Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3168
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Di Sep 25, 2018 5:29 pm

Nico van der Walt <nico@dievanderwalts.co.za>




Hierdie sal dalk nie heeltemal nuut wees vir julle nie. Ek het al oor die onderwerp geskryf, maar ek het die tema aansienlik uitgebrei. In elk geval kan mens maar weer en weer aan die onderwerp aandag gee. Dit le so aan die hart van ons ewige verlossing in Christus.

Julle ken die ou storie. As daar iets fout is met die dokument, laat weet my, dan probeer ek weer. My sagteware (Group Mail) gee my maar grys hare (dis 'n oordrewe stelling, want gryser as wat ek reeds is, kan dit nie!)

Mag dit tot seen wees.

jbiC

Nico van der Walt


****************************************************************************************


ANTIPAS HEROUT Antipas, My getroue getuie (Op 2:13)

No 63

JESUS CHRISTUS, DIE HILASTERION-OFFER Romeine 3:21-26


Nico van der Walt



Ek is nie 'n kenner van die Griekse mitologie nie. Maar J.I. Packer gebruik iewers 'n verhaaltjie uit daardie antieke fabels (±1000 v.C.) om te illustreer waaroor ons vandag wil besin, naamlik die feit dat God se verlossingswerk ten diepste gaan oor Homself, Sy eer en die bedaring van Sy heilige verontwaardiging oor die mens se sonde. Helena van Troje is op 'n stadium deur die vyand ontvoer. 'n Griekse reddingsvloot is agterna om haar te red, maar is opgehou deur sterk winde van voor af. Die Griekse generaal, Agamemnon, het sy dogter toe by die huis laat haal en by haar aankoms seremoniëel laat slag en geoffer as 'n paaioffer vir die gode. Dit het gewerk, want die wind het gaan lê en die skone Helena, as ek dit reg het, is gered. Hierdie fiktiewe verhaaltjie belig 'n idee waarop feitlik alle heidense godsdienste oor die wêreld heen gebaseer is. Meeste van hierdie godsdienste glo dat daar baie gode is. Nie een van hierdie gode is alleen en volkome in beheer van sake hier op aarde nie, maar elkeen beskik oor kragte wat hom in staat stel om die lewe moeiliker of makliker vir mense te maak. Hulle is buierig en jaloers, en neem gou-gou aanstoot aan wat mense doen of nie doen nie. As een van hulle dus dink dat iemand meer aandag aan van die ander gode gee as aan hom, kan hy die lewe uiters onaangenaam maak vir so 'n persoon. Daar was net een manier, het die heidene geglo, om sulke iesegrimmige gode weer in 'n goeie bui te kry: jy moet offers vir hulle bring - paaioffers - en hoe duurder, hoe beter. Die offer van mense is as die kosbaarste en duurste beskou, en daarom was dit meer effektief as enige ander offer. Vandaar Agamemnon se offer van sy dogter, soos gesien. Heidense godsdiens was en is steeds dus 'n goedkoop stuk kommersialisme, 'n kamptige manipulering van die sogenaamde gode deur slinkse omkopery. Uiteraard verwerp God se Woord sulke heidense idees en praktyke met die uiterste minagting en verontwaardiging.

Die Bybelse lering
Die ware God wat homself in die Bybel openbaar, is totaal anders. In Hom is alle goedheid en waarheid. In Hom is geen boosheid, kwaadwilligheid, buierigheid, humeurigheid of selfsug nie. Daar kan dus geen sprake wees daarvan dat 'n "paaioffer" Hom sal omkoop of hom van gesindheid sal laat verander nie. Soiets in die mens se verhouding met Hom is ondenkbaar en lasterlik. Tog het ons in die Griekse Nuwe Testament 'n familie van drie woorde wat die idee dra van 'n offer wat 'n gesagsfiguur - in die Nuwe Testament die Here God - se toorn kalmeer en sy verontwaardiging stil. Só word hierdie groepie woorde kardinaal belangrik in die Bybel. Dit ten spyte daarvan dat 1 dit slegs enkele kere voorkom! Maar waar dit wel gebeur, dra dit gewig soos min ander begrippe in die Skrif.
Die vertaling van die Griekse begrip
Afrikaans het eenvoudig nie 'n enkele woord wat hierdie familie van Griekse woorde bevredigend vertaal nie. Beter as die OAV en NAV se "versoening" is darem die DAV se "versoeningsoffer", hoewel die Griekse begrip nog 2 meer behels.
Sommige Engelse vertalings gebruik die vertaling "propitiation" - wat 3 presies sê waarvan ons praat, maar ongelukkig weet bloedweinig Engelssprekendes vandag nog wat hierdie woord beteken. Erickson, in sy Concise Dictionary of Christian Theology, omskryf die begrip so: "A reference to the idea that Christ's atonement satisfies the wrath of God." Dit gaan dus oor die bedaring of stil van Gód se heilige toorn. So stel Funk & Wagnalls se College Standard Dictionary dit: "Some offering, sacrifice or suffering sufficient to win forgiveness or make up for an offence. It is an action that makes the governing power propitious (graciously disposed toward the offender)." Miskien is die beste poging in Afrikaans iets van 'n omskrywing: Christus was ons strafdraende Plaasvervanger (Eng. penal Substitute). Hy het immers God se toorn namens ons gedra.
N Strafdraend: 'n Heilige God se volmaakte geregtigheid dring daarop aan dat alle oortredinge van Sy wet gestraf moet word. En presies dit het op Golgota gebeur. Daar het God se toorn teen die sonde van mense op Sy eie Seun in gebrandglas!
N Plaasvervanging: Dit vind plaas wanneer iemand in die plek van 'n ander optree om die ander se plig af te handel - dus wel só dat dit nie meer vir die ander nodig is om dit te doen nie.
• Dat Christus as plaasvervanger opgetree het vir diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het, word sterk deur die Skrif onderstreep. Twee voorsetsels bring dit mooi na vore:
N In Rom 5:8 en Gal 3:13 word die voorsetsel huper (ter wille van, namens) met "vir" vertaal. Laasgenoemde vers stel dit só: "Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word". N Mt 20:28; Mk 10:45 en 1Tm 2:6 gebruik weer die voorsetsel anti (in plek van, in ruil vir). Só stel Mk 10:45 dit: "die Seun ... het ... gekom ... om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie ..."
• Jesus Christus, gedring deur Sy volkome liefde om al die nodige te doen vir my redding, het God se verskriklike oordele, wat ék moes ondergaan het, volledig namens my gedra en sodoende vir my vergiffenis en ewige heerlikheid bewerkstellig.
• Elke gelowige móét hierdie waarheid verstaan. Dit lê immers aan die hart van die evangelie. Begryp, glo en omhels dit en dit sal jou lewe verander. Daarom ken Christene dwarsdeur die eeue twee belewinge: Eerstens 'n diep hartswete: hiervoor is ek alles, my ganse lewe aan my Verlosser verskuldig. Tweedens ’n innerlike sekuriteit, wat 'n onuitputlike bron van vrede, vreugde en lof word.
Strafdraende plaasvervanging in die Bybel
• In die Ou Testament is strafdraende plaasvervanging onderliggend aan die godsdienstige kultus - veral die sonde-offer, die skuldoffer en die groot versoendag (Lev 4:1-6:7; 16:1-34). In Num 16:41-50 neem die volk aanstoot aan die Here as Hy Korag, Datan en Abiram laat sterf oor hulle ernstige sonde. God dreig dan om die hele volk uit te wis. Moses beveel Aaron onmiddellik om vir die volk versoening te doen, omdat die toorn van die Here reeds teen hulle begin ontvlam het. Aaron doen dit onverwyld en spoedig hou die plaag op - maar 14 700 mense was toe reeds dood onder God se toorn.
• Soos reeds gesê, vind ons in die Nuwe Testament die hilasterionwoordgroep in enkele Skrifgedeeltes - Skrifuitsprake van die allergrootste belang (sien voetnota 1 op p.3). Laat ek poog om die boodskap van hierdie paar Skrifgedeeltes kernagtig op te som.4
1. God het in die publiek Jesus Christus vertoon as 'n offer wat Sy toorn verduur en sodoende ons sondeskuld wegneem. In Rom 3:21-26 word 4 maal gesê dat dit in die verlossing van sondaars gaan oor die openbaring, die bewys, die vertoning van God se geregtigheid (v.21, 22, 25, 26). Dis ten diepste waarom die Vader Sy Seun as 'n offer (Gr. hilasterion) gegee het. Dis ten diepste waaroor dit gaan in die redding van sondaars. Dis om Homself te verheerlik! Dit gaan oor Homself en Sy aanstoot aan die mens se sonde en Christus se verwydering van hierdie aanstoot!
2. Dit was noodsaaklik dat Christus in alle opsigte mens word in diens van God, ten einde 'n getroue Hoëpriester te wees - om só Sy Vader se toorn teen mense se sonde te bevredig en weg te neem. (Gr. "hilaskomai") (vgl. NIV en Ampl). Sien jy dit? Hy was as strafdraende plaasvervanger ten diepste priesterlik in diens van Sy Vader.
3. Benewens bostaande, hou Jesus Christus, die regverdige, as advokaat en as strafdraende plaasvervanger (Gr. hilasmos) ons saak - as sondegevalle en sondedoenende mense - reg by die Vader.
4. God het ons liefgehad en Sy Seun gestuur as 'n offer wat God se toorn as strafdraende Plaasvervanger (Gr. hilasterion) afweer".
Ontkenning dat Christus ons strafdraende Plaasvervanger is Die afgelope 80 jaar is ernstige beswaar aangeteken vanuit meer vrysinnige teologiese kringe teen die idee dat Christus as strafdraende plaasvervanger oftewel propitiation gesterf het. Veral die bekende Britse swaargewig-teoloog, C.H. Dodd, het hierin die leiding geneem. Hierdie manne wil eerder die begrip expiation (die afskryf of ignorering 5 van sondeskuld) gebruik as die woord propitiation (die bevrediging van God se toorn). Ons ken die idee in ons menseverhoudinge: "Kom ons vergeet van ons verskille en bly vriende! Vir seker is die verskille nog daar, maar ons laat nie toe dat dit langer 'n negatiewe rol in ons verhouding speel nie." Maar Christus het baie meer as dit bewerkstellig. Dit gaan dus daaroor dat hierdie teoloë aanstoot neem aan die idee van God se toorn. Slegs 'n God van liefde en vergewingsgesindheid is vir hulle aanvaarbaar. Hierdie mense was en is vir seker invloedryk - tot so 'n mate dat sekere Engelse Bybelvertalings i.p.v. propitiation eerder met expiation vertaal (vgl. RSV en NEB). Hulle beswaar is dat 'n gestrenge aanbieding van God se karakter eerder mense sal afstoot, as om hulle na Hom toe aan te trek. Ons hoef nie op al die tegnies-teologiese argumente in te sak nie, maar sonder twyfel toorn God teen sonde. Afgesien van die Ou Testament, wat boordevol gevalle is van God se aanstoot aan mense se sonde - en dit talle 6 kere met die dood straf - het ook die Nuwe Testament voorbeelde daarvan. Dink maar net aan Ananias en Saffira en hoe hulle te wyte aan hulle sonde op 'n skrikwekkende wyse onder God se toorn gesterf het (Hand 5:1vv; vgl.ook Rom 1:18, 24, 26, 28, 32, 2:5, 8; 3:5 - om maar net na Romeine te verwys). Die gerespekteerde teoloog, John Murray, stel dit so: "The essence of the judgement of God against sin is his wrath, his holy recoil against what is the contradiction of himself. ... So the doctrine of propitiation is not to be denied or its sharpness in any way toned down."7 Duidelik is die eksegetiese getuienis oorweldigend in die guns van Christus se kruiswerk as strafdraende plaasvervanging en 'n bevrediging van God se toorn. Waarlik, daar is geen rede om van die tradisionele beskouing en die Skrifverklaring soos dit hierbo uiteengesit is, af te wyk nie.
Die Godwaartse gerigtheid van strafdraende plaasvervanging
Wat ons tot nou toe gesien het, beteken dat dit noodsaaklik is dat ons seker maak dat ons reg dink oor Christus se kruiswerk. Dis nie ten diepste - ek sê ten diepste - gerig op die mens nie, maar op God self. Ons sonde is vir God tot aanstoot! Laat ons dus verstaan dat die kruis nie in die eerste instansie gaan oor óns redding nie, maar oor die kalmering en bevrediging van 'n heilige God se toorn. As ons daarom na die kruis kyk, moet ons nie primêr óns verlossing en komende saligheid sien nie, maar ons ewige óórdeel wat gekanselleer is, 'n heilige en vertorende God wie se toorn bevredig is, Sy verskriklike verontwaardiging wat gestil is! Dit is in die eerste instansie die rede vir die kruis! Dit was ten diepste ter wille van 'n heilige God self - om Sý toorn te bevredig! Dit het gegaan oor Sý heilige verontwaardiging wat tot bedaring gebring moes word, oor Sý aanstoot wat gekalmeer moes word, oor Sý toorn wat tot rus gebring moes word (Eng. to pacify, to appease).
Kan jy dus sien: God se aanstoot aan die sonde - Sy diep afsku daaraan - maak dit onontkombaar noodsaaklik dat elke kriesel ongeregtigheid en elke sonde gestraf moet word. Dít, presies net dit, is waarom God, as Hy dan sondaars wil red, Sy Seun moet laat sterf. En dit, presies net dit, is wat op Golgota gebeur het.

Waarlik, 'n tydjie in die vagevuur is nie genoeg om jou of my weer in 'n harmonieuse verhouding met God te stel nie. Net die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid se verskriklike vernedering, lyding en dood kon dit bewerkstellig - óf my ewige, my onophoudelike helse smarte.
Meer kan en moet ook hieroor gesê word
Net 'n laaste waarheid wat ons óók moet vashou en nooit laat los nie. Hoewel die God-gerigtheid van Christus se versoeningswerk, soos ons tot nou toe daarna gekyk het, primêr en voorop is, beteken dit nie dat die mens bloot terloops ook in die prentjie is nie. Nee, dis tog so duidelik soos daglig in die Skrif dat God óók die wêreld so liefgehad het dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het om deur Sy kruisdood vir sondaars versoening te doen en vir Homself los te koop. Hoeveel Skrifuitsprake is daar nie wat duidelik sê dat die kruisiging van Christus die redding van God se uitverkorenes verseker nie! Maar dis eers in die tweede plek! In elk geval word hulle wat gered word aan die Here Jesus Christus as bruid gegee - tot eer van God en as erkenning en dankgeskenk vir wat hulle Bruidegom gedoen het. Die beklemtoning van die selfgerigtheid van God se versoeningswerk moet dus nie vertolk word as dat die redding van sondaars eintlik maar terloops ook in die prentjie is nie. Natuurlik nie! Nee! Die Bybel is vol getuienis dat die Vader ook sondaars wou red. Dit, presies net dit, is waarom sondaars met die grootste vrymoedigheid hulleself na Golgota toe durf en moet haas. Wat 'n voorreg om deel van die Here Jesus se bruid te wees - om daar saam met ontelbaar baie ander vrygekooptes in die Geliefde, Jesus Christus te skuil en die Vader te verheerlik.
Samevatting, gevolgtrekkings en implikasies
1. Strafdraende plaasvervanging is die wil en inisiatief van God self ter wille van homself - en daarnaas ook ter wille van ons.8
In die heidense godsdienste is dit die mens wat met sy offers poog om sy sogenaamde gode te paai. So word hulle godsdienste dan effektief 'n soort omkopery. Maar die Christelike geloof leer egter dat dit God self is wat Sy eie verontwaardiging en toorn bevredig. Dis nie die mens wat die inisiatief neem nie. Dis selfs nie Jesus Christus wat 'n teensinnige Vader wou oorreed nie. Die idee dat die Seun téénoor Sy Vader gestaan het, die inisiatief geneem het en Sy Vader se wil probeer swaai het deur Homself te offer in die plek van die sondegevalle mens, het géénsins enige Skrifgrond nie. Dit is 'n totaal onbybelse idee, aangesien dit die wilseenheid van die Vader en die Seun misken, geen eer vir God inhou nie en in werlikheid neerkom op politeïsme, oftewel 'n twee-godendom. Nee, die Bybel leer baie duidelik dat dit God die Vader self is wat die inisiatief geneem het - om Sy eie toorn teen die mens te stil. Die waarheid van Christus se strafdraende werk is presies dít:
God het die voorwerpe van Sy toorn só liefgehad dat Hy Sy enige en geliefde Seun gestuur het om deur Sy bloed Sy - die Vader - se toorn teen die sonde van die mens te bevredig en te stil - sodat Hy hierdie mense volkome kan red - en dit alles sonder dat Sy geregtigheid enigsins geweld aangedoen word.
Presies dit lê aan die hart van die waarheid waarmee ons besig is en die openbaring van God se genade en liefde!
• En net so moet ook ons naasteliefde tot uitdrukking kom. Want, as ons die Here wil navolg, moet ons selfs diegene liefhê tot wie dit amper onmoontlik vir ons is om aangetrokke te voel - behalwe met die genade van die Here. Trouens, "loving the unlovable", is 'n merkteken van 'n ware Christen. En dit kom noodwendig tot uitdrukking in 'n dienende liefde - veral teenoor broers en susters in die Here. En dis sonder twyfel 'n merkteken van egtheid. Onderlinge broederliefde is 'n karaktertrek van 'n ware gemeente en daarom ook van iemand se Christenskap. Dis nog altyd 'n onmiskenbare familietrek dwarsdeur die eeue en regoor die wêreld. Wie nie waarlik liefhet nie, is kennelik nie deel van die familie nie - want hy of sy is duidelik nie verwant aan ons oudste broer nie (1Joh 4:9).
2. Strafdraende plaasvervanging kom duidelik tot uitdrukking in die dood van Christus
In die Ou Testament het die vloei van bloed ingehou dat die offerdier geslag moes word. Só het God dit voorgeskryf en in Lev 17:11 word verduidelik waarom dit so moes wees: "Omdat die lewe van 'n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens." Dis die vloei van bloed wat 'n integrale deel is van die versoeningsproses en aan die hart daarvan lê. Wat God se toorn dus ten diepste bevredig en ons só verlos van die dood, is nie in die eerste plek die Here Jesus se lewe, of lering, of Sy morele volmaaktheid, of Sy getrouheid aan die Vader, as sodanig nie - onmisbaar en uiters belangrik soos dit alles was - maar die vergieting van Sy bloed toe Hy gesterf het aan die kruis. Die Bybelse skrywers verwys soos klokslag na die storting van bloed as die uitnemende versoeningshandeling en verduidelik, soos gesien, die versoening in terme van strafdraende plaasvervanging. Op die Groot Versoendag is twee bokke gebruik. Die een dier is op die gewone manier as sonde-offer geoffer. Op die ander een is die volk se sondeskuld met handoplegging afgelaai. Maar daarna is dit die barre woestyn ingejaag om daar van honger en dors te vrek. Die volk se sondes is dus simbolies op hom afgelaai en hy moes dit wegdra (Lev 16:21-22).

Hierdie dubbele ritueel het 'n enkele les geleer: dat God se toorn afgeweer word deur 'n verteenwoordigende plaasvervanger en dat sonde dan uit sig uit verwyder word - om nooit weer die verhouding tussen God en mense in die gedrang te bring nie.
Hierdie offer-rituele was presies die agtergrond en afbeelding van die apostels se lering oor strafdraende plaasvervanging en die versoening tussen God en Sy volk wat dit bewerkstellig.
3. Strafdraende plaasvervanging verbeeld God se geregtigheid.
God se hantering van die volk se sonde en Sy Seun se kruisdood, bring geensins Sy moraliteit, Sy geregtigheid, in gedrang nie. Trouens, sê Paulus, dit bevestig dit. God het Jesus Christus juis gegee "om sy geregtigheid te toon .... sodat Hy self regverdig kan wees ...." (Rom 3:25-26). Ou Testamentiese offers was dus nie vergiffenis as sodanig nie, maar bloot 'n belofte en herinnering dat die oordeel uitgestel word - totdat Christus as Lam van God in die volheid van die tyd dit sou kon ondergaan. Wat ons dus moet verstaan, is dat sowel die vryspraak en regverdiging van uitverkore sondaars, en die ewige verwerping van onbekeerlike goddeloses, totaal regverdig is. Eesgenoemdes se sondeskuld is reeds betaal - toe die Lam van God op Golgota onder Sy Vader se toorn gesterf het. En laasgenoemdes se straf sal uiteraard onafwendbaar 'n werlikheid word.
Wat sê hierdie waarheid verder vir ons?
1. Dit sê vir ons iets oor God.
Dis 'n totaal verwronge en Godonterende idee dat Christus “arme sondaars” teen Sy Vader se woede beskerm het.

• Golgota was ten diepste die Vader se inisiatief. Dis die Vader wat Sy Seun daar "gegee" het (Rom 3:25). Letterlik sê die werkwoord dat die Vader Sy Seun as ’t ware voor Homself neergesit het - ten einde mý straf te verduur. Hoe aangrypend voorsien Jesaja dit nie! "Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom." ... "Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly." (53:4-5, 10).
• Agter die kruis moet God se heilige geregtigheid dus gesien word. Op Golgota is Sy toorn teen my sondeskuld bevredig. Dit het reggemaak wat verkeerd was in Sy oë. Elke kriesel skuld is betaal. Die kruis beklemtoon die volmaaktheid van God se wet en dat Hy kompromieloos daarby staan as morele standaard vir die mens. Die diepste grond van ons redding is en bly volmaakte onderhouding van die wet - dié van die mens Christus Jesus!
2. Dit sê vir ons iets oor die mens.
Sedert Golgota kan geen twyfel bestaan oor die erns van God se waarskuwing in Gen 2:17 nie: "Die dag as jy daarvan eet, sterf jy." Daar kan nie 'n groter en meer beledigende sonde wees as om só 'n Plaasvervanger soos Jesus Christus weg te wys nie. Daarom sal God elkeen wat sy rug op Sy genadeaanbod draai, met 'n strenger oordeel straf as diegene wat nooit die evangelie gehoor het nie. Niks beklemtoon die onontkombaarheid van die ewige verdoemenis vir diegene sonder 'n plaasvervanger meer as die feit van Golgota nie. Sal die lewende God 'n rebel oorsien, as Hy Sy eie Seun nie gespaar het nie?
3. Dit sê vir ons iets oor Jesus Christus.

As ware mens het Hy ons plek onder God se toorn ingeneem. Hy het die dood ondergaan wat ons moes sterf - liggaamlik en geestelik. Dis waarom Hy roep: "My God, My God, waarom het U My verlaat?" (Mark 15:34). Hier is die onwankelbare fondasie van ons vryspraak en immuniteit in terme van die Wet. Een van die Skrif se aangrypendste beklemtonings is Jesus Christus se gewillige opoffering van Homself as Plaasvervanger. Vier keer in die gedeelte oor die goeie herder beklemtoon Hy dat Hy Sy lewe aflê vir die skape (Jh 10:11, 15, 17, 18). En in Ef 5:2 skryf die apostel: "Lewe in liefde,soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was."
4. Dit sê vir ons iets oor reddende geloof.
Geloof begryp dat God se vereistes en standaarde vir die mens volledig en onveranderd bly staan tot in ewigheid, en dat die ewige straf wat God belowe het vir mislukking en rebellie, onafwendbaar rus op elkeen buite Christus. Ware geloof aanvaar egter ook dat die straf vir my sonde reeds op Christus ingebrand het - en totaal daar uitgewoed het. Ware geloof bring gewetensrus. Toplady sing: "Payment God cannot twice demand, first from my bleeding Surety's hand, and then again from mine."
• 'n Voorbrand dien as brandbeveiliging. Waar 'n vuur eenmaal gebrand het, brand dit nie wéér nie! Onthou dan: die vuur van God se toorn het reeds op Christus ingebrand. Waarlik, op die oordeelsdag sal daar één veilige plek wees: Golgota se voorbrand! Ware geloof gaan nie net eenkeer Golgota toe nie. Nee, dit skuil deurgaans by die kruis van Jesus Christus!
• Hieruit volg twee wesenstrekke van ware, saligmakende geloof:
N Eerstens begryp en omhels dit God se vrye gawe van vergiffenis in Christus - vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. Dis die hart daarvan. 'n Christengelowige sterf met sy Verlosser se Naam op sy lippe.
N Tweedens is ware geloof 'n wegkyk van jouself - na Christus, en besonderlik na Hom as die Gekruisigde. Volwasse gelowiges soek dus nie die grond vir hul vergiffenis en toekomshoop in eie belewinge nie. Hulle weet, voortdurende introspeksie is 'n resep vir moedeloosheid. Ja, hulle ondersoek hulleself gereeld (2Kor 13:5), maar steek nie daar vas nie. Hulle sondebesef dryf hulle weer en weer na Christus toe. Moet dit nóóit vergeet nie: redding is objektief. Dit gebeur in die eerste instansie buite my, by wyse van spreke in God se boeke. Laat ons altyd die koperslang in die woestyn onthou (Num 21:8-9). Al wat nodig was vir genesing, was om te kyk - na die slang op die paal. Jesus gebruik hierdie beeld as Hy oor Sy komende kruisiging praat, en oor die wese van geloof (Jh 3:14-18). Geloof is om jou oë op Christus vas te nael! En dit is die sleutel tot redding - dit alleen.
• Waarom is dit 'n slang wat aan die paal hang? In die Bybel is 'n slang 'n simbool van boosheid en sonde. Die koperslang was dus 'n stuk profesie, 'n stuk evangelieverkondiging - dat die Messias "sonde vir ons gemaak" sou word - dat Hy ons strafdraende Plaasvervanger sou wees - almal vir wie se redding Hy gesterf het (2Kor 5:21, OAV). Laat ons onthou en nooit vergeet nie, toe Hy gekruisig is, was al my sondeskuld - en natuurlik díé van alle gelowiges - op Hom gestapel. Dit geld ongeag hoe groot jou sonde, onvermoë of onwaardigheid ook al mag wees. Al wat dus vir 'n sondaar se redding nodig is, is om vanuit sy of haar magtelose bankrotskap afhanklik-gelowig en verwagtend na Christus te kyk. Jy hoef niks te doen nie. Jy moet net kyk! Trouens, jy durf niks anders probeer doen nie. Dit weerhou jou van kyk soos jy moet. Die Here Jesus is immers óf alleen-redder, óf glad nie. Die Israeliete wat self probeer regkom het - en so 'n mosie van wantroue in die Seun se komende kruisdood gestel het, het gesterf! Die Nuwe Testament is glashelder-duidelik: elkeen wat self sy redding probeer verdien, sal tot tot in ewigheid nie gered word nie. Kan jy nou sien waarom die Christelike geloof wesentlik verskil van alle godsdienste - ook van churchianity, wat op moralisme en seremonies staatmaak vir redding. Nee, nee, nee!
Redding is nie godsdienstiges wat na die Allerhoogste toe opklim nie; dis God wat in Christus na bedelende, maar gelowige sondaars toe afbuig!




• Die doel van Antipas Herout is om Bybelse lering in die vorm van kort, bevatlike studiestukke gratis beskikbaar te stel, ten einde begrip van en geloof in die Godgesentreerde beginsels van die Woord so wyd as moontlik te bevorder. Dit staan enigeen gevolglik vry om die inhoud van hierdie studiestuk met of sonder erkenning te gebruik. Die skrywer het immers self baie hulp by ander gekry. Hy glo dis 'n suiwer uiteensetting van Skrifopenbaring, en sy hartstog is om die waarheidsevangelie so wyd moontlik te versprei, nie om dit te kniehalter nie. • Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar. • Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, Suid-Afrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396. • Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs) • Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans (as 'n reël) of Engels (as uitsondering en slegs op persoonlike versoek) per epos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het. • Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3168
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Okt 10, 2018 12:08 pm

Nico van der Walt <nico@dievanderwalts.co.za>





Ek het die afgelope twee weke baie gesukkel om die epreke weg te kry. Die sondaar(s) was rekenaar/program -probleme en vir seker ook 'n deurmekaar-kop. Sommige van julle het wel al een of beide van bogemelde preke gekry, maar dit was heel moontlik verouderde preke. Ek het beide so 'n bietjie of meer aangepas, maar bg. 2 preke is die regtes.

Jammer vir die gesukkel.

jbiC

Nico

***************************************************************************************************************************************************************************************

JES 58:13-14 : SONDAGSEËN!
No. E23 / W801



Dis Sondag van Paasnaweek. Vrydag het ons in die besonder gedink aan die kruisiging; vandag aan die opstanding van die Here. OPSTANDINGSDAG! FEESDAG!
‘ Eintlik is élke Sondag 'n herdenking van Christus se opstanding. Só belangrik het die vroeë kerk die opstanding van Christus beskou, dat hulle tipies op die eerste dag van die week (die opstandingsdag) bymekaar gekom het vir gesamentlike aanbidding (1Kor 16:2; Hd 20:7) - eerder as op die sewende dag, soos die Jode in terme van die tien gebooie. Dit beteken nie dat hulle die wet in eie hande geneem het nie. Die Here Jesus self het al 'n aanduiding gegee dat dit moet gebeur, nie net deur op die eerste dag van die week op te staan nie, maar ook deur op hierdie dag aan Sy dissipels te verskyn (Jh 20:19, 26) en die Heilige Gees uit te stort (Hd 2:1; Lev 23:15-16). Nog meer, die dissipels het begin praat van die "dag van die Here", eerder as van die sabbat. Baie duidelik het die apostels die vroeë kerk op hierdie weg gelei. Johannes vind dit dan ook nodig om spesifiek te vermeld dat hy op "die dag van die Here" in aanbidding was toe Christus aan hom verskyn het (Op 1:10).
‘ As ek dit nie mis het nie, dink ek baie mense wat hulleself Christene noem, het 'n al hoe meer traakmy-nie-agtige houding oor Sondag en kerkgang. Dis vir seker 'n godonterende neiging. Daarom moet ons weer oor Sondag besin. En die eerste ding wat ons moet vasvat, is die feestelike karakter van hierdie dag. Verloor ons dit, verloor ons iets wesentlik in ons geloofsbelewing. Dis 'n tragedie as dit 'n dag van moets en moenies word - 'n langgesig-dag. En as kerkgang 'n plig en selfs 'n pyn word, is iets drasties verkeerd. Luister wat sê C.H. Spurgeon in April 1879 vir sy gemeente: "Ek weet dat baie van julle vir julle Sondae leef. Dis asof die dae van die Here vir julle soos die sporte van 'n leer is waarlangs julle die lewenspad loop. Dís wanneer julle jul geestelike kos kry; dís wanneer julle die rus van die Here ervaar. Julle vreugde is oorvloedig as reddende en vrye genade Sondag na Sondag verkondig word." (The full harvest, p.290, vry vertaal).
JESAJA 58
‘ Jes 58:13-14 werp wonderlike lig op die saak waaroor ons praat - op die gewigtigheid, maar ook op die kosbaarheid van die dag van die Here. In die hoofstuk ontmasker Jesaja die huigelagtigheid van die volk. Hulle lewe in sonde, maar is vroom verby as dit by godsdiens kom. Baie duidelik het hierdie skynheiligheid tydens die Sabbatte hoogty gevier. Dit spreek die Here dan deur Sy profeet in v.13-14 aan. As hulle die voorregte en vreugdes van die sabbat behoorlik wil ervaar, is daar voorwaardes om aan te voldoen.
Voorwaardes vir sabbatsvreugde (v.13) Net eers twee opmerkings. Eerstens, die OAV is 'n baie goeie letterlike vertaling van die Hebreeus. Tweedens, let daarop dat hier geen sprake is van die bloot seremoniële nie. Nee, dit gaan oor 'n hartsgesteldheid. Elke Nuwe Testamentiese Christen kan dus volledig daarmee identifiseer.
• Vers 13a wil hê ons moet verstaan waarvoor die dag gegee is, en dus waarvoor dit níé gegee is nie. Die Hebreeus kom hierop neer: weerhou jouself daarvan om die dag wat ek vir Myself geheilig het, aan te wend vir jou eie plesier. Dit is die Here se dag. Dit gaan nie oor jóú vreugdes en belange nie.
• Vers 13b dring aan op die regte hartsinstelling ten opsigte van die dag wat die Here vir Homself geheilig het. Twee dinge word genoem: Jy moet jou verlustig in die dag. Jy moet waardering daarvoor hê; dit moet jou vreugde wees. Jy moet die dag eer, omdat die Here dit vir Homself afgesonder het. Jy moet dus respek hê vir die dag. Dit moet dit met alle erns bejeen.
• Vers 13c onderstreep die noodsaak om die implikasies van bogenoemde prakties uit te leef. Drie dinge word spesifiek genoem: Jy moet nie jou gewone gang gaan nie. Dis met ander woorde nie net nóg 'n dag van die week nie; dit moet 'n eiesoortige karakter hê. Moenie dieselfde dinge doen as op die ander ses dae nie. Jy moet "rus" van jou gewoneh wêreldse verpligtinge en plesiere (vir soverre dit natuurlik kan). Jy moet nie die dag aanwend in eie belang en vir plesier nie. Dis 'n dag vir die Here en Sý dinge. Selfs ons gesprekke moet die Here eer. Die Hebreeus sê bloot ons moenie ons eie woorde praat nie. Dit impliseer 'n sekere selfdissipline wat jou weerhou van 'n ydele en lawwe gebabbel, en lei tot gesprekke wat opbouend en Godverheerlikend is. Beloftes vir gehoorsames (v.14). 'n Drieledige belofte en 'n versekering word gegee.
• Jy sal vreugde vind in die Here. Jy sal die skoonheid en heerlikheid wat in Sy attribute en werke geopenbaar word, al hoe duideliker sien. Jy sal Sy grootheid, goedheid en heiligheid al hoe meer waardeer. En jy sal in opregte dankbaarheid en liefdestrou daarop reageer. Innige en vreugdevolle liefdesgemeenskap tussen die Here en Sy mense, is waaroor dit gaan.
• Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde (OAV). Die uitdrukking kom oorspronklik voor in Dt 32:13 - in die lied van Moses. Dit sinspeel op die oorwinning oor hulle vyande wat die Here aan Sy volk gee. Die Nuwe Testamentiese ekwiwalent is uitdrukkings soos "meer as oorwinnaars" (Rm 8:37) en die feit dat mense in Christus saam met Hom in die hemele sit - van waar hulle heers oor die duiwel, die wêreld en die vlees (Ef 2:6). Kan jy sien? Getroue onderhouding van die dag van die Here is 'n kragtige genademiddel!
• Jy sal die erfdeel van jou vader, Jakob, geniet (OAV). In die Ou Testament sinspeel hierdie uitdrukking veral op die erfenis van die land Kanaän (Ps 105:8-11). In die besonder gaan dit oor welvaart en voorspoed in die land (Ps 144:12-15). Die belofte het dus te doen met die praktiese belewing van verlossing. Nuwe Testamenties sou ons kon sê dat dit gaan oor al die voorregte en vreugdes wat die Here aan Sy dissipels belowe.
• Hierdie beloftes, indien die voorwaardes nagekom word, staan vaster as die berge: "Ek, die Here, het dit gesê" (NAV). Gehoorsaamheid sal gewis gemeenskap met God, oorwinning oor sonde en verlossingsgenot meebring.
WAT SÊ DIT VIR ONS? 1. Nuwe Testamentiese kwalifikasies moet ons vertolking van die vierde gebod beheers. Dit is so dat die Here Jesus en Sy dissipels hulleself baie meer vryhede op die sabbat veroorloof het as wat die Joodse godsdiensleiers kon duld. Maar ons moet verstaan dat die skrifgeleerdes nie naastenby die gees van die Ou Testament verteenwoordig het nie. Hulle oortuigings is gevorm deur die Mishnah, 'n opsomming van Joodse mondelinge tradisies en oorleweringe sedert die ballingskap. Hierin het die rabbi's gepoog om die praktiese implikasies van die wet tot in sy fynste besonderhede uit te spel. In die proses is die grens na die belaglike dikwels oorgesteek. Wat die sabbat betref, word nie minder nie as 39 soorte werk verbied. So, byvoorbeeld, is twee naaldwerksteke en die skryf van twee letters as buite perke beskou (terwyl één in elke geval as toelaatbaar beskou is). Selfs die aansteek of blus van 'n vuur, is as oortreding van die gebod beskou. Hierteenoor het die Jesus met Sy voorbeeld en lering mense weer teruggeroep na die ware betekenis van die wet. Dáárvan het Hy nie een "letter of letterstrepie" misken nie (Mt 5:17-20). Ons kan dus aanvaar dat Hy 'n lewende vergestalting was van alles wat ons teks wil sê. In elk geval is daar niks daarin wat in stryd is met Nuwe Testamentiese aanbidding in gees en waarheid nie.
2. Laat ons dus waak teen twee dwalinge. Enersyds is die versoeking altyd daar om die dag van die Here te gebruik in eiebelang of vir selfbevrediging - 'n dag waarop die Here vergeet word. Andersyds moet ons ten alle koste vermy om, soos die Jode, voorskriftelik te raak met 'n klomp moets en moenies. Sulke wettisisme versmoor die feestelike karakter van die gebod (die kerklike kultuur van my kinderjare was sodanig dat ons nie eers toegelaat is om met 'n bal te speel nie. En onthou julle nog hoe breipenne in tannies se oë gesteek het wat dit gewaag het om te brei!)
3. Laat ons doelbewus en planmatig die dag van die Here vul met dit waarvoor dit bedoel is. Dis 'n rusdag. As ons waarlik die ander komponent van die vierde gebod nakom - naamlik om vir ses dae toegewyd te werk - sal hierdie geleentheid om jou batterye te laai, week na week ervaar word as 'n genadegawe uit die hand van ons Hemelse Vader. Maar dit gaan nie oor leeglê en slegwees nie; dit gaan oor konstruktiewe heropbou. Daar is nie net 'n uitputtende week agter my nie, daar lê ook 'n harde week van roepingsvervulling voor. Dis 'n aanbiddingsdag. Wat 'n seën is dit om 'n dag te hê waarop ons, sonder die week se gejaag, rustig in ons binnekamers kan verkeer en saam met geliefde broers en susters die Here kan ontmoet! Dis 'n dag vir goeie werke. Meeste Christene is só besig deur die week dat hulle beswaarlik tyd het vir Christelike dienswerk en uitreiking. Dis 'n derde rede waarom ons hierdie dag het. Laat ons dus, soos Jesus, ons ook wy aan goeie werke.
4. As dit dan nodig is, laat ons ons Sondae met beslistheid reformeer. Die verantwoordelikheid om hieroor te besin en dan sterk leiding te neem, rus onontkombaar op ouers, veral op die hoofde van huise. Dink weer 'n keer na oor oor dinge soos lang reise op 'n Sondag (onvermydelik soos dit soms is), Sondagkoerante, TV, sport, inkopies, kreunende kostafels wat huisvroue se Sondae opeis en huisgenote laat uitpass vir ure (let op, ek is nie wetties oor hierdie dinge nie; miskien dalk net té jaloers op my Sondagseën). Neem besliste besluite oor jou en jou gesin se bywoning van eredienste. Bywoning van twee dienste op 'n Sondag is nie 'n Bybelse voorskrif nie, maar dis ewemin in stryd met die gees van Jes 58. En neem jou kinders saam. Los hulle by die huis om voor die TV te lê, en jy sal die bittere vrugte pluk! Hoor ek iemand sê, ons raak nou wetties? Nee! Ons praat van 'n hartsgesteldheid. Selfdissipline wat vir die regte redes uit 'n hart van toewyding kom, is vir geen oomblik in botsing met die beginsel van Christelike vryheid nie; inteendeel.
5. Laat ons jaloers waak oor hierdie kosbare kleinood - die dag van die Here. Dis só 'n wonderlike gawe uit die hand van ons Hemelse Vader, dat ons dit met alles in ons vermoë moet bewaar teen die aandrange van die sondige vlees en die God-vyandiggesinde wêreld. Onthou Jes 58:13-14 dus. Maak erns met v.13 se voorwaardes vir seën. En begroet die vervulling van v.14 se beloftes met geloofsverwagting. En onthou die Here se opstanding. Omhels jubelend die implikasies daarvan! Só het die vroeë Christene mekaar Sondae gegroet: "Die Here het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan!"

Nico van der Walt



* Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
* Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396.
* Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs, waarvan een Engels is).
* Gereeld word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
* Geen kopiereg. Dupliseer gerus. Of stuur elektronies verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3168
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Okt 10, 2018 1:44 pm

HD 12:5 : GEBED WAT 'N ENGEL GAAN HAAL

No. E26


Die engel het Petrus uit die tronk gaan haal; maar gebed het die engel gaan haal! Kyk mens ernstig na die gebedsbeloftes in die Skrif, kom staan die vraag vierkantig voor jou: Waarom ervaar ons dan so min gebedsverhoring? Dis omdat ons selde bid soos ons moet. Hd 12 skets 'n merkwaardige gebedsantwoord!
'N BEDENKLIKE SITUASIE
‘ Petrus moet die volgende oggend verhoor word. Jakobus is pas tereggestel (2). Watter hoop het hý? Hy is met kettings geboei in 'n tronk wat deur soldate bewaak word. Daarbenewens slaap hy ook nog tussen twee. En dit was die dae voordat wagte skotvry daarvan afgekom het as 'n gevangene ontsnap terwyl hulle eenkant sit en meul speel! (19).
‘ Al is die situasie menslik gesproke hopeloos, weier die gemeente om handoek in te gooi. Bestorm hulle die tronk? Stel hulle 'n petisie op? Probeer hulle Herodus omkoop? Nee, hulle hou 'n biduur!
'N GEBED IN DIENS VAN GOD SE PLAN (v.5)
1. God doen soms ver meer oorvloedig as wat ons bid of dink (Ef 3:20).
Die gemeente het "vir hom" gebid - vir Petrus. Hulle bring hulle gebedslas by die naam voor hul Vader. Tog lyk dit nie of hulle vir die apostel se ontsetting bid nie, want hulle glo dit nie as hy later aan die deur klop nie (13-16). Hulle bid waarskynlik bloot dat die Here hom sal versterk en beskerm en die nodige genade gee, wat ook al gebeur. Party mense dink dat ons nie 'n kriesel meer sal kry as wat ons vra nie - dat ons as 't ware God aan bande lê met ons kortsigtige gebede. So 'n beskouing is nóg Skriftuurlik, nóg stem dit ooreen met ons ervaring. Ja, laat ons vir seker so spesifiek en vrymoedig soos moontlik bid - soos ons gewete, die Woord en die Heilige Gees ons toelaat. Maar laat ons eweneens oppas vir voorbarigheid. Ja, ons gebede is ingewerk in die uitwerk van God se raadsplan. Maar Hy is allermins afhanklik van ons geloof en gebedskloekmoedigheid.
2. Hulle het tot Gód gebid.
Jy sê, dis mos voor die hand liggend. Almiskie! Vir baie mense is gebed bloot 'n subjektiewe meditasie. Wie of wat aan die ander kant is, maak nie regtig saak nie. Dit wat hulle God noem, is bloot 'n fokuspunt vir hulle gedagtes. Ek het eenmaal 'n oom geken wat op sy kankerbed gereeld gebid het - maar sy gebede gerig het op 'n leë bierblik op 'n rak oorkant sy bed! Nee! Ware gebed is gerig tot die werklike, lewende, persoonlike en bewustelike God. En Hy ken ons persoonlik. Hy het Homself geopenbaar as die hoorder van gebed. Hy is almagtig en getrou, en kan en sal alles doen wat Hy beloof. Daar is egter minstens twee kwalifikasies: Dit geskied op grond van die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, Jesus Christus: "Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom" (Hb 10:19). Dit geskied deur die werk van die Heilige Gees: "Deur Hom (dit is Christus) het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader" (Ef 2:18).
3. Hulle het met alle erns gebid.
Die woord wat beide ons Afrikaanse vertalings met "aanhoudend" vertaal (Gr. ektenos), is interessant. Letterlik beteken dit uitgerek. Dikwels dui dit dan nie op tydsverloop nie, maar op intensiteit en vurigheid. As 1Pt 1:22 en 4:8 praat oor die vurige liefde wat gelowiges vir mekaar moet hê, word hierdie einste woord gebruik. Duidelikste is seker Lk 22:44. Hier word gepraat van die Here Jesus se gebed in Getsemane. "Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword ..." Letterlik staan daar dat Hy nog meer uitgerek gebid het (die OAV vertaal: "met groter inspanning"). Dit dui as 't ware op die vervorming van Jesus se hart in die intensiteit van Sy erns voor Sy Vader. Die NIV en NASB vertaal ons teks onderskeidelik met: "earnestly" en "fervently".
• Ek meen dis korrek om te sê dat die Skrif veeleerder die klem laat val op die noodsaak van gebedsintensiteit, eerder as op gebedsduur. Dink maar aan Jer 29:13: "En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart" (OAV). In Rm 15:30, as Paulus sy lesers vra om saam met hom "in die gebede te stry", gebruik hy nog 'n sprekende woord (Gr. sunagonidzo). Letterlik sou dit in Engels vertaal kon word: to agonize together. Dit dui op 'n saamstry, -stoei, -worstel. Die NIV vertaal: "join me in my struggle" (vgl. ook Kol 4:12). Die ou Puritein, Thomas Watson, het gesê: "How can I know my prayers are prompted by the Holy Spirit? When they are not only vocal, but mental; when they are not only gifts, but groans." Onvermydelik ontstaan die vraag hoe ék so vurig kan bid. Daar is maar één antwoord: die Gees moet my bekragtig! So skryf Paulus vir die Efesiërs dat hulle "met alle gebed en smeking by elke geleentheid (moet) bid in die Gees" (Ef 6:18, OAV).
4. Dit was die gemeente wat gebid het.
Daar is krag in individuele gebed. Maar daar is besondere krag in gesamentlike gebed - deur 'n gemeente wat een van hart en sin is. Baie mense dink daar is gebedskrag in getalle sonder meer - asof dít God sou beïndruk. Nee, hier is twee dinge wat ons moet raaksien.
• Dit was die Here se gemeente wat gebid het. En hulle is die appel van Sy oog, van voor die skepping af. Hulle is Sy Seun se bruid.
Maar dan moet ons die begrip reg verstaan. 'n Gemeente is nie maar 'n klomp mense wat uit gered en ongered bestaan en bloot deur tradisie bymekaar gehou word nie. Nee, Nuwe Testamenties is 'n gemeente 'n klomp dissipels van Jesus Christus wat intiem saamgebind is deur hulle gemeenskaplike lojaliteit en verknogtheid aan hulle Here.
• Voorts bied Mt 18:19-20 besondere lig: "Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader ... hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Onderlinge eenheid is dus van kardinale belang. Jesus gebruik 'n woord wat letterlik saamklink beteken (Gr. sumfoneo). Hier lê die etimologiese wortels van ons woord, simfonie. Almal moet dus dieselfde passie en versugting hê. Dwarstrekkery en verhoudingsintriges blus onmiddellik die Gees.1 Net 'n laaste opmerking. As die Here van "twee" gelowiges praat wat so bid, verbied Hy nie die saambid van groter getalle nie, maar Hy beklemtoon dat groot getalle op sigself onbelangrik is.
'N AANTAL PRAKTIESE RIGLYNE ‘ Wesenselemente van alle ware gebed.
• Dit is primêr tot die Vader gerig, geskied in die Naam van Christus - op grond van Sy middelaarsverdienste alleen - en in die krag en volgens die leiding van die Heilige Gees. Alles wat die Gees mag bedroef, moet uit die weg geruim wees. Veral moet daar eenheid wees.
• Dit moet in harmonie met God se geopenbaarde waarheid wees, en in pas met Christus se voorspraak vir ons.
• Dit moet in vertroue en geloofsverwagting geskied. Sonder geloof in die betroubaarheid van God en Sy beloftes, kan ons Hom nie behaag nie. Maar Hy beloon diegene wat Hom soek (Hb 11:6).
• Dit moet deur diep eerbied gekenmerk word. Laat ons onthou met wie ons te doen het.
• Ons moet met vrymoedigheid voor die Vader kom. Christus is 'n volmaakte Middelaar.
• Ware gebed kom uit 'n brandende hart. Koue gebede vries voordat hulle by die hemel kom.
• Dikwels is volharding nodig - soos dié van die verontregte weduwee voor die regter (Lk 18).
‘ Wenke vir ons gesamentlike gebede.
• Wees rustig. Vertrou die Gees om te lei.
• Neem jou verantwoordelikheid op om die gebedswa te help trek. Gebed kan harde werk wees. Saamryers maak dit vervelig vir hulleself - en 'n slaapsessie - en harde werk vir die res.
• Bid verbeeldingryk, asook kinderlik eerlik en opreg. Praat gewoonweg sónder om platvloers en familiêr te wees. Vermy gebede wat bloot 'n aanmekaarryg van 'n klomp gebedscliches is. Dan word dit 'n ydele herhaling van woorde.
• Vermy die oormatige gebruik van die Here se Naam. Party mense doen dit amper in elke sin - tot ongemak van die hoorders. Wie praat so in 'n normale gesprek? Dis 'n aanwendsel, en mag selfs 'n oortreding van die derde gebod wees.
• Wag vir mekaar, sodat elkeen geleentheid kry. Vermy egter daardie ongemaklike stiltes. Maar terselfdertyd moet mens sê, as 'n groep werklik diep, diep in gebed is, kan 'n tyd van stilte, oordenking en persoonlike gemeenskap met die Here werklik baie geseënd wees.
• Sluit by mekaar aan sodat daar 'n organiese verloop in ons gebede is. Ons staan immers gesamentlik voor die genadetroon. Elkeen lê dus nie maar sy eie eiertjie nie. Hy luister na die ander en voer hulle versoeke en argumente verder. Só lei die Heilige Gees ons soms om oor sake te bid waaraan ons nooit vanself sou gedink het nie.
• Hoewel elkeen die kans moet kry om te bid, moet niemand huiwer om weer en weer te bid nie. Natuurlik moet mens nie oorvat nie. Maar dis ook so dat daar soms periodes kom waar meeste vir die oomblik "leeg" is, en enkeles die wa moet trek.
• Sonder om voorbarig te wees, moet mens so spesifiek moontlik bid. Is jy onseker of jy 'n bepaalde saak kan aanroer, benader dit onderskeidend en voetjie-vir-voetjie. Partymaal kry jy meer vrymoedigheid, ander kere verloor jy dit.
‘ Laastens: iets oor lof en aanbidding.
Altyd, altyd, altyd, moet dit ons gebede deursuur. Dink aan wie God is. Dink aan Sy name. Dink aan Sy attribute: Sy ewigheid, heiligheid, soewereiniteit, almag, onveranderlikheid, alwetenheid, alomteenwoordigheid, genade, liefde, getrouheid, geduld, geregtigheid, toorn, ens. Dink aan Sy groot dade in die geskiedenis: dié van die Bybel; dié van die kerkgeskiedenis. Eer en dank Hom daarvoor en vir die implikasies daarvan. Maar moenie slegs by 'n abstrakte benadering vassteek nie. In Ps 139 besin Dawid oor God se karakter. Maar hy bid nie bloot intellektueel daaroor nie. Hy bepeins die praktiese uitwerking daarvan in sy lewe - en loof en dank die Here dan daarvoor.

Nico van der Walt




* Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
* Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396.
* Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs, waarvan een Engels is).
* Gereeld word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
* Geen kopiereg. Dupliseer gerus. Of stuur elektronies verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3168
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Okt 24, 2018 12:19 pm

Hiermee twee epreke. Ek vertrou dis tot seen.

Ek herinner net weer. As julle vir my 'n nota/brief wil terugstuur, stuur dit na: nico.vanderwalt@reformed.org.za

Hartlike groete,

jbiC

Nico van der Walt


**********************************************************************************************************************************************

PRED 12:1a : DINK AAN JOU SKEPPER

No. E27 / W753


Ons kyk net na die eerste gedeelte van Pred 12:1: "Dink aan jou Skepper ..." Hiér is dit woorde wat spesifiek tot jongmense gerig is - voor "die swaar dae" van die ouderdom kom, die jare waarvan mens sê: "Ek het daar niks aan nie." Hierdie is egter 'n algemene beginsel wat vir alle mense geld (maar bloot hier op die jeug van toepassing gemaak word). Kom ons kyk dus só daarna. Álmal van ons het immers ons bestaan en instandhouding aan God die Skepper te danke.

OPMERKINGS OOR DIE BEGRIP "SKEPPER"
‘ Die Bybelse idee, om te skep, is van fundamentele teologiese betekenis. Dwarsdeur die Bybel het die werkwoord slegs God as onderwerp want net Hý kan skep. Reeds in die eerste vers van God se Woord kry ons die werkwoord: "In die begin het God die hemel en die aarde geskep." Die begrip beteken om iets daar te stel - uit niks uit nie. Dit dra dus die implikasie dat die soewereine God oorsprong, eienaar, regeerder en onderhouer is van alles wat bestaan.
‘ Die woord kom veral voor in die tweede gedeelte van die profesie van Jesaja (h.40-66) - 20 maal uit 49 keer in die Ou Testament. Hierdie gedeelte van Jesaja is van die troosrykste gedeeltes in die ganse Ou Testament. As mens hierdie twee waarhede saam in ag neem, onderstreep dit 'n baie belangrike beginsel: dat God ons soewereine Skepper is, moet ons nie bedreig nie, maar 'n wonderlike bron van troos vir ons wees!
Aangrypend stel Jes 45:17-18 dit: "... Israel word deur die Here gered met 'n blywende redding. Hulle sal nie verleë staan nie en nooit teleurgestel word nie. So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het, Hy wat alleen God is, Hy wat die aarde gevorm, gemaak het, dit gereed gemaak, geskep het, dit gevorm het, nie om leeg te wees nie, maar om bewoon te word: Ek is die Here; daar is geen ander nie" (NAV).
‘ Hier in Prediker is die woord "Skepper" in die meervoud. Die Ou Testament praat meermale so (Job 35:10; Ps 149:2; Jes 54:5). Dit herinner dadelik aan Gn 1:26: "Laat Ons mense maak ..." (OAV). Sonder twyfel is hierdie 'n sinspeling op die drieenigheid van God. En inderdaad was en is al drie Persone van die goddelike Drie-eenheid betrokke by die skepping en instandhouding van alles.
‘ Die begrip "Skepper" beklemtoon die mees basiese verhouding waarin enige mens tot God staan. Is Hy nie almal se Skepper nie?
‘ As die Prediker skryf, dink aan "jou" Skepper, wil hy nie daarmee suggereer dat elke mens sy eie skepper het nie. Daar is geen ander skeppers nie! Nee, wat hy wil beklemtoon, is dat elke mens self en persoonlik aan die één Skepper van alles moet dink. Hy sê dus aan elkeen van sy lesers: ook jý is 'n geskapene van dié Skepper!

OPMERKINGS OOR DIE BEGRIP "DINK"
‘ Die woord wil méér sê as gewoon: dink aan, herinner jouself aan, onthou. Dis 'n veel sterker en voller begrip. Ja, ons moet God in gedagtenis hou en in ag neem - maar nog méér: ons moet ons verhouding met Hom kosbaar ag en vertroetel. Dit hou selfs nóg meer in: om in lojaliteit en getrouheid die implikasies en verantwoordelikhede van 'n verhouding uit te leef. Dit spreek dus veeleerder van 'n hartsgesindheid, as van 'n verstandsoefening.
‘ Aanmekaar het die Here Sy volk opgeroep om Hom te onthou. Maar hulle het voortdurend misluk. Daarom verwyt en veroordeel Hy hulle dat hulle Hom vergeet. In Deut 32 verwyt God Sy volk oor hulle afgodery, en sê dan: "Jy het jou Rots, jou Skepper, nie in ag geneem nie, die God wat jou in die wêreld gebring het, vergeet" (18). En in Jes 51 vertroos en bemoedig die Here Sy mense (met so 'n ligte verwyt): "Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle. Hoe is dit dan dat jy bang is vir 'n sterflike mens, vir 'n mens wat so maklik vergaan soos gras? Jy vergeet die Here wat jou gemaak het ..."

HOE DINK EK EN JY AAN ONS SKEPPER?
Dit kom tot uitdrukking in ten minste vyf hartsgesindhede en lewenspraktyke:
1. Erkenning. In Hom, en in Hom alleen, lê my en jou oorsprong. Hy "het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep" (Ps 139:14). Hy het nie alleen my gees gevorm nie (Sag 12:1), maar my liggaam met groot sorg "aanmekaar geweef in die skoot van my moeder" (Ps 139:13). Dit moet ons weer en weer oordink en bepeins. Kyk byvoorbeeld na jou hande en jou voete. In hierdie vier ledemate is meer as die helfte van jou liggaam se bene. Die hand het 'n bykans oneindige verskeidenheid van funksies. Daarmee kan 'n meester-pianis soveel soos 120 note per minuut druk, en 'n chirurg die sensitiefste operasies verrig. 'n Strelende hand kan innige emosie en vertedering kommunikeer. En daardie selfde hand kan 'n swaar byl diep in 'n boomstomp indryf. En wat dan nog van die brein wat agter dit alles sit! Verwonder jou oor die vermoëns van jou Skepper - en aanbid Hom daarvoor! En as jy dan waarlik 'n Christen is, moet jy nooit aan Hom as jou Skepper dink, sonder om ook te onthou dat Hy jou Herskepper is nie. Is die grootste van alle wonders nie die hartoorplanting wat jy tydens jou wedergeboorte ondergaan het nie? In elk geval is dit die heerlikste, nie waar nie!
2. Onderwerping. As Skepper is God jou onbetwisbare en soewereine Eienaar. Hy het absolute gesag en seggenskap in jou lewe. Hy is die Pottebakker en jy die klei (Rm 9:20-21). Hy kan met my en jou doen net wat Hy wil - en Hy mág! Daar is eenvoudig geen ander keuse as om dit te aanvaar nie - geduldig en in onderwerping - tesame met al die teologiese en praktiese implikasies daarvan. Hoe bedreigend sou dit nie gewees het, as God Homself nie aan ons geopenbaar het as die Algoeie nie. Maar ons kan Hom vertrou, deur en deur. Veral dié van ons wat in Christus is, kan vir seker weet dat Hy alles wat met ons gebeur laat heenwerk na die goeie toe - naamlik gelykvormigheid aan die beeld van Christus (Rm 8:28-30). Dit neem egter niks weg van die feit dat ek en jy aan Hom aanspreeklik is nie. Ons sal aan Hom moet verantwoording doen. As ek immers uit Hom voortgekom het, is ek alles aan Hom verskuldig! Dit laat natuurlik dadelik die brandende vraag in mens se gemoed ontstaan: hoe kan ek as sondige dan sonder blaam voor Hom gaan staan? (Job 4:17; 9:2). Kan iemand 'n belangriker vraag as dit vra? Laat dié van ons wat in Christus is, ons sonder ophou daarin verbly dat ons in Hom 'n volmaakte Plaasvervanger en Middelaar het - dat ons dus inderdaad eendag sonder blaam voor ons Skepper sal staan.
3. Afhanklikheid. God is nie net my Skepper nie, maar ook my Instandhouer - liggaamlik, emosioneel, geestelik. Sal Hy iemand skep en hom of haar dan verwaarloos of vergeet? Laat ons dus met die allergrootste vrymoedigheid bid en vra en vertrou en dank. Gaan met elke behoefte na Hom toe; dit behaag en verheerlik Hom. Om vir jouself en vanuit jouself te probeer leef, is om jou Skepper te vergeet. Om blymoedig afstand te doen van jou sogenaamde selfstandigheid, en jouself in rustige vertroue in Sy sorg te laat, is om jou Skepper te onthou. Wat 'n onuitspreeklike vertroosting: ek het 'n Vader in Christus wat na my omsien en my altyd versorg!
4. Dankbaarheid. Sien jou Skepper se goedheid raak. Erken dit. Bepeins dit. Oefen jou in die dankbaarheid. Wat is daar in jou lewe wat jy nie van Hom ontvang het nie? En vergeet dit nie, dis alles te danke aan die voortgaande middelaarswerk en voorspraak van die Here Jesus Christus.
5. Toewyding. As jy dan alles wat jy is en het aan jou Skepper te danke het, is daar net één gepaste respons: ongekwalifiseerde liefdesgehoorsaamheid. Laat dit die enkelhartige sin en hartstog van jou lewe wees, en jy sal jou Skepper onthou soos Hy dit wil hê. En onthou, jy kan jou nie aan jou Skepper toewy, sonder om jou aan aan die Seun, Jesus Christus, toe te wy nie. En dit kom prakties tot uitdrukking in 'n lewe van volgehoue dissipelskap.

DIE ESSENSIE VAN DIE LEWE VAN 'N SKEPSEL
‘ Daar kan geen dieper en meer fundamentele oortreding voor God wees as om bloot vir jouself te leef nie. Om jou nie met alles waaroor jy beskik aan jou Skepper toe te wy in erkenning, onderwerping, afhanklikheid, dankbaarheid en toewyding nie, is krimineel in die heel ergste graad. Om jou Skepper te ignoreer en in gewaande selfstandigheid jou eie ding te doen, is die moeder van alle sonde. Die essensie van wat God van ons vereis, is om met Hom te wandel. En die hart daarvan is om in erkentlikheid, onderwerping, afhanklikheid, dankbaarheid en toewyding Hom te ken in al jou weë (Spr 3:6). Dít is die kinderlike lewensgeloof waarop die Bybel so sterk by ons aandring.

ONMOONTLIK VIR DIE NATUURLIKE MENS
‘ Om sy Skepper te onthou, is alles behalwe die natuurlike neiging van die gevalle mens; inteendeel. Sedert die sondeval vlug hy vir sy Skepper soos 'n kokkerot vir die lig. In gewaande selfstandigheid klop hy homself op die skouer dat hy self sal regkom en sy heil uitwerk. Hy vervang sy Skepper met allerlei gode wat hy na sy eie beeld optower. Of hy kruip weg in godsdienstige formalisme.
‘ Kyk om jou. As jy 'n man of vrou of kind sien wat in Skrifgetroue opregtheid sy of haar Skepper onthou - wie se lewe van A tot Z daardeur beheers word - dan sien jy 'n mens op wie die herskeppende vingerafdrukke van die Heilige Gees sit. Dan sien jy iemand vir wie die Christus met Sy soendood losgekoop het van die vloek van die sondeval. Dan sien jy 'n begenadigde wat voor die skepping reeds deur die Vader in liefde uitverkies is.
‘ Of jy jonk of oud is, dink jý aan jou Skepper?

Nico van der Walt



• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, SuidAfrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396 of E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 8282 940
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
• Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en soms in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3168
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Okt 24, 2018 12:27 pm

Hiermee twee epreke. Ek vertrou dis tot seen.

Ek herinner net weer. As julle vir my 'n nota/brief wil terugstuur, stuur dit na: nico.vanderwalt@reformed.org.za

Hartlike groete,

jbiC

Nico van der Walt


**********************************************************************************************************************************************


Hb 6:4-12 : GELOOFSAFVAL
No. E2


Die Hebreërbrief word geskryf aan Joodse Christene wat begin moeg word in die geloofswedloop en oorweeg om na Ou Testamentiese godsdiens terug te keer. Die skrywer probeer met alles waaroor hy beskik om hulle van sulke dwase, fatale geloofsversaking te laat afsien. In die proses rig hy vyf baie, baie ernstige pastorale waarskuwings teen geloofsversaking: 2:14; 3:7-4:13; 5:11-6:12; 10:26-39 en 12:14-29.

'N NADERE KYK NA HB 5:11-6:12
‘ Van die Hebreërs loop gevaar om geloofskipbreuk te ly. Daarom moet nou reguit gepraat word. Hulle het wonderlike genadewerkinge van die Here beleef en sal geen verskoning hê as hulle die geloof versaak nie.
‘ Daar word baie gemaak van die lesers se kennis van die waarheid. Ja, 6:4-5 word van denkbeeldige mense gesê. Maar dit sinspeel op die Hebreërs se belewinge. Oor en oor het hulle onweerlegbare getuienis oor Christus ontvang. Vyf belewinge word in 6:4-5 genoem: hulle het op 'n stadium innerlike verligting ontvang, die hemelse gawe geproe, deel gekry aan die Heilige Gees, die goeie woord van God geproe en die kragte van die toekomstige wêreld geproe (lett.).
‘ Sou hulle egter terugdraai na die Joodse geloof, sal dit 'n verwerping van Christus wees. Dan sal dit onmoontlik wees om weer tot bekering te kom.
‘ Die sonde waarteen hier gewaarsku word, is bewustelike en berekende verwerping van waarheidsgetuienis oor Jesus Christus - wat oor 'n tydperk om jou en in jou eie lewe onweerlegbaar was en ook duidelik deur die Gees in jou hart bevestig is. Dis bes moontlik dieselfde sonde waarvan in Mt 12:31-32; Mk 3:28-30; Lk 12:10; 1Jh 5:16-17 en 2Pt 2:20-22 gepraat word.

WAT VAN DIE HEILIGES SE VOLHARDING?
‘ Wat die skrywer hier sê maak sin. As mense na súlke belewinge van die Here se genade Hom die rug toekeer, verdien hulle om verwerp te word. Die probleem kom in as ons dit wat hier geskryf is, vergelyk met ander waarhede wat elders in God se Woord sterk beklemtoon word. Wat van die Here se versekering dat Hy ons sal vergewe as ons ná sonde in verootmoediging en belydenis na Hom toe terugkom? En wat van die Bybel se lering dat die Here diegene wat aan Hom behoort enduit vashou? Leer die Skrif nie dat geen enkele uitverkorene verlore sal gaan nie? Wat van Jh 10 waar die Here uitdruklik sê dat die skape wat die Vader aan Hom as Goeie Herder gegee het, nooit verlore kan gaan nie? Hy gee immers aan hulle "die ewige lewe". Niks kan hulle uit Sy of die Vader se hand ruk nie. Hulle sal "in alle ewigheid nooit verlore gaan nie".
‘ Dis alles waar! Maar die Hebreërskrywer dink nié aan mense wat die geloof versaak as wedergebore nie. Verse 7-8 is 'n kort gelykenis wat aan die voorafgaande met "want" (OAV) verbind word. Dit bied dus 'n verduideliking daarvoor. Die reën wat gereeld val, is 'n beeld in die Bybel vir God se seën. Hier dui dit op die ervaringe in v.45. Maar reën val op alle soorte grond. En solank die grond nog kaal is, weet mens nie wat daar gaan opkom nie - bruikbare gewasse of onkruid. Die verskil lê dus nie in die reën wat val nie, maar in die soort grond. Mense wat na súlke ervaringe die geloof versaak, bring onkruid voort. Dis wat ná die Here se goedheid volg, wat die gesteldheid van 'n mens se hart uitwys.
‘ Die Bybel beklemtoon dat daar 'n onverbreekbare verband tussen hart en uitlewing is. Die punt van hierdie gelykenis is dít: geloofsversaking is eenvoudig die bewys dat die hart nog nooit herskep is nie. Hb 6:9-12 bevestig ons slotsom. Die skrywer glo, ten spyte van sy waarskuwings, dat sy lesers wel gered is en gevolglik die geloof nie sal versaak nie: "... geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge oortuig ..." (OAV). Wat is die "beter dinge"? Verse 10-12 begin weer met "want" (OAV) en verduidelik dus v.9. Die "beter dinge" is die lesers se liefde (10), hoop (11) en geloof (12). Beter as wat is dit? Beter as die belewinge van v.4-5! Waarom? Omdat dit "saamhang met die saligheid" (v.9b, OAV). Die merktekens van ware redding - die enigste betroubare merktekens - is dus al lankal onmiskenbaar duidelik in hulle!

KAN ONGEREDDE MENSE DÍT ERVAAR?
‘ Onmiddellik ontstaan daar nou 'n nuwe vraag. Is dit enigsins moontlik dat onwedergebore mense die belewinge van Hb 6:4-5 kan hê? Inderdaad! Dink aan die res van die Skrif. Dink aan 'n Saul en 'n Bileam - die klassieke dwaalleraar volgens die Nuwe Testament (Num 24:15-19; 31:8, 16; 2Pt 2:15-16; Jud 11; Op 2:14). En dink aan 'n Judas Iskariot, 'n Simon die Towenaar; 'n Demas. Het hulle nie almal die Heilige Gees se werk proefondervindelik geken nie? Wanneer mens se oë hiervoor oopgaan, is dit skokkend om in die Skrif te sien tot watter mate die Heilige Gees in en deur mense kan werk - alles duskant die wedergeboorte (vgl. Mt 7:21-23).
‘ Die vermaarde teoloog, John Murray, skryf: "Die Skrif leer ons dat dit moontlik is om 'n opwindende, lewensveranderende, veredelende ervaring van die krag en waarheid van die evangelie te hê - sonder om werklik saligmakende geloof te hê. Dit is moontlik om so naby te kom aan die bonatuurlike kragte wat in God se koninkryk van genade werksaam is, dat dit effekte op jou het wat beswaarlik onderskeibaar is van dit wat God se wederbarende en heiligmakende genade voortbring - sonder om 'n deelgenoot van Christus en 'n erfgenaam van die ewige lewe te wees. 'n Leerstuk van geloofsvolharding wat nie deeglik rekening hou met die moontlikheid en realiteit van sulke gevalle nie, moedig 'n laksheid aan wat volharding alles behalwe bevorder. Trouens, dit is hoegenaamd nie die Bybelse leer van die volharding van die heiliges nie" (Redemption - accomplished and applied, p.153).

WAT IS HIERDIE SONDE DAN?
‘ Ons moet die aard van hierdie sonde baie goed verstaan. Want baie opregte Christene word gefolter deur die misplaasde vermoede dat hulle skuldig is daaraan. Aan die ander kant glo duisende mense dat hulle finaal gered is as hulle eenmaal 'n sondaarsgebed gebid het. Hulle maak van "eenmaal gered, altyd gered" 'n vrypas hemel toe - ongeag hoe hulle ook al ná hulle "bekering" mag lewe.
‘ Die onvergeeflike sonde het drie fokuspunte: Eerstens word hierdie sonde gepleeg deur mense wat diep in hulle harte waarlik weet dat Christus presies is wat die evangelie van Hom getuig. Hulle het rondom hulle onbetwisbare bewyse daarvan gesien. En innerlik het hulle 'n diep oortuigingswerk van die Gees daaroor ervaar. Meestal het hulle ook die Here se genadewerkinge in 'n lewende gemeente beleef. Tweedens word hierdie sonde gepleeg deur mense wat, ten spyte van die Gees se bemoeienis in hulle verlede, Christus willens en wetens verwerp. Derdens is dit onmoontlik om so 'n persoon weer tot bekering te bring. Sondevergiffenis is nie meer moontlik nie. Dit loop noodwendig uit op God se verskriklike oordele. Die Skrif bedoel nie dat dit vir die Gees onmoontlik is om so 'n persoon tot inkeer te bring nie. Maar diegene wat hom of haar probeer bearbei, vind dat hulle niks uitrig nie. Waarom? Die Here gee eenvoudig nie die nodige bekeringsgenade nie. Gevolglik het so 'n persoon geen begeerte na redding nie. Wat dan van Esau wat onder trane begeer het om sy dwaasheid reg te stel (Hb 12:17)? Dit was nie egte berou nie, maar bloot hartseer oor die seën wat hy deur sy vingers laat glip het.

WAT IS HIERDIE SONDE DUS NIE?
‘ Hierdie sonde word nie onbewustelik gepleeg nie. In Lk 23:34 bid Jesus, "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie." In 1Tm 1:13 skryf Paulus dat die Here hom in Sy diens gestel het, "al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig ... omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek gedoen het nie."
‘ Mense wat opreg begeer na vrede met God en sekerheid van saligheid, het vir seker nie hierdie sonde gepleeg nie. Nee, hierdie sonde lei tot 'n hardheid van hart en 'n ongeërgdheid oor die Here.
‘ Mense wat die evangelie hoor - selfs herhaaldelik en duidelik - maar Christus steeds nie aanneem nie, het nie sonder meer hierdie sonde gepleeg nie. Natuurlik leef diesulkes in sonde, maar as hulle nie 'n diep oortuigingswerk van die Gees ervaar het nie, is hulle nie aan híérdie sonde skuldig nie. Laat elkeen wat Christus tot nou toe verwerp het en bang is dat hy hierdie sonde gepleeg het, homself waarlik bekeer - en Hy sal sekerlik vind dat die Here hom aanneem.
‘ Mense wat in ongeloof, onkunde en dwaasheid onverantwoordelike, selfs lasterlike dinge teen die Gees gesê het, het verskriklik gesondig - maar dis nie die onvergeeflike sonde nie.
‘ Die Skrif waarsku dat ons met ons sonde die Heilige Gees bedroef (Ef 4:30), en dat ons Sy werk in ons midde kan uitblus (1Ts 5:19, OAV). Beide waarskuwings moet baie ernstig opgeneem word - maar ook dit is nie die onvergeeflike sonde nie.

VOLHARDING VAN DIE HEILIGES
‘ Volgens die Skrif is dit 'n verskriklike moontlikheid om vir 'n lang tyd in die kring van die gemeente, en dus in die sfeer van God se genadewerkinge te beweeg - en tog uiteindelik vals blyk te wees. Dis waarom Johannes kan praat van mense wat eens in die gemeente was, maar hulle dan afgeskei het, omdat hulle nooit werklik deel van Christus se liggaam was nie (1Jh 2:19). Dis waarom Paulus gelowiges oproep om hulleself op die proef te stel of hulle in die geloof is (2Kor 13:5, OAV).
‘ Volharding van die heiliges is egter steeds 'n heerlike Bybelse waarheid. Maar dan moet dit reg verstaan word: diegene wat God vir Homself geheilig het (oftewel afgesonder het) sal Hy bekragtig om heilig te volhard tot die einde toe. En 'n heilige lewe het maar één watermerk van egtheid: gehoorsaamheid aan God se Woord, vanuit 'n hart vol geloof in Christus, en gedring deur 'n hartstog vir Sy eer.

Nico van der Walt


• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, SuidAfrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396 of E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 8282 940
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
• Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en soms in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3168
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Wo Nov 14, 2018 11:55 am

Dagse^,

Hiermee 'n volgende epreek. Vertrou dit beteken iets vir jou.

Hier gaan dit baie goed. En daar? Vertrou ook so.

jbiC

Nico van der Walt
nico@dievanderwalts.co.za

****************************************************************************

HAND 9:1-9 : WAT 'N BEKERING!

No. E29

Ds. Nico van der Walt


Naas die gebeure rondom die menswording en dood van Jesus Christus, was daar beswaarlik 'n meer rigtinggewende gebeurtenis in die wêreldgeskiedenis as die bekering van Paulus, oftewel Saulus van Tarsus. Want watter mens, behalwe die Here Jesus self, het 'n dieper merk gemaak op die ontwikkeling van die wêreld se denke en historiese ontwikkeling? Hierdie bekering is dan seker ook een van die mees beroemde van alle bekerings. Selfs baie ongelowiges ken die verhaal. Lukas, die outeur van die boek Handelinge, beskryf dit drie keer (Hand 9:1-9; 22:1-16; 26:9-18).
'n Dieper kyk na hierdie bekering
Mens hoor dikwels dat mense praat van 'n Damaskuspad-bekering - dat jy dit gehad het, of nie gehad het nie. Daarmee word dan gesinspeel op Saulus se onverwagse en dramatiese ommeswaai na Christus toe.
Die bekering van 'n hater van die gemeente
Inderdaad was dit 'n dramatiese bekering. Dink maar aan die Saulus voordat dit gebeur het. Voor hierdie hoofstuk verwys Lukas drie maal in Handelinge na hom. In Hand 7:58 word gesê dat hy die mense se klere opgepas het toe Stefanus gestenig is. In 8:1 skryf hy dat die jong Fariseër die moord goedgekeur het. En in 8:3 vertel hy van hierdie godsdienstige yweraar se hatige vervolging van die gemeente. Lukas se taalgebruik beklemtoon Saulus se bittere afsku en meedoënlose vervolging van Jesus se dissipels. Calvyn sê hy was soos 'n wilde en bloeddorstige ondier. Handelinge 8:3 sê dat Saulus die kerk probeer "uitroei" het. In buite-Bybelse Grieks verwys dit na 'n roofdier se uitmekaarskeur van 'n karkas. In Hand 9:21 lees ons dat die mense stom verbaas was toe hulle hoor dat die vervolger van die gemeente tot bekering gekom het en die evangelie verkondig. Is dit nie die man wat die Christene wou "uitroei" nie, vra hulle dan. Die woord wat hulle gebruik, sou mens met vermorsel of verwoes kon vertaal. Paulus self gebruik hierdie woord twee keer in Galasiërs as hy sy vervolgingswaansin voor sy bekering beskryf (1:13, 23). Saulus het voor sy bekering "dreiging en moord geblaas" (Hand 9:1). Ook hierdie uitdrukking sou kon verwys na die gegrom en gesnork van wilde diere. G'n wonder nie dat Paulus jare later kon sê dat hy die Christene só gehaat het dat hy "uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg (het), selfs tot in die buitelandse stede" (26:11, OAV). Waarlik, dramaties was hierdie man se ommekeer gewis. Binne dae het die woedende en wilde wolf 'n lam geword - nog meer, 'n herder.
Daar was 'n voorbereidende werk van die Gees
Het Saulus se bekering regtig so in 'n oogwink plaasgevind soos mens dink? Sekerlik is hy in 'n oomblik verander van iemand vol siedende haat, tot 'n gebrokene wat met sy hele hart die Here se wil wou doen. Maar moenie dink dat Saulus vóór die Damaskuspad nie die Heilige Gees se aanklagte ervaar het nie.
• As die apostel in Hand 26 vertel wat met hom gebeur het, sê hy dat, toe hy op die grond val, die Here vir hom gesê het: "Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop" (v.14, OAV). Die beeld praat van 'n skerp voorwerp waarmee 'n wilde dier getem word. Die implikasie is dat die Here reeds vir 'n tyd lank besig was om Saulus in te breek. Is daar aanduidings hiervan in die Skrif? Inderdaad! Die Here het Saulus oor 'n tydperk voorberei vir die Damaskuspad. Wat was die prikkels waarteen hy geskop het?
• Ons kan aanvaar dat Saulus selfs in die tyd wat hy die Christene so gehaat het, met twyfelgedagtes geworstel het. Hy en Jesus was omtrent ewe oud en dis hoogs waarskynlik dat die jong rabbi die Here destyds gesien en gehoor het. Hoe sou hy dan - só intelligent en só ingelig oor die Ou Testamentiese Messiaanse profesieë - nie soms gewonder het oor die merkwaardige Man van Nasaret nie?
• Nog 'n prikkel moes Stefanus se martelaarskap gewees het. Hierdie godvrugtige man se kragtige preek en merkwaardige getuienis móés eenvoudig 'n indruk op die ywerige godsdienstige Fariseër gemaak het. En het hy nie met sy eie oë gesien hoe Stefanus se gesig voor die Joodse Raad soos dié van 'n engel lyk nie?
• Die skerpste prikkel in Saulus se vlees was egter sy eie gewete. Ja, hy kon later skryf dat hy in terme van uiterlike wetsonderhouding onberispelik was (Fil 3:6). Maar hoe jy uiterlik vaar, is één saak; wat in jou binneste aangaan, is iets anders. Daarom beken Paulus in Rom 7:7vv dat dit wat in sy hart aangegaan het, hom bloots gery het. Veral die tiende gebod - dié teen sondige begeertes - het hom mettertyd van sy verdorwenheid oortuig. As die Here met jou besig is, haal 'n mens se gewete jou uiteindelik in - altyd. Niks word kragtiger deur die Heilige Gees in Sy oortuigingswerk gebruik nie.
• Wat ons dus moet raaksien, is dat Saulus se Damaskuspad-ervaring nie slegs 'n skielike bekering was nie, maar sekerlik ook voorafgegaan is deur 'n lang oortuigingsproses van die Heilige Gees.
In sy bekering was Saulus nie passief nie
Die Here se genade vir Saulus was nie só dwingend dat sy wil en keuse uitgeskakel was nie. Ja, die Here het hom só verneder dat hy op die grond geval het, maar Hy het Saulus nie verbrysel nie. Hy het nie van hom 'n robot gemaak nie. Dis nie dat sy denke en wil geen rol gespeel het nie. As die Here vir hom vra, "... waarom vervolg jy My?", rig Hy hom tot Saulus se rede en gewete. En Saulus was nie só oorweldig dat hy nie kon praat nie. Hy vra immers: "Wie is U, Here?" As die Here dan antwoord: "Ek is Jesus ... Dit is vir My wat jy vervolg", het dit so diep in sy wese ingesny dat hy vir die res van sy lewe 'n onstuitbare yweraar vir Christus se eer, evangelie, koninkryk en kerk was. Les bes kan Saulus 'n opdrag uitvoer. Hy kan opstaan en na Damaskus toe stap.
Paulus se bekering was 'n soewereine werk van die Here
• Die fanatiese Fariseër se bekering is onmiskenbaar 'n inisiatief van die Here - die lig uit die hemel, die stem, die onweerstaanbare krag. God het besluit dat Saulus se oomblik van heil aangebreek het. En so sou dit onontkombaar wees.
• Voorts het Paulus nooit daarvoor moeg geword om in sy latere geskrifte te beklemtoon dat die Here soewerein op sy lewe beslag gelê het nie. Daarom skryf hy in Gal 1:15-16: "Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep." Paulus gaan dan voort om sê dat God Sy Seun aan hom geopenbaar het, sodat hy die evangelie onder die heidennasies sou verkondig.
• Paulus se oortuiging dat hy deur soewereine genade gered is, word treffend onderstreep deur sekere uitdrukkings wat hy gebruik. In Fil 3:12 skryf hy dat hy "deur Jesus Christus gegryp is" (OAV). Die woord word soms gebruik vir 'n arrestasie. Spesifiek in Paulus se geval het dit ironies gebeur pas voordat hy by Damaskus kon uitkom om die Christene in hegtenis te neem. In 2Kor 4:6 vergelyk hy sy bekeringservaring met God se soewereine skeppingswoord: "Laat daar lig skyn uit die duisternis". Só, sê hy, het die Here 'n lig in sy hart laat skyn om hom te verlig met die kennis van die heerlikheid van God. Dit, sê hy dan, is die lig wat van Jesus Christus uitstraal. In 1Tim 1:14 skryf hy dat die Here hom oorlaai het met Sy genade en met geloof en liefde. Die beeld wat hy gebruik, sê letterlik dat Here se genade hom oorspoel het soos 'n rivier in vloed.
• C.S. Lewis gebruik in sy outo-biografie, Surprised by Joy, 'n aantal metafore as hy oor sy eie bekering praat. Hy skryf dat die Here hom ingekatrol het soos 'n hengelaar 'n vis. Hy het gevoel soos 'n muis wat deur 'n kat gejaag word, of soos 'n jakkals wat deur 'n trop honde ingehaal word. Dit was asof die Heilige Gees hom soos 'n meesterskaakspeler geleidelik in 'n skaakmat posisie ingemaneuvreer het.
Wat sê dit vir ons?
1. Dink 'n oomblik terug aan jou eie bekering.
Die omstandighede en manier van elkeen se bekering tot Christus as Profeet, Priester en Koning, is uniek. Elkeen van ons het sy of haar eie storie. Dit was meer of minder dramaties; ons was op verskillende ouderdomme; soms was daar 'n lang en geleidelike aanloop, soms was die stryd gou-gou verby; soms was daar trane van sondeberou, soms is ons gewoon verras deur die vreugde van verlossing. Maar daar was ook altyd die gemeenskaplike. Ten minste kan ons dít sê: altyd, altyd was dit 'n bekering na Jesus Christus toe. Haal Hom uit die prentjie uit, en jy het per definisie nie bekering nie.
2. Diegene wat tans nog teen die prikkels skop, moet weet dat hulle ontmoeting met Jesus Christus onontkombaar vir hulle voorlê.
Die Woord van God sê dat elke knie voor Hom sal buig. Mag die Here in Sy goedheid gee dat joune nog in genadetyd sal buig. Want onthou, miljoene der miljoene se knieë sal eers buig wanneer dit te laat is. Ek mag dus nie hierdie geleentheid laat verbygaan sonder om heethoofdige weerstaners van die Heilige Gees op te roep tot bekering nie. Kom nóú na die Here toe, solank jy nog kan. Genade is steeds beskikbaar. En dis gratis - selfs vir Christushaters, soos Saulus van Tarsus!
3. Julle wat vir onbekeerde dierbares bid, moenie moed verloor nie - al vat dit hoe lank!
As die mees onwaarskynlike bekeerling van die eerste eeu soos met 'n oogknip omgedop kon word, wie, maar wie kan Koning Jesus se genadearrestasie weerstaan? En onthou, jou gebede is ingeweef in die uitwerk van God se raadsplan!

4. Is jy ook vol aanbiddingsverwondering oor ons Koning wat van haters met skuim om die mond, lewenslange liefdesslawe maak?
Waarlik, vir ons wat deur Sy genade gearresteer is, maak niks méér sin as om Hom met onverdeelde harte lief te hê en te dien nie!

Nico van der Walt







• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van meer as vyftig Godgesentreerde evangeliese gemeentes in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, SuidAfrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396 of E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 8282 940
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
• Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en soms in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19

Gebruikers-avatar
Ton
BerichtenCOLON 3168
GeregistreerdCOLON Do Jan 07, 2016 11:08 am

Re: Afrikaans : diverse preeken door Ds. Nico van der Walt

Berichtdoor Ton » Ma Dec 10, 2018 4:10 pm

Jammer ek is 'n bietjie laat. As ek nie elke dag op die kalender kyk nie, hardloop die tyd onder my uit.

Hoop hierdie stukkie Bybellering beteken iets vir jou.

Hartlike groete

jbiC

Nico van der Walt
nico@dievanderwalts.co.za

************************************************************************************************************************************

LK 11:5-13 : DIE VRYGEWIGE VADER
No. E30



Meeste Christene stoei met skuldgevoelens dat hulle te min bid. Preke en boeke oor gebed is só appelerend dat jy moedeloos is nog voordat jy begin bid. Dis egter nie die Here Jesus se benadering nie. Lk 11:5-13 - direk ná die Ons Vader - is 'n wonderlike stuk aanmoediging. Ons word uitgenooi om weer en weer met groot vrymoedigheid voor die Vader se genadetroon te kom. Hierdie stuk lering moet ons gebedslewe en ons wandel met die Here beheers. Baie van ons gebedsprobleme is te wyte aan die feit dat ons tot 'n mindere of meerdere mate vreemdelinge is vir dit waarvan hier gepraat word.
'N RETORIESE VRAAG EN SY SLOTSOM (5-8)
‘ In werklikheid is v. 5-7 een lang retoriese vraag wat die antwoord veronderstel: gewis nie! Dit kan soos volg geparafraseer word: Kan jy jou vir een oomblik indink dat jy om middernag na 'n vriend sal gaan om brood te leen - omdat 'n gas onverwags by jou opgedaag het - maar dat hy sal weier om op te staan en jou met 'n klomp verspotte verskonings onverrigtersake sal terugstuur huis toe? Ondenkbaar in 'n kultuur waarin gasvryheid en buurmanskap baie belangriker was as vandag!
‘ In v.8 gee Jesus dan die slotsom: Op grond van hulle vriendskap sal die man natuurlik opstaan - maar selfs al is dit op sigself nie genoeg motivering nie (verspotte gedagte!), sal die broodsoeker se skaamtelose vrymoedigheid die slaper dwing om te help. Ongetwyfeld sal die man sy brood kry!

‘ In v.9 gee die Here dan drie opdragte na mekaar: Vra! Soek! Klop! Eintlik is dit dieselfde bevel - op drie verskillende maniere gestel. Elke opdrag word gevolg deur 'n versekering dat gehoorsaamheid daaraan nié tevergeefs sal wees nie! Elkeen wat vra, sal ontvang; hy wat soek sal kry; en vir hom wat klop sal oopgemaak word. Al drie opdragte in die Grieks is in 'n vorm wat voortgaande handeling beklemtoon. Dit kan egter op twee maniere verstaan word. Óf Jesus wil beklemtoon dat mens aanhoudend moet bid; óf Hy wil sê dat mens gedurig moet bid. In eersgenoemde geval sou die idee wees: hou aan, volhard, moenie opgee nie! En in die tweede geval sou Hy bedoel: bid gedurig, moenie skaam wees nie, kom weer en weer voor die genadetroon! Bogenoemde mag na harekloof klink, maar die vertolking van die opdragte maak 'n reuse verskil. Die eerste moontlikheid sou die boodskap oordra dat gebed nie 'n maklike saak is nie, maar dat aanhouer tog sal wen. Die tweede moontlikheid sou 'n hartlike uitnodiging wees om met die allergrootste vrymoedigheid weer en weer te vra. Wat is reg? Die volgende vers gee die antwoord.
‘ Vers 10 begin met die redegewende voegwoord, want (vgl. OAV; NIV). Daarmee sê Jesus dat Hy nou 'n verduideliking van die vorige vers gaan gee. In die oorspronklike taal is "vra", "soek" en "klop" teenwoordige deelwoorde. Die idee is dus: al vraende ontvang jy; al soekende kry jy; al kloppende vind jy dat daar vir jou oopgemaak word. Die Here sê dus nie dat mens wel mettertyd sal kry nadat jy genoeg gebid het nie, maar dat jy kry terwyl jy bid. Vers 9 is gevolglik 'n hartlike uitnodiging en 'n bemoedigende versekering: laat gedurige gebed deel van jou lewenstyl wees, en gebedsverhoring sal 'n daaglikse belewing vir jou wees. Die Here verseker ons dus hier dat geen dissipel van Hom ooit onwelkom is voor die troon van genade nie. Nee, Hy wil ons van Sy Vader se welwillendheid en vrygewigheid verseker. Dis die gelykenis en sy toepassing se primêre punt.

‘ Die Here Jesus wil egter nie Sy luisteraars onder 'n vals indruk bring nie. Hy wil nie voorgee dat gebed 'n simplistiese saak is nie. Dis nie net 'n kwessie van links en regs vra nie. Hy weet dat gebed soms 'n veeleisende stryd is en dat volharding inderdaad noodsaaklik is. Hy leer dit, trouens, uitdruklik in Lk 18:1-8. En hier in Lk 11 suggereer Sy versigtige woordkeuse dieselfde waarheid. Hy sê as 't ware vir ons: "Wanneer julle bid, sal julle soms die gevoel hê die Vader is weg. Maar soek Hom met mening; julle sal Hom wel vind. Ander kere sal julle die gevoel hê Hy ignoreer julle. Maar klop met mening; daar sál oopgemaak word." Presies so sal 'n soortgelyke versekering van 'n buurman júís sy welwillendheid onderstreep: "As jy my nodig het, moet asseblief nie huiwer om op my knoppie te druk nie - dag of nag. Onthou net, ek is partymaal doer agter in die tuin. Kom haal my daar. En ek slaap vreeslik vas. Hamer dus op die deur!"
DIE SPYKER DIEPER INGESLAAN (11-13)
‘ Die Here wil kennelik nie hê ons moet hierdie gebedsuitnodiging mis nie. Nogeens gebruik Hy twee retoriese vrae om die punt nóg dieper tuis te bring. Gee 'n pa vir sy seun 'n slang as díé hom 'n vis vra? Natuurlik nie! Sal hy hom 'n skerpioen gee in plaas van 'n eier? Ondenkbaar! Dus: Bid, dit behaag julle Vader! Bid, julle sal verhoor word! Bid, dis nie tevergeefs nie!
‘ 'n Finale retoriese vraag word gebruik om die slotsom tuis te bring. Nogeens is die antwoord glashelder: as sondige ouers dan weet om die beste vir hulle kinders te gee, hoeveel te meer nie ons Vader in die hemel nie?
DIE VADER SE GROOT GAWE
‘ In v.13 neem die Here se lering 'n verrassende wending. Anders as te wagte, belowe Hy nie gebedsverhoring in die algemeen nie, maar spesifiek die gawe van die Heilige Gees as God se gebedsantwoord.
• In Mt 7:7-11 maak Jesus dieselfde gebedsbelofte amper woordeliks. Hier sluit Hy egter meer verstaanbaar af: die Vader gee goeie gawes aan diegene wat vra.
‘ As mens bogenoemde nou saam verreken, lei dit tot drie uiters belangrike waarhede: Eerstens, die Heilige Gees self - en eintlik net Hy - is God se groot gawe aan Christus se Nuwe Testamentiese gemeente. As ons Hóm het, benodig ons niks anders nie. Wat God en ons roeping ook al vereis, vind ons in Hom. Tweedens, gelowiges weet hulle kry niks by die Vader, anders as op grond van Christus se verdienste nie. Ons vergeet egter maklik dat ons in hierdie lewe ewemin iets van ewigheidswaarde kry, anders as deur die Gees se werk. Elke goeie gawe wat ons uit die hemel ontvang, word by wyse van spreke deur die Heilige Gees afgelewer. Derdens, ons ontvang niks van die Vader, tensy die Gees dit kan aflewer nie. Hy is heilig - en sal niks bring wat strydig met Sy karakter is nie. Hy bring net goeie gawes. Dit moet ons goed onthou wanneer ons bid, anders mag ons strydig met God se wil vra - en dus tevergeefs.
DRIE PRAKTIESE IMPLIKASIES 1. Jesus moedig ons aan tot vrymoedigheid in gebed, nie tot aanmatigende voorbarigheid nie.
‘ Dis twee gesindhede wat soos dag en nag verskil. Vrymoedigheid in gebed is om ten spyte van jou baie oorblywende sonde tóg met geloofsvertroue en afwagting voor die heilige God te verskyn - op grond van die volmaakte middelaarswerk van Sy Seun, en daarop alleen. Dit is om in die Naam van Christus te bid - nie terughoudend, beskeie of bang nie, maar in vryheid en versekering. Dis om, oortuig van jou Vader se liefde, met heilige vrypostigheid jou hartstog vir Sy eer en jou diepste behoeftes voor Hom te ontbloot. Voorbarigheid het te doen met 'n selftevrede en selfgerigte gesindheid wat bloedweinig begryp van eie onwaardigheid en die vrese van die Here. Die essensie daarvan is selfvertroue en eiebelang.
2. Ons hemelse Vader wil nie net hê ons moet bid nie, Hy wil hê ons moet vrymoedig bid.
‘ Hoewel voorbarigheid voor die Here 'n wesentlike gevaar is, is die afwesigheid van gebedsvrymoedigheid 'n nog groter en meer algemene probleem. Dis waarom daar meer aanmoedigings in die Bybel tot vrymoedigheid is, as waarskuwings teen voorbarigheid. Hier in Lk 11 herhaal Jesus die versekering van die Vader se welwillendheid teenoor Sy kinders tien keer na mekaar. Daar kan beswaarlik 'n 1 Bybelbelofte wees wat groter nadruk kry.
3. Kennis van God en Sy beloftes is die sleutel tot gebedsvrymoedigheid en -volharding.
‘ Hoewel die primêre aksent in Lk 11 nie op die noodsaak van gebedsvolharding val nie, kan en sal ons juis aanhou bid ómdat ons oortuig is van ons Vader se vrygewigheid. Per slot van rekening bly jy om middernag aan jou buurman se deur hamer totdat hy wakker is - júís omdat jy weet hoe goedgesind hy is. Aan 'n onvriendelike buurman se deur klop jy slegs met huiwering, en dan net een of twee keer, voordat jy omdraai. Ons volhard dus in gebed, nie omdat ons Vader onwillig is om te verhoor nie, maar juis omdat Sy Woord ons verseker van Sy welwillendheid.
‘ Niks is belangriker vir ons gebedslewe as 'n suiwer kennis van wie en wat God is nie. En in die besonder geld dit vir Sy goedheid, liefde, genade en verbondstrou teenoor diegene in Christus. Presies omdat ons God in waarheid ken, bid ons soos ons moet - in vrymoedigheid. Die Ou Testament, en veral die Psalms, is besonder insiggewend in hierdie verband. Meermale lees ons gebede wat vir óns ore aan die Godslasterlike grens. Maar dan is dit God se gunsgenote wat so met heilige ongeduld bid! "Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie! Waarom draai U u rug vir ons? Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie?" (Ps 44:24-25). "Waar is u liefde van vroeër, Here, wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het?" (Ps 89:50). "Hoop van Israel, Redder in tyd van nood, waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land, soos 'n reisiger wat net 'n nag oorbly? Waarom sou U wees soos 'n man wat verskrik staan, soos 'n soldaat wat nie in staat is om te help nie? ... ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie!" (Jer 14:8-9).
‘ Sekerlik is gebede soos hierdie Godslasterlik as dit nie ontspring uit harte wat witwarm gloei vir God se eer nie. Wat meer is, mens kan net in opregtheid so bid as jy weet wie God is - heilig, almagtig en regverdig. Waarom? Van 'n mindere figuur sou mens kon verstaan as hy niks in 'n Godonterende situasie sou doen nie, maar van God nooit nie - omdat Hy is wie Hy is!

Nico van der Walt



• Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in meer as 'n halfdosyn lande in Afrika suid van die ewenaar.
• Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115, SuidAfrika. E: nico.vanderwalt@reformed.org.za ; Tel. 082 848 9396 of E: soniah.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 082 8282 940
• Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
• Gereeld word 'n preek/studiestuk soos hierdie wêreldwyd en gratis in Afrikaans en soms in Engels per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
• Geen kopiereg. Dupliseer of preek gerus. Of stuur verder.
Go ye therefore, and teach all nations, baptizing them in the name of theFather, and of the Son, and of the Holy Ghost Matthew 28 : 19


Terug naar

Wie is er online?

Gebruikers in dit forum: 2 en 0 gasten