (vir seker kan ek!). En vir seker was dit so in die lewe van die Ou Testamentiese verbondsvolk. Meermale was dit in die Ou Testament oënskynlik finaal verby met Israel. Menslik gesproke was geen uitkoms moontlik nie. Maar weer en weer het Jahweh getrou gebly aan Sy beloftes - ten diepste eintlik aan homself. Hoeveel maal het Hy nie in die haglikste onstandighede reddend ingegryp nie! Waarom? In sy genadeverbond het Hy Hom daartoe verbind. Ja, die volk se gehoorsaamheid was die ononderhandelbare voorwaarde. En tog, en tog! As dit nie anders kon nie, het Hy hulle eenvoudig gehoorsaam gemáák! Doen Hy dit nie maar altyd nie? Doen Hy dit nie steeds nie? Natuurlik! Daar is geen ander manier nie! Hy skryf sy wil en wette op sy gunsgenote se hartstafels.
Presies dit is wat ons eendag weer sal sien. Ten spyte van eeue se ontrou, en die verwerping van die Messias, sal die “volheid” van die Jode gered word (11:12)! Waarom? So verheerlik God Homself by uitnemendheid! Nooit sal die mislukking van sy godsvolk en sy uitverkorenes sy selfverheerliking in die wiele ry nie. So was dit; so sal dit bly! Soli Deo gloria! 6.Ons het 'n groot verantwoordelikheid 'n Groot verantwoordelikheid rus op ons as nie-Joodse Christene om só te leef dat Jode ook in ons dae en hier waar ons woon, jaloers sal raak op ons geloof. Helaas het Jodehaat, Jodevervolging en Jodeveragting ontsaglike skade gedoen in die verlede - en tot vandag toe. Onuitspreeklik tragies is dat sogenaamde Christene en 'n vals kerk meermale daarvoor verantwoordelik was. 7. 'n Laaste opmerking Baie mense dink, as hierdie profesie eendag volledig in vervulling gaan, sal daar wonderlike tye van vrede hier op aarde heers.Almiskie! Ek dink nie so nie. Daar sal steeds groot teenstand wees - net soos dit maar altyd nog gegaan het. Was dit nie nog altyd die beste medisyne vir ware en toegewyde kerk-wees nie? Wat bevorder die gemeente se heiligheid en toewyding en liefde vir die Here en broers en susters (en bevryding van dooie hout) meer as vervolging? Wat hou die kerk meer siuiwer? In hierdie gevalle bedeling sal dit nooit maklik wees vir die liggaam van Christus nie! En leer Op 20:7vv nie dat Satan aan die einde van die "duisend jaar" uit sy gevangenskap losgelaat sal word nie? Hy sal die nasies mislei en hulle mobiliseer en die laer van die heiliges omsingel. Maar dan sal vuur uit die hemel neerdaal en hulle verteer. Dit sal dan die einde wees. Slot Indien Romeine 11 reg uitgelê is in hierdie studie, wag daar nog ongeëwenaarde tye - wanneer die Jode se oë eenmaal oopgemaak word en die uitverkorenes uit die nasies soos lewendes uit die dood sal wees. En die bruid van Christus sal Hom waarlik ken en hartstogtelik liefhê Ons weet nie wanneer alles in vervulling sal gaan nie, maar vir seker leef ons as Christene van die een-entwintigste eeu in opwindende tye! Mag hierdie studie ons opwek om met nuwe ywer te bid vir die vervulling van Romeine 11 se "geheimenis". Mag dit ons op die die geloofsvoorvoet plaas. En mag dit ons vervul met 'n lewende hoop en 'n nuwe afwagting op die koninkrykstriomfe wat onstuitbaar aan't kom is. En mag dit ons vervul met 'n diep dankbaarheid om betrokke te wees - ongeag hoe nederig - deur gebed, deur te gee en deur te gaan.

Nico van der Walt (Mei 2019)



• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5 - 'n assosiasie van (tans) meer as 50 Godgesentreerde evangeliese gemeentes in ongeveer 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar (almal onderskryf bg. belydenis).
• Gereeld word 'n preek / studiestuk soos hierdie (as 'n reël in Afrikaans) wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnetsuite 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 848 9396
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3945
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Jul 10, 2019 4:49 pm

Hiermee 'n verdere Herout. Jammer ek is 'n raps laat, maar moes die AH eers klaar maak.

Vertrou dis tot seen.

jbiC

Nico

Net weer 'n nota. As julle vir my terugskryf, gebruik asb. nie bg. e-adres nie, maar nico.vanderwalt@reformed.org.za



*************************************************************************************************************************************************


ANTIPAS HEROUT Antipas,

My getroue getuie

(Op 2:13) No 55

GOD RED ALLEEN: NÉT HY EN OP NÉT EEN MANIER!
Gal 1:6-10 & 5:2-6

'n Lewensbelangrike waarheid wat op té min Christene se hartstafels geskryf is

Nico van der Walt



Anders as sy gewoonte, begin Paulus hierdie brief met 'n skerp vermaning. Waarom sy ontsteltenis? Wat in Galasië aangaan, bedreig sy werk, hulle geloof en saligheid - ja, inderdáád hulle redding - die voortbestaan van die gemeentes, en, ergste van alles, die suiwerheid en voortgang van die evangelie. En die eer van die Here! Ook vir ons is dit van lewensbelang om noukeurig ag te slaan op hierdie verse. Ons mag eenvoudig nie hier mis tas nie. Luister na die Nuwe Testament:
Slegs genade alleen deur geloof alleen in Jesus Christus alleen bring ewige redding - sonder enige poging van my kant af om enigsins 'n bydrae tot my verlossing te lewer. Trouens, enige volgehoue poging om eie verdienste as aanvulling by Christus se soenverdienste te voeg, is diskwalifiserend vir die saligheid.
Ons teksverse bevat een van die heel ernstigste, maar mees onderskatte waarskuwings in die heilige Skrif. Selfs my geloof word nie deur die Skrif as reddende verdienste geag nie. Dit is bloot die kanaal waardeur verlossing in iemand se lewe invloei. Hierdie kanaal is weliswaar onmisbaar noodsaaklik, maar verdienste op sigself is dit allermins. Die 16de eeuse reformasie het hierdie Bybelse beginsel goed verstaan en dit baie sterk en
beklemtoon met die fundamentele wekroepe: Sola gratia; Solus Christus; Sola fides (Genade alleen; Christus alleen; Geloof alleen). Daarenteen was die middeleeuse Rooms-Katolieke Kerk deurtrek van sakramentalisme. Dit beteken dat die sakramente - saam met geloof - as saligmakend beskou is en nie bloot as geloofsversterkende tekens van genade nie. Die Judaïste se kettery
Die Galasiërs was onder die invloed van die Judaïste. Hierdie mense het hulleself as Christene beskou, maar verkondig dat geloof in die verdienste van Jesus Christus, sáám met die besnydenis - noodsaaklik sou wees vir redding. (Hand 15:1, 24). Hierteen verset Paulus hom dan met alles in hom. Die apostel se reaksie
In Gal 1:6 spreek Paulus sy verbasing uit dat die Galasiërs so gou van God - wat hulle deur die genade van Christus geroep het "afvallig word" na 'n "ander evangelie" toe. Afvallig word, in die Grieks, dui op 'n verplasing van lojaliteit - soos wanneer 'n soldaat dros, of 'n politikus oorloop na 'n ander party. In die Galasiërs se geval het dit tot uitdrukking gekom in die aanneem van 'n ander evangelie (Gal 1:6)! As die apostel van 'n ander evangelie praat, impliseer dit dat daar 'n ware evangelie is. Wat is dit? Hierdie ware evangelie word aan twee dinge geken: sy oorsprong en sy inhoud.
• Die ware evangelie het 'n baie spesifieke oorsprong. Dis die evangelie wat die apostels verkondig het - die een wat deur die Heilige Gees geïnspireer is en in die Nuwe Testament uiteengesit word. Niks anders nie! Selfs 'n "engel uit die hemel" het nie die gesag om dit aan te pas nie. Hoeveel te minder enige mens! (Gal 1:8).
• Watter evangelie kry ons by die apostels? Die inhoud daarvan het drie onmisbare fokuspunte. Een, sondaars word uit vrye genade alleen gered! (o.a. Hand 20:24; Rom3:24; 11:6; Ef 2:5, 8-9). Twee, sondaars word op grond van Christus se verdienste alleen gered! (o.a. Joh 14:6; Hand 4:12; Rom 5:8; Gal 1:4; 3:13; 1Tim 2:5-6). Drie, sondaars word deur geloof alleen gered! (o.a. Rom 1:16-17; 3:22, 28; Gal 2:16; 3:7; Ef 2:8). Waar kom die Galasiërs aan hierdie ander evangelie? Hulle is "betower" (3:1, OAV) deur die Judaïste. Let op en hou dit steeds in gedagte, Judaïste en hulle moderne eweknieë ontken nie die noodsaak van Christus se versoeningswerk nie. Maar hulle glo nie dis genoegsaam nie. By Christus se
verdienste moet die mens s'n gevoeg word: God het Sy deel in Christus gedoen; nou is dit die mens se beurt! Dit kom dan noodwendig daarop neer dat iemand se redding in die finale analise van homself afhang. Die vrug van dwaalleer
Die Judaïste "verdraai" (Gal 1:7) die evangelie van Christus. Die woord dui op 'n omdraai van iets - om dit agterstevoor te draai. Die woordkeuse is in die kol. Die evangelie sê: eers redding, dan volg werke. Die Judaïste leer: eers werke, dan volg redding. Hierdie dwaalleer veroorsaak "verwarring" (Gal 1:7). Die bepaalde woord beteken om heen en weer te skud. Die dwaling maak hulle dus deurmekaar; dit krap hulle om. Dwaalleer bring nie net verwarring in denke nie, maar ook in verhoudinge. Dit ruk uitmekaar! Die teendeel is egter ook waar: Evangeliewaarheid en suiwer leer bring begripsklarigheid, koersvastheid en hartseenheid. Paulus se reaksie
Paulus is geweldig ontsteld en verontwaardig. Twee keer roep hy oor so 'n dwaalleraar uit, "die vloek van God sal hom tref!" (Gal 1:8,9). In die Griekse vertaling van die Ou Testament - die Septuaginta van ongeveer twee eeue voor Christus word die woord wat ons Bybels in v.8-9 met "vloek" of "vervloeking" vertaal (Gr. anathema), gebruik om te praat van die banvloek. Dit verwys na gehoorsaamheid aan God om alles wat lewe, in byvoorbeeld 'n heidense stad, dood te maak. Waarom voel die apostel so sterk oor die saak? Eerstens, doen die Judaïste Christus se eer geweld aan. Hulle standpunt impliseer dat die Here Jesus se werk onvoldoende was dat mense dit moet aanvul. En dis geen geringe saak nie. Dat die Vader en die Seun alleen verheerlik moet word, is immers waaroor die hele verlossingsplan ten diepste gaan! Om aan Christus se werk te peuter, is 'n veragtelike belediging vir Hom! Wie sal dit waag om 'n Rembrandt met 'n garagekwas te dokter? Hoeveel te minder durf ons die evangelie verwater? Nee, laat dit maar 'n aanstoot vir die godsdienstiges wees en onsin vir die ongelowiges (1Kor 1:23). Hulle wat die krag van die evangelie ken, sal dit kompromieloos bly verkondig. Tweedens, die redding van mense is op die spel. Die Judaïste se dwaling is veel meer as 'n denkfout, 'n teologiese mistasting. Dis 'n dodelike kettery! Waarom? Dis 'n rugdraai op "God wat julle deur die genade van Christus geroep het" (Gal 1:6). Om die evangelie van God se vrye genade te versaak, is om die God van genade te versaak! In Gal 5:2-6 word dit uitdruklik gesê. Wie homself nog laat besny,
omdat hy dink dít sal hom vir God aanvaarbaar maak, sal die teenoorgestelde bereik: hy sal nié gered word nie! "Christus het vir hom geen betekenis nie"; hy het sy "band met Christus verbreek"; hy het "die genade van God verbeur". Daar bly gevolglik vir hom net een reddingsalternatief oor: "om die hele wet van Moses te onderhou" (Gal 5:3-4). In beginsel is dit makliker om só gered te word (natuurlik is dit onmoontlik!) as deur Christus plus werke. Want dít sal God in der ewigheid nooit aanvaar nie. Wat sê dit alles vir ons? 1. Daar is net één evangelie
In Gal 1:6-7 gebruik Paulus twee betekenisvolle woorde. Beide word in die OAV en NAV met "ander" vertaal: die Galasiërs word verlei om 'n ander evangelie aan te neem; tog is daar geen ander evangelie nie. Die Grieks maak dit duidelik In die eerste geval word die Griekse woord, heteros, gebruik. Dit dui op iets anders - van 'n heel ander aard. Dis kwalitatief anders. Dis verskillend. Byvoorbeeld: hier is een voorwerp, 'n skoen; daar is 'n ander voorwerp, 'n klip. Die NASB en ESV vertaal dit met "different". In die tweede geval word allos gebruik. Dit dui op iets anders, maar van dieselfde soort. Essensiëel verskil twee dinge nie van mekaar nie - dis bloot alternatiewe.
Byvoorbeeld: Hier is 'n tennisbal en daar is 'n ander tennisbal. Bg. Engelse vertalings gebruik "another". So eksak, beklemtoon die apostel hier, is die ware evangelie gedefiniëer dat daar geen sprake kan wees dat beide beskouings reg is nie. Nee, die Judaïste se beskouing is vals. Dis, trouens, 'n dodelike leuen. Húlle evangelie en dié van die apostels is nie twee ewe geldige roetes na God toe nie! Jy kan nie die ware evangelie aanpas, sonder om dit te vernietig nie - met noodlottige gevolge. Ons móét predikers en hulle evangelie beoordeel! Onthou, die status, geleerdheid en begaafdheid van die boodskapper waarmerk nie sy boodskap nie Nee, die wáárheid van sy boodskap waarmerk die boodskapper. Preek hy die onverwaterde Bybelse openbaring, of nie? Preek hy die boodskap van God se vrye genade in Christus alleen - wat slegs deur geloof in besit gekry word? Wie 'n ander evangelie as hierdie verkondig, plaas homself onder die banvloek van God! Wie 'n ander evangelie as hierdie aanneem, maak homself van Christus los en verbeur God se genade! God se vloek sal diesulkes tref! (Gal 1:8-9) En dit geld van alle ernstig afwykende "evangelies". 2. God is die alleenredder, of glad nie
Die sestiende eeuse Reformasie met
sy drie wekroepe - Sola Gratia! Solus Christus! Sola Fide! - het besef hoe kardinaal belangrik die evangelie se waarheidsinhoud is. En die vierletterwoordjie, sola, lê aan die hart daarvan. In 'n sin het die hele Reformasie daarom gedraai. Nóóit mag ons hierdie alleen vergeet nie - nie wat genade, of Christus, of geloof betref nie. Waarom nie? Dit dra elke keer dieselfde boodskap: as God 'n sondaar red, sal daar nooit enige menslike bydrae of aanvulling wees nie - nie moraliteit, godsdienstige seremonies, ordentlikheid, wysheid, geleerdheid, finansiële bydraes, dienswerk nie - niks nie! Die les van Kornelius is kardinaal belangrik (Hand 10:1-2; 11:14). In hoofstuk 10 sien ons 'n man van uitsonderlike morele verdienste. Hy is godsdienstig, godvresend, ywerig, getrou in barmhartigheidswerk, en 'n bidder sonder weerga. Maar, sê hoofstuk 11:14, hy was nie gered nie! Wat! Wat het geskort? Hy moes eers die sola-evangelie hoor en in die geloof omhels! Dis waarvoor Petrus na hom toe is. Só belangrik kan die suiwer leer wees! 3. Dit was maklik om Paulus verdag te maak - en steeds elke waarheidsprediker
Presies dit was waarskynlik wat gebeur het en waarop v.10 sinspeel: "Klink dit nou asof ek die guns van mense soek ...?"
Waarskynlik het die Judaïste Paulus beskuldig dat hy met 'n goedkoop evangelie witvoetjie by mense soek. Maar, gaan die apostel voort, hy het nog nooit vir die pawiljoene gespeel nie. Hy het slegs één hartstog, naamlik om sy Sender getrou te dien. En dit sal hy doen deur die ware evangelie te bly verkondig - die gratis evangelie! Laat dit op die tafels van ons harte geskryf wees: Jesus Christus het alles, maar alles gedoen wat nodig is vir die redding van elke uitverkorene. En as ons dan inderdaad deur 'n ware geloof met Hom verenig is, moet ons onwrikbaar vas bly staan in die vryheid wat ons in Hom geniet. Ons mag ons nie weer onder 'n slawejuk van allerlei moets en moenies, as bydraes tot Sy versoeningswerk, laat indwing nie (vgl.5:1). 4. Die ware evangelie sal altyd te kampe hê met die verwyt dat dit té maklik is en dat dit gepreek word ter wille van aanvaarding en gewildheid
Te wyte aan gebrekkige en moralistiese prediking en Bybelse onkunde is baie kerkmense tot 'n mindere of meerdere mate vasgevang in die onbybelse, trouens ketterse idee dat hulle vir redding 'n sekere bydrae moet lewer tot die verdienste van Christus. Soos gesien, wou die Judaïste veral die besnydenis by die werk van
Christus voeg. Vandag word so 'n status dikwels aan die doop verleen hetsy die kinderdoop of die belydenisdoop. Ons het gelet op die apostel se verontwaardiging oor en dringende waarskuwing teen so 'n dwaling. Sonder om doekies om te draai, sê hy dat dit inderdaad ewige verlossing in die gedrang bring. Maar dit strek verder as besnydenis of doop. Ek meen dat baie kerkmense vir hulle sekerheid van saligheid staat maak op dinge soos gereelde nagmaalsgebruik en kerkgang, op 'n goeie en vroom lewe, op getroue dienswerk - op wat ook al. Mag die apostel se dringende waarskuwing ingebrand wees in ons gemoedere. Op diegene wat hulle vertroue selfs net deels in enigiets anders as Christus se middelaarswerk alleen stel, rus God se oordele. Christus is vir diesulkes tot geen nut nie; hulle het hulle band met Hom verbreek; hulle het die genade van God verbeur (Gal 5:2-4). Nee, Jesus Christus het absoluut alles gedoen wat nodig is vir die redding van sondaars. As ons dan inderdaad deur 'n ware geloof met Hom verenig is, laat ons vas bly staan in die vryheid wat ons in Hom geniet en ons nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie (Gal 5:1). 5. Ewe waar is dit egter dat saligmakende geloof inderdaad gepaard gaan met en sigbaar word in ander Christelike deugde en vrug
Omdat reddende geloof in Jesus Christus voortvloei uit die wedergeboorte (1 Joh 5:1) - en uiteraard altyd gepaard gaan met die res van wedergeboortevrug - word die teenwoordigheid van onsigbare geloof bevestig deur die ander wedergeboortemerktekens wat wel waarneembaar is: 'n gehoorsame lewe aan die Here; oorwinning oor sonde; liefde vir God asook broers en susters; heerskappy oor die kragte van 'n sondegevalle wêreld (1Joh 2:29; 3:9; 4:9; 5:4; 5:18. Lees dit in die OAV of DAV, of enige goeie Engelse vertaling). Dit beteken dat die afwesigheid van die merktekens van herskepping duidelik vir ons sê dat ons nie reddende geloof het nie en dus nog nooit wedergebore is nie. Sonder hierdie merktekens is 'n persoon gewoon nie gered nie - en moet hy of sy onverwyld in Christus invlug. Jou werke en gehoorsaamheid aan die Here is dus die watermerk en bewys, nie net van jou wedergeboorte nie, maar inderdaad ook van jou reddende geloof. Maar nooit is dit die grond daarvan nie! Ten slotte
Ons kan nou verstaan: die ware evangelie is nie duur nie; ook nie goedkoop nie - dis gratis! Maar die Woord van God kwalifiseer dit met 'n dringendheid
wat ons nie moet miskyk nie:
• Een, daar is iets soos wettisisme en daar is eweneens iets soos wetteloosheid - en die een is so noodlottig soos die ander. Die navolging van die Here Jesus volg 'n baie nou paadjie met twee diep afgronde weerskante. Wettisisme leer dat allerlei moets en moenies die grond van redding is. Wetteloosheid is 'n losbandigheid wat gehoorsaamheid en 'n heilige lewe as nie regtig só belangrik beskou nie.
• Twee, daar is iets soos beginsels, maar daar is insgelyks iets soos die uitlewing daarvan. En beide is onmisbaar deel van outentieke Christenskap!
• Drie, daar is iets soos Christelike vryheid, maar dit word tree vir tree gevolg deur Christelike verantwoordelikheid.
• Vier, daar is iets soos regverdigmaking of regverdiging, maar gewis volg heiligmaking of heiliging in die voetspore daarvan.
Leser, verstaan jy waarvan ons praat. Ken jy die realiteit van hierdie waarhede in jou lewe? Indien jy dit wel proefondervindelik begryp, is jy 'n geseënde van die Here. Of ervaar en verstaan jy bloedweinig hiervan in jou "Christenskap"? Dan flikker daar rooi ligte! Vlug onverwyld in Christus in!
Let egter op, die antwoord lê nie in 'n tandeknersende harder probeer om heilig te lewe nie. Moenie die trapmeul bloot stywer stel nie. Dis futiel en fataal! Nee, nee! Vlug in die geloof in Christus in en bly in Hom skuil. Vertrou Hom met jou ganse lewe en hiernamaals. By Hom alleen is die antwoord. Doen jy dit in geloof en in erns en in diep afhanklikheid, sal jy spoedig agterkom jou geloofserns was die vrug van 'n wedergeboorte deur die Gees. As jy egter uit ervaring begryp waarvan ons praat, hou aan om vas te staan in die vryheid wat ons in Christus geniet. Moet onder geen omstandighede weer onder 'n slawe
juk van vrees en wettisisme beland nie (Gal 5:1). En dien die Here met selfs nog meer dankbaarheid en liefdesywer. Laat almal van ons maar weer en weer in die lig van die Woord oor hierdie saak bid en peins. "Ondersoek julleself of julle in die geloof is; toets julleself ..." (2Kor 13:5, DAV). Besef jy hoe belangrik die inhoud van hierdie studiestuk is? Miljoene is waarskynlik vandag in die verderf, omdat hulle moralisme en goeie werke en sakramente as aanvulling by Christus wou voeg. Sola Gratia! Solus Christus! Sola Fide!

-o0o-


• Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Dit staan enigeen gevolglik vry om die inhoud van hierdie studiestuk met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by andere gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie. • Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis (soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges en gemeentes in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No. 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika; E: nico.vanderwalt@reformed.org.za; Tel. 082 848 9396.
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (Plus nog 4 blogs - adresse by genoemde adres)
• Nico van der Walt het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna vir 'n dekade as Siviele Ingenieur gewerk (as konstruksieingenieur en universiteitsdosent). Na 'n radikale Christelike bekering en daaropvolgende teologiese studie aan die Potchefstroomse Universiteit, was hy vir drie dekades veral stigterspredikant van twee gemeentes in die Vaaldriehoek en Pretoria. Hy was ook vir 'n stuk of twaalf, dertien jaar 'n dosent aan die Lynnwoodrif Bybelskool. Die afgelope paar jaar wy hy meeste van sy tyd aan skryfwerk en prediking waar hy ook al uitgenooi word.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3945
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Za Jul 20, 2019 11:38 am

Dags? almal,

1. Vir die volgende 2 maande gaan julle waarskynlik niks van my kant af kry nie. Ek en Soniah het 'n dogter, skoonseun en 2 kleindogters in die VSA en ons vetrek DV eerskomende Woensdag om vir 6 weke daar te gaan kuier. Ongelukkig is my massa-versendingsprogram net op my tafel-rekenaar - wat ek uiteraard nie saamvat nie. Ek stuur dus vandag 'n bietjie meer leesstof as gewoonlik. Sou julle méér soek, verwys ek julle na my 5 blogs waar daar 'n massa leesstof is (sien besonderhede in fyner skryf agter op die Heroute - of gaan direk na www.e-preke.blogspot.com - waar ook die ander adresse is).

2. Ek stuur vandag 3 Antipas Heroute. Dalk het ek al in die verlede hiervan vir julle gestuur, maar ek moes die afgelope tyd oor die onderwerpe preek/praat. En het weer die studies 'n bietjie nagesien en gekorrigeer. Al drie sny kardinaal belangrike sake aan en ek wil julle aanmoedig om dit desnoods meer as een keer deur te werk. Trouens, ek ag No. 21 as van lewensbelang (en ek praat van die ewige lewe!).

3. Hoewel nie die prim?re fokus daarvan nie, sny twee van die studies (no. AH17 & AH 53) die kwessie van die doop aan - en ek weet talle van julle het 'n ander doopbeskouing as ek. En soos ek, voel van julle bes moontlik baie sterk oor jul oortuigings hieroor - en ek respekteer dit. Maar weet dit, ek stuur dit nie met bymotiewe vir julle nie. Dit was nog altyd my benadering om kontensieuse sake te vermy wat hierdie interkerklike en internasionale poslys betref - en so sal dit bly. Maar hierdie keer is dit onvermydelik en dit sal sekerlik niemand kwaad doen om meer ingelig te wees oor die kwessies wat aangesny word nie.

Van julle het al gewonder hoe 'n "goeie en vroom seun" soos ek - wat as baie toegewyde Dopper groot geword het en om alles te kroon op die Puk teologie geswot het - só ernstig kon dwaal om 'n Baptis te word. Laat ek darem ter versagting dadelik byvoeg, na enkele jare se ongemaklike en halfhartige geflankeerdery met die charismatiese beweging nadat ons uit die Gereformeerde Kerk is, het ons teruggekeer na gereformeerde paaie (let op, ek spel dit met 'n klein lettertjie), oftewel Godgesentreerde, Christusgefokusde en Woordgefundeerde paaie.

Laat ek nou maar uitkom met die sak patats.

Amper 40 jaar gelede tydens my finale jaar aan die Potchefstroomse Teologiese Skool en as kandidaat vir die Dopperbediening, het ek geweet ek moet eens en vir altyd duidelikheid kry oor die hele kwessie van die doop - eintlik oor die verbondsleer, die verlossingsleer en die leer oor die kerk. Dit was dinge waaroor ek toe al 'n hele ruk ernstig gewonder en gewroeg het. Ek het immers verstaan dat dit nie net 'n kwessie was van hoeveel water en hoe oud die dopeling is nie - nie naastenby nie. Ek het geweet mens se beskouing hieroor en jou gevolglike praktyk het enorme implikasies - sowel teologies as persoonlik.

Vir amper 6 maande in 1981, tydens my finale jaar aan die Teologiese Skool, het ek die verbond en die Bybelse verlossingsleer en die leer oor die kerk ge-eet en geslaap - en die doop wat groot implikasies hiervoor het. (Soniah was al die pad saam met my). Ek het dik boeke gelees - en natuurlik die Bybel - en toenemend in vrees en bewing gebid. Maar uiteindelik het die dag aangebreek dat ek geweet het dat ek weet. Waarheen dit my en Soniah en ons 4 dogtertjies sou lei, het ons geen benul gehad nie. Soos 'n vriend van my ges? het, ons was besig om ons toekoms te verpas. Maar ons het ons gesigte soos keistene gemaak "and immediately started to walk our talk". En ons hemelse Vader en die Hoof van die kerk hét ons - tot vandag toe - wonderlik gelei en versorg. Natuurlik was die pad nie altyd ewe maklik nie, inteendeel, maar in die steek is ons nooit gelaat nie.

En daar het die nuuskieriges onder julle dit nou einde ten laaste uit die perd se bek uit.

Hartlike groete.

JbiC

Nico van der Walt

nico@dievanderwalts.co.za
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3945
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Za Jul 20, 2019 11:48 am

DIE VERHOUDING TUSSEN OU EN NUWE VERBOND

Enkele Perspektiewe en Implikasies

Nico van der Walt


Iemand het eenkeer gesê: "My seun, die dag as jy die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond verstaan, mag jy jouself 'n teoloog noem." Dit was wyse woorde. Want talle van die grootste en ernstigste dwalinge in teologie en kerk deur die eeue was te wyte aan 'n gebrekkige begrip van die verhouding tussen die twee fases van die genadeverbond.1 Dis 'n toestand wat ongelukkig voortduur met talle ernstige ellendes in die kerk tot gevolg. Hierdie studiestuk maak nie aanspraak op volledigheid nie; inteendeel. Dit bied bloot 'n paar fundamentele perspektiewe.
DIE GENADEVERBOND
‘ God se genadeverbond met die gevalle mens loop soos 'n ruggraat dwarsdeur Sy Woord. Begrip en verrekening van hierdie verbond is nodig om die boodskap van die Heilige Skrif reg te verstaan, om God behoorlik te ken, om die evangelie te begryp en reg te verkondig, om die Christelike lewe te leef soos dit moet. En dis nodig vir die kerk om waarlik kerk te wees.
‘ 'n Verbond kan in die algemeen soos volg gedefinieer word: Dis 'n onderlinge en baie gewigtige ooreenkoms tussen twee partye, wat hulle absoluut en gewoonlik permanent verbind om sekere dinge vir mekaar te wees en te doen.
• Die Skrif bevat talle beskrywings van sulke verbonde tussen mense (Gen 21:22-34; 31:44-55; Jos 9; 1Sam 18:3; 2Sam 3:6-21; 5:3; 1Kon 5).
‘ God het hierdie algemene begrip in die antieke wêreld geneem om Sy ewige en onverbreekbare verhouding met diegene wat Hy na die sondeval as nuwe mensheid sou red, te omskryf en te reguleer. Die verbond is dus die 'konstitusie' van God se reddingsplan.
‘ Die genadeverbond het 'n sterk ontwikkelingsgang in die Ou Testament; trouens, in die hele Skrif. Embrionaal is dit reeds in die moederbelofte (Gen 3:15) teenwoordig. Dan kry dit verdere gestalte in die verbond met Noag (Gen 9:1-17). Veral in God se verbondsluiting met Abraham kom dit behoorlik na die oppervlak (Gen 12:1-3; 15; 17; 22:119). Hierdie verbond word herbevestig met Abraham se nageslag, Isak (Gen 26:2-5) en Jakob (Gen 28:10-22). Verder word die verbond herbevestig en -bekragtig met Dawid, maar veral met Moses tydens die uittog, oftewel met die volk wat uit Egipte gered is. Dit gebeur by Sinaï en word ongeveer veertig jaar later herbevestig, net voordat Israel Kanaän inneem. Laasgenoemde gebeurtenis is vervat in die Deuteronomiumboek, wat die struktuur vertoon van 'n tipiese verbondsdokument. Die Sinaïtiese verbond, naas die verbond met Abraham, is van die allergrootste belang en oorheers die lewe van die verbondsvolk daarna.
‘ Die daarstelling van die verbond is eensydig. God, en Hy alleen, neem die soewereine inisiatief daarin, en bepaal die aard van die verhouding eensydig. Die uitvoering of instandhouding van die verbond is egter tweesydig. Beide partye, God en mens, is dus aktief
betrokke by die uitlewing daarvan. Die Here beloof immers sekere dinge aan die mens as voorregte (iets wat Hy doen), terwyl Hy ander dinge as verantwoordelikhede voorskryf (iets wat die mens moet doen).
‘ Volgens die verbondsvoorskrifte is die verhouding tussen die twee partye nie bloot onpersoonlik, formeel en juridies nie. Dis 'n verhouding van eenheid en gemeenskap, gekenmerk deur wedersydse bande van intieme liefde en lojale trou. Veral twee alledaagse en baie sprekende beelde word gebruik om dit te beklemtoon: die verhouding tussen man en vrou binne die huwelik (Jes 54:5; Jer 31:31-32; Eseg 16:1-14; Hos 1:2; 3:1; Ef 5:24-25, 32; Op 21:9); en die verhouding tussen ouer en kind (Eks 4:22; Deut 1:31; 8:5; Hos 11:1; Rm 8:15; 2Kor 6:18; 1Jh 3:1).
• Die tipiese verbondsformule, "Ek sal vir julle 'n God wees, en julle moet vir My 'n volk wees", bring hierdie heerlike waarheid uitnemend na vore. Dit kom regdeur die Bybel voor en geld tot in ewigheid (onder meer Gen 17:8; Jer 24:7; 31:33; 32:38; Eseg 11:20; 14:11; 36:28; 37:23, 27; 2Kor 6:16; Hb 8:10; Op 21:3).
‘ 'n Paar verdere sake oor die genadeverbond is ter sake:
• Aan die hart van God se verbond met Abraham is die uitspraak van Gen 15:6: "En hy het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken" (OAV). Dit, sê die Nuwe Testament oor en oor, toon dat regverdiging alleen deur geloof kom en dat dit van die begin af so was (Rm 4:3, 9, 22; Gl 3:6; Jk 2:23).
• Hoewel God se morele wet, soos in die Tien Gebooie gekonsentreer, aan die hart van die Sinaïtiese verbond was, gee Hy daar ook 'n massa seremoniële voorskrifte wat die Israelitiese godsdiens daarna oorheers. Die Nuwe Testament beklemtoon dat die morele wet, as uitlewingsriglyn vir die verbondsvolk se dankbaarheidsliefde en gehoorsaamheids-trou, ewig geldig bly (Mt 5:17-20). Daarenteen dring dit daarop aan dat die seremoniële wette met die koms van Christus vervul is en nie meer betrekking op die verbondsvolk het nie. Veral Galasiërs en Hebreërs onderstreep dit - as ernstig gewaarsku word teen 'n voortgaande handhawing daarvan. Dis nie net onnodig nie; dis dodelik sondig (vgl. o.a. Gl 5:1-10; Hb 6:4-8; 10:2631).
• In Gl 3 en 4 verduidelik Paulus dat God reeds 430 jaar voor Sinaï, tydens die verbondsluiting met Abraham, die
fundamentele en onveranderlike verbondsbeginsel van regverdiging deur die geloof alleen vasgelê het (Gl 3:15-18). Die seremoniële wet was bloot gegee as 'n kinderoppasser (die sin van die Grieks in 3:24) wat die Godsvolk en die verbondsopenbaring moes bewaar totdat die geloof gekom het (3:23-25) - die volle openbaring van God in Christus. Israel was dus soos klein kindertjies wat nie na hulleself kon omsien nie - maar die seremoniële wet het hulle opgepas en deur die eeue begelei. Met die aanbreek van die volheid van die Nuwe Verbond, en die volwassenheid wat dit vir God se verbondsvolk meebring, het die noodsaak daarvoor egter verval (4:1-7). Die seremoniële wet het dus die funksie van steierwerk gehad tydens die oprigting van God se verbondsgebou. Dit was nooit doel op sigself nie, maar bloot middel tot 'n doel. En toe die doel bereik is, moes die steierwerk weg.
• Die besnydenis was in die sentrum van Israel se seremoniële verbondsverpligtinge. Dit was teken van die verbond, en ongehoorsaamheid was 'n uiters ernstige oortreding (Gen 17:14). Wat het dit beteken?
~ Soos tipies by verbond sluitings, was dit 'n selfveroordelingseed: as ek my nie hou aan hierdie verbond nie, mag ook my bloed vloei en ek afgesny word uit die volk van God.
~ Waarom is spesifiek die manlike geslagsorgaan besny? Sekerlik het dit daarop gedui dat verbondsaanwas primêr deur natuurlike geboorte sou plaavind. Nasionale Israel was immers die verbondsvolk (in die ruim sin). Mens is destyds in die verbond in gebore. Dat dit al vereiste was, is duidelik uit die feit dat die teken al op die ouderdom van agt dae aangebring is.
~ Dit was waarlik 'n verbond van genade, want wie het enige beheer oor wie sy ouers is en watter volk hy in gebore word? Soos hieronder aangetoon, was dit wel genoegsaam vir heerlike voorregte in hierdie lewe, maar die ewige lewe het nie sondermeer gevolg nie.
~ Die besnydenis was deel van die steierwerk wat met die koms van Christus afgetakel is. Niemand wat Paulus se briewe lees, kan daaroor twyfel nie. Maar dat dit al eeue voor Sinaï ingestel is, is sekerlik nie sonder betekenis nie. Waarom? God het dit as teken ingestel om Sy volk van die heidene af te sonder. Kennelik het Hy
'n verbondsmerk as uiters belangrik geag. Daarom is dit nie verbasend nie dat ook die Nuwe Testament voortgaan met 'n uiterlike teken van verbondstoetrede - die doop.
• Dit is van die allergrootste belang om te verstaan dat God net een genadeverbond het. Gl 3:16 is in hierdie verband 'n sleutel: "God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie 'aan nakomelinge', meer as een nie, maar: 'en aan jou nakomeling', net een, en hierdie nakomeling is Christus." Ten diepste is die verbond dus 'n verbond tussen God die Vader en God die Seun - en wel in Sy hoedanigheid as die mens Christus Jesus (1Tm 2:5), die Adam en Verbondshoof van die nuwe mensheid (1Kor 15:45,47).
~ Hoe kry 'n sondaarmens dan deel aan hierdie verbond? As hy deur die geloof met Christus verenig word en sodoende ook 'n kind van Abraham word (Gl 3:6-7, 29). Deur die geloof word hy dus uit die ou Adam uitgehaal en in die laaste Adam ingeplant (vgl. Rm 5:12-21).
~ Dis belangrik om te verstaan dat ook Ou Testamentiese gelowiges deur die geloof alleen gered is (Rm 4). Wat sê dit? Ook húlle moes met Christus verenig word ten einde deel te kry aan die verbond! Hulle moes glo in wat Hy sou doen; soos ons moet glo in wat Hy gedoen het. Wat het hulle geloof behels? Dit het tot uitdrukking gekom in onderhouding van die seremoniële wette - begripvol (volgens God se openbaring tot op daardie stadium), nederig (in die bewussyn van eie sondigheid), opreg (meer as bloot uiterlike ritueel) en gelowig (in die vertroue dat die Lam wat Gód sou voorsien uiteindelik as finale offer vir sondaars sou sterf). En dit alles moes verpak wees in bekeerde en bekerende lewens voor die aangesig van hulle Verbondsgod - as bewys van die egtheid van hulle geloof.
~ Sedert die sondeval was daar gevolglik nog nooit sprake van enige redding, anders as deur geloof in Christus nie - die Hoof van God se nuwe skepping en mensheid. In Ou Testamentiese tye het hierdie geloof tot uitdrukking gekom in 'n vasgryp van God se beloftes oor Hom. Om met Hom deur die geloof verenig te word, was dus nog altyd die enigste manier om te ontvlug vanuit die gevalle mensheid in Adam en gevolglike veroordeling deur God (Rm 5:12-21; 1Kor 15:21-22). Die ou Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680), het dit kostelik gestel: There are but two men standing before God, Adam and Christ, and these two
men have all other men hanging on their girdles.
• Samehangend met God se openbaring in die Woord, het Sy heilshandele met Sy verbondsvolk 'n progressiewe, of ontwikkelende karakter gehad - totdat dit uiteindelik in die koms en werk van Jesus Christus gekulmineer het. Afgesien van gereelde verbondsvernuwing en ontwikkeling in die Ou Testament, is vir ons doel veral belangrik dat dit in twee duidelike fases uiteenval: die Ou Verbond (of Testament) en die Nuwe Verbond (of Testament). In hierdie verband is twee samehangende waarhede van die allergrootste belang:
~ Daar is net één genadeverbond. Dit is onteenseglik duidelik uit wat hierbo verduidelik is. Diegene wat voor Sy koms deur geloof met Christus verenig is, en diegene met wie dit daarna gebeur, sal uiteindelik sáám die vervolmaking van hulle verbondserfenis ontvang (Heb 11:39-40). Die kardinale punt is dit: daar is 'n onverbreekbare eenheid, 'n onmiskenbare kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.
~ Tog praat die Bybel ook in eksplisiete terme van die Ou Verbond en van die Nuwe Verbond (Heb 8, veral v.13). Kennelik is daar 'n verskil tussen die twee. Die volgende kardinale punt is dit: daar is 'n onderskeid, 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.
‘ Die kontinuïteit en eenheid tussen Ou en Nuwe Verbond is reeds beklemtoon en verduidelik. Nou moet nader gekyk word na die ander kant van die saak: die diskontinuïteit, oftewel die onderskeid.
DIE DUBBELE KARAKTER VAN DIE OU VERBOND
‘ Hierdie dubbele karakter kom tweërlei tot uitdrukking. Enersyds het dit in die aard van sowel die verbondsvoorregte as die verbondsverpligtinge gelê. Andersyds het dit tot 'n tweedeling van die verbondsvolk self gelei.
‘ Eerstens het die verbondsvoorregte en -verpligtinge 'n dubbele karakter gehad. Dis op meer as een manier te sien:
• Vanuit die tydelike en voorlopige aard van die Ou Verbond het sekere van die volk se voorregte en verpligtinge na vore gewys. Ware geloof het dus in 'n toekomsgerigtheid tot uitdrukking gekom.
~ As voorreg het hulle die
beloofde land, Kanaan, ontvang. Dit was egter ook 'n voorafskaduing van die ewige Kanaan wat hulle wat waarlik geglo het, sou ontvang (Heb 11:8-10; 13-16).
~ As verpligting moes hulle die offerdiens in stand hou. Dit was egter ook 'n voorafskaduing van die groot en finale offer van die Lam van God, aan Wie elkeen sou deel kry wat waarlik glo.
• Vanuit die hoofsaaklik uiterlike aard van die Ou Verbond, het sekere aspekte daarvan na binne gewys. Ware geloof het dus ook in hartsopregtheid tot uitdrukking gekom.
~ Die offer van 'n dier moes die mense daaraan herinner dat dit eintlik húlle was wat moes sterf. Hierdie handeling moes dus veel meer as 'n blote ritueel wees. Ten einde vir God aanvaarbaar te wees, moes die offeraar se handeling met innerlike verootmoediging en berou gepaard gaan. En die egtheid daarvan sou blyk uit 'n bekeerde en bekerende lewe volgens God se Wet.
~ Die besnydenis was iets uiterliks, aan die manlike geslagsorgaan. Maar dit het ook na binne gewys en moes die volk herinner aan die noodsaak van die besnydenis van die hart (Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4 ens.). Wat mense dus eintlik vir God aanvaarbaar gemaak het, was 'n heilige hartsgesteldheid - wat noodwendig tot 'n bekeerde en bekerende lewe lei.
‘ Tweedens het gehoorsaamheid aan bogenoemde - al dan nie - 'n tweedeling in die volk te weeg gebring.
• Die Ou Testament self maak toenemend duidelik dat net die gelowiges en opregtes (dus die bekeerdes en bekerendes - die besnedenes van hart) eintlik die ware verbondsvolk is en dus aan God behoort en die ewige lewe sal beërf. Regverdiging was immers van die begin af deur geloof alleen. Hierdie mense is die oorblyfsel, die seweduisend wat Baäl nie aanbid nie (1Kon 18:18). Dis sekerlik ook nie sonder betekenis nie dat hierdie tema al hoe meer aandag kry soos die Ou Testamentiese Godsopenbaring vorder. Vgl. byvoorbeeld Deut 4:23-31; Jes 6:13; 10:20-22; Eseg 5:1-4.
• Die Nuwe Testament is duidelik: die oorgrote meerderheid van die Ou Testamentiese verbondsvolk is nooit gered nie, maar het onder God se toorn gesterf (1Kor 10:1-5; Hb 3:7-9; Jud 5). Waarom? Van die toekomstige
en innerlike aspekte van die verbond het hulle niks verstaan nie! Anders as die oorblyfsel, God se uitverkorenes en gunsgenote, was hulle ongelowig, onopreg en ongehoorsaam!
ROMEINE 9 : DIE WARE ISRAEL
‘ Die Nuwe Testament bevestig hierdie dubbele karakter van die Ou Verbond in duidelike taal. Rom 9:6 en konteks is veral eksplisiet in hierdie verband:
• In die eerste verse van Rom 9 antwoord Paulus 'n vraag wat hy by sy lesers antisipeer. In Rom 8 gee hy die versekering dat die volharding en redding van God se uitverkorenes gewaarborg is, want dit is in God se ewige raadsplan gewortel. Die vraag kom nou asof vanself: Wat dan van die Jode? Was hulle nie God se uitverkore verbondsvolk nie? Tog het hulle Christus verwerp en is hulle gevolglik onder God se toorn (v.4-5).
• Dit beteken egter nie dat God se verlossingsplan en genadeverbond verydel is nie. Hoe so? "Immers nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie ..." (v.6). Daar is dus 'n ware en ewige Israel binne die uiterlike en tydelike Israel (nasionale Israel). En die verbondsbeloftes waarvan Rom 8 praat, is net van toepassing op hierdie ware Israel.
• In v.7-13 verduidelik en illustreer die apostel sy skokkende stelling in v.6. Hy gebruik twee voorbeelde: in v.7-9 die van Ismael en Isak, Abraham se kinders; en in v.10-13 die van Esau en Jakob, Isak en Rebekka se kinders.
~ V.7-9: Daar is soiets soos 'n nageslag én 'n nageslag; kinders én kinders. En daar is die wêreld se verskil tussen die twee. Daar is 'n nageslag in die natuurlike sin; maar dan is daar 'n nageslag deur wie God se verbond voortgedra word. Daar is die kinders van die vlees; en daar is die kinders van die belofte - die kinders van God. As dit dus by die verbond kom, is net sekeres kinders. Ismael het geen deel aan die genadeverbond gehad nie; Isak egter wel - en in hom, as God se uitverkorene en deel van die oorblyfsel, word die plan van God voortgedra.
~ V.10-13: Paulus antisipeer 'n beswaar. Ja, maar Ismael en Isak het twee verskillende ma's gehad. En in Ismael se geval het Abraham 'in die vlees' opgetree. Goed, sê Paulus, kom ons kyk na Esau en Jakob. Hulle het dieselfde pa en ma gehad; trouens, hulle was 'n tweeling. Tog, toe hulle nog in die moederskoot was, het God al 'n keuse
uitgeoefen! Net Jakob sou deel hê aan die genadeverbond. In hóm word die plan van God voortgedra.
• Dus, daar was 'n ware, uitverkore Israel binne die volk Israel. Almal was volledig betrokke by die tydelike en uiterlike aspekte van die verbond, maar nét die ware Israel was gunsgenote van die verbond.
‘ Ander Nuwe Testamentiese Skrifgedeeltes wat op dieselfde waarheid sinspeel, is Rom 2:28-29 en Fil 3:3.
JOHANNES DIE DOPER
‘ Johannes was die Messias se wegbereider. Hy het as 't ware met die een voet in die Ou Testament gestaan, en met die ander in die Nuwe. As sulks is sy prediking van die allergrootste openbaringshistoriese belang. Tewens, dit bevat die sleutel om die verhouding tussen die twee Testamente te verstaan. Matt 3:1-12 is gevolglik wonderlik verhelderend.
• V.2-3: Bekeer julle! Waarom? Die Koninkryk van die hemele het naby gekom! 'n Nuwe bedeling is op hande die regering van die Messias.
• V.5-6: Diegene wat hierdie profesie in die geloof omhels, word deur hom gedoop - met sondebelydenis.
• V.7-9: Die eiegeregtige Fariseërs en ongelowige Sadduseërs wil ook gedoop word. As kwalifikasie hiervoor beroep hulle hul op afstamming van Abraham. Maar dis nie voldoende nie. Daar is maar één kwalifikasie: bekeringsvrug!
• V.10 en 12: Die ou bedeling se einde is op hande. Nie langer gaan die dubbelslagtigheid van die Ou Testamentiese verbondsvolk voortduur nie! Die Koning gaan 'n skeiding bring!
~ Israel was tot nou toe soos 'n vrugteboord met twee soorte bome: die wat goeie vrugte dra en die wat niks dra nie. Maar hieraan gaan die Koning nou 'n einde bring. Sy byl is reeds in Sy hand. Élke boom wat nie vrug dra nie (bekeringsvrug, vanuit die konteks) gaan uitgekap en verbrand word. Van nou af sal daar in die Koning se boord nét bome wees wat vrug dra!
~ Om seker te maak die punt word nie gemis nie, herhaal Johannes dit aan die hand van 'n ander beeld. Israel was tot nou toe soos 'n dorsvloer waarop sowel koring as kaf lê. Aan hierdie vermenging gaan die Koning nou 'n einde bring. Sy skop is reeds in Sy hand. Die koring gaan Hy bewaar
en die kaf verbrand. Daar sal géén vermenging meer wees nie - Hy gaan die vloer deur en deur skoonmaak.
• V.11: Presies hóé gaan die Koning die skeiding te weeg bring? Ten einde dit volkome en finaal te maak, gaan hy dubbeld te werk gaan - negatief en positief. Wat meer is, die nuwe bedeling gaan baie heerliker as die oue wees.
~ Die bloot tydelike en uiterlike elemente van die Ou Verbond, asook diegene wie se verbondsonderhouding niks verder as dit gekom het nie, sal deur die vuur2 van Sy oordeel vernietig word3.
~ Die ware Israel, diegene wat deur geloof met Hom verenig is, sal deur die Koning oorspoel word met die oorvloedige werk van die Heilige Gees - ten einde die Ou Testamentiese beloftes oor die Nuwe Verbond in hulle te verwerklik (onder meer Deut 30:6; Jer 24:7; 31:31-34; Eseg 11:19-20; 36:22-32; Hos 2:13-22; Joël 2:28-32).

‘ Die skeiding sou dus dramaties en totaal wees. Diegene vir wie dit in die Ou Testament net om die uiterlike en tydelike gegaan het, sou finaal verwyder word uit God se verbondsopset. En diegene wat inderdaad aan Hom behoort, sou deur veel ryker begenadiging ver bo die belewinge van die Ou Testament se ware Israel uitgelig word.
HEBREËRS
‘ In die Hebreërboek rig die geïnspireerde skrywer hom tot Joodse Christene wat lam in die knieë is. Die eise van dissipelskap het te veel begin raak en hulle oorweeg dit om terug te keer na Ou Testamentiese seremoniële godsdiens.
‘ Hebreërs se waarskuwings teen so 'n omkeer kom met 'n dringendheid en 'n heilige verontwaardiging wat beswaarlik elders in die Nuwe Testament geëwenaar word. Dit word op elke denkbare manier verduidelik dat die seremonies van die Joodse godsdiens in Jesus Chrisus vervul is. Die geadresseerdes wil dus terugkeer na iets wat nie meer bestaan nie!
• Die ses pastorale waarskuwings in die boek vul enige Christen met die vrese van die Here (2:1-4; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39; 12:14-17; 12:25
29). So 'n terugdraai, word duidelik gesê, kom neer op 'n miskenning van wat God finaal en volmaak in Christus gedoen het. Dit word in skokkende sterk taal gesê. Dis so goed soos om die Seun van God weer te kruisig en te verag; om Hom openlik te bespot; om die bloed van die verbond te minag (Heb 6:6: 10:29). Só 'n ernstige saak is dit, dat diegene wat hulle daaraan skuldig maak, net een uiteinde het - die verskriklike toorn van God.
‘ Hebreërs se hele argument is gebaseer op die onderskeid tussen Ou en Nuwe Verbond - en besonderlik op die feit dat Ou Testamentiese seremonies in Jesus Christus vervul is. Die skrywer werk sterk met die Messiaanse belofte van Jer 31 (Heb 8:8-13; 10:15-18) om te toon dat die koms van die Nuwe Verbond 'n einde gebring het aan die uiterlike en skaduagtige elemente van die Ou Verbond (8:13). Diegene wat aan die Nuwe Verbond deel het, het nou die morele Wet in hulle denke en harte (8:10). Hulle is vrygespreek en almal ken die Here4 (8:11-12).
GEVOLGTREKKINGS
‘ Die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond word sketsmatig op die agterblad voorgestel.
‘ God het net een genadeverbond, en net een ewige Godsvolk - waaraan mens deel kry deur geloof in Christus, die Verbondshoof en Adam van die nuwe mensheid. Hierin lê die samebindende van God se raadsplan, van Sy verlossingsplan, en van die Woord as Sy besondere openbaring aan die mens. Daar is dus 'n kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.
‘ Tog is daar 'n dramatiese en uiters betekenisvolle onderskeid tussen Ou en Nuwe Verbond - en daarom tussen die dubbelslagtige Ou Testamentiese verbondsvolk en die Nuwe Testamentiese gemeente van toegewyde gelowiges. Hierdie twee verbondsbedelinge word geskei deur die vleeswording en werk van Christus, en die daarmee gepaardgaande uitstorting van die Heilige Gees. Daar is dus 'n diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond.
• Die Ou Verbond het in die teken van verwagting gestaan; die Nuwe staan in die teken van vervulling.
• Mense het deur natuurlike geboorte deel gekry aan die Ou Verbond - maar dit het op sigself nie
die ewige saligheid beteken nie. Daarvoor was besnydenis van die hart nodig. Aan die Nuwe Verbond kry mens egter deel, nie deur natuurlike geboorte nie, maar deur die wedergeboorte - en dit waarborg terselfdertyd die ewige saligheid.
• Die Nuwe Verbond is kwalitatief baie ryker as die Oue. Hierdie feit lê aan die hart van die Ou Testamentiese beloftes. Die Heilige Gees, as groot gawe van die eindtyd (die tydperk tussen Christus se eerste en tweede koms), het dit kom realiseer. Die Nuwe Verbond laat dus geen ruimte meer vir die dubbele karakter van die Ou Verbond nie.
‘ As dit gaan oor die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond, staar twee gevare ons in die gesig - gevare wat teologies verwringend is, en daarom katastrofies vir prediking, pastoraat en praktyk:
• 'n Verwaarlosing van die kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond. Diegene wat die wonderlike geïntegreerdheid van God se verlossingsplan en Woord miskyk, betaal 'n duur teologiese en pastorale prys daarvoor. Hulle kan geringskatting van die Ou Testament beswaarlik vermy, en mis sodoende groot stukke Godsopenbaring wat noodsaaklik is vir volwasse Christenskap. Ergste van alles is dat uiters belangrike aspekte van God se karakter en wese, wat net in die Ou Testament geopenbaar word, by hulle verbygaan. Uiteindelik masel hierdie dwaling uit in 'n eensydige beklemtoning van God se goedheid ten koste van die ewe belangrike belewing van Sy strengheid, en die gepaardgaande vrese van die Here (Rom 11:22).
• 'n Verwaarlosing van die diskontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond. Hierdie is geen ligtelike teologiese mistasting nie. Dit bring 'n subtiele veroutestamentisering van talle Nuwe Testamentiese waarhede mee. Nêrens het dit gevaarliker en meer Godonterende gevolge as in die soteriologie (verlossingsleer) en die ekklesiologie (die leer oor die kerk) nie.
KARDINAAL BELANGRIKE IMPLIKASIES
‘ Waar die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond reg verstaan word, sal die noodsaak van wedergeboorte - en dit wat daarmee saamhang - uiteraard sterk beklemtoon word (Jh 3:3-8). Die volle evangelie sal nie net na buite verkondig word nie, maar ook binne die gemeente. Gelowiges sal hulleself
gereeld ondersoek of hulle in die geloof lewe (2Kor 13:5); hulle sal hulle heil uitwerk met vrees en bewing (Fl 2:12-13; 2Pt 1:10-11, OAV). Die prediking sal huigelaars vir hulleself ontbloot. En gemeentekinders sal weet dat hulle nie op hulle ouers se geloof kan staatmaak vir redding nie, maar dat hulle self voor die Here aanspreeklik is. Waar die verskil tussen Ou en Nuwe verbond egter verwaarloos word, sal dit amper sonder uitsondering gepaard gaan met susprediking - en dikwels met dodelike dwalings soos die wederbarende werking van die doop (baptismal regeneration), en die veronderstelde wedergeboorte van verbondskinders. En talle wat onderweg is na die ewige verdoemenis, sal hulleself wysmaak dat hulle met God versoen is!
‘ Die Nuwe Testament praat in die mees verhewe terme oor die sentrale en Godverheerlikende rol van die ware gemeente in die Here se raadsplan (vgl. onder meer Jh 17:20-23; 2Kor 11:2-4; Ef 1:23; 3:9-11, 20-21; 4:1-16; 5:25-27, 32; Op 1-3; 19:7-8). Die uitlewing van hierdie grootse roeping hang egter ten nouste af van die kerk se suiwerheid en getrouheid. Wat bring méér oneer oor die Here se Naam as 'n wêreldgelykvormige instituut wat homself die kerk van Christus noem?
As die diepgaande verskille tussen die Ou en Nuwe Verbond verwaarloos word, bring dit noodwendig 'n veroutestamentisering van die kerk mee. Gou-gou lyk die gemeente dan soos Ou Testamentiese Israel - met 'n groot komponent (dikwels die meerderheid!) ongeredde lidmate. As dit eers die geval is, is ware kerkwees per definisie onmoontlik - want mense sonder die Gees kan nie eers begin om Nuwe Testamentiese standaarde te haal nie. As die verhouding tussen Ou en Nuwe Verbond egter reg verstaan word, word begryp dat die ware kerk 'n uit-die-wêreld-geroepte gemeente van gelowiges is, dissipels van Jesus Christus.. Nog meer, dan word begryp hoe kardinaal belangrik ware kerkwees is vir effektiewe evangelisering, vir die opbou van gelowiges, en vir die eer van God.
‘ Beide Ou en Nuwe Verbond het 'n verbondsteken wat volg op die deelkry daaraan: die besnydenis en die doop onderskeidelik. Wat die besnydenis vir die Ou Verbond was, is die doop vir die Nuwe. Die doop het dus in die plek van die besnydenis gekom. As die diskontinuïteit tussen Oue en Nuwe egter verwaarloos word, word hierdie analogie verskraal tot 'n simplistiese gelykstelling - met die kinderdoop tot gevolg.
As die verhouding egter reg verstaan word, lei dit glashelder duidelik tot die Nuwe Testamentiese doop - die doop van gelowiges, oftewel die belydenisdoop. Waar mens Ou Testamenties deel gekry het aan die Genadeverbond (in die ruimer sin) deur geboorte, kry jy immers nou daaraan deel deur die wedergeboorte. Dít is die kwalifikasie wat die analogie tussen doop en besnydenis beheers.
‘ Nooit kan die ondergaan van die Bybelse doop op sigself 'n persoon se redding verseker nie. Maar ewe waar is dit dat iemand wat die implikasies van die Bybelse doop verstaan, maar hom of haar tog nie laat doop nie, nie daarop kan peil trek dat hy of sy die finale oordeel van Christus met vertroue tegemoet kan gaan nie. Ewe min kan iemand wat hom of haar in die geheim laat doop en daarna voortgaan asof niks gebeur het nie, daarop staat maak dat hy of sy op daardie dag deur Christus voor Sy Vader bely sal word. Nee, 'n duisend maal nee, die doop is 'n publieke standpunt-inname vir en belydenis van Jesus Christus en die eerste tree op die pad van gehoorsaamheid aan Hom. 'n Ware gelowige wat die belydenisdoop ondergaan, sal die gevolge daarvan rustig in die hande laat van die soewereine Koning ongeag of dit die brandstapel is, of bloot sosiale verwerping, of absoluut niks nie.
SLOT
Mag elkeen wat hier gelees het, begryp dat dit waaroor ons dit gehad het, nie 'n saak van mindere belang is nie. Mag dit hom of haar dring tot ernstige selfondersoek - en eerlike standpuntinname. Waarom is dit belangrik? Wel, dit gaan oor die waarheid, oor die suiwerheid van die kerk, oor gehoorsaamheid aan en die eer van Jesus Christus, die Here van die here, die Koning van die konings.



Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis (soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges en gemeentes in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale in Engels per epos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No. 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika; E: nico.vanderwalt@reformed.org.za T: 082 848 9396.
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (plus nog 4 blogs - adresse by genoemde adres)
• Nico het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna vir 'n dekade as Siviele Ingenieur gewerk (as konstruksieingenieur en universiteitsdosent). Na 'n radikale Christelike bekering en daaropvolgende teologiese studie aan die Potchefstroomse Universiteit, was hy vir ongeveer drie dekades veral stigterspredikant van twee gemeentes in die Vaaldriehoek en Pretoria. Hy was ook vir 'n stuk of twaalf, dertien jaar 'n dosent aan die Lynnwoodrif Bybelskool. Die afgelope paar jaar wy hy meeste van sy tyd aan skryfwerk en prediking waar hy ook al uitgenooi word.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3945
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Ma Jul 22, 2019 10:40 am

OM GOD TE KEN

Ons heel hoogste roeping


Nico van der Walt



Niks is belangriker vir die individuele gelowige, die kerk en die teologie as ware kennis van die Drie-enige God nie. Enersyds is dit waar dat onwaardige opinies oor God aan die wortel van feitlik alle gebreke en dwalinge in die kerk lê. Andersyds is dit ewe waar dat daar nooit 'n egte herlewing was waarin 'n diep ontsag vir God nie 'n fundamentele rol gespeel het nie. En ontsag vir God is 'n uitvloeisel van die kennis van God. Niks gee dus dieper insig in 'n gemeente, 'n persoon of 'n prediker nie, as die hartsoortuiginge wat oor God gehuldig word. En, laat ons onthou, hierdie oortuiginge kom onfeilbaar tot uitdrukking - óf in woorde en dade, óf in swye en nalatings.
'N WESENSBELANGRIKE SAAK
‘ Dis 'n alledaagsheid om te hoor dat Christene los en vas praat oor 'n persoonlike verhouding met God. Bestaan daar so iets? En wat beteken dit in praktiese terme? Die Bybel praat nie in soveel woorde van 'n persoonlike verhouding met God nie. Maar die saak lê gewis aan die hart van Christen-wees en die nuwe lewe wat gelowiges van God ontvang. Die Bybel gebruik daarvoor die uitdrukking, om God te ken.
‘ Keer op keer en konsekwent beklemtoon die Bybel die
belangrikheid van die kennis van die Here:
• Jer 9:23-24 (OAV): "So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek 'n behae ...".
• Hosea praat baie hieroor. Ons kyk na die OAV: In 2:17-19 belowe die Here: "Verder sluit Ek in dié dag vir hulle 'n verbond ... Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken". Dan treur die profeet omdat sy volk te gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis (4:6). Van watse kennis praat hy? Enkele verse vroeër verskaf hy die antwoord: "... die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie" (4:1). Uiteindelik rig Hosea 'n dringende oproep tot sy volksgenote in 6:3: "En laat ons ken - laat ons dit najaag om die Here te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei." En hy rugsteun die oproep met 'n versekering van die Here: "Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers" (6:6).
• In Sy hoëpriesterlike gebed sê die Here Jesus: "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is" (Jh 17:3).
‘ As mens na die Bybel se talle uitsprake oor die waarde en noodsaaklikheid van die kennis van die Here kyk, sien jy o.a. die volgende:
• Dis die wese van die ewige lewe (Jh 17:3).
• Dis die mens se hoogste roeping (Hos 6:3; Miga 6:8; Fil 3:810).
• Dis die hart van die lewe in die Nuwe Verbond (Hos 2:17-19).
• Dis wat God behaag (Hos 4:1, 6; 6:6; Mal 3:16-17).
• Dis ons hoogste roem en voorreg (Jer 9:23-24).
• Dis ware geleerdheid en die hoeksteen van waarheidsteologie (Spr 9:10, OAV).
• Dis altyd intiem verweefd met w a r e w y s h e i d e n onderskeidingsvermoë (Eks 33:13).
• Dis 'n kanaal waardeur genade, vrede en godsvrug in ons lewens invloei (2Pt 1:2-3, OAV).
• Dis 'n sleutel tot Christelike gehoorsaamheid en liefde (1Jh 2:34; 4:7-8).
WAT IS DIE KENNIS VAN GOD?
‘ Allereers moet twee penne stewig ingeslaan word:
• Eerstens: sowel die Hebreeus as die Grieks vir "ken" is vol en gelaaide begrippe: om deur waarneming, oordenking en ervaring te ken. Dit het dus te doen met sowel objektiewe kennis as subjektiewe belewing.
~ Die Bybelse begrip "om te ken" dui dikwels op 'n intieme verhouding en gemeenskap tussen persone. In Gen 4:1word die woord gebruik:"En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword ..." (OAV).
• Tweedens: as mens Bybels wil omskryf wat die kennis van God behels, val dit op hoe dikwels dit in verband gebring word met 'n begrip en 'n belewing van Sy attribute, oftewel, die uitnemendhede van Sy karakter. Kyk byvoorbeeld weer na Jer 9:24 (OAV) en Hos 2:18-19, hierbo aangehaal.
‘ Kennis van God het drie onderskeibare, maar onskeibare elemente. Tot die mate wat dit 'n werklikheid in my lewe is, tot daardie mate kén ek God.
Kennis van God is begrip van wat God Drie-enig oor Homself openbaar, wat saamhang met 'n voortgaande, bewustelike en persoonlike wandel met Hom, wat meebring insig in Sy wil en weë.
‘ Die eerste element het te doen met begrip van dit wat God oor Homself in die Skrif geopenbaar het. Dit het daarom te doen met denke en studie. In1Jh 5:20 skryf die apostel: "En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken ...".
• Omdat die kennis van God méér is as op hoogte wees met feite oor Hom, reken sommige hulle kan wegkom daarsónder. Omdat intellektuele kennis nie genoeg is nie, reken hulle dis nie nodig nie - en dis 'n fatale fout! Hoe kan kennis ooit moontlik wees sonder begrip; trouens, kennis neem toe met begrip.
• Sonder gedissiplineerde, intellektuele (en biddende) bestudering van wat God oor Homself in die Skrif openbaar, verval ons in 'n moeras van subjektiewe en
eensydige willekeur. En misleiding is onvermydelik: ons skep 'n god na óns beeld. Dit lei dus tot effektiewe afgodery en al die verwronge lewensuitinge wat noodwendig daaruit voortkom. Wie in 'n denkbeeldige god glo, sal met 'n denkbeeldige verlossing tevrede moet wees.
• J.I.Packer sê oor die bestudering van God se karakter in die Skrif: "No topic is greater, grander, or more important, and by the same token none is more demanding. It is the theological Mount Everest, and no one ever masters it or does it full justice."
‘ Die tweede element het te doen met gemeenskap met God. Henog van ouds "het met God gewandel" (Gen 5:22, 24, OAV). Om God te ken is dus ook 'n persoonlike verhoudingservaring.
My wandel met God kom tweeërlei tot uitdrukking: in gelowige herkenning, dankbare belewing en vererende erkenning van Sy attribute in aksie in my lewe en in geloofsvertroue in, asook liefdestoewyding en dankbare gehoorsaamheid aan Hom.
• Dis goed, trouens, baie nodig om oor God na te dink in filosofiese en objektiewe terme. Maar ons mag nooit by die bloot teologiese ophou nie. God het Homself nie aan die mens geopenbaar met die oog op die intellektuele en die spekulatiewe nie. Nee, Hy het Homself aan ons geopenbaar sodat ons Hom daarvolgens sal aanbid, liefhê en dien. Dis waarom die Bybel, as dit oor God praat, nie volstaan met abstrakte mededelings oor Hom nie, maar soos klokslag deursteek na die belewing van Sy attribute in persoonlike en alledaags-menslike terme. Nooit beskou die Bybel 'n waarheid as geken, voordat dit nie die leerling se lewe beheers nie. En van niks geld dit meer as van die kennis van die Here nie.
• Dit is dus nodig om hierdie kant van die kennis van die Here te beklemtoon, ten einde nie in 'n bloot serebrale en skolastiese Godsbeskouing te verval nie - iets wat leerstellig baie suiwer mag wees, dog terselfdertyd emosioneel en geestelik morsdood. Maar dis ewe belangrik om te onthou - bogenoemde definisie maak dit duidelik - dat die rykdom en diepgang van my wandel met die Here afhanklik is van die begripsgreep wat ek op Sy selfopenbaring en beloftes het.
• Om met God te wandel, is nie 'n subjektivistiese, mistieke dialoog soos sommige voorgee om te geniet nie. Enersyds is dit om gelowig deur die steeds beter gepoleerde bril van
die Woord na my ganse lewe te kyk. So sien ek dan in my omstandighede en lewensvoortgang God se intieme betrokkenheid by my raak. Andersyds is dit om gelowig al die praktiese implikasies uit te leef van dit wat die Here oor Homself geopenbaar het, en dit wat Hy uitdruklik in Sy Woord aan my beveel het. Dis met ander woorde my respons op Sy reddende inisiatiewe, Sy voortgaande liefdestrou en Sy soewereine regering in my lewe. Só word die hart van die genadeverbond - dat die Here vir my 'n Vader sal wees en dat ek vir Hom 'n kind moet wees - 'n daaglikse ervaringswerklikheid.
• Luther het gesê: "Godsdiens is 'n saak van persoonlike voornaamwoorde." Dit word pragtig geïllustreer in Dawid se lewe - veral soos dit in die Psalms tot uitdrukking kom. Neem byvoorbeeld Ps 139: hy skryf oor God se verhewe karaktertrekke - Sy alwetenheid, alomteenwoordigheid en almag. Maar hy doen dit nie in abstrakte terme soos mens dalk sou verwag nie; hy doen dit aan die hand van sy persoonlike ervaringe daarvan.
~ Die Naam van die Here word 6 maal genoem; en persoonlike voornaamwoorde wat na Hom verwys ongeveer 30 keer. En na homself verwys Dawid 'n stuk of 50 keer. Dus, in Dawid se diepste godsdiens-belewinge is daar eintlik net twee betrokkenes - hyself, en die Here. Daarom praat hy nie van "Hy" nie, maar van "U"; nie van "mense" nie, maar van "ek".
‘ Die derde element het te doen met 'n insig in God se wil en weë. Volgens die NIV pleit Moses só in Eks 33:13 by die Here: "If you are pleased with me, teach me your ways so I may know you and continue to find favour with you." Ps 103:7 (OAV) sê dan: "Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade."
• Dit gaan hier oor 'n wysheid en 'n voortgaande vernuwing van denke wat my help om mý rol in die uitwerk van God se wil vir my lewe duidelik te onderskei. Rm 12:2 vat dit presies raak: "Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is."
• Hierdie saak het egter met meer as my persoonlike gehoorsaamheid te doen. Dis ook 'n insig in hoe die Here normaalweg in hierdie wêreld, in Sy kerk en met mense werk of nie werk nie. Dis 'n begrip van Sy ordes en die toepassing van Sy universele beginsels. Dis 'n verstaan van Sy voorkeure en afkeure - van dit wat Hom behaag en dit wat Hom vertoorn.
• Hierdie aspek van die kennis van God neem geleidelik gestalte aan tot die mate wat die eerste twee toenemend 'n werklikheid in my lewe word.
ENKELE RIGLYNE ONDERWEG NA DIE KENNIS VAN DIE HERE
‘ Allereers moet ek aanvaar dat ek geen hoër roeping het nie as om die kennis van God - omvangryk verstaan soos hierbo - na te jaag.
• Miga 6:8: "Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?" (OAV). Fl 3:8-10: "... om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde ... Al wat ek wens, is om Christus te ken ..."
• Die Westminster Shorter Catechism, vraag en antwoord 1: "What is the chief end of man? Man's chief end is to glorify God, and to enjoy him forever."
‘ Laat ek dit met beide arms omhels: God wíl Homself aan my openbaar en met my wandel. Dit lê tewens aan die hart van Sy beloftes vir die Nuwe Verbond (Hos 2:18-19; Jer 31:31-34).
‘ My gerigtheid moet God persóónlik wees - dus die Gewer, en nie bloot Sy gawes nie! Wat kan 'n groter belediging wees as om net in iemand belang te stel ter wille van wat jy uit hom kan kry?
‘ God kan slegs in en deur Jesus Christus geken word.
• Enersyds is die mens-geworde Woord God se hoogste, volmaakte en finale openbaring aan ons (Jh 1:14; 14:8-9). Mens kan God nie na behore ken as jy nie lank en intens en weer en weer na die Here Jesus kyk nie. Hb 1:3 stel dit só: "Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God." Christus is die helderste venster waardeur ons sien wie en wat God is!
• Andersyds is Christus die enigste Middelaar tussen God en mense. Sonder Hom kan daar geen gemeenskap met God wees nie (Jh 14:6; Hd 4:12; 1Tm 2:5).
‘ Hierdie openbaring geskied deur Woord en Gees.
• Natuurlik kan God se ewige krag en goddelikheid in die algemene openbaring - die natuur gesien word (Rm 1:20). Maar dis nie naastenby genoegsaam om ons tot 'n lewende verhoudingskennis van God te lei nie. Daarvoor is ons gans en al van Sy besondere openbaring in die Woord afhanklik - die Skriftuur wat as sentrale tema God se selfopenbaring in Christus het.
Daarin het ons alles wat mag nodig wees om God te ken soos ons moet.
• Dit beteken nie dat ek nou maar die Bybel soos enige boek kan bestudeer ten einde te begryp wat dit wil kommunikeer nie. God se waarheid - veral die geheimenisse van die Nuwe Verbond - bly geslote vir ons tensy die Heilige Gees ons innerlik verlig. Ja, dis ék wat die kennis van God moet soek, maar dit sal slegs tot iets kom indien dit in biddende afhanklikheid geskied. Ek kan God nét ken in soverre Hy Homself deur Sy Gees aan my openbaar (Mt 11:27; 16:15-17; 1Kor 2:6-16).
‘ Sonder gereelde, gedissiplineerde en volhardende gebed vorder ons nie 'n duim op hierdie pad van die hoogste roeping nie. Dis immers wanneer ons gemeenskap met God op sy innigste beleef.
• Vraag en antwoord 116 van die Heidelbergse Kategismus: Waarom is gebed vir die Christene nodig? Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons vorder, en omdat God sy genade en die Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank. Is vordering in die kennis van die Here nie deur en deur genade nie? En kan daar sonder die Heilige Gees enige sprake van vordering wees?
‘ Die kennis van God - in die besonder die wandel met Hom lewer sonder uitsondering sy kwota emosionele ervarings op. Kan 'n verhouding daarsonder 'n liéfdesverhouding wees? Maar, die norm vir alle Christelike belewing geld ook hier: dis nét eg indien dit Bybelse waarheid as groeibodem het.
‘ God openbaar Homself net aan nederige, kinderlike en diep afhanklike geloof (Mt 11:25-30). Hooghartige beterweterigheid sal niks vorder nie; kieskeurigheid is tot mislukking gedoem.
‘ Die kennis van God is nie vir terloopse en dubbelhartige soekers nie. Dis iets wat mens doelgerig, gedissiplineerd en volhardend moet "najaag" (Hos 6:3, OAV).
• Jer 29:13: "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (OAV).
‘ Die kennis van God is vir hulle wat die Here in toegewyde liefdesgehoorsaamheid dien.
• Jh 14:21, 23: "Wie my opdragte het en dit uitvoer - dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar... As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon."
‘ Wie God wil leer ken, moet tevrede wees om nie net die aangename uit Sy hand te ontvang nie, maar ook Sy dissipline en tugtiging (Hb 12:4-12).
‘ Les bes moet die bergpad na die hoogtes van Godskennis sélf geloop word.
• Weliswaar sal min dinge my méér help as om by broers en susters met dieselfde hartstog in te haak.
• Maar in die finale analise moet elkeen sy eie pak dra. En groot dele van die roete is in elk geval op rotslysies waar net een op 'n slag kan beweeg. En hoe hoër mens vorder, hoe meer is dit die geval.



• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5 - 'n assosiasie van (tans) meer as 50 Godgesentreerde evangeliese gemeentes in ongeveer 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar (almal onderskryf bg. belydenis).
• Gereeld word 'n preek / studiestuk soos hierdie (as 'n reël in Afrikaans) wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnetsuite 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 848 9396
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3945
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Di Jul 23, 2019 11:10 am

DIE KERK EN DIE STAAT

Bybelse beginsels wat, as dit maar deur die eeue gerespekteer en gehoorsaam was, oneindig baie godonterende smarte sou verhoed het.


Nico van der Walt



OOR ONS ONDERWERP is geen gedeelte in die Nuwe Testament belangriker as Rm 13:1-7 nie. Minstens 4 uiters belangrike beginsels hieroor kom daarin na vore. Maar eers is 'n historiese inleiding nodig - juis omdat die verhouding tussen kerk en staat so 'n kardinaal belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van die kerkgeskiedenis. Daar was deur die eeue 'n intense stryd tussen die twee instansies om oppermag, en gewis was dit een van die invloedrykste faktore in die vorming van die kerk (en sekerlik die staat) soos ons dit vandag ken. Tot vandag toe heers daar baie verwarring in Christengemoedere oor hierdie saak. Spesifiek hier by ons was skewe sieninge voor 1994 aan die orde van die dag, en sedertdien gaan talle kerke steeds deur 'n moeilike identiteitskrisis in hul soeke na hulle plek in 'n nuwe Suid-Afrika. 'n Historiese voëlvlug oor die verhouding tussen kerk en staat klaar egter baie vrae op.
DIE VERHOUDING TUSSEN KERK EN STAAT IN DIE GESKIEDENIS1 Sakralisme
‘ Deur die eeue was daar twee
uiterste standpunte wat hierdie verhouding betref - en nie een het gehelp om die verwarring op te klaar nie; inteendeel.
• Eerstens was daar dikwels 'n verwarring oor en oorvleueling van die rolle van kerk en staat. Dit lei dan dikwels tot iets van 'n gelykstelling van kerk en nasie - soos in die stelling: "die Afrikaners is (was) 'n Christenvolk."
• Daarenteen kry jy in die geskiedenis soms 'n radikale skeiding tussen die staat en die kerk, wat tot 'n groot mate neerkom op 'n skeiding tussen die staat en God. Hiervolgens het Christene niks met politiek te doen nie (piëtisme) en die staat heers outonoom met sy gesag gebaseer op die wil van die volk - die vox populi. Dit hang gewoonlik saam met humanistiese sekularisme.
‘ Alle vo or - C hr is t e lik e gemeenskappe was sakraal van aard. Dit is wanneer 'n volk saamgebind word deur 'n gemeenskaplike religieuse lojaliteit - wanneer almal toegewy is aan dieselfde godsdiens.
• Babilon was 'n voorbeeld hiervan. In Dn 3 lees ons hoe een en elkeen koning Nebukadnesar se goue beeld moes aanbid.
• Ook die Ou Testamentiese verbondsvolk was so 'n monolitiese, sakrale gemeenskap. Wat die godsdiens betref, was daar geen sprake van 'n vrye keuse nie. Dis waarom die Jode van Jesus se dag nie vrede daarmee kon maak om belasting aan die Romeinse keiser te betaal nie. Toe hulle Jesus in 'n strik wou lei, het hulle hom gevra of Hy dink dis geoorloof om dit te doen (Mt 22:15-22). Die Here se antwoord is vol betekenis: "Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort." Die implikasie is duidelik: hier is twee afsonderlike lewensfere wat mens uitmekaar moet hou; trouens, jy moenie dit laat vervloei nie. Die Nuwe Testament, in die besonder die Here Jesus, het dus 'n radikaal nuwe idee in die wêreld van destyds ingedra. Wat vandag vir ons grootliks voor die hand liggend en alledaags is, was tóé rewolusionêr. Niemand het ooit vantevore godsdiens en regering só van mekaar geskei nie.
‘ Sonder dat die Nuwe Testament enigsins legitimiteit verleen aan enige nie-Christelike godsdiens, aanvaar dit die féít van 'n verskeidenheid van godsdienste in 'n gevalle wêreld. Dit aanvaar dat die gemeenskap 'n samestelling van verskillende belangegroepe en lewensfere is. Dit aanvaar dat die samelewing nie homogeen is nie, maar heterogeen. Dit aanvaar die feit dat almal nie in dieselfde tempel aanbid nie. Wat die Nuwe Testament betref, kan twee mense rustig en in vrede op
die markplein met mekaar handel dryf, al verskil hulle religieus soos dag en nag.
• Die Nuwe Testament voer dus iets radikaals nuut in die wêreld van destyds in: die aanvaarding van 'n gemeenskap waarin keuse ingebou is. Die voor-Christelike wêreld was voor die voet amper keuseloos.
• Die Here Jesus leer oor en oor:
~ Die samelewing bestaan uit 2 groepe mense: hulle wat aan Hom behoort, en die res. So praat Mt 7 byvoorbeeld van twee poorte, twee paaie, twee huise, twee fondasies, twee bestemmings.
~ Sy dissipels is in, maar nie van die wêreld nie.
~ Sy dissipels is die sout van die aarde. Sout is totaal anders as die vleis wat dit moet bewaar; en tog werk dit net as daar intieme kontak is.
~ In die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Mt 13:2430) groei die koring tot en met die oesdag sy aan sy met die onkruid.
~ Die skeidslyne in die saamgestelde samelewing loop regdeur gesinne en families: "Ek het gekom om tweedrag te bring tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees" (Mt 10:35-36).
• Waarlik, die Here Jesus het gekom om 'n nuwe mensheid middein die ou mensheid te skep - vreemdelinge, bywoners en pelgrims in hierdie wêreld.
• Die vroeë kerk het dit verstaan. Diognetus skryf: "Hulle (Christene) bewoon die land van hulle geboorte, maar as bywoners en reisigers; hulle neem aan alles as burgers deel, maar beleef dit tog soos besoekers. Elke vreemde land is vir hulle soos 'n vaderland, en elke vaderland soos 'n vreemde land. Hulle woon op aarde, maar hulle burgerskap is in die hemel."
‘ Die grootste enkele rede vir die vervolging van Christene in die eerste eeue deur die Jode en die Romeine, is die feit dat sakrale stelsels geen vreemde boodskap kan duld nie - want dit bedreig die kulturele en godsdienstige homogeniteit.
• Die idee agter al die godsdienste wat vanuit die mens ontwikkel, is do ut des: ek gee sodat jy sal gee. Mens dien dus die gode sodat hulle na jou kan omsien. Nou volg dit noodwendig: godsdienstige afvalligheid vertoorn die gode en lei gevolglik tot straf. Katastrofes beteken daarom dat die gode kwaad is. Volgens die Romeine het die Christene - "ateïste" deur
hulle genoem - die gode uitgedaag. En as sodanig was die dissipels van Jesus se godsdienstige jukskeibrekery die oorsaak van min of meer alle rampe. Om hulle te vervolg, sou dus die gode paai en as sodanig versoeningswaarde hê.
Die kerk se sondeval
‘ Die vierde eeu het egter radikale veranderinge gebring. Ten spyte van felle vervolging het die kerk tydens die voorafgaande eeue met rasse skrede gegroei. Daarteenoor het dit al hoe slegter met die Romeinse Ryk gegaan. Sommige heidense denkers het gevolglik só begin redeneer: Aangesien die Christene se God kennelik sterker is as die Romeine se gode, moet die tradisionele gode dalk plek maak vir die Christelike God. Dan sal dit weer beter gaan met die Ryk.
‘ Ongelukkig het sommige naïewe Christenleiers hierin 'n geleentheid gesien - sonder om die Here Jesus se woorde in ag te neem, "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie." Wat hulle betref, sou dit 'n wonderlike koninkryksdeurbraak wees as die Romeinse Ryk húlle geloof aanneem. Reeds in 250 n.C. het Origines voorbrand hiervoor begin maak: "As die hele Romeinse Ryk sou verenig in aanbidding van die ware God, sal Hý vir hulle veg." Christelike sakralisme het sy lelike kop begin optel!
‘ En inderdaad het Christelike sakralisme (as daar so iets kan wees) in die tyd van keiser Konstantyn 'n werklikheid geword.
• As Konstantyn (274-337) keiser word, erf hy groot probleme. Die Ryk was besig om uit mekaar uit te val. Maar dan kry hy (so het hy getuig) sy baie bekende visioen: 'n kruis in die wolke. En volgens hom hoor hy hierdie woorde: In hoc signo vinces (Oorwin in hierdie teken!). Hy het duidelik min van die evangelie verstaan, aangesien hierdie sogenaamde visioen 'n radikaal onbybelse betekenis in die kruis inlees.
• Konstantyn het homself wysgemaak dat die evangelie die kuur is wat die Ryk sou red. Daarvoor was dit egter nodig dat die ganse bevolking die evangelie aanneem - almal moes in die kerk wees. Religieuse konsensus was die antwoord - so het hy geglo.
• Hoe gemaak? Die kinderdoop (wat sedert die begin van die derde eeu wel op 'n baie beperkte skaal voorgekom het) sou die instrument word om een en elkeen tot die institusionele kerk toe te voeg. Per slot van rekening is dit makliker om iemand water toe te dra, as om hom self soontoe te laat loop. Van nou af sou elke nuwe aankomeling in die Romeinse Ryk op hierdie wyse deel van die kerk word en sou die hele bevolking, kop vir kop, binne een
geslag deel daarvan wees - en die Romeinse Ryk sou die Heilige Romeinse Ryk word! En hierdie ryk sou 'n nuwe god hê om na hom om te sien. So het Konstantyn geredeneer.
• Teen die einde van die vierde eeu het die Christelike geloof dan ook onder Theodosius I die enigste wettige godsdiens van die ryk geword - tipies van 'n sakralistiese stelsel.
‘ Die wiel draai, word gesê. En inderdaad, want die vervolging wat die Christene altyd gely het, het nou op die aanhangers van die tradisionele heidense godsdienste neergekom. Skielik het die vervolgdes die vervolgers geword, en omgekeerd. Soos altyd, het die nuwe sakralisme weereens min geduld gehad met jukskeibrekers.
• Ware Christene, wat geweet het waaroor dit regtig gaan, kon die nuwe bedeling hoegenaamd nie aanvaar nie. En so het die Donatisme ontstaan. Dit was 'n protesbeweging teen die huwelik tussen staat en kerk, asook teen die tragiese vervlakking wat as gevolg daarvan binne die institusionele kerk ontstaan het.
‘ Die vraag was: wat is die aard van die ware kerk? En in watter verhouding staan dit teenoor die wêreld om hom? Die antwoorde hierop het uiteengeval in twee wedersyds uitsluitende antwoorde.
• Die Corpus Christianum standpunt het gedink in terme van 'n liggaam van Christelikes - 'n Christelike samelewing, met 'n kerk wat almal voor die voet insluit. Dit was die standpunt van die owerhede en die staatskerk van destyds. Dit was dan ook tot baie onlangs die beheersende in Afrikanerdenke.
• Die Corpus Christi-standpunt het gedink in terme van die liggaam van Christus - wat as 'n kleiner (meestal baie kleiner) en radikaal verskillende gemeenskap van ware gelowiges binne die breër samelewing bestaan. Dit was die standpunt van die Donatiste en andere wat soos hulle as sektaries gebrandmerk is.
‘ Donatisme is uiteindelik onderdruk, en die Rooms Katolieke Kerk is gebore. Van nou af sou Christelike sakralisme en die Corpus Christianum-idee die septer swaai.
Die sestiende eeuse Reformasie
‘ 'n Duisend jaar later sou die eerste Reformatore gekonfronteer word met die sakralisme wat steeds in Europa die botoon gevoer het.
• Aan die begin wou die vroeë Hervormers, Luther en Zwingli, die huwelik tussen kerk en staat ontbind. Ook is dit gedokumenteer dat hulle aanvanklik wou ontslae raak van dit wat sakralisme in stand hou, naamlik
die kinderdoop.2
• Die staat het egter onmiddellik met 'n ysterhand ingegryp. Só maklik sou hy nie sy greep op die volk afstaan nie. Want die owerhede het geweet dat jy 'n samelewing beheer as jy sy godsdienstige sentimente beheer (méér was dit selde). En hierdie beheer sou spoedig uit hulle hande glip as die belydenisdoop weer algemene praktyk sou word. 'n Groot meerderheid van die samelewing sou hulle immers nie laat doop nie, en hulleself gevolglik nie as gelowiges en deel van die kerk ag nie. Voorts het die owerhede geweet dat jy een groot instituut - die staatskerk - kan beheer, maar dat dit onmoontlik word in die geval van 'n groot verskeidenheid kleiner groepe wat hulle in afsonderlike en onafhanklike gemeentes bevind. Voeg daarby dat sulke gelowiges - anders as die massas in die volkskerk wat skaapagtig agter hulle leiers aanstap - as 'n reël mense van oortuiging is wat dinge verstaan en vir hulleself dink, en jy begryp waarom destyds se staatsowerhede die belydenisdoop met die swaard vervolg het.
• Die Reformatore was dus vasgevang in 'n verskriklike dilemma.
Óf hulle moes sterf vir kardinaal belangrike waarheid (die Corpus Christi-waarheid), óf hulle moes daarvan vergeet en bly lewe om 'n ander fundamentele waarheid te verkondig aan 'n Europa in geestelike stikdonkerte. Anders as die Anabaptiste (wederdopers), het hulle gekies om kompromie te maak en te bly lewe en voort te gaan met die prediking van regverdiging deur die geloof alleen (met behoud van die kinderdoop). En dit sou hulle onder die beskermende vlerke van moedertjie staat doen.
‘ Noodwendig het daar op hierdie punt 'n skeuring in die geledere van die pasgebore reformasiebeweging ontstaan. Die Anabaptiste het die Reformatore van skreiende kompromie beskuldig. Hulle standpunt was dat dit van lewensbelang is dat die kerk waarlik kerk moet wees, en dat dissipels van die Here Jesus bloot die roeping het om Hom te gehoorsaam, terwyl hulle die gevolge in Sy hande laat. In beginsel is hulle natuurlik reg, maar wie van ons sien kans om die reformatore te veroordeel? Alhoewel, dink mens aan wat hulle kompromie deur die volgende eeue tot vandag toe veroorsaak het, is jy skielik nie meer so verdraagsaam nie!
• Inderdaad is tienduisende Anabaptiste ("wedrdopers!") in die volgende jare vermoor - deur veral die staat en die Rooms-Katolieke Kerk. Maar helaas was die
Reformatore en hulle medewerkers se hande nie heeltemal sonder bloed nie. Want kompromie bring altyd onsekerheid, en onsekerheid bring hardvogtigheid.
• Natuurlik moes die Reformatore hulle besluit en standpunt probeer regverdig. Die Ou Testament - sakraal in sy boodskap en praktyk - is sonder behoorlike i n a g n e m i n g v a n d i e openbaringsgeskiedenis se ontwikkeling, hiervoor ingespan. Om die kinderdoop te regverdig, is die kontinuïteit tussen Ou en Nuwe Verbond oorbeklemtoon, terwyl die diskontinuïteite - soos duidelik deur die Nuwe Testament geleer - verwaarloos is. En gou-gou het Christelike sakralisme, sogenaamd, en die kinderdoop meer aansien as ooit geniet.
‘ Die Reformatore het spoedig begin om belydenisskrifte te skryf - waarvoor die kerk van alle eeue hulle innig dankbaar moet wees. Een probleem het egter soos 'n seer duim bly uitstaan: sakralisme en die gepaardgaande kinderdoop. En omdat ons van formele belydenisskrifte praat, beteken dit dat die probleem in beton gegiet is.
• Vergelyk byvoorbeeld die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 36. Hierteenoor het die Anabaptiste, en die latere Baptiste, konsekwent gepleit vir die skeiding tussen kerk en staat.
Die geskiedenis help ons om vandag te verstaan
Hier het ons die historiese redes vir die hardnekkige vashou aan die kinderdoop tot vandag toe - 'n praktyk wat net eenvoudig nie die toets van 'n nugtere Skrifondersoek kan slaag nie. En hier is die historiese redes vir die sakralisme wat vir soveel jare die Afrikaner se denke oorheers het, en verantwoordelik was vir soveel ellende in die Afrikanerpolitiek. En hier is die historiese redes vir baie van die (onnodige) wroeginge waardeur talle Afrikaner-Christene sedert 1994 gaan. Laat ons onthou dat wat Christene tans in ons land ervaar, tipies is van die vreemdelingskap wat die ware kerk deur die eeue en orals ter wêreld ervaar. Trouens, dit gaan met ons nog baie, baie goed. Hierdie historiese agtergrond help om die uiters belangrike implikasies van Rm 13 des te beter te begryp.
VIER FUNDAM ENT EL E BEGINSELS IN RM 13 1. Alle regerende gesag word soewerein deur God ingestel (Rm 13:1).
‘ God is die oorsprong van alle menslike gesag. Dit geld vir seker ook vir staatsgesag. Hierdie stelling in Rm 13 is hoogs betekenisvol, veral as mens in ag
neem vir wie dit geskryf is. Die Romeinse Christene was onder die hiel van 'n goddelose en heidense regering wat deur gewelddadige verowering en onderwerping aan bewind gekom en gebly het, en diktatoriaal sy onderdane op hulle plek gehou het. Die owerhede was korrup, en het almal vervolg wat van hulle verskil het - in die besonder die gemeente van Christus.
‘ Die vraag is dus nie of die regering onder wie ons ons bevind de jure, oftewel wettig is nie. Die Bybel praat van alle de facto regerings, diegene wat op 'n gegewe moment aan die stuur van sake is. Beteken dit dat Christene 'n klomp ruggraatlose papperds moet wees wat maar passief alles aanvaar wat oor hulle kom? Inteendeel! Dit gaan hier daaroor dat Christene weet dat die koninkryk waaraan hulle behoort nie van hierdie wêreld is nie, en dat die uitlewing van hulle roeping hier op aarde grootliks onafhanklik is van wie op 'n gegewe moment op die wêreldse troon sit. Die Here gebruik wie Hy wil om die gevalle mensheid in bedwang te hou en te stuur soos Hy wil. En Sy gemeente gaan onverstoord voort met die uitdra van die evangelie, ongeag wie regeer.
• Hieruit moet ons nie aflei dat Christene hoegenaamd nie by politiek betrokke behoort te raak nie. Nee, die Here het orals getuies en instrumente, en Hy lei gewis van Sy kinders om ook dáár hulle lig te laat skyn. Wat wel waar is, is dat 'n Christen twee maal sal dink voor hy hom in die politiek begewe. Dit is per slot van rekening 'n uiters gevaarlike omgewing vir die gelowige, en 'n lewe van dissipelskap kan daar baie, baie moeilik en ingewikkeld wees. Dit is baie betekenisvol dat die vroeë Baptiste, wat baie swaar gekry het onder die hiel van die owerhede, ronduit bely dat dit in orde is vir 'n Christen om 'n "magistraat" te wees 'n term wat alle politieke ampte gedek het (1689 Baptistebelydenis, h.24.2).
2. Die taak van 'n regering is om behoorlike orde te handhaaf binne sy verantwoordelikheidsfeer (Rm 13:3, 4, 6). Elke ingestelde outoriteit het sy eie gesagsfeer. Dáár is hy verantwoordelik, nie wyer nie. Gesag en toerekeningsvatbaarheid loop altyd hand aan hand, en noodwendig kan niemand aanspreeklik gehou word vir dit wat buite sy grense gebeur nie. Dit geld orals, of dit nou die werksplek is, of die gesin, of die gemeente, of die owerheid. Die owerheid moet sosiale en burgerlike geregtigheid, vrede en orde handhaaf. Hierdie taak het twee kante. Positief moet dit wat sosiaal en burgerlik goed en reg is, bevorder en verdedig word. Negatief moet ongeregtigheid, misdaad en geweld bekamp word. In Rm 13 is daar 'n sterker beklemtoning van die negatiewe. Terwyl 'n regering vryheid en
lewensruimte vir sy burgers moet verseker, doen hy dit grootliks deur die kragte van selfvernietiging en wanorde in 'n gevalle wêreld te bedwing. Dit is dus in Sy algemene genade dat God regerings instel. Soos wat regerings hulle opdrag uitvoer, skep hulle 'n konteks waarbinne die raadsplan van God sy loop kan hê - stel hulle 'n kanaal daar waarin die koms van die koninkryk kan vloei (1Tm 2:1-2). Uiteraard het 'n regering baie geld nodig om sy taak te verrig. En aangesien die owerhede in God se diens staan, beveel Hy ons om ons belastings getrou te betaal. Dit geld nie net inkomstebelasting nie, maar ook alle ander vorms daarvan, soos B.T.W., lisensies, eiendomsbelasting, ensovoorts Dit word spesifiek deur ons teks (6, 7), asook ander gedeeltes in die Nuwe Testament beklemtoon (Mt 22:15-22; Mk 12:13-17; Lk 20:19-26).
3. Die mag van die swaard word aan regerings verleen om hulle in staat te stel om goeie orde te handhaaf (Rm 13:4) Elke staat het die fundamentele, Godgegewe reg om dwang te gebruik. Die Here weet dat regerings hulle taak in 'n sondegevalle wêreld moet uitvoer. Die voorwaarde vir goeie orde in 'n samelewing is onderlinge respek en konsiderasie, maar die gevalle mens is ongeneeslik selfsugtig. Helaas, in die geval van baie mense is méér dus nodig as opvoeding en suggestie. 'n Ferm en sterk hand van afdwinging is noodsaaklik. Wanneer nodig, kan die staat se mag van dwang tot uiterste maatreëls strek. Die "swaard" in v.4 is meer as 'n simbool van gesag; dit dui op die mag van lewe en dood. Die algemene manier destyds om die doodstraf te voltrek, was onthoofding met 'n swaard (só het die skrywer van Rm 13 ook uiteindelik gesterf!).
4. Dit is God se opdrag dat alle mense hulle moet onderwerp aan die owerhede wat oor hulle gestel is (Rm 13: 1, 5b). Die woord "onderwerp" (1) impliseer dat die verantwoordelikheid vir 'n ordelike samelewing in die eerste instansie by elke individuele burger lê - en wel daarin dat hy "homself onder die owerheid plaas" (Gr. letterlik). Christene neem hierdie roeping uiteraard ernstig op. As 'n Christen homself, sover dit enigsins moontlik is, aan selfs 'n heidense owerheid onderwerp, impliseer dit ten minste twee dinge: Eerstens sê dit dat hy 'n respek het vir God se instelling. As sodanig bring hy hulde aan die groot en soewereine Wetgewer. Tweedens lewer dit 'n getuienis teenoor hierdie wêreld met sy wetteloosheid en gevallenheid. Dit beteken nie dat 'n Christen se gehoorsaamheid aan die owerheid ongekwalifiseerd is nie. Soos alle menslike gesag, is ook hierdie gesag relatief. Daar is bepaalde grense wat regerings nie mag oorsteek nie.
W anneer is burgerlike ongehoorsaamheid geregverdig? As die regering iets beveel wat God in Sy Woord verbied; en as hy iets verbied wat God in Sy Woord beveel. (Hd 4:19; 5:29, 40-42). Die Bybelse aksent is egter op onderwerping, eerder as op die reg tot ongehoorsaamheid. Daarom moet ons gesindheid teenoor die owerhede nie net passief wees nie, maar ook aktief: Ons word beveel om vir hulle te bid (1Tm 2:1-2).
'N PAAR SLOTOPMERKINGS 1. Sowel kerk as staat is instellings van God. 2. Kerk en staat word egter geroep om in verskillende sfere in God se diens te staan. Die kerk werk in die area van God se besondere genade: redding van die ewige verdoemenis, aanbidding, evangelieverkondiging, pastorale sorg, en so meer. Die staat werk in die area van God se algemene genade. Dit moet sover moontlik menslike verdorwenheid daarvan weerhou om tot totale ontbinding te ontaard. En dit moet goeie orde in die samelewing handhaaf, sodat dit leefbaar bly in 'n gevalle wêreld.
3. Beide instellings het van God 'n swaard ontvang om sy taak te verrig. Die staat het 'n swaard van staal; die kerk die swaard van die Gees. En nooit, nooit, mag hierdie twee swaarde omgeruil word nie. Die gevalle mens verstaan bloedweinig van die swaard van die Gees (1Kor 2:6-16). En elke keer as die kerk die swaard van staal opneem, is dit grootliks tot oneer van God. In elk geval kan geen uiterlike dwang 'n ware Christen voortbring nie. Die swaard van staal kan oor 'n mens se liggaam heers, nooit oor sy gees nie. Aanbidding, om vir God aanneemlik te wees, moet uit die mens se hart kom. Gedwonge verering sal Hom tot in ewigheid nie behaag nie. Meer nog, die kerk verloor sy essensie - hy raak tewens antagonisties daarteen - as sy voorskrifte tot wette verhef word vir hulle wat net gebore en nie ook wedergebore is nie. Slegs die Gees van God kan die mens se hart verander en beheer - en Hy doen dit deur die Woord van God. En die staat moet dit respekteer. Daarom mag die regering mense se gewetens en godsdiensbeoefening nooit probeer beheer nie - ongeag hoe verwronge en vals dit ook al mag wees.
4. Die ware kerk het geen behoefte aan 'n vennootskap met die staat nie; hy vermy dit trouens soos die dood self. Die skeiding tussen kerk en staat is 'n nie-onderhandelbare beginsel. Sekerlik sal die kerk nooit vervolging soek nie, maar eerder as om kompromieë aan te gaan wat
hierdie beginsel betref, sal hy vervolging in die gesig staar. Laat ons onthou, die geskiedenis toon keer op keer dat die kerk, soos 'n wingerdstok onder 'n snoeiskêr, onder vervolging gedy - onaangenaam en pynlik soos dit mag wees. Dit beteken dat die staat se vyandskap die gemeente van Christus nooit in die diepste sin van die woord kan bedreig nie. Dit kan bloot die konteks verander waarin sy haar roeping moet vervul.
5. Tog leer die Skrif nie dat die staat en die kerk niks met mekaar te doen het nie. Die kerk skep nie kultuur nie, maar dit beïnvloed kultuur - en politiek is 'n belangrike deel van 'n samelewing se kultuur. Waar die evangelie ook al verkondig word, daar raak die samelewing gemeng, bestaande uit diegene in Christus en diegene in Adam. Daarom kan daar nie iets soos 'n Christelike kultuur wees nie (as kultuur dan die erfenis van 'n samelewing in sy geheel is). Daar kan slegs 'n kultuur wees wat tot 'n meerdere of mindere mate deur die evangelie beïnvloed is. Nooit plaas die Nuwe Testament 'n sogenaamde Christelike kultuur teenoor 'n heidense kultuur nie. Dit leer dat die kerk en sy evangelie 'n suurdeeg is in welke kultuur dit ook al teenwoordig mag wees. Die Skrif is doodtevrede om die Christen se stem bloot by al die ander stemme in die kultuurkoor te plaas.
Hieruit volg dat die kerk die evangelie positief moet verkondig, en uiters versigtig moet wees om as kerk enige politieke verklarings te maak. Waarskynlik is dit die heel beste as hy hom geheel en al daarvan weerhou. Nee, die kerk se spreke word gehoor in die stemme van sy lidmate, met hulle godvrugtige waardes en oortuigings - in hulle hoedanigheid as burgers van die staat.



• Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Dit staan enigeen gevolglik vry om die inhoud van hierdie studiestuk met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by andere gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie.
• Nico van der Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis (soos meeste Gereformeerde Baptiste wêreldwyd), asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges en gemeentes in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Gereeld word 'n preek of studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en meermale in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No. 148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika; E: nico.vanderwalt@reformed.org.za; Tel. 082 848 9396.
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (plus nog 4 blogs - adresse by genoemde adres)
• Nico van der Walt het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna vir 'n dekade as Siviele Ingenieur gewerk (as konstruksieingenieur en universiteitsdosent). Na 'n radikale Christelike bekering en daaropvolgende teologiese studie aan die Potchefstroomse Universiteit, was hy vir ongeveer drie dekades veral stigterspredikant van twee gemeentes in die Vaaldriehoek en Pretoria. Hy was ook vir 'n stuk of twaalf, dertien jaar 'n dosent aan die Lynnwoodrif Bybelskool. Die afgelope paar jaar wy hy meeste van sy tyd aan skryfwerk en prediking waar hy ook al uitgenooi word.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19


Terug naar

Wie is er online?

Gebruikers in dit forum: 1 en 0 gasten