Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3948
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Sep 25, 2019 10:58 am

Ek het die beste voornemens gehad om lekker te gaan skryf in Amerika. Mar daar het dadels van gekom nie. Daar was net te veel ander dinge wat mens besig gehou het

Ek stuur dus nie vandag vir julle die gebruiklike Epreek of Herout nie, maar wel iets anders wat ek onlangs geskryf het, asook 'n paar ander dinge - genoeg om julle uit die kwaad te hou!

Eerstens 'n stuk wat ek wens nie nodig was om uit te stuur nie. Vir my was dit pynlik om dit te skryf, en nou is dit ewe pynlik om uit te stuur - en ek doen dit steeds met huiwering. Dis kommentaar oor die leerstellige verval in sekere van ons Afrikaanse kerklike en teologiesekringe. Ek is dankbaar dat ek kon begin met die kommentaar/skrywe van 'n baie gerespekteerde kerkman en teologiese professor - reeds 15 jaar gelede - wat uiteraard met meer gesag kon praat as ek. By hom - reeds oorlede, ek meen nie lank nadat hy die stuk geskryf het nie - sluit ek dan aan (as die MSWord dokument 'n probleem is, laat weet my, dan stuur ek hom in die gebruiklike PDF-formaat). En as julle dink dat ek 'n bietjie oordryf, gaan kyk na 'n internetplasing van Ferdie Mulder wat vanuit eie ervaring praat. Google: Dr. Frederik Mulder; Protest Part 2; Protest Orientation

Tweedens stuur ek die sleutel of skakel na 'n opname van 'n preek wat ek jare gelede gepreek het. Ek doen dit vir 2 redes. Die opname bevat eerstens 'n kostelike getuienis deur 'n Pretoriase kennis van my. Dit word gevolg deur een van my preke - 'n belangrike boodskap (meen ek) oor die Verlore Seun. Gaan na GOOGLE; Tik in: www.nunide.org.za (kliek sommer op hierdie blou, dan behoort jy direk daar uit te kom); gaan na SERMONS/PREKE (dis onder True Truth, 5de van bo af); kies AFRIKAANSE PREKE en soek preek no. AL 0017-00 - DIE OUDSTE SEUN (dis 'n hele entjie ALF). Dis 'n klankopname. Apologie aan die gekonfyte rekenaargebruikers vir die detail-voorskrif, maar ek weet daar is mense op die poslys wat nie heeltemal so flink is met 'n rekenaar nie.

Derdens wil ek 'n Skotse prediker aanbeveel wat al jare in die VSA werk. Daar is baie stof van hom op internet. Julle sal nie spyt wees as julle hom leer ken nie. Hy is 'n betroubare en skitterende prediker. En, wat ek baie van hou, hy is 'n nederige man. Sy naam is Alistair Begg. Leer hom ken - julle sal nie spyt wees nie; trouens, julle sal die Here baie dankbaar wees en bly dat julle hom leer ken het. Google hom onder sy naam, of die van sy bediening: www.truthforlife.org

Ek vertrou dis tot seen.

Nico
Nico Van Der Walt <nico@dievanderwalts.co.za>

*******************************************************************

Kommentaar van 'n Stellenbosse Kweekskoolprofessor – 15 jaar gelede


“Die liberale teologie van die 19de eeu waarteen Karl Barth en sy medestanders hulle met mag en mening verset het, word deesdae in eie geledere skaamteloos verkondig. Of 'n dweperige verlossingsleer met die vroom, godsdienstige mens in die sentrum in staat sal wees om weerstand te bied, val te betwyfel. Tussen die twee bestaan immers geen aardverskil nie; slegs 'n graadverskil. Wat in laasgenoemde (Arminianisme) verborge sluimer, word in die liberalisme wawyd wakker.
Die liberale teologie word gekenmerk deur 'n optimistiese mensbeskouing met 'n gepaardgaande bloedarmoedige genadeleer. Richard Niebuhr het die essensie van hierdie soort teologie goed saamgevat: "A God without wrath brought men without sin into a kingdom without judgement through the ministrations of a Christ without a cross."
JJ Buskes wonder wie die eerste keer van "onse liewe Heer" gepraat het. Sy sukses is verstommend, aangesien hierdie soetsappige "god" nêrens in die Bybel te vinde is nie. Hy verwys na ene kolonel Van Velzen wat die hel van 'n konsentrasiekamp oorleef het. Vra jy hom of hy nog in "onse liewe Heer" glo, kry jy die kortaf antwoord: "Pardon, ek was in Auschwitz." Dit beteken nie dat hy sonder meer geloof laat vaar het nie, maar in die konsentrasiekamp het hy alle geloof in 'n goedige "godjie" kwytgeraak. Buskes vind dit nie vreemd nie. "Onse liewe Heer" is nie net afwesig in die hel nie, maar ook in die hemel. Hy is nêrens nie, behalwe in ons verbeelding waar ons hierdie tuisgemaakte afgodsbeeldjie aanmekaar getimmer het.
Hierdie goedige Krimisvader-figuur wat geen vlieg kan skade aandoen nie, strook met 'n siening van sonde wat niks meer is as 'n bietjie morele gestremdheid nie. Sonde word dan, om 'n beeld van Luther te gebruik, soos die wit van 'n muur wat jy sonder alte veel sweet (en bloed) kan afskraap, en die muur bly dan nog oor. Luther ontken dit. Jy kan nie die sonde van die mens verwyder sodat die mens self nog oorbly nie. Eintlik is dit andersom: die mens moet uit die sonde verwyder word. Dit kan alleen gebeur deur ten gronde te gaan. Wat dan oorbly duskant die dood, is die sonde.
Soms wonder jy of die naïewe liberaliste ook koerante lees. Leef ons in dieselfde wêreld waarin vroue verkrag, kinders verkoop en mans voor kameras keelaf gesny word? Leef hulle ook op hierdie bloedbevlekte aarde?
Die betekenis van die Kruis sal ons nie verstaan voordat ons ontslae geraak het van wat Spurgeon noem "geparfumeerde lieflikhede" nie. Sieklike soetsappigheid strook wel met geloof in "onse liewe Heer", maar dit pas sleg by die Vader van die Gekruisigde. Die Bybel weet niks van 'n "dierbare ou kruis" nie, maar wel van 'n vloekhout. Daarom moet ons waak teen 'n stroperige sentimentaliteit en 'n werklikheidsvreemde stemming in die kerk wat kunsmatig geskep word met gebruikmaking van allerlei vroom foefies. Wat van die kruis afdrup, is nie heuning nie - dis bloed."

Prof. Flip Theron (Stellenbosch) in Die Kerkbode van 27 Augustus 2004 [Ietwat verkort]

-o0o-

Meeste lesers hiervan sal seker weet, of ten minste vermoed, dat Flip Theron 'n professor was aan die Kweekskool van Stellenbosch. Hy was 'n briljante geleerde en sover my kennis strek 'n regsinnige en ware gelowige (ek het nie die voorreg gehad om hom persoonlik te ken nie). Sy kommentaar – reeds 15 jaar gelede – was gewis in die kol. Wat hy vandág sou sê oor wat in Afrikaans-kerklike geledere aan't gang is (hoe sê hulle: no names, no packdrill!), kan 'n mens net wonder. Want as dwaalleer eers 'n vastrapplek in 'n teologiese inrigting en denominasie gekry het, woeker dit soos klokslag voort soos 'n dodelike infeksie - van kwaad tot erger. Ons sien die proses tans voor ons oë afspeel – en helaas hoor baie potpaddas dit Sondag na Sondag. Uiteindelik loop dit uit op totale verrotting en die ewige verdoemenis vir groot skares goedgelowige en naïewe mense. Onwillekeurig dink mens aan die trop van 2000 varke wat demoonbesete bult-af op loop gesit het en in die see verdrink het (Mark 5:13). En die ongeloofspredikers? Mens wonder of dit orals in die hel ewe warm is? Askies dat ek dit sterk uitdruk. Maar die oomblik as mens begin dink aan die implikasies van wat aan die gang is, word mens vervul met 'n heilige toorn en besef jy dat geen taalgebruik te sterk kan wees nie. Dink maar aan Europa, miskien spesifiek aan Nederland, waar dieselfde verval net 'n bietjie vroeër afgespeel het. 'n Eeu gelede en korter terug was dit nog 'n bakermat van Godgesentreerde Bybelse geloof – waar 'n groot deel van die bevolking Sondae onder die geklank van regsinnige Bybelse prediking gesit het. Vandag is minder as 15% Hollanders nog lidmate van Protestantse kerke – en oor hoeveel van hulle wedergebore is en die Koninkryk sal binnegaan, kan mens maar net wonder.
Dis nie vir my maklik om hierdie dinge so op die man af te sê nie. Maar in die lig van God se Woord kan ek nie anders nie. Inderdaad is ek dankbaar vir die talle leraars in daardie kringe – hier in ons land - wat nog getrou aan die Skrif en belydenis vashou en dit kompromieloos verkondig. Ek ken van hulle. Ek sidder net as ek wonder of hulle nie al hoe minder word nie.
Al wat ek vir mense kan sê wat hulleself nog aanmekaar aan sulke ongeloofsprediking blootstel, is: "Klim onverwyld uit! Gaan voeg jou by mede-gelowiges wat die Here in gees en waarheid aanbid. Doen dit egter biddend, onderskeidend en voetjie vir voetjie. Die valse is orals aan die orde van die dag. Maar in ons groot sentra is daar nog talle ware kerke. Eintlik moet ek praat van gemeentes en waarheidspredikers – Godgesentreerd, Christusgefokus en Skrifgefundeerd. Let op, ek praat nie van denominasies nie. Die dae is verby dat mens nog in ‘n verstorwe denominasie moet sit, net omdat jy daarin grootgeword het. Tradisionalisme kan noodlottig wees.
Wat kan ek vir gelowiges sê wat iewers op die platteland sit, en daar eenvoudig geen kerklike alternatief is nie? Ek is seker, as jy om jou kyk, gaan jy mense sien wat óók die Here liefhet en in gees en waarheid wil dien. Dalk het hulle jou net so nodig soos jy hulle. Maak nie saak of hulle in die onderdorp bly en jy in die bodorp nie - of omgekeerd. Maar jy gaan hulle bes moontlik eerder in die minder gegoede deel kry. Ek dink dis wat die Bybel suggereer – indien nie uitdruklik sê nie.
En onthou, nêrens leer die Bybel dat 'n groepie dissipels 'n predikant nodig het voordat hulle waarlik kerk kan wees nie. In sekere situasies het ek al gewonder of 'n groep gelowiges nie vinniger en beter sou gegroei het nie as hulle dalk sonder 'n dominee was. Ek ken sulke gevalle. En kyk maar na die vroeë gemeentes in Handelinge. Meeste van hulle het maar selde ‘n apostel gesien. En as ek van groei praat, dink ek nie aan getalle nie. Ek praat van die kennis van God en Sy weë – en van groei in gelykvormigheid aan die beeld van Christus.
In elk geval kan ek julle verseker dat daar nog orals ware pastors en leraars is wat bereid is om ver te ry of te vlieg - selfs al moet hulle net 'n handjievol broers en susters in die allerheiligste geloof gaan opbou. As dit nie voorbarig was nie, sou ek selfs myself kon aanbied.
Wat sê ek vir regsinnige predikante wat steeds werk in die kringe waarvan ons praat. Ek sal julle nie kwalik neem as julle vasbyt nie. Maak net seker jy is nie 'n potpadda nie. En verkondig die Godgesentreerde, Christusgefokusde, Bybelse evangelie kompromieloos. Onthou, elkeen van ons moet binnekort aan die Koning van alle konings verantwoording doen oor hoe ons ons roepinge uitgeleef het.

-o0o-
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3948
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Okt 09, 2019 3:20 pm

Vir 'n slag weer 'n epreek. Vertrou dit beteken iets vir jou.

Hartlike groete,

jbiC

Nico van der Walt
Nico Van Der Walt <nico@dievanderwalts.co.za>
www.facebook.com/nico.vanderwalt.73


**************************************************************************


Gen 1:28-29 & 2:5, 15 : Die Arbeidsverordening
No. E307



Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees
vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk
dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die
lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere
wat op die aarde kruip" (Gn 1:28, OAV).
Die Here God het die mens in die tuin laat woon om
dit te bewerk en op te pas (Gn 2:15, NAV).
Die arbeidsverordening was geen
vonnis nie; dit was 'n heerlike roeping!
• Die arbeidsinstelling is reeds vóór die
sondeval verordineer. Die mens is in die tuin
geplaas om te werk. Hy moes heers oor die
vis, die voëls en die diere. Hy moes die tuin
bewerk en oppas (Gen 1:28-29; 2:5; 15). Die
Hebreeus wil sê dat hy die tuin moes versorg,
daarna omsien, dit in stand hou. Die NIV se "to
take care of" (Gen 2:15) is in die kol
Dit het tóé nog nie gegaan oor
bewaking (2:15, OAV) teen bedreigings en
verval nie. Ons praat van die volmaakte aarde
vóór die sondeval.
• Die arbeidsopdrag het volledig by die
mens se verhewe status en waardigheid
gepas. Dit was nie 'n straf of 'n las nie;
inteendeel, dit was deel van God se seën oor
die mens. Arbeidadel! Arbeidsgenot!
• Hierdie feit moet ons as gelowiges
waarsku teen die wêreld se negatiewe
instelling teenoor arbeid. Werk is nie gegee as
deel van die vloek nie. Dit was en bly 'n
skeppingsverordening - en ons het alle rede
om te glo dat dit tot in ewigheid so sal wees.
Dis deel van die mens se basiese samestelling
om te wil en te kan werk. Daarsonder boet hy
lewenskwaliteit in, raak hy die sin van sy
bestaan byster, verloor hy sy menswaardigheid
en verbeur hy wonderlike seën.
Laat 'n Christen daarom nie aftrede en
pensioen sien as 'n lekkerland van ledigheid
nie. Sekerlik sit daar nie sonder meer
sondigheid in die slaan en sink van 'n klein
balletjie op 'n setperk nie (trouens, dit lyk nogal
vir my lekker. Tyds-, monetêre- en
prioriteitsbeperkinge weerhou my egter
daarvan). Maar mag ek tog maar eerder met 'n
skootrekenaar in my hande sterf as met 'n
gholfstok. Of selfs nog beter, sal dit nie
wonderlik wees as die Here my dalk van agter
'n kateder kom uithaal nie!
• Dit moet ons ook waarsku teen die geringskatting van nederige handewerk. Dit is
té dikwels die gesindheid in ons samelewing.
Dis 'n onbybelse mentaliteit.
• Die opdrag van Gen 1:28 is baie
betekenisvol - veral die opdrag om die aarde te
onderwerp (OAV). Sonder twyfel dui dit op die
ontwikkeling en benutting van al die basiese
grondstowwe en potensialiteite waarvan ons
wêreld so oorlopens vol is. Dit impliseer nie net
die aanwending van energie nie, maar ook
ontdekkende denke en navorsing. Dit impliseer
ontleding en samevoeging, verwerking en
raffinering, ontwikkeling en kanalisering.
• Soos die mens nie vir die Sabbat
gemaak is nie, maar die Sabbat vir die mens;
so is die mens ook nie vir die aarde gemaak
nie, maar die aarde vir die mens. Hy moet
daaroor heers en dit benut - dis vir sy
versorging, welsyn, genot en bevrediging
gegee!
• Hoewel die fokus hier in Genesis op die
aarde val, en die mens grootliks aardsgebonde
is (in elk geval tans in hierdie bedeling nog),
moet ons sekerlik in terme van die grotere
kosmos dink. Sonder twyfel leer die Bybel dat
die herskepping in Christus nie net oor die
mens se redding gaan nie, maar ook oor die
herstel vandie skepping. Die herskepping gaan nie net oor 'n nuwe aarde nie, maar ook oor 'n
nuwe hemel.
Rom 8:19-22 is in hierdie verband
hoogs betekenisvol. Die skepping is nog aan
"verydeling onderworpe". En dis "verslaaf aan
aan verganklikheid". Dit "sug in sy pyne van
verwagting". Die apostel gebruik sterk taal hier
- kraamsaal-taal!
• Waarlik, soos óns, leef ook die
skepping in hoop..
Uiteindelik gaan alles oor die eer en
verheerliking van God
Die arbeidsverordening het ten diepste die
verheerliking van God, die Skepper ten doel -
van die begin af. Die aarde - die hele kosmos -
behoort aan die Here in sy totaliteit en is vol
van Sy heerlikheid. Ontdekking van sy Maker
se almag, goedheid en menigvuldige wysheid,
was voor die sondeval die ongevalle mens se
primêre vreugde, motivering en aansporing om
die skepping te ondersoek, te benut en te
ontwikkel. So was sy dae gevul met oorstelpte
verwondering en lof.
Presies dit behoort tot vandag toe 'n
Christen se diepste motivering te wees in sy
navorsing deur teleskoop of mikroskoop, in sy
ontdekkingsreise en wiskundige berekenings.
Mag dit ons inspirasie wees as ons dieper en dieper indring in die geheimenisse van die
skepping.
Daar skyn 'n helder lig voor in die pad
In die volmaakte staat was daar destyds in
Eden geen konflik tussen plig en plesier, geen
antitese tussen heelhartige spontaniëteit en
hardwerkende gehoorsaamheid nie. In
aanbidding en gehoorsaamheid lê die mens se
hoogste vervulling immers.
Natuurlik het alles ná die sondeval
verander.
• Tog vind selfs die gevalle mens steeds
dat daar min dinge is wat hom so fassineer en
vasgevang hou as wetenskaplike navorsing.
Presies hier lê die rede waarom ook die
herskepte mens hom mag verlustig in die
natuurwetenskappe.Die Christenwetenskaplike
en -ingenieur kan vir seker Ps 104:24 as leuse
aanvaar: "Hoe talryk is u werke, Here! Alles is
met wysheid deur U gemaak; die aarde is vol
van wat aan U behoort." (v.24, DAV).
• Maar wat hierdie dinge betref, praat ons
in hierdie lewe bloot van die voorlopige. Ja,
daar is 'n "reeds". Maar dis net die voorlopige.
Trouens, ek meen ons beleef die "nog nie"
dikwels veel sterker. Watter gelowige gaan nie
steeds swaar gebuk onder die gebrokenheid van ons bestaan nie?
Elke dag, heel dag, beur die vlees
steeds om die oorhand te kry. En tragies
dikwels gebeur dit inderdaad.
En dis die oorsaak van ons pynlikste
frustrasies - ons onvermoë om God te behaag
soos ons regtig wil. Ons is herskep om
inspanningloos te sweef, maar die
grawitasiekragte van oorblywendesonde dwing
ons weer en weer grond toe. Ek het die hart
van 'n arend, maar die vlerke van 'n flap!
Maar daar kom 'n nuwe skepping -
waarskynlik - nee, vir seker - veel heerliker as
destyds in die paradys! Dit sal wees soos die
skepping sou geword het as Adam en Eva
gehoorsaam sou gebly het aan die proefgebod.
En dis waarom ons wat in Christus is
bly getuig - ten spyte van ons gebrokenheid.
Want ons wéét daar kom 'n dag - 'n dag van
alle dae! Die dag van die finale herskepping!
Dit sal 'n dag wees van afronding, 'n oomblik
van vervolmaking. Dan sal die reste van
gevallenheid en die smet van sonde finaal iets
van die verlede wees! En ons sal ons Maker
dien met ongebreidelde oorgawe en sukses -
op 'n nuwe aarde. Ons sal werk en ontdek, ons
sal navors en bou - onvermoeid. Tot in
ewigheid sal ons nie genoeg kry nie - nie van
Hom nie, maar ook nie van sy skepping nie.
Nee, nee, nee! Laat ons praat van sy
herskepping.
En so sal ons die drie-enige God al hoe
beter en al hoe meer leer ken. Sy almag en
heerlikheid en wysheid! En ook sy
onbegryplike, oorbluffende en verbysterende
skeppingsvernuf.
Maar nog baie, baie meer as dit sal die
heerlikheid van wie en wat Hý is die
hoogtepunt, die klimaks, die summum bonum
van ons verwondering en lof wees - soos dit
nou al is in die lewens van almal wat waarlik in
Christus is en aan Hom behoort. En die Drieenige God self, Hy en net Hy, sal vir ewig ons
hoogste lof en ons heel grootste vreugde wees!

Nico van der Walt



• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale
en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die
Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde
evangeliese gelowiges in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika
suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en
korrespondensie:
Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, SuidAfrika.
E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396
of
E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 8282 940
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na
nóg 4 blogs)
• Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie
wêreldwyd en gratis in Afrikaans en soms in Engels per e-pos
gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur
verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19


Terug naar

Wie is er online?

Gebruikers in dit forum: 1 en 0 gasten