Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3857
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Di Feb 28, 2017 10:34 am

Ek stuur vandag vir julle 'n dun boekie (Eng. Booklet) wat ek jare gelede geskryf het. Miskien sal jy dit geniet en sal dit vir jou iets beteken. Dis ook nogal iets wat mens kan uitdruk en dupliseer, en as traktaat uitdeel. As mense dit eerlik lees en hulleself daaraan meet, kan dit vir sulke mense dalk baie beteken, meen ek. As iemand reeds wedergebore is, kan dit tot groot troos wees. En indien nog nie, kan dit hom of haar dalk laat wakker skrik. Daar is soveel onkunde oor die tema. Maar dis uiteraard vir jou om daaroor te besluit.

Broedergroete,

Nico van der Walt [nico.vanderwalt@reformed.org.za]

Utroque vestrum delector (Cicero) : Ek verlustig my in elkeen van julle


++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++++
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3857
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : " WAT OP AARDE IS 'N CHRISTEN " (Ds. Nico van der Walt)

Berichtdoor Ton » Di Feb 28, 2017 10:36 am

- 1 -
Inleiding
Oor die afgelope dekades word indringende vrae gevra na
die aard van die kerk. Honderde boeke het veral sedert
die sestigerjare van die vorige eeue oor die kwessie
verskyn.
Soos met bykans alles in die lewe kan mens die vraag
eenvoudig en kort antwoord; óf jy kan 'n lang en ingewikkelde
antwoord daarop gee.
Seker die eenvoudigste antwoord is dat die universele
kerk die wêreldwye versameling van Christene deur die eeue is.
Hierdie eenvoudige antwoord lei dan tot die vraag wat eintlik
gevra en beantwoord moet word: wat op aarde is 'n Christen
dan? Hiersonder sal enige definisie van die kerk altyd wollerig
bly; trouens, tot die mate wat ons begrip oor wat 'n Christen is dit
mis het, tot daardie mate sal ons die kerk verkeerd verstaan. En
tot daardie mate sal die kerk misluk om te wees wat dit moet
wees, en sal dit uiteindelik beskaamd voor Jesus Christus moet
staan.
Babelse verwarring
Wat op aarde is 'n Christen dus? Daar is beswaarlik 'n meer
brandende vraag wat ons kan vra - veral vandag!
Waarom sê dis 'n brandende vraag? Amper driekwart van
Suid-Afrika se mense vul op sensusvorms in dat hulle Christene
is. Tog vier geweld, korrupsie en sedeloosheid hoogty in ons
samelewing. In Ierland maak 'Christene' mekaar al vir dekades
dood. In 'Christelike Europa' is dekadensie, perversiteit en
kerkloosheid aan die orde van die dag. Die een kerk preek dat
alle mense gered word (of impliseer dit deur wat nié gepreek
word nie); die ander dat net diegene in sý kraal die Here sal sien.
En so kan voorbeelde van die Babelse verwarring
vermenigvuldig word.
As almal wat hulleself in hierdie land Christene noem,
inderdaad Christene sou wees, kan daar maar één slotsom
wees: Christenskap is minder werd as 'n twaksak saagsels. Maar
tog is daar ook derduisende hier in Suid-Afrika wat dag na dag
verwonderd en dankbaar is oor die lewensveranderende impak
van die Evangelie op hulle lewens. Hieruit kan net een
onomstootlike slotsom volg: nie naastenby almal wat op
Christenskap aanspraak maak, is inderdaad Christene nie - in
elk geval nie in die Bybelse sin van die woord nie.
Dit is kardinaal belangrik om hierdie verwarring op te
klaar
Dit is wesentlik belangrik om die verwarring op te klaar.
! Vals Christene is 'n struikelblok vir derduisende
ongelowiges.
! Tot die mate wat daar vals Christene in 'n gemeente is,
tot daardie mate sal so 'n gemeente minder wees as wat dit moet
(Vgl. NGB 29).
! Die onsekerhede oor hierdie saak open deure vir meer
dwalinge en kultusse as wat mens kan tel.
! 'n Glasheldere begrip van wat 'n Christen is, is
rigtinggewend vir die kerk se pastorale en evangeliseringswerk.
! Skrikwekkend baie mense leef in die waan dat hulle met
God versoen is, terwyl hulle in werklikheid steeds onder Sy toorn
verkeer.
duisende wat werklik gered is, maar geen geloofsekerheid het
nie. Dis tragies, want afgesien van die wroeginge wat dit
meebring, werk dit verlammend in op dissipelskap. Niks sneller
oorvloedige Christenskap immers meer nie as gevestigde en
nugtere sekerheid van redding en die vrymoedigheid wat dit voor
die genadetroon meebring.
! En belangrikste van alles: God se Naam word skreiend
onteer deur mense en gemeentes wat onder Sy vlag vaar, terwyl
hulle gladnie aan Hom behoort nie.
As daar één saak op die kerk se agenda behoort te wees, dan is
dit om na die Woord van God terug te keer ten einde hierdie
verwarring (en ander) op te klaar. Die Bybelse waarheid (en die
implikasies daarvan) moet in die allerduidelikste taal uitgespel en
kompromieloos gepreek en uitgeleef word. Hierdie is 'n
onontkombare verantwoordelikheid op die weg van elke sinode,
elke gemeente, elke kerkraad, elke predikant, elke Christen.
Natuurlik sal dit 'n prys kos, maar reformasie was nog
nooit goedkoop nie. Dis egter só aktueel en gewigtig dat
ontduiking van hierdie saak neerkom op hoogverraad teen die
Koning van die konings!
Enkele fundamentele vertrekpunte
Die eerste uitgangspunt is dat die Bybel die enigste norm
is in ons soeke na wat 'n Christen is. Sonder so 'n objektiewe,
vasstaande standaard, dryf ons ankerloos in 'n see van menslike
opinies rond.
Die woord "Christen" (Gr. Christianos) kom weliswaar net
drie maal in die Nuwe Testament voor (Hd 11:26; 26:28; 1Pt
4:16), maar die saak word op bykans elke bladsy genoem en op
dosyne maniere beskryf. Dít is die materiaal waarmee ons moet
werk.
As 'n Christen gedefinieer moet word, is die eerste
neiging om dadelik te begin beskryf wat hy alles doen en nalaat.
Dis egter 'n onfeilbare resep om gou-gou in 'n doolhof van
haarklowery te beland. Wat en hoeveel is genoegsaam om 'n
Christen te word, om een te wees, om een te bly? Waar is die
grens tussen die egte en die namaaksel? Hoeveel hare maak 'n
baard?
Soos maar altyd, is dit hier ook noodsaaklik om reg te
begin. Dit beteken dat begin moet word waar die Bybel begin: nie
by die mens nie, maar by God - by Sy soewereine en genadige
inisiatief in 'n persoon se lewe. Dit is God wat 'n sondaar in 'n
ware Christen verander.
Christene se ervaring bevestig dit. Watter man of vrou
wat waarlik God se genade in Christus leer ken het, sou kans
sien om die teendeel te verdedig? 'n Sondaar word nie 'n
Christen deur in God se lig in te beur nie; hy word 'n Christen as
God sy duisternis soewerein binnetree. C.S. Lewis het dit só
gestel: "Amiable agnostics will talk cheerfully about man's search
for God. For me, they might as well talk about the mouse's
search for a cat ... God closed in on me."
Dit begin dus by God en by Hom alleen. Óf Hy doen dit,
óf dit gebeur eenvoudig nie. Hoewel baie dit in onkunde en
dwaasheid ontken, sal geen ernstige Skrifstudent betwis dat
hierdie 'n Bybelse aksioma of grondbeginsel is nie. En só het die
regsinnige kerk deur die eeue geglo en bely. Die groot
belydenisskrifte is daar vir almal om te lees.
Hierdie handeling van God in 'n mens se lewe word op
verskillende maniere in die Bybel beskryf. Die mees algemene
terme is "roeping" en "wedergeboorte". Dit dui op twee kante van
dieselfde saak: "roeping" laat die klem val op dit wat God doen
en "wedergeboorte" op die lewendmakende effek daarvan in die
betrokke persoon. Ter wille van gerief sal laasgenoemde begrip
hoofsaaklik van nou af gebruik word.
Hieruit volg nog 'n fundamentele grondbeginsel. Wanneer
die Drie-enige God van iemand 'n Christen maak, is dit nie bloot
'n rehabilitasieproses nie; dit is in die volste sin van die woord 'n
herskeppingsproses. Die verskil tussen 'n Christen en 'n nie-
Christen is dus 'n wesensverskil, nie 'n graadverskil nie.
Christene is nie mense wat bloot hulle godsdienstige en
morele sokkies 'n raps hoër opgetrek het as ander nie. Die Here
gaan nie eendag die 144 000 wat die beste gevaar het as room
vir Sy koninkryk afskep nie. Ons moenie dink in terme van die
Comrades Marathon se elfuur-pistoolskoot nie: die laaste een
maak dit met 'n halfsekonde; die een na hom mis dit met 'n
halftree. Nee, 'n duisend maal nee!
Die Christen en die nie-Christen behoort tot twee
verskillende kategorieë, hulle leef in twee verskillende
koninkryke. Iemand is óf wedergebore óf nog 'n natuurlike mens;
hy is óf "in Christus" óf "in Adam"; hy is óf gered óf steeds onder
die toorn van God - hy is óf 'n Christen, óf nie.
Die sleutelvraag is dus nie wat 'n Christen doen nie, maar
wat hy is. [Om dit meer tegnies uit te druk: die benadering moet
ontologies wees, nie fenomenologies nie.] Iemand is nie 'n
Christen omdat hy op 'n bepaalde manier leef nie; hy leef op 'n
bepaalde manier, omdat hy 'n Christen is.
Dis waarom Paulus in sy briewe sonder uitsondering by
die heilsfeite (indikatiewe) begin, by die dinge wat God vir en in
mense doen, voordat hy oorgaan tot menslike
verantwoordelikheid - tot oproepe en bevele (imperatiewe) om
heilig en gehoorsaam te lewe.
As hierdie orde omgekeer word, is ons terug op die
trapmeul van menslike verdienste. Dan is die Christelike geloof
net nog een van die godsdienste ("religions"), waarvan
Churchianity waarskynlik die grootste is. Dis juis waarom die
evangelie goeie nuus is. Die mens kan nooit na God toe opklim
nie; God moet na hom toe afbuig. En presies dít, sê die
evangelie, is wat inderdaad gebeur het. Dís die wesensverskil
tussen die Christelike geloof en al die godsdienste van hierdie
wêreld.
As daar dan 'n wesensverskil tussen Christene en nie-
Christene is, beteken dit die Christen moet sekere eienskappe hê
wat hoegenaamd nie in 'n nie-Christen bestaan nie. En hieroor
swyg die Bybel nie. Dit verkondig klokhelder, en weer en weer,
dat God se herskeppingswerk in sondaars 'n diep-ingrypende
hartsverandering meebring, wat nie anders kan as om
lewensveranderend te wees nie. En dít is wat ons moet vasvat
as ons 'n Christen wil beskryf.
Maar eers moet ons na die herskeppingswerk, die
wedergeboorte self, kyk.
Sodat julle kan weet
In sy eerste brief gee die apostel Johannes presies die
antwoorde wat ons soek!
In 1Jh 5:13 (NAV) sê hy waarom hy die brief geskryf het:
"Hierdie brief skrywe ek vir julle sodat julle kan weet dat julle die
ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo."
Soos daarom verwag kan word, gee Johannes kort-kort
in sy brief karaktertrekke van egte Christenskap. So,
byvoorbeeld, is daar sy "hy wat sê-tekste" (1:6,8,10; 2:4,6,9;
4:20).
Wat egter vir ons doel belangrik is en waarmee ons gaan
werk, is 'n aantal tekste wat in eksplisiete terme die merktekens
van wedergeboorte uitspel (2:29; 3:9; 4:7; 5:1; 5:4; 5:18)1.
Hiermee volstaan ons vir die oomblik. Vorentoe behandel
ons bogemelde merktekens een-een. Dan sal ons ook meer
aandag aan die praktiese implikasies daarvan gee.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3857
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : " WAT OP AARDE IS 'N CHRISTEN " (Ds. Nico van der Walt)

Berichtdoor Ton » Di Feb 28, 2017 10:38 am

- 2 -
Die erfsonde en die oplossing van die
probleem - die geboorte uit God
Voordat ons kyk na wat 'n Christen is, moet ons net eers
kortliks besin oor die rede waarom geen mens ooit van
nature 'n Christen is nie. Dis te wyte aan die sondeval. En
almal van ons is afstammelinge van Adam en Eva. As sodanig
het ons almal deel aan die erfsonde en is ons van nature onder
die toorn van God.
J.I. Packer is reg: "The subject of sin is vital knowledge. To
say that our first need in life is to learn about sin ... is profoundly
true. If you have not learned about sin, you cannot understand
yourself, or your fellow-men, or the world you live in, or the
Christian faith. And you will not be able to make head or tail of
the Bible. For the Bible is an exposition of God's answer to the
problem of human sin" (God's Words, p.71).
En waarlik, as daar een ding is wat ek in myself en ander
keer op keer raaksien, is dit die universele feit van sonde - 'n
grawitasiekrag in ons almal.
Die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse
Geloofsbelydenis
C HK Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens
dan vandaan?
Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste
ouers, Adam en Eva, in die paradys. Daar het ons natuur so
verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore
word. [Gn 3; Rm 5:12, 18, 19; Ps 51:7; Gn 5:3]
C HK Vraag 8: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is
om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?
Antwoord: Ja, behalwe as ons deur die Gees van God
weergebore word. [Gn 8:21;6:5; Job 14:4; 15:14, 16, 35; Jh 3:6;
Jes 53:6, Jh 3:3, 5;1 Kor 12:3; 2 Kor 3:5].
C NGB 15: Ons glo dat die erfsonde deur die
ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag
uitgebrei het. Dit is 'n verdorwenheid van die hele natuur en 'n
oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die
moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens
allerhande sonde laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en
gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag
te verdoem .... [Ps. 51:7; Rm. 3:10; Jh. 3:6; Gn. 6:3; Ef. 2:5; Job.
14:4; Rm. 5:14; 7:18,19.]
Die 1689 Baptistebelydenis en die Belydenis van Sola
5 van 2005
C 1689 Ch.6.2-5: Our first parents, by this sin, fell from their
original righteousness and communion with God, and we in
them. For from this, death came upon all: all becoming dead in
sin and wholly defiled in all the faculties and parts of soul and
body.
They being the root, and by God's appointment, standing in
the room and stead of all mankind, the guilt of this sin was
imputed, and their corrupted nature conveyed, to all their
posterity descending from them by ordinary generation. Their
descendants are therefore conceived in sin, and are by nature
the children of wrath, the servants of sin, and the subjects of
death and all other miseries, spiritual, temporal, and eternal,
unless the Lord Jesus sets them free.
All actual transgressions proceed from this original corruption,
by which we are utterly indisposed, disabled, and made opposite
to all good, and wholly inclined to all evil.
During this life the corruption of nature remains in those who
are regenerated, and although it is pardoned and mortified
through Christ, yet this corrupt nature and all its motions are truly
and properly sinful.
C Sola5, Ch.3.4: Since Adam was appointed to stand in the
place of all mankind, each of his descendants inherits the guilt of
his sin, to which is added guilt for sins personally committed.
Furthermore, all people inherit a corrupt nature from their original
ancestors, Adam and Eve. Thus, all people are by nature subject
to God’s wrath, to death, and to temporal and eternal misery
unless the Lord Jesus sets them free.The corrupt nature inclines
them away from all good and is the cause of all sin actually
committed. Apart from the regenerating work of the Spirit, man
is dead in sin and therefore unable to turn himself towards God,
or to exercise saving faith in Jesus Christ. [Mt 11:27; 16:17; Rm
8:7; 1 John 5:1].
Waar alle egte Christenskap begin
Wedergeboorte, die diep-ingrypende herskeppingswerk waarna
hierbo verwys is (HK v&a 8; Sola 5, 3:4), is sonder uitsondering
die begin van bewustelike, ervaarbare en waarneembare
Christenskap. Aan hierdie oorsprong van Christenskap moet
vervolgens behoorlik aandag gegee word, anders sal ons
skeefloop in ons denke.
Die Goddelike inisiatief
Johannesh 1:12-13 is rigtinggewend. Ten spyte daarvan dat
meeste mense Jesus Christus verwerp, is daar tog diegene wat
Hom "aanneem" (v.12) en sodoende kinders van God word.
Hulle neem Hom aan, omdat hulle "in Sy Naam glo". En hulle glo
in Hom, omdat hulle 'n wonderlike geboorte ondergaan het. Dis
nie 'n natuurlike geboorte nie, nie 'n geboorte uit die mens nie,
maar 'n "geboorte uit God". Hiermee sê Johannes dat, ten einde
gered te word, dit noodsaaklik is om Jesus Christus aan te neem
(met alles wat dit inhou). Dit is uiteraard iets wat die méns doen
- ervaarbaar en waarneembaar2. Hy gaan egter verder en sê dat
so 'n persoon daartoe in staat gestel word deur 'n bonatuurlike
geboorte - en dit is iets wat God doen.
Dis duidelik: die oorsprong van die eerste handeling van 'n
mens wat van hom 'n Christen maak, spruit voort uit 'n werk van
God self - en dit noem die apostel 'n "geboorte uit God" - die
wedergeboorte.
'n Naggesprek
Die Here Jesus se naggesprek met Nikodemus in Jh 3 gee
verdere insigte in die wedergeboorte.
Eerstens beklemtoon Hy die noodsaak daarvan ten einde die
koninkryk van God in te gaan. Vers 7 moet nie as 'n bevel
verstaan word nie, asof die mens sy eie wedergeboorte kan
bewerkstellig. Jesus praat van die noodsaak: dit is nodig om
wedergebore te word ten einde gered te word. Dit onderstreep
'n waarheid wat regdeur die Skrif as vanselfsprekend aanvaar
word: alle Christene is wedergebore en alle wedergeborenes is
Christene.
Die uitdrukking wat so dikwels gehoor word, nl. dat iemand 'n
"wedergebore Christen" is, is meer as net onsinnig; dit is
misleidend - asof daar iets soos 'n nie-wedergebore Christen is.
Tweedens gee die Here Jesus antwoord op die vraag
waarom die wedergeboorte so noodsaaklik is. Dit is noodsaaklik
omdat die mens self magteloos is om die koninkryk in te gaan -
hy "kan nie" (v.3,5). Waarom kan hy nie? Jesus gee twee
antwoorde.
Enersyds kan hy nie die koninkryk "sien" nie (v.3). Hoe kan
iemand ingaan deur "die Deur" (Jh 10:7,9) as hy Hom nie sien
nie? Elders leer die Skrif voorts dat die natuurlike mens nie net
blind is nie, hy leef ook in duisternis (Ef 5:8,11; Kol 1:13).
Andersyds is die natuurlike mens "vlees" (v.6). Dit beteken
dat hy steeds in Adam is, dat hy nog deel van die gevalle en
sondegeneigde mensheid is. Vir diesulkes is daar geen plek in
'n heilige God se koninkryk van geregtigheid nie.
Net 'n nuwe geboorte kan iemand bevry van 'n Adamserfenis
wat soos 'n reuse rotsblok om sy nek vasgeketting is en hom die
dieptes insleep!
Derdens openbaar Jesus iets van die aard van die
wedergeboorte. Dis 'n geboorte "uit water en Gees" (v.5). Dis 'n
geboorte wat die Heilige Gees bewerkstellig. Maar waarop
sinspeel die water? Daar is meer opinies, maar dit word
algemeen aanvaar (n.a.v. Skrifgedeeltes soos Tit 3:5, Ef 5:26 en
Eseg 36:24-27) dat dit hier oor reiniging gaan. Só sou
Nikodemus dit na alle waarskynlikheid verstaan het. As Joodse
skrifgeleerde sou Esegiël 36 baie na aan sy hart gelê het.
Laasgenoemde hoofstuk is een van die duidelikste Ou
Testamentiese hoofstukke oor die aard en rykdomme van die
Nuwe Verbond. Die twee elemente van Jh 3:5 kom ook hier sterk
na vore. In v.25 belowe God dat Hy Sy volk met water van hulle
sonde sal reinig en in v.27 belowe Hy die groot gawe van die
eindtyd, die Heilige Gees.
Tussen hierdie twee beloftes is 'n vers wat van die
allergrootste belang is. Vers 26 belowe 'n "nuwe hart" - een van
vleis wat die ou hart van klip vervang. Die Bybelse begrip "hart"
dui op die sentrum van 'n mens se persoonlikheid. Dit is dus die
beheerkamer, by wyse van spreke, wat sy hele lewe bepaal (Spr
4:23). 'n Feit wat vasstaan, is dat elke mens onder die dwang
van sy eie hart leef. Wat in sy hart aangaan, dit is hy.
'n Goeie illustrasie hiervan is te vind in die gedragspatrone
van trekvoëls. Waarom vlieg hulle noordwaarts in die herfs en
kom elke lente weer terug? Die antwoord lê in hulle aangebore
natuur. En aan hierdie genetiese trekinstink móét hulle
gehoorsaam wees; hulle kán dit nie weerstaan nie. Só is elke
mens onontkombaar aan sy eie hart gehoorsaam.
'n Hartsverandering sal dus onvermydelik 'n
gedragsverandering meebring. So sal die Here "maak" dat ons
volgens Sy voorskrifte leef (v.27). In Jeremia 31 word 'n ander
beeld gebruik om dieselfde belofte te dra: Hy sal Sy wette op
mense se harte skryf (v.33).
Esegiël 36 se ou hart is van klip. Dit is dood vir die Here en
Sy dinge. Dit is koud en hard, dus belangeloos en gevoelloos
teenoor God, Sy eer, Sy wil en Sy Koninkryk. Die nuwe hart,
daarenteen, is van vleis. Dit is lewend vir die Here en Sy dinge.
Dit is warm en sag; dus ywerig en vormbaar met betrekking tot
God, Sy eer en Sy koninkryk.
C Hierdie hartsverandering bring dus 'n nuwe geaardheid, 'n
nuwe geneigdheid, 'n nuwe ingesteldheid. Dit bring nuwe
prioriteite, nuwe ambisies, nuwe verlangens, nuwe hartstogte.
Daarom bring dit 'n totaal nuwe lewe - 'n lewe gedring deur die
begeerte om God te ken, om soos Hy te word en om baie vrug
tot Sy eer te dra.
Esegiël 36 belowe die wedergeboorte!
Wedergeboorte in 'n persoon se lewe is God se
soewereine en diep-ingrypende lewendmakende werk
deur Sy Heilige Gees, waardeur so 'n persoon verander
word vanuit 'n toestand van geestelike dood (en 'n
gevolglik God-vermydende hartsgesteldheid) tot 'n
toestand van geestelike lewe (en 'n gevolglik Godsoekende
hartsgesteldheid).
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3857
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : " WAT OP AARDE IS 'N CHRISTEN " (Ds. Nico van der Walt)

Berichtdoor Ton » Di Feb 28, 2017 10:41 am

- 3 -
Merkteken 1
1Jh 5:1
Iemand wat wedergebore is, glo in Jesus
as die Christus (1)
Tot nou toe is 'n sterk klem laat val op God se soewereine
inisiatiefneming in 'n mens se wedergeboorte. Dis reg so,
want dis 'n feit en 'n Bybelse beklemtoning. Die Bybel het
egter 'n ewe sterk klem op die mens se verantwoordelikheid en
betrokkenheid by sy redding!
In elke ware Christen het God deur Gees en Woord 'n
wonderlike herskeppingswerk gedoen. Vanuit die nuwe hart, die
nuwe natuur in hom of haar, vloei nou sekere optredes en
gedragspatrone - dinge wat tipies is van elke Christen.
So 'n persoon raak nie net bewus van die Here se genadige
en reddende bemoeienis nie, hy raak ook volledig by hierdie
nuwe lewensuitinge betrókke. Geloof, bekering, heiligmaking en
volharding word nou deel van sy lewe. En hoewel al hierdie dinge
genadegawes van God is, is die Christen meteen en
onteenseglik intiem daarby betrokke. Trouens, dis hý wat dit
doen. En dis ervaarbaar, bewustelik en waarneembaar - vir die
persoon self, en diegene om hom - en hy is beswaarlik bewus
daarvan dat dit ten diepste die Heilige Gees is wat in hom werk.
Fil 2:12-13 knoop hierdie geheimenisvolle samewerking
tussen God en mens pragtig ineen: ".... werk julle eie heil uit met
vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel
as om te werk na Sy welbehae."
Verstaan dit goed: hoewel hierdie nuwe handelinge en
lewenspatrone nie anders kan as om vanuit 'n herskepte hart te
ontspring nie, kom dit nie maar sommer vanself en maklik-maklik
nie; trouens, dit gaan dikwels met inspanning, persoonlike
dissipline en selfs stryd gepaard. Die Nuwe Testament maak nie
'n geheim daarvan dat die Christelike lewe geen sondagskoolpiekniek
is nie (vgl. bv. Mt 10:22; Lk 13:24; 21:19; Jh 16:33; Hd
14:22; 1Kor 9:24-27; Ef 6:12; 2Tm 2:3; Hb 12:1).
Dit is híérdie optrede, lewenswyse en selfs stryd waaraan 'n
Christen uitgeken moet word. Dís die "simptome" wat beskryf
moet word ten einde 'n werksdefinisie van 'n Christen te
ontwikkel.
Die apostel Johannes se merktekens van
wedergeboorte
Daar is reeds op gewys dat 1 Johannes tot 'n groot mate
daaraan gewy is om ons vraag te antwoord (2:29; 3:9; 4:7; 5:1;
5:4; 5:18). Hiermee sal ons nou vorentoe werk. In die proses sal
ons die verse nie hanteer soos hulle in die brief voorkom nie; ons
sal, vir ons doel, 'n ietwat meer logiese orde volg.
Net eers 'n paar inleidende, maar belangrike opmerkings.
! Volgens hierdie verse kan gesê word dat ten minste vyf dinge
wáár is van enige ware Christen.
Eerstens glo hy of sy in Jesus Christus. Hy hang as 't ware
met sy volle gewig aan Christus en aan Hom alleen (5:1).
Tweedens lewe 'n wedergeborene 'n bekeerde en bekerende
lewe, wat negatief tipies tot uitdrukking kom in heerskappy oor
sonde (3:9) en positief gekenmerk word deur gehoorsaamheid
aan die wil van die Here (2:29).
Derdens word so 'n persoon se lewe beheers deur Christelike
liefde (4:7).
Vierdens heers 'n ware Christen oor die suigkragte van
hierdie God-vyandiggesinde wêreld waarin ons leef (5:4).
Vyfdens volhard hy of sy in heilige toewyding aan die Here tot
aan die einde van sy of haar lewe hier op aarde (5:18).
! Hierdie merktekens geld van diegene wat "uit God gebore is".
Dit is net 'n ander manier van Johannes om van wedergeboorte
te praat (Jh 1:13 in die Ou Vertaling is 'n letterlike weergawe van
die Grieks; die NAV se "is 'n kind van God" is 'n parafrase).
! Elkeen van hierdie merktekens geld van "elkeen" wat
wedergebore is. Die implikasie is dat álle Christene, en net hulle,
élkeen van hierdie merktekens sal dra.
! Die res van die Nuwe Testament maak dit duidelik dat hierdie
merktekens in 'n Christen ontwikkel soos hy of sy in heiligmaking
groei. Voorts ontwikkel elkeen ook nie noodwendig ewe vinnig in
'n besondere persoon nie. Maar selfs al is dit aanvanklik net
embrionaal, sal elke watermerk inderdaad in beginsel en
kwalitatief teenwoordig wees in elkeen wat die ewige lewe as
gawe ontvang het. Nog meer - dit sal onmiskenbaar en
progressief in hulle werksaam wees.
! Die werkwoord ("is gebore") is betekenisvol:
Dit is elke keer passief, wat daarop dui dat dit nie iets is wat
deur die betrokke persoon self bewerkstellig is nie, maar dat hy
dit ondergaan het.
Ook is dit elke keer in 'n werkwoordstyd (die perfektum) wat
dui op iets wat in die verlede gebeur het, en waarvan die effekte
steeds voortduur.
Die eerste merkteken: Geloof in Jesus Christus
Aangesien dit van wesenlike belang is, sal ons heelwat aandag
aan die eerste merkteken gee. Kom ons begin dus daarmee. Só
stel die OAV dit in 1Jh 5:1: "Elkeen wat glo dat Jesus die
Christus is, is uit God gebore ... "
Dis van lewensbelang dat ons nie onnadenkend oor die
Bybelse gebruik van die begrip "geloof" sal glip nie. Die Skrif is
duidelik: God se vryspraak, oftewel regverdigverklaring, word
alleen deur geloof 'n werklikheid in iemand se lewe. Maar dit geld
nie van enige geloof nie. Daar is baie soorte geloof; trouens,
daar is geen mens wat níé op 'n manier iets glo nie. Menslike
lewe is onmoontlik daarsonder. As ek geld in 'n bank deponeer,
glo ek byvoorbeeld dat ek dit weer sal terugkry as ek dit opvra.
Saligmakende geloof is iets baie spesifieks! Dis
lewensnoodsaaklik om nie hier mis te trap nie. En omdat dit
skrikwekkend maklik is om jou lewe lank in die waan te leef dat
jy die ware jakob beet het, terwyl jy dit totaal mis, waarsku die
Bybel keer op keer dringend teen vals geloof, teen tevergeefse
geloof.
Dit is selfs moontlik om 'n baie regsinnige geloof te hê -
sonder dat dit eg is (Jk 2:14 e.vv.).
! In die Bergpredikasie (Mt 7:21-23) sê die Here Jesus daar is
mense wat Hom as Here en Koning bely, maar wat nogtans
verlore sal gaan. Dit is selfs moontlik dat hulle in Sy Naam
profeteer, duiwels uitdryf en wonderwerke doen. Hy beskryf hulle
as aktiewe werkers, trouens, kragvervulde werkers. Hulle werk
"in Sy Naam" (drie keer beklemtoon sodat ons Sy punt nie sal
mis nie). Les bes is hulle rustig onder die indruk dat hulle gered
is, want hulle is stomgeslaan as hulle uiteindelik Sy
verwerpingswoord hoor. En, let op, dit geld nie net vir enkeles
nie; daar is "baie" sulkes.
Die Here noem hulle "werkers van ongeregtigheid" (lett.), dus
sondaars. Hulle sonde is nooit vergewe nie, hulle is nooit deur
die geloof geregverdig nie. Hulle het dus nooit saligmakende
geloof gehad nie!
! Ook in die gelykenisse waarsku die Here Jesus weer en weer
teen selfbedrog wat hierdie saak betref - teen die natuurlike
neiging van die mens om homself wys te maak dat hy nie 'n
probleem het nie.
C Geestelike huise lyk dikwels op 'n haar na dieselfde - totdat
die storm van God se oordeel kom (Mt 7:24-27).
C Koring en onkruid lyk soms so eenders dat die verskil eers
gesien word as dit te laat is (Mt 13:24-30).
C Tien meisies ontvang 'n uitnodiging na 'n bruilofsmaal; al tien
neem dit aan; al tien wag vir die bruidegom - net vyf word
ingelaat (Mt 25:1-13).
C Twee mense se geloof lyk presies dieselfde. Eers na verloop
van tyd (dit kan jare wees) blyk dit dat die een s'n 'n namaaksel
was as dit sonder wortel onder aanslae swig of deur die
verleidinge van hierdie wêreld verswelg word (Mk 4:3-9; 14-20).
! Ware en vals geloof kan tot 'n verraderlike mate ooreenstem:
C Ware geloof fokus op Christus. En vals geloof kan koorsagtig
opgewonde oor Hom wees (Jh 2:23-25).
C Ware geloof word gewerk deur die Gees. En vals geloof kan
gepaard gaan met uitsonderlike, nie net uiterlike nie, maar
innerlike en verligtende werkinge van die Gees (Hb 6:4-6).
Hierdie mense was op geen stadium regtig gered nie. Hulle harte
is immers nooit verander nie; dis ten spyte van die reën van God
se seën steeds so hard en wild soos die grond in v.8. Daarom sê
die skrywer vir sy lesers, van wie hy aanvaar dat hulle wél gered
is, dat hy oor hulle "van beter dinge oortuig (is), dinge wat
saamhang met die saligheid ..." (v.9).
C Ware geloof breek los uit die greep van hierdie wêreld se
besmettinge. Vals geloof kan dit ook vir 'n tyd lank doen (2Pt
2:20-22).
Dit is inderdaad skokkend om in die Skrif te sien hoeveel die
Heilige Gees in en deur mense kan werk - alles duskant Sy
wederbarende werk.
Is ons nog op 'n Bybelse spoor?
Waarlik, enige mens wat begaan is oor sy ewige bestemming -
en dit geld veral ware Christene - sal vervul word met die vrese
van die Here as hy of sy erns maak met bogemelde
Skrifuitsprake.
Nou mag jy sê, dit kan tog nie! Is vrede en vreugde nie deel
van die vrug van die Gees nie (Gl 5:22-23)? Is geloofsekerheid
nie deel van my erfenis in Christus nie? Die onrus wat hierdie
Skrifgedeeltes wat jy aanhaal in my bewerkstellig, kan tog nie
van die Here wees nie.
Vir seker is die vrug van die Gees en die vrede van God wat
alle verstand te bowe gaan die normale van 'n ware Christen se
lewe. Maar let terselfdertyd daarop dat ons hierbo puntenerig op
'n Bybelse spoor gebly het.
Onthou, die Skrif praat óók oor en oor van die vrese van die
Here. En ons het nodig om kort-kort wakker geskud te word, nie
waar nie. Almal van ons neig maar om soos die vyf dwase
maagde te wees. Wie van ons ken nie geloofslomerigheid nie. En
sonder Skrifwaarskuwings soos hierbo, loop almal van ons 'n
wesentlike gevaar om aan die slaap gevang te word deur die
wederkoms - of deur die dood wat baie dikwels soos 'n dief in
die nag kom.
Waarlik, geloofsonrus van tyd tot tyd is 'n wonderlike
genadegawe. Laat ons die Here daarvoor dank. En as dit te lank
wegbly, is dit allermins 'n teken van gesondheid, maar veel
eerder 'n simptoom van 'n ernstige siekte.
Laat ons onsself maar gereeld ondersoek - of ons nog in die
geloof is en of ons nog besig is om te volhard in die
geloofswedloop.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3857
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : " WAT OP AARDE IS 'N CHRISTEN " (Ds. Nico van der Walt)

Berichtdoor Ton » Di Feb 28, 2017 10:43 am

- 4 -
Merkteken 1 (vervolg)
1Jh 5:1
Iemand wat wedergebore is, glo in Jesus
as die Christus (2)
God se vryspraak en regverdigverklaring, en gevolglik
ewige verlossing, kom deur geloof alleen - ware geloof,
egte geloof, saligmakende geloof.
Deur die eeue, en regoor die wêreld, was daar dermiljoene
mense wat hulleself as toegewyde Christene beskou het, maar
wat waarskynlik nooit gered is nie. En hierdie skrikwekkende
realiteit duur vir seker steeds voort in ons dag.
"Ja", sê jy, "ek moet saamstem. Jy praat sekerlik van die
skares gedooide kerklidmate wat minder as 'n kat van saffraan
af weet van egte Christenskap en wat vas-aan-die-slaap elke
Sondag hulle kerk-gaan-pliggie afhandel - en deur die week
maar weer soos gewone wêreldlinge leef."
Sonder twyfel is daar ontstellend baie sulke mense - mense
wat vreemdelinge is vir die lewensveranderende krag van die
wedergeboorte. Maar dis nie hierdie voor-die-hand-liggende en
tragiese situasie waarvan ek hierbo praat nie. Ek praat van
toegewyde mense, yweraars wat vir jou sal sê dat hulle
Christenskap die allererns van hulle lewens is. En tog ... en tog
dink ek dat die Bybel ons leer dat verskriklik baie van hulle nooit
die ewige lewe sal beërf nie.
Hoe kan ek so 'n skokkende stelling maak, sal jy vra. Waar
kry ek die reg? Sê die Bybel nie ons mag nie oordeel nie?
Natuurlik! En ek loop nie rond en plaas my mede-Christene in
vakkies en hokkies nie. Trouens, niemand sal dankbaarder as ek
wees nie, sou dit blyk dat my beoordeling verkeerd is.
Maar ek twyfel. Die Bybel is té duidelik oor die saak. Só het
ook die reformatore geglo: slegs Christus, slegs genade, slegs
geloof! "Sola" maal drie!
Alleen! Sola!
Kom ek verduidelik.
! In die inleidende sin hierbo het ek die kort woordjie "alleen"
(Gr. sola) gebruik. Dit mag ons nie miskyk nie. Dis wesentlik
belangrik!
Lees mens die brief aan die Galasiërs, sien jy met die
intrapslag dat die apostel tweemaal (ter wille van beklemtoning)
'n vloek uitspreek oor sekere mense (1:8-9). Paulus draai nie
doekies om nie!
Die apostel verwys hier na die Judaïste van sy dag. Hulle het
bely dat hulle Christene is - érnstige Christene. Maar hulle het
nie die "alleen", waarna ek so pas verwys het, begryp nie. Hulle
het daarop aangedring dat mens jou moes laat besny as jy gered
wou word (wat hulle vir vrouens gesê het, weet ek nie!) (Hd
15:1).
Luister voorts na die Heilige Gees se woorde deur die apostel
- in Galasiërs:
"Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal
Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer
nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om
die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat van julle
sonde vrygespreek (lett. "geregverdig") wil word deur die
wet te onderhou, julle het julle band met Christus
verbreek, julle het die genade van God verbeur ...." (Gl
5:2-6. vgl. Rm 4:4-5; 11:6).
Dis duidelik, nie waar nie, mense wat op besnydenis staatmaak
om vir God aanneemlik te wees, sal nie gered word nie. Daar bly
vir diesulkes net een opsie oor - om deur volkome
wetsonderhouding gered te word. En dis onmoontlik! Sekerlik
onnodig om te sê, dit gaan nie hier oor mediese besnydenis nie.
! Wat sê dit vir ons? Wie naas sy geloof sy vertroue vir redding
in enige godsdienstige handeling stel, hetsy dit besnydenis is, of
doop, of kerkgang, of heiligmaking, of goeie werke van watter
aard ook al - sal nié gered word nie! Want geloof wat met werke
vermeng word, is nie meer saligmakende geloof nie. Werke, hoe
indrukwekkend ook al, kan geloof nooit aanvul nie - en niemand
ooit red nie! Trouens, so 'n vermenging van geloof en werke wat
daarop aanspraak maak dat dít 'n persoon vir God aanvaarbaar
maak, is in Sy oë 'n "heksebrousel" wat diskwalifiserend en
verdoemend is!
Waarom is hierdie saak so belangrik in die oë van die Here?
Die antwoord is eenvoudig: ons dien 'n jaloerse God! Hy en Hy
alleen sal alle roem kry vir elke sondaar wat gered word. Jesus
Christus is óf volkome alleen-redder, óf Hy red gladnie. 'n
Vermenging van geloof en werke is niks minder nie as 'n mosie
van wantroue in die algenoegsaamheid van Christus se
versoeningswerk. Nee! Geen mens sal ooit 'n aandeel in sy eie
saligheid hê nie; nie 'n greintjie nie. God deel Sy lof met niemand
nie!
Beteken dit gehoorsaamheid en goeie werke is irrelevant?
Moet mens dalk eerder daarvan wegstuur? Dan loop jy immers
'n mindere gevaar om in hierdie slaggat te trap. Absoluut nie!
Trouens, ook sonder 'n toegewyde lewe van dissipelskap en
heiligmaking is daar nie redding nie (Hb 12:14, asook die
strekking van die ganse Bybel).
Maar nooit ooit sal gehoorsaamheid, heiligmaking en goeie
werke geloof aanvul as grónd vir redding nie!
! Geagte leser, u kan seker aanvoel dat ons nie ligvoets hier
moet verbytrippel nie. Ons moet seker maak ons verstaan die
aard van hierdie eerste merkteken van die wedergeboorte reg.
Ontelbaar baie slaan die bal hier mis, omdat hulle die
belangrikheid en aard van geloof alleen nie behoorlik verstaan en
in hulle lewens verreken nie - met skrikwekkend tragiese
gevolge. Dit mag eenvoudig nie waar wees van jou en my nie!
Kom ons werk dus van 'n kant af deur die saak.
'n Teenstrydigheid?
Dwarsdeur die skepping - mikro- én makrokosmos - is die
verskynsel van ekwilibrium, oftewel balans, 'n fassinerende
beginsel. Presies dit geld ook van sóveel in God se
geopenbaarde waarheid in die Bybel. En wie die Woord van God
wil verstaan - soos dit móét - móét dit onder die knie kry.
Kyk na die volgende drie Skrifuitsprake:
"Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word
deur die geloof, sonder die werke van die wet." (Rm
3:28).
".... ons weet dat die mens nie geregverdig word uit
die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in
Jesus Christus ...." (Gl 2:16).
"Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit
die werke en nie alleen uit die geloof nie?" (Jk 2:24).
Is Paulus en Jakobus in stryd met mekaar? Is daar leertwis in die
vroeë kerk? Weerspreek die Bybel homself?
Die antwoord is 'n besliste nee! Dit mag so lyk, maar as mens
verstaan waaroor dit hier gaan, laat dit jou in verwondering oor
die balanse en rykdomme van die Skrifopenbaring.
Nie vyande nie, maar bondgenote
Paulus en Jakobus verskil nie van mekaar nie, maar veg rug aan
rug teen twee dodelike vyande wat die kerk van verskillende
kante af aanval. Dis 'n aanslag wat steeds voortduur en is
vandag so intens en meedoënloos soos ooit.
Beide vyande is dwaalleringe met afwykende standpunte oor
die verhouding van geloof, enersyds, en goeie werke en
gehoorsaamheid, andersyds, in 'n Christen se lewe.
Een standpunt wil werke by geloof voeg as gesamentlike
verdienste om redding te verkry. Die ander redeneer dat, omdat
Christus 'n volmaakte soenoffer gebring het, geloof alléén van
belang is en werke, al dan nie, heeltemal irrelevant is.
Maar God se Woord leer ons dat beide beskouinge
verdoemende leuens is! Paulus beveg wettisisme. Jakobus het
dit teen wetteloosheid (ook losbandigheid of antinomianisme
genoem).
Kom ons kyk nou net eers na die eerste dwaling.
Wettisisme
In die vroeë kerk is hierdie dwaling, soos gesê, deur die Judaïste
gedra. Hulle was Joodse "Christene". En met hulle boodskap van
geloof plus werke het veral Christene onder die Jode vir hulle
boodskap geval. In die hart van die verdienste waarop hulle
aangedring het, was immers die besnydenis. Hulle was yweraars
wat nie daarteen opgesien het om oor land en see te trek om
hulle boodskap te versprei nie. En aangesien hulle boodskap van
godsdienstige meriete vir 'n mens so logies klink, het hulle
spoedig 'n beduidende gevolg gehad.
! Presies hierdie saak het aan die hart van die sestiende eeuse
Reformasie gelê. Rome leer geloof plus die sakramente (en 'n
rits ander dinge) - en dis niks anders nie as geloof plus werke.
Daarenteen het die reformatore die Woord van God skaamteloos
gepreek: Solus Christus (Christus alleen) en Sola fides (geloof
alleen) en Sola Gratia (genade alleen) was dan ook drie van
hulle wekroepe.
! Ten spyte van die glasheldere Skrifopenbaring oor ons
onderwerp, loop wettisisme steeds breëbors orals in die kerk
rond. Weliswaar neem die verdienste-trapmeul 'n honderd
gestaltes aan, maar die fundamentele dwaling bly deurgaans dat
dit menslike meriete wil voeg by Christus se volmaakte
middelaarswerk.
Gewoonlik lyk dit in vroeë stadiums van ontwikkeling baie
regsinnig, omdat gewerk word met dinge wat uitdruklike Bybelse
opdragte is. Maar die ywer kom nie uit harte vol dankbaarheid vir
God se vrye verlossingsgenade nie. Na 'n subtiele begin,
verwring wettisisme egter algaande - tot 'n mindere of meerdere
mate. Soms ontaard dit selfs tot groteske en kultiese afmetings.
Hoe diagnoseer mens dit; wat is die simptome?
! Eerstens is die wettisis se godsdiens op die uiterlike ingestel.
Deurgaans, maar veral in die Nuwe Testament, het die Bybel 'n
baie sterk klem daarop dat dankbaarheids-gehoorsaamheid
slegs vir God aanvaarbaar is indien dit uit die hart kom (Mt 5:21
e.vv.). Omdat die wettisis egter nie 'n wedergebore hart het nie,
weet hy nie wat dit beteken om God "in gees en in waarheid" te
dien nie (Jh 4:21-24). Hy kom dus nooit verder as uiterlike
godsdienstigheid nie. Die vórm is waarom dit vir hom gaan, maar
vir die innerlike krag van ware redding is hy 'n vreemdeling.
Uiterlik kan hy indrukwekkend vroom voorkom - hy klim immers
'n leer hemel toe - maar innerlik is hy geestelik dood.
! Tweedens vul die wettisis die morele wet van God aan.
Sonder die verligtende werk van die Gees kan 'n wettisis nie die
innerlike karakter, omvang en diepgang van God se Wet
verstaan nie (onthou, die Bybel verkondig nie wetteloosheid nie).
Omdat hy met die oog op die dag van afrekening besig is met die
opgaar van godsdienstige verdienste, bevredig dit hom nie. Méér
moet tog nodig wees as net 'n klompie "onthoudings", is sy
argument. En net hier begin hy sy eie uitdrukkings van
gehoorsaamheid ontwikkel. Hy verval in 'n eiewillige godsdiens
en hou hom besig met dit wat God nooit beveel het nie. Elke
geslag en kultuur, elke individu en groep, het eie dinge. Soms is
dit negatief: "Raak nie! Eet nie!" (Kol 2:21); soms positief: "Doen
dit! Doen dat!" Gou-gou verdring dit Christus as fokuspunt van
ywer. En feitlik altyd word dit voorwaardes - sjibollette (Rigters
12:6) - vir aanvaarding en toelating in 'n bepaalde kring.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3857
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : " WAT OP AARDE IS 'N CHRISTEN " (Ds. Nico van der Walt)

Berichtdoor Ton » Di Feb 28, 2017 10:47 am

- 5 -
Merkteken 1 (vervolg)
1Jh 5:1
Iemand wat wedergebore is, glo in Jesus
as die Christus (3)
Ons is besig om die vraag te antwoord wat presies 'n
Christen is. Ons het gesien dat 1 Johannes spesifiek
hierdie vraag aanspreek en beantwoord. Toe het ons
begin kyk na Johannes se eerste kenmerk van 'n ware Christen
- geloof in Jesus Christus in 1Jh 5:1.
Hoewel dit vir mens by die eerste aanhoor van hierdie stelling
heel eenvoudig en voor die hand liggend klink, het ons bietjie
begin insak op hierdie eerste merkteken en agter gekom dat dit
nie so eenvoudig is as wat baie mense dink nie.
Ons het reeds gekyk na twee fatale mistastings van mense.
Eerstens het ons gesien dat geloof nie net 'n kopbesluit en -
instemming is nie en dat die Skrif baie dringend en herhaaldelik
teen hierdie leuen van die vyand waarsku. Toe het ons laas keer
gelet op 'n noodlottige dwaling, naamlik dat ons eie heiligmaking
en goeie werke ons geloof moet aanvul.
Nou wil ons na die teenoorgestelde, ewe noodlottige,
mistasting kyk - wetteloosheid.
Wetteloosheid
Hierdie dwaling is deur verskeie groepe in die vroeë kerk gedra.
Hulle argument was heel eenvoudig en klink waterdig: as God in
genade, op grond van Jesus Christus se volmaakte
versoeningswerk, sondaars regverdig verklaar sónder enige
verdienste aan hulle kant, is goeie werke, gehoorsaamheid en 'n
heilige lewe op sigself mos irrelevant in die reddingsproses. Net
geloof maak saak.
Sommige het selfs geredeneer dat aangesien God se genade
beklemtoon word wanneer Hy sonde vergewe, word Hy mos des
te méér verheerlik as die Christen erger sondig en daar dus méér
sonde is om te vergewe! Paulus vernietig hierdie diaboliese
argument in Romeine 6.
! Onvermydelik lei selfs meer gematigde wetteloosheid spoedig
tot etiese slordigheid in Christene se lewens (selfs tot
wêreldgelykvormigheid en sonde tot 'n skokkende mate). Dis
waarteen Jakobus dit het. Dis reg, sê hy, geloof alleen is nodig.
Maar daar is geloof én geloof. Geloof sónder werke is dooie
geloof. So 'n geloof is vals, dit sal niemand red nie. Selfs duiwels
het dit. Saligmakende geloof, daarenteen, gaan altyd gepaard
met gehoorsaamheid en goeie werke (Jk 2:14-26).
! As wettisisme vandag duisende vel, vel wetteloosheid
tienduisende. Verwaarlosing van die noodsaak van heilige
gehoorsaamheid - en volharding daarin tot die einde toe - is
nie maar 'n onskuldige mistasting nie; dit is 'n dodelike dwaling!
Sonder 'n heilige lewe, sê die Bybel, sal niemand God sien nie
(Heb 12:14).
! Soos wettisisme, manifesteer wetteloosheid op tipiese
maniere.
C Eerstens word dit gesien in die beskouing dat die Tien
Gebooie irrelevant is vir ons dag, omdat Chistene "onder
genade is en nie onder die wet nie".
Dit lei dan tot sogenaamde "situasie-etiek", wat liefde as die
enigste etiese beginsel sien. Solank jy dus in liefde optree, is
enigiets wat jy doen reg. Of dit in lyn met die Tien Gebooie is, is
nie régtig ter sake nie.
Die probleem met hierdie beskouing is dat elkeen maar self
moet besluit wat liefde is en hoe dit tot uitdrukking kom. God se
Woord verlos ons egter uit hierdie moeras van subjektiwisme en
willekeur deur te leer dat die liefde ook vir die Nuwe
Testamentiese Christen by uitstek in "tien kanale" vloei (Mt
5:17vv; Mk 12:28vv; 1Jh 5:2-3).
C Tweedens word dit gesien in 'n goedkoop evangelie wat
mense van redding verseker bloot op grond daarvan dat
hulle "Jesus aangeneem" het - of daar nou vrug volg of nie.
Omdat jy jóú kant gebring het, sê hierdie "ander evangelie", sal
die Here jou red. Natuurlik is dit goed, word gesê, as jy daarna
gehoorsaam en Geesvervuld lewe. Maar indien nie, is dit nie
noodwendig diskwalifiserend nie - jy is net 'n stóút kind, 'n
"vleeslike Christen". Hierdie lering se "eenmaal gered, altyd
gered", verskil wesentlik van die Bybelse leer van die volharding
van die heiliges - wat júís beklemtoon dat elkeen wat waarlik
gered is, heilig volhard tot die einde toe.
Die wortelprobleem van beide dwalinge
Waar lê die wortelprobleem van wettisisme én wetteloosheid
presies? Daar is immers baie Skrifuitsprake wat beide strominge
ter ondersteuning van hul standpunte aanhaal. Is daar nie tog
maar 'n diep teenstrydigheid wat regdeur die Bybel loop nie?
Die probleem met hierdie mistastings is dat die verhouding
tussen regverdigmaking en heiligmaking nie behoorlik verstaan
word nie. Wettisisme verwar dit, terwyl dit noodsaaklik is om te
onthou dat dit twee verskillende sake is. Wetteloosheid skei dit
geheel-en-al, terwyl dit onlosmaaklik verbonde is.
Dis noodsaaklik dat die Christen die begrippe
"regverdigmaking" en "heiligmaking" goed verstaan en weet wat
die verband tussen hulle is.
Regverdigmaking
Regverdigmaking is 'n juridiese handeling van God (en van Hom
alleen) met die doel om sondaars in terme van Sy volmaakte
geregtigheid te laat kwalifiseer vir die ewige saligheid. Dit geld
slegs vir diegene wat waarlik in Jesus Christus glo - wat Hom
alleen, en diep bewus van hulle eie geestelike bankrotskap, en
in algehele afhanklikheid, as persoonlike Saligmaker omhels en
enduit bly vashou. Dit berus net op wat Christus gedoen het, en
die betrokke persoon se godsdienstige meriete, al dan nie, speel
ten diepste geen rol nie (geloof is net die hande waarmee God
se genadegawe vasgegryp word - eintlik nog minder, dis 'n
algehele werp op en vertroue in Christus en Sy verdienste).
Aan die hart van regverdigmaking (daarom aan die hart van
die evangelie en van verlossing in Christus) lê twee beginsels,
weergegee deur twee begrippe.
! Plaasvervanging
Jesus Christus het as wáre mens na hierdie wêreld toe gekom.
As sodanig kon Hy as Hoof namens die nuwe skepping, en in
besonder die nuwe mensheid optree. Hierdie nuwe mensheid is
in God se ewige raadsplan aan Hom vasgebind, by wyse van
spreke. Hy is dus die uitverkorenes se verteenwoordiger voor
God se troon.
Dis soos wat die eerste Adam met sý sondeval alle mense,
wat by wyse van spreke in sy lendene was, verteenwoordig het.
Só het Christus dan plaasvervangend - as die "laaste
Adam", die "tweede mens" (1Kor 15:45-47) - diegene wat deur
geloof met Hom verenig is, se redding juridies vasgemaak.
Redding is dus om oorgebring te word vanuit die gevalle
skepping in Adam, na die nuwe skepping in Christus (Rm
5:12-21).
Die Puritein, Thomas Goodwin (1600-1680), het dit kostelik
gestel: "There are but two men standing before God, Adam and
Christ, and these two men have all other men hanging from their
girdles."
! Toerekening
Hierdie tweede begrip is so fundamenteel dat Rm 4 dit 11 keer
gebruik. Dis 'n boekhou-begrip en dui op 'n inskrywing in 'n
rekeningeboek; dus om te debiteer of te krediteer. Dit het te doen
met die twee mees basiese probleme van die sondaarmens.
C Eerstens het sy sonde hom in skuld by God gedompel.
Diegene wat glo, se skuld word egter aan Christus toegereken
(Hý word dus daarmee gedebiteer). Die som-totaal van hierdie
skuld betaal Hy dan dwarsdeur Sy vernedering op aarde, maar
veral op Golgota.
C Tweedens en positief, om sonder skuld te wees, vat jou net
halfpad - weer tot op die nulpunt (waar Adam voor die sondeval
was, toe hy nog nie gesondig het nie, maar die ewige saligheid
nog moes verdien). Méér is nodig om God se ewige loon te
verwerf. Hy verg nie net onskuld nie; Hy vereis ook positiewe
gehoorsaamheid. Om die ewige lewe te beërf moet die mens dus
aan God se volmaakte geregtigheid voldoen - dus aan alle eise
van die Wet. Hiervoor maak Christus se middelaarswerk ook
voorsiening. As ware Mens op aarde het Hy in volmaakte
gehoorsaamheid aan Sy hemelse Vader geleef. En híérdie
gehoorsaamheid, oftewel geregtigheid, word aan jou toegereken
- oftewel gekrediteer - wanneer jy waarlik glo. Die gevolg is dat
jy skatryk is aan geregtigheid in "God se boeke". Wat
geregtigheid betref, het jy dieselfde status as Christus self! En as
sodanig kwalifiseer jy om van die boom van die lewe te eet -
soos wat Adam sou, as hy enduit gehoorsaam gebly het (Gn 2:9;
3:22, 24; Op 2:7; 22:2, 14) - en vir ewig te leef.
Regverdigmaking in 'n neutedop
! Regverdigmaking is dus 'n dubbelkuur! Dis 'n dubbele
inskrywing in God se boeke wanneer iemand glo! Christus word
gedebiteer met die sondaar se skuld - en Hy betaal dit alles,
alles, alles! En die sondaar word gekrediteer met Sý volmaakte
gehoorsaamheid aan die Vader as die Mens Christus Jesus -
sodat so 'n gelowige aan alle eise van geregtigheid voldoen en
dus kwalifiseer vir die ewige saligheid.
Dít is regverdigmaking! Indien jy in Christus is, geniet jy nóú
reeds die status in God se boeke van iemand wat nooit gesondig
het nie; trouens, die status van iemand wat God se wil en wet
volmaak uitgeleef het - soos Jesus Christus! (hoewel jou
heiligmaking dit nog hoegenaamd nie weerspieël nie). Dit, en
niks minder nie, is die goeie nuus van die evangelie!
! Geagte leser, 'n grootser en 'n heerliker waarheid sal jy
nêrens in die wêreld vind nie. Gister onder God se toorn; vandag
die status van volkome wetsgehoorsaamheid - soos die van
Jesus Christus! En onthou - vergeet dit nooit nie - die basis
van jou redding lê ten diepste buite jouself - in God se boeke!
En dis Christus se toegerekende geregtigheid wat jou laat
kwalifiseer. Dis objektief, al voel jy dikwels hóé sondig ook al.
Heiligmaking
Dis nodig om net kortliks iets te sê oor heiligmaking. Dit is 'n
genadewerk van God in elkeen wat Hy regverdig verklaar het. Dit
het ten doel om die beeld van Jesus Christus in so 'n persoon te
vorm. Dit is 'n progressiewe proses en gaan lewenslank voort.
Anders as in regverdigmaking, speel die gelowige 'n
volledig-aktiewe rol in sy eie heiligmaking - bewustelik,
inspannend en lewenslank-volhardend. 'n Vers wat hierdie
dubbele betrokkenheid, dié van God en dié van die mens, pragtig
na vore bring, is Fil 2:12-13: " ... werk julle eie heil uit met vrees
en bewing, want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as
om te werk na Sy welbehae." (OAV).
Onderskei - sonder om te skei
As die verhouding tussen regverdigmaking en heiligmaking nie
reg verstaan word nie, lei dit tot allerlei teologiese en praktiese
ellendes.
! Waarin verskil die twee begrippe? Waarom móét dit
onderskei word? Wat verstaan wettisisme nie?
C Regverdigmaking het te doen met objektiewe toerekening -
Eng: "imputation" - (my skuld aan Christus, Sy heilige
geregtigheid aan my). Heiligmaking het te doen met subjektiewe
toebedeling - Eng. "impartation" - (die vorming van Christus se
beeld in my).
C Die geregtigheid wat ek deur regverdigmaking verkry, is nie
my eie nie, maar Christus s'n (en daarom is dit nou reeds
volmaak). Die geregtigheid wat ek deur heiligmaking verkry,
hoewel deur die Heilige Gees gewerk, is inderdaad my eie (en
daarom onvolmaak solank ek nog hier in die gevalle wêreld leef).
C In regverdigmaking is daar geen plek vir my eie werke nie. In
heiligmaking is my eie werke sentraal en onmisbaar - en
daarom beveel die Woord ons om te hardloop, te veg, te waak,
te arbei, te vlug, te volhard ens.
C Regverdigmaking is 'n afgehandelde en volmaakte werk (tot
in ewigheid sal ek nie méér regverdig wees as met die eerste
oomblik van geloof nie). Heiligmaking is altyd relatief en
onvolmaak. Dis weliswaar progressief-toenemend, maar kom
eers met heerlikmaking tot vervolmaking.
C Regverdigmaking het te doen met my objektiewe juridiese
status voor God; heiligmaking met my subjektiewe morele
toestand.
C Regverdigmaking gee my die reg tot die ewige heerlikheid;
heiligmaking maak my daarvoor gereed en is, as sodanig, die
watermerk van ware redding.
! Wat het regverdigmaking en heiligmaking gemeen? Waarom
mag dit nóóit geskei word nie? Wat verstaan wetteloosheid nie?
C Beide vloei uit God se genade in Christus (1Kor 1:30).
C Beide is onmisbaar deel van God se geïntegreerde
verlossingswerk in my lewe.
C Beide sal dus altyd saam teenwoordig wees in elkeen wat
werklik gered is. "If you have it at all, you have it all".
KONKLUSIE
Die ware Christen loop op die snykant van 'n mes, met
wettisisme en wetteloosheid as afgronde aan weerskante!
Dis teen hierdie twee afgronde wat die apostels met soveel
dringendheid waarsku: Paulus waarsku teen wettisisme, wat leer
dat redding deur geloof plus werke kom. Jakobus waarsku teen
wetteloosheid, wat leer dat redding selfs deur 'n geloof sonder
werke kom.
Laat ons dit ten slotte positief stel. Paulus antwoord die
vraag, "hoe kry ek redding?". Jakobus antwoord die vraag, "hoe
kom redding tot uitdrukking in iemand se lewe, hoe word dit
herken?".
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3857
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : " WAT OP AARDE IS 'N CHRISTEN " (Ds. Nico van der Walt)

Berichtdoor Ton » Di Feb 28, 2017 10:49 am

- 6 -
Merkteken 1 (vervolg)
1Jh 5:1
Iemand wat wedergebore is, glo in Jesus
as die Christus (4)
Ons is besig om te besin oor die vraag wat 'n ware Christen
is. 1 Johannes het ons gesien, spreek die vraag uitdruklik
aan. Tans is ons besig met die eerste merkteken, naamlik
persoonlike geloof in Jesus as die Christus.
Ons het tot nou toe hoofsaaklik gekonsentreer op mistastings
oor wat geloof is. Nou moet ons begin fokus op wat
saligmakende geloof wel is.
Die elemente van ware ware geloof
! 'n Illustrasie kan dalk help om te verstaan:
Jy beland vir die eerste maal in jou lewe op 'n groot
internasionale lughawe in 'n vreemde land. Groot
passasiersvliegtuie styg elke paar minute op na talle
bestemmings regoor die wêreld. Jy moet halfpad om die aarde -
New York toe. Heel eerste moet jy vasstel hoe laat jou vlug
vertrek en deur watter een van die paar dosyn hekke jy aan
boord moet stap. Jy benodig dus kennis. Maar, soos dit maar
met sterflinge in so 'n situasie gebeur, pak 'n verskriklike
vertwyfeling jou beet nadat jy die massas inligting op die groot
elektroniese bord ontrafel het. Vertolk ek al die vreemde syfers
en afkortings reg? Sê nou ek stap deur die verkeerde hek en
beland in Tokio? Soos 'n gewone mens kan jy op hierdie stadium
nie die versoeking weerstaan nie om iemand te vra wat lyk of hy
weet wat aangaan. Jy soek dus versekering, oftewel oortuiging.
Iemand verseker jou jy is op die regte pad. Nou bly net een ding
oor: om aan boord te gaan - jou as't ware aan die loods en sy
vliegtuig oor te gee, jou aan hulle toe te vertrou. En almal van
ons ken die tot rus kom as jy uiteindelik in die vliegtuig jou sit kry.
C Let op dat jy nóóit aan boord sal gaan en jou aan die loods en
vliegtuig sal toevertrou, as jy nie daarvan oortuig is dat dit die
regte vliegtuig is nie. Meer nog, sonder die nodige inligting, die
kennis, is daar geen sprake van enige oortuiging nie.
! Net so het ware geloof drie elemente: kennis, oortuiging en
vertroue. Vir soveel eeue al begryp Christene dit, dat daar
spesiale Latynse benaminge hiervoor is: "Notitia", "Assensus" en
"Fiducia".
Ál drie hierdie elemente is noodsaaklik voordat daar egte
saligmakende geloof kan wees.
Geloof is kennis
! Kennis is nie geloof nie, maar sonder kennis kan daar nie
geloof wees nie. Saligmakende geloof het inhoud! Geloof is mos
nie eg as die inhoud vals is nie. Ware geloof het "ware waarheid"
as inhoud.
C Hoe sal jy op die regte vliegtuig klim as jy nie die nodige
inligting het en verstaan nie? Dis waarom die apostel Paulus
skryf: "En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het
nie? .... Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor,
en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus"
(Rom 10:14,17).
! Geloof op sigself, geloof sonder meer, sal niemand red nie.
Dan is dit geloof in geloof. Dan stel die mens sy vertroue op iets
in homself - wat ten diepste afgodery is. Ware geloof nael sy oë
vas op iets - nee, op Iemand! - buite die self.
C Let op dat nie maar enige objek in orde is nie. Ek het
eenmaal 'n alkoholis geken wat sy vertroue op 'n bierblik op sy
kaggel gestel het om van sy dranklus vry te kom! Kan so iets
verlossing bring? Onsinnig!
! Wat is die kennis wat noodsaaklik is vir saligmakende geloof?
Wat is die inhoud daarvan?
Johannes gee die antwoord as hy in 1Joh 5:1 oor die
merkteken van geloof praat: "Elkeen wat glo "dat Jesus die
Christus is, is uit God gebore ...".
Nogeens sit daar in hierdie eenvoudige stelling veel meer as
wat op die oog af blyk Daaroor swyg die res van die Nuwe
Testament vir seker nie!
Belangrik soos dit is, gaan dit hier om meer as 'n klomp
feitekennis; dit gaan om waarheid wat midde in die opregte
soeke na sin en sekerheid deur die hart gebrand het. Dit gaan
dus nie om eksamens en sertifikate nie, maar om ware waarheid
(soms embrionaal min) wat in die hart gekoester word en
kosbaarder as goud geag word.
C Daar is voorbeelde in die Nuwe Testament van mense wat
gered is met 'n baie eenvoudige en embrionale kennis van
Christus se versoeningswerk. Hoeveel het die misdadiger aan
die kruis verstaan? En sedertdien het soortgelyke bekerings
sekerlik male sonder tal plaasgevind.
Die essensiële is waarskynlik dat iemand, oortuig van sy eie
sonde en geestelike bankrotskap, vir vergiffenis en aanvaarding
deur God, sy volle vertroue in Christus as Middelaar en
Plaasvervanger moet stel.
Kyk mens mooi na die misdadiger aan die kruis se woorde,
sien jy dat hy inderdaad meer verstaan het as wat mens geneig
is om te dink (Lk 23:40-43).
Hoe dit ook al sy, niemand mag bloot staat maak op God se
geduld met jou onkunde oor Christus en Sy werk nie. Niemand
durf redeneer nie dat, aangesien sommige so gered is, hy ook
maar kan volstaan met 'n minimale kennis. Ook mag geen
evangelis tot rus kom voordat sy hoorders nie die wesenstrekke
van die evangelie, soos hieronder beskryf, deeglik gehoor het
nie.
Wat is hierdie wesenstrekke van die evangelie?
C Eerstens moet ten minste iets verstaan word van wie God is.
In die besonder moet die persoon weet dat Hy met 'n heilige God
van geregtigheid te doen het - Een wat mense aanspreeklik
hou, hulle oordeel in terme van Sý standaarde en alle mislukking
en rebellie met die ewige dood straf (Hd 17:30-31).
Waarom moet iemand dit weet? Dis o.a. 'n voorvereiste vir
die volgende punt.
C Tweedens moet so 'n mens ten minste begryp dat hy 'n
skrikwekkende probleem het, en dat hy nie naastenby kan begin
om God se toets te slaag nie. Sonde- en skuldbesef is dus nodig.
Waarom? Omdat 'n mens daarsonder nie regtig belangstel in
God se oplossing vir jou dilemma nie. Dis híérdie kennis wat die
evangelie werklik goeie nuus vir 'n mens maak. En dit lei dan tot
die derde punt - waarom dit uiteindelik gaan.
C Derdens moet mens darem 'n basiese kennis oor Jesus
Christus hê. Sonder om te beweer dat 'n baie gesofistikeerde
kennis van onderstaande noodsaaklik is, is 'n basiese kennis van
jou Verlosser en Sy middelaarswerk nodig om Hom in integriteit
en met die nodige erns te omhels. Dit is daarom 'n evangelis se
verantwoordelikheid om toe te sien dat die persoon met wie hy
werk soveel as moontlik verstaan oor die Persoon en werk van
Jesus Christus. Voordat iets van onderstaande nie in 'n soeker
se gemoed vasgelê is nie, is die evangelis se werk nog nie
afgehandel nie.
N Christus se Persoon.
Die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid het mens
geword ten einde middelaar tussen sondaars en God te wees (Jh
14:6; Hd 4:12; 1Tm 2:5; 1Jh 4:2).
N Christus se kruisiging en dood.
'n Sondaar wat glo se skuld, en die gevolglike straf, word aan
Christus toegereken (gedebiteer). Dis waarom Hy so 'n
verskriklike dood móés sterf. En onthou, terwyl duisende in
daardie dae 'n wrede kruisdood gesterf het, was Sý kruisiging
oneindig meer - die sondelose en ewige tweede Persoon van
die goddelike Drie-eenheid het die ewige verdoemenis van
miljoene uitverkorenes deur alle eeue namens hulle verduur!
Presies dit is die hartverskeurende, maar ook wonderlike
goeie nuus wat elke potensiële bekeerling moet hoor en verstaan
(Rm 3:25-26; 2Kor 5:21; Gl 3:13).
N Christus se lewe van volmaakte gehoorsaamheid aan
Sy Vader.
Hierdie geregtigheid word aan 'n sondaar toegereken
(gekrediteer) wanneer hy of sy glo. So 'n persoon se "saldo in
God se boeke" word dus nie bloot van 'n verdoemende negatief
tot nul gelig nie (soos die vorige punt wil tuisbring); dit word
verder verby die nulpunt gevoer tot 'n heerlike positief. Hierdie
positiewe saldo - gelyk aan die van Christus, want dis Sý
geregtigheid wat aan 'n gelowige toegereken word - laat so 'n
splinternuwe gelowige dadelik kwalifiseer vir die ewige saligheid.
(Rm 1:16-17; 4:1-5:21).
Dis die verskil tussen Adam voor die sondeval en iemand wat
vandag gered word. Adam se "saldo" was nog nul en hy moes
die ewige lewe verwerf deur volgehoue gehoorsaamheid (hoe
lank dit sou voortduur, weet ons uiteraard nie). Maar daarin kon
hy nie slaag nie. 'n Geregverdigde mens is egter alreeds skatryk
aan geregtigheid - Christus s'n. Hy kwalifiseer dus met vlieënde
vaandels!
N Christus se opstanding.
Dit behels heelwat meer, maar ten minste is die opstanding die
Vader se versekering dat Sy Seun volmaak gehoorsaam gelewe
het en Sy reddingsmissie suksesvol voltooi het (Hd 13:32-35;
17:31; Rm 1:4; 4:25; 1Kor 15:12-23). Dit is die finale waarborg
dat elke en enige sondaar wat deur 'n ware geloof geregverdig
is, se pad na die ewige saligheid finaal en onomkeerbaar
oopgemaak is.
N Christus se Koningskap.
As 'n sondaar regverdig verklaar word (soos hierbo
verduidelik), word hy of sy dadelik geroep om in Jesus se
voetspore te volg.
Nou mag iemand sê, "ek het geweet hierdie evangelie is net
te goed om waar te wees; ek het geweet daar is iewers 'n
vangplek."
Allermins! Want - heerlike waarheid! - daar word nie van so
'n bekeerling verwag om die onmoontlike te doen nie. Ware
geloof en wedergeboorte loop hand aan hand. En 'n
wedergeborene se hart begin nie net dadelik brand om die
Verlosser te gehoorsaam nie; so 'n persoon se nuwe hart waarop
God se wette geskryf staan, is ook daartoe in staat - natuurlik
nie volmaak nie. Maar verwag 'n ouer van 'n driejarige om hom
volmaak in alles na te doen? Die diepste vraag is nie waartoe ek
alles in staat is nie, maar wat die gesteldheid, gerigthede en
hartstogte van my diepste wese is.
Die Here se evangelie en gepaardgaande verlossing is nie
goedkoop nie; ook nie duur nie - dit is gratis!
N Christus se wederkoms.
Terwyl regverdiging deur die geloof alleen 'n heerlike waarheid
is en bly, is dit ook so dat die finale vervolmaking van my
verlossing nog toekomstig is (1Kor 15:24-26; 2Tm 1:10; Op
20:14). Nie alleen word die egte Christelike lewe gekenmerk deur
geloof en liefde nie, maar ook deur hoop. Maar ook dit werk die
Heilige Gees in hulle wat deur 'n ware geloof met Christus
verenig is (Rm 8:23-25; 1Kor 15:35-58; 1Ts 4:13-18).
! Kan jy sien? Dit gaan van A tot Z oor Jesus Christus! Dis dan
ook waarom die apostels niks anders as "Christus" gepreek het
nie [1Kor 1:17 - 2:5 (veral 1:17-18, 23-24, 30-31, 2:2)].
Om te evangeliseer, is nie bloot om te preek dat die spoeg
spat, om soos 'n markafslaer te skree, en met jou arms te swaai
asof jy met bye baklei nie. Nee, dit hou altyd 'n beduidende stuk
Bybellering in. Want geloof het inhoud!
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3857
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : " WAT OP AARDE IS 'N CHRISTEN " (Ds. Nico van der Walt)

Berichtdoor Ton » Di Feb 28, 2017 10:52 am

- 7 -
Merkteken 2
1Jh 2:29 & 3:9
'n Bekeerde en bekerende lewe, wat
negatief tipies tot uitdrukking kom in
heerskappy oor sonde, en positief
gekenmerk word deur gehoorsaamheid
aan die wil van die Here.
Ons twee teksverse praat van twee verskillende
merktekens van wedergeboorte. En tog is hulle
onlosmaaklik verbonde. Dis twee kante van dieselfde
saak - die negatiewe en positiewe kante. Enersyds doen
iemand wat uit God gebore is nie meer sonde nie; andersyds
lewe hy regverdig - hy doen dus wat reg is in God se oë.
Bekering
! Wat die twee verse beskryf, is wat die Bybel "bekering" noem
- 'n ommekeer deur 180 grade. Dit dui dus op die ingrypende
koersverandering wat deur saligmakende geloof in 'n lewe
voortgebring word. Enersyds is daar die wegdraai van sonde af;
andersyds is daar die heendraai na Christus toe.
! Baie mense raak verward, veral as hulle 1Jh 3:9 in ons Ou of
Nuwe vertalings aandagtig lees, of in die King James, of New
King James. Hierdie vertalings sê uitdruklik dat iemand wat
wedergebore is nie meer sonde doen nie.
En wie van ons kan in eerlikheid sê dat hy of sy nooit meer
sondig nie?
As sulke mense egter ander vertalings lees, kom hulle agter
dat daar dalk 'n oplossing vir hulle probleem is. En inderdaad is
dit so.
! In beide verse (2:29 & 3:9) hierbo dui die betrokke
werkwoorde in die Grieks op voortgaande handeling. Elkeen wat
uit God gebore is hou nie aan om sonde te doen nie; trouens hy
hou aan om geregtigheid te beoefen. Dit gaan dus om 'n
aanvanklike omdraai wat daarna deur 'n lewenspatroon gevolg
word.
Hierdie twee aspekte van bekering word onderskeidelik
"wortelbekering" en "daaglikse bekering" genoem. Let op dat nie
net één 'n Christen se lewe kenmerk nie, maar béíde!
! 'n Illustrasie mag help om te verstaan en te onthou:
'n Vlootskip vaar in die rigting van Antarktika. Dan word hy
teruggeroep Simonstad toe. As dit is omdat oorlog uitgebreek
het, sal hy so kort en vinnig moontlik draai. As dit is omdat hy ver
genoeg suid is en maar kan begin terugkeer, sal hy wyd en
geleidelik draai.
Netso maak dit uiteindelik min saak of 'n aanvanklike
bekering dramaties of geleidelik plaasvind. Al wat van belang is,
is of so 'n persoon inderdaad gedraai het en nou in die regte
rigting op pad is.
Vanweë seestrominge, dwarswinde en deinings wat hom van
koers af druk, moet so 'n skip, naas sy aanvanklike draai deur
180 grade, daagliks voortgaan met kleiner koersaanpassings.
Netso is voortdurende daaglikse bekering
("koersaanpassings") 'n onontkombaarheid in 'n Christen se
lewe. Dit volg noodwendig vanuit die progressiewe karakter van
heiligmaking en hang aan die een kant saam met die aanslae
van die vlees, die wêreld en die duiwel, en aan die ander kant
gelowige bring.
'n Christen lewe nie in sonde nie
Ons fokus nou eers op die eerste merkteken, nl. dat iemand wat
wedergebore is, nie in sy of haar sonde bly lê nie. 'n Ware
Christen stry met alles in sy vermoë teen sonde. En mettertyd
smaak hy of sy tog oorwinnings. En in hierdie stryd is niks ooit
belangriker as ernstige en opregte gebed nie.
! Let op die struktuur van 1Jh 3:9:
" uit God gebore
hou nie aan sonde doen nie
want God se saad bly in hom
hou nie aan sonde doen nie
uit God gebore."
! Die hart van die saak, en dus die sleutel, is duidelik "die saad
van God". Dit dui op die wedergeboorte wat iets van God, iets
van Sý natuur in 'n mens tot stand bring - 'n onverganklike
lewensbeginsel wat wil klaarkry met sonde en wat niks méér
begeer as om die Here te behaag nie.
! Soos in die geval van geloof, is hier weereens 'n wesentlike
gevaar dat die valse vir die egte aangesien kan word.3
C Ware bekering is meer as die blote erkenning dat ek 'n
sondaar is, en as sodanig God se oordele verdien. Dis selfs
meer as selfmishaging, selfverwyt, trane en vrees.
Daar is talle voorbeelde in die Skrif van sulke "bekerings" wat
op niks uitgeloop het nie. 'n Tragiese voorbeeld is die van Agab
(1Kon 21:17-19; 25-29). Maar net in die volgende hoofstuk lees
ons hoe hy drie jaar later onder die toorn van God sterf, net soos
geprofeteer is. Waarom? Omdat sy berou en bekering nooit ég
was nie!
Legioene soldate het al hulle sondes bely terwyl die kartetse
om hulle bars, net om die volgende dag eens so erg met sondige
en losbandige lewens aan te gaan. Hoeveel sterwendes het nie
al hulle sondes uitgeroep terwyl hulle in die duister dieptes van
die hel ingly nie!
C Ware bekering is meer as blote voornemens, hoe opreg ook
al. Hoeveel beloftes word nie vanaf siekbeddens aan die Here
gemaak nie - beloftes wat op niks uitloop nie.
Thomas Watson stel dit só: "Trust not a passionate
resolution; it is raised in a storm and will die in a calm." Ook ken
ons almal die spreekwoord: "Die pad na die hel is geplavei met
goeie voornemens."
C Ware bekering is méér as die los van sékere sondes. Mense
los sekere sondes, maar die versugting daarna brand steeds in
hulle harte. Of hulle los sommige, net om in die plek daarvan
ander te omhels. Of hulle los openlike sondes, maar wat hulle
agter geslote deure doen, skrei ten hemele. Of hulle los
sogenaamde lelike sondes, maar dit wat sosiaal aanvaarbaar is,
woeker voort. Of hulle los skadelike sondes, maar die wat as
onskadelik geag word, gaan voort.
! Omdat ware bekering vanuit 'n nuwe hart voortkom, haat dit
sonde - alle sonde! Wat is hier dus die watermerk van egtheid?
'n Egte werk van die Gees van God word altyd tot 'n mindere of
meerdere mate gekenmerk deur ten minste die sewe dinge wat
hieronder genoem word. Dit geld van sowel wortelbekering as
daaglikse bekering. Sommige ervaar dit meer intens as ander en
niemand ervaar dit jaar in en jaar uit ewe intens nie. Maar elke
ware Christen sal iets van elkeen van onderstaande
proefondervindelik ken.
C Ervaringskennis van my skuld, my verdorwenheid en my
magteloosheid om dit in eie krag te oorkom.
Esra 9:6: "My God, ek is te skaam, ek het nie die
vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sondes is
hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog."
C Afsku en hartseer oor my verdorwenheid en alles wat
daarmee saamhang. Ek sien dit vir wat dit is: my grootste vyand
wat my en mense om my wil vernietig.
Luister na William Cowper: "I hate the sin that made Thee
mourn, and drove Thee from my breast!"
C Ek is bewus daarvan dat my sonde ten diepste teen God is.
My rebellie is teen 'n heilige, liefdevolle en volmaakte God. Dis
Sý wette wat ek keer op keer oortree. Dis Hóm wat ek in oneer
bring.
John Bunyan: "Sonde is - om God se geregtigheid uit te
daag, om Sy genade geweld aan te doen, om Sy geduld te
verag, om Sy krag te minag; om Sy liefde te ignoreer."
Ps 51:6: "Teen U alleen het ek gesondig; ek het gedoen wat
verkeerd is in U oë. U uitspraak is dus reg en U oordeel
regverdig." (NIV: "Against you, you only, have I sinned ...").
C Teen die duistere agtergrond van my mislukking is daar tog
ook die belewing van God se barmhartigheid, van Sy genade in
Jesus Christus. Dit bring dan ook die dankbaarheid en
vrymoedigheid om te volhard op die pad van heiligmaking.
C Ek begeer opreg om klaar te kry met sonde - wat altyd sal
lei tot opregte voornemens wat dit betref, maar ook tot gebed vir
krag om daarin te volhard en te oorwin.
C As voorafgaande enigsins eg is, móét my lewe mos verander.
Al is daar nog talle mislukkings, sal ek al hoe meer oorwinnings
behaal met die krag wat die Heilige Gees verleen - en dus
sondes los.
Luther: "To do so no more, is the truest repentance."
N Sekere dinge wat ek gedoen het, los ek. Ander dinge
wat ek nagelaat het, begin ek nou doen.
N Ek begin my gedagtes, gesindhede en motiewe oppas
en plaas 'n wag voor my mond.
N Ek vermy gevaarlike terrein. Ek flankeer nie met Jk
1:13-15 se "prostituut" nie. Ek pluk die vyand se vurige pyle uit
my klere uit; ek kap die hand af wat my laat struikel.
N Ek leer my morele Achilleshiele ken.
N Ek doen restitusie teenoor diegene wat ek te na
gekom het; loop terug op my spore om reg te maak waar ek
verbrou het; vra maklik om verskoning (Mt 5:23-24).
C As ek na verloop van tyd terugkyk, kan ek tog groei sien, al
beleef ek dikwels presies die teenoorgestelde. En al kan ék dit
nie sien nie, kan die wat my goed ken dit wel waarneem.
! Opsommend:
C Iemand wat wedergebore is, se lewe word nie in die eerste
instansie deur sonde gekenmerk nie, maar deur 'n toenemende
heerskappy en oorwinning oor sonde. Die stryd gaan egter nooit
verby nie, die gevegsfront verskuif net geleidelik.
C Elke ware Christen ken die hartseer van mislukking in hierdie
stryd. In boks kan punte, rondtes en gevegte verloor word. Teen
die sonde verloor 'n Christen nooit die eindrondte nie; maar
rondtes en punte gereeld - té gereeld. 1Jh 1:8-2:2 bly dus tot
die einde toe 'n lewenswerklikheid: "As ons beweer dat ons nie
sonde het nie, bedrieg ons onsself ... maar as ons ons sondes
bely ... Hy vergewe ... Dit skrywe ek aan julle ... dat julle nie moet
sondig nie ... en as een van ons sondig ... ons het Jesus Christus
... as ons Voorspraak by die Vader ... Hy is die versoening vir
ons sondes ...".
'n Finale woord, en vergeet dit nie: 'n Ware Christen word nie
gekenmerk deur die feit dat hy nie kan val nie, maar deur die feit
dat hy nooit kan bly lê nie.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3857
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : " WAT OP AARDE IS 'N CHRISTEN " (Ds. Nico van der Walt)

Berichtdoor Ton » Di Feb 28, 2017 10:54 am

- 8 -
Merkteken 2 (vervolg)
1Jh 2:29 & 3:9
'n Bekeerde en bekerende lewe, wat
negatief tipies tot uitdrukking kom in
heerskappy oor sonde (3:9), en positief
gekenmerk word deur gehoorsaamheid
aan die wil van die Here (2:29).
Kom ons kyk nou na die tweede deel - die positiewe deel
- van hierdie merkteken: Iemand wat uit God gebore is,
lewe 'n lewe van oorwinning oor sonde. Johannes koppel
'n Christen se gehoorsaamheid aan dié van die Here Jesus in
ons teks. As die "Eersgeborene van God se nuwe skepping"
gekenmerk word deur volmaakte geregtigheid, hoe kan God se
herskeppingswerk in sondaarmense tot iets van 'n ander en
sondige aard lei?
Die onlosmaaklike verband tussen 'n mens se innerlike
wese en sy optrede
Wat iemand in sy hart is - sy innerlike wese - dit ís hy; en wat
hy is, sal hy lééf (vgl. Spr 4:23). Die wedergeboorte is ten diepste
'n hartsverandering. En op die tafels van hierdie nuwe hart skryf
God Sy wette. Dit beteken dat die wedergeborene vanuit sy
binneste (dus in opregtheid) begeer om te doen wat reg is in God
se oë. Hy of sy kan nie anders nie - soos ons gesien het toe
ons na Esegiël 36 en Jeremia 31 gekyk het (onder die hofie, "'n
Naggesprek").
En as hy dit regtig wíl doen, as dit regtig vir hom belangrik en
'n prioriteit is, sal hy daarvolgens lewe. Ook dit kan nie anders
nie. 'n Mens doen altyd wat hy wil en dus begeer; trouens, hy
doen nét dit - hy kán nie anders nie.
! 'n Illustrasie mag help om dit te verstaan: 'n Rower druk 'n
rewolwer teen jou kop en jy weet: dis óf die banksak met
lonegeld óf jou lewe. Hoewel dit regtig nie jou begeerte is om
R35 000 weg te gee nie, kan jy nie die sak vinnig genoeg aangee
nie. Waarom? Jy het 'n gróter begeerte as jou begeerte om die
geld te behou: om te bly lewe!
! Presies net so handel mens altyd, sonder uitsondering,
volgens jou wil en begeerte - en gevolglike besluit. En jou
besluit sal altyd voortspruit uit jou sterkste begeerte en jou
hoogste prioriteit.
Dit volg dus logies: as God se wette op die tafels van jou hart
gegraveer is, kan dit nie anders nie - jou lewe móét gekenmerk
word deur geregtigheid!
Afwesigheid van gehoorsaamheid (om nie eers van
ongehoorsaamheid te praat nie), dui dus op ander prioriteite en
begeertes. Dit dui daarom op die afwesigheid van God se wet in
jou hart - en daarom op 'n hart wat nog nooit herskep is nie.
! Min dinge word so sterk in die Nuwe Testament beklemtoon
as die onlosmaaklike band tussen innerlike herskepping,
enersyds, en 'n uiterlike lewe van heilige gehoorsaamheid aan
God, andersyds.
Dis waarom Jesus sê: " ... aan die vrugte word die boom
geken." (Mt 12:33). Dit is ook waarom die apostel skryf: " ... so
is ook die geloof sonder die werke dood." (Jk 2:26 en
voorafgaande verse).
Ook Johannes beklemtoon dit oor en oor: Jh 14:21,23,24;
15:14; 1Jh 2:3-4, en ook 3:10
Die onsigbare word herken aan die sigbare; as die
sigbare afwesig is, is die onsigbare ook nie daar nie.
Hoe 'n mens weet wat reg is in God se oë
! Daar is net een manier om seker te weet wat reg in God se oë
is - wat Sy norm vir geregtigheid is: Sy Woord! Hy het Sy wil en
voorskrifte aan ons geopenbaar. Dit is in ekstrakvorm in Sy
morele wet, die Tien Gebooie, verwoord en word in die res van
die Skrif - by uitstek in die Nuwe Testament - oopgerol en
verduidelik.
! Die geregtigheid wat saamhang met wedergeboorte is iets
baie spesifiek - en daarom uniek. Dis kwalitatief iets anders as
blote moraliteit of filantropie. Die radikale, totale en omvangryke
effek van die wedergeboorte sorg vir ten minste vyf watermerke
van egtheid.4
C Die hele mens is daarby betrokke - omdat dit uit die hart
voortkom, die sentrum van jou persoonlikheid. Dit beheers dus
my denke, emosies, wil en oortuigings. Ek wy my kragte, tyd,
vermoëns en finansies daaraan. En, uiteraard, waarvan my hart
vol is, sal my mond oorloop (hopelik in waarheid en wysheid).
C Die volle spektrum van God se geopenbaarde wil is hierby
betrokke. Per slot van rekening is ál God se wette op die tafels
van die herskepte hart geskryf. So 'n persoon wil God dus in álles
behaag. 'n Moraliteit wat vanuit die mens is, hou hom daarenteen
besig met enkele behepthede wat gewoonlik ook sekondêr is in
terme van Bybelse standaarde.
C Hierdie heilige gehoorsaamheid groei in die bedding van
dankbaarheid vir God se reddende genade in Christus en is gerig
op die eer van God. Dit gaan dus nie in die éérste plek om die
welsyn van mense (of diere!) nie - en allermins om selfbelang.
C Ten spyte van baie mislukkings sal ware geregtigheid oor die
langtermyn 'n groeiende karakter hê.
C 'n Finale watermerk van egte geregtigheid is die lewenslange
aard daarvan. Die nuwe hart hou nie net vir 'n tydjie nie. Dit hang
immers saam met die wedergeboorte, wat die ontstaan van God
se ewige verlossingsplan is.
! 'n Laaste kwalifikasie mag nooit uit die oog verloor word nie.
Die geregtigheid wat uit wedergeboorte voortvloei, is die tipiese,
die normale, die kenmerkende van 'n lewe, maar nie die
konstante en uitsluitlike nie.
Helaas is Pred 7:20 óók van my waar: "Daar is geen mens op
aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nie sondig
nie." Die hartseer feit van die lewe is dat selfs
"geregtigheidsreuse" meermale in hulle gehoorsaamheid misluk.
Let dus goed op: dit gaan in ons bespreking om die tipiese,
die geheelbeeld en langtermyn-tendense, nie om die spesifieke
en momentele nie.
Wat sê dit vir ons?
! Laat ons nie laasgenoemde kwalifikasie hierbo misbruik deur
dit as 'n verskoning vir ons sonde voor te hou nie. Vir geen sonde
het 'n Christen ooit 'n waterdigte verskoning nie! En daarom moet
sonde as sonde bely word.
! Hierdie merkteken van wedergeboorte lei tot 'n vlymskerp en
baie praktiese gevolgtrekking: ware redding word altyd sigbaar in
goeie werke! As dit afwesig is, is daar eenvoudig geen redding
nie.
Goeie werke red nie, maar daarsonder is daar geen redding
nie.
! Hier het ons 'n Nuwe Testamentiese aksioma. Dit is wat
Jakobus in sy tweede hoofstuk sê: daar is baie soorte geloof,
maar net een bring redding - die soort wat met goeie werke
gepaard gaan.
! Johannes 3:36 is veelseggend. Dit word eers positief gestel:
geloof in die Seun bring die ewige lewe. Dan verras die negatiewe
teenstelling, as daar nie gepraat word van ongeloof nie, maar van
ongehoorsaamheid.
Oor en oor beklemtoon die Woord van God: nét diegene wie
se lewens gekenmerk en beheers word deur gehoorsaamheid
aan Christus, sal die Koninkryk beërf. En die omgekeerde staan
net so vas: hulle wie se lewens gekenmerk word deur
ongehoorsaamheid en sonde, sal die ewige lewe nooit smaak nie.
Waarom nie? Omdat hulle ongehoorsaamheid die onbetwisbare
bewys is van hulle ongeloof.
Kyk net hoe beklemtoon die Nuwe Testament dit: Mt 5:20;
25:31-46; Mk 10:23-31; Lk 6:46-49; 9:23-26; 13:23-28; 1Kor 6:9-
10; Gl 5:19-21; Hb 12:14; 1Jh 2:29; 3:9-10; Op 21:7-8.
! Hier het ons die begronding vir een van die Reformatore se
wekroepe: "Sola fides justificat, sed non fides sola est!" (Alleen
geloof regverdig, maar nie geloof wat alleen is nie).
! Die waarheid waarna ons tans kyk, volg vanuit die
onverbreekbare geïntegreerdheid van God se verlossingswerk in
Sy uitverkorenes se lewens. Dis 'n proses wat konsekwent 'n
sekere aantal elemente bevat, waaronder altyd, sonder
uitsondering, ook heiligmaking en volharding in gehoorsaamheid
en goeie werke.
! Kom ons sê dit reguit: hier is 'n onfeilbare lakmoestoets vir
ware redding en outentieke Christenskap. Laat ons elkeen
homself maar weer en weer toets; eerlik, nugter, volwasse (2Kor
13:5).
Luister na Charles Hodge: "Die enigste bewys van ewige
uitverkiesing is 'n heilige en gehoorsame lewe."
! Oordryf ons nie dalk die belangrikheid van goeie werke en
gehoorsaamheid as 'n sine qua non vir redding nie? Die teendeel
is waar! Niks onderstreep die gewigtige belangrikheid en
prominente plek daarvan in God se reddingsplan beter nie, as die
feit dat ons eendag voor die regterstoel daarvolgens geoordeel
gaan word. Niemand minder nie as die Here self gaan ons werke
gebruik as die maastaf vir redding - al dan nie!
Let op die besondere Skrifbeklemtoning daarvan: Mt 16:27;
24: 45-51; 25: 14-30; 31-46; Jh 5:28-29; Rm 2:6-11; 2Kor 5:10;
1Pt 1:17; Op 19:7-8; 20:12-13; 22:12-15.
! Hoe moet ons dit verstaan? Word die gelowige dan nie op
grond van Christus se verdienste alleen geregverdig nie? Vir
seker! Dis die hart van die evangelie!
Maar, soos regverdigmaking, is ook heiligmaking 'n onmisbare
elemente in die geïntegreerde verlossingsproses.
Regverdigmaking word dus noodwendig deur heiligmaking,
gehoorsaamheid en goeie werke gevolg. Laasgenoemde is die
bewys dat eersgenoemde inderdaad plaasgevind het. En dis
hierdie bewys wat voor die regterstoel gesoek sal word.
Só onverbreekbaar is hierdie band, dat die Groot Regter
eendag net een saak in ag sal neem wanneer Hy uitspraak moet
gee oor iemand se ewige lot: Het hy of sy 'n lewe van heilige
gehoorsaamheid en goeie werke gelei? Dit sal die onfeilbare
bewys wees van saligmakende geloof, van innerlike herskepping
en van eenheid met Christus - en, dus, van regverdigmaking.
Goeie werke is die watermerk van egtheid!
! Die wêreldwyd-geagte skrywer van die negentiende eeu, J.C.
Ryle, het dit só gestel: "Evidence, evidence, evidence, will be the
one thing wanted when the great white throne is set ... I can find
no evidence that will be admitted in that day, except
sanctification" (Holiness, p.23).
! Laat hierdie formule onuitwisbaar op die tafels van ons harte
geskryf wees:
'n Sondaar wat gered word, word gered uit genade alléén,
op grond van Christus se verdienste alléén, deur geloof
alléén - tót goeie werke, en daarom vólgens goeie werke
- tot éér van God drie-enig.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3857
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : " WAT OP AARDE IS 'N CHRISTEN " (Ds. Nico van der Walt)

Berichtdoor Ton » Di Feb 28, 2017 10:56 am

- 9 -
Merkteken 3
1 Jh 4:7
Liefde - vir die naaste en God Drie-enig
Omtrent almal leef vir liefde. Dit word bepraat, bestudeer,
besing, beskryf, beoefen - en gepleeg. Talle uitdrukkings
van wêreldse liefde is edel, maar die perverse word ook
dikwels geregverdig in die naam van liefde.
! Christelike liefde (Gr. "agape") is egter iets baie uniek.
Trouens, net wedergeborenes het dit. Die wedergeboorte is
absolute voorwaarde daarvoor. As hierdie merkteken verstaan wil
word, moet sg. natuurlike liefde (2Tm 3:3), hoe verhewe ook al,
nie vir die egte aangesien word nie.
! Die unieke van Christelike liefde lê in die dubbele gerigtheid
daarvan (1Jh 5:1-2).
Enersyds kom dit tot openbaring in gehoorsaamheidsliefde
aan God. Andersyds word dit 'n werklikheid in liefdesdiens aan
die medemens (veral broers en susters in die Here).
Hierdie twee komponente van ware "agape" is dus sonder
uitsondering soos 'n siamese tweeling in elke herskepte lewe
teenwoordig.
! Die vertikale sonder die horisontale is huigelagtig. Dit word
dan "tiendes van speserye", sonder geregtigheid, barmhartigheid
en betroubaarheid (Mt 23:23).
Die horisontale sonder die vertikale is menslike moralisme.
Verhewe en edel soos die uitdrukkings hiervan ook al soms is, is
dit op sigself nie merktekens van wedergeboorte nie. Aanhangers
van vals godsdienste en ateïste handhaaf immers dikwels hoë
morele standaarde en beoefen meermale verstommende
filantropie.
Dit is dan ook op hierdie punt wat die sg. social gospel baie
dikwels die toets dop.
! Liefde, in sy tweërlei gerigtheid, is die hart van Christelike
etiek. (Mt 22:34-40; Mk 12:28-34). As sodanig is daar niks wat
God méér behaag nie - en só sal dit altyd wees (1Kor 13:13).
Liefde vir die naaste
Baie verhelderend is 1Jh 3:14-18 (vgl.Jk 2:14vv):
C Broederliefde is 'n definitiewe merkteken van redding (v.14-
15).
C Jesus Christus se volmaakte voorbeeld is terselfdertyd die
definisie daarvan. En die essensie daarvan lê in die aflê van jou
lewe vir jou broers en susters (v. 16).
C Hoe lê ons ons lewens vir ander af? Ons hoef tog nie weer
gekruisig te word of vir ander te sterf nie. Dit gaan oor die
aanwending van dit wat ek beskikbaar het, in belang van ander
(v.17).
Die kruisiging was nodig vir ons redding. Jesus alleen kon dit
bewerkstellig. Hy het gevolglik wat Hy gehad het in ons belang
aangewend en Homself vir ons geoffer.
Johannes gebruik 'n praktiese voorbeeld om die punt tuis te
bring: materiële uitdeling en versorging.
Maar dit gaan oor enigiets, wat ook al (bv. vermoëns, kennis,
ervaring, tyd ens.), wat ek beskikbaar het en kan gebruik om
goed te doen aan iemand anders. Só kan ook die arme liefde aan
die ryke betoon. Hy het, sê maar, uitstekende praktiese
vaardighede, terwyl die ryke dalk met tien duime gebore is.
C Christelike liefde is dus uiteindelik iets wat ek doen, eerder as
iets wat ek sê of voel. Maar dis selfs meer as dit - dit kom uit die
hart uit, dis opreg (v.18).
! Dat dienende self-aflegging die wesenstrek van naasteliefde
is, word ook deur die apostel Paulus in Fil 2:1-7 uitgelig. In v.1
baseer hy sy oproep tot sulke liefde op die onpeilbare genade wat
sy lesers in Christus ontvang het. In v.2-4 beskryf hy hoe hierdie
liefde lyk en gaan dan in v.5-7 voort om, soos Johannes, die Here
Jesus se vernederende selfverloëning as hulle model voor te hou.
! Die apostels het hierdie sentrale waarheid natuurlik by die
Here self geleer, weliswaar baie moeilik. Die ambisie om die
vernaamste te wees, was 'n voortdurende strydpunt tussen hulle
(Mt 18:1-4; 20:17-28). Selfs die aand voor die kruisiging was dit
weer 'n kwessie (Lk 22:24-27).
Wat egter later daardie aand in die bovertrek gebeur het,
moes sonder twyfel 'n onuitwisbare indruk op hulle gemaak het.
In Jh 13:1-17 word die voetwassing beskryf. In hierdie
handelingsgelykenis het die Here Jesus in die eerste instansie na
Sy eie dienswerk aan die kruis verwys (v.8). Hy gaan egter
onmiddelik voort om Sy dissipels op te roep om Hom in hierdie
self-afleggende diensbaarheid na te volg (v. 12-17).
Minute later vat Hy dan hierdie saak, wat so aan die hart van
die egte Christelike lewe lê, in uitdruklike woorde vir hulle saam.
So 'n onmisbare element is dit van ware Christenskap, dat Hy
daarvan 'n merkteken van egtheid maak (Jh 13:34-35).
! Uit bogenoemde is dit nou duidelik waarom naasteliefde al
dan nie op die oordeelsdag die ewige bestemming van mense sal
bepaal (Mt 25:31-46). Die Here leer nie hier dat mense op grond
van goeie werke en hulle liefdesdiens gered word nie, maar dat
liefdeswerk die noodwendige uitvloeisel van redding is. En as
sodanig is dit die watermerk van egtheid daarvan.
Dis híérdie liefde wat een van die merktekens van die
wedergeboorte is!
Liefde vir die naaste, veral vir broers en susters in die Here,
is dus geen randsaak in die Nuwe Testament nie; inteendeel!
Allermins!
Christelike liefde is 'n dienende, voetwassende liefde -
ingestel op my broers en susters se welsyn.
Liefde vir God
In die mensgesentreerde wêreld van ons dag vergeet selfs
Christene maklik dat naasteliefde wat nie ook gepaard gaan met
liefde vir God nie, nie egte Christelike liefde is nie. Maar hier het
ons presies die suurtoets! Altyd, ja áltyd, kom ware Christelike
liefde, daardie liefde wat 'n merkteken van wedergeboorte is, ook
in liefde vir God tot uitdrukking!
Hoe kom liefde vir God tot uitdrukking? Daar is 'n subjektiewe
of innerlike belewing en daar is 'n objektiewe of uiterlike uitlewing.
Elkeen wat hierdie liefde het, ervaar tot 'n mindere of
meerdere mate sekere emosies wat oor en oor in die Heilige Skrif
genoem word.
Van Bybelse tye af ken alle ware gelowiges onderstaande.
C Verlange na die Here God, persóónlik.
Om Hom steeds beter te ken, is 'n hartstog. Luister na Moses se
gebed, "Laat my tog U heerlikheid sien" (Eks 33:18). En Dawid se
versugting, "Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek
na U, o God" (Ps 42:2), is verwoording van die ware Christen se
diepste verlangens.
Hy of sy wat God liefhet, wéét dat geen finale vergenoegdheid
buite Hóm moontlik is nie. Thomas Watson was reg: "Give a
hypocrite, who pretends to love God, corn and wine - and he can
be content without God. But a soul fired with love to God, cannot
be without Him."
Die vraag is dus: Soek ek en jy die Gewer, of soek ons bloot
Sy gawes?
C Die innige tevredenheid van gemeenskap met Hom.
Hierdie kosbare belewing van alle ware Christene deur die eeue,
noem die apostel "die vrede van God wat alle verstand te bowe
gaan" (Fil 4:7).
C Die verskriklike verlatenheid van gebroke
gemeenskap met God.
Helaas beleef elke Christen ook dit soms. Dis sonde in sy duisend
gestaltes wat dit aan 'n mens doen.
Na sy egbreuk met Batseba, voordat Natan na hom toe
gekom het, het Dawid alles in sy vermoë gedoen om wat gebeur
het onder die mat in te vee.
Hierdie tyd van ellende beskryf hy later in Ps 32:3-4: "Toe ek
oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek
heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my
gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte."
'n Teruggeglyde gelowige is die ellendigste van alle mense.
Hy beleef niks van sy erfenis in Christus nie; en hy is nie meer in
staat om sonde te geniet nie!
Tipiese wanhoopskrete van ons dag is: "My goed is weg - of
my gesondheid, of my vrou, of my kinders!" Maar hy wat God
liefhet se heel diepste wanhoopskreet is: "My God is weg!"
Die ware Christen leer dus gou om enigiets te vermy wat die
Heilige Gees bedroef, en gevolglik hierdie verlatenheid meebring.
C Verlange om meer en meer soos Jesus Christus, die
Voorwerp van my liefde te word.
Die Bewerker van liefde vir God, die Heilige Gees, is meteen ook
heiligmakend in my besig (2Kor 3:18).
C Ontsteltenis as die Here se Naam oneer aangedoen
word.
Hoe kan dit anders as ek Hom waarlik liefhet?
! Ware liefde vir God kan nie anders as om te wys nie; trouens,
dit bepaal mens se hele lewe.
Omdat die Een wat ek liefhet se "glimlag van goedkeuring" vir
my meer werd is as die hulde van 'n duisend mense, het ek één
ambisie: om Hom te behaag (hierdie ambisie is immers as
lewensbeginsel in my ingeskape deur die wedergeboorte). Ek
doen dus wat Hy beveel; ek vermy wat Hy verbied - so goed ek
kan.
! Die vraag is, hoe kan ek weet wat Hy wil? Hy het dit baie
duidelik in Sy Morele Wet, die Tien Gebooie, bekend gemaak! Die
eerste tafel van die Wet is glashelder oor hoe Hy wil hê ons liefde
vir Hom tot uitdrukking moet kom.
Die eerste gebod: Die Wíé van ons aanbidding en
liefdesdiens.
Die tweede gebod: Die hóé van ons aanbidding en
liefdesdiens.
Die derde gebod: Die gesindheid en respek van ons
aanbidding en liefdesdiens.
Die vierde gebod: Die wánneer van ons aanbidding en
liefdesdiens. Ses dae van die week moet ons as rentmeesters
van Sy skepping vir Hom werk. En die oorblywende dag moet ons
geheel-en-al afsonder ten einde toegespits met Hóm besig te
wees.
! Johannes sê dit uitdruklik in 1Jh 5:3: "Die liefde vir God
bestaan dan daarin dat ons Sy gebooie gehoorsaam." Wat ons
móét begryp, is dat God dit nie aan ons menslike willekeur oorlaat
om te besluit hoe ons ons liefde vir Hom gaan wys nie; nee, Hy
gee vir ons tien kanale waarin dit moet vloei!
! Dit is onvermydelik dat hierdie liefde vir Hom ons sal aanspoor
om ook ander so ver te kry om Hom lief te hê. Daarom bid en
getuig en gee en gaan ons!
2Kor 5:14: "Want die liefde van Christus 5 dring ons." Let op
die konteks: die bediening van die versoening.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19


Terug naar

Wie is er online?

Gebruikers in dit forum: 1 en 0 gasten